Miga 4:14-5:5 – Son 20 Desember 09

Verwelkoming

Votum

Seëngroet

Lofsang

Coetzer kinders speel saam met Albert

Lied 332 – God se liefde, so oneindig, sien die nood van sondaars raak

Lied 344 – O die goeie tyding, o die blye tyding, helder klink dit met Kersfeestyd

Toewyding

Miga 6:6-8

Lied 353:1,3 – vers 1: Die Heiland is gebore, soos eeue reeds voorspel.  Daar in die stad van Dawid word Hy Immanuel … vers 3: Wie glo in Jesus Christus, word nou sy eiendom.

Gebed

Skriflesing

Om oor die profete te preek, is ‘n groot uitdaging.  Dit is maklik om ‘n teks uit te lig, soos hierdie pragtige een in Miga 5:1 oor die Messias wat uit Betlehem gaan kom, en daaroor te preek.  Maar om dit in sy konteks te plaas in die 8ste eeu v C, en boonop die onderlinge dele van die boek met mekaar te versoen, is nie so maklik nie.

1.      Wat my help in my hantering van die profete, is om in die eerste plek te onthou dat hulle nie gaan sit het om ‘n verhaal te skrywe wat met ‘n plot en karakters werk nie, en ‘n begin, en ‘n einde, en ‘n inhoudsgedeelte gehad het nie.  Daarom is daar so min kronologie in hulle uitsprake, en is die uitsprake boonop selde gedateer.

2.      Miga dateer wel al sy uitsprake in die tyd van drie konings, Jotam, Agas en Hiskia, ‘n tydperk van meer as 50 jaar, in die 8ste eeu v C, maar sonder om te sê: hierdie woorde kom nou uit dié tyd (1:1).  Sy profesieë is daarom eerder ‘n versameling uitsprake wat oor ‘n tyd gelewer is, en uiteindelik deur ‘n profeteskool saamgegroepeer is, en mettertyd in ‘n boek saamgestel is.

3.      As ‘n mens, in die tweede plek, goed lees, kan jy sekere merkers in die teks kry wat jou help om die organisasie van die uitsprake te begryp.

a.      Bv., die woordjie Luister, in 1:2, 3:1 en 6:1, deel Miga gerieflik  in drie dele op: hfst 1-2; hfst 3-5; en hfst 6-7.

b.      In elkeen van die drie dele is daar verder gedeeltes wat onheil voorspel, sowel as gedeeltes wat hoop gee.  Dit gee ‘n mens alreeds ‘n goeie idee van die oorhoofse boodskap van Miga: God bring onheil oor die volk weens hulle ongehoorsaamheid, hulle nie-luister.  Maar, Hy laat hulle nie in sak en as nie, Hy gee ook die hoop dat dinge anders kan word.

c.       Nog dieper: die deel wat ons gaan lees, 4:14-5:5, is die middelste aankondiging van hoop, amper soos die middelste sirkel van ‘n aantal konsentriese sirkels, die bulls-eye, wat geleerdes (Allen) laat dink dat die belofte van die ideale koning die hoofboodskap van Miga is.

Maar daar is nog ‘n laaste ding wat belangrik is om die teksgedeelte te kan verstaan.  Ons moet bepaal wie is aan die woord in die verse, net Miga of moontlik ook ander stemme:

1.      Volgens die tradisionele uitleg is Miga die hele tyd aan die woord.  Dit maak vers 4-5 egter baie moeilik om te verstaan.  Waar God se krag in vers 3  die deurslag gee, gee die volk se krag die deurslag in vers 4-5.  Waar vers 3 van die vrede praat wat God sal bring, praat vers 4-5 van geweld en oorlog.  Dit maak die uitleg baie moeilik omdat die temas mekaar weerspreek.

2.      ‘n Ander manier om dit te verstaan (van Woude), is dat Miga in gesprek is met sy opponente in Jerusalem.  In die eerste deel tot vers 4a is Miga aan die woord.  En in vers 4b-5 is sy opponente aan die woord.

a.      Waar Miga dus sê in vers 14 dat die Assiriërs die huidige koning sal oorwin, sê die opponente in vers 4-5 dat die huidige koning die Assiriërs sal platloop met die swaard en dat die regeerder uit Betlehem vir Israel sal red uit die hand van die Assiriërs.

b.      Waar Miga praat oor ‘n koning wat sal kom ná die nederlaag teen Assirië, verskil sy opponente en sê dit sal nou gebeur.  Israel sal nie ondergaan nie, maar die Assiriërs verslaan.

c.       Met só ‘n interpretasie maak die hele gedeelte van hoofstuk 2 af meer sin.  Dit is bv. ook waar van net die volgende verse, vers 6 en 7 van hoofstuk 5, waar Miga in vers 6 praat van vrede wat sal heers, Jakob wat soos dou sal wees wat van die Here af kom, en die opponente in vers 7 wat praat van geweld wat sal heers, Jakob wat sal wees soos ‘n leeu tussen ‘n trop skape.  Vers 6 kom van Miga en vers 7 van die opponente.

