Fil 4:10-23 Week vanaf 11 Maart 2012

RUS EN ONTVANG

  • Gesels met mekaar oor julle ervaring van ’n fokus op blymoedige vrede (Fil 4:2-9 van verlede week).
  • Word stil en oordink die betekenis vir jou van die sleutelteks in Filippense – 2:5-8.
  • Laat iemand met ‘n gebed open.

HOOR EN ONTGIN

  • Lees Filippense 4:10-23 – Die Gees verander ons tot liefdevolle omgee
  • Sê vir mekaar wat die teks by jou wakker gemaak het.

Hier volg ’n paar verhelderende opmerkings oor die gedeelte:

Die wonder van saamwees, saamdink, saambid, en saamleef

Paulus se visie vir die gemeente is dat hulle die wonder van saamwees, saamdink, saambid en saamleef sal beleef.  Dit is immers waarvoor Jesus gekom het.  Hy het nie ‘n boek geskryf en vir ons nagelaat nie.  Hy het ‘n gemeenskap gestig wat oor grense mense insluit wat anders is as ons.  Só herwin ons weer die bewussyn van eenheid wat God bedoel het vir die Paradys, en leef ons dit voor in hierdie wêreld, totdat almal dit weet.

God se krag bepaal ons lewe, nie gebrek of oorvloed nie

’n Mens sien weereens die paradigma van Fil 2:6-11 in hierdie gedeelte aan die werk, hierdie keer toegepas op Paulus se ervaring van sy praktiese lewensomstandighede.  Die patroon van selfontlediging en verheerliking is nie net te siene in Christus se lewe en bediening nie (2:6-11), nie net sigbaar in Paulus se eie lewe en bediening nie (3:3-14), maar ook in Paulus se lewensomstandighede (4:10-14).  Hy weet wat gebrek, armoede en honger is, en hy weet wat is oorvloed en om genoeg te hê om te eet.  En in albei tipe lewensomstandighede het hy geleer om deur te kom, homself te behelp, omdat hy geleer het dat hy tot alles in staat is deur Christus se krag wat in hom werk (onthou Fil 3:10!).  Die woord wat hy hiervoor in vers 11 gebruik – behelp (autarkes)  – kan ook met selfgenoegsaam vertaal word, dws om vergenoegd of tevrede te wees en steeds met ’n oop hand te lewe.  Eksterne omstandighede – of dit nou gebrek of oorvloed tot gevolg gehad het – het nie Paulus se manier van lewe bepaal nie, selfs nie sy tevredenheid daarmee al dan nie.  God se krag het dit bepaal.  Daarom was hy werklik in staat tot alles. In 2 Korintiërs 9:8 het Paulus hieroor só geskryf: “En God is by magte om aan julle alles in oorvloed te skenk, sodat julle in alle opsigte altyd van alles genoeg (autarkeia) kan hê en volop kan bydra vir elke goeie werk.

Materiële ondersteuning ontsluit God se oorvloedige voorsiening

Paulus se blydskap (in die Here) oor hulle materiële ondersteuning lê op verskillende vlakke.  In die eerste plek het hulle hulp sy omstandighede verlig.  Tronke was gewoonlik haglike plekke: vuil, donker, en koud of warm na gelang van die weersomstandighede.  Gevangenes  is aan mekaar in groepe vasgeketting. Hulle moes hulle eie kos en klere voorsien (bv deur families). Dat Timoteus, as reisgenoot, en Epafroditos, met hulp van die gemeente, dus vir Paulus bystaan, was ’n groot hulp (Fil 2:19-30). Maar, in die tweede plek, het hulle hulp die band tussen hom en die gemeente verstewig (4:10-16).  Hulle was immers van die begin af by die ondersteuning van sy bediening betrokke (onder andere in Tessalonika), wat van die intieme band tussen hulle getuig het.  In die derde plek het hulle hulp aan hom hulle eie toewyding aan die Here verstewig (vers 17-18).  Paulus noem hulle bydrae ’n liturgiese offer aan God met ’n lieflike geur, wat vir Hom aanneemlik en welgevallig is, waarmee hy sy gedagtes in Romeine 12:1-2 verder uitbrei.  Dit is nie net gelowiges se persoonlike lewens wat ’n offer is aan God nie (Rom 12); dit is ook die gemeente se korporatiewe bediening wat ’n offer is aan God (Fil 4).  Dit is waarom Paulus sê dat die offer hulle ryker maak in terme van die vrug wat hulle oplewer in die bediening.  Dit getuig van ’n al hoe groter wordende geestelike onderskeiding (aan my dink – phronein) en volwassenheid. In die vierde plek bring hierdie offer nie net lof aan God nie, maar ontsluit dit ook Sy oorvloedige voorsiening vir elke behoefte (chreia) wat hulle het (vers 19-20), dit waarvoor Paulus in die vorige perikoop gesê het hulle voortdurend moet bid.

