Jesaja 50:4-9 – Son 5 April 09

Skriflesing

Die boek Jesaja kan volgens geleerdes in drie dele verdeel word.

  • Hoofstuk 1 tot 39 is voor die ballingskap geskrywe in die 8ste eeu, toe Juda bedreig was deur Sirië en Assirië as gevolg van veral hulle sosiale sondes en die Here se straf daarop.
  • Hoofstuk 40 tot 55 is heel moontlik geskrywe gedurende die ballingskap in Babilon.  Dit is vol hoop dat God binnekort die ballingskap sal ophef.
  • Die laaste deel in hoofstuk 56 tot 66 is heel moontlik geskrywe ná die terugkeer na die beloofde land, met ‘n mengsel van hoop en wanhoop, hoop op God se trou om sy volk te herstel, wanhoop omdat die volk só traag is om op sy ingrype te reageer.

Hoofstuk 40-55 het vier dienskneg liedere, dele wat eintlik die vloei van die boek onderbreek, maar tog ‘n onderlinge eenheid het.

  • In die eerste lied (42:1-7) gaan dit oor die keuse van God se dienskneg, wat God se Gees ontvang en God se wil bekend maak en ‘n lig vir die nasies word.
  • in die tweede lied (49:1-7) gaan dit oor die worsteling van die dienskneg of sy arbeid die moeite werd sou wees, en wat verseker word dat dit nie net Israel is wat baat daarby sal vind nie, maar al die nasies.
  • In die derde lied, die lied wat ons gaan lees (50:4-9), gaan dit oor die dienskneg wat getrou bly aan sy opdrag, presies sê wat hy hoor, ten spyte van die lyding wat hy ervaar.
  • In die vierde lied, (52:13-53:12) gaan dit oor die ontsag vir die lydende en verworpe dienskneg, selfs onder die heidene, juis omdat hy goed gedoen het terwyl hy ly, vir ander die straf gedra het, en deur dit alles geduldig gewag het op God se verlossing.

Dié dienskneg is die volmaakte Israeliet, een van onoortreflike heiligheid, die Messias, dié een waarmee Jesus Homself identifiseer het, en dié een met wie die evangelieskrywers Hom ook identifiseer het.

Jesaja 50:4-9

Woordverkondiging

Ek is gefassineer met die laaste week van Jesus se lewe.

Die Saterdagaand na die Sabbat het Jesus nog in Betanië, naby die Olyfberg (Mark. 11), gekuier by Lasarus, Marta en Maria, in die huis van Simon, waar Maria sy voete gesalf het met nardusolie.  En het Hy gesê dat sy dit gedoen het vir sy begrafnis (Joh. 12).

Die volgende oggend, Sondag, wat ooreenkom met vandag, het hy Jerusalem binne gery op die rug van ‘n donkie met die skare wat geskree het, Prys Hom!  Hosanna vir Hom wat kom in die Naam van die Here (Joh. 12).

Die eerste ding wat Hy in Jerusalem gedoen het, was om die tempel in te gaan en die handelaars uit te jaag.  My Vader se huis is ‘n huis van gebed – en Ek sal nie toelaat dat dit ‘n rowersnes gemaak word nie (Luk. 20 – al 4 evangelies vertel hiervan), het Hy gesê.

Dan begin Hy om die mense in die tempel te leer – en die volk het gretig na Hom geluister (Luk. 20).

Die komende Lyding

Van die dinge wat Hy die mense leer, het te make met die komende lyding:

Hy vertel bv. die gelykenis van die boere en die wingerd wat die eienaar se seun doodmaak en hulle blootstel aan vergelding (Luk. 20).   Daarmee sit Hy die komende stryd met die Joodse establishment vierkantig op die tafel (Luk. 22).

In dieselfde lyn weier Hy om na die pype te dans van die priesterhoofde en skrifgeleerdes en familiehoofde wat Hom uitvra na sy gesag – omdat die vraag volgens Hom uit skynheiligheid gebore is (Luk. 20).  En Hy troef hulle vrae oor belasting en die opstanding uit die dood (as jy nou meer as een vrou hier het, wie is jou vrou aan die ander kant?) en sy afkoms van Dawid (Luk. 20).

Daarom berispe Hy ook sy dissipels oor hulle sug na mag (Luk 22) en praat oor die ware grootheid, die grootheid van een wat dien, ten spyte van lyding wat jou deel kan wees, soos Hy met die voete was episode illustreer op die laaste aand by die nagmaal se instelling (Joh. 13).

Die komende koninkryk

Van die dinge wat Hy die mense leer, het te make met die komende koninkryk:

Hy praat eintlik die hele tyd oor wat in die koninkryk belangrik is: die gawe van die arm weduwee (Luk. 21) en die volharding in tye van swaarkry (profetiese rede Luk. 21 en die ander evangelies) en die groot gebod (Mark. 12 en Matt 22) en wie nou eintlik in die koninkryk sal ingaan – sondaars wat glo (Matt. 21 en ander).