Ek kies vir die tweede manier van interpretasie en gaan dit dan nou só lees: Miga 4:14-5:5

Woordverkondiging

Miga se skerp oordeel

Die tyd waarin Miga optree is ‘n tyd waarin sosiale en ekonomiese ongeregtigheid hoogty vier. Ryk grondeienaars lê snags wakker en bedink nuwe planne om hulle mag en rykdom uit te brei (2:1-2). Vroue en jong kinders word hulle huise ontneem, omdat hulle nie die mag het om vir hulleself op te staan nie (2:9). Die politieke leiers is daarop uit om hulle onderdane te misbruik en mishandel (3:1-3). Arbeiders word uitgebuit (3:10) en in die howe is omkopery aan die orde van die dag (3:11).

Op godsdienstige gebied is die posisie ewe benard. Miga veroordeel die afgodery van die volk (1:6-7). Die profete verlei die volk en pas hulle profesie aan om by hulle betaling te pas (3:5, 11). Die godsdienstige leiers is met ‘n gerusstellende teologie besig en stel die wederstrewige volk gerus, al is alles ver van reg af.

Miga, die profeet van Moreset, so 40 km van Jerusalem af in die Suide, tydgenoot van Jesaja, spreek daaroor ‘n verdoemende oordeel uit.  Hy is besonder skerp in die oordeel wat hy uitspreek oor mense wat dink hulle kan onafhanklik van God leef, dat hulle selfgenoegsaam is.  Hy verdoem die eensydige Sionsteologie wat voorspoed gepredik het al is die mense ver van God af; mense wat sê ” Die Here is by ons, onheil sal ons nie tref nie.”

Hy oordeel skerp oor die feit dat God voorgestel word as ‘n goedige oupa, een wat net goed sal wees vir sy mense, maak nie saak wat hulle doen nie.  Selfs Vader Krismis het meer tande as dié God – hy gee immers net presente vir dié wat soet was deur die jaar.

Daarom, sê Miga, móét die Here ingryp en sy volk tot hulle sinne ruk. Telkens. Dalk vandag ook nog?

God se teenwoordigheid is ‘n tweesnydende swaard

Miga is geen mooi-weer-teoloog nie. Sy uitsprake wissel tussen oordeel en hoop. Daardeur bring hy ons by die ongemaklike waarheid dat God se teenwoordigheid soos ‘n tweesnydende swaard is. En wat op die oog af lyk na magtig en veilig – die stad Jerusalem met sy mure, die vooraanstaandes se sosiale status, die regering se politieke mag – word deur die profeet ontmasker as onder God se oordeel.

Die koning, heel moontlik Hiskia, sal deur die vyand met ‘n kierie op die kakebeen geslaan word.  Julle kan gaan lees in 2 Konings 18-20 oor die stryd van Hiskia met Assirië en die afloop daarvan.  Hoewel die Here hom die gevaar van Sanherib die hoof laat bied, val hy in die strik van hoogmoed toe hy later gesante van die koning van Babel al sy skatte wys.  Die skatte, soos Jesaja voorspel, is uiteindelik weggevoer na Babel in die 6de eeu v C met die ballingskap.

Maar, sê Miga, God wil nie net voor die voet straf nie.  Nee, Hy wil oë oopmaak vir die ware toedrag van sake – dat hulle Hom verlaat het, en op hulleself en hulle eie planne begin vertrou het.  En in die ontmaskering, wil Hy juis ‘n boodskap van hoop bring, sodat as mense luister, Hy hulle kan red en ware vrede kan bring.

God straf dus om die goeie weer te vestig, om ‘n nuwe verhouding met Hom en ‘n nuwe verhouding met mekaar tot stand te bring.  God se oordeel is nooit doelloos of boos nie.  Hy straf om dinge anders te maak, om dinge beter te maak, om die goeie uit die kwade na vore te bring.

God se redding kom uit ‘n onverwagse hoek

Maar, daarom kom God se redding uit ‘n plek waar mense dit die minste verwag. Nie vanuit die vooruitstrewende Jerusalem nie, maar vanuit die kleine Betlehem; nie met duisende soldate red Hy nie, maar met ‘n Gideonsbende; nie met die belangrike broers van Dawid hou Hy Hom op nie, maar met die een wat nie eens belangrik genoeg geag is om by die huis te wees nie, en skape moes oppas, Dawid.