 LEEF EN ONTPLOOI

  • Hoe is die Here in jou lewe besig om jou van liefdevolle omgee te leer?
  • Hoe kan jy groei in jou verantwoordelikheid daar rondom?
  • Sluit af met ‘n gebed rondom Fil 2:9-11.
Continue Reading

Fil 4:2-9 Week vanaf 4 Maart 2012

RUS EN ONTVANG

  • Gesels met mekaar oor julle ervaring van ’n fokus op geestelike volwassenheid (Fil 3:1-4:1 van verlede week).
  • Word stil en oordink die betekenis vir jou van die sleutelteks in Filippense – 2:5-8.
  • Laat iemand met ‘n gebed open.

HOOR EN ONTGIN

  • Lees Filippense 4:2-9 – Die Gees verander ons tot blymoedige vrede
  • Sê vir mekaar wat die teks by jou wakker gemaak het.

Hier volg ’n paar verhelderende opmerkings oor die gedeelte:

Om eensgesind saam te dink in die Here

Onthou dat dit ’n gemeente is wat begin het met ’n baie diverse samestelling (Hand 16).  Die potensiaal vir konflik vanuit hulle agtergronde – taal, klas, opvoeding, afkoms – was dus altyd daar.  Daarom moedig Paulus hulle aan om te fokus op eensgesindheid, spesifiek in die konflik wat daar tussen Euodia en Sintige bestaan het.  Beide was waarskynlik sterk vroue, met ’n passie vir die evangelie, en ’n roepingsbewustheid binne die gemeente.  Maar hulle sterk persoonlikhede, of die sterk bewussyn van hulle roeping, het hulle in konflik met mekaar gebring.  Paulus spreek hulle en die gemeente dus sterk aan om die eenheid wat God tussen hulle geskep het, te bewaar.   Interessant, die frase wat Paulus hier gebruik wat ons met “eensgesind te wees in die Here” vertaal, is to auto phronein en Kuriô – wat ook vertaal kan word “om saam te dink in die Here”.  Dit is presies wat ons vandag met die woord geloofsonderskeiding bedoel: om jou in te stel om saam te dink in die Here, om die Godsvrae te vra (Waarmee is God besig?  Waartoe roep God ons?), om gesprek te hê totdat daar ’n oortuiging opdaag wat harmonie en konsensus bring, iets waaraan die hele gemeenskap van gelowiges hulleself kan verbind.

Om met vreugde en inskiklikheid te leef

Paulus skryf verder dat dit nie net eensgesindheid in die Here is wat kenmerkend van die gemeente (en sy leiers) moet wees nie, maar ook ’n vreugde in die Here, iets wat regdeur die brief beklemtoon word.  Hy gebruik die woord chairete (blydskap/vreugde) waarmee hy nie net die innerlike blydskap beskryf wat in God se teenwoordigheid hulle deel sal wees nie, maar ook die gesamentlike blydskap in die gemeenskap van gelowiges.  Let op dat hierdie blydskap verbind word aan ’n inskiklikheid (epieikes) teenoor alle mense.  Daarmee bedoel Paulus dat dit nie net die gemeenskap van gelowiges is wat ’n veilige, vriendelike, vreugdevolle plek moet wees nie, maar dat hierdie gesindheid ook die wyse waarop gelowiges met die publieke gemeenskap saamleef, moet stempel.  Die bereidheid om te skik, om te luister na rede, om bereid te wees om van ander te leer, of soos een kommentaar dit stel, om met: “sweet reasonableness” op te tree, moet die uitstaande kenmerk van die gemeente se interaksie met die wêreld wees.

