Méér geloof, Here – Lukas 17:1-10

In hoofstuk 17:1-10 rig Jesus vier uitsprake aan sy dissipels.

1.  ONBERISPELIKE LEWE

Hy moedig die dissipels aan tot ’n onberispelike lewe wat nie vir ander tot struikeling aanleiding sal gee nie – vers 1-3a.  Hy wil hê dat ons niks sal doen wat ander mense sal laat struikel nie.  Hy wil hê dat ons sal floreer.  Hy wil hê dat ons tot ons volle potensiaal sal lewe.  En Hy wil hê dat ons dit vir ander mense moontlik sal maak.

Maar, ons weet ook dat dit ‘n tall order is.  Dit is iets wat net so moeilik is om reg te kry.  Want ons belange bots so maklik. Ons kom so maklik in mekaar se pad.  Ons doen so maklik dinge wat ander seermaak.  Of ons dit nou doelbewus doen, of ons dit onbewus doen, ons pootjie mekaar so maklik en so gereeld.

Verwelkoming

  • Algemene Sinode
  • Gemeente en Klema
  • Ouderlingeraad uitgestel

Toetrede

Psalm 46:1 – God is ons toevlug en ons skut – sit

Votum

Seëngroet

Lofsang               

Lied 220:1,3 – Met ons harte sing ons, Here – staan

Lied 530 – Praat ek mense-, eng’le tale (vers 1 en 3 gemeente, vers 2 koor) – sit

Lied 176 – Halleluja! U is Koning 2x – sit

Kindertyd

Die Here Jesus het een keer gesê: “As julle maar geloof so groot soos ’n mosterdsaadjie gehad het, sou julle vir hierdie moerbeiboom kon sê: ‘Trek jou met wortels en al uit die grond uit en plant jouself in die see.’”

Ken julle mosterdsaad?  Dit is klein.  Sommige is geel.  Ander is swart.

Jesus sê, ons geloof hoef nie groter as dit te wees nie.  Hoekom?  Want as ons net só ‘n bietjie glo, sal Hy wonderlike dinge doen.

Hy sê as ons vir ‘n moerbeiboom sê, plant jou in die see, sal dit gebeur.

Ken julle moerbeibome?  Ons gebruik die blare vir sywurms.  Nou, die bome het baie wortels.  Dit is moeilik om hulle uit te trek.  En dit sal mos nooit in die see kan groei nie!  Of hoe!?

Wat Jesus dus sê, is: “Wat julle dink is onmoontlik, kan ek moontlik maak.”

Een dogtertjie het dit geglo en die Here het wonders gedoen.

 

Baie jare gelede het ‘n dominee Hattie May Wyatt huilend buite ‘n klein kerkie in Philadelphia, Amerika, gekry. Sy is gevra om terug huis toe te gaan, want daar was nie plek vir haar nie.

Ek kan nie Sondagskool toe gaan nie” het sy huilend vir die predikant gesê. Hy het haar hand gevat en haar toe wel na ’n ander klassie toe geneem.

So twee jaar later het dieselfde dogtertjie ernstig siek geword en gesterf.  Die predikant is na haar ouers toe.  Toe hy by die vervalle woonstelblok kom, het hulle hom gevra om hul dogter se begrafnis waar te neem. Hulle het aan hom ’n kleinerige beursie gegee.  Binne-in was ’n briefie en 57 sent.  In die briefie het die volgende woorde in kinderskrif geskryf gestaan: “Hierdie geldjie is om die klein kerkie te help om iets groter te bou sodat meer kinders daarnatoe kan gaan.” Vir twee jaar lank het die dogtertjie gespaar aan haar 57 sent!

Die predikant het daardie Sondag die briefie van die kansel aan sy gemeente voorgelees. Hy het die gemeente uitgedaag om daarop te reageer.  Dit was net die begin van die 57c se impak… Binne vyf jaar is daar toe genoeg geld ingesamel om ’n nuwe kerk te kon bou.

As jy eendag in Philadelphia kom, gaan besoek gerus die Temple Baptist Church, met sy sitplek vir 3,300 mense. En ook die Temple Universiteit, waar honderde studente opgelei word. Kyk goed na die Good Samaritan Hospitaal en na die Sondagskool sentrum waar honderde kinders elke Sondag bymekaarkom. Niemand word ooit meer die deur gewys nie.

Binne die Sondagskoolsentrum sal jy ’n skildery van ’n klein dogtertjie sien. Dis haar 57 sent wat God so wonderlik gebruik het. Ons bietjie word altyd baie in God se hand!

