Spring van Vreugde – die Verlosser is hier – Maria

Lukas begin sy evangelie met die belofte van twee groot Godsmanne, Johannes die Doper, en Jesus die Verlosser. ‘n Belofte wat binne ‘n jaar vervul is vir twee Godsvroue, Elisabet en Maria.

Dit is hoe God werk. Hy gee ‘n belofte. Hy vertel vir ons vooraf hoe dinge gaan werk; wat Hy gaan doen. En dan vervul Hy die belofte; gee Hy wat Hy belowe. Soms vat dit eeue vir die vervulling. Soms net nege maande.

God stuur Gabriël na die maagd Maria. Onmiddellik is ons gedagtes geprikkel, want 8 eeue gelede het Jesaja alreeds oor ‘n maagd gepraat wat swanger gaan word.

Hierdie belofte het deur die eeue die verwagting na ‘n Messias verhoog en gedra. Dit het die vroeëre belofte aan Dawid, in die tiende eeu vC, dat die Here vir hom ‘n huis sou bou, ‘n koninkryk, versterk. Dit het die verwagting dat ‘n Koning op Dawid se troon sal sit, wat volkome vrede en voorspoed sal bring, lewend gehou.

Hierdie Koning sou beide die seun van Dawid wees en die Seun van God. En Hy sou uit ‘n maagd gebore word.

Wat verder ons gedagtes prikkel, is dat sy Maria genoem word, ‘n naam wat in Hebreeus “bitter” beteken.

Ons herinner ons aan Naomi wat swaar gehad het in die tyd van hongersnood in Israel. Nie net moes sy haar land verlaat nie, maar het haar man en twee seuns in Moab verloor. Met haar terugkoms het sy verklaar dat sy nie meer Naomi genoem wil word nie, maar “Mara”, bitter.

Maar ons herinner ons ook aan hulle naamgenoot, Miriam, wie se naam ook “bitter” beteken, maar wat die verlossing uit Egipte meegemaak het, en ‘n loflied vir die Here aangehef het by die Rietsee.

Wat sou die engel se boodskap aan hierdie maagd wees, Maria, die maagd uit die huis van Dawid, die een wie se naam “bitter” beteken?

HIER VOLG DIE HELE PREEK – Download English: Jump for Joy – the Savior is here – Mary

Twee Godsmanne vir twee Godsvroue

Lukas begin sy evangelie met die belofte van twee groot Godsmanne, Johannes die Doper, en Jesus die Verlosser (ongeveer 6 vC). ‘n Belofte wat binne ‘n jaar vervul is vir twee Godsvroue, Elisabet en Maria.

Dit is hoe God werk. Hy gee ‘n belofte. Hy vertel vir ons vooraf hoe dinge gaan werk; wat Hy gaan doen. En dan vervul Hy die belofte; gee Hy wat Hy belowe. Soms vat dit eeue vir die vervulling. Soms net nege maande.

God stuur Gabriël na die maagd Maria

26In die sesde maand (van Elisabet se swangerskap, die belofte aan haar is baie naby aan vervulling) is die engel Gabriël deur God gestuur na ’n dorp in Galilea met die naam Nasaret, 27na ’n maagd wat verloof was aan ’n man met die naam Josef, uit die huis van Dawid, en die naam van die maagd was Maria. (Luk 1:26-27 – ASV)

Onmiddellik is ons gedagtes geprikkel, want 8 eeue gelede het Jesaja alreeds oor ‘n maagd gepraat wat swanger gaan word.

Die maagd sal swanger word

14Daarom sal die Here self aan julle ’n teken gee: Kyk, die maagd sal swanger word en ’n seun baar en hom Immánuel noem. (Jes 7:14 – OAV)

Hierdie belofte het deur die eeue die verwagting na ‘n Messias verhoog en gedra. Dit het die vroeëre belofte aan Dawid, in die tiende eeu vC, dat die Here vir hom ‘n huis sou bou, ‘n koninkryk, versterk (2 Sam 7). Dit het die verwagting dat ‘n Koning op Dawid se troon sal sit, wat volkome vrede en voorspoed sal bring, lewend gehou (Jes 9:7).

Hierdie Koning sou beide die seun van Dawid wees en die Seun van God (vgl in die OT: Jes 4:2; Ps 2:7; 45:6; 110:1; vgl in die NT: Matt 22:41-45; Hand 2:22-36; 13:33; Rom 1:4; Hebr 1:5; 5:5). En Hy sou uit ‘n maagd gebore word.

