Skip to main content

Lukas 21:25-36 – Wees waaksaam en bid

NGK Somerstrand – 3 Desember 2023 – Kerk en Youtube 09:00

English translation: Luke 21 – Be vigilant and pray

Youtube

Verwelkoming

Toetrede

Doen slegs u wil, Heer

Votum en seëngroet

Lofsang

Lied 334:1-4 “God is Liefde!” juig ons harte – staan

Lied 350:1-3 In die stad van koning Dawid – staan

Verootmoediging

Lied 286 Here God van liefde – sit

Gebed

Skriflesing en prediking

Lukas 21:25-36 – Wees waaksaam en bid

Inleiding

Een van die tekste wat in die leesrooster vir vandag gekies word, kom uit die profetiese rede. Spesifiek die deel in Lukas 21:25-36.

Die rede vir hierdie keuse is omdat Advent die tyd is waarin ons nie net terugdink aan wat eenmaal aan die begin van ons jaartelling in die krip gebeur het nie. Ons dink ook vorentoe wat aan die einde van die tyd gaan gebeur, wanneer die kalender by sy laaste dag sal kom, en die Here Jesus weer sal kom.

Om ons voor te berei daarvoor het Jesus ‘n uiters belangrike toespraak gehou waarin Hy die gordyn op die toekoms oopgetrek en sy dissipels voorberei het vir wat wag, en hoe hulle moet lewe op pad daarheen. Dit sluit natuurlik ook vir ons in wat al hoe nader aan die einde van ons kalender lewe.

In kort roep Hy ons op tot waaksaamheid en gebed.

‘n Paar vooraf opmerkings

1. Jesus begin sy profetiese rede in Lukas 21 net ná die verhaal van die arm weduwee se gawe. Jesus prys haar dat sy

“ten spyte van haar behoeftigheid, alles ingegooi wat sy gehad het, haar hele lewensonderhoud.”

Die weduwee se gawe illustreer ‘n baie belangrike geestelike beginsel. Sy het niks teruggehou van God nie. Sy het selfs haar voortbestaan in gevaar gestel deur haar oorgawe aan Hom. Dis die tipe vrygewigheid en vertroue wat God ook van ons vra.

Sien, ons oorgawe aan God se wil word nie gemeet aan wat ons gee nie, maar aan wat ons vir onsself terughou (Alan Cole).

Die arm weduwee gee dus wat sy het, haar hele  lewe. En al weet sy ook dat haar gawe deur die Joodse Raad misbruik gaan word, gee sy dit steeds, omdat sy aan God getrou wil bly.

Dit is dié tipe gelowiges wat Jesus se hart roer en wat Hy vir ons as voorbeeld voorhou. Mense wat waaksaam is oor hulle geld en hoe hulle dit in die koninkryk belê.

2. Jesus praat ook oor die tempel wat verwoes gaan word. Jesus dui daarmee aan dat die tempel in Jerusalem al hoe minder belangrik sal raak vir gelowiges. In Handelinge kom gelowiges aanvanklik nog bymekaar by die tempel. Maar, daar is van die begin af ‘n besliste skuif weg van die tempel na die huise van gelowiges. Dit word die primêre plek waar die Here aanbid en die gemeenskap van gelowiges gevier word.

‘n Mens moet nooit hierdie beweging na huise toe onderskat of veral nie geringskat nie. Dit is in ons huise waar God teenwoordig is. Waar gewone gelowiges die Here dien. Dit is ook deur ons huise waar Hy hierdie wêreld bereik. Nie soseer deurdat mense na ‘n tempel of kerkgebou gaan nie, maar waar mense deur ons gasvryheid in ons huise ingetrek word om die evangelie in ons lewe en getuienis te kan sien en glo.

Die Here roep ons ook op om ons medegelowiges op te soek, hulle te bemoedig en saam met hulle te bid. Die tydsgewrig vra dit van ons.

3. Jesus is ook helder daaroor dat die tempel se verwoesting ‘n tyd van vertrapping deur die nasies sal inlei: “totdat die tye van die nasies vervul is” (Luk 21:24).

Iets wat ons nog steeds beleef, ook met die oorlog wat daar op die oomblik in die Midde-Ooste heers. En die tyd vir daardie vertrapping is nog nie verby nie. En die tyd van die nasies is nog nie vervul nie. Talle word nog deur die verkondiging van die Evangelie bereik.

Wat wel gebeur het, is dat die tempel ná hierdie voorspelling van Jesus verwoes is in 70 nC. Die verwoesting van Jerusalem was dus ‘n skerp boodskap aan alle mense dat Jesus se woorde van straf nie ligtelik opgeneem mag word nie. Net meer as 35 jaar het verloop tussen hierdie profesie en die vervulling daarvan.

Daar was tyd om tot inkeer te kom, maar die Jode het die waarskuwing geïgnoreer. Jesus het selfs raad gegee hoe om die leed van daardie tyd te versag, maar die “dae van straf” het uiteindelik gekom.

