Skip to main content

Klou vas aan die lewe na die dood – 1 Tessalonisense 4:13-18

Is daar hoop?

Kurt Vonnegut het ‘n boek geskryf, Cat’s Cradle. John, die hoofkarakter, beplan ‘n boek oor die dag dat die wêreld eindig. Terwyl hy besig is met sy navorsing kom John op ‘n hoofstuk in ‘n boek af met die titel: “What Can a Thoughtful Man Hope for Mankind on Earth, Given the Experience of the Past Million Years?” Dit neem John nie lank om die hoofstuk te lees nie, want dit bestaan uit net een woord: “Nothing”, gevolg deur ‘n punt.

Die boek beskryf die gevoel wat baie mense vandag het. Daar is geen hoop op die langtermyn nie. “Nothing”. Oor die onmiddellike toekoms kan mens dalk optimisties wees. Maar op die langtermyn lyk dinge bleek. Daar is geen hoop nie.

Is ons uitgelewer aan die noodlot?

‘n Inskripsie in ‘n grafkelder in die stad Tessalonika illustreer hoe dié hooploosheid nie net ‘n moderne gevoel is nie. Min mense in die heidense bevolking van die stad het enige hoop vir ‘n lewe anderkant die graf gehad. So staan dit geskryf:

Vanweë haar besondere geaardheid en aangename persoonlikheid, het haar toegewyde eggenoot, Eutropos, hierdie grafkelder vir haar gebou. Dit is ook vir homself, sodat hy later ‘n plek sal hê waar hy saam met sy geliefde vrou kan rus. Dit is vir wanneer hy die einde van die lewe bereik op die tyd wat die noodlot onafwendbaar vir hom voorberei het.

Eutropos se enigste hoop vir na die dood is om saam met sy vrou begrawe te word in die familie se grafkelder.

Wat maak ons met die dood?

‘n Hele paar van ons gemeentelede is die afgelope tyd gekonfronteer met die finaliteit van die dood. ‘n Eggenoot en ma wat nog in die fleur van haar lewe was. ‘n Pa en oupa wat verlos is van ‘n lang lyding. ‘n Ma en ouma wat oorlede is.

En dit pas in die breër prentjie van die geweld in ons land. Ons paaie word op plekke “no-go-zones”. Een van ons gemeentekinders het dit onlangs aan sy lyf gevoel in die Kaap. En talle mense is die afgelope tyd vermoor. In die Wes-Kaap is daar boere wat nie meer op hulle plase woon nie. Dit het net te gevaarlik geword.

Daar is ook dinge wat met ons gebeur wat voel soos die dood. Die afskaling in ons leraarsposte weens finansiële redes.

Wat maak ons met die dood? Wat maak ons met die wanhoop wat intree as ons met verganklikheid en aftakeling gekonfronteer word?

As Paulus hieroor skryf dan praat hy interessant genoeg oor die wederkoms.

Download English translation: Cling to life after death – 1 Thessalonians4_13-18.docx

HIER VOLG DIE HELE EREDIENS

Verwelkoming

Vadersdag

Toetrede

Die Walliese digter RS Thomas skryf in: “The Coming”

And God held in his hand
A small globe. Look, he said.
The son looked. Far off,
As through water, he saw
A scorched land of fierce
Colour. The light burned
There; crusted buildings
Cast their shadows: a bright
Serpent, a river
Uncoiled itself, radiant
With slime.
On a bare
Hill a bare tree saddened
The sky. Many people
Held out their thin arms
To it, as though waiting
For a vanished April
To return to its crossed
Boughs. The son watched
Them. Let me go there, he said.

Lied 450:1-2 Vader, Seun, Heil’ge Gees – sit

Votum en Seëngroet

Psalm 103:13

13 Soos ’n vader hom ontferm oor die kinders, so ontferm die Here Hom oor die wat Hom vrees.

Lofsang

Vonkk 403:1-4 Op U verlaat ek my, genadige Heer – staan

Vonkk 341:5 Ons eer U, Vader, as ons God – staan

Dankoffers

Voorbidding

Skriflesing en prediking

Klou vas aan die lewe na die dood – 1 Tessalonisense 4:13-18

Is daar hoop?

Kurt Vonnegut het ‘n boek geskryf, Cat’s Cradle. John, die hoofkarakter, beplan ‘n boek oor die dag dat die wêreld eindig. Terwyl hy besig is met sy navorsing kom John op ‘n hoofstuk in ‘n boek af met die titel: “What Can a Thoughtful Man Hope for Mankind on Earth, Given the Experience of the Past Million Years?” Dit neem John nie lank om die hoofstuk te lees nie, want dit bestaan uit net een woord: “Nothing”, gevolg deur ‘n punt.