Wat verder ons gedagtes prikkel, is dat sy Maria genoem word, ‘n naam wat in Hebreeus “bitter” beteken.

Ons herinner ons aan Naomi wat swaar gehad het in die tyd van hongersnood in Israel. Nie net moes sy haar land verlaat nie, maar het haar man en twee seuns in Moab verloor (Rut 1). Met haar terugkoms het sy verklaar dat sy nie meer Naomi genoem wil word nie, maar “Mara”, bitter.

Maar ons herinner ons ook aan hulle naamgenoot, Miriam, wie se naam ook “bitter” beteken, maar wat die verlossing uit Egipte meegemaak het, en ‘n loflied vir die Here aangehef het by die Rietsee (Eks 15).

Wat sou die engel se boodskap aan hierdie maagd wees, Maria, die maagd uit die huis van Dawid, die een wie se naam “bitter” beteken?

Begenadigde, die Here is met jou

28En toe hy aankom by haar het hy gesê: “Wees gegroet, begenadigde, die Here is met jou.” (Luk 1:28 – ASV)

Watter lewensveranderende woorde. Nie net word die groete van die hemel aan Maria oorgedra nie, maar sy word “begenadigde” genoem. Haar naam, Maria, sou hierna nie meer “bitter” beteken nie, maar “begenadigde”, soos dit in die Griekse en Latynse weergawes daarvan uitgelê word.

Daarby verklaar Gabriël: “die Here is met jou.” Dit is immers wat die belofte in Jesaja 7:14 belowe het. Sy sal Hom Immanuel noem. Dit beteken “God met ons.”

Geen wonder Lukas skryf in vers 29:

Sy was uit die veld geslaan

29Sy was uit die veld geslaan oor die woorde en het gewonder watter soort groet hierdie kon wees. (Luk 1:29 – ASV)

Dit is wat die beloftes van die Here telkens doen. Sy woorde verstom ons. Dat beloftes uit die tiende eeu vC aan Dawid – en uit die agste eeu vC aan Jesaja, en uit al die eeue daarna aan die ander profete, en ook uit die Psalms – aan ‘n jong maagd in 6 vC vervul kan word, dit is verbysterend, “mind boggling”.

Moenie bang wees nie, Maria

30En die engel het vir haar gesê: “Moenie bang wees nie, Maria, want jy het genade gevind by God. 31En kyk, jy sal swanger word en jy sal geboorte gee aan ’n seun en jy moet sy naam Jesus noem. 32Hy sal groot wees en Seun van die Allerhoogste genoem word, en die Here God sal vir Hom die troon van sy voorvader Dawid gee, 33en Hy sal Koning wees oor die huis van Jakob tot in ewigheid, en aan sy koninkryk sal daar nie ’n einde wees nie.” (Luk 1:30-33 – ASV)

Gabriël besweer Maria se vrees vir wat met haar gaan gebeur in die eerste plek met die feit dat sy genade gevind het by God. Dit moet al genoeg wees vir haar. God se belofte is sy genade. Dit maak van ons begenadigdes.

Maar die engel sê ook dat sy nie bang moet wees nie. ‘n Refrein regdeur die Bybel. ‘n Refrein wat Jesaja ook met die gee van die belofte in Jesaja 7:9 herhaal het. Letterlik staan daar in die Hebreeus: “Julle moenie vrees nie, net vertrou.” (Jesaja 7 – Uitgenooi van vrees na vertroue).

Dit is die reaksie wat God soek by ons as ons sy beloftes hoor, dat ons van vrees na vertroue sal beweeg. Die vrees is natuurlik. Die vertroue is noodsaaklik.

Gabriël help Maria met die vertroue in die tweede plek deur ‘n kort opsomming te gee van die Bybelse boodskap van die belofte van die Messias. Sy sal swanger word, soos Jesaja 7:14 voorspel het. Hy sal die Seun van die Allerhoogste genoem word, soos 2 Samuel 7:14 voorspel het. God sal vir Hom die troon van sy voorvader Dawid gee, en Hy sal vir altyd Koning wees, aan sy koninkryk sal daar nie ‘n einde wees nie, soos 2 Samuel 7:16 voorspel het.

Gabriël se woorde is deurspek van beloftes uit die OT wat die vrese van hierdie vrou in vertroue laat verander. Soos dit altyd vir die kinders van die Here is. Die Woord gee ons vaste grond om die Here te vertrou.

Hoe kan dit wees?

