Skip to main content

Markus 6:14-29 – Dissipelskap vra altyd ‘n prys

Bostaande is net 'n uittreksel uit die inleiding van die preek.  Hier volg die volle Liturgie.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Toetrede

Lied 176 Halleluja, U is Koning (x2) – sit

Seëngroet en Votum

Lofliedere

Lied 100 Juig almal tot Gods lof en eer – staan

Lied 205 Bring lof aan die Vader, verheerlik die Seun – staan

Verootmoediging

Lied 186 Ons kom loof U as ons Vader – sit

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing

Die evangelie van Markus  is waarskynlik geskrywe deur Johannes Markus, nefie van Barnabas, seun van Maria, die vrou in wie se huis die kerk van Jerusalem baie keer vergader het.  Markus, ’n latere metgesel van Petrus, vertel die verhaal van Jesus van sy doop tot sy opstanding.  Twee derdes van die boek gaan oor Jesus se bediening in Galilea en die laaste derde van sy boek oor Jesus se finale week in Jerusalem.

Ons Skrifgedeelte val in die tweede deel van Markus (3:7-8:21) waar die impak van Jesus se bediening van gesprek en genesing op drie belangrike groepe beskryf word:

  • die skares wat steeds verwonderd staan oor wat Jesus alles doen en sê;
  • die dissipels wat al dieper in die geheim van Jesus ingelei word, en self ook in hierdie bediening gebruik begin word, maar stadig van begrip is;
  • die groeiende teenstand wat Jesus se bediening uitlok.

’n Mens moet eintlik van vers 7 af lees, waar die dissipels uitgestuur word om deel van Jesus se bediening te word.  Dit beteken dat die verskillende menings waarvan ons gaan lees, iets sê van die dissipels se kontak met wat die mense oor Jesus gesê het.  En die ontstellende verhaal van Herodes en Johannes die Doper onderstreep die feit dat dissipelskap altyd ’n prys kos.

Markus 6:14-29

Verskillende menings oor Jesus

14Koning Herodes het van Jesus gehoor, want sy Naam het bekend geraak. Party mense het gesê: “Johannes die Doper is uit die dood opgewek. Daarom werk die kragte in hom.”

15En party het gesê: “Dit is Elia.” Ander het gesê: “Hy is ’n profeet soos een van die ou profete.”

16Toe Herodes dit dan hoor, het hy gesê: “Die Johannes wat ek onthoof het, is uit die dood opgewek.”

Die dood van Johannes die Doper

(Matt 14:3–12; Luk 3:19–20)

17Vroeër het Herodes self gestuur en Johannes laat vang. Hy het hom in die tronk opgesluit op aandrang van Herodias die vrou van sy broer Filippus. Herodes het met haar getrou, 18en Johannes het vir hom gesê: “U mag nie u broer se vrou vat nie.”

19Herodias het daarna ’n wrok teen hom gekoester en wou hom laat doodmaak, maar sy kon nie, 20want Herodes was bang vir Johannes omdat hy besef het dat hy ’n opregte en godvresende man is. Hy het vir Johannes onder sy beskerming geneem en elke keer wanneer hy hom aangehoor het, het hy in ’n ernstige tweestryd geraak. Tog het hy graag na hom geluister.

21Op ’n dag het Herodias ’n goeie kans gekry. Toe Herodes op sy verjaarsdag vir sy hoofamptenare en die opperbevelhebbers en die hoëlui van Galilea ’n feesmaal gegee het, 22het die dogter van Herodias daar ingekom en vir hulle gedans. Dit het groot byval by Herodes en sy gaste gevind. Die koning het toe vir die meisie gesê: “Vra my net wat jy wil hê, en ek sal dit vir jou gee.”

23Daarby het hy dit herhaaldelik met ’n eed vir haar bevestig: “Net wat jy my vra, sal ek vir jou gee, tot selfs die helfte van my koninkryk.”

24Sy het toe uitgegaan en vir haar ma gesê: “Wat moet ek vra?”

Dié het gesê: “Die kop van Johannes die Doper.”

25Sy het haastig reguit na die koning toe geloop en vir hom gevra: “Ek wil hê u moet vir my dadelik in ’n skottel die kop gee van Johannes die Doper.”