Om die vrede van God in gebed te beleef

Met die gedagtes oor God se nabyheid as begronding vir hulle vreugde en inskiklikheid, is dit geen wonder dat Paulus daarvandaan beweeg na die gemeente se behoeftes en besorgdhede nie.  Omdat God naby is, kan hulle oor alles en in alle omstandighede na Hom toe gaan in gebed.  Letterlik staan daar in vers 6: “maak in alles (alle situasies) julle versoeke (aitema) bekend aan God deur gebede (proseuche) en versoeke/petisies (deesis) met danksegging (eucharistie).” Die verskillende woorde vir gebed in die vers moenie te veel onderskei word nie, omdat dit eintlik as sinonieme gelees kan word.  Die punt van die vers is eintlik net om duidelik te sê: angstigheid oor allerlei word deur voortdurende veelvuldige versoeke verlig!  Die aanmoediging tot gebed word opgevolg met een van die mees ongelooflike beloftes wat Paulus gee, letterlik vertaal: “gevolglik sal die vrede (eirene) van God, wat alle begrip/denke (nous) te bowe gaan, oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus”.  Dit is die enigste plek in die NT waar só van “die vrede van God” gepraat word.  Paulus bedoel hier nie die vrede met God nie, maar die vrede van God, die vrede wat Hy self het, die vrede wat Hy self is, die vermoë wat Hy het om nie angstig te raak oor allerlei nie, maar in beheer en veral getrou aan Homself te bly.  Dít is wat die harte en gedagtes van die gemeente sal bewaar.  En dié vrede gaan alle denke te bowe – dit bedoel letterlik dat dit iets is wat beter is as die beste beplanning!  Ons gedagtes en emosies is soos ‘n oorlogsterrein wat God sal beskerm teen angstigheid en chaos.

LEEF EN ONTPLOOI

  • Hoe is die Here in jou lewe besig om jou van blymoedige vrede te leer?
  • Hoe kan jy groei in jou verantwoordelikheid daar rondom?
  • Sluit af met ‘n gebed rondom Fil 2:9-11.
Continue Reading

Fil 3:1-4:1 Week vanaf 26 Februarie 2012

Ons werk hierdie kwartaal met die brief van Paulus aan die Filippense.

RUS EN ONTVANG

  • Gesels met mekaar oor julle ervaring van ’n fokus op gasvrye vriendskappe (Fil 2:19-30 van verlede week) en wat die Here julle die week geleer het.
  • Word stil en oordink die betekenis vir jou van die sleutelteks in Filippense – 2:5-8.
  • Laat iemand met ‘n gebed open.

HOOR EN ONTGIN

  • Lees Filippense 3:1-4:1 – Die Gees verander ons tot geestelike volwassenheid
  • Sê vir mekaar wat die teks by jou wakker gemaak het.

Hier volg ’n paar verhelderende opmerkings oor die gedeelte:

Die oplossing vir konflik met mense wat anders dink as jy, lê baie keer nie in die direkte konfrontasie met hulle nie, maar in die fokus op jou eie verhouding met die Here Jesus.  Om te groei in jou kennis van Hom, en Sy krag te ondervind in die praktyk van jou lewe, is die beste manier om koers te hou, sonder om ander af te kraak, of deur hulle van stryk gebring te word.  En wanneer jy dit regkry om dit boonop saam met ander te doen, selfs en veral saam met dié van wie jy verskil, dan groei ‘n gemeenskap in geestelike volwassenheid!

Ontwrigting moet groter gehoorsaamheid en getrouheid stimuleer

Paulus se raad aan die gemeente is om nie afgeskrik of geïntimideer te word deur óf die teenstanders óf die dwaalleraars óf die vrysinniges nie, maar vas te bly staan in die geloof, volkome eensgesind verder saam te stry vir die evangelie, en koers te hou op die pad wat hulle tot dusvêr ingeslaan het (vers 16) in navolging van Paulus (vers 17) en in getrouheid aan die Here (Fil 4:1).  Hulle sekerheid (vers 1) moes nie in hulle afkoms of die onderhouding van uiterlike dinge gesoek word nie – juis die voordele wat Paulus laat vaar het ( gebore Israeliet, Benjaminiet soos koning Saul, egte Hebreër [ma en pa was Jode], nougesette Fariseër) – maar in die vashou aan en vertroue op die Een wat sekerheid bring.  Die verwarring wat die Joodse tradisionaliste veroorsaak het, en die versoeking waarvoor die vrysinniges hulle geplaas het, moes hulle dus stimuleer tot groter gehoorsaamheid en getrouheid, presies die dinge wat Christus in hulle lewens wou bewerk.

