Wandel in die lig van die Here – Jesaja 2:1-5 en Lukas 24:13-36

Ons oë is baie belangrik. Dit is een van die kosbaarste gawes wat ons het. Watter vreugde is dit nie om ‘n sonsondergang te kan waarneem nie. Watter voorreg is dit nie om in die oë van ‘n geliefde te kyk en die aanvaarding en vertroue daarin te kan raaksien nie.

Om te kan sien, is wonderlik. Wanneer ons dus probleme met ons oë ervaar, is dit daarom ‘n groot uitdaging, ‘n groot verlies. En ek praat nie eers van totale blindheid nie. Ek praat net van een of ander gebrek. Dit kan baie inhiberend wees.

Die probleme met ons fisiese oë is egter kleingeld in vergelyking met die probleme met ons geestelike oë. Soos Helen Keller een keer gesê het – en onthou sy was nie net blind nie, ook heeltemal doof – “The only thing worse than being blind is having sight but no vision.”

Dit was die probleem met Israel in die tyd van Jesaja. Hulle het oë gehad, maar hulle kon niks sien nie. Hulle was siende blind. Hulle het oë gehad, maar hulle kon nie vir God en sy wil vir die lewe raaksien nie.

Daarom roep Jesaja vir Israel tot bekering. Maar, weet ons, tevergeefs. Uiteindelik ná twee eeue van waarskuwings het die Here hulle in ballingskap weg laat voer. Duisternis het oorgeneem.

Tog is dit nie al wat Jesaja vir die volk gesê het nie. Ten spyte van hulle blindheid praat Jesaja in hoofstuk 2 van ‘n nuwe toekoms wat gaan aanbreek. Van ‘n tyd waarin die volk van God sal wandel in die lig van die Here.

Van ‘n “advent” wat God bepaal – die Latynse woord vir “koms” – ‘n parousia – die Griekse vertaling daarvan – wat in die NT ook met Jesus se wederkoms verbind word.

Download English translation: Walk in the light of the Lord.docx

HIER VOLG DIE HELE EREDIENS

“Het ons harte nie in ons gebrand toe Hy met ons langs die pad gepraat en die Skrifte vir ons uitgelê het nie?” (Luk 24:32)

Verwelkoming en Aankondigings

  • R100 000 ingesamel met die Kersfees-Kermis! Dankie Esmé Dorfling en ‘n span van seker tussen vyftig en ‘n honderd mense. Julle sou uit die foto’s kon sien dat ons dit geniet het!
  • Twee boeke in die voorportaal: Jesus se geboorte en kinderverhale. Die Bergrede. Opbrengs vir ons sendelinge. Goeie Kersgeskenk. Kleingroepe sal dit goed kan benut.
  • Eenjaar Bybelleesprogram. Neem ‘n eksemplaar. Gee ook jou selnommer vir ‘n Whatsapp groepie. Julle kan vrae daar vra en kommentaar lewer.

Toetrede

Lied 329 Want so lief het God die wêreld gehad – koor 1x gemeente 1x (sit)

Votum en Seën

Lofsang

Lied 330 v 1 (koor) Die volk wat in die donker wandel oor hulle het ‘n lig geskyn

Vonkk 83 (gemeente) Kom ons wandel in die lig van God (staan)

Vonkk 209 Gaan met die blye boodskap (staan)

Dankoffers

Koor: Die lofsang van Maria (Lukas 1: 46-50)

Voorbidding

Toewyding

Lied 511 Lei U ons, Lig (sit)

Skriflesing en Preek

Jesaja 2:1-5 (Lukas 24:32) – Wandel in die lig van die Here

Om te kan sien

Ons oë is baie belangrik. Dit is een van die kosbaarste gawes wat ons het. Watter vreugde is dit nie om ‘n sonsondergang te kan waarneem nie. Watter voorreg is dit nie om in die oë van ‘n geliefde te kyk en die aanvaarding en vertroue daarin te kan raaksien nie.

Om te kan sien, is wonderlik. Wanneer ons dus probleme met ons oë ervaar, is dit daarom ‘n groot uitdaging, ‘n groot verlies. En ek praat nie eers van totale blindheid nie. Ek praat net van een of ander gebrek. Dit kan baie inhiberend wees.

‘n Mens se oë raak natuurlik ook al minder sensitief soos jy ouer raak. Ek onthou met my laaste oogtoets by die verkeersafdeling – toe ek dit sonder my bril wou doen, sodat dit nie op my lisensie aangeteken hoef te word nie – hoe moeilik ek die syfers raakgesien het tussen al daardie kleurkolletjies op die skyfie. Net-net deurgekom. Volgende keer sal ek maar my bril moet aansit.

Kleurblindheid is daarby ook ‘n probleem op sy eie. ‘n Mens kan saamleef met kleurblindheid. Daar is selfs sommige kunstenaars wat blykbaar kleurblind was. Hulle kon steeds groot kunswerke lewer. En kleurblind mense sien regdeur kamoeflering, want hulle werk met tekstuur en vorms om dinge te kan herken.

Maar, kleurblindheid is steeds ‘n groot probleem. Met verkeersligte. Met klere. Met kos. Met legkaarte. Daar is heelwat beroepe wat jy nie kan volg as jy kleurblind is nie. Loodse moet perfekte visie hê. Soos ook treindrywers en hyskraanoperateurs.

Kleurblindheid kom voor wanneer ligsensitiewe selle in die retina nie op ‘n gepaste manier reageer op variasies in golflengtes van lig wat mense in staat stel om ‘n verskeidenheid kleure te sien nie. Fotoreseptore in die retina word “rods and cones” genoem, stafies en keëls.

Daar is drie soorte kleurblindheid, gebaseer op fotopigmentdefekte in die drie verskillende soorte keëls wat reageer op blou, groen en rooi lig. Rooi-groen kleurblindheid is die algemeenste, gevolg deur blou-geel kleurblindheid. ‘n Volledige afwesigheid van kleurvisie – totale kleurblindheid – is skaars.

Jy kan probeer om met lense die gebrek aan die onderskeiding van kleur reg te stel. Daar is wonderlike video’s beskikbaar van mense wat vir die eerste keer al die kleure kan onderskei (William Reed bv: https://youtu.be/hqHlIRZnF38). Maar, dit werk nie vir almal nie.

Israel was blind

Die probleme met ons fisiese oë is egter kleingeld in vergelyking met die probleme met ons geestelike oë. Soos Helen Keller een keer gesê het – en onthou sy was nie net blind nie, ook heeltemal doof – “The only thing worse than being blind is having sight but no vision.”

Dit was die probleem met Israel in die tyd van Jesaja. Hulle het oë gehad, maar hulle kon niks sien nie. Hulle was siende blind. Hulle het oë gehad, maar hulle kon nie vir God en sy wil vir die lewe raaksien nie.

Die Here kla in Jesaja 1 dat ’n os sy besitter ken en ’n esel die krip van sy eienaar, maar Israel het geen kennis van God nie. God se volk verstaan nie. Hulle het die Here verlaat. Hulle het die Heilige van Israel verag. Hulle het weggedraai van Hom af.

En selfs al slaan die Here hulle op verskillende maniere met oorloë en droogte, hulle luister nie. “Van die voetsool af tot die hoof toe is daar geen heel plek aan nie, maar wonde en kwesplekke en vars houe,” sê die Here!

Dit is swaar vir die Here, maar hulle het nou oorgebly soos ’n skermpie in ’n wingerd, soos ’n slaapplekkie in ’n komkommertuin, soos ’n beleërde stad. