Skip to main content

Numeri 1-2 – Ingeskryf vir die reis na die beloofde land

Die oggendlig breek stadig oor die berge.  Die paadjie is koel onder my voete.  Ek stap al vinniger af na die hek.  Die koerant is gelukkig al daar.  Ek het die hele nag gewag vir dié oomblik.  Gretig slaan ek dit sommer daar in die oprit oop. In die middel, want dit is waar die lyste van name is.  Ek soek my skool se naam.  Die A’s, B’s, C, en dan die D’s.  My vinger gly deur die name op die lys van Hoërskool Durbanville.  En dan die verligting.  Van Wyk, ACV.  Ek is deur.  ‘n Klein tekentjie vir universiteitstoelating.

Dit bly lekker om jou naam op ‘n lys te soek en te kry, nie waar nie?  Matriekuitslae.  Sportspanne.  Universiteitsvakke. Die vreugde as jy jou naam kry.  Die skop in die maag as jy egter jou naam nie vind nie.  As jy dit nie gemaak het nie.  Dis asof jou binnekant in mekaar krimp.  Asof die wêreld gaan stilstaan.  Asof jy dit net nie kan glo nie.  Dit kan mos nie waar wees nie?  Maak ek nie ‘n fout nie?  Het hulle nie ‘n fout gemaak nie?

RUS

Toetrede 

Lied 286 Here God van liefde, waar ons ook mag gaan, wil ons in u skadu by U staan – sit

Votum en Seëngroet

Lofsang

Lied 191 Grote God, ons bring U eer, ons aanbid U, Koning, Heer – staan

Toewyding

Psalm 1:1-3

Lied 528:1 Leer my u wil, Heer, u doel met my – sit

Genadeverkondiging

Psalm 1:4-6

Lied 280 Here, Redder, groot en magtig, U oorskou ons lewenspad – staan

HOOR

Inleiding

Kindertyd

Doopherinnering: Die doop beseël my insluiting in die liggaam van Christus.

Eenvoudige geloofsbelydenis saam bid:

Here Jesus,
dankie dat ek gedoop is;
dat God my Vader is
en ek sy kind;
dat my sonde vergewe is
en die Gees my
aan U verbind;
Ek gee aan U my hart
om U altyd lief te hê
en bó alles te dien.
Amen.

Lied 553 Ek is bly ek ken vir Jesus; ek is bly ek is sy kind – sit

Gebed

Skriflesing en preek

Numeri 1-2

1 1Die Here het met Moses gepraat in die tent van ontmoeting in die Sinaiwoestyn. Dit was op die eerste dag van die tweede maand, in die tweede jaar nadat Israel uit Egipte weggetrek het. 2–3Die Here het gesê: “Jy en Aäron moet al die Israeliete man vir man tel volgens afkoms en familie; skryf die name op van elke manlike persoon van twintig jaar en ouer, elkeen in Israel wat vir militêre diens geskik is en wat in leërafdelings ingedeel is. 4Julle moet hierin bygestaan word deur persone wat hoofde is van hulle families, een uit elke stam.

17Moses en Aäron het hierdie manne wie se name genoem is, laat kom. 18Op die eerste dag van die tweede maand het hulle toe die hele volk bymekaargeroep. Daarna het elke weerbare man sy afkoms volgens stam en familie opgegee, almal van twintig jaar en ouer. 19Moses het hulle in die Sinaiwoestyn getel, soos die Here hom beveel het.

47Die Leviete is nie as afsonderlike stam bygetel nie. 48Die Here het naamlik vir Moses gesê: 49“Die stam Levi moet jy nie tel nie en hulle getal moet jy nie by dié van die Israeliete voeg nie. 50Jy moet die Leviete aanstel om toesig te hou oor die tabernakel met die getuienis, oor al sy gereedskap en al sy toebehore. Hulle moet die tabernakel en sy gereedskap dra; net húlle moet daarmee werk; en hulle moet hulle tente rondom die tabernakel opslaan. 51As die tabernakel verskuif moet word, moet die Leviete dit uitmekaarhaal; en as dit opgeslaan moet word, moet hulle dit opslaan. ’n Onbevoegde persoon wat nader kom om te help, moet doodgemaak word.

