Hoe takel jy versoekings? – Lukas 4:1-13

Verwelkoming

Die volgende paar weke is Lydenstyd. Tot met Goeie Vrydag en Paassondag, 15-17 April. Ons dink in hierdie tyd veral na oor die voorbeeld wat Jesus vir ons gestel het in lyding. Ons dink na oor ons roeping. Ons dink na oor dissipelskap. Ons dink na oor uitdagings, versoekings, beproewings. Sodat ons kan volhard, en nie afvallig raak van die pad waarop die Here ons geroep het nie.

Aankondigings

Toetrede

Flam 87 (Afr, Eng, Afr) Maak my nou stil Heer (sit)

Votum en seëngroet

Lofsang

Psalm 23:1-3 Die Here is my herder en bewaarder (staan)

Lied 301:1-4 Ons kom vier u maaltyd, Vader (staan)

Kindermoment

Verduidelik die nagmaal – wyn, druiwesap, brood

Nagmaal

Lied 303 (Afr, Eng, Afr) Eet die brood, drink die wyn (sit)

Gebed

Skriflesing en prediking

Lukas 4:1-13 – Hoe takel jy versoekings?

Vandag wil ek met julle gesels oor versoekings. En wat ons kan leer uit Jesus se lewe in Lukas 4:1-13. Veral uit sy hantering van versoekings in die woestyn. Toe die duiwel Hom getakel het op sy laagste punt. Toe Jesus honger was. Waarskynlik dors. En alleen. In die woestyn.

Kom ons werk deur die teks om te verstaan hoe Jesus versoekings getakel het.

1Vol van die Heilige Gees, het Jesus van die Jordaan teruggekeer en is deur die Gees in die woestyn gelei,

Dit was ‘n tyd van toetsing, nie net een of twee versoekings nie:

2waar Hy veertig dae lank deur die Duiwel versoek is. Die hele tyd het Hy niks geëet nie, en aan die einde van die tyd was Hy honger.

Voordat Jesus dus sy eerste preek kan lewer, of genesing kan doen, word Hy getoets soos dit die geval was met bykans alle diensknegte van die Here.

  • Adam en Eva in die tuin van Eden – die boom van goed en kwaad;
  • Noag vóór die sondvloed – ‘n eeu van wag vir die reën;
  • Abraham en die ander aartsvaders in Kanaän – 25 jaar wag vir Isak;
  • Josef in Egipte – 13 jaar in die tronk;
  • Moses en Aäron in Egipte en die woestyn – 40 jaar rondtrek;

En dit was nodig! Standvastigheid in versoeking verseker volharding in roeping. Jesus moes die toets deurstaan in die woestyn, sodat Hy later in die hitte van die stryd van sy bediening staande kon bly.

Die Heilige Gees lei Jesus die woestyn in

Jesus word dus die woestyn ingelei om daar nie maar sommer net só ’n klein toetsie te ondergaan nie, maar deur die duiwel self versoek te word in ‘n situasie van onherbergsaamheid en fisiese uitdagings.

Let ook op dat die duiwel Hom veertig dae aaneen versoek het. Dit was ‘n uitmergelende tyd waarin daar talle uitdagings was, nie net die drie wat vir ons hier beskryf is nie.

Wat Jesus egter gedra het in die woestyn was eerstens presies die duidelike leiding van die Heilige Gees. Dit was sy pad, só het die Gees gelei. En die Gees het Hom nie alleen gelaat nie. Dit was ómdat Hy met die Gees vervul was dat Hy die moed gehad het om die versoekings te takel.

Jesus het tweedens die beloftes en opdragte van die Bybel gehad wat Hy kon gebruik om die aanvalle van die duiwel te trotseer. Dit is waarop die res van die verhaal fokus. Jesus was dus voorbereid op die versoekings. Want Hy het die Bybel geken.

Wat wonderlik is uit hierdie verhaal is dat ‘n mens agterkom dat Jesus drie belangrike Bybeltekste uit Deuteronomium onder die knie gehad het voor die ontmoeting met die duiwel. Hy het die tekste nie net gelees nie. Hy het dit sy eie gemaak. Hy het ook die verhale geken wat daaragter lê. Die verhaal van die manna. Die verhaal van die beloofde land. Die verhaal van die water by Massa. En Jesus het geweet hoe om dit toe te pas in sy lewe.

Daarby het Jesus ook die tekste uit die Psalms geken, die liedboek van die Joodse volk. En Hy het geweet wat God daarmee bedoel het. Daarom kon Hy die duiwel se waninterpretasie troef met die regte interpretasie.

