Skip to main content

Jesaja 7:10-16 – Om te leef uit God se beloftes

Agas – koning van Juda  – was voor die grootste uitdaging van sy lewe.  Die Arameërs (Sirië) onder leiding van Resin het uit Damaskus teen hom opgetrek en wou hom en sy volk uitwis.  Hy het te vore al onder hulle gely en was deeglik bewus van die implikasies soos 2 Kronieke 28 vertel.  Ook die Israeliete (soms Efraim genoem na aanleiding van een van die seuns van Josef) – wat ook hulle bloedfamilie was, die 10 sogenaamde noordelike stamme – onder leiding van Peka het saamgespan met die Arameërs en teen hulle opgetrek.

Die reaksie van Agas en sy volk op die naderende krisis was doodnatuurlik – Agas en sy volk het baie bang geword.  “Hulle het gebewe soos die bome van die bos bewe in die wind!” (vers 2).

En hulle het begin planne maak.  Agas wou ’n bondgenootskap sluit met Assirië, sodat die twee volke ten noorde van hom in ’n soort knyptang vasgevang kon word.

Eintlik heel vernuftig … behalwe dat God nie in ag geneem is nie.

Verwelkoming

Die klem op die vierde Sondag van Advent val op die liefde.  Die teks wat ons gaan gebruik, gaan oor die Immanuel, soos in Jesaja 7 voorspel is, en in Matteus 1 vervul is.

Votum

5Vir ons is ’n Seun gebore,

aan ons is ’n Seun gegee;

Hy sal heers, en Hy sal genoem word:

Wonderbare Raadsman,

Magtige God,

Ewige Vader,

Vredevors.

6Sy heerskappy sal uitbrei, en Hy sal vir altyd vrede en voorspoed bring. Hy sal op die troon van Dawid sit en oor sy koninkryk regeer. Hy sal dié koninkryk vestig en in stand hou deur reg en geregtigheid, van nou af en vir altyd. Daarvoor sal die onverdeelde trou van die Here die Almagtige sorg.

(Jesaja 9:5-6)

Seëngroet

Wees gegroet in die Naam van Jesus Christus,

Die Een wat van die oertyd af voorspel is.

Die Een na wie verlang is.

Die Een wat mens geword het, wat lyf geword het, wat niks geword het ten einde alles te word.

Die Een op wie ons hoop.

Die Een wat sal terugkeer.

Aansteek van vierde adventskers

Ons verwerp alle vorme van liefdeloosheid en haat

omdat ons glo in God die Vader.

Die Een wat die wêreld geskep het en wat dit daagliks onderhou.

Die God wat alle mense as gelykes geskep het en wat Homself in besonder openbaar as die God van liefde.

Aanbiddingslied

Liedboek 526     Waar daar liefde is (3x – Afr-Latyn-Afr)

Verootmoediging

NP Van Wyk Louw, een van Suid Afrika se grootste digters, het ’n pragtige gedig geskryf oor die lewe van Jesus – die eerste vers van sy Feesgedig handel oor Jesus se geboorte:

Nie uit wit paleise nie
wou Hy (uit soewereine Wil)
tot ons soort staat gebore word;
maar, waar die Kuise en die Arme stil
en buite die hotel se poort
verniet loseer het in die stal,
het Hy, Visarendjie van God,
in ons benoude vlees geval…

Hier op die vooraand van Kersfees, lees ons Matteus 1:18-25

Die geboorte van Jesus Christus

18Hier volg nou die geskiedenis van die geboorte van Jesus Christus.

Toe sy moeder Maria nog aan Josef verloof was, het dit geblyk dat sy swanger is sonder dat hulle gemeenskap gehad het. Die swangerskap het van die Heilige Gees gekom. 19Haar verloofde, Josef, wat aan die wet van Moses getrou was maar haar tog nie in die openbaar tot skande wou maak nie, het hom voorgeneem om die verlowing stilweg te verbreek. 20Terwyl hy dit in gedagte gehad het, het daar ’n engel van die Here in ’n droom aan hom verskyn en gesê: “Josef seun van Dawid, moenie bang wees om met Maria te trou nie, want wat in haar verwek is, kom van die Heilige Gees. 21Sy sal ’n Seun in die wêreld bring, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos.”