52“Die ander stamme van Israel moet hulle tente opslaan, elke stam op sy eie staanplek, rondom sy eie vaandel, ingedeel by sy eie leërafdeling, 53maar die Leviete moet hulle tente rondom die tabernakel met die getuienis opslaan, sodat my toorn nie oor die Israeliete kom nie. So moet die Leviete dan vir die tabernakel met die getuienis sorg.”

54Die Israeliete het alles presies gedoen soos die Here vir Moses beveel het.

2 1Die Here het met Moses en Aäron gepraat en gesê: 2“Die Israeliete moet kamp opslaan, elkeen by sy vaandel, by sy familieteken. Hulle moet die kamp rondom die tent van ontmoeting opslaan, so ’n entjie daarvandaan.

32Dit was dan die groot totaal van al die Israeliete, getel volgens families. Al die geteldes van die kampe, ingedeel in leërafdelings, was 603 550 man. 33Die Leviete is nie onder die getal van Israel bygereken nie, soos die Here vir Moses beveel het. 34Die Israeliete het presies gedoen soos die Here vir Moses beveel het. Hulle het kamp opgeslaan, elkeen by sy eie vaandel, en elke keer weer weggetrek, elke stam ingedeel volgens sy familiegroepe.

My naam op ‘n lys

Die oggendlig breek stadig oor die berge.  Die paadjie is koel onder my voete.  Ek stap al vinniger af na die hek.  Die koerant is gelukkig al daar.  Ek het die hele nag gewag vir dié oomblik.  Gretig slaan ek dit sommer daar in die oprit oop. In die middel, want dit is waar die lyste van name is.  Ek soek my skool se naam.  Die A’s, B’s, C, en dan die D’s.  My vinger gly deur die name op die lys van Hoërskool Durbanville.  En dan die verligting.  Van Wyk, ACV.  Ek is deur.  ‘n Klein tekentjie vir universiteitstoelating.

Dit bly lekker om jou naam op ‘n lys te soek en te kry, nie waar nie?  Matriekuitslae.  Sportspanne.  Universiteitsvakke. Die vreugde as jy jou naam kry.  Die skop in die maag as jy egter jou naam nie vind nie.  As jy dit nie gemaak het nie.  Dis asof jou binnekant in mekaar krimp.  Asof die wêreld gaan stilstaan.  Asof jy dit net nie kan glo nie.  Dit kan mos nie waar wees nie?  Maak ek nie ‘n fout nie?  Het hulle nie ‘n fout gemaak nie?

Jy moet al die Israeliete tel

Die boek Numeri begin ook met ‘n lys.  ‘n Sensuslys.  Maar, met ‘n verskil.

God gee opdrag dat ál die Israeliete getel moet word.  Almal.  Sonder uitsondering.  God se lys hier in die woestyn is nie soos dié van die matriekuitslae of ‘n sportspan nie.  Jy hoef nie met gespanne afwagting te gaan kyk of jou naam daar is nie.  Nee, Moses moet almal tel.  Elke weerbare man.  En net hierna elke Leviet (Num. 3-4).  En daarmee word al die stamme en al die families, elke man, vrou en kind ingesluit.

Dit laat ‘n mens anders kyk na dié lyste, nie waar nie?  Ons dink mos sulke lyste in die Bybel is baie droog en regtig vervelig.  Ons lees vinnig daarby verby.  Ons wil kom by die boodskap, die verhale, die intriges, die insigte, die wysheid, die toepassings.

Maar, die Here dink nie dié lyste is vervelig en droog nie.  Ook nie Moses en die skrywers van die boek Numeri nie.  Dit is waarom dit hier ingesluit is.  Hoekom?

Want, dit is hoe God werk.  Hy roep eers, vóór Hy opdragte gee.  Hy sluit eers in, vóór Hy gehoorsaamheid vra.  Hy red eers, vóór Hy sy riglyne vir die lewe gee.  Hy tel jou éérs in by die geloofsgemeenskap, vóór Hy die woestyn intrek met jou.

Daarom my tema vir vanoggend se boodskap: Ingeskryf vir die reis na die beloofde land.  Want dit is só ‘n belangrike boodskap om reg aan die begin van hierdie boek te snap.  God het elke Israeliet ingeskryf vir die reis deur die woestyn na die beloofde land.  Hy het niemand uitgelaat nie.  Elke stam en familie was ingesluit.

Gehoorsaamheid vóór aanvaarding?