Kom ons kyk hoe Jesus die duiwel geantwoord het.

Die eerste versoeking

3Die Duiwel het vir Hom gesê: “As u die Seun van God is, sê vir hierdie klip dit moet brood word.” 4Maar Jesus antwoord hom (uit Deut 8:3): “Daar staan geskryf, ‘Van brood alleen sal die mens nie leef nie.’ ”

Die eerste versoeking sluit aan by Jesus se honger. Hy het veertig dae nie geëet nie. Die vraag is nou of Hy sy mag gaan misbruik ter wille van sy eie behoeftes.

Jesus antwoord die versoeking om brood van klippe te maak met die aanhaling uit Deuteronomium 8:3 dat die fokus op God se woorde belangriker is as die fokus op wonders. Daarmee verklaar Hy dat sy fisiese begeertes ondergeskik is aan God se opdragte in sy Woord.

Wat daaragter lê, is die verhaal van God se voorsiening van manna in die woestyn (Eks 16). Soos God manna vir die Israeliete in die woestyn gegee het, só het Jesus uit die Bybel geweet dat God sy honger sal stil. Hy hoef nie na die duiwel te luister om van die klippe brood te maak nie. Jesus kon staatmaak op God se beloftes. Hy kan op God vertrou.

Want, onthou, die doel van die woestyntyd in die lewe van die volk was tweërlei, soos Moses dit vir ons uitspel in Deuteronomium 8.

Aan die een kant moes die volk hulle nederige afhanklikheid van God agterkom. Daarom het die Here hulle op die proef gestel, nie net sodat Hy kan weet wat in hulle hart aangaan nie, maar sodat hulle dit self ook kan agterkom.

Beide die swaarkry sonder die kos, én die manna wat op wonderbaarlike wyse aan hulle voorsien is, het dus daardie doel gedien. Dit moes hulle hierdie groot lewensles leer dat: “’n mens nie net van brood leef nie, maar dat hy leef van elke woord wat uit die mond van God kom.

Aan die ander kant moes die volk die oorvloedige en baie keer wondervoorsiening van die Here ook agterkom. Daarom het Hy vir hulle manna gegee, iets wat hulle voorvaders nie geken het nie, en het die Here hulle klere in die veertig jaar nie laat verslyt nie, selfs hulle voete nie laat swel nie.

Met dit alles het die Here hulle harte aan Hom gebind deur die dissipline van die woestyn. Die skaarste en die oorvloed.

Wat ons dus leer, is dat in elke ding wat met ‘n mens gebeur, is God besig. In die slegte en die goeie tye. Alles pas by mekaar. In swaar tye leer Hy mens dat jy van Hom afhanklik is. Dat jy Hom kan vertrou vir sy voorsiening. Vir manna. Ook vir die versoekings waaraan jy blootgestel is. Jy moet net wag daarop.

Die tweede versoeking

5Hierop het die Duiwel Hom na ‘n hoë plek geneem, en in ‘n oogwink vir Hom al die koninkryke van die wêreld gewys, 6en die Duiwel sê vir Hom: “Ek sal u al hierdie mag gee en hulle prag, want dit is aan my gegee, en ek gee dit aan wie ek wil. 7As u my aanbid, sal dit alles u s’n wees.” 8Maar Jesus antwoord hom (uit Deut 16:13): “Daar staan geskryf, ‘Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.’ ”

Die tweede versoeking sluit aan by Jesus se roeping. Hy wil God gehoorsaam om God se koninkryk te vestig. Dit is sy roeping. Die vraag is of Hy ‘n kortpad daarheen sal neem deur die duiwel te aanbid in plaas daarvan om hom teë te staan.

Jesus antwoord die versoeking om die duiwel te aanbid as kortpad na die koninkryk met die aanhaling uit Deuteronomium 6:13 dat ‘n mens God alleen mag aanbid en dien. Daarmee skaar Hy Hom volledig aan God se kant en verklaar Hy Homself bereid om God se pad met Hom te stap, al kos dit ook wat.

Wat lê agter hierdie aanhaling? Dit is die hele verhaal van God se gawe van die beloofde land. Soos God die volk in die beloofde land gebring het, só het Jesus uit die Bybel geweet dat God sy koninkryk deur Hom sal bring. Hy hoef dus nie na die duiwel te luister wat vir Hom ‘n kortpad na die koninkryk wil gee deur die duiwel te aanbid nie. Jesus kon staatmaak op God se beloftes. Hy sal dit op sy eie tyd vervul.

