Hou vas aan die woorde van God – Openbaring 22:6-21

Ons sluit die kerkjaar af met ‘n boodskap uit Openbaring 22 wat ons verseker van die spoedige en besliste wederkoms van die Here Jesus as aanmoediging om vas te hou aan die woorde van God. Ek sluit aan by ons behoefte om iets van die toekoms te weet, iets wat ek ook in die reeks oor Jesaja in Desember gaan doen. Vandag gaan dit egter oor wat God vir ons in Openbaring van die toekoms openbaar.

Download English translation: Keep the words of God – Revelation 22_6-21

HIER VOLG DIE HELE EREDIENS:

Tema: Hou vas aan die woorde van God – Openbaring 22:6-21

NGK Somerstrand 09:00 24 November 2019 Sondag van Christus die Koning

Vooraf

  • MTR Smit Kersboomfunksie verlede Vrydagaand en Kerspartytjie Saterdag – Laetitia Greyling – PowerPoint (loop continuously)

Verwelkoming en Aankondigings

  • Kersfees Kermis – Esmé Dorfling
  • Kerssangdiens – Janneke Jacobs
  • Reeks Jesaja vir Desember. Invalshoek is die Emmausgangers: “Het ons harte nie in ons gebrand toe Hy met ons langs die pad gepraat en die Skrifte vir ons uitgelê het nie?” (Luk 24:32) Jy ken die verhaal goed. Jesus op pad na Emmaus met Kleopas en sy maat. Wat minder bekend is, is dat hierdie tipe gesprek meer as agt eeue gelede al voorspel is. Deur Jesaja (Jes 2:3). Soos Jesaja Jesus se geboorte uit die maagd Maria voorspel het (Jes 7:14). Ook Jesus se vervulling met die Heilige Gees (Jes 11:1). Laat die Here Jesus hierdie Kersgety toe om ook jou hart te laat brand. Deur die Skrifte vir jou uit te lê deur die bril van die NT. Ons lees ses gedeeltes uit Jesaja. Aangewys deur die RCL leesrooster. Soos Jesus en die skrywers van die NT Jesaja aanhaal en toepas.
  • Twee boeke te koopJesus se geboorte en kinderjare (R80) – Die Bergrede (R100) – wins aan sendelinge
  • Eenjaar Bybelleesprogram – gedeelte uit OT, gedeelte uit NT, ‘n deel van ‘n Psalm vir jou gebede, ‘n bydrae uit Spreuke vir jou lewe – min of meer 4 hoofstukke ‘n dag

Toetrede

Ons sluit die kerkjaar af met ‘n boodskap uit Openbaring 22 wat ons verseker van die spoedige en besliste wederkoms van die Here Jesus as aanmoediging om vas te hou aan die woorde van God. Ek sluit aan by ons behoefte om iets van die toekoms te weet, iets wat ek ook in die reeks oor Jesaja in Desember gaan doen. Vandag gaan dit egter oor wat God vir ons in Openbaring van die toekoms openbaar.

Lied 170 2x Heilig, heilig, heilig (sit)

Votum en Seëngroet

Lofsang

Lied 590 Het jy gehoor (staan)

Lied 168 Heilige Jesus (staan)

Kindertyd

Ek wil met julle oor die wederkoms praat. Wat is die wederkoms?

Paulus sê vir ons oor die wederkoms in die Bybel:

Lewe vir Jesus

Kyk hoe laat is dit al. Die groot dag van die Here is naby. Dit is baie nader aan ons as toe ons tot bekering gekom het. Word wakker! Die nag is verby; dis amper dag. Kom ons laat staan al ons sondes. Ons moet net doen wat die Here sê. Dronkpartytjies, lelike dinge en ’n bakleiery is uit. Leef soos wat ons Here Jesus Christus sê. Dan sal julle nooit lelike dinge doen nie. (Romeine 13:11-14)

Hoe word julle wakker in die oggend? Hoe gebeur dit dat julle eindelik betyds is vir skool?

Gewoonlik is daar ‘n Mamma wat lank voor die kinders besig en aan die gang is in die kombuis. ‘n Mamma wat dan haar kind saggies en stadig wakker maak om aan die gang te kom.

Maar daar is ook kinders wat ‘n eie wekker langs die bed het.  Dit is gewoonlik ‘n radio/wekker wat mens kan stel sodat die alarm aanskakel op die tyd wat jy wil wakker word. Of ‘n alarm op jou selfoon.