Die meeste wêreldgodsdienste werk anders.  Hulle werk met die idee dat jy éérs hulle reëls moet nakom, dán word jy aanvaar as deel van die gemeenskap. Gehoorsaamheid kom voor aanvaarding.

Dit is waar van die Islam.  Jy word ’n Moslem deur hulle geloofsbelydenis – die shahada – voor getuies te aanvaar, en dan volgens hulle beginsels, soos dit in die Koran beskryf is, te leef. Daarin speel die vyf pilare van Islam ’n belangrike rol: 1) die shahada – die geloofsbelydenis, 2) die salat – die vyf daaglikse gebede, 3) die Ramadan – die maandlange vas, 4) die zakat – die gee van 2.5% van jou inkomste aan die armes, en 5) die hajj – die pelgrimstog na Mekka.  Jy moet hierdie dinge gehoorsaam, jou hele lewe daaraan wy, dán word jy aanvaar as deel van die geloofsgemeenskap. Jy moet sorg dat jy ingesluit is.

Dieselfde geld die Boeddhisme.  Jy word ’n Boeddhis deur die vier edel waarhede oor lyding te aanvaar, en die reis na nirvana te onderneem deur die onderhouding van die vyf leringe of gebooie (moenie doodmaak nie, wees eerlik, moenie dronk word nie, moenie steel nie, moenie seksueel oortree nie) waarvan drie met van die gebooie in die tweede tafel van die Tien Gebooie ooreenkom (6de gebod: moord, 7de gebod: egbreuk en die 8ste gebod: steel), sowel as die agtvoudige pad van die korrekte insig, bedoeling, spraak, optrede, lewensonderhoud, inspanning, bewustheid en konsentrasie.   Jy moet dus sorg dat jy ingesluit is.

Dieselfde geld die praktiese rituele van die Hindoes.  Jy word ’n Hindoe deur dinge soos dharma (hulle lewensbeginsels), karma (die effek van morele keuses), moksha (die verligting waarna gestreef word) en joga (verligting deur meditasie) as praktiese lewensreëls te aanvaar.  Wanneer jy besluit om dié dinge deel van jou lewe te maak, word jy aanvaar binne die gemeenskap van die Hindoes. Jy bepaal jou insluiting.  Jy bepaal jou plek in die godsdiens.

Gehoorsaamheid ná aanvaarding!

Dit is anders met die God van die Bybel. Jy word éérs aanvaar en ingesluit, vóór jy leer wat gehoorsaamheid beteken.  Jy word éérs ingetel en ingeskryf vóór jy ‘n verantwoordelikheid kry waaraan jy gehoorsaam moet wees.

Hoekom?  Want dit is eers wanneer jy agterkom dat God jou uitgesoek het, dat Hy jou gekies het, dat Hy jou ingesluit het in sy genade, dat jou oë oopgaan en jy insig kry in dié dinge wat Hy jou wil leer, en dat jy in staat is om Hom daarin na te volg.

Jy word dus eers bewus van die feit dat God jou aanvaar en insluit, vóór jy gehoorsaam raak.  Dit is wanneer jy God se roepstem hoor, en die hand wat Hy na jou toe uitsteek in geloof aanvaar, dat jy gehoorsaam kan raak.  Trouens, dit is eers ná aanvaarding wat jy gehoorsaam kán wees aan die wil van God soos Hy dit deur sy Woord aan jou bekend maak.

Aanvaarding kom dus vóór gehoorsaamheid.  Sonder dat jy God se aanvaarding van jou in geloof ontvang, maak die gehoorsaamheid aan sy wil in elk geval nie vir jou sin nie, sal dit altyd ’n las bly, eerder as ’n lus.  Sal jy eerder in opstand wees daarteen en sy wil as beperkend beleef, eerder as dat jy dit omhels as die weg na die lewe, en dit as bevrydend ervaar.

’n Mens het dit alreeds by die Tien Gebooie gesien. Die Tien Gebooie begin nie met die opdrag om die gebooie na te kom nie.  Dit begin met die insluiting binne God se gemeenskap: “Ek is die Here jou God”.  Eers daarná kom die gebooie: “Jy mag naas My geen ander gode hê nie.

