Skip to main content

Voorwaardes – Nehemia 1

Die Ierse evangelis Gypsy Smith het een keer gesê: “There are five Gospels. Matthew, Mark, Luke, John, and the Christian, and some people will never read the first four.[1]

In ons gesprek oor beloftes is die gevaar natuurlik lewensgroot dat ons hierna sal luister en nooit sover kom om dit te beproef nie. ‘n Blote intellektuele instemming met die boodskap van die Bybel sal jou nie ver bring nie. Dit sal ook geen effek hê rondom jou nie.

Hierdie Pinkster is gemik daarop dat jy ‘n persoonlike pad  met die Here begin stap rondom sy beloftes. Dat jy sy beloftes sal raaksien wat jou persoonlike behoeftes aanspreek. Dat jy die pad met Hom op ‘n daaglikse basis begin loop, in ‘n persoonlike verhouding, een wat ‘n getuienis aan hierdie wêreld sal wees dat die Here lewe; dat Hy vertrou kan word; dat Hy dit goed bedoel met ons.

Die gevaar is egter ook daar dat ons nie sal raaksien hoe bevoorreg ons in elk geval is nie. Dat ons eintlik God se beloftes sal soek met die spreekwoordelike “wit brood onder die arm”. Dat ons sal vergeet van dié wat rondom ons verswelg van armoede en verwaarlosing. Dat ons die beloftes van die Here sal soek net ter wille van ons eie gerief, ter wille van ons eie veiligheid, ter wille van ons eie voorspoed.

Ek het dus besluit om vanaand weer ‘n praktiese voorbeeld te gee om die tema van God se beloftes te illustreer. Maar ek gaan ‘n voorbeeld uit die OT gebruik, dié van Nehemia, en aan die hand daarvan nie net wys hoe ‘n mens die pad met ‘n belofte tot by sy vervulling stap nie. Maar ook wys dat dit in beloftes nie net gaan oor persoonlike situasies van gebrek nie, maar ook oor dié van die gemeenskap.

Maar voor ons by sy verhaal kom, wil ek eers ‘n paar inleidende dinge sê oor die verskil tussen absolute of onvoorwaardelike beloftes en dié waaraan voorwaardes of vereistes gekoppel is. Want dit is noodsaaklik dat ons die verskil daartussen verstaan.

Absolute beloftes

Absolute beloftes is beloftes wat God sal vervul sonder om dit te verbind aan een of ander voorwaarde. Daar is nie ‘n quid pro quo nie.

Soos die vierjarige dogtertjie wat bang was vir die donker. Sy was bang om aan die slaap te raak, want haar pa was weg, en die ma was ook maar bang. Toe die lig afskakel is, sien sy die maan by die venster uit en vra vir haar ma: “Ma, is die maan God se lig?” “Ja”, sê haar ma. “Sal God sy lig afskakel as Hy gaan slaap?” was haar volgende vraag. “Nee, my kind”, het die ma gesê: “God slaap nooit nie.” En met die eenvoud van ‘n kind se geloof was die kind se opsomming van hulle situasie: “Wel, as God dan wakker bly, dan is dit onnodig dat ons albei wakker bly.[2]

Dit is immers een van die absolute beloftes in die Skrif: “Kyk, die Bewaarder van Israel sluimer of slaap nie.” (Ps 121:4). ‘n Belofte wat ook jy kan aangryp vir jouself en vir jou mense.

Hoe ‘n mens sulke absolute beloftes in die Skrif raaksien, is dat daar nie ‘n “As … dan” aan verbind is nie. God sal nie wakker bly as ons wakker bly nie. Hy bly wakker, want dit is sy belofte. Of ons nou wakker bly of slaap. Dit is die tipe belofte waarvoor God self instaan ongeag wat gebeur.

Die meeste van dié onvoorwaardelike beloftes het te make met God self. Sy wese en sy werke.