Soos dit aan die einde van die tyd ook sal kom vir die nasies, wanneer die tyd van die nasies vervul is.

Nou lees ons wat Jesus sê sal gebeur in die tyd tussen Jerusalem se verwoesting – die tyd van vertrapping deur die nasies – en die verwoesting van die wêreld – wanneer die tyd van die nasies vervul is – van alles wat vir ons bekend is.

LUKAS 21:25-28

25“Dan sal daar tekens wees in die son en die maan en die sterre, en op die aarde sal die nasies beangs en verward wees oor die gedreun en hoë golwe van die see. 26Mense sal flou val van vrees en vermoedens oor wat die wêreld gaan tref, want die kragte van die hemele sal geskud word. 27En dan sal hulle ‘die Seun van die Mens op ‘n wolk sien kom’ met krag en groot heerlikheid. 28Wanneer hierdie dinge begin gebeur, staan dan op en lig julle koppe, want julle bevryding is naby.”

Jesus praat hier van kosmiese tekens wat sy Wederkoms sal voorafgaan. Die son, maan, en sterre sal ontwrig word. Dit sal ook groot ontwrigting op aarde teweeg bring met die klank van die see en die golwe – waarskynlik iets soos tsunami’s, hoewel dit op ‘n skaal sal wees soos wat ons nog nie voorheen beleef het nie.

Daar sal groot benoudheid en angs wees onder die nasies. Trouens, mense sal flou word van vrees vir wat kom, beide weens die ervaring van die kosmiese ontwrigting as weens die onsekerheid van wat nog gaan gebeur. Jesus noem dit vrese en vermoedens. Werklikhede en dinge waaroor ons net kan wonder of dit só is of nie.

Totdat almal die Seun van die mens sien kom op ‘n wolk met krag en groot heerlikheid – die Here Jesus self, ‘n vervulling van die profesie van Daniël 7:13.

Maar, belangrik, wat vir die ongelowiges ‘n vreesaanjaende gebeurtenis is – hierdie sigbare koms van die Here Jesus – is egter vir ons as gelowiges ‘n vreugdevolle geleentheid.

Die belangrike punt is egter dat hierdie ontstellende dinge van ons tyd, en dié dinge wat nog kom, is ‘n teken dat ons verlossing naby is. Daarom moet gelowiges regop staan as dinge swaar gaan, as dinge uit mekaar val, as daar groot ontwrigting is, en hulle koppe oplig!

Hoekom? Want, dit is alles tekens dat ons bevryding van die verdrukking en verguising deur die eeue op hande is.

Ons mag nie terneergedruk raak oor die lyding van hierdie tyd. Selfs nie oor die kosmiese ontwrigting wat nog kom nie.

Jesus bemoedig dus sy dissipels – ook vir ons.

Uiteraard kan die ontwrigting uit een hoek gesien vreesaanjaend wees.

Maar, as jy weet wat dié dinge beteken – dat die dinge die Here Jesus se Wederkoms aankondig – dan is dit ‘n bron van groot vreugde en afwagting.

Ons kan dus regop staan en ons koppe oplig. Die lyding van die teenwoordige tyd weeg nie op teen die vreugde wat vir ons wag wanneer Jesus weer terugkeer nie. Ons kan onbesorg en voluit lewe. Jesus kom gou.

Ons moet dus ook waak teen wanhoop!

Sien, God se oordeel is altyd ‘n “verlossende oordeel.”

Sy oordeel beteken wel smart vir dié wat Hom nie erken en vir Hom gelewe het nie. Maar, dit is net een kant van sy oordeel.

Die vreugde wat terselfdertyd die deel raak van sy uitverkorenes, oorskadu die leed en afgryse oor die lot van die veroordeeldes.

Verlossing is doodgewoon die grootste vreugde en eer wat enigiemand te beurt kan val.

Let ook op dat Jesus die bevryding direk koppel aan sy uitverkorenes. Daar is ‘n duidelike skeiding wat kom tussen dié wat glo en dié wat nie glo nie.

Dit is ‘n doodskoot vir die idee van die universalisme wat baie mense vandag met geen Bybelse basis vertroetel. Die profetiese rede van Jesus sluit enige sodanige gedagte as ‘n ernstige dwaling uit.

LUKAS 21:29-33

Jesus vertel dan ‘n gelykenis om die boodskap in te skerp.

29Hy het ook aan hulle ‘n gelykenis vertel: “Kyk na die vyeboom en al die ander bome. 30Wanneer hulle reeds bot, merk julle dit self op en weet dat die somer naby is. 31So moet julle ook, wanneer julle hierdie dinge sien gebeur, weet dat die koninkryk van God naby is. 32Amen, Ek sê vir julle: Hierdie geslag sal beslis nie tot ‘n einde kom voordat al hierdie dinge gebeur het nie. 33Die hemel en die aarde sal tot ‘n einde kom, maar my woorde sal beslis nie tot ‘n einde kom nie.

