Skip to main content

Die verhaal van die sterrekenners – Matteus 2:1-12

Ons weet min van hierdie sterrekenners af.  In die oorlewering van die geskiedenis het hulle name gekry, Caspar, Melchior en Balthasar, maar daar is geen historiese getuienis wat dit bevestig nie.  Dit is nie eers seker of hulle wel drie mans was nie.  Dit is afgelei uit die drie geskenke wat hulle aan die voete van Jesus neergelê het.  Sommige noem hulle ook konings op voetspoor van Jes. 60:3: “Nasies kom na jou lig toe en konings na die glans van die nuwe dag wat vir jou aangebreek het.”

Daar is ‘n moontlikheid dat hulle volgelinge van Zoroaster was, ‘n priester van ‘n monoteïstiese godsdiens in wat vandag bekend staan as Iran.  Dit sou hulle goeie kennis van die sterrekunde verklaar, omdat Zoroasters bekend was daarvoor.  Die Grieke het bv. hulle sterrekunde by die Zoroasters geleer.

Ons weet ook nie baie van die ster af nie.  Dit kon ‘n supernova of ‘n samekoms van ‘n paar planete of doodgewoon ‘n Goddelike natuurwonder gewees het.  En hoe hulle die ster se pad bereken het en toe gevolg het – dit weet ons ook nie.

Maar dit is nie vir Matteus belangrik nie.  Hy het iets heeltemal anders op sy agenda.  Wat vir hom saak maak, is nie wie die sterrekenners of die ster was nie.  Wat saak maak is die Een wat hulle kom soek het, die Een wat gebore is in die stal in Betlehem, Jesus.

Matteus fokus dus in sy verhaal van die sterrekenners op die reaksies op die goeie nuus van die geboorte van Jesus.

Vier dinge tref my van die reaksies op Jesus in die verhaal van die sterrekenners:

HIER VOLG DIE HELE EREDIENS

Verwelkoming

Inkleurprent in voorportaal oor die sterrekenners (wyse manne)

Toetrede

Lied 354:1 O Christus, ons verlange, U het ons heil gebring – sit

Votum en seëngroet

Lofsang

Lied 353:1-3 Die Heiland is gebore, soos eeue reeds voorspel – staan

AanbiddingKyrie Eleison – “Heer, wees ons genadig” as lof en aanbidding

Lied 371:1-3 Redder van ons lewe, Jesus troue Heer, uit liefde vir die mense kom daal U neer – sit

Gebed

Skriflesing

Dit is die tyd van Epifanie.  Die tyd waarin ons as kerk fokus op die verhale van Jesus se koms na aarde.  Epifanie kan beskryf word as die tyd waarin ons fokus op die lig wat Jesus in ‘n donker wêreld gebring het.  Hy die finale en omvattende Openbaring van God.  Jesus het God vir ons kom verklaar.

Hier in Matteus fokus hy in hoofstuk 1-2 daarom op die geboorte verhaal van Jesus om ons te help om die betekenis van Jesus te begin verstaan.  Hy is volledig God, maar Hy is ook volledig mens.

In hoofstuk 1 fokus hy eerstens op Jesus se menslike afkoms deur sy geslagsregister as kind van Abraham,  Dawid en Jojagin aan te haal (1:1-17).  Daarmee begrond hy Jesus se geboorte in die belofte van die verlede.  Oor elkeen van die karakters wat daarin aangehaal is, kan ‘n mens uitbrei.

  • Abraham, die vader van gelowiges aan wie die beloftes van ‘n nageslag, die Verlosser, gemaak is.
  • Dawid, die man na God se hart aan wie se nageslag die geboorte van die Herderleier verbind is.
  • Jojagin, die jong koning wat in ballingskap weggevoer is, maar uiteindelik deur Nebukadnesar as koning in ballingskap geëer word met ‘n koninklike toelaag.
  • En dan het ons nog nie oor Tamar, Ragab en Rut gepraat nie, almal ingesluit, vir verskillende redes, onder andere dat ons die boodskap kan kry dat God mense insluit wat hulle afhanklikheid van Hom erken!

Van vers 18 af fokus Matteus op die reaksies wat Jesus se geboorte op mense gehad het, die vervulling van God se belofte van ‘n Verlosser in sy tyd.  Hy begin met die verhaal van Josef wat die swangerskap van Maria deur die werking van die Heilige Gees omhels het (1:18-25).  Dit is ‘n besondere verhaal van inbors en deernis, van gehoorsaamheid en lojaliteit, aan God en aan sy vrou Maria, en uiteindelik aan sy aangenome seun, Jesus, wat natuurlik ook sy Verlosser is.

