Skip to main content

Geduld – Genesis 13:5-15; 22:1-14

Geloof en geduld

Gisteraand het ons oor geloof gesels, die geloof wat nodig is om die beloftes van God te verkry. Vanaand wil ek gesels oor die pasmaat van geloof, geduld.

Die Hebreërskrywer skryf die volgende oor geduld:

Ons begeer dat elkeen van julle enduit dieselfde ywer sal toon om tot volle sekerheid van die hoop te kom, sodat julle nie traag word nie, maar hulle navolg wat deur geloof en geduld die beloftes beërf.(Hebr 6:11-12).

Beloftes is daar om beërf te word, om in besit geneem te word, sê die Hebreërskrywer. Dit is God se goeie gawes aan ons. Maar daarvoor het ‘n mens geloof nodig. In God self en in sy goedheid. En jy het geduld nodig, want ‘n mens moet baie keer op die vervulling van God se beloftes wag.

Soos Psalm 27:14 dit só mooi stel:

Wag op die HERE! Wees sterk en hou moed, ja, wag op die HERE!” (BDV)

En jy het natuurlik volharding nodig om enduit hierdie pad met die Here te stap, om sterk te wees en moed te hou, soos Psalm 27 dit stel. Dit waarmee ons môre die reeks afsluit.

Word navolgers

Die beste manier om hierdie eienskappe – geloof en geduld – aan te leer, sê Hebreërs, is om dié na te volg wat dit alreeds doen in ons geloofsgemeenskap, waarvan die voorbeelde wat vir ons in die Skrif opgeteken is, die beste is.

Ek wil daarom die vader van geloof, Abraham (Rom 4:11), se lewe gebruik om te wys hoe hy geduld beoefen het in die beërwing van God se beloftes aan hom. Want die twee belangrikste kante van geduld waarvan ‘n mens in die Bybel lees – verdraagsaamheid en lankmoedigheid – kan ‘n mens teruglees in die lewe van Abraham. Hy illustreer op ‘n besondere manier hoe ‘n mens geduldig wag vir die waarmaak van God se beloftes.

Die een eienskap – verdraagsaamheid– illustreer hy in sy hantering van die onderlinge konflik met Lot. Want dit bring die belofte van die land in die gedrang. Die ander eienskap – lankmoedigheid – illustreer hy in sy hantering van Isak, want dit bring die belofte van ‘n nageslag in die gedrang.

Ek gaan daarom twee dele van Abraham se verhaal vertel om die twee kante van die geduld wat hy openbaar het, te illustreer. Telkens sal ek dan uitbrei oor wat ons van geduld in sy lewe leer. En ek wil daardeur jou aanmoedig om op dieselfde manier as hy geduld te beoefen.

Eers ‘n bietjie agtergrond oor geduld as lankmoedigheid en verdraagsaamheid.

Geduld is lankmoedigheid

Die Hebreeuse uitdrukking in die OT vir geduld (ʾerek ʾappayim) is letterlik “lank van neus” of “om ‘n lang asem te hê”. Die rook borrel nie so maklik by jou neusgate uit nie, is die gedagte wat daaragter sit.

Dit is die teenoorgestelde van angs of kommer of woede wat jou “kortasem maak”. Geduld is dus om lankmoedig te wees, om vir ‘n lang tyd moed te hou. Om uit te hou en aan te hou soos ‘n marathon atleet wat sy pas aanpas om enduit te kan hardloop.

Dit word veral van God gesê dat Hy lankmoedig is, stadig om kwaad te word (Eks 34:6; Num 14:18; Ps 86:15). En al word die woord nie in die OT gebruik om mense te beskryf nie, kan ‘n mens tog hierdie eienskap van moedhou en uithou by baie gelowiges raaksien.

Hierdie lankmoedigheid is noodsaaklik wanneer daar op die Here gewag word, soos Psalm 27:14 dit uitspel:

Wag op die HERE! Wees sterk en hou moed, ja, wag op die HERE!” (BDV)

en Psalm 130:5-6 dit só mooi sê: “

Ek wag op die HERE; my hele wese wag, en op sy woord vestig ek my hoop. My hele wese sien uit na my Heer, meer as wat wagte uitsien na die môre, ja, as wagte na die môre.”(BDV)

Die NT het nog meer oor geduld. Daar is 15 woorde wat ingespan word om geduld te beskryf. Maar as ‘n mens al die woorde binne hulle kontekste reduseer tot die basiese betekenis wat dit wil oordra, sien ‘n mens net twee goed: lankmoedigheid en verdraagsaamheid.

