Skip to main content

Selfprysgawe in navolging van Jesus – 2 Timoteus 2:8-15

Ek het vanoggend die woord van die Here gebring uit die eerste hoofstuk van 2 Timoteus.  Die punt wat ek gemaak het, is ook iets waarvan ons vanaand kennis moet neem.

Die verhouding tussen Paulus en Timoteus is vir ons ’n voorbeeld.  Dit wys ons hoe kerkwees werk.

  • Die kerk moet nie net uitbrei oor die grense van kultuur en taal en volk nie.
  • Dit moet ook uitbrei oor die grense van generasies.

As ons horisontaal uitbrei na ander mense, maak die kerk ’n verskil in ons eie tyd.  As ons vertikaal uitbrei van geslag tot geslag, maak die kerk ’n verskil in die geskiedenis van die wêreld.  Geloof moet oor die grense van die generasies bars.  Daarsonder sal ons doodgewoon sterf.

As jy dus ’n Paulus is (of ’n Priscilla of ’n Febe of ’n Junia of een van die ander groot vroue in die kerk van daardie tyd) – effe gevorderd in jare, al vaardig in die Christelike lewe en in die uitleef van jou roeping, dan moet jou fokus altyd ook daarop wees om met jou voorbeeld jonger gelowiges te inspireer om die geloofstryd te stry.

Paulus sê hier vir Timoteus, jy het vier ankers nodig om jou stewig te hou in die storms van die lewe.  Een daarvan is jou voorgangers.  Paulus sê dus van homself, hy is een van die ankers.  Só is dit met elke gelowige wat al ’n pad met die Here geloop het.

En jy het ’n gehoor nodig dat daardie pad gesien kan word.  Nie net in eie kring nie, maar in ’n doelbewuste intensionele uitreik na jonger gelowiges, terwyl jy jou eie bediening voluit uitvoer.

Die Christelike lewe werk met mentorskap.  Dít is hoe die geloof aangegee word.

  • Paulus het vir Timoteus en Titus en Tigikus (wat hy so pas gestuur het om vir Timoteus in Efese te gaan help) en eintlik ’n skare ander jonger gelowiges gehad in wie se lewe hy ingebou het.
  • Barnabas het vir Johannes Markus gehad en só in sy lewe ingebou, dat Markus se aanvanklike terugdeins vir die evangelie, wat Paulus se gramskap laat opvlam het, oorgegaan het in ’n vrymoedige getuienis, sodat hy uiteindelik selfs met Paulus versoen is, soos ons aan die einde van dié brief lees.

Elkeen van ons het jonger gelowiges nodig om in hulle lewens in te bou.  Ons kan nie net die geloofstryd voltooi en juig daaroor dat ons die geloof behou het nie.  Ons sal net kan juig oor ons geloof, as ons weet ons het dit suksesvol aangegee, daar is ander wat die geloof sal voortdra en dit met die vier ankers wat Paulus ons aan herinner (God en sy gawes, die aanblaas van jou genadegawes deur die Gees, jou voorgangers, jou bereidheid om jou deel te doen en die ontberings te dra wat deel is daarvan).

Dit is ’n duidelike woord.  Dit is ’n tydige woord.  Dit is ’n onontwykbare woord.  Jy het die dure plig om die geloof oor die grense van die generasies aan te gee.  Anders sal jy nie net ontrou wees aan jou roeping nie, maar die kerk sal ly en mank gaan aan diegene wat die geloofstryd moet voortsit.

As jy egter ’n Timoteus is (of ’n Trifena of Trifosa, van die ander vroue wat hulle merk in die kerk van dié tyd gemaak het) – dan moet jy hierdie woord hoor om jou voorgangers te onthou, sodat jy hulle voorbeeld kan navolg.  Dit is ’n anker in die lewe.  Vir die voortgang van die geloof het jy hulle nodig, die Paulusse en die Febes.