22Dit het alles gebeur sodat die woord wat die Here deur sy profeet gesê het, vervul sou word:

23“Die maagd sal swanger word en

’n Seun in die wêreld bring,

en hulle sal Hom Immanuel noem.”

Die naam beteken God by ons.

24Toe Josef uit die slaap wakker word, het hy gemaak soos die engel van die Here hom beveel het en met haar getrou. 25Hy het egter nie met haar omgang gehad voordat sy haar Seun in die wêreld gebring het nie. En Josef het Hom Jesus genoem.

Loflied

Liedboek 353     Die Heiland is gebore vs 1,2,3

Epiklese              

Ons loof U Here Jesus, omdat U ons so liefgehad het dat U ons broer geword het.

U was gebore in ’n armoedige stal in Betlehem, sodat ook ons inwoners kon word van die hemelse Jerusalem.

U het ons swakhede op U geneem, sodat die Vader ons swakhede sou vergewe.

Ons bid U: bly altyd by ons!

Verlosser in wie alle volke van die aarde geseën is, gee dat ons ons in die verlossing so sal verbly dat ons met ons hele hart saam met die engele sal sê: “Ere aan God in die hoogste hemel en vrede op aarde vir die mense in wie U ’n welbehae het.”

(Na aanleiding van Groot Gebedeboek bladsy 404)

Doop

Liedboek 288:1 en 3

Woordverkondiging – Jesaja 7:10-16

Agas voor sy grootste uitdaging

Agas – koning van Juda  – was voor die grootste uitdaging van sy lewe.  Die Arameërs (Sirië) onder leiding van Resin het uit Damaskus teen hom opgetrek en wou hom en sy volk uitwis.  Hy het te vore al onder hulle gely en was deeglik bewus van die implikasies soos 2 Kronieke 28 vertel.  Ook die Israeliete (soms Efraim genoem na aanleiding van een van die seuns van Josef) – wat ook hulle bloedfamilie was, die 10 sogenaamde noordelike stamme – onder leiding van Peka het saamgespan met die Arameërs en teen hulle opgetrek.

Die reaksie van Agas en sy volk op die naderende krisis was doodnatuurlik – Agas en sy volk het baie bang geword.  “Hulle het gebewe soos die bome van die bos bewe in die wind!” (vers 2).

En hulle het begin planne maak.  Agas wou ’n bondgenootskap sluit met Assirië, sodat die twee volke ten noorde van hom in ’n soort knyptang vasgevang kon word.

Eintlik heel vernuftig … behalwe dat God nie in ag geneem is nie.

1.  God se beloftes is vir konkrete uitdagings

Maar dan kom die genadige stem van die Here in elk geval:  “Bedaar!  Bly kalm!  Moenie bang wees nie!  Moet jou nie ontstel oor hierdie twee stukke brandhout nie, hulle rook net!” (vers 4)

En die Here belowe, Hy sal nie toelaat dat die vyand se planne geluk nie.  Kort voor lank sal hierdie bedreiging tot niet wees.  Hulle sal nie ’n duik maak op die wêreldtoneel nie.

Interessant genoeg: God raas nie met Agas omdat hy onseker, vertwyfeld en baie bang is nie.  Hy skel hom nie uit oor sy reaksies nie … ook nie oor die feit dat Agas die Here nie geraadpleeg het nie.

Nee, God gee vir hom ’n boodskap van bevryding en van hoop.  “Kyk, dit sal nie gebeur nie.”  Ek sal nie toelaat dat jy ondergaan nie.  Die bedreiging is nikswerd nie.

Dit leer ons dat God nie kwaad is vir mense wat bang is nie.  God is nie vies vir mense wat vertwyfeld is nie.  God skel nie mense uit wat sukkel om hulle omstandighede te hanteer nie.  Nee – Hy help hulle.  Hy troos.  Hy stel gerus.  Hy bring verandering.  Hy moedig aan.  Hy gee hoop … selfs wanneer Hy nie eers genader word vir hulp nie.

Dit is wie God is, en ons moet dit weer hoor van Hom, sodat ons na Hom toe met ons vrees sal gaan, by Hom sal gaan skuiling soek teen die winde wat woed teen die bome van ons hart.  God gee konkrete beloftes vir die bedreiginge in ons lewens en Hy staan in vir die uitkoms daarvan.