Die wonder van die God van Abraham, Isak en Jakob is dat Hy hom telkens met die geringstes bemoei en dat sy ingrype telkens vanuit die onwaarskynlikste nederigste hoek kom.

Wat wel kenmerkend van die koning sal wees, is dat hy aan God sal behoort; hy sal die volk lei met die krag wat die Here gee; en sy heerskappy sal universeel wees, en tot in die uithoeke van die aarde strek.  Hy sal sterk wees en vrede bring.

Voorwaar ‘n groot visie, wat verder as die grondgebied van Israel sou strek, en wat God se koningskap oor die hele aarde sou vestig.

Matteus en die belofte van Miga

Die geskiedenis leer ons dat dié belofte van Miga nie in die tyd van Hiskia of enige ander koning na hom gerealiseer het nie.  Die ongehoorsaamheid van die volk het so toegeneem dat die Here toegelaat het dat hulle weggevoer is in ballingskap.  En selfs met die terugkeer na die ballingskap, is hierdie belofte nooit volledig vervul nie.

Tot met die geboorte van Jesus in Betlehem aan die begin van ons jaartelling.

Matteus beskryf in 2:6 Jesus se geboorte as die vervulling van die profesie van Miga 5:1: “En jy, Betlehem, gebied van Juda, jy is beslis nie die kleinste onder die leiers van Juda nie.  Uit jou sal ‘n leier voortkom wat vir my volk Israel ‘n herder sal wees.”

Interessant dat Matteus die despotiese Herodes kontrasteer met die Nuwe Koning van die Jode wat uit Betlehem kom.  Die skynbaar veilige Herodes, die Grote, in Jerusalem word gekontrasteer met ‘n bedreigde Jesuskindjie in Betlehem. En die drie wyse manne kom van buite Israel se grense om hulde te kom bring aan die Koning van die Jode – die wêreld wat kennis neem van Jesus, toe die Jode dit nog nie kon raaksien nie.

Daarmee verkondig Matteus die hoop dat daar ‘n redder oppad is, juis toe alles nie daarop gedui het nie, juis toe hulle in ‘n staat van beleg was en al die tekens daarop gedui het dat daar nie redding is nie, selfs nie van die koning wat rigter/redder moes wees nie, maar gruwelik in sy doel faal.

Jesus se geboorte vind dus plaas in ‘n staat van beleg, soortgelyk aan die situasie in Juda in die 8ste eeu, waar Herodes hier probeer om die Jesuskind te vermoor deur alle seuntjies onder die ouderdom van 2 jaar uit te wis.  Terloops: Hierdie Herodes is self kort hierna dood, in 4 v C, wat beteken dat Jesus net voor hierdie datum gebore is.

Matteus gebruik dus Miga se profesie nie net om bloot die geboorteplek van Jesus aan te dui nie. Hy wys hoe die hoop midde in die wanhoop gestalte kry; hoe die Redder gebore word as ‘n kind en deur die ingrype van die Here beskerm word van die magtige koning wat sy lewe bedreig en daarmee saam die hoop vir die volk van God.

Wat sê dit vir ons?

1.  Die Here wil vanoggend aan moontlike siniese en mismoedige mense sê dat Hy nog steeds met ons besig is. En met ons geskiedenis. Ek dink ons lees die koerante en neem kennis van soveel onreg en verydeling, dat ons wanhoop aan ‘n toekoms.  En dit is nie net in die koerante wat ons van ander mense dié dinge lees nie, ons ervaar dit aan ons lyf.  Net in my kleiner vriendekring dié week was daar drie gevalle waar ons deel van die statistiek van dié land geraak het: ‘n Taxi wat Rethie van Niekerk se motor afskryf, vier jong mans wat Stephan en Alida Bothma se dogter Karlien en ‘n vriend probeer beroof, en twee vrouens wat in ‘n restaurant Christelle Strydom se handsak onder ons oë steel.

Nou, ‘n mens kan alreeds dankbaar wees dat daar soveel geluk by die ongeluk was, Rethie kon dood gewees het, as die motor voor haar nie begin beweeg het nie, Karlien hulle het net skrape opgedoen en het niks verloor nie, en Christelle kon haar kaarte stop voor daar geld uitgetrek is.  En die waarde van ‘n gemeenskap waarbinne ‘n mens opgevang is en wat oor en weer kan sorg en instaan en omgee, kan ‘n mens nie oorskat nie.