Ek weet dit is moeilik.  Ek was self jonk, al is dit soms moeilik om te glo.  Ek weet hoe ek ouer mense ge-challenge het en hoe eiesinnig ek was.  Maar, die interessante is, in my stryd, in my verskille, in my teëstand teen allerlei, het dié wat na my geluister het, wat selfs op punte my gelyk gegee het, my gevorm en behou vir die geloof.

Ek eer daarom vanaand my voorgangers, want ek weet daarsonder sou ek nie vandag hier gewees het nie.  Jaap Weideman, Ockie Raubenheimer, Ernst Lombaard, Flip Theron, Bernard Combrinck, Bernard Lategan, ag en vele meer.  Voorbeelde: koffiekroeg as tiener, verskille oor leerstellings – dans en die doop, om net twee te noem.

Só, leef jou geloof uit in die kring van jou voorgangers, challenge, bevraagteken, doen wat die Here op jou hart lê en in daardie soms stormagtige verhouding, sal ons almal saam die geloof behou.  Sal die Christelike geloof die toets van die tyd deurstaan, sal ons in die geskiedenis ’n verskil maak, nie net in ons eie tyd nie.

2 Timoteus 2:8-15

8Onthou altyd dat Jesus Christus, ’n nakomeling van Dawid, uit die dood opgewek is. Dit is die evangelie wat ek verkondig. 9Vir hierdie evangelie ly ek verdrukking, selfs in boeie soos ’n misdadiger, maar die woord van God kan nie geboei word nie. 10Daarom verdra ek alles ter wille van die uitverkorenes sodat ook hulle die verlossing, wat daar in Christus Jesus is, en die ewige heerlikheid kan ontvang. 11Dit is ’n betroubare woord:

As ons saam met Hom gesterf het,

sal ons ook saam met Hom lewe;

12as ons in die geloof volhard,

sal ons saam met Hom regeer;

as ons Hom verloën,

sal Hy ons ook verloën;

13as ons ontrou is—

Hy bly getrou:

Hy kan Homself nie verloën nie.

Die arbeider wat goedkeuring wegdra

14Hou aan om die gelowiges aan hierdie dinge te herinner en vermaan hulle ernstig voor God om op te hou stry oor woorde. Dit het geen nut nie en is net skadelik vir die hoorders. 15Lê jou daarop toe om jou tot beskikking van God te stel as ’n arbeider wat die goedkeuring van God wegdra, ’n arbeider wat hom vir sy werk nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid suiwer verkondig.

Woordverkondiging

Martin Niemöller was, as bevelvoerder van ’n Duitse U-boot (’n duikboot) ‘n oorlogsheld uit die Eerste Wêreldoorlog.  Weens sy dapperheid het Duitsland die Orde van die Ysterkruis, eerste klas, aan hom toegeken.  Later het hy ’n invloedryke teoloog in die Duitse kerk geword.  Niemöller was vroeër ’n ondersteuner van Hitler se Nazi-beleid, maar het op grond van sy Christelike belydenis teen die Nazisme gedraai.  Hy het ’n aktiewe rol in die Duitse Belydende Kerk gespeel om die Nazi-beleid teen te staan.  Hitler het hom in die tronk gegooi op aanklagte van hoogverraad.

Vanaf 1937 tot 1945 is hy in tronke en konsentrasiekampe aangehou, waaronder Dachau.  Martin Niemöller het die doodstraf net-net vrygespring, deels omdat Hitler besef het weerstand teen sy beleid sou verkrummel as Niemöller oortuig kon word om die Nazi’s weer te steun.  Hy stuur toe ’n voormalige vriend van Niemöller tronk toe om met hom te gaan praat.

Toe die vriend Niemöller in haglike omstandighede agter die tralies sien, sê hy: “Martin, Martin, waarom is jy hier?  Wat máák jý hier?”.  Waarop Niemöller antwoord: “En jy, waarom is jy nié hier nie?”