34En Maria het vir die engel gesê: “Hoe kan dit wees, aangesien ek nie gemeenskap met ’n man het nie?” 35En die engel het geantwoord en vir haar gesê: “Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou soos ’n skaduwee bedek; en daarom ook sal die Een wat gebore word, heilig genoem word, die Seun van God. 36En kyk: Elisabet, jou familielid, is self ook in haar ouderdom swanger met ’n seun en hierdie is haar sesde maand, sy wat onvrugbaar genoem is; 37omdat geen ding by God onmoontlik is nie.” (Luk 1:34-37 – ASV)

Let op hoe Maria net oor die konkrete vervulling van die belofte praat. Anders as Sagaria wat die engele se woorde betwyfel het. Sy wil net: “Hoe kan dit wees …”

Gabriël se woorde het eggo’s van Psalm 91, die Psalm wat ons aan die begin gesing het, wat praat van die beskerming van die Allerhoogste in wie se skaduwee ons kan vernag, in wie ons ‘n toevlug het, op wie ons kan vertrou.

Terloops, dit is ook die Psalm wat die duiwel gebruik om Jesus mee te versoek … die toppunt van boosheid (Luk 4:10-11 wat Ps 91:11-12 aanhaal: “Hy sal sy engele aangaande jou bevel gee om jou te bewaar op al jou weë.     Hulle sal jou op die hande dra, sodat jy jou voet teen geen klip stamp nie.”)

Hierdie God kom egter nader aan Maria as aan enige mens voor haar. Die Heilige Gees sal oor haar kom, die krag van die Allerhoogste sal haar soos ‘n skaduwee bedek … en dan sonder om verder uit te brei, word oor die geboorte van Jesus gepraat, die Heilige, die Seun van God.

Gabriël sluit sy boodskap af aan Maria deur van Elisabet se wonder-swangerskap te praat, as ‘n getuienis daarvan dat geen dink by God onmoontlik is nie. Geen ding. Niks!

Wat antwoord ‘n mens op só ‘n aankondiging?

Hier is die slavin van die Here

38Maria het gesê: “Hier is die slavin van die Here. Laat met my gebeur volgens u woord.” (Luk 1:38a – ASV)

“Hier” is ek. Ek “is die slavin van die Here.” Ek is beskikbaar. “Laat met my gebeur volgens u woord.”

Gabriël vertrek

En die engel het van haar af weggegaan. (Luk 1:38b – ASV)

Maria kon egter nie dié nuus vir haar self hou nie. Sy moes dit met iemand deel. Binne-in haar het die vreugde begin opwel. En ons lees direk hierna:

Maria besoek Sagaria en Elisabet

39Maria het in daardie dae gereedgemaak en haastig na die heuwelland toe gegaan, na ’n dorp in Judea, 40en sy het ingegaan in die huis van Sagaria en Elisabet gegroet. (Luk 1:39-45 – ASV)

En ons het verlede week gefokus op Elisabet wat vervul is met die Heilige Gees, en met ’n groot kreet uitgeroep en die Here geloof het. Soos haar kind in haar skoot beweeg het, gespring het van vreugde, só het Elisabet dit ook uitgejubel.

Elisabet noem Maria “moeder van my Here”. En sy noem Maria gelukkig (eulogêmenos). Letterlik sê Elisabet: “mense sal goedpraat oor jou”, omdat Maria die boodskap aan haar geglo het.

My gees is verheug oor God my Verlosser

46En Maria het gesê:

“My siel prys die grootheid van die Here, 47en my gees is verheug oor God my Verlosser,48omdat Hy ag geslaan het op die geringheid van sy slavin.

Want kyk, van nou af sal al die geslagte my gelukkig noem, 49omdat die Magtige groot dinge aan my gedoen het. En heilig is sy Naam, 50en sy barmhartigheid geld van geslag tot geslag vir dié wat Hom vrees.

51Hy het deur sy arm ’n magtige daad gedoen, Hy het hoogmoediges verstrooi in die denke van hulle hart;

52Hy het magtiges van trone afgeruk en geringes verhoog, 53hongeriges het Hy met goeie dinge gevul

en rykes het Hy met leë hande weggestuur.

54Hy het Israel sy kneg gehelp deur sy barmhartigheid te onthou – 55net soos Hy vir ons voorvaders gesê het – teenoor Abraham en sy nageslag tot in ewigheid.” (ASV)

56Maria het ongeveer drie maande lank by haar gebly, en sy het teruggekeer na haar huis. (Luk 1:46-56 – ASV)

Dit tref my dat Maria se loflied aanhaak by wat Elisabeth oor Maria gesê het, dat sy gelukkig is. Sy brei dit aan die een kant verder uit deur te sê elke nuwe geslag sal haar, soos Elisabeth, gelukkig noem. Sy spring van vreugde, want die Verlosser is hier.