Die eerste betekenis van geduld is presies wat die OT ook onder geduld verstaan. Om lankmoedig te wees. Die Griekse woord makrothumiaword gebruik om dieselfde betekenis as die Hebreeuse begrip van “lankmoedigheid” oor te dra: “om ‘n lang asem te hê”. Dit is ook die woord wat in Hebreërs 6 gebruik word vir “geduld.”

Louw-Nida beskryf die betekenis van makrothumia as: a state of emotional calm in the face of provocation or misfortune and without complaint or irritation—‘patience.’[1]

In ander tale word hierdie geduld uitgedruk met idiome soos: “om in jou hart te sit” of: “om te keer dat jou hart bokspring” of: “om ‘n wagtende hart te hê.

Dit is hierdie woord wat die NT ook gebruik om God se geduld met sondaars mee uit te druk. God is geduldig met sondaars. Hy is byvoorbeeld stadig in sy oordeel oor die sondaars wat in Romeine 1 genoem word. Hy is langsaam in sy woede oor die sonde. Hy keer dat sy hart bokspring oor hulle. Hy het ‘n wagtende hart dat hierdie mense tot inkeer kom.

Soos Paulus sê: “God is ryk in goedheid, verdraagsaamheid en geduld!” God wil deur sy goedheid sondaars tot bekering lei. Daarom is Hy geduldig met hulle(Rom 2:4; vgl Rom 9:22; 1 Pet 3:20; 2 Pet 3:9,15).

Maar, omdat God ons binnekant verander om soos sy Seun te wees, is dié eienskap daarom ook ‘n vrug van die Heilige Gees in gelowiges (Gal 5:22). En deur die vrug van die Gees gee God ons die krag om in alle omstandighede geduldig te volhard. En telkens word hierdie tipe geduld met die Griekse woord makrothumiauitgedruk (Kol 1:11; vgl Ef 4:2; 2 Tim 3:10; 4:2; Jak 5:7).

William Barclay verduidelik lankmoedigheid met die beeld van ‘n man wat staande bly met sy gesig in die wind. ‘n Geduldige mens is dus iemand wat nie van stryk gebring word nie. Wat oor die langtermyn moed hou. Wat die toets deurstaan as dinge moeilik raak.

Dit is die eerste betekenis van geduld. Lankmoedigheid. Om lank moed te hou.

Geduld is verdraagsaamheid

Maar dan voeg die NT die tweede betekenis by wat ons kan opsom met verdraagsaamheid.

Dié verdraagsaamheid word op drie terreine uitgespel:

1. Geduld is die vermoë om kwaad of onreg te verdra, sonder om ontsteld of woedend te raak, sonder om aanstoot te neem (anexikakos). Dit is iets wat veral in die gemeenskap ten toon gestel moet word. ‘n Dienskneg van God, sê Paulus: “moet nie twis nie, maar vriendelik wees teenoor almal, bekwaam om te onderrig en een wat kwaad kan verdra.” (2 Tim 2:24).

2. Geduld is om verdraagsaam te bly al is die uitdagings van die bediening ook hoe groot, soos Paulus die uitdagings van die bediening geduldig verdra (stegō in 1 Kor 9:12) en God die voorwerpe van sy toorn eenmaal verdra het in die woestyn, omdat Hy sy belofte aan hulle wou nakom om hulle in die beloofde land te bring (pherō in Rom 9:22). Trouens, God het dit by uitstek in die woestyn geïllustreer deur met die volk geduldig te wees (tropophoreō in Hand 13:18 en bastazō in Hand 15:10).

3. Geduld is die vermoë om mekaar in die geloofsgemeenskap te verdra in liefde, sonder om mekaar af te kraak, selfs al verskil ons ook hoe baie (anechomai en anochē). Só skryf Paulus daaroor in sy brief aan die Efesiërs dat hulle mekaar in liefde sal verdra (Ef 4:2). Want dit is hoe God teenoor ons is (Rom 2:4).

So as jy aan geduld dink, moet jy dink aan lankmoedigheid en verdraagsaamheid. Dit is die kenmerke van iemand wat geduldig wag op die vervulling van God se beloftes.

Al twee hierdie betekenisse kan ons inlees in die wyse waarop die Bybel oor geduld praat. En kan ons raaksien in die lewe van Abraham.

Ek hanteer eers verdraagsaamheid, en daarna lankmoedigheid, omdat dit die orde is waarin die verhale in Genesis vertel word.