2.   Geloof laat God se beloftes in vervulling gaan

Die Here sê egter daarmee saam: “Maar ook julle sal nie standhou as julle nie in geloof standhou nie.”  (vers 9)

  • Ou vertaling: “As julle nie glo nie—voorwaar, dan sal julle nie bevestig word nie!”
  • NIV: “If you do not stand firm in your faith, you will not stand at all.”

Die bedoeling van dié vers is baie moeilik om vas te vang, aangesien dieselfde Hebreeuse werkwoord vir albei sinsnedes gebruik word: “As jy nie vas glo nie, sal jy nie vas kan bly glo nie”, dws sal jy tot niet gaan.

Wat vra God dus van Agas?  Dat Hy God sal glo en dat Hy sal vasstaan in die geloof dat God sy belofte sal hou.

Agas moet dus nie glo dat sy eie planne sal uitkom nie, maar dat die plan wat die Here vir hom gee, sal uitkom.  Die plan was duidelik en het ingehou dat hy nie ’n vennootskap met Assirië sou aangaan nie en dat hy hom nie sou laat afskrik deur die twee nasies wat teen hom opgetrek het nie, al het hy tevore al probleme met hulle gehad.

Hy moes nie terugdeins nie, ook nie aanval sonder ’n bevel van die Here nie, ook nie uit die penarie probeer kom deur ’n vennootskap met Assirië nie.  Hy moes doodgewoon vertrou dat die Here ’n pad uit sou voorsien.

En hoe reageer Agas?  Die teks sê dat hy niks gedoen of gesê het nie!  Geen reaksie nie.  Stilte.  Assirië is mos daar.  Agas sal self sy vrees besweer!  Geloof?  Ja … maar nie in God nie – in Assirië.

3.  Skynheiligheid is ongeloof

Die ongelooflike is – soos ons vanaf vers 10 lees – God stap nog ’n tree verder.  Hy word nie afgesit deur die stilte en die agteraf gekonkel nie.  En om geloof vir Agas – en ook vir die volk – nog makliker te maak, gee die Here vir Agas verlof om ’n teken te vra, ’n teken wat vir hom iets konkreets sal gee om aan vas te hou.  Enigiets, diep uit die doderyk, of uit die hoogtes daarbo.

Kom ons lees dit:

10Verder het die Here gesê: Jy moet ook nog vir Agas sê: 11Vra van die Here jou God ’n teken, enigiets, diep uit die doderyk of uit die hoogtes daarbo.

12Maar Agas het geantwoord:

“Ek sal niks vra nie,

ek sal die Here nie tart nie.”

13Toe sê Jesaja:

“Luister, geslag van Dawid!

Is dit vir julle nie genoeg om mense te vermoei nie, dat julle nou ook my God moet vermoei? 14Die Here sal daarom self vir julle ’n teken gee: ’n Jong vrou sal swanger word en ’n seun in die wêreld bring en sy sal hom Immanuel b noem. 15Hy sal net dikmelk en heuning hê om te eet totdat hy weet om te verwerp wat verkeerd is en te kies wat goed is. 16Maar voordat die seuntjie weet om die verkeerde te verwerp en die goeie te kies, sal die lande van die twee konings vir wie jy bang is, verwoes lê.

Dit is wat God met bang mense doen – onthou die verhaal van ’n Gideon, wat selfs omgekeerde tekens gekry het. “Here laat die skaapvelletjie nat wees en die grond droog.  Here laat die skaapvelletjie droog wees en die grond nat.”

Maar Agas wil niks hoor nie.  Sy teologie laat nie tekens toe nie.  “Ek sal niks vra nie, ek sal die Here nie tart nie.” (vers 12)  Hoe ironies – Agas weier die teken van God … en só weier hy vir God self!  Hy weier dat God help.  Hy sal self regkom.

Hoekom weier hy die teken?  Omdat die teken van hom geloof sou vra … en geloof sou van hom gehoorsaamheid vra.  En hy sou die band met Assirië moes los en op God vertrou het vir die pad in wêreldpolitiek.  Hy weier omdat dit hom te veel sou kos en hom sou oorlaat aan die belofte van die Here.