Reeds in Genesis 1 hoor ons dat God die hele heelal seën met sy voorsiening van tyd, ruimte en materie. Hy gee alles wat nodig is vir lewe om te gedy op hierdie planeet van ons. Hy maak man en vrou helpers en helftes vir mekaar in die huwelik en gesin (Gen 2). Hy voorsien self uitkomste vir die sondeval (Gen 3) en broedermoord (Gen 4) wat in die kruis vervul is. Hy voorsien self ‘n volk waaruit die Messias gebore sou word waarin al die nasies van die wêreld met Hom versoen kan word (Gen 12).

Regdeur die Bybel hoor ‘n mens hierna dat Hy die wêreld in stand hou. Daaroor het ons Sondagoggend gesels. God se voorsienigheid. “Dat die goeie God, nadat Hy alle dinge geskep het, dit nie laat vaar of aan die toeval of geluk oorgegee het nie maar dit volgens sy heilige wil so bestuur en regeer dat in hierdie wêreld niks sonder sy beskikking gebeur nie.”(NGB 13).

Wat wonderlik is van hierdie beloftes van God is dat jy die voordeel hiervan kan geniet sonder dat jy dit eers hoef te verdien, sonder dat jy eers ‘n voorwaarde hoef na te kom. Jy kan jou maar net onbesorg in die arms van hierdie versorgende en voorsienige God laat rus.

Kom na My toe almal wat vermoeid en swaar belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, omdat Ek sagmoedig en nederig van hart is, en julle sal rus vind vir julle gemoed. Want my juk is draaglik en my las is lig.” (Matt 11:28-30).

Die absoluutheid hiervan lê natuurlik in God self opgesluit. Want aan die einde van die tyd – ja daar kom ‘n einde daaraan, sê Johannes in sy Openbaring – sal selfs die heelal verander: “Die hemel self het verdwyn soos ’n boekrol wat opgerol word, en al die berge en eilande is uit hulle plekke geskud.” (Openb 6:14).

Maar God self sal nooit verander nie. Jy sal in die nuwe hemel en aarde steeds met die God van lig, en liefde, en lewe te doene hê. Daardie eienskappe van God sal nooit verander nie. “Hy is die alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is.” (NGB 1).

Voorwaardelike beloftes

Maar die meeste van die beloftes in die Bybel is voorwaardelike beloftes. Beloftes wat beproef moet word. Beloftes waaraan voorwaardes gekoppel is. Voorwaardes wat nagekom moet word. Nog beter gestel, beloftes wat net in ‘n verhouding met God vir jou kan waar word. Sonder ‘n verhouding kan die beloftes nie vervul word nie.

Spurgeon het een keer gesê dat hy al God se beloftes glo, want baie daarvan het hy persoonlik beproef: “I have seen that they are true, for they have been fulfilled in me.

Dit is die eerste deel van die boodskap vanaand. God se beloftes word nie in ‘n vakuum vervul nie. God se beloftes moet beproef word. Jy moet ‘n pad stap met God se beloftes. Jy moet in ‘n verhouding met Hom lewe. Jy moet die beloftes persoonlik vir jouself toeëien en daarop wag: “meer as wat wagte uitsien na die môre”, soos die pelgrimslied Psalm 130 dit só mooi stel.

1Uit die dieptes roep ek na U, HERE. 2My Heer, hoor tog my stem, laat u ore aandagtig luister na my smeekgebed. 3As U sondeskuld in ag neem, HERE — my Heer, wie kan dan staande bly? 4Maar by U is daar vergifnis, sodat mense vir U ontsag het. 5Ek wag op die HERE; my hele wese wag, en op sy woord vestig ek my hoop. 6My hele wese sien uit na my Heer, meer as wat wagte uitsien na die môre, ja, as wagte na die môre. 7Israel, vestig jou hoop op die HERE; want by die HERE is troue liefde, by Hom is bevryding in oorvloed. 8Dit is Hy wat Israel bevry van al sy sondeskuld.” (BDV).

Jou hele wese moet wag op God se woord, op sy belofte. En wanneer jy die woord kry, moet jou hele wese daarna uitsien. Op daardie woord moet jou hoop gevestig wees. Jou hele wese moet uitsien na God se bevryding en vergifnis en genesing.