Die volgende verhaal is dié van die sterrekenners wat na Jesus kom soek het in hoofstuk 2 wat ons nou gaan lees.  Die lens wat jy moet opsit om dié verhaal te verstaan, is om te kyk na die reaksies op Jesus.

Matteus 2:1-12

Sterrekenners uit die Ooste bewys eer aan Jesus

1 Toe Jesus in Betlehem, Judea, gebore is, in die dae van koning Herodes, het daar sterrekenners uit die Ooste in Jerusalem aangekom. 2 Hulle het gevra: “Waar is die koning van die Jode wat gebore is? Want ons het sy ster in die Ooste gesien en ons het gekom om eer aan Hom te bewys.” 3 Toe koning Herodes dit hoor, was hy ontsteld, en die hele Jerusalem saam met hom. 4 En nadat hy al die leierpriesters en skrifkenners uit die volk bymekaar geroep het, het hy by hulle navraag gedoen waar die Christus gebore sou word. 5 Hulle het vir hom gesê: “In Betlehem, Judea, want so staan daar deur die profeet geskryf, 6 “ ‘En jy, Betlehem, in die grondgebied van Juda, jy is glad nie die geringste onder die regeerders van Juda nie. Want uit jou sal daar ‘n leier kom wat my volk Israel as herder sal lei.’ ” 7 Daarop het Herodes, nadat hy die sterrekenners in die geheim ontbied het, noukeurig by hulle navraag gedoen oor wanneer die ster verskyn het, 8 en hulle toe na Betlehem gestuur met die opdrag: “Gaan vind alles noukeurig uit omtrent die Kind; en wanneer julle Hom gekry het, laat my weet, sodat ek ook kan gaan en aan Hom eer bewys.” 9 Nadat hulle gehoor het wat die koning sê, het hulle vertrek. En kyk, die ster wat hulle in die Ooste gesien het, het voor hulle uit beweeg totdat dit tot stilstand gekom het reg bo die plek waar die Kind was. 10 Toe hulle die ster sien, het hulle ‘n onbeskryflike groot vreugde ervaar. 11 Nadat hulle die huis binnegegaan het, het hulle die Kind by Maria, sy moeder, gesien en neergekniel en aan Hom eer bewys. Toe het hulle hulle skatte oopgemaak en vir Hom geskenke aangebied: goud, wierook en mirre. 12 En omdat hulle in ‘n droom ‘n goddelike waarskuwing ontvang het om nie na Herodes terug te keer nie, het hulle met ‘n ander pad langs na hulle land teruggegaan.

Prediking

Ons weet min van die sterrekykers af

Ons weet min van hierdie sterrekenners af.  In die oorlewering van die geskiedenis het hulle name gekry, Caspar, Melchior en Balthasar, maar daar is geen historiese getuienis wat dit bevestig nie.  Dit is nie eers seker of hulle wel drie mans was nie.  Dit is afgelei uit die drie geskenke wat hulle aan die voete van Jesus neergelê het.  Sommige noem hulle ook konings op voetspoor van Jes. 60:3: “Nasies kom na jou lig toe en konings na die glans van die nuwe dag wat vir jou aangebreek het.”

Daar is ‘n moontlikheid dat hulle volgelinge van Zoroaster was, ‘n priester van ‘n monoteïstiese godsdiens in wat vandag bekend staan as Iran.  Dit sou hulle goeie kennis van die sterrekunde verklaar, omdat Zoroasters bekend was daarvoor.  Die Grieke het bv. hulle sterrekunde by die Zoroasters geleer.

Ons weet ook nie baie van die ster af nie.  Dit kon ‘n supernova of ‘n samekoms van ‘n paar planete of doodgewoon ‘n Goddelike natuurwonder gewees het.  En hoe hulle die ster se pad bereken het en toe gevolg het – dit weet ons ook nie.

Maar dit is nie vir Matteus belangrik nie.  Hy het iets heeltemal anders op sy agenda.  Wat vir hom saak maak, is nie wie die sterrekenners of die ster was nie.  Wat saak maak is die Een wat hulle kom soek het, die Een wat gebore is in die stal in Betlehem, Jesus.