Daarom lê Jesus soos Moses soveel klem op die liefde vir God, soos dit in die Tien Gebooie en die wet uitgespel is en Moses in Deuteronomium 6 opgesom het: “Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.” Die woorde van die wet van God moet in elkeen se hart insak. Dit moet vir die kinders ingeskerp word. Daar moet gedurig oor die betekenis daarvan gesels word. As jy reis of rustig by die huis sit. As jy gaan slaap en as jy wakker word. Alles wat jy dink en doen moet onder die vaandel van die liefde tot God en jou naast gebeur. Alles.

Dan hoef jy nie kortpad te kies na die mag wat die duiwel aanbied nie. Kan jy wag vir wat God vir jou wil gee. Jy moet die regte pad dus kies en daarop volhard. Dit is jou uitweg uit versoekings.

Die derde versoeking

9En die Duiwel het Hom na Jerusalem geneem, en Hom op die hoogste punt van die tempelgeboue laat staan. Toe sê hy vir Hom: “As u die Seun van God is, spring hier af! 10Daar staan immers geskryf (die duiwel haal nou uit Ps 91:11 aan), “ ‘Hy sal sy engele opdrag oor jou gee om jou te beskerm,’ 11en ook (uit Ps 91:12), “ ‘Op hulle hande sal hulle jou dra, sodat jy nie dalk teen ‘n klip jou voet stamp nie.’ ” 12Maar Jesus antwoord hom (uit ‘n ander teks, Deut 6:16): “Die Skrif sê ook, ‘Jy mag die Here jou God nie versoek nie.’ ”

Die derde versoeking sluit aan by die Skrif se gesag in Jesus se lewe. Hy word op die boonste deel van die tempel geplaas en herinner aan ‘n Skrifwoord uit Psalm 91:11-12, maar uit konteks uit. Die vraag is of Hy God se beloftes gaan misbruik ter wille van eie voordeel of vertoon deur die effek wat dit op ander sou kon hê.

Jesus antwoord die versoeking om God se beloftes in die Skrif te misbruik ter wille van voordeel of vertoon met ‘n aanhaling uit Deuteronomium 6:16 dat Hy God se naam alleen hoog wil hou. Hy gaan God nie uittart of versoek nie. Hy gaan nie die Skrif ontkrag deur dit buite konteks ter wille van eie voordeel te gebruik nie.

Uit Jesus se hantering van die Skrif sien ’n mens ook dat die fout nie lê in die ding wat jy van God vra nie, maar in die motivering daarvoor of die wyse waarop jy dit doen. Die duiwel haal ook uit die Skrif aan, maar met die verkeerde motivering en toepassing. Jesus se aanhalings is telkens binne konteks en met God se eer voorop.

Maar daar is ook in hierdie geval ‘n verhaal wat agter dié aanhaling lê. Dit is die verhaal van die ontevredenheid oor water by Massa in die woestyn (Eks 17). Soos die volk by Massa in die woestyn ontevrede geraak het met God toe hulle nie water gehad het om te drink nie, só het Jesus geweet dat ‘n mens nie beloftes kan misbruik nie. Hy sal dus nie luister na die duiwel wat wil hê Hy moet afspring van die tempel, omdat die engele volgens Psalm 91:11-12 vir Jesus sal beskerm nie.

Dit is ‘n baie belangrike les. God sal sy beloftes vervul. Ook die beloftes in Psalm 91. Maar, op sy eie tyd, en op sy eie manier.

Ek wil dit illustreer met die besondere betekenis wat Psalm 91 vir Corrie ten Boom en haar familie gehad het. Haar pa Casper het weerstand gebied teen die Nazi’s in die Tweede Wêreldoorlog van die 1940’s. Hy het ongeveer 800 Jode ’n skuiling en bevryding gebied in die tyd van sy weerstand.

Toe kom die Nazi’s egter agter daarvan en het hulle gekom om hom in hegtenis te neem. Casper het egter rustig vers 1 en 2 uit Psalm 91 vir sy familie aangehaal:

Hy wat by die Allerhoogste skuiling vind en die beskerming van die Allerhoogste geniet, hy sê vir die Here: ‘U is my toevlug en my veilige vesting, my God op wie ek vertrou.’” En sonder vrees die beproewing van die aanhouding aanvaar.