Om Christus Jesus te ken, oortref alles in waarde

Die voorbeeld wat Paulus vir hulle gestel het en waaraan hy sy hele lewe gewy het, was om Christus Jesus te ken (vers 10), en om deur Hom geken te word (vers 12).  Dit oortref alles in waarde.  Wat vroeër vir hom ’n bate was, is nou vir hom eerder  ’n las.  Om Christus te ken, is waarom dit nou vir Paulus gaan teenoor alle ander dinge waarin mense wins en voordeel soek.  “Ons het die ware besnydenis … óns wat ons op Christus Jesus beroem en nie op uiterlike dinge vertrou nie …  want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde” (vers 3, 8). En dié waarde spel Paulus uit op twee maniere.  Dit lê in die vryspraak (geregtigheid) wat God gee aan dié wat in Christus glo, sodat hulle met Hom in ’n versoende verhouding kan leef.  En dit lê in die gelykvormigheid aan Christus in die selfontlediging van Sy dood en die verheerliking met sy opstanding (vgl vers 10 met 2:6-11).  Dit is die enigste wens wat Paulus vir homself het, en dit is waar om sy roeping en lewe wentel.  Dit is immers presies in hierdie gelykvormigheid wat die hoop van die opstanding ook lê.  Daarmee gee Paulus ook ’n baie spesifieke inhoud aan wat met geestelike volwassenheid (vers 15) bedoel word: dit beteken nie om volmaak te wees nie, maar om al hoe meer gestempel te word deur die kennis van Christus, en te leef uit die werklikheid dat Hy: “my reeds Syne gemaak het” (vers 12).  Paulus wil dus in die werklikheid van sy persoonlike alledaagse lewe al hoe meer ervaar wat Hy glo en teologies weet die waarheid is.

LEEF EN ONTPLOOI

  • Hoe is die Here in jou lewe besig om jou van gasvrye vriendskappe te leer?
  • Hoe kan jy groei in jou verantwoordelikheid daar rondom?
  • Sluit af met ‘n gebed rondom Fil 2:9-11.
Continue Reading

Fil 2:19-30: Week vanaf 19 Feb 2012

RUS EN ONTVANG

  • Gesels met mekaar oor julle ervaring van ’n fokus op ’n onberispelike lewenswandel (Fil 2:12-18 van verlede week) en wat die Here julle die week geleer het.
  • Word stil en oordink die betekenis vir jou van die sleutelteks in Filippense – 2:5-8.
  • Laat iemand met ‘n gebed open.

HOOR EN ONTGIN

  • Lees Filippense 2:19-30 – Die Gees verander ons tot gasvrye vriendskappe
  • Sê vir mekaar wat die teks by jou wakker gemaak het.

Hier volg ’n paar verhelderende opmerkings oor die gedeelte:

Ander se belange is Jesus Christus se belange

’n Mens kry in die volgende perikoop ’n kykie in die diep-persoonlike verhouding wat Paulus met hierdie gemeente gehad het.  Hulle belange staan regtig voorop in sy gedagte.  Daarom wil hy vir Timoteus (Fil 2:19) na hulle toe stuur, iemand wat hulle van die begin van hulle geloofspad af ken, om te hoor hoe dit met hulle gaan.  Hy wil ook vir Epafroditos (2:25 – “julle apostolos” [apostel/gestuurde/boodskapper] staan daar in die oorspronklike Grieks) – wat namens hulle vir Paulus kom bystaan het – na hulle toe terug stuur, om hulle kommer oor Epafroditos se siekte (hy is intussen genees) asook sy groeiende verlange huis toe te verlig.  Trouens, Paulus sou self graag by hulle wil uitkom (2:24).  Let op hoe hy hiermee vir hulle ook drie verdere voorbeelde gee (Timoteus, Epafroditos en hyself) van hoe hulle self teenoor mekaar moet optree, presies soos hy in vroeër in die hoofstuk geskrywe het: “Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander” (2:4).  Dit sluit die onderlinge gasvryheid in, asook die agting vir geestelike leiers (2:29), in ’n netwerk van onderlinge diens.  Let ook op hoe hierdie tipe omgee ten diepste illustreer watter prioriteit ’n mens aan die belange van Jesus Christus gee, in Wie hierdie gesindheid die allerbeste geïllustreer is (2:6-11).  Deur aan ander se belange te dink, is ’n mens inderdaad besig om Jesus se belange te dien.  Anders gestel: Jesus kom na ons in die gedaante van “die ander”!