Gebed

Skriflesing

Lukas 17:1-10

Waar Jesus se bediening in hoofstuk 4:14-9:50 hoofsaaklik afgespeel het in die platteland  van Galilea is Jesus in hoofstuk 9:51-19:44 “op pad na Jerusalem”.  Telkens gaan sy vasbeslotenheid om daar uit te kom ook herhaal word (9:51; 10:38; 13:22; 17:11; 18:31).

Jesus versamel dus steeds dissipels om Hom, Hy daag steeds almal uit met sy onderrig, en Hy staan spesifiek die Fariseërs se Godsbeeld teë – en word natuurlik verwerp as gevolg daarvan – maar die hoofmotief van hierdie gedeelte is dat Hy op pad is om Sy roeping te vervul om versoening tussen God en mens te bewerk.  En dit kan Hy net in Jerusalem doen.

Hoofstuk 17:1-10:

17 Jesus het vir sy dissipels gesê: “Dit is onvermydelik dat daar dinge kom wat mense laat struikel. Maar ellende wag vir die mens wat die oorsaak daarvan is. 2So ’n mens kan eerder met ’n groot klip aan die nek in die see gegooi word as dat hy vir een van hierdie kleintjies ’n struikelblok word. 3Wees dus self op julle hoede.

“As jou broer verkeerd optree, berispe hom; en as hy berou kry, vergewe hom. 4Selfs as hy sewe maal op ’n dag verkeerd optree teen jou en sewe maal na jou toe terugkom en sê: ‘Ek is jammer,’ moet jy hom vergewe.”

5Die apostels sê toe vir die Here: “Gee ons meer geloof.”

6Maar die Here antwoord: “As julle maar geloof so groot soos ’n mosterdsaadjie gehad het, sou julle vir hierdie moerbeiboom kon sê: ‘Trek jou met wortels en al uit die grond uit en plant jouself in die see,’ en hy sou julle gehoorsaam.

7“Sê nou een van julle het ’n slaaf wat ploeg of vee oppas. Sal hy vir die slaaf sê as hy van die veld af inkom: ‘Kom eet eers gou’? 8Natuurlik nie! Maar hy sal vir hom sê: ‘Maak vir my iets klaar vir aandete. Sit dan jou voorskoot aan en kom bedien my terwyl ek eet en drink. Daarna kan jy self eet en drink.’9’n Slaaf wat sy opdrag uitgevoer het, word mos nie bedank nie, of hoe? 10So is dit ook met julle: as julle alles gedoen het wat aan julle opgedra is, sê dan: Ons is slawe wat niks verdien nie. Ons het gedoen wat ons verplig was om te doen.”

Woordverkondiging – Méér geloof, Here

In hoofstuk 17:1-10 rig Jesus vier uitsprake aan sy dissipel.

1.  ONBERISPELIKE LEWE

Hy moedig die dissipels aan tot ’n onberispelike lewe wat nie vir ander tot struikeling aanleiding sal gee nie – vers 1-3a.  Hy wil hê dat ons niks sal doen wat ander mense sal laat struikel nie.  Hy wil hê dat ons sal floreer.  Hy wil hê dat ons tot ons volle potensiaal sal lewe.  En Hy wil hê dat ons dit vir ander mense moontlik sal maak.

Maar, ons weet ook dat dit ‘n tall order is.  Dit is iets wat net so moeilik is om reg te kry.  Want ons belange bots so maklik. Ons kom so maklik in mekaar se pad.  Ons doen so maklik dinge wat ander seermaak.  Of ons dit nou doelbewus doen, of ons dit onbewus doen, ons pootjie mekaar so maklik en so gereeld.

2.  GENADIGE LEWENSTYL

Daarom moedig Jesus ons dus ook aan tot ’n genadige lewenstyl wat telkens bereid is om berouvolles te vergewe – vers 3b-4.  Dit is die logiese pasmaat van die vorige opdrag.  Jesus wil hê dat ons in die eerste plek uit mekaar se pad sal kom en mekaar nie sal pootjie nie.  Maar, in die tweede plek, wil Hy ook hê dat, as dit nou eenmaal gebeur dat ons iemand anders laat struikel, of as dit gebeur dat ons self struikel, dat ons dan ons self en ander sal vergewe.  En sommer sewe keer ‘n dag ook, al is dit oor dieselfde ding.