Maar dit is nie wat hy sê nie.  Nee hy spreek sy skewe teologie uit, dat tekens God sou uittart, wat net ‘n halwe waarheid is.  God self bied immers vir hom ‘n teken aan.  Op die minste moes dit sy teologie verander het!  Sy weiering is dus skynheilig en verraai sy diepgaande ongeloof.

4.  Ongeloof keer nie die vervulling van God se beloftes nie

Die wonderlike van God, is dat selfs die skynheilige ongelowige Agas Hom nie keer om te doen wat Hy belowe nie.  Toe Agas nie ’n teken wou vra nie, gee God self ’n teken.  In sy genade sê God, ’n Jong vrou sal swanger word en ’n seun in die wêreld bring en sy sal hom Immanuel … God met ons … noem.  En voordat hy oud genoeg is om verstand te hê, sal die koninkryke van die Arameërs en die Israeliete verwoes wees.

Hoekom doen God dit?  Omdat die teken bedoel was vir die volk, om hulle moed te gee.  En nie net vir hulle nie!  Dit was ’n teken wat ook verdere rimpelings sou veroorsaak in die geskiedenis van God se volk, met die geboorte van Jesus wat as ’n verdere vervulling van dié profesie sou dien.  En die betekenis daarvan het die beste boodskap van alle tye geword, die diepste bedoeling van wat ons met Kersfees vier.

En soos die geskiedenis ons leer, het die belofte reeds in daardie tyd waar geword.

Die Godsbeeld wat ons hieruit kry, is dat God sy bedoelings uitvoer, dat niks sy plan omvêr kan werp

5.  Oordeel volg op ongeloof

Tragies genoeg, was die teken wat selfs tot vandag toe vir ons vreugde bring, vir Agas ’n oordeelsteken.  Sy ongeloof en gebrek aan vertroue, het God se genade in God se oordeel verander.  En dié oordeel sluit ook ’n oordeel oor die vennote wat Agas gekies het – Assirië – in.

Die interessante is dat op die korttermyn die beroep op Assirië gehelp het.  Die Arameërs en die Israeliete is vernietig deur Assirië en spesifiek Israel is hierna in 722 vC in ballingskap weggevoer, soos ons lees in 2 Konings 16 en verder.

Maar – dit het beteken dat Assirië ’n houvas gekry het op Juda en hulle ’n tyd van onderdrukking binne gegaan het.  Eers in die tyd van Hiskia – Agas se seun – het daar weer hoop vir Juda gekom, hoewel Hiskia ook nie enduit met die dien van die Here volgehou het nie.

Agas het maar 36 jaar oud geword en net 16 jaar geregeer.  En hy het in ongeloof gesterwe, ver van die Here af.

God laat nie met Hom mors nie.  Geloof is nie onderhandelbaar nie.  Sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag.  Oordeel volg op ongeloof.  En dit bly waar ook vir ons vandag.

Wat leer ons hieruit?

Ons hele lewe moet gelewe word uit die beloftes wat God ons gee.

Daar is algemene beloftes, wat die deel van elke kind van God is, en wat die basis vorm van ons lewe met God.  Dinge soos:

  • Aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.  (Joh 1:12)
  • Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie.  Niemand sal hulle uit my hand ruk nie.” (Joh 10:28)
  • Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.” (Rom 8:28)

Daar is spesifieke beloftes, meesal gekoppel aan opdragte, wat God gee aan sy kinders in spesifieke omstandighede, wanneer ‘n teks of ‘n gedagte onder gebed net só ‘n spesiale betekenis in ‘n konkrete situasie vir jou verkry, dat jy weet dít is vir my.

  • Ek kan voorbeelde uit my eie lewe gee, Sag 3:7, 1 Kor 9:19, en in die laaste tyd weer veral Ps 37:3-5.

Die punt is, elkeen van ons moet ook dié pad loop, die pad van die spesifieke beloftes van die Here.  Ons moet leer om in die wisselwerking tussen ons lewe (uitdagings, krisisse, geleenthede) en die woorde van God in Bybelstudie en gebed, die spesifieke woorde van God vir ons alledaagse lewe, te begin ervaar.  Dán kan ons leef uit die beloftes en opdragte wat God vir ons gee.