26Die koning was baie verslae, maar omdat hy dit voor die gaste met ’n eed belowe het, wou hy haar dit nie weier nie. 27Hy het dadelik iemand van sy lyfwag opdrag gegee en hom gestuur om Johannes se kop te gaan haal. Hy het hom in die tronk gaan onthoof, 28sy kop in ’n skottel gebring en dit vir die meisie gegee, en die meisie het dit vir haar ma gegee.

29Toe Johannes se volgelinge daarvan hoor, het hulle gekom en sy lyk weggeneem en begrawe.

Dissipelskap vra altyd ‘n prys

Die West Memphis Three

Miskien ken julle die verhaal van die West Memphis Three.  Dit is die verhaal van drie tieners wat in 1994 aangekla en gevonnis is in West Memphis, Arkansas, vir die moord op drie jong 8 jarige seuns. Damien Echols is ter dood veroordeel, Jessie Misskelley en Jason Baldwin is lewenslank tronk toe gestuur.  Daar is ‘n hele paar dokumentêre daaroor gemaak.  Ek het een daarvan onlangs gekyk.

Van die begin af was daar kontroversie oor die saak teen hulle.  Die kontroversie het ook baie aandag getrek.  Vermaaklikheidsterre met hulle geld, en forensiese kundiges en ander regslui met hulle kundigheid het betrokke geraak. 

Maar met elke nuwe stukkie inligting wat na vore gebring is oor die saak wat die oorspronklike skuldigbevinding in twyfel getrek het, het die oorspronklike hof geweier om enige nuwe inligting te heroorweeg.  Hulle beroep was op ‘n tegniese interpretasie van die wet, wat uiteindelik verkeerd geblyk het.

Die nuwe getuienis het ingesluit:

  • dat die saak duidelik byna uitsluitlik op omstandigheidsgetuienis berus het,
  • dat daar mettertyd bewys is hoe swak die polisiewerk gedoen is,
  • dat die getuienis van verskeie eksperte vir die staat later as totaal onvanpas en verkeerd bewys is,
  • dat daar met latere DNA toetse duidelik gewys is dat die drie nie op die misdaadtoneel was nie en gevolglik onskuldig moet wees,
  • dit ook duidelik geword het dat die jurie ernstig bevooroordeeld was, met die leier van die jurie wat voor die saak begin het al van oordeel was dat die drie skuldig is,  soos latere getuienis uitgewys het,
  • en dat selfs 2 van die ouerpare wie se kinders doodgemaak is, mettertyd die tieners se onskuld erken het op grond van die nuwe getuienis (die een man wou dit nie doen nie, maar uit die verloop van die verhaal blyk dit dat die man eintlik self as ‘n verdagte hanteer kon word).

Maar steeds wou die hof nie bes gee nie.  Die moontlikheid van onskuld het vir hulle nie so swaar geweeg as hulle beperkende interpretasie van die wet nie – geen nuwe getuienis mag ondersoek word nie.

Vir meer as 18 lang jare het die drie onskuldige tieners in die tronk gebly, totdat die Supreme Court van Arkansas in 2010 eintlik nie anders kon as om die laer hof se interpretasie van die wet ter syde te stel nie – gegewe die openbare belang van die saak – en ‘n ooreenkoms met die drie veroordeeldes vir vrylating aan te gaan.

Maar selfs in daardie omkering, het die hoër hof steeds geweier om regtig te erken dat die vorige hof ‘n fout begaan het.  Hulle het gekies om die drie vry te laat as hulle twee dinge doen: 1) skuldig pleit, en 2) onskuldig pleit – ‘n sogenaamde “Alford pleit”, ‘n baie obskure reëling, wat eintlik ‘n volledige paradoksale kontradiksie is.  En die drie onskuldiges het gekies om dié pleit te doen, omdat een van hulle die hele tyd met die swaard oor sy hoof geleef het van die doodstraf wat voltrek kan word, en die saak nog baie jare vorentoe uitgerek kan word.

Die staat het na die tyd erken dat hulle die ooreenkoms gemaak het, onder andere om die staat te vrywaar van siviele eise wat die drie met reg teen hulle sou kon instel.

Vry, maar skuldig onskuldig, of onskuldig skuldig.

Nou, ek is nie ‘n regskenner nie, maar mensig! 