Nou dít kry ons nog moeiliker reg.  Ons vertroue in mekaar word so maklik geskaad. Ons sukkel spesifiek hiermee.  En as ons nie vergewe nie, dan raak dit deel van die bagasie wat ons met ons ronddra.  Dan hou ons dinge teen mekaar, nie net vir ‘n dag lank nie, soms weke, maande lank, soms jare lank.  Daar is vetes wat eintlik eeue teruggaan tussen families en mensegroepe.  Ons sukkel hiermee!

Dit is waarom die apostels só reageer in die gedeelte.  Hulle besef dat hulle sukkel om in hulle verhoudinge met ander mense, onberispelik te wees.  Hulle sukkel om nie ander te laat struikel nie.  Hulle sukkel om self nie te struikel nie.  En dit is ‘n groot probleem om mekaar te vergewe, want jou sin vir reg en regverdigheid, jou gevoel vir wat billik is, staan só in die pad van ‘n lewe waar jy ander en soms jouself ook kan vergewe.

Daarom vra hulle: Méér geloof, Here.  Gee ons méér geloof, Here.  Ons is alreeds só skuldig.  Ons weet ons gaan dit nie maak nie.  U vra van ons te veel.  U vra van ons die onmoontlike.

Interessant dat Lukas juis van hulle as apostels praat, ‘n titel wat hulle eers ná die opstanding gekry het.  En dit beteken gestuurdes.  Dit is mense wat die roeping gekry het om onberispelik te lewe en ander te vergewe.  En dit is juis hulle wat sukkel hiermee!

Dit is nie anders met ons nie.  Ons dink ook baie keer dat as iets nie meer is nie of groter is nie, is dit regtig nie veel werd nie – dat dit wat ons het, nie genoeg is nie; ons het meer nodig om self enige iets werd te wees.  Dit is hoe die dissipels gevoel het oor hulle geloof!  Hulle het geweet dis moeilik om altyd gehoorsaam te wees.  Dit is moeilik om te vergewe.  Daarom het hulle vir Jesus gevra vir nóg geloof.  Dit sal sekerlik beter wees as dit groter is, as hulle meer het!

3.  ‘N BIETJIE GELOOF IS NODIG

Hoe antwoord Jesus?  Hy wys hulle in sy derde uitspreek op twee goed:

  • dit is net nodig om ‘n bietjie geloof te hê – net so groot soos ‘n mosterdsaadjie.  Jy moet dit eintlik darem net kan sien.  Dit moet net daar wees.  Want,
  • vir dié wat in God glo, raak die onmoontlike moontlik.

Die vraag is nie hoe hoog die volume van jou geloof gestel is nie. Die afmetings en omvang is nie belangrik nie, die inhoud wel. Jesus is die inhoud van ons geloof. Die vraag is dus op Wie jou geloof gerig is. Wanneer die uitdagings om struikeling te vermy, en die risiko van vergifnis te loop, ondraaglik blyk te wees, is dit die Here op wie jou geloof gerig is, wat jou bystaan en jou dra.

Jesus antwoord hulle dus dat dit nie soveel saak maak hoe groot jou geloof is nie, maar eerder wat jy daarmee doen.  Waar jy aan God vasgryp, al is dit net met geloof so groot soos ‘n mosterdsaadjie, kan die onmoontlike gebeur.  ‘n Moerbeiboom met sy ingewikkelde komplekse wortelstelsel sal in die see kan groei, as jy maar net geloof so groot soos ‘n mosterdsaadjie het.  Die onmoontlike word moontlik vir dié wat in God glo.

Nou, ek weet, min van ons weet eintlik veel van mosterd af nie, behalwe dat ons nou en dan ‘n bietjie mosterd op ‘n hot dog kry. Dit is nou nie soos die Skotte nie.  Hulle het mosterd in verskeie gedaantes.  Daar is selfs ‘n sjokolade-mosterd.

Wanneer daar in die Bybel van mosterdsaad gepraat word word die saad van die swart mosterdsaad bedoel. Hierdie saad is nie alleen die kleinste van al die mosterdsaad soorte nie (1 mm groot), maar ook van alle gekweekte sade.