Ons hele lewe word “in die Here Jesus” geleef

Paulus werk hier met ’n baie belangrike beginsel in sy beplanning en bediening: “Ek hoop/vertrou in die Here Jesus …” (Fil 2:19, 24 – ongelukkig voorwaardelik vertaal in die NAV: “as die Here Jesus wil”).  Om te hoop of te vertrou in die Here beteken nie dieselfde as om onnadenkend iets ondergeskik te maak aan die Here se wil, of soos ons soms met die gesegde DV (Deo Volente) uitdruk nie.  “In die Here” beteken dat Paulus doelbewus wat hy doen “in verhouding met die Here Jesus” doen. Of dit nou iets is waarop hy hoop (elpizô in Fil 2:19 – vgl ook Fil 1:23), of iets waarop hy met meer sekerheid vertrou (peithô in Fil 2:24), dit geskied in verhouding met die Here.  Dit is om doelbewus die Heerskappy van Jesus te soek en aanvaar, presies dit wat in die tweede helfte van die gedeelte oor Jesus se selfontlediging en verheerliking in Fil 2:6-11 verklaar is.  Dit herinner ’n mens aan die 17de eeuse boekie The Practice of The Presence of God waarin briewe van en ook ’n paar gesprekke met Nicholas Herman – wat die naam Brother Lawrence gekry het in ‘n klooster in Parys waar hy as kok gewerk het – deur Joseph de Beaufort opgeteken is.  Nicholas het ’n direkte benadering tot die geestelike lewe beoefen en hom dit ten doel gestel om alles wat hy doen en dink “in die Here” en “vir die Here” te doen en dink.  Paulus het hierdie beginsel op ’n harde manier geleer op sy tweede sendingreis, net voor hy die roeping na Europa ontvang het wat tot die stigting van die gemeente van Filippi gelei het (Hand 16:6-9).  Die Gees van Jesus het Paulus twee keer verhinder om sy eie kop in die bediening te volg, voor hulle (almal was betrokke!) deur die gesig van die Masedoniese man oortuig is om die evangelie in Europa te verkondig.  En dié direkte benadering het nie net sy eie lewe daarna bepaal nie, maar ook die praktiese geestelike lewe wat hy aan die gemeentes voorgehou en voorgeleef het.  Dit is ook waarom ’n onderskeidende lewe vir hom so belangrik was, soos ons in Fil 1:9-10 gesien het.

LEEF EN ONTPLOOI

  • Hoe is die Here in jou lewe besig om jou van gasvrye vriendskappe te leer?
  • Hoe kan jy groei in jou verantwoordelikheid daar rondom?
  • Sluit af met ‘n gebed rondom Fil 2:9-11.
Continue Reading

Fil 2:12-18: Week vanaf 12 Feb 2012

Week van 13-18 Februarie 2012

Ons werk hierdie kwartaal met die brief van Paulus aan die Filippense.

RUS EN ONTVANG

  • Gesels met mekaar oor julle ervaring van selfopofferende diensbaarheid (Fil 2:5-11 van verlede week) en wat die Here julle die week geleer het.
  • Word stil en oordink die betekenis vir jou van die sleutelteks in Filippense – 2:5-8.
  • Laat iemand met ‘n gebed open.

HOOR EN ONTGIN

  • Lees Filippense 2:12-18 – Die Gees verander ons tot ’n onberispelike lewenswandel
  • Sê vir mekaar wat die teks by jou wakker gemaak het.