Hy skets die koms van die koninkryk met die wonderlike verhaal van ‘n bruilofsfees, wanneer die ongenooide gaste sal aansit by die koning se bruilofsfees (Matt. 22).  En brei daarop uit met die gelykenisse van die getroue en ongetroue slaaf (Matt. 24), die vyf onverstandige en vyf verstandige meisies (Matt. 25), die gawe van die muntstukke en die pragtige gelykenis van die laaste oordeel, met die metafoor van die skape en die bokke.

Hy vertoef elke nag op die Olyfberg

Maar wat my die meeste tref, is dat Hy elke aand, na Hy die mense deur die dag in die tempel geleer het, regdeur Sondag, Maandag, Dinsdag en Woensdag, uit die stad uitgaan en buite op die Olyfberg vertoef – om die volgende dag maar weer in die tempel die mense te leer.  Soos Lukas sê: “In die môre vroeg het die hele volk dan weer in die tempel na Hom kom luister (21:38)”.

En dan die laaste aand, Donderdagaand, na die nagmaal, sê Lukas, dat Jesus weer die stad verlaat en “volgens gewoonte Olyfberg toe gegaan” het (22:39).  D.w.s. Jesus gaan na die plek waar Hy al van Sondagnag af vertoef het, uiteindelik na die tuin Getsemane op die Olyfberg, waar Hy sou worstel in gebed en uiteindelik deur Judas verraai sou word.  Judas het natuurlik saam met Hom die week daar vertoef, en het dus goed geweet waar Jesus dié nag sou wees.

Hoekom tref dit my so?

Wel, ek dink, dit het te make met my eie blootstelling aan die verhaal van Jesus in die Bybelskool die afgelope kwartaal.  Ons het Lukas en Handelinge deurgelees en dit het ‘n groot effek op my gehad.

Die evangelie en die uitbreiding van die evangelie het met Jesus te make.

Selfs al is Handelinge die verhaal van die Gees en die kerk, sentreer dit steeds om die boodskap van die Goeie Nuus in Jesus.

Maar, daar is nog ‘n dieper rede.  In my kyk na Jesaja 50, en onthou, Jesus haal gereeld uit Jesaja aan reg deur sy bediening, is dit asof ek nie anders kan as om Jesus in elke woord daarvan te herken nie.

Ek herken Jesus in elke woord van Jesaja 50.

Die dienskneg word in Jesaja 50 as volg geteken:

  • Die dienskneg is ‘n dissipel/leerling van God – God het sy oor geopen, geleer om te luister, en geleer om die regte woorde te gebruik.  Dit gebeur daagliks, en dit gebeur sonder teëstribbeling, en dit gebeur ten spyte van die aanslae en teenstand teen sy bediening.
    • En ek sien Jesus op die berg besig met God, met oop ore, besig om te luister vir die volgende dag, vir die regte woorde, vir die moed om nie terug te deins vir die skerp kante daarvan nie, maar ook die deernis daarin raak te sien, om mense te bemoedig.
  • Die dienskneg is ‘n prediker-profeet – Hy praat dié wat moeg is moed in, selfs dié wat in rebellie is teen God.  Ten spyte van selfs die fisiese leed wat Hom aangedoen word, gaan Hy aan met bemoediging, maar nie net in die algemeen nie, woorde vir spesifieke situasies.  Hy is ‘n profeet-prediker.
    • Lees juis dié week iets van Gordon MacDonald, waar hy ‘n onderskeid tref tussen predikers en profete – predikers verkondig die meer tydlose waarheid van God, profete die spesifieke woord van God vir die spesifieke situasie waarin mense en die volk hulle bevind – hulle onderskei die kairos van God, die tyd van beslissing, die tyd wat jy nie kan vermy nie.
    • En dit is hoe ek Jesus ook daar op die berg en dan weer in die tempel sien: besig met die indringendste dialoog van sy lewe, besig om nie net te antwoord op vrae nie, maar ook die werklikheid te skep, die sonde van die leiers aan die kaak te stel, en nie terug te deins vir die onvermydelike reaksie, om die boodskapper te kruisig.  Hy kies wel sy tyd, moes eers die hele volk aan die boodskap bloot stel, maar Hy het geweet, aan die einde wag die kruis, en Hy is onwrikbaar in sy oortuiging.
  • Die dienskneg is volledig getrou aan God – Hy rebelleer nie teen sy opdrag nie; Hy draai nie weg van bespotting en veragting en fisiese marteling nie; Hy ontstel Hom nie oor enigiets wat met Hom gebeur in die uitvoering van sy opdrag nie.  Hoekom nie?  Omdat Hy weet 1) die woorde kom van die Here af, Hy hoor dit immers elke dag 2) die Here help Hom in die uitvoering van sy opdrag, 3) God is naby, en dié sal Hom onskuldig verklaar tot die verleentheid van dié wat Hom aankla.
    • Weereens, dié woorde kan op baie mense van toepassing gemaak word, maar dit pas Jesus doodgewoon die beste, veral in hierdie laaste week van sy lewe – Hy hoor God se woorde vir elke dag en lewer dit onverdund, Hy maak nie staat op sy eie krag nie, maar op dít wat God Hom gee, ontstel Hom nie oor die teenstand nie, deins nie terug daarvoor nie, rebelleer nie teen sy opdraggewer, God, nie, en verlaat Hom in die laaste instansie op dié Een wat sy onskuld ken.  Hy is tot in die laaste instansie getrou aan God.
En dít is die Woord van God aan elkeen van ons.