Dit lyk vir my darem te veel na die triomf van mag, wat selfs as dit verkeerd is, reg is. 

Maar voor ons die regstelsel te veel veroordeel.  Dit is nie net in die regswêreld wat sulke dinge voorkom nie, dit is ook in die politiek so, in die ekonomie, selfs ook in die kerk – en ek gaan nie voorbeelde noem nie, anders raak dié diens te morbied. 

Die triomf van mag oor onskuldiges.  Dit is oënskynlik wat ook hier in ons teksgedeelte gebeur.

Jesus trek Herodes se aandag

Herodes is baie bewus van Jesus se gesprekke en genesings.  Soos die mense, wonder Herodes ook waar Jesus die krag vandaan kry dit te doen.  Soos sommige van hulle dink Herodes dat Jesus eintlik Johannes die Doper is wat uit die dood opgewek is.  Daarom is hy bang vir Jesus, nie net vanweë die gewaande opstandingswonderwerk nie, maar veral vanweë die moontlikheid van politieke teenstand in Jesus se bediening.  Hy dink dat dit Johannes in die gestalte van Jesus is wat opgedaag om hom terug te betaal en van sy troon te beroof.

Net so bietjie inligting: Herodes Antipas, die Herodes van ons teks, was die seun van Herodes die Grote, die een wat die kindermoord gepleeg het by Jesus se geboorte.  Na sy pa se dood het hy koning oor die landstreke Galilea en Berea geword.  Dit is dié gebied waarin Jesus sy dissipels uitgestuur het en waarin twee-derdes van die evangelie van Markus afspeel.  Daarom is Herodes as heerser van dié gebied baie bewus van alles wat Jesus doen.

Herodes red sy eer en maak ‘n onskuldige dood

Ons word dieper ingelig waarom Herodes bang was.  Op ‘n meesterlike manier verduidelik  Markus Herodes se vrees met die herinnering aan die dood wat Johannes die Doper as martelaar aan Herodes se hand gesterf het.  Herodes het met sy broer se vrou, Herodias, getrou, en toe Johannes hom daaroor betig, is hy opgesluit.  Herodes was egter bang vir Johannes, omdat hy ‘n opregte en godvresende man was.  Hiervoor het Herodes respek gehad.  Herodes kon egter nie sover kom om sy moreel korrupte verhouding met Herodias te beëindig nie.

Maar, Herodias was nie bang nie.  Deur haar listigheid kry sy dit reg om Johannes dood te maak.  Herodes kies om eerder sy eer voor sy gaste te handhaaf as om ‘n belofte teenoor Herodias se dogter, Salome (volgens Josefus), te verbreek, al moet hy ‘n onskuldige aan die pen laat ry.  Die tragiese uiteinde is dat Johannes die Doper sterf.  Onskuldig.

Mag triomfeer oor onskuld.

God se koninkryk kom deur selfopofferende diens

Maar, is dit werklik so?

Ons moet erken Johannes die Doper en ook later Jesus self, delf op ‘n menslike vlak die onderspit teen die owerhede van die dag.  Johannes aan die hand van Herodes, Jesus aan die hand van die Romeinse owerhede, Pilates, en die Joodse leiers.  Mag triomfeer oor onskuld.

Maar die triomf van hierdie mag is net op die oog af so. 

In die eerste plek: mag wat só uitgeoefen word, boemerang altyd tog maar weer op die onregverdige maghebber.

Die geskiedenis leer ons dat die dood van sowel Johannes, as wegbereider, en Jesus se eie kruisdood die voorspel was tot die einde van juis die mense en koninkryke wat die mag teenoor hulle misbruik het. 

  • Herodes Antipas word later deur keiser Caligula verban na wat vandag Lyon in Frankryk is.  Sy heerskappy word dus beëindig.
  • En, die Romeinse ryk, waarvan Pilatus die maghebber in Jerusalem was, loop hom binne vier eeue te pletter teen die kruis van Jesus.  Die Romeinse ryk bestaan eintlik ironies genoeg net voort in die Rooms-Katolieke kerk, by wyse van spreke.

In die tweede plek: die verhaal leer ons dat die koninkryk van God nie deur mag en geweld kom nie, maar deur selfopofferende diens en gehoorsaamheid aan God.