Maar so ‘n wekker of alarm het ook ‘n “snooze” knoppie, ‘n “sluimer” knoppie. As jy daardie knoppie druk nadat die wekker of alarm aangeskakel het, dan raak die alarm stil vir nog so 5 of 10 minute. Vandaar die woord “snooze” of “sluimer”. Dan kan jy nog lekker vir 5 of 10 minute “snooze”/ “sluimer” voordat dit weer aanskakel om jou wakker te maak.

Maar die “sluimer” knoppie is nie noodwendig ‘n goeie ding nie.

Die “sluimer” knoppie het twee probleme.

Die eerste probleem is dat jy kan bly sluimer en op die ou end verslaap, sodoende jy laat sal wees en iets belangriks mis. As jy aanmekaar die knoppie druk gaan jy op die einde laat wees vir skool. Want jy hoef net die “sluimer” knoppie te druk om nog lekker in te sluimer.

Die tweede probleem is dat jy so gewoond aan die klank van die alarm kan raak, waaraan jy jou in elk geval nie steur nie, dat jy net kan bly slaap. Jy hoor later nie eers meer die alarm nie.

Nou, sommige mense dink dat jy die Here se roepstem ook kan “snooze”… God wil hê dat ons net doen wat Hy wil hê, en al wat ons wil doen, is om te doen wat ons wil doen.

Baie mens druk dan op die “sluimer” knoppie en sê dis nie nou geleë nie, die Here moet so bietjie later weer roep.

Baie mense gebruik die “sluimer” knoppie soveel keer hulle hoor nie eers meer die Here se stem nie. Een oggend skrik hulle uiteindelik wakker en besef dis te laat. Hulle het God se roepstem heeltemal verpas.

In ons teks gaan so ‘n Goddelike wekker af:

Paulus wil eintlik vir ons leer dat ons mooi moet luister wanneer die Here ons aandag soek. Ons moet nou uit die slaap wakker word en vir die Here leef want die tyd van ons verlossing is naby!

Kyk hoe laat is dit al. Die groot dag van die Here is naby. Dit is baie nader aan ons as toe ons tot bekering gekom het. Word wakker! Die nag is verby; dis amper dag. Kom ons laat staan al ons sondes. Ons moet net doen wat die Here sê. Dronkpartytjies, lelike dinge en ’n bakleiery is uit. Leef soos wat ons Here Jesus Christus sê. Dan sal julle nooit lelike dinge doen nie. (Romeine 13:11-14)

Daar is twee dinge wat God wil hê ons moet doen.

  1. Om ons sonde te laat staan.
  2. En om te doen net wat Hy vir ons sê.

Dan sal ons gereed wees vir sy wederkoms!

Lied 599 v 1 As Hy weer kom (staan)

Dankoffers

Voorbidding

Vir die herstel van Ansie Delport, Rina de Wet-Badenhorst, Marlein van Deemter ná operasie. Dieselfde vir Philip Rautenbach. Vir die behandeling van Sarel Schoombie en Jean Struwig. Vir die saamleef met uitdagings vir Henry Rautenbach en Willie Vermaak. En natuurlik nog talle ander.

Toewyding

Lied 601 v 1 en 4 Die wat die Here wil dien (sit)

Skriflesing en Prediking

Hou vas aan die woorde van God – Openbaring 22:6-21

Voorspellings. Hoe akkuraat kan ons die toekoms voorspel?

1. Kom ons neem waarsêers se voorspellings

Interessant dat hulle “waar”-sêers genoem word. Hulle gee voor dat hulle die waarheid oor die toekoms vir jou kan voorspel. Teen betaling natuurlik. Hoe akkuraat is hulle?

Kom ons neem Tarot kaarte. Kan hulle die toekoms voorspel? Ja, sê een webtuiste, Tarot kan die toekoms voorspel, maar slegs daardie dele van die toekoms wat jy alreeds in jou huidige lewe geskep het. Ook daardie toekoms wat jy kan skep as jy besluit om sekere veranderinge aan te bring.

Tarot kaarte is dus net ‘n riglyn, iets wat jy eintlik self waar maak. Jy vervul self jou idee van die toekoms … of nie. Dit hang van jou eie inset af.