Maar aan die ander kant gebruik sy ‘n ander woord vir gelukkig, makarios, wat “salig” beteken, wat die betekenis van ‘n toesegging het, dws iets wat God oor haar uitspreek, soos Jesus dit inderdaad in die Bergrede sou gebruik.

Sy hoor Elisabet se toesegging, dat sy gelukkig (eulogêmenos) is, maar verkies om vreugde oor God se toesegging te hê, dat sy salig (makarios) is.

En Maria lê klem daarop dat die geluk nie is omdat sy gehoorsaam was nie, maar omdat God groot dinge aan haar gedoen het.  Wat ons leer, dit gaan altyd oor God en wat Hy doen. Ons is net “slawe” soos Maria tereg erken teenoor Gabriël. Ons is “salig”, omdat God Hom oor ons ontferm het, omdat Hy ons barmhartigheid bewys het.

Blydskap oor God se barmhartigheid

En Maria brei uit op die groot dinge wat God in die verlede deur die geslagte gedoen het. Hy bewys barmhartigheid aan geringes en hoogmoediges jaag Hy uitmekaar. God sien geringes raak. Hy jaag hoogmoediges uitmekaar.

Maria se blydskap is dus dieper as Elisabet s’n. Sy sien nie net die belofte raak van twee ongebore kinders nie. Maria sien ‘n voller prentjie. Sy sien dat God in haar swangerskap sy barmhartigheid kom ten toon stel. Nie net vir haar as vrou met die geboorte van ‘n kind nie. Maar vir ‘n wêreld wat smag na verlossing.

Die God van Abraham is die God van sy nageslag tot in ewigheid. Hy is die Barmhartige. Hy is die een wat Hom ontferm.

Of hierdie verlossing iets groots sou wees, soos om van verdrukking verlos te word – soos uit Egipte – of iets kleiner, soos om jou honger met goeie dinge te kan stil – die manna wat God voorsien – God se barmhartigheid sal sy mense gelukkig maak, “salig”.

God is magtig. Hy is die Saligmaker. Hy doen kragtige dade vir sy mense.

Soos God dit eenmaal gedoen het vir Hanna met die geboorte van Samuel (1 Samuel 2:8; Psalm 113:7) – en die woord van die Here in ere herstel het (1 Sam 3:21) – só doen Hy dit hier met die geboorte van Jesus – die Woord van die Here (Joh 1:1-18). In die proses verstrooi Hy mense wat hoogmoedig is. Verwar Hy hulle gedagtes. Stuur Hy rykes met leë hande weg. Maar sy mense geniet sy guns, sy omgee, sy barmhartigheid.

Meer nog. Dit is waar vir alle mense. Elkeen wat God vrees, elkeen wat God soek, elkeen wat hulle verwagting op God stel, sal God se barmhartigheid ervaar, sal sy ontferming beleef. Reg oor die aarde. In alle nasies op die aarde. So haal Paulus dit in Romeine10 aan uit die boodskap van die OT, uit Jesaja en Joël:

Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaam word nie

11Want die Skrif sê: Elkeen “wat in Hom glo, sal nie beskaam word nie” (Rom 10:11 – ASV)

Paulus haal hier uit Jes 28:16 aan, ‘n gedeelte wat verwys na die hoekklip van God se gebou, die Messias.

Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word

 12Want daar is nie verskil tussen Jood en Griek nie, want dieselfde Here is Here van almal en is ryk teenoor almal wat Hom aanroep; 13want “elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word”. (Rom 10:12-13 – ASV)

Hier haal Paulus die frase direk uit Joël 2:32 wat verder belowe dat dié wat deur die Here geroep is, uit al die nasies, gevoeg sal word by dié wat gered is, die dag wanneer God die lot van Juda en Jerusalem sal verander, dié tyd wat nou met Jesus aangebreek het.

Spring van Vreugde – die Verlosser is hier!

Daar is geen ander manier om voor God te wees nie, as om bewus te wees van jou afhanklikheid van Hom nie. Dit is “hongeriges” (peinoontas) wat Hy “volmaak met goeie dinge” (eneplēsen agathōn), nie rykes en hoogmoediges nie.  Hy stuur hulle leeg weg!