Die boek beskryf die gevoel wat baie mense vandag het. Daar is geen hoop op die langtermyn nie. “Nothing”. Oor die onmiddellike toekoms kan mens dalk optimisties wees. Maar op die langtermyn lyk dinge bleek. Daar is geen hoop nie.

Is ons uitgelewer aan die noodlot?

‘n Inskripsie in ‘n grafkelder in die stad Tessalonika illustreer hoe dié hooploosheid nie net ‘n moderne gevoel is nie. Min mense in die heidense bevolking van die stad het enige hoop vir ‘n lewe anderkant die graf gehad. So staan dit geskryf:

Vanweë haar besondere geaardheid en aangename persoonlikheid, het haar toegewyde eggenoot, Eutropos, hierdie grafkelder vir haar gebou. Dit is ook vir homself, sodat hy later ‘n plek sal hê waar hy saam met sy geliefde vrou kan rus. Dit is vir wanneer hy die einde van die lewe bereik op die tyd wat die noodlot onafwendbaar vir hom voorberei het.

Eutropos se enigste hoop vir na die dood is om saam met sy vrou begrawe te word in die familie se grafkelder.

Wat maak ons met die dood?

‘n Hele paar van ons gemeentelede is die afgelope tyd gekonfronteer met die finaliteit van die dood. ‘n Eggenoot en ma wat nog in die fleur van haar lewe was. ‘n Pa en oupa wat verlos is van ‘n lang lyding. ‘n Ma en ouma wat oorlede is.

En dit pas in die breër prentjie van die geweld in ons land. Ons paaie word op plekke “no-go-zones”. Een van ons gemeentekinders het dit onlangs aan sy lyf gevoel in die Kaap. En talle mense is die afgelope tyd vermoor. In die Wes-Kaap is daar boere wat nie meer op hulle plase woon nie. Dit het net te gevaarlik geword.

Daar is ook dinge wat met ons gebeur wat voel soos die dood. Die afskaling in ons leraarsposte weens finansiële redes.

Wat maak ons met die dood? Wat maak ons met die wanhoop wat intree as ons met verganklikheid en aftakeling gekonfronteer word?

As Paulus hieroor skryf dan praat hy interessant genoeg oor die wederkoms.

Die een ding waaraan ons moet vasklou, is dat daar ‘n lewe is hierna, skryf Paulus in sy eerste brief aan die Tessalonisense.

4:13 Broers, ons wil nie hê dat julle onkundig moet wees oor diegene wat ontslaap het nie, sodat julle nie treur soos die ander mense wat nie hoop het nie. 14 Want as ons glo dat Jesus gesterf het en opgestaan het — God sal ook so diegene wat gesterf het, deur Jesus met Hom saamneem.  15 Want dít sê ons vir julle deur die woord van die Here: Ons wat lewe, wat agtergebly het tot die koms van die Here, sal beslis nie diegene wat gesterf het, voor wees nie. 16 Want die Here self sal met ‘n bevel, met die stem van ‘n aartsengel en met ‘n trompetgeskal van God, uit die hemel afkom, en diegene wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. 17 Daarna sal ons wat lewe en oorgebly het, saam met hulle in die wolke opgeneem word om die Here in die lug te ontmoet. En so sal ons altyd by die Here wees. 18 Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde.

Die lewe by God

Daar is ‘n fundamentele verskil tussen kinders van die Here en kinders van die wêreld. Kinders van die Here glo in die lewe na die dood. Kinders van die wêreld glo net in hierdie lewe.

Ons ervaar die dood dus verskillend. Ons is wel hartseer as dinge verkeerd gaan. Ons is hartseer oor die dood, net soos ander mense. Maar, kinders van die Here weet van meer. Hulle weet dat Jesus gesterf EN opgestaan het. En dat Hy weer kom.

Gelowiges weet dat God daarom almal wat in Hom glo anders hanteer as ander mense. Hy neem hulle met hulle dood na Hom toe, en by die wederkoms laat Hy hulle soos Jesus opstaan uit die dood.

Paulus verkondig dus aan ons dat die gelowiges wat reeds dood is, nou by God lewe. En dat hulle sal opstaan uit die dood. Dat ons hulle weer sal sien as hulle saam met die Here Jesus terugkom met sy Wederkoms.

Dit is waaraan ons vasklou. Dit is wat ons hoop gee. Dit is wat ons nie ten gronde laat gaan as dinge deurmekaar raak in hierdie wêreld nie. Jesus kom weer en sal al ons geliefdes met Hom saambring.

Die dood is ‘n deurgang tot die ewige lewe

Maar, belangrik, dit is nie net iets waaraan jy moet vasklou vir jou geliefdes nie. Dit is iets waaraan jy moet vasklou ter wille van jouself.

