Paulus se laaste dae – 2 Timoteus 1

Storms is deel van die lewe.

Daar is storms in die skepping: natuurrampe, vloede, brande, aardbewings, en ook die ekologiese storm wat aan die opsteek is weens aardverwarming.

Daar is storms in die lewe van die Here se kerk.  Daar is soveel lyding in die Naam van Christus. In die 20ste eeu is meer Christene weens hul geloof om die lewe gebring as in die vorige 19 eeue tesame.  Geweld word in die naam van godsdiens gepleeg.  Mense word siek, ly, ervaar teenslae, die kerk word misbruik, of ervaar teenstand wanneer die Here gedien word.  En ons verskil oor fundamentele goed in die kerk.  Dit lei tot konflik en stormagtigheid.

Ons lewe in ’n stormagtige wêreld.

Verwelkoming

Fernando Tallie oor die eerstejaarskamp (2 min video)

Toetrede

Psalm 29:1,2 (koor),5 “Prys die Here, hemelinge” – sit

Votum en Seëngroet

Lofsang

Lied 474:1-2 “Skeppergod, U is die Heer” – staan

Vonkk 157   Koor: Let op die wonder

Lied 508:1-2 “Vaste Rots op wie ek bou” – sit

Kindertyd

God seën ons.

Ons seën ander daarmee.

Hoe kan julle dit doen?

  • Spaar geld om vir ander te kan gee.
  • Deel jou kos met ander.

Ons begin vandag met die Kersboom projek vir Barcelona se kerspartytjie.

Ons bring presente en lekkers oor die volgende maand. Inligting op die aankondigingsblaadjie.

Die boom is volgende Sondag in die kerk.

In die toepassing gaan ons ook kerskaartjies skryf vir die Barcelona kinders.

Kategese kinders kan dit ook doen.

Dankoffer

Dié wat wil, kom gooi hulle dankoffer voor in die kis

Skriflesing

2 Timoteus 1:1-14

1 Van Paulus, ’n apostel van Christus Jesus deur die wil van God, gestuur om die belofte te verkondig van die lewe in Christus Jesus.

2Aan Timoteus, my geliefde seun.

Genade, barmhartigheid en vrede van God die Vader en Christus Jesus ons Here!

Getrouheid aan die evangelie

3Ek dank God, wat ek net soos my voorouers met ’n skoon gewete dien, wanneer ek onophoudelik dag en nag in my gebede aan jou dink. 4Ek onthou jou afskeidstrane en wil jou baie graag weer sien. Dit sal vir my ’n groot vreugde wees. 5Ek dink ook aan jou opregte geloof, dieselfde geloof wat al in jou ouma Loïs en in jou ma Eunice was, en wat, daarvan is ek oortuig, ook in jou is.

6Om hierdie rede herinner ek jou daaraan dat jy die genadegawe wat God jou gegee het toe ek jou die hande opgelê het, soos ’n vuur weer moet aanblaas. 7Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing.

8Jy moenie skaam wees om die boodskap van die Here te verkondig nie; en moet jou ook nie skaam vir my wat om sy ontwil ’n gevangene is nie. Inteendeel, dra jou deel van die ontberings vir die evangelie met die krag wat God jou gee. 9Hy het ons gered en ons geroep om aan Hom toegewy te wees. Dit het Hy gedoen, nie op grond van ons dade nie, maar op grond van sy eie besluit en die genade wat Hy van ewigheid af in Christus Jesus aan ons geskenk het. 10Hierdie genade is nou aan ons geopenbaar deur die koms van ons Verlosser, Christus Jesus: Hy het die mag van die dood gebreek en deur die evangelie die onverganklike lewe aan die lig gebring. 11Van hierdie evangelie het Hy my aangestel as prediker en apostel en leraar.

12Om dié rede ly ek ook hierdie dinge. Maar dit skrik my nie af nie, want ek weet op wie ek vertrou, en ek is daarvan oortuig dat Hy magtig is om wat Hy aan my toevertrou het, tot op die dag dat Hy weer kom, in stand te hou.

13Neem die woorde wat jy van my gehoor het, as voorbeeld van gesonde verkondiging en volg dit na in die geloof en liefde wat ons in Christus Jesus het. 14Wat aan jou toevertrou is, is goed. Bewaar dit deur die Heilige Gees wat in ons woon.

