Skip to main content

Kan mens weer gebore word??? Ligkids Kwartaal 2 #4 30 Mei 2021

Wanneer verjaar jy? Hoekom vier ‘n mens jou verjaarsdag? Want dit is ‘n baie spesiale dag…die dag waarop jy gebore is! Kyk bietjie na fotos van daardie dag of van toe jy nog baie klein was. Kom speel saam Wie is wie? en kyk of julle kan raai wie van die Ligkids span is dit in die foto van toe hulle nog klein was! Nie een van ons sal weer kan terugpas in ons mamma se magie nie! So hoe moet ons dan “weer gebore” word? Jesus gesels met Nikodemus en verduidelik vir hom hoe dit werk: Om weer gebore te word het niks daarmee te doen om aan die buitekant te verander nie, maar alles te doen daarmee om toe te laat dat Jesus jou van binne verander! Hy gee vir ons wat in Hom glo ‘n nuwe hart en die Heilige Gees bly daarin! Kom speel, sing, leer en leef saam, soos altyd!

Ligkids 23 Mei 2021 Geraamte(s) in die klas…

Vandag is daar ‘n geraamte, of eerder, klomp geraamtes in die klas! Het jy al ‘n geraamte gesien? Miskien toe jy na die dokter of na ‘n museum toe gegaan het. Ons het baie bene aan die binnekant van ons lyfies. ‘n Geraamte is wat oorbly, wanneer ‘n mens of diertjie doodgaan. Ons lees vandag wat Esegiël gedroom het in Eseg.37:1-14 en ons hoor: Vir God is niks onmoontlik nie! Hy kan selfs dooie bene weer lewendig laat word! WOW! Jesus self het mos ook uit die dood opgestaan en Hy belowe dat ons wat in Hom glo ook vir altyd sal lewe saam met Hom! Daarom hoef ons vir niks en niemand, nie eers die dood, bang te wees of daaroor moedeloos te word nie. Kom luister, lees, sing en speel lekker saam!

 

Kategese vir voorskoolse – en laerskoolkinders

Ons skakel vir die laerskool kategese in die tyd van die inperking in by die Lofkabouters van ds Thania Boha van PE Hoogland. Sy noem dit die Geloofsalfabet en deel dit met graagte met ons. Dit is ‘n weeklikse 10 minute aanbieding waarby al ons kinders baat kan vind.

Ouers kan dit saam met hulle kinders kyk vir gesprek en aktiwiteite daarna. Dit begin met A vir aanbidding. Geniet!

KATEGESE 2020 – Stap vir stap deur God se Woord

Daar is so baie Sondagskool- en kategesemateriaal op die mark. Hoekom Odos?

  • Die Odos-span wil kinders lief maak vir die Woord sodat hulle deur die lees van die Woord in verhouding sal kom met Jesus.
  • Die Odos-span wil hê dat kinders hulle storie sal sien as deel van God se storie en hulle lewe op hierdie Odos-pad sal leef.
  • Die Odos-span wil Kategese en Sondagskool lekker maak!

Odos-toepHierdie Bybelstudie-reeks vir laerskool- en hoërskoolkinders kan gebruik word in gemeentes en skole. Dit bestaan uit 8 reekse met elkeen

  • ‘n onderwysershandleiding,
  • ‘n kinderboek wat die kinders elke week huis toe neem. In die boek is elke week se Bybelstorie,
  • ‘n versamel item soos kaarte, plakkers en plakkate sodat hulle nog verder aangemoedig word om meer oor God en Sy Woord te leer.
  • ‘n Odos-toep met vrae, ouerhandleiding, video’s en opleiding vir groepleiers (https://www.odos.co.za/bybelvasvra).

ROEP DIE HERE JOU AS KATEGEET?

Ons soek kategete wat die bestaande span vir 2020 kan aanvul!

Beplanning hierdie Sondag 3 November in die konsistorie vir 30 minute.

Kinderboek

In die boekie vir die maats, is elke week se Bybelstorie, asook ‘n inkleurprent wat pas by die karakter wat in die les behandel is. Elke maat kry ook ‘n versamel item, sodat hulle nog verder aangemoedig word om meer oor God en Sy Woord te leer.

Onderwysershandleiding

Die onderwysershandleiding is so geskryf dat dit baie maklik is vir die groepleier om die week se les voor te berei. Die kind se sintuie word gebruik om die storie driedimensioneel te beleef. Die bepaalde les begin met die storie wat vertel word. Daarna is daar ‘n paar vrae wat gevra kan word om te kyk of hulle mooi geluister het en sommer net weer van die inligting van die storie vas te vang in hulle geheue. Dan kom die lewensles, dis belangrik vir die groepleier om eers vir die kinders te vra wat hulle dink die storie vir ons wil sê voordat hulle kom met hulle interpretasie daarvan. Aktiwiteite vir Odos 1-5 by https://www.odos.co.za/copy-of-odos-reekse.

Ouerhandleiding

Elke week word vir die ouers iets gegee wat hulle met hulle kinders kan doen.  Ons wil hê dat ouers op ‘n kreatiewe manier weekliks saam met hulle kinders weer deur die verhaal gaan. Die Bybelvasvrae sal ook deel uitmaak van hierdie ouer betrokkenheid.  Ons bid dat die Bybelstories weer in huise sal herleef en op so ‘n wyse by ons kinders vasgelê word.

Begeleiding

Jy kan staatmaak daarop dat ons deurlopend die kategete sal begelei met ekstra hulpmiddels. Kom ons maak 2020 die Jaar van die Bybel, die jaar wat ons alles insit om ons kinders aan die Here self deur sy Woord en Gees te verbind.