Geloof in die God van die beloftes is ‘n vereiste

Daar is `n noue verband tussen geloof en die spesifieke beloftes van God wat in die werklikheid van ons lewe aan die werk spring.  En dit gaan nie hier om geloof in die algemeen nie, geloof in Jesus vir jou saligheid nie.  Nee, dit is geloof wat ‘n keuse, ‘n optrede vra, hier en nou.

In Agas se geval moes hy sy ongelowige politieke planne laat vaar en vertrou dat die beloftes wat alreeds voorheen aan hom en sy vaders gegee is – dat God hulle God sal wees – en hier konkreet hernu word in die uur van hulle krisis – dat Resin en Peka oorwin sal word – waar sal word.

Maar daar is ‘n vereiste.  Agas en Juda sal slegs teen die Arameërs en Efraimiete kan standhou as hulle in die Here bly glo en net op Hom vertrou (9b): “Maar ook julle sal nie standhou as julle nie in geloof standhou nie.” Die Here sal oorwinning gee, maar eis geloofsvertroue in Hom as Here.

Daar kom tye wat uiterlike vroomheid en innerlike ongeloof identies is, en soos Kaiser sê: “where man in his egotism hides from the call of the living God, uttered here and now, behind his piety …”  Jy gaan deur die motions, maar jou hart is ver van God af.  Jy weet wat God sê, maar jy bly stil en jy vertrou nie op Hom nie.

Ek weet nie wat op die oomblik in jou lewe gebeur nie, watter uitdagings jy ervaar nie, wie die Resins en die Pekas in jou lewe is nie.  Maar ek weet dat dieselfde wat van Agas gegeld het, vir jou en vir my geld.  As ons nie met geloof reageer op die beloftes van die Here vir ons konkrete werklikhede nie, sal ons nie standhou in die uitdagings nie.  God sal optree en sy beloftes waar maak … vir dié wat Hom vertrou.

Jy sou ‘n teken van God kon vra

Jy sou ‘n teken van die Here kon vra.  Immers dit is wat God vir Agas wou doen en inderdaad gedoen het.

Ons moet net baie seker maak oor ons motiewe.  Kaiser sê oor tekens: “It can be a sign of unbelief to ask for a sign, and it can be a sign of unbelief to refuse a sign. The criterion is whether man is ready to expose himself to the future laid down by his God and subject himself to his will.”

Is jy bereid om te doen wat die Here van jou vra en waarvoor sy belofte in die eerste plek bedoel is?  Dan kan tekens help.  Anders kan tekens in jou pad gaan staan.

Josef – die teenoorgestelde van Agas

Ek sluit af.  Dié teken aan Agas is herhaal aan Josef in die Nuwe Testament – Mat 1:18-25 – soos ons vroeër in die liturgie gelees het.  Josef se bedreiging was ’n swanger verloofde en wat God en die gemeenskap daarvan sou kon dink.  Toe die Here hom gerusgestel, beloftes oor die Seun vir hom gee en ’n toekomsvisie vir die volk aan hom openbaar, het Josef God geglo en met Maria getrou.

Ander omstandighede, dieselfde belofte, dieselfde oproep tot geloof.  En Josef het God geglo.

Mag ons soos Josef wees – ook in hierdie Kersgety – en aan God, sy opdragte en sy beloftes vashou.

Gebed

Jesus Losser,

wees ons genadig oor vandag en veral oor gister.

Wees ons genadig…

Dankie vir ‘n vergeefde verlede.

Christus Gesalfde,

lei ons in die onbekendheid van môre en oormôre.

Lei ons…

Dankie vir ‘n geborge toekoms.

Immanuel, God by ons,

sluit ons in van agter en van voor.

Sluit ons in…

Dankie vir U omhelsing- nou.

(Onder die skewe reënboog, Piet Naudé: 33)

Dankoffers

Slotsang

Liedboek 334     God is liefde juig ons harte vs 1,2,3

Seën

Mag God se hoop vir jou ’n anker wees te midde van die hooploosheid van die wêreld.

Mag God se vrede oor jou hart en verstand die wag hou.

Mag God se vreugde jou dra ook deur tye van hartseer.

Mag God se liefde vir jou so ’n werklikheid wees dat ander God in jou sal beleef.

Amen.



b Immanuel beteken “God is by ons”.

 

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.