2. Miskien is daar ander voorspellings waarop jy meer peil trek. Die beweging van die markte?

Wel, luister na die woorde van Jason Zweig, skrywer van The Devil’s Financial Dictionary. Hy beskryf voorspelling van die markte as volg:

“the attempt to predict the unknowable by measuring the irrelevant; this task employs most people on Wall Street.”

Soos Proinsias O’Mahony in ‘n artikel skryf:

“The stock market is like a beauty contest where you make money not by selecting which face you think is the prettiest, but by guessing who others will think the prettiest.”

Dit keer mense natuurlik nog nie om voorspellings te soek en te glo nie, al is dit net om in die illusie te leef dat hulle geld op die regte plek belê is. As iets verkeerd loop, kan hulle ten minste die voorspeller beskuldig. Hulle sal nooit hulleself verkwalik, omdat hulle gedink het hulle kan verder sien as wat hulle neus lank is nie …

3. Kom ons neem iets wat die pretensie het dat dit ‘n bietjie meer wetenskaplik is. Weervoorspellings. Hoe akkuraat is dit?

Weervoorspellers is net 100% akkuraat as hulle sê wat die weer tans is. Hulle kyk by die venster uit en sê wat aangaan. Maar hulle vermoë om in die toekoms in te kyk – selfs met die mees gesofistikeerde apparaat en rekenaar modelle – is baie beperk. Hulle is darem 90% akkuraat as hulle vyf dae vooruit skat. 80% as hulle sewe dae voor uit skat. Die akkuraatheid daal tot minder as 50% as hulle tien dae vooruit probeer skat (https://scijinks.gov/forecast-reliability/).

En moenie dink weervoorspellers probeer nie!

  • Hulle het geostatiese satelliete so 36 000 km hoog in die lug wat dieselfde spoed as die aarde draai sodat hulle konstant ‘n area kan dophou om te sien wat die veranderinge in weerpatrone is.
  • Hulle het pool-wentelende satelliete wat ‘n bietjie laer op 800 km hoog in die lug van pool tot pool om die aarde wentel tot 14 keer ‘n dag wat hoë-resolusie beelde neem van die weerpatrone en die kleinste veranderinge kan monitor.
  • Dan is daar ook diep-ruimte satelliete wat regtig hoog wentel om die aarde, 1,6 miljoen km hoog, en ook die son energie meet, en veranderinge in die osoonlaag, en die invloed op weerpatrone probeer bereken.

Al die tegnologie … vir tien dae voorspellings vooruit. Dit is nie eers 50% akkuraat nie.

Wat ‘n mens net so ‘n bietjie versigtiger maak vir die voorspellings oor klimaatverandering. Al Gore het in sy voorspellings beweer dat die pole teen 2014 sonder ys sou wees … dit het toe nie gebeur nie.

Daar is net een wat weet wat in die toekoms lê, en dit is God.

Dawid skryf in Psalm 56 as die Filistyne hom gevange neem in Gat:

“U het self my lotgevalle opgeteken. Staan dit nie in u boekrol nie? Hou tog my trane in u leersak;  dan sal my vyande terugdeins op die dag wanneer ek roep. Dit weet ek: God is met my.” (Ps 56:9-10)

Al my lotgevalle is in u boekrol opgeteken. Selfs my trane, sê Dawid.

God ken die toekoms. God bepaal die toekoms. God sê wat gaan gebeur, en dan gebeur dit. Dit is die eenvoudige en fundamentele waarheid oor God.

Die bewys daarvan sien ons in die talle profesieë van die OT wat in die NT vervul is. Daar is sowat 332 voorspellings in die OT wat uitdruklik in die NT aangehaal word, hetsy as voorspellings wat in Jesus se lewe en bediening vervul is, of as voorspellings van Jesus se karakter (Arthur Pierson, Many Infallible Proofs). Dit sluit nie die minder direkte verwysings daarna in die NT in nie …

Volgens die wet op wiskundige waarskynlikheid bestaan daar ‘n 84 gevolg deur 98 nulle kans dat al hierdie voorspellings deur een enkele mens vervul sou kon word. Nodeloos om te sê, so ‘n “kans” is so onmoontlik dat die enigste logiese alternatief is om te aanvaar dat ‘n alwetende en almagtige God hierdie gebeure en besonderhede akkuraat voorspel het en dit toe in Jesus Christus vervul het.

Die presiese vervulling van letterlik honderde profesieë van die OT in die NT, wat in die meeste gevalle baie eeue uit mekaar gebeur het, bewys bo alle redelike twyfel die goddelike inspirasie van die Skrif, en hul bonatuurlike gesag en waarheid.