Oorvertel deur Amos S. Cresswell, I’ve Told You Twice (Vigo, 1995)

Paulus se testament

Die tweede brief aan Timoteus is Paulus se testament.  Hy praat hier oor sy naderende dood, oor sy lyding, dink terug aan sy eie werk in diens van die evangelie, en stel Timoteus as sy geestelike opvolger aan.  Hy is diep bewus van sy eie lyding, hoe hy in boeie geslaan is en in die tronk sit ter wille van die evangelie.  Hy is ook bewus daarvan dat die Woord van die Here nie geboei kan word nie, maar kragtig versprei met die lewegewende boodskap van Jesus Christus.

In sy testament moedig hy Timoteus aan om ook ’n arbeider te wees wat God se goedkeuring wegdra:

15 Lê jou daarop toe om jou tot beskikking van God te stel as ’n arbeider wat die goedkeuring van God wegdra, ’n arbeider wat hom vir sy werk nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid suiwer verkondig.”

Daarmee gee Paulus, die man wat self alles prysgegee het om ’n arbeider te wees wat God se goedkeuring wegdra, die mantel aan Timoteus oor.  Paulus se voorbeeld van self-prysgawe, sy self-verloënende roepingsgetrouheid, is sy bemaking aan Timoteus.

Die paradoks van God se trou

Hoe lyk ’n arbeider wat die goedkeuring van God wegdra?

In ons wêreld is daar baie stemme wat sê gehoorsaamheid aan God is ’n goeie belegging.  Ons noem dit voorspoedsteologie.  As jy doen wat die Here sê, sal dit goeie opbrengste oplewer.  Christene is veronderstel om voorspoed te geniet.  God gee graag, en sal die sluise van die hemel ooptrek vir diegene wat doen wat Hom behaag.  God gee graag, en volgens hierdie skyn-teologie is al die opbrengste van gehoorsaamheid altyd – jy het reg geraai – materieel van aard.  Daar sal baie geld wees, goeie gesondheid, van die beste om te geniet, die goeie lewe!

Daar is baie beloftes in die Bybel wat kwistig aangehaal kan word om gehoorsaamheid-as-belegging-vir-materiële-voorspoed te onderstreep.

Nou, natuurlik is die wêreld goed geskep, behoort die kosmos aan God, en gee die Here vir ons oorvloediglik.  Die probleem ontstaan wanneer die voorspoed wat ons van God verwag die kruis probeer systap.  God se beloftes van trou en versorging is vir diegene wat die kruis van Christenskap opneem en Jesus in hierdie wêreld volg.

’n Goeie voorbeeld hiervan is Matteus 28:18-20.  Die opdrag om dissipels te maak en getuies te wees – wat op sy beste ’n hoogs riskante onderneming is – word omraam met die wonderlikste beloftes vir diegene wat getrou is: “Alle mag is aan My gegee…”, “Ek is altyd by julle…”

Dit is soos Paulus dit beleef het.  Hy ly verdrukking, hy is in boeie soos ’n misdadiger, daar word van hom verwag om baie te verdra (2:9-10), maar sy getrouheid dra vrug.  Die evangelie kan nie geboei word nie, die evangelie bring reg oor die wêreld vir diegene wat dit aangryp die vrug van die ewige lewe voort (2:10).  In sy boeie staan Jesus hom by.  Jesus gebruik sy boeie in diens van die evangelie.

Die paradoks is dat getrouheid aan die evangelie vir ons verdrukking en boeie bring, terwyl ons getroue getuienis die evangelie self lanseer om die wêreld op arendsvlerke ter verower.

Deur jouself en jou vryheid prys te gee, deur jouself te verbind aan die evangelie, bring jy lewe vir ander.  Jou boeie breek die kettings wat ander verslaaf. 

Só word jy ’n arbeider wat God se goedkeuring wegdra.  SELFPRYSGAWE is dus die eerste fokus.