Genesis 13:5-15

5En Lot, wat saam met Abram getrek het, het ook kleinvee en beeste en tente gehad. 6En die land kon hulle nie dra om saam te woon nie, want hulle besittings was groot, sodat hulle nie saam kon woon nie. 7En daar het twis ontstaan tussen die veewagters van Abram en die veewagters van Lot. Ook het die Kanaäniete en Feresiete destyds in die land gewoon. 8Toe sê Abram vir Lot: Laat daar tog geen twis wees tussen my en jou, en tussen my wagters en jou wagters nie; ons is mos broers. 9Lê die hele land nie voor jou oop nie? Skei jou tog van my af; gaan jy links, dan sal ek regs gaan, en gaan jy regs, dan sal ek links gaan. 10Toe slaan Lot sy oë op en sien dat die hele Jordaanstreek oral volop water het; voordat die Here Sodom en Gomorra verwoes het, was dit in die rigting van Soar soos die tuin van die Here, soos Egipteland. 11En Lot het vir hom die hele Jordaanstreek gekies, en Lot het na die ooste getrek. So het hulle dan die een van die ander geskei. 12Abram het bly woon in die land Kanaän, en Lot het gaan woon in die stede van die Jordaanstreek en sy tente tot by Sodom opgeslaan. 13En die manne van Sodom was sleg en groot sondaars voor die Here. 14En die Here sê vir Abram nadat Lot van hom geskei het: Slaan tog jou oë op en kyk van die plek waar jy staan, na die noorde en suide, na die ooste en weste; 15want die hele land wat jy sien, sal Ek aan jou gee en aan jou nageslag tot in ewigheid.” (Gen 13:5-15 OAV).

Abraham was verdraagsaam

Abram kom as ‘n geseënde man terugkom uit Egipte, met geskenke van die farao – vee, silwer, goud – maar loop hom dan vas in die uitdaging wat sy rykdom en ‘n botsing van belange met sy broerskind inhou.

Sy nefie Lot het self ook ‘n groot rykdom opgebou. Hulle rykdom bring dus ‘n botsing van belange teweeg. Die katalisator vir die krisis was ‘n getwis tussen hulle veewagters. Die belofte van land kom dus in die gedrang.

Hierdie konflik laat ’n mens diep nadink oor die wedywering oor grond, soos ons in ons land nou alreeds ’n paar eeue ervaar. Trouens, grond is iets wat regdeur die wêreld ’n kritiese rol speel in die handhawing van goeie onderlinge verhoudinge, al dan nie. Sonder ‘n tuiste in die land waar jy woon, kan niemand ’n gelukkige naasbestaan met ander hê nie.

Twee belangrike gesprekke beslis die uitkoms van dié krisis tussen hulle.

1. Die eerste is die gesprek tussen Abram en Lot waarin Lot die beste deel van die breër landstreek van Kanaän kies in die Jordaanvallei. En dit is presies daar waar Abram sy geduld met die vervulling van die belofte toon. Hy kies om die Here te vertrou, eerder as om sy nefie te “overrule”. Hy kies om verdraagsaam te wees, om die uitdaging van die verskille aan die Here se wysheid oor te laat.

‘n Mens leer uit Lot se keuse dat wat op die oog af na ‘n: “tuin van die Here” lyk (let op die parallel met die tuin van Eden!), en boonop vir Lot herinner aan die plek waarvandaan hulle so pas gekom het, “soos Egipte”, dat dit nie altyd die beste keuse is nie.

Die skrywer se kort opmerking oor Sodom laat ‘n rilling by jou ruggraat afgaan: “Die inwoners van Sodom was sleg: hulle het baie gesondig teen die Here.” En, ‘n mens voorsien al wat gaan kom met die verhaal van Lot se ontvoering (Gen 14) en sy uiteindelike verlossing uit die ramp wat Sodom en Gomorra tref (Gen 19).

Maar Abram verdra die konflik. Hy verdra Lot se voorkeure. Hy kies om op God en sy belofte te vertrou, maak nie saak watter uitdaging Lot vir hom in terme van die land is nie.

2. Die tweede belangrike gesprek is die gesprek tussen die Here en Abram waarin die Here sy belofte van seën herhaal in terme van ‘n tuiste in die land en ‘n toekoms vir sy nageslag, waarvan ons net die eerste twee verse gelees het.

Wanneer Abraham beteuterd agterbly met die droër dele, is dit asof ’n mens die idioom hoor: “Nice guys come second”. Dit is egter presies hoe God baie keer werk deur dié een wat in die skadu gestel word, van ‘n blywende oplossing te voorsien.