  • Dit sluit optrede in: Abraham het nie die belofte van ‘n land in vervulling gesien gaan deur in Haran te wag dat die Here een of ander wonderwerk doen nie. Nee, hy moes sy goed oppak en sy familie oortuig en na die beloofde land trek.
  • Dit sluit die regte optrede in: Abraham het nie die belofte van ‘n nageslag in vervulling gesien gaan deur die afdraaipad te neem wat Sara voorgestel het om met Hagar te trou en ‘n kind by haar te verwek nie. Nee, hy moes wag dat die Here in hulle ouderdom die kind van die belofte vir hulle gee, Isak. Toe hulle eintlik nie meer kinders kon hê nie, tóé het God die belofte vervul.

Daarom dat die Hebreërskrywer oor Abraham met soveel lof praat. Abraham, sê Hebreërs, het die land en die nageslag ontvang: “Omdat hy God wat dit beloof het, getrou geag het.” (Hebr 11:11).

Ek gaan môreaand meer hieroor sê, oor die rol van geloof, beide die vaste kennis van wat God beloof en die vaste vertroue op God dat Hy getrou is om te doen wat Hy beloof.

Ek wil vanaand konsentreer op ‘n verhaal wat ons wys hoe om ‘n pad te stap met God se beloftes deur in lyn te kom met die voorwaardes wat God daaraan gekoppel het. Dit is die verhaal van Nehemia wat wys hoe ‘n mens ook kan meewerk om God se belofte vir ‘n gemeenskap in vervulling laat gaan, die tweede deel van die boodskap vanaand.

Nehemia 1

Nehemia kom op die toneel só 14 jaar ná Esra se eerste hervormings in Jerusalem (445 vC). Die passie wat die Here hom gegee het, was die herbou van die mure van die stad Jerusalem, ‘n taak wat hy uiteindelik in net 52 dae voltooi.

Wat merkwaardig is van sy verhaal is dat hy ‘n belofte van die Here in Deuteronomium 30 neem en dit aanvanklik in 4 maande se tyd só toeëien dat hy met gesag die Here se opdragte in die vervulling daarvan kan uitvoer. Die boek gee ons dus ‘n kykie in sy verhouding met God en die wyse waarop God se beloftes sy lewe en bediening gestruktureer het.

Kom ons lees hoofstuk 1.

 “1Die geskiedenis van Nehemía, die seun van Hagálja. En in die maand Kislew van die twintigste jaar toe ek in die vesting Susan was, 2het Hanáni, een van my broers, gekom, hy en manne uit Juda; en ek het hulle gevra na die Jode, die vrygeraaktes wat oorgebly het uit die gevangenskap, en na Jerusalem. 3En hulle het vir my gesê: Die oorgeblewenes wat vrygekom het uit die gevangenskap daar in die provinsie, verkeer in groot ellende en in smaad, en die muur van Jerusalem lê stukkend en sy poorte is met vuur verbrand. 4En toe ek hierdie woorde hoor, het ek gesit en ween, en ek het dae lank getreur; en ek het gevas en gebid voor die aangesig van die God van die hemel 5en gesê:

Ag, Here, God van die hemel, grote en gedugte God, wat die verbond en die goedertierenheid hou vir die wat U liefhet en u gebooie onderhou — 6laat u oor tog opmerksaam en u oë oop wees, om te luister na die gebed van u kneg wat ek vandag voor u aangesig bid, dag en nag, vir die kinders van Israel, u knegte, terwyl ek die sondes van die kinders van Israel bely wat ons teen U gedoen het; ook ek en my familie het gesondig. 7Ons het baie verkeerd gehandel teenoor U, en ons het die gebooie en insettinge en verordeninge wat U aan Moses, u kneg, beveel het, nie gehou nie. 8Dink tog aan die woord wat U aan Moses, u kneg, beveel het, naamlik: As julle ontrou is, sal Ek julle onder die volke verstrooi; 9maar as julle jul tot My bekeer en my gebooie onderhou en dit doen—al was julle verjaagdes aan die einde van die hemel, dan sal Ek hulle daarvandaan versamel en hulle bring na die plek wat Ek verkies het om my Naam daar te laat woon.10Hulle is tog u knegte en u volk wat U verlos het deur u grote krag en deur u sterke hand. 11Ag, Here, laat u oor tog opmerksaam wees op die gebed van u kneg en op die gebed van u knegte wat verlang om u Naam te vrees; en laat dit tog vandag u kneg geluk, en verleen hom barmhartigheid voor die oë van hierdie man.