Dit is waarom die Israeliete hier eers getel word, elkeen sy plek kry, ook die Leviete in drie groepe in die volgende hoofstukke, voordat hulle take en verantwoordelikhede uitgespel word:

  • die Gersoniete vir die bedekking van tente en seile van die tabernakel,
  • die Kehatiete vir die heiligdom en sy “meubels”, en
  • die Merariërs vir die struktuur van die Tabernakel, die raamwerk en gereedskap.

Maar die insluiting en aanvaarding binne die stamme en families van die geloofsgemeenskap kom vóór hulle gehoorsaamheid aan die riglyne vir die lewe wat God vir hulle uitspel.  Jy hoef nie vir jou naam op ‘n lys te gaan soek nie.  Dit is reeds ingesluit.

Maar, natuurlik, die insluiting was met ‘n doel.  Daar was ‘n reis om te onderneem.  Hulle was op pad na die beloofde land.  En hierdie insluiting was bedoel om in te pas met God se plan vir hulle.  Die aanvaarding is met die oog op gehoorsaamheid.

Die militêr weerbares word getel

Die sensus was aan die een kant met die oog op hulle weerbaarheid na buite.  Op die pad sou daar immers oorlog op hulle wag en hulle moes daarvoor gereed maak.

Die weerbare manne wat vir militêre diens geskik is, word daarom in die eerste plek getel.  Daarmee is hulle aandag gefokus op die weerbaarheid wat hulle nodig sou hê nie net op die reis deur die woestyn nie, maar ook met die Intog in die beloofde land.  God sluit hulle in vir die Heilige Oorlog waarby hulle betrokke sou moes raak.

Elke Israeliet kry ‘n plek rondom die Tabernakel in die kamp

Dit word opgevolg met die tweede opdrag aan Moses en Aäron om aan elke Israeliet ‘n plek in die “kamp”, in die gemeente, te gee rondom die Tabernakel van die Here.  Die sensus was aan die ander kant ook met die oog op hulle aanbidding van God in gemeenskap met mekaar.

Hulle sou immers nie net oorlog maak nie.  Hulle sou saam ook die Here aanbid en vir Hom lewe in hierdie wêreld.

Elke persoon se plek by sy eie familie en stam was dus belangrik, sowel as hulle plek in verhouding met die ander stamme.  Maar let op dat dit alles vanuit die sentrale plek wat die Tabernakel, die plek van God se teenwoordigheid, in hulle hele lewe sou inneem, gereël word.  Sonder die Tabernakel sou hulle nie ‘n gemeenskap kon wees nie.

Dit gaan dus nie net oor ‘n sosiale gemeenskap waarin elkeen sy plek moes kry en ken nie, maar om deel te word van die geestelike gemeenskap.  Anders kon hulle die Here nie aanbid en vir Hom lewe soos Hy van hulle sou verwag nie.

Hier is ‘n diagram wat die plek wat elkeen rondom die Tabernakel gekry het vir jou visueel uitlê (Wycliffe Bible Encyclopedia).

Hulle was dus gereed vir die Heilige Oorlog as volk na buite.  Hulle weerbaarheid was verseker.  Hulle was ook gereed vir die aanbidding van God waarin elkeen sy plek en verantwoordelikheid sou hê.

Wat sê dit nou vir ons?

Wat wil die Here doen met hierdie woord in jou lewe?

1.  Jy behoort hier

God wil seker maak dat jy weet dat jy aan hierdie geloofsgemeenskap behoort.  Jou naam is ingeskryf in die lidmaatskapsregister van hierdie gemeente.  Jy is gedoop.  Baie van julle het belydenis van geloof afgelê.  Jy hoort hier.  Jy is welkom hier.  Dit is jou voorreg!

Met die doopherinnering het ek jou herinner aan die boodskap van die evangelie.  Jy kon saam met die kinders die gebed bid en jou opnuut aan die Here verbind:

2.  Jy is van betekenis hier

God wil seker maak dat jy weet dat jy van betekenis is in hierdie geloofsgemeenskap.  Jy is nie net welkom nie.  Jy behoort nie net hier nie.  Jy is van betekenis hier.  Jou bydrae word waardeer.  Jou teenwoordigheid word op prys gestel.  Dit is ook jou verantwoordelikheid.

Ons mis jou as jy nie hier is nie.  Ons is daar vir jou wanneer jy sukkel op die reis na die beloofde land, as daar beproewings en uitdagings kom, veral in ons kleingroepe, maar ook deur ons bedieninge.