Die Here nooi Abram uit om ‘n “bird’s eye view” te neem, want die Here gee vir hom die land rondom hom, vir sover as wat hy kan sien: “Die hele land (aarde?) wat jy sien, gee Ek vir altyd aan jou en jou nageslag.” (onthou dat die woord vir land en aarde presies dieselfde is …).

Abram erf daarmee eintlik die hele aarde, en sy nageslag verwerf ‘n unieke status as die geseëndes van die Here. En dit alles gebeur, omdat Abraham in geduld, in verdraagsaamheid – spesifiek met die uitdaging van die konflik met sy broerskind Lot – bly vasklou aan die belofte van die Here, sonder om vir Lot te benadeel.

Die verhaal nooi ons dus uit om hierdie verhaal nie net te sien as ‘n beskrywing van God en die pad wat Hy met mense gestap ihet n die verlede op spesifieke geleenthede nie, maar as voorbeeldverhale van die pad wat Hy met alle gelowiges stap.

Geduld is om verdraagsaam te wees. Om die uitdagings die hoof te bied, om onreg te verdra sonder om aanstoot te neem, en om die konflik in die geloofsgemeenskap met geduld te hanteer.

Genesis 22:1-14

1Ná hierdie dinge het God Abraham op die proef gestel en aan hom gesê: Abraham! En hy antwoord: Hier is ek! 2Toe sê Hy: Neem jou seun, jou enigste, wat jy liefhet, Isak, en gaan na die land Moría en offer hom daar as brandoffer op een van die berge wat Ek jou sal aanwys. 3Daarop het Abraham die môre vroeg klaargemaak en sy esel opgesaal en twee van sy dienaars en sy seun Isak saam met hom geneem; en hy het hout gekloof vir ’n brandoffer en opgestaan en na die plek gegaan wat God hom aangewys het. 4Op die derde dag toe slaan Abraham sy oë op en sien die plek van ver af. 5En Abraham sê aan sy dienaars: Bly julle hier met die esel; ek en die seun wil daarheen gaan om te aanbid en dan na julle terugkom. 6En Abraham het die hout vir die brandoffer geneem en dit op sy seun Isak gesit, en die vuur en die mes in sy hand geneem. So het hulle twee dan saam geloop. 7Toe spreek Isak met sy vader Abraham en sê: My vader! En hy antwoord: Hier is ek, my seun! En hy sê: Hier is die vuur en die hout, maar waar is die lam vir ’n brandoffer? 8En Abraham antwoord: God sal vir Homself die lam vir ’n brandoffer voorsien, my seun. So het hulle twee dan saam geloop. 9Toe hulle kom op die plek wat God hom aangewys het, het Abraham daar die altaar gebou en die hout reggelê; daarna het hy sy seun Isak gebind en hom op die altaar bo-op die hout gesit. 10Toe steek Abraham sy hand uit en neem die mes om sy seun te slag. 11Maar die Engel van die Here het na hom van die hemel af geroep en gesê: Abraham, Abraham! En hy antwoord: Hier is ek! 12En Hy sê: Moenie jou hand na die seun uitsteek nie, en doen hom niks nie; want nou weet Ek dat jy God vrees en jou seun, jou enigste, van My nie teruggehou het nie. 13En toe Abraham sy oë opslaan, sien hy meteens ’n ram wat agter in die bos met sy horings vasgeraak het. En Abraham het gegaan en die ram geneem en dit as brandoffer in die plek van sy seun geoffer. 14En Abraham het dié plek genoem: Die Here sal voorsien! Sodat vandag nog gesê word: Op die berg van die Here sal dit voorsien word.” (Gen 22:1-14 OAV).

Abraham was lankmoedig

Daar is min verhale in die Bybel wat ‘n mens tegelykertyd só diep roer op ‘n menslike vlak en só fundamenteel uitdaag op teologiese vlak. Abraham word beproef op ‘n manier wat nie net elke ouerhart sal laat saamtrek nie, maar ‘n venster word na die misterie van God self gegee wat ons ‘n vooruit skou gee na wat op dieselfde plek met sy eie Seun aan die kruis op Golgota net oorkant dié berg sou gebeur.

En dit illustreer terselfdertyd die lankmoedigheid van Abraham – sy naam is nou al verander – want waar Lot hom met die moontlike verlies van land gekonfronteer het, konfronteer hierdie uitdaging hom met die verlies aan ‘n nageslag volgens God se belofte.