Ek was naamlik skinker van die koning.

Dink tog aan u woord

Dit is waarop Nehemia in hierdie indringende gebed staatmaak. Dat God sy belofte aan Moses in Deuteronomium 30 sal onthou en dit nou in die lewe van die volk sal vervul. Dink tog aan die woord wat U aan Moses, u kneg, beveel het, naamlik:

As julle ontrou is, sal Ek julle onder die volke verstrooi; maar as julle jul tot My bekeer en my gebooie onderhou en dit doen—al was julle verjaagdes aan die einde van die hemel, dan sal Ek hulle daarvandaan versamel en hulle bring na die plek wat Ek verkies het om my Naam daar te laat woon.”(Neh 1:8-9 aangehaal uit Deut 30:1-4).

In die vier maande wat Nehemia gebid het – van die negende maand, Kislef, tot in die eerste maand van die volgende jaar, Nisan – was dít die belofte wat hy voor die Here gebring het en gevra het dat die Here volledige herstel vir Jerusalem sal bring.

Nehemia tree op

Ná die tyd van deeglike deurbid, toe Nehemia besef die tyd van optrede het aangebreek, vra Nehemia dat die Here hom voorspoedig sal laat wees met wat hy met die koning wil deurgesels.

En ons lees daarvan in hoofstuk 2 toe Nehemia sy kans aangryp om op te tree toe die koning hom vra waarom hy bedruk lyk. Die reël was dat niemand negatiewe emosies in die teenwoordigheid van die koning mag vertoon nie, só Nehemia was met reg bang vir wat die koning kon doen.

Nehemia was gereed. Ná n skietgebed, begin hy praat. Hy fokus op sy eie verbintenis aan Jerusalem – wat in puin lê en waarvan die poorte verbrand is. Hy noem dat die voorvaders se grafte in gevaar is, iets wat die Perse ook ná aan die hart gelê. Die koning kon dus identifiseer met Nehemia se bedruktheid.

Sy antwoord op die koning se vraag of daar iets is wat die koning vir hom kan doen, is duidelik vooraf beplan, waarskynlik in die tyd van gebed en vas. Hy vra dus dat die koning hom sanksioneer om die stad te gaan herbou.

Toe die koning positief reageer, smee Nehemia die yster terwyl dit warm is en vra briewe aan die politici en staatsmasjinerie in die Judese gebied, die goewerneurs van Samaria en die Ammoniete, sowel as aan die opsigter van die staatsbos sodat hy hout kan hê vir die herbou projek.

Die gevolg. Die Here het Nehemia laat slaag, want Hy: “het sy goeie hand oor my gehou”. Die koning stuur selfs ook begeleidende offisiere en ruiters met hom saam.

En die belofte begin in vervulling gaan.

Nehemia neem almal saam

Wat regdeur die boek beklemtoon word, is dat Nehemia alles wat Hy doen in gebed begrond en dan met doelgerigte optrede opvolg. Ons lees van 10 gebede wat sy werk gestruktureer het.

Hy motiveer ook die leiers met die klein suksesse langs die pad. Só kry hy hulle om met die bouwerk vol te hou. Hy kry dit reg om uiteindelik amper almal met hom saam te neem, die hoëpriester, die priesters, die Leviete, hulle ampsgenote en die tempelslawe, die goudsmede, van die vroue, die handelaars, en selfs ’n “apteker”, die salfmenger.

Behalwe vir ‘n paar vooraanstaande mense van Tekoa. Hulle was nie gewillig om swaar werk te doen vir “hulle Here” nie. Interessant genoeg was Amos van die gebied van Tekoa afkomstig. Hy het hierdie mense van Tekoa al ‘n hele paar eeue vroeër aangevat, omdat hulle nie net niks gesê het oor sosiale ongeregtigheid nie, maar self lustig daaraan meegedoen het.