Woordverkondiging

Storms is deel van die lewe.

Daar is storms in die skepping: natuurrampe, vloede, brande, aardbewings, en ook die ekologiese storm wat aan die opsteek is weens aardverwarming.

Daar is storms in die lewe van die Here se kerk.  Daar is soveel lyding in die Naam van Christus. In die 20ste eeu is meer Christene weens hul geloof om die lewe gebring as in die vorige 19 eeue tesame.  Geweld word in die naam van godsdiens gepleeg.  Mense word siek, ly, ervaar teenslae, die kerk word misbruik, of ervaar teenstand wanneer die Here gedien word.  En ons verskil oor fundamentele goed in die kerk.  Dit lei tot konflik en stormagtigheid.

Ons lewe in ’n stormagtige wêreld.

Storms in die vroeë kerk

Paulus skryf die tweede brief aan Timoteus terwyl die klein Christelike kerk, skaars ’n paar dekades oud, op die rand van uitwissing huiwer.  Hierdie is sy laaste oorgelewerde kommunikasie voor sy dood.  Hy, Paulus, is in gevangenskap, net Lukas is by hom (4:11), kort voor sy teregstelling.

In die brief noem Paulus Timoteus sy “geliefde seun” (1:2).  Daar is ’n diep persoonlike band tussen die ouer man, Paulus, en die jong medewerker, Timoteus. Hy is deur Paulus se prediking gevorm tot ’n bekwame bedienaar vir die kerk.  Timoteus se afskeidstrane getuig van sy hegte verhouding met Paulus, en is saam met sy opregte geloof ’n bron van inspirasie.  Dit alles troos Paulus terwyl die stormwolke saampak.

Volgens Handelinge 28 was Paulus twee jaar in huisarres in Rome.  Uit betroubare oorlewering, en ook in terme van die gegewens uit die briewe aan Timoteus en aan Titus, is dit waarskynlik dat Paulus weer vrygelaat is en sy bediening rondom die Middellandse See en selfs so ver as Spanje voortgesit het.  Uiteindelik is hy weer, moontlik in Klein-Asië, gearresteer en na Rome gebring.  Daar is hy aan streng gevangenskap onderwerp en uiteindelik deur onthoofding tereggestel (volgens die Christelike tradisie op 29 Junie 66 n.C.).

Paulus se teregstelling moes plaasgevind het gedurende die laaste regeringsjare van keiser Nero (54-68), kort na die uitbreek van die woeste aanslag op die Christene. Dit het begin toe hierdie wrede keiser in 66 n.C. (vlg. alle aanduidings) die stad aan die brand gesteek en die skuld daarvoor op die Christene gepak het. So het hy die woede van die heidense samelewing teen die gehate en verdagte Christene opgesweep.

Die Christene is deur die bygelowige en bevreesde bevolking gewantrou. Getrouheid aan die Here Jesus is gesien as hoogverraad teen die staat.  Jesus as Here is afgespeel teen die keiser as here.  Die verkondiging van die koninkryk van God is ervaar as haat teen die mensdom. Die gevangeneming en teregstelling van Paulus as een van die leiers (saam met Petrus) was die resultaat van hierdie verwikkeling. Hierdie brief aan Timoteus kon dus geskrywe gewees het in die jare 66 of 67 n.C.

Timoteus midde-in dié storm

Timoteus staan dus voor die donkerste tydperk in sy lewe. Soos 1 Timoteus aantoon, moet hy optree as leier in die gemeente van Efese met sy groot bediening.  Op sigself was dit reeds ’n geweldige uitdaging.  Paulus het ’n tyd lank by hom aangesluit.  Nou word Paulus deur die keiser na Rome weggeneem om gemartel te word.  Dit was voorwaar vir Timoteus ’n ervaring van “dood” en eensaamheid. Paulus moes die bitter beker smaak van verlating deur medewerkers, afskuwelike verdenking, vals beskuldigings en ’n onregverdige doodsvonnis.

Die gewig van die groot verantwoordelikheid, tesame met ’n gebroke hart, rus nou op Timoteus se skouers. Aan beide van hulle is die uiterste beproewing opgelê om die oënskynlike mislukking van die Christelike beweging in die gesig te staar. Vir elkeen wat nie met die geloofsoog na die situasie in die Romeinse ryk gekyk het nie, moes dit inderdaad voorgekom het asof die pad van die evangelie besig was om dood te loop. Die Romeinse owerhede was onverdraagsaam teenoor geheime organisasies, waaronder die Christendom gereken is en hulle het geweet hoe om hulle uit te wis.

