Johannes 17:1-26 – Laat Jesus deur jou bid
Ons beleef groot ontwrigting in die kerk
Ons beleef groot ontwrigting in die kerk, die NG Kerk sowel as in die NG Kerk familie. Wat op die spel is, is hoe ons ruimte maak vir verskille in ons kerk. Maak ons ruimte vir mense wat anders as ons dink? Of maak ons nie ruimte daarvoor nie?
Ons as gemeente het met ‘n groot meerderheid besluit dat ons ruimte maak vir mense wat verskillend dink oor die belydenis van Belhar deur die positiewe aanvaarding van die kerk se voorgestelde artikel 1. En dit is goed so. Ek dink dit is wat die evangelie van ons vra.
Dit eggo ook die besluite van drie sinodes, die sinode van Wes-Kaapland wat vroeër al die belydenis van Belhar as sodanig as sinode aanvaar het, sowel as die besluit van die Oostelike sinode en die sinode van Oos-Kaapland om met tweederde meerderheid die voorgestelde artikel 1 te aanvaar.
Die sinode van Namibië was positief oor die skep van die ruimte, maar het egter nie die vereiste tweederde meerderheid behaal nie. Die sinode van die Vrystaat het daarenteen baie negatief op die artikel 1 gereageer, maar tóg die ruimte gegee, hoewel op hulle eie manier, aan diegene wat die belydenis van Belhar wil bely. Daarmee kan ‘n mens nog werk.
Maar, die sinode van die Noord-Kaap het nie net negatief gereageer op die artikel 1 nie, maar het hulle gedistansieer van die Algemene Sinode in hulle prosesse en daarby die VGK nou as “niggie” en nie meer as “suster” getipeer. Volgens hulle is die VGK nie meer naaste familie nie, maar verder familie. Hoe tragies en hoe hartseer – dit voel asof ons terug is in 1857 waar die paaie uit mekaar begin loop het. (Soos een lidmaat opmerk ná die tyd: “‘n Pa kan nie niggies of nefies produseer nie, net broers en susters.“!)
Die vraag is nou, hoe verder? Hoe maak ons as mense van ons eie kerk nie ruimte wil maak vir mense wat anders dink nie? Want, per implikasie is die sinode van Wes-Kaapland, wat die belydenis van Belhar aanvaar het, ook nou ‘n “niggie” en nie meer ‘n “suster” van die Noord-Kaap nie.
En ons sinode en gemeente, en ‘n hele paar 100 ander gemeentes, moet onsself ook afvra, hoe handhaaf ons ‘n eenheid met ‘n sinode – ons weet nog nie hoe die gemeentes daar gaan stem nie – wat nie ruimte wil laat vir mense in ons gebied wat die belydenis van eenheid, geregtigheid en versoening wil bely nie?
Ek dink die antwoord lê in hierdie gebed van Jesus en spesifiek in twee aspekte daarvan. Dit lê:
- in ons verhouding met God, in die gebed van die familie van God, waar ons toelaat dat Jesus dié gebed vir eenheid en familieskap deur ons bid, konstant en aanhoudend, tot aan die einde;
- in ons verhouding met mekaar, in die gebed vir familie met mekaar, waar ons ook toelaat dat Jesus dié gebed vir eenheid en familieskap onder mekaar deur ons bid, konstant en aanhoudend, tot aan die einde.
Ons kan nie toelaat dat ons moed gebreek word vir die eenheid met God deur mense wat die ruimte vir verskille wil toemaak nie. Ons kan ook nie toelaat dat ons moed vir eenheid met mekaar gebreek word deur mense wat die ruimte vir verskille wil toemaak nie, al stuit dit ons teen die bors, al maak die tipering as “niggies” en nie meer “susters” nie, ook hoe seer.
HIER VOLG DIE HELE EREDIENS