Dit was die mense wat in “mooi huise” gewoon het en nie vir hulle medemense omgee nie. Die mense wat met die wit brood onder die arm gekla het, maar niks gedoen het om die situasie vir die stad en sy inwoners om te keer nie. Soos baie van ons eie mense ook vandag nog doen!

Daar was wel ander van die mense van Tekoa wat hard gewerk het en dus dubbeld en dwars vergoed het vir hulle eie mense se laksheid. So vertel Nehemia ons ook. Maar die vooraanstaandes was laks en onwillig om hulle hande vuil te maak.

Nehemia bly op die Here vertrou

Nehemia was egter suksesvol ten spyte van die vooraanstaandes se laksheid. Maar dit het ook skerp teenstand uitgelok. Hy is toenemend geïntimideer deur Sanballat, die goewerneur van Samaria, asook deur Tobija, die goewerneur van die Ammoniete. Al het hy die regte briewe van toestemming van die Persiese koning gehad. Tobija het hom ook sy moed probeer breek deur te spot oor die kwaliteit van die werk wat hulle doen: Daardie klipmuur van hulle sal omval as ’n jakkals daarteen spring!”

Wat egter inspirerend is, is dat Nehemia nie direk op hierdie teenstand reageer nie, maar eerder die Here se aangesig opsoek. Hy bly op die Here en sy belofte vertrou. Ons lees dit in sy gebed:

4Hoor, onse God, dat ons ’n veragting geword het; en bring hulle smaad op hulle hoof terug en gee hulle oor aan plundering in ’n land van gevangenskap.5En dek hulle ongeregtigheid nie toe nie, en laat hulle sonde nie uitgedelg word voor u aangesig nie; want hulle het U geterg teenoor die bouers.” (Neh 4:4-5).

Hy praat dus met God … en gaan saam met die ander – wie se hart in hulle werk was! – aan met die bou van die muur, sonder om Sanballat en Tobija direk te konfronteer. Die muur moes gebou word, en dié teenstand het gedreig om sy fokus te verstrooi.

Toe die teenstand verskerp met ’n aanval wat beplan word, het Nehemia weereens in gebed gereageer – hierdie keer saam met die leiers! – terwyl hy ook meer wagte uitgesit het:

Maar ons het tot onse God gebid en om hulle ontwil ’n wag teen hulle uitgesit, dag en nag.” (Neh 4:9).

Nehemia se leierskap hierin is werklik inspirerend soos hy aanpas by die veranderende situasie. Die gebed bly egter altyd die eerste respons, terwyl hy sy optrede verander na gelang van die situasie en die leiding van die Here. Sy vertroue op die Here dra hulle almal deur.

En dit alles vanuit die belofte wat hy uit Deuteronomium 30 aangegryp het en die Here voor vertrou het.

Nehemia spreek die interne onreg aan

Die druk was egter hewig, beide van buite – Sanballat en Tobija van die omringende volke – sowel as toenemend van binne, veral deur mense wat gekla het oor die harde werk en die twyfel of hulle gaan klaarkry met die bou van die muur. Dit het so druk gegaan dat hulle later eintlik dag en nag aan diens was. Snags vir wagdiens en bedags vir werk. Hulle het selfs nie meer klere gewissel nie.

Die volgende krisis met die bouery het gekom van binne af, van die Jode self, spesifiek dié met wie dit ekonomies alreeds swaar gegaan het nog voor met die bouprojek begin is. Daarvan lees ons in hoofstuk 5.

Hulle klag teen hulle eie Joodse volksgenote was ernstig. Omdat hulle weens hongersnood en die belastings aan die koning in die skuld geraak het, het hulle nie net hulle lande, wingerde en huise verpand en geld geleen nie, maar ook van hulle seuns en dogters in slawerny gegee.

Hulle volksgenote kon dus voordeel uit hulle teenspoed trek. Hulle het beleef wat Spreuke bondig sê: “Die ryke heers oor die arme; die lener is die slaaf van die man by wie hy leen” (Spr. 22:7).