Ek weet ‘n hele paar van ons lidmate word tans gekonfronteer met hulle eie verganklikheid. En soos ek vir iemand dié week gesê het, ons moet leer om dood te gaan, vóór ons dood gaan.

Ons mag nie leef asof hierdie lewe die enigste lewe is nie. Die dood is immers net ‘n deurgang na die lewe by God. Dit is die einddoel van ‘n lewe wat vir Christus gelewe is.

Soos ons belydenisskrifte sê, ons dood is “nie ‘n betaling vir ons sondes nie, maar slegs ‘n afsterwe van die sondes en ‘n deurgang tot die ewige lewe.” (Heidelbergse Kategismus 42).

Ons moet dus leer om hieroor te gesels vóór ons dood gaan. Ons moet leer om hieraan vas te klou, want dit is die hoop wat die dood se angel uittrek. Dat ons ‘n sondelose bestaan by die Here gaan hê.

Elkeen van ons moet hierdie oortuiging hê. Daaraan vasklou dat as ons sterwe ons by die Here voort sal lewe. En ons moet mekaar opgewonde maak daaroor. Ons moet vir mekaar bid dat ons hierdie geloof sal behou. Dat hierdie geloof in ons sal groei tot ‘n diep en heerlike oortuiging.

Jesus kom weer

Jesus sal met heerlikheid terugkom, sê die geloofsbelydenis van Nicea, “om die lewendes en die dooies te oordeel. Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie.”

Soos iemand opgemerk het: “Once born, twice dead. Twice born, once dead.” Alle wedergeborenes sal die dood net een keer ervaar en daarna die ewige lewe binnegaan. Alle onwedergeborenes sal die dood twee keer ervaar, en die tweede dood sal vir ewig wees.

Maar daardie oordeel is nie om ons hartseer te maak nie. Daardie belydenis van oordeel laat die hoop ontvlam dat dinge reggestel sal word, sodat ek “in alle droefheid en vervolging dieselfde Persoon met gespanne verwagting as Regter uit die hemel verwag wat Hom tevore in my plek voor die regbank van God gestel en alle vervloeking van my weggeneem het.” So sê Heidelbergse Kategismus 52.

Watter troos dat dié een wat my vrygespreek het hier van my sonde, ook daar my Regter sal wees.

Die feit dat ons geliefdes by die Here is, troos ons. Die feit dat Jesus alles weer nuut sal maak, troos ons. Maar, heel spesifiek, die feit dat Jesus se opstanding ook ons voorland is, laat ons met hoop lewe. Vandag. En elke dag. Dit vul ons die vreugde van die teenwoordige Here.

Want dit is nou reeds waar dat die Here vir altyd by ons is, soos ons aan die einde van die tyd altyd by Hom sal wees.

Maar nog verder, die wederkoms beteken vir my: “dat Hy al sy en my vyande in die ewige verdoemenis sal werp, maar my, saam met al die uitverkorenes, na Hom in die hemelse blydskap en heerlikheid saamneem.” So sê die Heidelbergse Kategismus 52.

Om ligvoets te lewe

Ek kan dus bekostig om ligvoets te lewe. Om te vergewe. Om nie met wrokke rond te loop nie. Want God sal uiteindelik, as mense hulle vyandskap nie wil laat vaar nie, alles tot volmaaktheid bring, die vyandskap tot niet maak, en al die uitverkorenes in heerlikheid by Hom opneem.

Ek kry dié week ‘n navraag oor die vers in 1 Petrus 4:8: “Maar bo alles moet julle mekaar vurig liefhê, want die liefde sal ’n menigte sondes bedek.” Wat beteken dit dat die liefde ‘n menigte sondes bedek?

Nou die agtergrond van die teks lê in Spreuke 10:12: “Haat verwek twiste, maar liefde bedek al die oortredinge.” En dit moet saamgelees word met Jakobus 5:19-20: “as een onder julle van die waarheid afgedwaal het en iemand hom bekeer, laat hy weet dat die een wat ’n sondaar van sy dwaalweg bekeer, ’n siel uit die dood sal red en ’n menigte sondes sal bedek.”

Petrus wil dus sê, moenie so liggeraak wees dat jy op alles wat verkeerd is reageer nie. Wees lankmoedig en verdraagsaam. Deur jou liefde sal die verkeerde opgelos word. Jy skep ‘n ruimte waar selfinsig kan kom en iemand tot inkeer kan kom.

Jakobus wil weer sê, moenie iets laat verbygaan wat iemand op ‘n dwaalweg plaas nie, want deur só iemand daarvan te bekeer, red jy iemand uit die dood, en word ‘n menigte sonde bedek.

So, leef ligvoets. Vergewe. Moenie wrokke koester nie. Vertrou God om dinge reg te maak, ook insig te bring by mense.