Ons is so gewoond aan die Christelike geloof se groot invloed in die moderne wêreld.  Ons besef moeilik dat toe hierdie brief geskryf is die Christendom, menslik gesproke, op die randjie van uitwissing gehuiwer het.  Die storms was dramaties aan die opbou op die horison.

Hoe tree Christene op in die aangesig van so ’n geweldige aanslag?  Wat kan ons van Paulus leer?  Waaraan hou mens vas en waaraan oriënteer jy jouself?

Die brief gee vir ons vier ankers om ons in die storms van die lewe te stabiliseer sodat ons geloof nie ondergaan nie.

Eerste anker:  Gewortel in God se wil en opdrag

Die groeteboodskap waarmee hierdie brief begin, tipies van ’n antieke brief, herinner Timoteus dat geloof en bediening gegrond is in die wil van God.  Geloof en bediening bou op die belofte van die lewe in Christus Jesus. Só was dit met Paulus, met Timoteus, en tot vandag toe met elke volgeling van die Here.

Daarom is Paulus se oproep aan Timoteus om getrou te bly aan die evangelie (vanaf vers 3) nie uit die lug gegryp, of bloot wensdenkery nie.  Ons geloof is die gevolg van God se werk in ons, ons is deel van die kerk en geroep om die Here te volg, omdat God ons geroep het, voor Hom versamel het, ons ’n fondament in Jesus gee, en ons stuur.

In vers 9 bou Paulus die argument nog verder uit:

Hy het ons gered en ons geroep om aan Hom toegewy te wees.  Dit het Hy gedoen, nie op grond van ons dade nie, maar op grond van sy eie besluit en die genade wat Hy van ewigheid af in Christus Jesus aan ons geskenk het.”

Hierdie genade is in die persoon en boodskap van Jesus Christus geopenbaar, vervolg vers 10. En dan, vers 11:

Van hierdie evangelie het Hy my aangestel as prediker en apostel en leraar.”

Ons hou aan God vas in storms, omdat God ons vashou.  Ons leef ons geloof uit en sit ons bediening voort, want ons is deur die ewige God aangestel.

Daarom reageer Christene met kalme oortuiging op storms, en sit ons bediening voort.

Tweede anker: Blaas die genadegawe van God, jou roeping, passie en gawes, soos ’n vuur aan

In verse 6 tot 7 skryf Paulus:

6 Om hierdie rede herinner ek jou daaraan dat jy die genadegawe wat God jou gegee het toe ek jou die hande opgelê het, soos ’n vuur weer moet aanblaas. 7 Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing.”

Timoteus moet die feit dat God hom geroep het, en dat hy die genadegawe om sy bediening uit te voer van God ontvang het, in gedagte hou.  Hy moet ingroei in hierdie werklikheid.  Hy moet hierdie wete soos ’n vuur aanblaas, sodat dit sy identiteit, sy wese en sy bewussyn vul.

God werk en die mens werk.  God gee en die mens blaas aan.  God en mens sluit mekaar nie uit nie.  Timoteus word opgeroep om dit wat God gedoen het, toe te eien en daaruit te leef.

In tye van storms moet ons God se gawes, wat die groot gawe van die Gees insluit, opnuut toeëien en daaruit leef.  Ons moet moed skep, en kragtig opstaan vir die Here.  Ons kan dit doen, want ons het die krag en die Gees wat dit in ons werk van God ontvang.

Soos vers 12 dit stel:

12 Om dié rede ly ek ook hierdie dinge. Maar dit skrik my nie af nie, want ek weet op wie ek vertrou, en ek is daarvan oortuig dat Hy magtig is om wat Hy aan my toevertrou het, tot op die dag dat Hy weer kom, in stand te hou.”

Derde anker:  Dink aan jou voorgangers

In die storms staan ons nie alleen nie.  Naas die aanwesigheid van God, het ons ook die voorbeeld van diegene wat ons voorgegaan het in moedige stry vir die evangelie.  Timoteus het vir Paulus as voorbeeld, asook die voorbeeld van sy ma en sy ouma.