Dit is so, profete word doodgemaak wanneer hulle bediening hoë aandag trek.  Die magte hou dit nie uit met die waarheid nie.  Johannes het gesterf.  En sy dood, aan die hand van politieke mag, is natuurlik ‘n profesie van Jesus se eie dood.  Onskuldig.  Albei.

Maar, in die onskuld van hulle dood, word die misterie en styl van God se regeermag openbaar.  God se oorwinning word in die teendeel geopenbaar.  God se ryk wen deur die kruis en die opstanding, en deur die gesante van die kruis en opstanding wat hierdie gebeure lewend en teenwoordig hou deur hulle lewe en woorde.

Dit is waar die bediening van die versoening, van ‘n lewe met mekaar en ‘n lewe met God sy impetus gekry het.

God is uiteindelik in beheer

In die derde plek: die verhaal help ons verstaan dat God uiteindelik in beheer is, en dat die magte hulle knieë voor God moet buig en God moet gehoorsaam. 

Dit geld alle vorme van mag en alle soorte gesagsdraers.  Waar regeerders en maghebbers hul eie koers inslaan, sonder ontsag vir God en sy gebod, is hulle op dun ys.  Konings en presidente, eerste ministers en premiers moet die knie voor God buig.  Kerkrade en dominees moet die knie buig.  Skoolhoofde, voorsitters, kommissarisse, noem maar op.

En in die vierde plek: dit is waar van ons almal.  Die meeste van ons is iewers in ‘n gesagsposisie.  Ons het verantwoordelikhede by die werk.  Ons dien op komitees en kerkrade.  Ons is die ouers van kinders.  Ons is klaskapteins of dien op leerlingrade.  En ons moet buig voor die gesag van God en God dien.

Dit laat my dink aan Psalm 2:10-12, wat so ‘n sentrale tema in die Psalms aanroer, iets wat ook in die NT weerklink:

“Wees dan nou verstandig, konings, wees gewaarsku, regeerders van die aarde! Julle moet die Here met ontsag dien, Hom met vrees en bewing toejuig en Hom onderdanig wees,  sodat Hy nie toornig word en julle op die pad omkom nie,  want sy toorn ontvlam gou. Dit gaan goed met almal wat by Hom skuiling soek.”

Ironies genoeg het koning Herodes Antipas ontsag vir God gehad.  Én vir God se gestuurde, Johannes die Doper.  Hy het egter nie die wilskrag en moed van sy oortuiging gehad om die regte ding te doen nie.  Hy misbruik sy mag.  Hy veroorsaak ellende en lyding.  Daarmee bou hy sy huis op sand.

God se werk trek publieke aandag

God se werk trek altyd publieke aandag.  Dit was regdeur die Ou Testament so.  Die oortuiging dat God regeer, is ‘n oortuiging wat in die publieke ruimte uitgeleef word.  Dit het altyd implikasies vir die openbare lewe.

Konings en vorste van alle tye is bekend daarvoor dat hulle nie van inmenging hou nie.  Tog is die kerk in die breë, gemeentes en individuele gelowiges geroep om profete te wees wat – soos Johannes – God se Woord vir die openbare lewe bedien.  Daar is ‘n ryk profetetradisie in die Bybel wat die verkondiging van God se Woord aan openbare figure en instellings verteenwoordig.  Johannes se protes oor Herodes se optrede is nie uniek nie, dit is die weg van geloof in die wêreld.

Die eerste Christene het dit goed verstaan.  Hulle noem Jesus sonder skroom Here.  “Here” is ons vertaling van die Griekse woord “kurios.”  Kurios is die ekwivalent van die Latynse “Caeaser,” die titel van die Romeinse diktator in Rome.  Daarom het die Christelike geloof van die begin af die aandag van politieke maghebbers getrek, en is Christene deur die Joodse owerhede en die Romeinse ryk vervolg.

Geloof word nie onder ‘n maatemmer versteek nie.  Geloof is soos ‘n stad op ‘n berg waarvan die lig die wêreld verlig.

Natuurlik maak ons publieke getuienis die wêreld daarom dikwels warm vir ons.  Daarom het Jesus gesê ons moet ons kruis opneem en hom volg.  Dissipelskap vra altyd ‘n prys.