“Abraham!”het God gesê. En in die antwoord van Abraham hoor ‘n mens ‘n onwrikbare gehoorsaamheid aan God en ‘n absolute vertroue op God se beloftes: “Hier is ek!”

“Vat jou seun, jou enigste seun, Isak wat jy liefhet, en gaan na die landstreek Moria toe en offer jou seun as brandoffer daar op een van die berge wat Ek vir jou sal aanwys.”

Abraham se wêreld het waarskynlik vir ‘n oomblik gaan stilstaan, maar dit het hom nie gekeer om die pad te vat saam met sy seun nie.  Hy het sy hart tot stilstand gebring in hom dat dit nie uit sy borskas spring nie. Lankmoedig, geduldig, op God vas vertrouend.

Hy huiwer selfs nie toe Isak hom vra: “Pa?Hier is vuur en hout, maar waar is die lam om te offer?”

Abraham het dit reggekry om gelykmatig te antwoord dat God self sal voorsien: “My seun, God sal sy eie offerlam voorsien.”Want dít is hoe hy die belofte van Isak verstaan het. Dit was God se voorsiening. En God sou bly voorsien, al sou dit beteken dat dié kind van hom uit die dood uit moes opstaan. Soos die Hebreërskrywer daaroor skryf:

17Deur die geloof het Abraham, toe hy op die proef gestel is, Isak geoffer; ja, hy wat die beloftes ontvang het, het sy eniggeborene geoffer, 18aan wie gesê is: In Isak sal jou nageslag genoem word—want hy het gereken dat God mag het om selfs uit die dode op te wek; 19daaruit het hy hom ook, om so te spreek, terug ontvang.” (Hebr 11:17-19).

En dan gebeur die wonder dat God in die plek van Isak ‘n offerlam voorsien. En vir altyd het dit die refrein in Israel geword. Vir elkeen wat geduldig die belofte van die Here vashou teen alle uitdagings in: “Die Here voorsien. Op die berg van die Here word voorsien.

Hierdie verhaal konfronteer ons dus met die erns van geloof en geduld.

Soos die Hebreërskrywer sê:

Ons begeer dat elkeen van julle enduit dieselfde ywer sal toon om tot volle sekerheid van die hoop te kom, sodat julle nie traag word nie, maar hulle navolg wat deur geloof en geduld die beloftes beërf.(Hebr 6:11-12).

Ons het geduld nodig, lankmoedigheid, om die beloftes van die Here nie net vas te hou nie, maar in besit te neem.

En die beloftes sal altyd sulke uitdagings insluit. ‘n Toetsing van geloof en geduld en volharding. So was dit met Abraham. So was dit met Moses. So was dit met Dawid. So was dit met Jesus. So is dit met elke kind van God wat aan God se beloftes vasklou.

Soos Abraham hier gekonfronteer word met hoe ver hy dit met God sal waag in geloof, só word ons ook uitgedaag.

Sal ons in God bly glo al word die mat onder ons voete uitgeruk? Al verdwyn die sekerhede en selfs die eerste vervullings van die beloftes van God, soos hier met Isak?

Dit is hoe ernstig geloof in God se beloftes is. En die geduld en volharding om daaraan tot die einde toe te bly vasklou.

Dit is in hierdie lig wat ons Jesus se woorde in Lukas 14:26-27 moet hoor:

26“As iemand na My toe kom, kan hy nie my dissipel wees nie tensy hy afstand doen van sy eie vader en moeder en vrou en kinders, en broers en susters, ja, selfs van sy eie lewe. 27Iemand wat nie sy eie kruis dra en agter My aankom nie, kan nie my dissipel wees nie.

Dit is hoe ernstig geloof in God se beloftes is. Soos dit die geval was met Abraham, só vra Jesus dit van elkeen van ons. Hy vra ‘n dissipelskap wat bereid is om jou eie kruis te dra, om te sterf vir jou eie belange en God se belange absoluut eerste te stel, selfs al kos dit jou wat ook al.

Abraham kry dit reg om enduit te volhard. Daarom is hy só ‘n inspirasie vir ons. Om geduldig te wees op die pad wat God met jou loop. Om nie te gou kwaad te word nie. Om nie te gou ontsteld te raak nie. Om uit te hou en aan te hou op die pad met God.

[1]Vergelyk Louw, J.P. & Nida, E.A., 1996. Greek-English lexicon of the New Testament: based on semantic domains, 1, p.306.

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.