Matteus fokus dus in sy verhaal van die sterrekenners op die reaksies op die goeie nuus van die geboorte van Jesus.

Vier dinge tref my van die reaksies op Jesus in die verhaal van die sterrekenners:

  1. Die evangelie bring konflik

Die eerste wat my tref in die verhaal is dat die goeie nuus van die evangelie konflik bring.

Herodes en die ganse Jerusalem reageer met vrees op die nuus wat die sterrekenners bring: “3Toe koning Herodes dit hoor, was hy ontsteld, en die hele Jerusalem saam met hom.

Hoekom?  Want, die gevestigde orde van die Jode sowel as die Romeine word bedreig deur die boodskap van ‘n nuwe koning vir die Jode, die boodskap wat die sterrekenners aan hulle bring.  Dit is die waarheid wat aan die maghebbers verkondig word.  En Herodes wil nie die mag prysgee nie.  Jerusalem se elite wil op hulle beurt nie die ekwilibrium wat geskep is in die stad verloor nie.  Al was Herodes ‘n probleem vir hulle – hy was immers nie uit die geslag van Dawid nie en hy was ‘n wrede koning wat hom nie gesteur het aan die wet van God nie – het hulle maniere gevind om daarmee saam te leef.

Die evangelie daag dus die status quo uit.  Dit laat jou vrae vra oor wat politiek korrek mag wees.  Dit laat jou vrae vra oor wat sosiaal korrek mag wees.  Dit bring dus konflik.  Dit roep om reaksie, ‘n keuse vir God se Openbaring wat altyd ons eie idees van wat sy wil is, uitdaag.

Maar die implikasies hiervan is dat die verhaal ons ook leer om nie so erg ontsteld te wees oor die konflik wat ons ook vandag rondom ons ervaar, in die politiek, in die ekonomie, selfs in die globale prosesse waaraan ons blootgestel is nie.

Ons moet onthou dat die goeie nuus van die evangelie juis nodig is om die status quo van korrupsie en gierigheid te troef.  Dit is hoe dit werk.  Die evangelie daag die waardes van ons samelewing uit.  Dit is haaks op ‘n sekulêre samelewing wat God hoogstens as ‘n veraf werklikheid erken, maar nie erns maak met wat Hy aan ons openbaar nie.

En ons moet verseker die goeie nuus van die Jesus se geboorte verkondig, maar nie met die idee dat ons noodwendig die waardes van die samelewing moet verander nie, maar eerder om deur ons getuienis en diens mense te red daarvan om nie langer deel te wees van ‘n samelewing wat in sy wese in opstand is teen God.  Om nie langer in hulle sonde voort te leef nie, maar die verlossing in Jesus Christus aan te gryp en volgens sy openbaring te begin lewe, die essensie van Epifanie.

Die evangelie van Jesus is aan ons geopenbaar om ons te red van ons sonde, nie om ons te bevestig in die handhawing daarvan nie.

  1. Die sterrekykers het die Skrif nodig

Die tweede ding wat my tref in die verhaal is die feit dat die wondertekens wat die sterrekenners in Jerusalem bring, nie genoeg is om God se wil te kan onderskei nie.  Om te weet waar om Jesus te vind, het hulle die Skrif nodig.

Hulle is die meesters van ‘n antieke wysheid, ‘n wetenskap wat hulle bewus maak van God, maar nie die pad volledig na Hom toe kan aandui nie.  Hulle is ook nederig genoeg om dit te weet, en hulp te soek toe hulle in Jerusalem aankom.  Waarmee hulle onwetend die boodskap aan ons almal bring dat sonder die Skrif ons hulpeloos soek vir die waarheid en nooit daarby sal uitkom nie.

“(The search) cannot find fulfilment until it comes to the scriptures where in is found the revelation that God gives of himself to his people. Unless it leads to this, it remains a futile search and a sterile wisdom which cannot answer the deeper longings of the questing spirit.” (Pray-as-you-go)

Herodes roep daarom al die leierpriesters en skrifkenners uit die volk bymekaar om leiding uit die Skrif te gee.  En die skrifkenners haal ‘n gedeelte uit die profeet Miga (5:1) aan. Die Messias sal in Betlehem gebore word, sê hulle vir Herodes, want so staan daar deur die profeet geskryf, ”6 En jy, Betlehem, in die grondgebied van Juda, jy is glad nie die geringste onder die regeerders van Juda nie. Want uit jou sal daar ‘n leier kom wat my volk Israel as herder sal lei.” Die profesie in Miga 5 help die sterrekykers om die boodskap van God te ontsyfer.  Die skrifkenners moet die sterrekykers help.