Hier volg ’n paar verhelderende opmerkings oor die gedeelte:

Ligdraers in die wêreld

Paulus volg sy oproep tot onderskeidende liefde (1:9-10), en eensgesindheid na buite en binne (1:27-2:2), deur veral aan ander se belange te dink (2:3-4), op in Fil 2:12-18 deur hulle hier aan te moedig om in alles gehoorsaam te wees aan die kruis-evangelie – soos Christus inderdaad vir hulle die voorbeeld van gehoorsaamheid gestel het (2:6-11).  En die metafoor wat hy daarvoor gebruik, is dat hulle soos ligdraers in die wêreld sal wees (letterlik: “skyn soos ligte in die wêreld” – vgl Jesus in die Bergrede: “Julle is die lig vir die wêreld” – Matt 5:14).

Hy beskou dit as sy priesterlike taak om hulle hiertoe aan te moedig en sy lewe in diens van hulle gehoorsaamheid te gee.  Daarom gebruik hy die verdere metafore uit die offerkultus dat hulle geloof ’n offer is wat hy in diens van God bring, en sy bloed ’n drankoffer is wat daaroor uitgegiet word, waaroor hulle saam met hom moet bly wees (vers 17-18 – vgl ook Rom 15:16 waar hy op soortgelyke wyse skrywe oor sy priesterlike taak om die evangelie van God te bedien).

“Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe” is die NAV se poging om vers 12 se Griekse oorspronklike te vertaal, wat letterlik lui: “met vrees en bewing moet julle jul heil/verlossing/saligheid uitwerk”. Die voorgestelde nuwe Afrikaanse vertaling lui so: “werk met vrees en bewing aan julle verlossing.”

Paulus bedoel kennelik nie hier dat hulle verantwoordelik is vir hulle ewige saligheid nie.  Dit sou op ’n onvanpaste werkheiligheid neerkom wat in stryd met die res van die NT boodskap sou wees.  Hy roep hulle eerder op om vrugte te dra wat by hulle verlossing pas.  Wright sê hiervan, dat hulle opgeroep word: “(to) work out in practice what it means to live by this salvation rather than the one their culture is forcing upon them.”

Let ook op dat hierdie oproep van Paulus afhanklik gemaak word van God se werk (vers 13) wat juis vir hulle in staat wil stel om gehoorsaam te kan wees: “want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer”.  Hulle gehoorsaamheid is dus nie die aanvulling of voltooiing van God se werk in hulle lewens nie, maar die resultaat van wat Hy in hulle begin het (vgl veral Fil 1:6!) – “creating both the desire and the drive” (Hawthorne).  Die fokus is dus op God se werk in hulle, en om dit prakties deel van hulle lewens te maak.  Dit sluit in dat hulle nie moet kla en murmureer nie (eerder bid – Fil 4:6-7), moet sorg dat hulle opreg en onberispelik optree, sodat niemand hulle van iets slegs sal verdink nie, en bo alles aan die woord van die lewe moet vashou om dit uit te dra (vgl Petrus in Joh 6:68: “U het die woorde wat ewige lewe gee”, waarmee hy ook eksplisiet sy eie vashou aan die Here verklaar het).

LEEF EN ONTPLOOI

  • Hoe is die Here in jou lewe besig om jou ’n onberispelike lewenswandel te leer?
  • Hoe kan jy groei in jou verantwoordelikheid daar rondom?
  • Sluit af met ‘n gebed rondom Fil 2:9-11.
Continue Reading

Kommentaar en navrae

  • Avatar

    Tilla

    |

    Sien so uit daarna!

  • Bybelskool » Ons het herlewing nodig

    |

    […] Vandaar het dit gesprei na Brittanje, Europa, Indonesië en uiteindelik na Suid-Afrika. Ons Pinksterbidure is die getuienis […]

  • Avatar

    Willem Wiid

    |

    Ek is opsoek na verlede Sondag (20/10/2019) se liturgie. Kry dit ongelukkig nie opgespoor nie. Kry ook nie die afkondigings nie

  • Avatar

    Riana Carstens

    |

    Dankie!!!!!! N insiggewende opbouende preek wat die “Goeie nuus” boodskàp ook bevat. Baie baie dankie.

    Riana