En ons as gemeente kan gerus in die komende kwartaal nadink oor wat ons publieke verantwoordelikheid en ons getuienis in ‘n tyd soos hierdie behels.  In terme van die onderwys, gesondheid, werkskepping, armoede, die metropool, noem maar op.

Jesus bly die inhoud van ons getuienis

Natuurlik het Christene nie carte blanche oor die wyse waarop hulle hul getuienis lewer nie.  Jesus die Gekruisigde is die inhoud van ons getuienis.  Christus se diensbaarheid en nederigheid is ons styl.  Te veel Christene is wysneuse wat na niemand luister nie en bloot voortdonder en hul persoonlike voorkeure in ander se kele afdruk.  Te veel Christene maak partypolitieke lojaliteite hul getuienisvoorkeur.

‘n Voorbeeld hiervan is die wyse waarop talle evangeliese kerke in die VSA hulself belyn met die Republikeinse Party en eintlik ‘n partypolitieke ideaal nastreef in plaas van radikale gehoorsaamheid aan Jesus Christus.  Vroeër het die NG Kerk ook sy getuienis uitverkoop aan die politieke ideale van die Nasionale Party.  Vandag nog probeer die SA regering kerklike instellings koöpteer by sy politieke agenda.

Jesus is die Here, Jesus bepaal ons getuienis, nie ons eie voorkeure nie.

Mag en maghebbers het verlossing nodig

Ons profetiese getuienis teenoor almal in gesagsposisies is gemik op die verlossing en heiliging van mag en gesag.  Johannes die Doper het teenoor Herodes Antipas getuig om hom op die regte weg te begelei.  Herodes het sy broer se vrou afgeneem.  Herodes het op die magtelose getrap, en sy mag misbruik.  Hy en sy magsuitoefening het verlossing nodig.

Dit is iets wat die Arkansas regstelsel ook sal moet leer.  Ten spyte van die status van die drie tieners – al drie kom uit haglike omstandighede en twee van hulle het voorheen met die gereg gebots, dus nie noodwendig voorbeeldige mense nie – moet die weerloosheid van tieners (een van hulle het ‘n IK van 72 en is aan ‘n onmenslike marteling van ‘n ondervraging onderwerp waar hy uiteindelik net gesê het wat die polisieman vir hom voorgesê het, wat ‘n skulderkenning onder dwang ingesluit het) nie gebruik word om ‘n vooropgestelde perspektief te bevestig, uiteindelik om jou eie beeld en standpunte te verdedig nie.

Ons getuig nie om die magte en ampsbekleërs ten gronde te rig, te vernietig of te oorwin nie.  Ons getuig om te reinig, te heilig en te verlos.  Dit is ten diepste wat Gereformeerdheid ook beteken – die heiliging van die lewe.  Ons is sout en suurdeeg wat bederf keer en die wêreld vernuwe.  Ons doen dit vanuit ‘n posisie van nederige onmag en diens.  Ons doen dit terwyl ons luister en insig ontwikkel in die komplekse besluite wat maghebbers moet neem, en beide hulle voorbidders en hulle gewetens word.

Tragedie of Triomf?

Dis ‘n tragiese verhaal wat in ons teksgedeelte afspeel, meer tragies as die verhaal van die West Memphis 3.  Die wegwyser na die Messias, Johannes die Doper, kom tragies en voortydig aan sy einde.  Hoe anders sou mens nie wou hê Johannes se lewe moes eindig nie!

Tog was Johannes getrou as getuie van die Here, en het hy sy taak voltooi, ‘n belangriker taak as enige ander profeet voor hom, die aankondiging van die Messias self, soos Jesus self aan Johannes erkenning sou gee.  Daarvoor kan ons Johannes onthou en sy voorbeeld navolg, al leer dit ons dat dissipelskap altyd ‘n prys kos.

Deur Johannes is die vaandel van die koninkryk hoog gehou, triomfeer God se koninkryk uiteindelik oor die mag van hierdie wêreld.  Nie deur mag en geweld nie, maar deur diensbaarheid en opoffering.

God stuur ons om te leef

Gebed

Dankoffers

Lied 286 Here God van liefde, waar ons ook mag gaan – staan

Seën

Amen

Respons

Lied 286 Heer Jesus , laat ons nooit alleen  … (laaste 4 reëls) – staan

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.