Van die belangrikste profesieë wat in Jesus Christus vervul is, lys ek sestien hier. Daar is honderde:

  1. Die voorspelling van die presiese geboorteplek van die Messias in Bethlehem (vgl Miga 5:2 met Matt 2:4–6 en Luk 2:1–7)
  2. Die moontlike voorspelling van die tyd van Jesus se geboorte uit Daniël 9 aan die hand van die historiese besluit om die mure van Jerusalem te herbou totdat die Messias sou verskyn (vgl Dan 9:25–26a en my bydrae by com)
  3. Die voorspelling van die maagd wat ‘n seun sou baar wat goddelik sou wees en in Maria vervul is (vgl Jes 7:14 en 9:6–7 met Matt 1:18–25 en Luk 1:30–35)
  4. Jesus as die nageslag van Abraham in wie al die geslagte van die aarde geseën word (vgl Gen 12:1-3,7 met Luk 3:34, Hand 3:25, en Gal 3:16)
  5. Jesus as die nageslag van Dawid wat vir ewig oor die huis van Jakob sou regeer (vgl 2 Sam 7:16 met Luk 1:31-33)
  6. Die voorbereidingswerk van Johannes die Doper en die koms van die Here na sy tempel (vgl Mal 3:1 met Matt 11:3)
  7. Jesus as die Messias met sy bediening van verlossing (vgl Jes 61:1-3 met Luk 4:17-20)
  8. Jesus as die nederige Koning Jerusalem op ‘n donkie sou binne ry (vgl Sag 9:9 met Matt 21:4–10)
  9. Jesus as die Dienskneg van die Here wat Hom aan lyding sou oorgee (vgl Jes 50:4-9 met Matt 26:67; 27:26, 30; Joh 19:1)
  10. Jesus as die Herder wat vernietig sou word en sy kudde van dissipels wat verstrooi sou word (vgl Sag 13:7 met Matt 26:31 en Mark 14:27)
  11. Jesus aan die kruis se verlatenheid, gespot en kruisiging, die een wat groter as Dawid sou wees (vgl Ps 22:1, 6–8, 11–18 met Matt 27:35-46)
  12. Jesus wat as die Seun van God deurboor sou word (vgl Sag 12:10 met Johannes 19:37)
  13. Jesus as God se Heilige Een wie se liggaam nie in die graf sou vergaan nie (vgl Ps 16:10 met Hand 2:27–32; 13:35-37)
  14. Jesus as die Dienskneg van die Here wat miskien die wonderlikste profesie is van hulle almal, omdat dit so direk ‘n voorspelling van Jesus Christus is. Sy nederige afkoms, sy plaasvervangende versoeningswerk, sy begrafnis en sy opstanding word daarin voorspel (vgl Jes 52:13–53:12 met al vier evangelies se verhale. Trouens, Jesaja 52-53 word 41 keer aangehaal deur NT-skrywers as vervuld in Jesus)
  15. Jesus as die Dienskneg van die Here wat ‘n nuwe verbond van verlossing vir beide Jode en heidene sou vestig (vgl Jes 42:1–7; 49:1–7 met Matt 12:18-21)
  16. Die voorspelling van die uitstorting van die Heilige Gees met Pinkster wat die opgestane Christus belowe het om na sy hemelvaart te stuur (vgl Joël 2:28–29 met Handelinge 1:4-5; 2:16-21)[1]

Hoekom vertel ek dit vir jou? Want, hierdie agtergrond is noodsaaklik om Openbaring 22 te verstaan. Openbaring is die boek in die NT wat die meeste verwysings na en toespelings van die OT het – tussen 300-1000 afhangende hoe jy dit tel (GK Beale en SM McDonough in Commentary on the NT use of the OT – red GK Beale en DA Carson).

En in Openbaring maak Jesus self ‘n paar voorspellings oor die toekoms, dinge wat nog vervul moet word. Sodat ons dit sal hoor as komende van Een wat kán voorspel, en dit sál vervul. En ons Hom sal glo … sodat ons vashou aan sy woorde, soos Hy ons hier beveel.