1. Ons is geroep om radikaal anders as die wêreld te lewe.

Ek het al die storie vertel van die vriende wat besluit het om ‘n speelhok vir ‘n vriendin te gee wat so pas geboorte gegee het aan haar vierde kind. Sy het hierdie dankie-sê briefie vir hulle geskrywe: “Baie dankie vir die speelhok. Dit is wonderlik. Ek sit elke middag daarin en lees. Die kinders kan nie naby my kom nie!”

As ‘n mens dink dat Christenskap dít vir jou sal doen, die lewe net vir so rukkie van jou af kan weghou … dan gaan jy teleurgestel word, want Jesaja 50 vertel ons van die teendeel – die lewe is in jou gesig en op jou rug …

“You can’t have an omelet without breaking eggs. The same is true in confronting evil.” (Utah Phillips)  Dit is die ervaring van almal wat regtig getrou wou wees in hulle dissipelskap, dat daar ongelooflike risiko’s in die navolging van die Here Jesus is, dat dit ‘n pad van groot lyding en ontbering is, maar dat daar geen ander manier is nie.

Ons is geroep om radikaal anders as die wêreld te lewe.  En nie op te hou daarmee as dit groot eise aan ons stel nie.

Handdoek ingooi, is nie waarvoor handdoeke gemaak is.  Opgee is nie waarvoor gelowiges gemaak is.

Daar is ‘n groot stuk wysheid en “tot-rus-kom” as ‘n mens aanvaar dat jou pad … jou pad is … en dat daar niks meer verskrikliks is as dat jy nie meer jou pad … die pad wat die Here vir jou uitgestippel het … sal loop nie. Uiteraard moet ‘n mens daagliks luister na die leiding van die Here … en dit is presies wat God doen … Hy lei ons daagliks, nie weekliks of maandeliks of jaarliks nie … daagliks.  Soos ‘n leerling laat God ons elke oggend opnuut luister … en dít is jou pad, die pad wat jy moet loop.

Daar is ‘n groot stuk berusting wat kom as ‘n mens dit aanvaar en jou fokus plaas op die doen van God se wil vir jou lewe … en jy nie daarteen teenstribbel nie.

2. Ons is geroep om nie direkte vergoeding vir ons lyding te verwag nie

Een van die moeilikste uitdagings vir diens, is hierdie stryd teen selfsug. Ons ego’s roep uit na erkenning en kollig! Ons wil graag ‘n klop op die skouer ontvang… maar Jesaja 50 vertel ‘n ander storie – “luister” neem jou uit die kollig, dit plaas die kollig op die persoon wat gedien word en uiteindelik op die Persoon wat jou inspireer om te dien… Dis so anders as wat die geval is in die wêreld.

Die beloning vir die goeie wat jy doen, lê baie keer, eintlik meesal, in die toekoms.  Die beste beloning is eintlik in die blote gehoorsaamheid van die Here se wil, nie in die dankie-sê van mense en/of die Here nie.  Wanneer dit kom, geniet dit.  As dit uitbly, soos dit gewoonlik gebeur, neem verlief daarmee.

3. Ons is geroep om ons diens te verrig met grasie en elegansie

Dit is een van die dinge wat ek die moeilikste leer, om met grasie en elegansie, ‘n tweede en derde en vierde myl te stap, ten spyte van onkunde en/of onbekwaamheid en/of kwaadwilligheid.

  • Jesus het Judas, sy verraaier, verdra … selfs hier saam met Hom op die berg … sou ek nie ook my verraaiers verdra nie?
  • Hy het Petrus, sy verloëner, verdra … sou ek nie ook dié wat my verloën verdra nie?
  • Hy het Paulus verdra, sy vyand … en van hom een van sy getrouste diensknegte gemaak … sou ek nie ook dieselfde doen om van my opponente my vennote te maak nie?

4. Ons is geroep om met alles in ons lief te hê

Daar is nie kortpaaie na die vervulling van ons lewensroeping nie.  Dit loop deur die seer van omgee.  Dit kom tot stand deur die pyn van misverstand en teëstand. Dit vra van ons dat ons die kruis sal opneem en enduit sal dra.

Maar, as ons bereid is om die risiko’s te neem, as ons bereid is om lief te hê ten spyte van die koste daarvan, dan kan ons uitsien na wat God kan doen met ons lewens, soos wat Jesus illustreer met sy verhale van die komende koninkryk, veral na die bruilofsfees wat wag vir dié wat getrou was aan hierdie Jesus.

     

View all posts in this series

Trackback from your site.

Leave a comment