Die bouwerk het ’n byna onhoudbare las geplaas op mense wat eintlik glad nie kon bekostig om die muur te bou nie, omdat hulle kwalik vir hulleself kon sorg. Dit laat ‘n mens met nog meer teleurstelling dink aan die vooraanstaande mense van Tekoa wat nie wou help met die muur nie.

Nehemia besef onmiddellik dat dit nie net ’n potensiële krisis vir die bouwerk is nie, maar dat dit ‘n krisis vir die gemeenskap was, dat die situasie op uitbuiting neergekom het. En hy spreek die interne onreg aan. Spreuke sê immers: “Moenie ’n arm mens te kort doen omdat hy arm is nie; moenie die hulpelose vertrap in die regspraak nie. Die Here sal hulle saak behartig en dié wat vir hulle beroof, van die lewe beroof.” (Spr. 22:22-23).

Wat eintlik egter nog meer tref, is dat Nehemia besef het dat hy eintlik self aan hierdie armes se lot aandadig is, deurdat hy ook aan die noodlydendes geld geleen het, uit sy omvangryke rykdom. Selfs al sou hy net die minimum rente daarop gehef het, sou dit hom verder verryk, terwyl dit die armes nog verder in die skuld gedompel het. Die diepte van die armes se ellende moes hulle mede-Jode tot ‘n oorvloed geskenke beweeg het en nie tot lenings wat hulle eie rykdom sou gebou het nie.

Nehemia spel dus die pad vir hulle uit dat hulle die klaers se eiendom moet teruggee en lenings moet kwytskeld. En Nehemia se optrede het die gewenste uitwerking. Die rykes sweer om dit te doen en voer dit ook inderdaad deur.

Nehemia self was baie vrygewig. Ons lees dat hy persoonlik in dié tyd ’n 150 plus mense aan die lewe gehou het op ’n feestelike manier. Elke dag was daar vir hulle een bees, ses skape en ’n klomp voëls en ’n groot hoeveelheid wyn! God se seën was dus uitgedeel as ’n seën aan ander. Soos dit hoort!

Ons lees in sy volgende gebed dat hy die volgende bid:

Dink, my God, my ten goede, aan alles wat ek aan hierdie volk gedoen het!” (Neh 5:19).

Nehemia kon nie met ‘n goeie gewete die belofte van die Here afbid dat Hy vir Jerusalem sal sorg, as hyself nie bereid was om te doen wat hy kan nie.

‘n Woord ook aan ons wat in bevoorregte situasies is en nie net die Here se seën oor die armes rondom ons moet afbid nie, maar ook moet doen wat ons self kan doen, om die mense van hierdie stad van ons te help om menswaardige lewens te leef.

Nehemia vra dat die Here sy hande sal sterk

Die druk neem egter nog meer toe. Nehemia word deur al hoe meer mense vanuit die stad self aangevat om hom in diskrediet te bring. Die ander goewerneurs probeer ook hinderlae vir hom stel deur hom uit die stad uit te probeer lok na die Onolaagte, so halfpad tussen Jerusalem en Samaria, om hom leed aan te doen.

Vier keer rig hulle die versoek aan hom in verseëlde briewe. Die vyfde keer doen hulle dit met ’n onverseëlde brief, sodat almal kon weet wat aan die gang is. Hulle beskuldig hom onder andere daarvan dat hy ’n opstand beplan teen die Perse en homself as koning wil uitroep. Hulle wil hom in die openbaar vernietig.

Nehemia wys egter telkens dié versoeke vir ‘n ontmoeting van die hand. Toe dit aan almal bekend gemaak word, stel hy net die feite kort en kragtig dat hy só iets nie oorweeg nie, en gaan doodgewoon voort met die werk wat hy moet afhandel.

Maar weereens word die gordyn oor sy gebedslewe vir ons gelig, want in ’n kort gebed van Nehemia sien ons dat hy eintlilk sy vertroue direk op die Here se werk plaas: “Versterk dan nou my hande!” (Neh 6:9). Sy gebedslewe struktureer sy optrede in die openbaar.