Maar, moet nou weer nie só ligvoets leef dat jy enigiets toelaat nie. Want mense se lewens is ook op die spel. Dwaalweë eindig in die dood.

Hoe sal die wederkoms regtig wees?

Daar is nie ‘n beter verwoording daarvan as in die Nederlandse Geloofsbelydenis 37 nie. Dit vat 48 Skrifgedeeltes in vyf kompakte gedeeltes saam.

1. Wanneer die tyd gekom het wat die Here bepaal het – dié tyd is vir alle skepsels onbekend – en die volle getal uitverkorenes tot bekering gekom het, sal ons Here Jesus Christus met groot heerlikheid en majesteit uit die hemel kom.

Dit sal liggaamlik en sigbaar wees, soos Hy opgevaar het. Hy sal Homself as Regter oor die lewendes en dooies aankondig, terwyl Hy hierdie ou wêreld aan vuur en vlam sal oorgee om dit te suiwer.

2. Dan sal alle mense – mans, vrouens en kinders, van die begin van die wêreld af tot die einde toe – persoonlik voor hierdie groot Regter verskyn, soos Paulus ook hier in 1 Tessalonisense sê. Die aartsengel se stem sal druis en die basuin van God sal weerklink.

Al die dooies sal uit die aarde opstaan, die siel van elkeen sal saamgevoeg en verenig word met sy liggaam waarin hy geleef het. En dié wat dan nog lewe, sal in ‘n oogwink verander en uit verganklikheid onverganklik word.

Dan sal die boeke, dit is die gewetens, geopen en die dooies geoordeel word volgens wat hulle in hierdie wêreld gedoen het, of dit goed was of sleg. Ja, die mense sal rekenskap moet gee van elke ligsinnige woord wat hulle gesê het, al beskou die wêreld dit slegs as kinderspel en tydverdryf.

Dan sal die geheime bedrog en huigelary van die mense in die openbaar voor almal oopgevlek word.

3. Daarom is die gedagte aan hierdie oordeel vir die oortreders en goddeloses met reg ontsettend en skrikwekkend.

Maar vir die vromes en uitverkorenes begeerlik en troosryk. Want dan sal hulle volle verlossing voltooi word, en hulle sal daar die vrugte ontvang van moeite en lyding wat hulle gedra het.

Hulle onskuld sal deur almal erken word, en hulle sal die verskriklike wraak sien wat God sal voltrek oor die goddeloses wat hulle in hierdie wêreld wreed vervolg, verdruk en gekwel het.

Maar die goddeloses sal deur die getuienis van hulle eie gewete tot erkenning van hulle skuld gebring word; hulle sal onsterflik word dog slegs om gepynig te word in die ewige vuur wat vir die duiwel en sy engele voorberei is.

4. Die gelowiges en uitverkorenes, daarenteen, sal met heerlikheid en eer gekroon word. Die Seun van God sal hulle naam voor God, sy Vader, en sy uitverkore engele bely; alle trane sal van hulle oë afgevee word.

Dan sal dit bekend word dat hulle saak, wat tans deur baie regters en owerhede as ketters en goddeloos veroordeel word, die saak van die Seun van God is. En as ‘n beloning uit genade sal die Here self hulle so ‘n heerlikheid gee as wat die hart van ‘n mens nooit kon bedink nie.

5. Daarom verwag ons hierdie groot dag met sterk verlange om die beloftes van God in Jesus Christus, ons Here, ten volle te geniet.

Tot sover die Nederlandse Geloofsbelydenis 37.

Jesus is ons hoop

Wat ons met die geloofsbelydenisse bely, is wat Paulus vir ons hier in sy brief onderstreep. Ons hoop is uiteindelik in Iemand, in die Here Jesus Christus self, wat was en wat is en wat kom. God self is die bron van ons hoop. Ons kan seker wees van Hom, van wie en wat Hy is, van wat Hy gedoen het en nog sal doen.

Ons word deur sy woorde en werke vertroos. Hy vervul ons met verwagting en vertroue, omdat Hy self die inhoud van die beloftes en die hoop van die ewige lewe is, omdat Hy self die waarborg daarvan is.

Ons hoop is dus ten diepste nie net die lewe na die dood nie, maar die Here Jesus Christus self. Dit is hierdie Jesus wat ook vir ons gesterwe en opgestaan het. In Hom het ons lewe, in hierdie wêreld, en in die wêreld wat kom.

Gebed

Slotlied

Vonkk 287:1-2 Die heerlikheid van God is ’n mens wat kan léwe – staan

Seën

Johannes 14:1-6

1 Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My. 2 In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. 3 En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is. 4 En waar Ek heengaan, weet julle en die weg ken julle. 5 Thomas sê vir Hom: Here, ons weet nie waar U gaan nie, en hoe kan ons die weg ken? 6 Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.

Amen

Lied 314

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.