Kom ons lees wat hierdie Jesus deur die engel aan die apostel Johannes sê in die laaste hoofstuk in die Bybel:

Openbaring 22:6-21

Let op hoe Openbaring 22 ’n wisselspraak is tussen ‘n engel, die Here Jesus self, die Heilige Gees, die bruid (die kerk), Johannes en die veronderstelde lesers van die boek Openbaring. Ons word dus ook ingenooi om ons stem te laat hoor met die laaste “Kom, Here Jesus, kom!”

Die eerste ding wat ons moet hoor, is die voorspelling dat Jesus weer sal kom.

1. Die Here Jesus kom beslis weer

6 Toe het die engel aan my gesê: “Hierdie woorde is betroubaar en waar. Die Here, die God van die geeste van die profete, het sy engel gestuur om aan sy diensknegte te wys wat binnekort moet gebeur.” 7 “Kyk, Ek kom gou! (vgl Openb 2:16; 3:11; 22:12,20)

Hierdie woorde is betroubaar. Dit is waar. Dit is woorde wat kom van God self. Dit is woorde wat reeds gekom het deur die profete in die OT. Let op dat die Here die God van die geeste van die profete genoem word. En dit is Hy wat sy engel gestuur het om aan sy diensknegte te wys wat binnekort moet gebeur. Moet gebeur.

Daniël is een van die profete aan wie God alreeds hierdie dinge openbaar het (vgl Dan 2:28-29,45; vgl ook Openb 1:1,19). Daniël het al van God gesê dat Hy geheime kan openbaar. Dat Hy kan bekend maak wat in die toekoms gaan gebeur. Soos Daniël aan koning Nebukadnesar geïllustreer het met die uitleg van sy rome.

Dieselfde geld van Jesus. Johannes het ons al in hoofstuk 1 bekend gestel as iemand wat die vermoë het om bekend te maak: “wat nou daar is, en wat hierna gaan gebeur.”

Dit is Jesus wat sê: “Kyk, Ek kom gou!” Ons kan dit glo. Ons kan daaraan vashou.

En dan vervolg die engel met die tweede ding wat ons moet hoor:

2. Geseënd is dié wat vashou aan My woorde

Geseënd is dié wat vashou aan die woorde van die profesie van hierdie boekrol.”

Die engel gebruik die woord tēreō vir vashou. Dit beteken om die woorde van God te bewaar, om dit te gehoorsaam, om dit uit te voer. Die ryk jongman antwoord Jesus oor sy gehoorsaamheid aan die gebooie: “Dit alles het ek nagekom.” (Matt 19:20) Dit is die konteks waarin dié woord in die NT gebruik word. Om die gebooie van God na te kom. Soos Paulus op ‘n keer aan die Korintiërs skryf: “Dit kom nie daarop aan of iemand besny is of nie, maar wel of hy die gebooie van God nakom.” (1 Kor 7:19).

Geseënd is dié wat die woorde van die profesieë van hierdie boek vashou, bewaar, gehoorsaam, uitvoer, of nakom.

Johannes is weer ‘n keer totaal oorbluf deur hierdie gesprek met die engel:

 8 Ek, Johannes, is die een wat hierdie dinge gehoor en gesien het. Toe ek dit gehoor en gesien het, het ek in aanbidding neergeval aan die voete van die engel wat hierdie dinge aan my gewys het. 9 Maar hy het vir my gesê: “Moet dit nie doen nie! Ek is net ‘n mededienskneg van jou en van jou broers, die profete, en van diegene wat vashou aan die woorde van hierdie boekrol. Aanbid God!”

Let op wat die engel sê: “Ek is net ‘n mededienskneg van jou.” Watter verstommende status, om in dieselfde asem genoem te word as die engele. “En van jou broers, die profete.” Johannes word ook gelyk gestel met die profete van die OT, ‘n Daniël en die ander. “En van diegene wat vashou aan die woorde van hierdie boekrol.” Nou is dit ons beurt om verstom te staan. Ons wat aan God se woorde gehoorsaam is, word ook in dieselfde asem as die engel genoem.

Maar, dié status is verbind aan die uitvoering van God se woorde, die tēreō, die vashou daaraan. Dit is die gemene deler tussen engele, profete en gelowiges. Dat hulle die woorde van God vashou, bewaar, koester, en nougeset uitvoer.

Waaraan moet ons vashou?