Die teenstanders se pogings slaag dus uiteindelik nie, want dit is presies wat die Here vir hom doen. God versterk Nehemia se hande.

Dieselfde geld die toenemende gekonkel van binne af, soos ons lees in hoofstuk 6 van die profeet Semaja. Hy probeer hom oorreed om in die tempel te gaan skuiling soek. Maar daarmee sou Nehemia op die gebied van die priesters oortree. Hy weier dus en bly onwrikbaar op die pad wat die Here vir hom aangewys het.

Weereens sien ons dat hierdie optrede teenoor die priesters gedra word deur gebed waarin hy die Here vra om hierdie aanslae op hom tot niet te maak (Neh 6:14).

God se belofte word vervul

Uiteindelik is die muur voltooi. In rekordtyd! Net 52 dae ná Nehemia die mense aan die werk gesit het om die muur te herbou, op die 25ste dag van die sesde maand Elul, was die werk klaar. Trouens die muur is voltooi slegs tien maande nadat die Here die eerste keer die nood van Jerusalem onder sy aandag gebring het.

Die impak op die vyande van Jerusalem was beduidend (“hulle val baie in hulle eie oë” lui dit letterlik) sowel as op die selfrespek van die Jode.

Nehemia laat homself dus nie deur die druk van die goewerneurs van buite af van stryk bring nie. Ook nie deur die vooraanstaande mense van binne af nie. Hy hang ná net 52 dae die poortdeure waarmee die stad Jerusalem uiteindelik van al die bedreigings van buite af beveilig kon word.

Met die muur voltooi, lees ons dat Nehemia nog nie klaar was nie, want hierna fokus Nehemia op die vestiging van ’n gesonde gemeente. Hy verbind hulle almal aan God deur die Skrif weer sy regmatige plek onder hulle te laat inneem. Dit gebeur vyf dae ná die deure gehang is met die hele volk wat soos een man bymekaargekom het in Jerusalem soos die wet hulle beveel het (Lev. 23:24) om ’n spesiale Sabbat vir die Here te vier (Neh 8-10).

Ná ‘n tyd terug in Persië het hy weer teruggekeer en verdere hervormings aangebring rondom die heiligdom, die Leviete wat verwaarloos is, die Sabbat wat nie reg onderhou is nie, en die voortdurende problematiek van godsdiens-gemengde huwelike, selfs in die hoëpriester se gesin (Neh 11-13).

’n Passievolle leier tot die einde toe wat die wonder van die vervulling van God se beloftes kon beleef. Deur te bid en te werk het hy hierdie vreugde kon beleef.

Wat leer ons uit Nehemia se verhaal?

Ek wil drie goed uitlig:

  1. Dat beloftes binne ‘n verhouding vervul word. Dit is wat Nehemia se verhaal ons leer. Daar is absolute beloftes van God wat Hy vervul sonder dat ons betrokke is. Daar is egter ander beloftes wat vervul word deur ons betrokkenheid, deur ons gebed en deur ons werk.
  2. Dat beloftes nie net vir jou persoonlik bedoel is nie, maar ook, en soms veral, vir die gemeenskap. Dit is wat Nehemia se verhaal ons ook leer. Jerusalem se mure moet herstel word, en die teks uit Deuteronomium 30 word sy belofte aan die hand waarvan Nehemia wonders verrig.
  3. Die vraag is dus nie net watter teks spreek jou aan nie. Dit is ook die vraag na watter konteks spreek jou aan. Wat sien jy raak rondom jou? Watter behoeftes is daar? Wie het daardie behoeftes? Wat is God se beloftes daarvoor? En begin dan vanuit daardie behoeftes vra na God se beloftes. En bid dan saam met my die oorhoofse tema van hierdie Pinkster: “Wanneer kom die reën?”

[1]Uit Beyond Opinion: Living the Faith We Defend (Thomas Nelson, 2007), ed. by Ravi Zacharias.

[2]Tan, P.L., 1996. Encyclopedia of 7700 Illustrations: Signs of the Times, Garland, TX: Bible Communications, Inc.

View all posts in this series

Comment

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.