Maar breër as dit kan ons moed skep uit ‘n paar ander goed wat ons ook in die koerante kan lees, dié week bv. oor die hele projek by Addo, met mense wat op grondvlak die nood in die vorige eeu raakgesien het, toe die olifante byna uitgeroei is, grond gekoop het, ‘n natuurbewaringsprojek begin het en dit uitgebou het sodat ons nie nou net meer as 400 olifante in Addo het nie, maar die grondgebied gaan uitbrei en die enigste plek in die wêreld gaan wees waar die Groot Sewe besigtig kan word.

Dit is sulke tipe inisiatiewe wat nodig is, ook hier by ons, sodat misdaad en roekeloosheid die hoof gebied kan word.  En ek probeer nou nie sê dat ek daarmee ‘n aller antwoord gee wat die pyn van verlies gaan verlig nie, maar slegs sê dat waar meer sulke inisiatiewe kom, sal die impak van wetteloosheid minder wees.

En moenie dink dat sulke dinge nie vir God belangrik is nie. Hy wil nie net vir ons in die hemel kry nie.  Hy wil sy koningskap oor alle terreine van die aarde uitbrei, soos Miga dit al voorspel het.  En elke inisiatief wat orde en verantwoordelikheid en veiligheid en respek vir ander bring, is ‘n inisiatief wat die koninkryk laat kom.

2. Die gedeelte wil ook sê dat God meesal (altyd?) anders opereer as wat ons dink en wil. Dat ons tragedies sy triomfe kan word. Hiskia het gefaal in sy koningskap in die tyd van Miga.  Sy pa, Manasse het ook gefaal.  Ten spyte van Josia se hervormings in die tyd van Jeremia geleef het, het sy opvolgers ook gefaal en is die volk in ballingskap weggevoer.  En ten spyte van die terugkeer na die ballingskap het die volk nooit weer dieselfde hoogtes bereik as in die tyd van Dawid en Salomo nie.  Selfs die profete stem het stil geword na Maleagi … totdat Jesus in Betlehem gebore is.  En alles het daarna verander.  Die tragedie van die Joodse konings het die triomf van die Seun van Dawid, Jesus geword.

Wat nodig is, is dat ons Hom nie in die slegte tye verlaat nie. Dit is waar dat ons, soos Johan Rossouw sê, God as ‘kontrasterend’ kan beleef. Dat ons Hom soms as oordelend kan ervaar. Dat die God wat vir ons is, soms as die God wat teen ons is, ervaar kan word; Een wat teister in plaas van troos; Een wat aanval in plaas van red. Hy is immers nie net Redder nie, Hy is ook Regter.

Maar ons moet onthou, dat al sal God nie noodwendig altyd die goeie oor ons bring nie, is die goeie nuus, dat HÝ in die slegte tye nie verander nie, dat Hy steeds die Een bly wat ons tragedies in triomfe kan verander.

Die gedeelte wil ons dus aanspoor om aan hierdie God vas te hou. As die lewe vir ons ‘n raaisel word, kan ons weet dit is tog ‘n raaisel met hoop, want daar is vir ons Een gebore, en Hý is vir ons prysgegee, en Hy sal vrede bring.

As ons vanoggend hierdie boodskap gehoor het, kan ons hoopvol hier uitgaan – dit is wat Miga, Matteus en Kersfees wil sê.

Gebed

Geloofsbelydenis

Dankoffers

Slotlied

Lied 345 – Kom, alle getroues, vrolik en vol vreugde, o kom in die gees nou na Betlehem! Vers 2 dames eerste deel, almal refrein; vers 3 mans eerste deel, almal refrein

Seën

Amen

Lied 314

     

Trackback from your site.

Leave a comment

Kommentaar en navrae

  • Avatar

    Dean van Wyk

    |

    Baie dankie Rethie vir hierdie inspirerende boodskap. Ek is oorspronklik van PE en woon nou 20jaar lank in PTA.
    In my stiltetyd vanoggend het ek Fil 2:12b-13 gelees en dit kan net deur die Gees van God wees dat ek op hierdie preek afgekom het.

    God seën jou bediening en geniet die see( ek beny julle).

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Dankie Hansie. Die Here is goed vir ons.

  • Avatar

    Hansie

    |

    Dankie Chris. Lanklaas so ‘n geestelik verrykende erediens bygewoon. Ek is skoon opgewonde. Alle seen vorentoe.

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Dankie Boeta!

  • Avatar

    AntonvanWyk

    |

    Baie duidelik. Pragtige versterkende boodskap