Die engel antwoord met die derde ding wat ons moet hoor:

3. Word nog meer regverdig en nog meer heilig

10 Hy het ook vir my gesê: “Moenie die woorde van die profesie van hierdie boekrol verseël nie, want die bestemde tyd is naby. 11 Wie onreg pleeg, moet nog meer onreg pleeg; wie onrein is, moet nog meer onrein word; maar wie regverdig is, moet nog meer regverdig word, en wie heilig is, moet nog meer heilig word.” (vgl Dan 12:4; Openb 1:3)

Die boodskap van Openbaring is inderdaad dringend. Dit word nie geheim gehou nie. Dit is ‘n boodskap wat almal moet hoor: onregverdiges en onreines, sowel as regverdiges en heiliges. Almal.

Die bestemde tyd is naby. Die wekker het afgegaan.

Moenie die “sluimer” knoppie druk nie! Daar is nie tyd vir verder slaap nie. Jy sal een oggend wakker skrik en dan besef dis te laat. Jy het God se roepstem heeltemal verpas. Omdat jy nie geluister het op die tyd wat God gepraat het nie.

Die agtergrond vir hierdie uitspraak lê in Daniël 12:4 waar Daniël probeer sê dat die ongelukkige waarheid is dat baie sal luister en reageer, maar ander nie. Sondaars hou aan met sondig, dié wat gehoorsaam is, groei in gehoorsaamheid. Dit is die werklikheid.

Dit is natuurlik ook ’n waarskuwing aan goddeloses dat hulle op ’n pad is wat na die verderf lei. En omgekeerd ’n aanmoediging aan gelowiges dat hulle moet volhou op die pad wat na die volle gemeenskap met God lei.

Wat Johannes hiermee maak , is om te sê, laat dit dan so wees. Almal moet hoor, veral die heiliges, sodat hulle kan vorder op die pad van heiligmaking. Maar, as die onreines dan nie wil luister nie, moet hulle maar voortgaan. Daar is geen salf aan te smeer nie. Hulle lot is verseël. Die tyd is daar vir die oordeel van God.

Want, verklaar die engel, die Here is naby:

12 “Kyk, Ek kom gou! En die beloning is by My (Jes 40:10; 62:11) om elkeen volgens sy optrede te beloon. (Ps 28:4; 62:13; Spr 24:12; Jes 59:18; Jer 17:10; Rom 2:6; 1 Kor 3:8; 2 Kor 11:15; 2 Tim 4:14; 1 Pet 1:17; Openb 2:23; 18:6; 20:13-14)

Die woord “beloning” (misthos) kan beide vir “pay” en “pay-back” gebruik word! Dit dra ‘n dubbele betekenis, want elkeen word volgens sy optrede beloon. Let op dat dit nie is vir wat jy geglo het alleen nie. Dit gaan oor jou optrede, waaraan jy vasgehou, wat jy bewaar en gekoester het, wat jy gehoorsaam het. Want geloof sonder werke is dood, het Jakobus al vir ons gewaarsku.

En dan praat die Here Jesus self, en verklaar dat sy beslissing finaal is:

13 Ek is die Alfa en die Omega (die eerste en laaste letter in die Griekse alfabet), die Eerste en die Laaste (toespeling op Jes 41:4; 44:6; 48:12 as heenwysing na Jesus Christus; vgl Openb 1:17; 2:8), die Begin en die Einde (Openb 21:6).

En Jesus herhaal die saligspreking:

14 Geseënd is diegene wat hulle stolas (‘n stola is ‘n lang toga wat ooreenstem met die Joodse talliet. Dit strek tot op die voete en is ‘n simbool van hoë status en waardigheid) was sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe (Gen 2:9; 3:22; Eseg 47:12; Openb 22:2,19) en die stad deur die poorte kan binnegaan.

Dit is die beloning, die boom van die lewe, die boom van Eden, die vrug van die ewige lewe. Die beloning van die Here Jesus dui dus nie soseer op iets wat jy verdien nie, maar op die gawe van die ewige lewe.

Hierdie beloning van die ewige lewe word gekontrasteer met dié wat nie deel van die stad sal hê nie, ’n soortgelyke lys as wat in hoofstuk 21 gegee is (lafhartiges [dié wat bang geword het], ongelowiges [dié wat ontrou geword het], losbandiges [seksuele perverte], moordenaars, onsedelikes [pornoi], towenaars [óf bedrieërs], afgodsdienaars en leuenaars):

15 (Jesus verwys hier waarskynlik terug na Paulus se lysie in 1 Kor 6:9-10 soos reeds in Openb 21:8,27 gegee) “Die honde (seksuele perverte) bly buite, ook die towenaars en die onsedelikes (pornoi – mense wat seks nie vir die huwelik hou nie), die moordenaars en die afgodedienaars en ook elkeen wat die leuen liefhet en beoefen.