Nou, hierdie mosterdsaad is ‘n simbool wat, soos Christina Landman sê: “face to face” met ons praat. Die beeld van die mosterdsaad is een wat ons bemoedig en vertroos. En dit maak ons sterk.  Hoekom?  Christina gee vyf redes:

Een. ‘n Mosterdsaad groei waar hy val. Of dit nou in goed-voorbereide aarde val, en of dit nou op swakker dele val … die mosterdsaad groei net daar. En dit is ‘n belangrike voorbeeld vir ons geloofslewe en sommer ook vir ons lewe in die algemeen. Partykeer wag ons dat dinge volmaak moet wees, of dat ons ‘n teken van iewers af sal kry, voordat ons begin om te fokus op groei. Maar wat daarvan ons maak soos die mosterdsaad – en groei waar ons ook al te lande kom. Miskien is ons huislike omstandighede swaar, miskien is ons werk ‘n teelaarde vir bossies. Net daar waar ons val, daar moet ons groei. Dit leer ons van die mosterdsaad.

Twee. ‘n Mosterdplant is moeilik om uit te roei. As hy eers begin groei het, hou hy blykbaar nie op nie. Hy hou aan groei. Jy kan aan hom pluk en hom probeer uittrek. Hy kry altyd iets om verder mee te groei. En dit kan ons tog ook onthou. Ons moet nou nie ander mense oorheers en bo-oor hulle groei nie. Maar ons het die reg om te groei. Die reg op ‘n eie plekkie. Die reg om te bestaan. As ons in ander mense se pad is, het ons nog daardie reg. Om te bestaan en te groei.

Drie. Die mosterdsaad groei nie net op moeilike plekke nie, dit groei GOED op moeilike plekke. Die mosterdplant bestaan nie net nie, dit bestaan GOED. Dit is soos die kannie-dood van die Karoo.  Dit floreer op moeilike plekke.

Vier. Die mosterdsaad is gesond. Dis nie net gesond om mosterd te eet nie, die mosterdsaad het medisinale waarde. Dus, die mosterdsaad is voedend, en dit is genesend. So, aan die een kant moet ons so lewe dat ons ‘n gesonde en helende invloed op ander mense het. Dis waarskynlik waarom Jesus hierdie simbool van die mosterdsaad gebruik, want Jesus is tog ons geneser. Aan die ander kant kan ons gewoon onthou: eet mosterd, dis gesond!

Vyf. Jesus verwys na die mosterdsaad omdat dit so klein is. En daarmee sê Jesus iets oor klein dingetjies, en die waarde daarvan. Oor die klein treetjies wat ons almal kan gee, en dat dit ‘n verskil kan maak.  Ons kan nie elkeen op ons eie reuse projekte op die tafel sit nie. Maar saam kan ons klein treetjies gee. En ons kan dit gee omdat ons glo. Omdat ons glo dat God ons geplant het waar ons is, en saam met ons die pad stap.

Daar word nie van ons verwag om in die naam van geloof skouspelagtige wonderwerke te verrig nie. As gelowiges moet ons doen wat ons kan doen.  Dan gebruik God wat ons gee en maak dit groot.

4.  NEDERIGE LEWENSTYL

Jesus sluit af met ‘n vierde en laaste opmerking oor geloof en moedig ons aan tot ’n nederige lewenstyl waarin ons nie arrogant sal raak oor wat ons bereik in die koninkryk nie, want uiteindelik behoort die lof aan God self – vers 7-10.

Jesus wil aan die een kant ons oortuig dat ‘n klein bietjie geloof, groot dinge kan vermag. Aan die ander kant, wil Hy keer dat ons nie groter as onsself moet wees nie, en eintlik ook nie hoef te wees nie. Die treetjies wat ons in geloof gee, is genoeg.

Waar mens die oorsaak van verleiding en struikeling word vir ander, en wanneer jy teen ander oortree, word dit gewoonlik gebore uit ‘n oormatige fokus op jouself. Dit gaan oor jou belange, jou vooruitsigte, wat jy uit die lewe wil haal, hoe jy ander wil gebruik om jouself te bevoordeel.  Dit laat jou ander se belange geringskat. Dit laat jou op korttermyn en kortsigtige voordeel fokus, sonder om die belange van ander in ag te neem.

Daarom sê Jesus:  As julle alles gedoen het wat aan julle opgedra is, sê dan: Ons is slawe wat niks verdien nie. Ons het gedoen wat ons verplig was om te doen.

Ons is onverdienstelike diensknegte. Ons geloof gee aan God alleen al die eer.  Mag dit so wees, vandag en altyd.

Gebed

Dankoffers

Koor

Jubilate! (Vonkk 42) en Ek is bly! (Vonkk 80)

Slotlied

Liedboek 284 – Laat, Heer, u vrede deur my vloei – staan

Seën

Amen

Liedboek 312

     

View all posts in this series

Trackback from your site.

Leave a comment