Jesus gebruik die voorbeeld van die bladwisselende bome – soos die vyeboom – se seisoenale verandering in die lente om die dissipels op die regte wyse na die tekens van die einde te laat kyk. Wanneer die bome begin bot weet ‘n mens die somer is naby.

Op soortgelyke wyse moet die dinge van die eindtyd hulle  bewus maak daarvan dat die koninkryk van God naby is.

Die beste is om die interpretasie van “hierdie geslag” wat nie sal verbygaan voor dié dinge gebeur het nie, op twee maniere te interpreteer. Aan die een kant verwys dit na die Jode van Jesus se tyd (vgl Mark 8:12 waar Jesus sug oor die blindheid van “hierdie geslag”). Hulle sal die verwoesting van die tempel beleef.

Aan die ander kant verwys dit na die laaste geslag op aarde net vóór die wederkoms. Hulle sal die politieke en kosmiese ontwrigting beleef van die einde van die tyd waarna die Here Jesus sal terugkom.

D w s, Jesus sê met dié interpretasie dat die profetiese rede in die Joodse volk van daardie tyd se leeftyd vervul sal word. Dit op sigself is dan ‘n teken dat die Wederkoms naby is.

Maar uiteraard is daar dele wat nog om vervulling wag, soos bv die vertrapping van Jerusalem deur die heidene waarvan ons vroeër in die profetiese rede lees (Luk 21:24).

Dit is wonderlik om hierdie laaste bevestiging van die blywende betekenis van Jesus se woorde te hoor. Sy woorde het meer krag en betekenis as die werklikheid wat ons rondom ons beleef. Trouens, sy woorde bepaal hierdie werklikheid – beide dit wat is, en dit wat kom.

LUKAS 21:34-36

Dan vervolg Jesus met die punt wat Hy wil maak oor hoe ons lewe moet wees terwyl ons hierdie dinge sien.

34“Wees op julle hoede dat julle harte nie belas word deur oormatige gefuif en dronkenskap en die bekommernisse van die lewe, en daardie dag julle onverwags betrap 35soos ‘n valstrik nie. Want dit sal oor almal kom wat op die hele aarde woon. 36Wees te alle tye waaksaam, en bid dat julle in staat sal wees om al hierdie dinge wat gaan gebeur, te ontvlug, en voor die Seun van die Mens te kan staan.”

Jesus waarsku sy dissipels teen die gevare wat beide die oënskynlike lekker – gefuif (suippartye) en dronkenskap –  sowel as die sorge van die lewe – bekommernisse van die daaglikse lewe – kan inhou. Daar is ‘n duidelike ooreenkoms met die derde tipe grond in die gelykenis van die saaier (Luk 8:14)!

Hulle moet dus waak dat hulle harte nie belas word met hierdie dinge nie, sodat die dag van die Wederkoms hulle nie skielik vasvang soos ‘n valstrik en hulle nie gereed is om saam te gaan nie. Jesus gebruik die beeld van ‘n net wat oor voëls gegooi word.

Hierdie metafoor van die net is ‘n uitstekende een.

Die prentjie wat dit by my oproep, is van die oordeel van die Here wat kom soos ‘n net wat oor die hele aarde gegooi word om alle mense daarin te vang om hulle in die ewige dood te werp.

Dit is net dié wat in die Here Jesus glo en wat bewus is daarvan dat dié oordeel kom, wat gereed sal wees om “at a moment’s notice” weggeraap te word deur die engele wat God uitstuur om die uitverkorenes na die Here Jesus in die wolke te neem.

Ons moet versigtig wees dat ons nie vasgevang word deur óf ‘n gefuif óf bekommernisse nie. Gereed vir die dag van verlossing wat die engele ons na God toe sal neem.

Want, die dag van oordeel kom vir alle bewoners op die oppervlak van die hele aarde. Dit is universeel geldig vir alle mense.

Jesus moedig ons dus aan om te volhard in waaksaamheid en gebed.

Waaksaamheid beteken dat ‘n mens versigtig moet wees om nie jouself te verloor óf in die genot van hierdie lewe óf in die kommer daaroor nie. ‘n Gesuip of ‘n gejammer sal nie deug nie. Net ‘n sober gewyde lewe wat elke sekonde van elke dag gereed is om te gaan, sal deug.

En in ons gebed te fokus op krag om die uitdagings van daardie tyd die hoof te bied, om die sonde te versaak sodat ons nie deur die oordeel oor die sonde vasgevang sal word nie, sodat ons uiteindelik voor die Seun van die mens kan staan om saam met Hom in sy koninkryk te kan ingaan (Openb 20:11-15).

Waak en bid – dit is die roepstem van die Here vandag.

Gebed

Dankoffer

Slotlied

Lied 599:1-3 As Hy weer kom, as Hy weer kom – staan

Seën

Amen

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.