Selfprysgawe die geheim van ons aardse lewe

Die Skrif sê immers vir ons, wie op hierdie aarde sy lewe wil behou, moet dit prysgee.  Die evangelie illustreer hierdie waarheid in Paulus wat geboei in die tronk sit.

Selfprysgawe is nie net ’n geestelike beginsel nie.  Dit is diep ingemessel in die vesel van die skepping self.  Selfprysgawe maak lewe moontlik.  Bome neem voedingstowwe diep uit die aarde op, meng dit met koolsuurgas en skep wonderlike vrugte.  In die proses word suurstof vrygestel wat lewe moontlik maak.  Mens en dier eet die vrugte, kry energie en lewe.  Uiteindelik sterf ons, en keer terug tot stof.  Ons deel ons atome, ons biochemiese samestelling, weer met die aarde, wat dit gebruik om lewe te skep vir nuwe lewende wesens.

Ons is deel van ’n geskape siklus waarin almal die voorreg het om te neem, maar ook die verantwoordelikheid om te gee.  Alle skepsels doen dit terwyl hulle lewe, maar ook in hulle sterwe.

Ons het in ons eie tyd helde soos Martin Niemöller nodig, eersteklas helde van die Houtkruis, die boom wat lewe gee.

Die lewende Hoop

Waarom maak dit sin om vir die evangelie in boeie te sit?  Om op te offer?

Want Paulus verkondig ’n lewende Christus.  Vers 8 begin daarom met “Jesus Christus” – die naam Jesus plaas die mensheid van Christus op die voorgrond, die “nakomeling van Dawid”.  Hierdie Jesus is weens sy getrouheid tot in die dood aan die kruis deur God opgewek, “Here”, “Christus” gemaak.

In die Naam van Jesus maak dit sin om jou in getrouheid aan die evangelie in boeie te laat slaan, om jouself prys te gee.  Daarom haal Paulus die bekende Christelike lied uit daardie tyd aan – die betroubare woord:

As ons saam met Hom gesterf het,

sal ons ook saam met Hom lewe;

as ons in die geloof volhard,

sal ons saam met Hom regeer;

as ons Hom verloën,

sal Hy ons ook verloën;

as ons ontrou is —

Hy bly getrou:

Hy kan Homself nie verloën nie.

Ons selfprysgawe wat tot opoffering en selfs boeie lei, geskied nie ter wille van ’n mooi idee of ’n lofwaardige ideaal nie.  Mens moraliseer nie maar bolangs wanneer jy die deugdelikheid aanhang van self-prysgawe nie.  Ons loop in die voetspore van Jesus.  Hy het ook vir ons geroep, en gesê: “Volg My”.

Omdat ons dus sy stem gehoor het, omdat ons sy kragtige opdrag gehoor het, omdat ons lewend gemaak is deur die Gees, omdat ons gelei word deur die Woord van die lewende Christus, dáárom stap ons die pad, watter draaie en kronkels dit ook al maak.  Die lewende Hoop, die Een wat verheerlik is, gaan ons voor.

’n Arbeider wat God se goedkeuring wegdra, volg vir Jesus.  OM JESUS TE VOLG, is dus die tweede fokus, die rede waarom ons die eerste fokus, selfprysgawe, kan navolg.  Dit is Hy wat ons die krag gee om die stryd te stry en nie moeg te raak en uit te sak nie.

Want, Hy bly getrou, selfs al is ons ontrou, selfs al kry ons dit nie reg om oral en altyd ons self prys te gee nie.

Dít is die tipe evangelie wat die toets van die tyd kan deurstaan, 1) die bereidheid om alles te gee vir die evangelie en 2) jou oog gefokus op Jesus, die Begin en die Voleinder van ons geloof.  Dit is wat ek wil aangee.  Dit is trouens wat ek saam met julle verder wil ontgin.  Dit is wat ook na die volgende geslag moet gaan.  En óns is daarvoor verantwoordelik, elke enkele een van ons.  Sela.

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.