3.  Numeri is die verhaal van twee generasies.

Maar, ons moet ook onthou, hierdie eerste sensus het die eerste generasie opgeskryf vir die reis na die beloofde land en aan elkeen ‘n taak en verantwoordelikheid gegee.  Die ongemaklike waarheid is dat nie een van hulle geslaag het om hierdie verantwoordelikheid na te kom nie.

Hoekom?  Want hulle was tevrede om hulle name op ‘n lys te hê, die lidmaatregister van Israel, maar toe die oorlog kom, en hulle die Here moet vertrou, het hulle teruggedeins, en nie hulle plek vol gestaan nie.  Net Josua en Kaleb was bereid om die Here te volg waar Hy ook al sou lei.  Ons gaan later in hoofstuk 13-14 dié ongemaklike verhaal lees.

Die Here het daarom gesweer dat nie een van hulle die beloofde land sou ingaan nie, dat hulle vir elke dag van die nuttelose verkenning van die land ‘n jaar in die woestyn sou deurbring, totdat almal van hulle gesterf het.

Soos Paulus aan die gemeente in Korinte skryf:

Hierdie dinge het oor hulle gekom as ’n voorbeeld vir ons en is opgeskryf as ’n waarskuwing vir ons wat die einde van die tye al beleef. Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.“ (1 Kor. 10:11-12).

Ook die Hebreërskrywer waarsku ons:

Om hierdie rede moet ons soveel kragtiger vasgryp aan wat ons gehoor het, sodat ons nie dalk wegdrywe nie. As die woord wat deur engele gepraat is, bindend was, en elke oortreding en ongehoorsaamheid regmatig gestraf is, hoe sal ons dan ontkom as ons so ’n groot saligheid verontagsaam het?“ (Hebr. 2:1-3a).

En in die proses moet elkeen uitreik na medegelowiges en:

toesien dat daar nooit by een van julle ’n verkeerde gesindheid van ongeloof ontstaan en hy van die lewende God afvallig word nie. Maar solank daar nog ’n ‘vandag’ is, moet julle mekaar elke dag aanspoor sodat niemand van julle deur die misleiding van die sonde verhard word nie. Ons behou deel aan Christus as ons end-uit volhard in die vertroue waarmee ons begin het.  Daarom word daar gesê: ‘Vandag as julle sy stem hoor, moet julle nie hardkoppig wees nie, soos julle voorvaders toe hulle in opstand gekom het.’ (aangehaal uit Ps. 95:7–95:8 se kommentaar op die eerste geslag van Numeri).

“Wie was dit dan wat gehoor het en tog in opstand gekom het? Was dit nie hulle almal wat onder leiding van Moses uit Egipte getrek het nie? En van wie het God veertig jaar lank ’n afkeer gehad? Was dit nie van hulle wat gesondig het en wie se dooie liggame in die woestyn agtergebly het nie? Oor wie anders as dié wat ongehoorsaam was, het Hy ’n eed afgelê dat hulle nie in sy rus sou ingaan nie? Ons sien dus dat hulle as gevolg van hulle ongeloof nie in sy rus kon ingaan nie.” (Hebr. 3:13-19).

Dit sou die tweede generasie wees wat die land sou binnegaan en die beloofde land sou bereik, die reis sou voltooi. Daarom is daar in hoofstuk 26 ‘n tweede sensusopname waarin die tweede generasie almal op hulle beurt ingeskryf is vir die verdere reis.

4.  Lidmaatskap is ‘n voorreg en ‘n verantwoordelikheid

Die gedeelte herinner ons dus aan die dure verantwoordelikheid van lidmaatskap van die liggaam van Christus.

Dit is aan die een kant my grootste troos dat ek met liggaam en siel nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus, behoort.  Jesus het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal.  Daarom verseker Hy my deur sy Heilige Gees van die ewige lewe en maak Hy my van harte gewillig en bereid om nou vir Hom te lewe.  Daarom is ek deel van hierdie geloofsgemeenskap.