Maar, Hy is tien dae later in aanhouding dood. So, hoe moet ‘n mens dit verstaan? Wel, Corrie beskryf sy dood as ’n ander soort “bevryding”, omdat haar pa Casper in God se wêreld inbeweeg het. Na die ware skuilplek, in die ewige skuilplek by God self. Corrie self het God as ‘n skuilplek beleef in Ravensbruck waar sy aangehou is, en het ten spyt van die haglike omstandighede dit oorleef. Trouens, sy het 91 jaar oud geword, so oud soos die getal van die Psalm!

Dit sê vir ons dat die boodskap van Psalm 91 vasgehou kan word, selfs al het ons verskillende ervarings van God se beskerming. Corrie het ‘n lang lewe gehad in haar vasgryp aan die boodskap van die Psalm. Casper het ‘n korter lewe gehad, maar steeds ook in sy eie vasgryp aan die boodskap van die Psalm. Twee teenoorgestelde ervarings – een boodskap: die Here is vir hulle ‘n skuilplek. En ek gebruik doelbewus die teenswoordige tyd …

Hulle gesamentlike ervaring leer my dat die ervaring dat God ’n skuilplek is, nie in die eerste plek lê in die fisiese beskerming of beskutting in hierdie lewe nie, maar ook en miskien selfs veral in die ewige dimensie daarvan. Só het Casper dit ervaar. Hy het gelewe, al het hy fisies gesterwe. Só het Corrie dit ook ervaar. Sy het wel aanvanklik die fisiese dood in die strafkamp vrygespring en so God se beskerming ervaar. Maar, sy het met haar uiteindelike dood egter steeds God se beskerming geniet, toe sy soos haar pa die ewigheid betree het.

Dit is ook wat Jesus vir ons oor dié Psalm geleer het. Dit is nie ’n magiese belofte van fisiese beskutting, beskerming en bevryding in alle omstandighede nie. Toe die duiwel met die versoeking in die woestyn voorgestel het dat Jesus van die tempel afspring, omdat die Here in Psalm 91:11-12 belowe dat die engele Hom op hulle hande sal dra en sal sorg dat Hy nie sy voet teen ’n klip sal stamp nie, het Jesus dit getroef met die aanhaling uit Deut. 6:16: “Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie.”

Ek kan dus weet: God sal my ook nie in die steek laat nie. Of ek nou lewe en of ek nou sterwe: “Ja, U, Here, is my skuilplek!” Daarom kan ek volhard, selfs al word ‘n belofte van God anders as wat ek wil, beantwoord.

Lukas sluit hierdie verhaal só af:

13Die Duiwel het, nadat hy met al hierdie versoekings klaar was, vir ‘n tyd lank van Jesus weggebly.

Sommige vertalings vertaal dit so dat dit lyk asof die duiwel na ‘n beter geleentheid op die uitkyk was. In die woestyn kon hy nie slaag om Jesus te laat sondig nie. Hy wou ander uitdagings gebruik. Maar, hier het Jesus die stryd gewen. Deur die Gees. Deur die Woord.

Jy kan dieselfde doen met jou versoekings. Staatmaak op die vervulling met die Heilige Gees. Staatmaak op die verhale in die Bybel – die insigte, beloftes en opdragte wat die Here vir jou daar gee – om jou staande te hou in versoekings.

Dit is die kontak met God deur sy Woord en sy Gees wat ‘n mens van en in versoekings bewaar word.

Gebruik hierdie volgende paar weke om jou kapasiteit te bou om met die Heilige Gees en die Woord van God die versoekings in jou lewe te takel.

Lees jou Bybel, bid elke dag. Dit gee jou krag.

Gebed

Slotlied

Lied 602:1,3,5 Ek sien ‘n nuwe hemel kom (staan)

Seën

Respons

Lied 311:1-2 Dit wat ons hier ontvang het, gaan deel ons verder uit (staan)

View all posts in this series

Comments (2)

  • Nanda Reyneke

    Geagte Ds Chris, ek het vanoggend die geleentheid gehad om die familiediens via YouTube “by” te woon. Moet nooit die impak wat dit op my as individu het onderskat. Ek glo ook ander wat van dieselfde media gebruik maak, het die medelewing ervaar. Dankie vir die wonderlike wyse waarop jy gelowiges bereik al is ons nie teenwoordig in die kerk saam met die ander geloofs gemeenskap. Mag Onse Here Jesus Christus en die Heilige Gees jou ryklik seen want ons kan nie sonder Sy Saligheid en Heiligmaking en Verlossing deur die wereld gaan nie. Amen
    Vriendelike groete
    Nanda Reyneke

    • Chris van Wyk

      Hi Nanda, dit bly ‘n voorreg om ‘n wyer gehoor te kan bedien. Ons is een in Christus. Waardeer!

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.