Die leer ons dat daar het een bron is wat ons meer as ooit en meer as enigiets anders moet opsoek en die riglyn vir ons lewe moet maak.  Dit is die Skrif.

Ek hoor dié week die grappie van Jerigo in my voorbereiding vir die Bybelskool oor Josua en Rigters (begin 17 Januarie; eerste byeenkoms 24 Januarie).

“‘n Onderwyser vra die klas wie Jerigo se mure afgebreek het. ‘n Klein seuntjie sê: ‘Dit was nie ek nie.’ Die onderwyser deel dit met die skoolhoof. Dié sê: ‘Ek ken sy ouers. As hy sê dit was nie hy nie, glo ek hom.’ Die skoolhoof rapporteer dit aan die inspekteur. Dié sê: ‘Dis seker onmoontlik om nou uit te vind. Kry drie kwotasies, en laat dit regmaak.  Stuur dan die rekening vir ons.” (David Pawson).

En dit is iets om oor te lag, maar dit openbaar ‘n geweldige waarheid.  Mense weet nie meer wat die Bybel sê nie.  Want, hulle lees dit nie meer nie.  Mag dit nie waar wees van jou hierdie jaar nie!

Gesels dié week met Chris Johnson van CUM oor van die projekte waarmee ek by hulle besig is, en so terloops noem hy dat hy verlede jaar drie keer deur die Bybel is.  Die laaste tien jaar van Luther se lewe het hy elke jaar die Bybel regdeur gelees.  ‘n Geloofsgewoonte wat waarskynlik die grootste waarde in jou lewe sal hê.

Ek stuur nou al amper drie maande elke dag ‘n Bybelteks vir my ma uit die twee boeke van my wat binnekort verskyn (Wat glo jy? en Wie is God?).  En dit is ongelooflik watter gesprekke daar tussen ons ontstaan, nie omdat ek vir haar sê sus of so nie, maar omdat sy dit self in die Bybel kan lees.

  1. Die evangelie word verwerp

Die derde ding wat my tref is die feit dat daar altyd ‘n reaksie is op die evangelie.  Daar is nie so iets soos neutraliteit nie.  Jy sal die waarheid van die Skrif aanvaar en daarvolgens begin lewe, of nie.

Herodes het direk in opstand gekom teen die boodskap van die Skrif.  Dit is helder en duidelik uit die verhaal.  Hy verwerp die evangelie volgens die Skrif.  Trouens, hy kies om die evangelie aktief te onderdruk.  Die gevolg was die uiters tragiese kindermoord wat Herodes net hierna pleeg in ‘n poging om die boodskap van Jesus in die kiem te probeer smoor.

Matteus is uiters realisties oor die strawwe realiteit van die gemeenskap.  Ons leef in ‘n wêreld van brutale mag en verraderlike politiek.  Dit is ‘n wêreld van berekende geweld.

Maar wat ons nie altyd raaksien nie is dat die skrifkenners ook die evangelie verwerp.  Dit is net baie meer subtiel.  Hulle verwerp die evangelie deur aanvanklik eenvoudig niks te doen nie!  Hulle sit met die waarheid in hulle hand, maar doen niks daarmee nie.  Hulle ignoreer dit.  Hulle tree nie op daarvolgens nie.  Hulle gaan kyk nie of die Messias gebore is in Betlehem nie.

Hulle verwerp dus in wese die waarheid van die Skrif.  Dit is dus steeds ‘n negatiewe reaksie, selfs al is hulle waarskynlik daagliks nog besig met die Skrif.

Maar, gou moet hulle ‘n bietjie meer doen, omdat hulle agterkom dat hulle die vervulling van die Skrifte in Jesus met ‘n bietjie meer woema moet teenstaan.  Dit is eintlik hartverskeurend om die reaksies van die skrifkenners deur die evangelie van Matteus na te speur.  Hulle argumenteer met Jesus en verskil met sy interpretasie van die Skrif, maar kan die wysheid en gesag waarmee Hy hulle uit die Skrif antwoord, nie troef nie (Matt. 7:24-29; 9:1-7). Hulle probeer Jesus tot ‘n wonderteken oorreed, maar Hy val nie daarvoor nie, en ontbloot hulle as ‘n afvallige klomp mense wat vasgevang is in hulle ongeloof (Matt. 12:38-42).  Trouens, toe Jesus wel wonderwerke doen met die tempelreiniging wat hulle kon waarneem, was hulle verontwaardig daaroor, wat Jesus se punt bewys dat wonderwerke nie vir hulle sal oortuig nie (Matt. 21:12-17)!