Maar, omdat ek aan Hom behoort, omdat ek deel is van hierdie geloofsgemeenskap, omdat ek hier hoort, kan en moet ek van betekenis wees hier.  Dit is waarom my naam op die lidmaatregister van hierdie gemeente ingeskryf is.  Nie net omdat ek aan die Here Jesus Christus behoort en ingesluit is op die reis na die beloofde land nie, maar ook omdat ek van betekenis is hier saam met elkeen van julle.  Dit is tegelyk my voorreg en my verantwoordelikheid.

Vir die weerbare manne in Numeri het hulle verantwoordelikheid oorlog ingehou.  Vir die drie groepe Leviete het hulle verantwoordelikhede baie administrasie en logistiek beteken (Num. 3-4). Vir die priesters het hulle verantwoordelikheid ‘n voortdurende bediening van die versoening tussen God en die volk beteken.  Vir almal in die laer van die Israeliete het hulle verantwoordelikheid ‘n rein en heilige lewe voor die aangesig van God beteken.

Vir jou en my sal dit in ‘n sekere sin anders wees.  Ons hoef nie meer die Tabernakel op te pak en saam te dra, en weer op te slaan op ‘n volgende plek nie, want Jesus woon deur sy Gees in ons harte en lewens.  Ons hoef nie meer die offers te bring nie, want Jesus is ons enigste offer.

Maar, ons het steeds die verantwoordelikheid om in die stryd vir die evangelie ons plek vol te staan.  Ons noem dit geestelike oorlogvoering (Ef. 6:10-20).  En dit is nie meer net die weerbare manne bó twintig wat dit moet doen nie.  Almal van ons is van betekenis in die taak om te bid en te dien in ons getuienistaak oor die wonder van God se oorwinning oor die sonde aan hierdie wêreld.

Ons het ook steeds die verantwoordelikheid om heilig te lewe en saam die Here te aanbid en sy lof te besing, want dit het ‘n groot impak nie net in ons eie lewe nie, maar as ‘n getuienis aan die wêreld, dat die lewe met die Here inderdaad die moeite werd is, en dat almal welkom is om hier ingeskryf te word vir hulle eie reis na die beloofde land, nou nie meer na Kanaän nie, maar na die lewe saam met God in die hemel.

Dieselfde boodskap wat die Here Jesus in sy laaste onderrig aan sy dissipels gegee het, is vir ons belangrik.  Hy het hulle van ‘n plek in die hemel verseker, ‘n plek wat Hy gaan gereedmaak vir hulle:

In die huis van my Vader is daar baie woonplek … En as Ek gegaan het en julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.” (Joh. 14).  Dit is ook waar vir ons.

Vier vandag weer in die geloof jou vreugde en verwagting oor die heenkome wat jy vir ewig het by God die Vader; dat daar in sy huis nie net baie woonplek is nie, maar ‘n plek vir jou, ‘n plek wat Jesus vir jou gereedmaak.  Wanneer dit klaar is, kom Hy jou haal om vir ewig by Hom te wees.

Maar onthou dat dit jou moet motiveer om hier en nou jou plek vol te staan.  Ons hart is op die ewigheid, maar ons oog op die volgende tree van ons reis daarheen.  En ons doen dit saam, want dit is insiggewend dat die geloofsgemeenskap as sodanig in die NT as ‘n “laer” beskryf word.  Johannes gebruik in Openbaring 20:9-10 hierdie idee van die “kamp” in die woestyn as beskrywing van die wyse waarop die geloofsgemeenskap as ‘n eenheid in ‘n “laer” moet vasstaan in die oorlog wat die Satan teen hulle voer (vgl. ook Ef. 6:10-13).

Slot

Jy hoef nie te gaan soek vir jou naam op ‘n lys vóór jy welkom is nie.  Jy is gedoop.  Jy is welkom hier.  Jy behoort hier.

Dit is daarom ook hier waar jy van betekenis is, waar jy jou verantwoordelikheid kan en moet agterkom en uitoefen; waar ons mekaar moet help daarmee.  Jy is ingeskryf vir die reis na die beloofde land.  En ons kleingroepe hierdie kwartaal is spesifiek daarop gefokus om jou nie net in te sluit nie, maar te help op jou reis saam met ons na die beloofde land.

Bon voyage!

LEEF

Gebed

Dankoffer

Slotsang

Lied 524 God roep ons om met woord en daad vir Hom te leef en werk – staan

Seën

Numeri 6:24-26

Respons

Vonkk 38:1 Here, ons God, as ons nou huis toe gaan – staan

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.