En let ook op wie veral dié boodskap moet hoor:

16 “Ek, Jesus, het my engel gestuur om teenoor julle oor hierdie dinge in die gemeentes te getuig. Ek is die loot (of wortel) en die geslag van Dawid (toespeling op Jes 11:1,10 as heenwysing na Jesus Christus; vgl Rom 1:3; Openb 5:5), die helder môrester (toespeling op Num 24:17 as heenwysing na Jesus Christus; vgl Openb 2:28)

En die bron van ons regverdigheid en heiligheid is die Here Jesus sowel as die Heilige Gees self:

17 En die Gees en die bruid sê: “Kom!”  En laat elkeen wat luister, sê: “Kom!”  En laat elkeen wat dors het, kom.  En laat elkeen wat dit begeer, die water van die lewe kom kry, verniet! (Jes 55:1; Joh 7:37; Openb 21:6)

Die Gees en die bruid eggo die belofte van die Here Jesus se koms met die byvoeging dat daar nog genadetyd beskikbaar is vir dié wat dors het en luister.

Met die waarskuwing:

18 Ek getuig teenoor elkeen wat die woorde van die profesie van hierdie boekrol hoor: “As iemand iets hieraan toevoeg,  sal God die plae waarvan in hierdie boekrol geskryf is, aan hom toevoeg.  19 En as iemand van die woorde van die boekrol van hierdie profesie wegneem (Deut 4:2; 12:32), sal God sy aandeel aan die boom van die lewe (Gen 2:9; 3:22; Eseg 47:12; Openb 22:2,14) en aan die heilige stad waarvan in hierdie boekrol geskryf is, wegneem.” 20 Hy wat hierdie dinge getuig, sê:  “Ja, Ek kom gou!” (Openb 2:16; 3:11; 22:7,12)

Johannes bevestig self oor die inhoud van sy boek dat dit gesagvol is, een van die redes waarom die boek uiteindelik in die kanon ingesluit is, komende van ’n apostel wat die Here Jesus op aarde geken het.

Die boek sluit met die derde belofte van die Here Jesus Christus dat Hy op pad is om terug te keer, waarop die kerk asof in ’n liturgie antwoord:

“Amen! Kom, Here Jesus!”

Johannes sluit met die seëngroet:

21 Die genade van die Here Jesus bly by julle almal.

Gebed

Slotlied

Lied 372 Hoe glansryk blink die Môrester (staan)

Seën

Respons

Lied 601 se Refrein: Stil maar, wag maar, alles word nuut

[1] Gebaseer op gegewens in Rea, J., 1975. Prophecy, Fulfillment Of C. F. Pfeiffer & H. F. Vos, eds. The Wycliffe Bible Encyclopedia.

     

Trackback from your site.

Leave a comment

Kommentaar en navrae

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Wonderlik, Hannes!

  • Avatar

    hannes du toit

    |

    Ek ervaar vrede,vreugde en gemoedsrus omdat ek weereens bevstiging gekry het dat ek deel is van God se plan van die ewige lewe.

  • Bybelskool » Wees versigtig vir die verkeerde idees oor Kersfees

    |

    […] vier as ‘n fees van Christus, en fokus op die hoop, vrede, liefde en vreugde wat Hy bring. Lees byvoorbeeld sy geboorte en kinderverhale. Beklemtoon dat Hy die Geskenk is aan ons, en dat ons geskenke aan mekaar uit dankbaarheid is vir […]

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Hi Hilda, julle is welkom om dit te gebruik. Alles op die webtuiste is beskikbaar vir gebruik. As julle dit druk om uit te deel, plaas net ‘n kort erkenning aan die onderkant daarvan.

  • Avatar

    Hilda Johansen

    |

    Baie Dankie vir die inspirerende Adventkrans idee vir ‘n kleingroep afsluiting..
    Ons is ‘n klein groepie van 10 vrouelidmate uit wyk 2 van Hawe van Heil NG gemeente Saldanha en hierdie is die perfekte manier om die jaar af te sluit.
    Ons hoop dat u nie sal omgee as ons die idee by ons afsluiting Dinsdag 26.11.19 gebruuik nie,
    Nogmaals Dankie.
    Seen wense
    Hilda Johansen