Die impak van hierdie beloftes is vir altyd. Dit hou nooit op nie.

Dit is die boodskap van Maria aan ons.

Dit laat ons Spring van Vreugde. Die Verlosser is hier!

Hy altyd getrou bly aan sy beloftes.

     

Trackback from your site.

Leave a comment

Kommentaar en navrae

  • Avatar

    Rethie van Niekerk

    |

    Hallo Marita. Ai, jammer dat jy moes sukkel! Ons het wel toilette vir gestremdes, met o.a. ‘n handvatsel teen die muur. Dankie dat jy ons daarvan bewus maak dat dié toilette nie duidelik gemerk is nie! Ons sal plan maak!

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Hi Marita. Dit is ‘n goeie idee. Ons sal aandag gee. Dankie!

  • Avatar

    Marita Kotze

    |

    Ek is bejaard, nie heeltemal rolstoel gebonde nie, maar sukkel om van ‘n lae toilet af op te staan. Ek het Dinsdagaand se pragtige musiek konsert baie geniet, maar moes hulp vra om van sie toilet af op te kom. Tuis kan ek op die bad se rand druk om op te staan. Dit het nie vir my gelyk of u maklik ‘n toilet vir gestemdes kan installer nie, maar vir mense soos ek kan ‘n handvatsel teen die muur of sels ‘n ingeboude toiletrol houer of selfs ‘n stewige houer vir gebruikte sanitere dovekies groot verleentheid bespaar. Baie dankie,
    Marita Kotze

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Hi Fransina

    Twee mans was op die opstandingsdag van Jerusalem na die dorp Emmaus op pad, so 12 km van Jerusalem af. Hulle het met mekaar gepraat oor alles wat hulle gehoor het van die opstanding.

    Jesus kom dan self nader en loop saam met hulle. Hulle het Hom egter nie herken nie, want Jesus het dit verhoed.

    Jesus vra dan waaroor hulle praat en waarom hulle hartseer is.

    Een van hulle, Kleopas, vra dan vir Jesus hoe dit moontlik is dat Hy nie weet wat gebeur het nie. Hy vra, nou watter dinge?

    Dan antwoord hulle dat hulle praat oor die dinge van Jesus, die man van Nasaret, wat ‘n profeet was en kragtige werke en woorde voor God en die hele volk gelewer het. Die owerpriesters en owerstes het Jesus egter die doodstraf opgelê en Hom gekruisig.

    Dan praat hulle oor die hoop wat hulle gehad het dat Jesus Israel sou verlos, maar nou is dit al die derde dag, en hulle het Hom nie gesien nie. Net gehoor dat ‘n paar vroue nie sy liggaam by die graf kon kry nie, en toe by engele gehoor het dat Hy lewe.

    Van die mans het gaan seker maak dat dit so is – Petrus en Johannes – en agter gekom dat die graf leeg was, maar vir Jesus het hulle nie gesien nie.

    Dan berispe Jesus hulle omdat hulle so dom is, en boonop traag is om te glo wat juis die profete oor die Christus geskryf het. Jesus wys dan vir hulle uit die wet en die profete en die res van die OT dat al die dinge wat hulle vir Hom vertel, daar staan. Dat die Christus moet ly vóór Hy in die heerlikheid kan ingaan.

    As hulle by Emmaus kom teen die aand se kant, wil Jesus verder stap, maar hulle vra dat Hy by hulle oorbly en saam met hulle eet.

    Jesus neem dan die brood aan tafel en dank die Here daarvoor. Toe Hy dit breek en aan hulle uitdeel, maak Hy hulle oë oop dat hulle Hom kan herken. Met dít verdwyn Hy uit hulle gesig.

    Hulle opgewondenheid het nie perke geken nie en hulle herinner mekaar daaraan dat hulle harte al begin brand het toe Hy die Skrifte vir hulle uitgelê het.

    Hulle reis onmiddellik terug Jerusalem toe en vertel vir die elf dissipels – dit sluit dus Thomas in – en die ander wat saam met hulle bymekaar was wat met hulle gebeur het. Dié op hulle beurt vertel vir die twee van Emmaus dat Jesus – hulle noem Hom Here – waarlik opgestaan het en aan Simon, dit is Petrus, verskyn het.

    Groete

    Chris

  • Avatar

    Fransina Hashipala

    |

    Goeie dag Pastoor Chris ek wil die storie van die Emmausganger mooi verstaan kan u asb vir my net biekie inlig.