Die feit dat ander staande kon bly is vir ons ’n bron van inspirasie omdat dit die durf en moed wat God gee, bevestig.

Daarom kan Paulus sê:

13 Neem die woorde wat jy van my gehoor het, as voorbeeld van gesonde verkondiging en volg dit na in die geloof en liefde wat ons in Christus Jesus het. 14 Wat aan jou toevertrou is, is goed. Bewaar dit deur die Heilige Gees wat in ons woon.

Vierde anker:  Dra jou deel van die ontberings met die krag wat God gee

Om Jesus te volg, beteken om jou kruis op te neem.  Die lyding van Jesus gaan voort in die wêreld.  Vir ons as gelowiges beteken dit dat ons deel in hierdie lyding.

Hiervoor gee God vir ons die krag (1:8).  Daarom moet ons ons nie vir die evangelie skaam nie.  Inteendeel, ons dra ons deel van die ontberings met die krag wat God gee.

Slot

Gewortel in God se krag, aan die brand deur die vuur van die Heilige Gees, geïnspireer deur jou voorgangers, bereid om lyding te dra in jou geestelike lewe – dit is die dinge wat jou in jou geloofslewe kan ondersteun en onderskraag en laat volhou.

Jy kan vandag Paulus wees – dan moet jou fokus wees daarop om met jou voorbeeld jonger gelowiges te inspireer om die geloofstryd te stry, met hierdie geloofsankers.  En onthou, jy self is een van die ankers.  En jy het ’n gehoor nodig dat dit gesien kan word.  Nie net in eie kring nie, maar in ’n doelbewuste intensionele uitreik na jonger gelowiges, terwyl jy jou eie bediening voluit uitvoer.  Die Christelike lewe werk met mentorskap.  Dít is hoe die geloof aangegee word.  Paulus het vir Timoteus en Titus en Tigikus en eintlik ’n skare ander jonger gelowiges gehad in wie se lewe hy ingebou het.  Barnabas het vir Johannes Markus gehad en só in sy lewe ingebou, dat die aanvanklike terugdeins vir die evangelie, wat Paulus se gramskap laat opvlam het, oorgegaan het in ’n vrymoedige getuienis, sodat hy uiteindelik selfs met Paulus versoen is, soos ons aan die einde van dié brief lees.

Elkeen van ons het jonger gelowiges nodig om in hulle lewens in te bou.  Ons kan nie net die geloofstryd voltooi en juig daaroor dat ons die geloof behou het nie.  Ons sal net kan juig oor ons geloof, as ons weet ons het dit suksesvol aangegee, daar is ander wat die geloof sal voortdra en dit met die vier ankers wat Paulus ons aan herinner.

Dit is ’n duidelike woord.  Dit is ’n tydige woord.  Dit is ’n onontwykbare woord.  Jy het die dure plig om die geloof oor die grense van die generasies aan te gee.  Anders sal jy nie net ontrou wees aan jou roeping nie, maar die kerk sal ly en mank gaan aan diegene wat die geloofstryd moet voortsit.

Jy van vandag Timoteus wees – dan moet jy hierdie woord hoor om jou voorgangers te onthou, sodat jy hulle voorbeeld kan navolg.  Dit kan dus nooit reg wees om op plekke te wees waar jy hulle nie kan ontmoet en as mentors kan benut nie.  Ek weet dit is moeilik.  Ek was self jonk, al is dit soms moeilik om te glo.  Ek weet hoe ek ouer mense gechallenge het en hoe eiesinnig ek was.  Maar, die interessante is, in my stryd, in my verskille, in my teëstand teen allerlei, het dié wat na my geluister het, selfs op punte my gelyk gegee het, my gevorm en behou vir die geloof.

Ek eer my voorgangers, want ek weet daarsonder sou ek nie vandag hier gewees het nie.  Só, leef jou geloof uit in die kring van jou voorgangers, challenge, bevraagteken, doen wat die Here op jou hart lê en in daardie soms stormagtige verhouding, sal ons almal saam die geloof behou.

Gebed

Slotsang

Lied 601:1-5 (v 1, 3 en 5 gemeente, v2 en 4 koor. Almal sing steeds die refrein) “Dié wat die Here wil dien” – staan

Seën

Amen

Respons

Lied 601 Refrein: “Stil maar, wag maar”

     

View all posts in this series

Trackback from your site.

Leave a comment