Die slegte nuus is dus dat jy nie neutraal kan bly dié jaar oor die kwessies van geloof wat die voorblaaie haal nie.  Wêreldwyd is daar ‘n opstand in die Weste teen die boodskap van die Bybel oor etiese goed, nog dieper teen God self.  Daar is ‘n geweldige onverdraagsaamheid teenoor mense wat getrou wil bly aan hulle geloof, al is dit anders as die openbare mening.

Dit lyk vir my asof verdraagsaamheid die mantra van die wêreld geword het.  Behalwe, jy mag nie verskil van dít wat polities of sosiaal korrek is nie.  Anders word jy uitgewys as veroordelend.

Dit is ‘n boodskap wat ek nie kan versag nie.  Gehoorsaamheid aan die evangelie, die evangelie wat van jou vra om gehoorsaam te wees aan wat die Skrif aan ons openbaar, gaan jou baie kos.

  1. Die evangelie word aanvaar

Die vierde ding wat my tref en wat ook die hoop van hierdie gedeelte is, is dat die sterrekenners (en natuurlik die herders, Josef en Maria, en later die dissipels) die boodskap van die Skrif in Jesus omarm.  Die evangelie word nie net verwerp nie.  Dit word ook omhels.

Hoe mooi sê Matteus nie dat die sterrekenners ‘n onbeskryflike groot vreugde ervaar (2:10), dat hulle voor Jesus neerkniel, dat hulle aan Hom eer bewys en dat hulle vir Hom geskenke gee uit hulle skatte (2:11-12) – en Jesus is nog maar net ‘n paar dae oud!

Die geskenke van die sterrekenners is in ‘n sekere sin ook ‘n boodskap.  Die goud simboliseer die koningskap van Jesus wat nie afhanklik is van die Herodes-magte van hierdie wêreld nie.  God is die Koning en Hy is in Jesus gebore in die stal.  Die wierook simboliseer die aanbidding wat die Seun van God reeds hier ontvang, maar uiteindelik van elke taal en volk en nasie.  Almal sal voor Hom neerkniel en aanbid as God.  Die mirre simboliseer die lyding wat dit hierdie Kindjie in die krip sal kos voor sy Koningskap oor alles bevestig sal wees.  Deur sy wonde word ons immers genees.

Die wonder is dat hulle deur die Skrif begelei word tot ‘n outentieke ontmoeting met die lewende Here Jesus.  Hierna is hulle op ‘n “ander pad”, ‘n pad wat deur God bestuur word.  Hy begin met hulle kommunikeer en waarsku hulle om Herodes te vermy en só ter beskerming van die Kindjie in die krip op te tree, om só hulle toewyding aan die Koning te wys.

Die goeie nuus is dus dat dit presies die manier is waarop jy vreugde sal ervaar hierdie jaar.  Die vreugde lê in die ervarings wat God gee as jy bereid is om die pad met Hom te loop.  Dit loop soos ‘n refrein deur dié Skrifgedeelte.  Jy sal soos die sterrekenners ‘n onbeskryflike groot vreugde ervaar deur gehoorsaam te word aan God se stem in jou lewe, trouens soos jy gehoorsaam is, sal jy al hoe meer God se stem in jou lewe hoor en deur Hom begelei word.  En jy sal al hoe meer ingetrek word in die pad wat God met die evangelie loop in hierdie wêreld, soms met “ander paaie”, soms na Egipte, soos Josef kort hierna moet doen, en soms die pad van die kruis.

Die groot vreugdes van die lewe lê op die pad van hierdie gehoorsaamheid. Gehoorsaamheid aan Hom is ons vreugde en ons doel in die lewe.

Laat hierdie ontmoeting van die sterrekenners in Betlehem jou dus inspireer om aan God gehoorsaam te leef.  Nou en altyd.

Verootmoediging en voorbidding

Dankoffers

Slotsang

Lied 340:1-3 Kom ons loof die Jesus kind, Hy is waarlik Koning – staan

Seënbede

Amen

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.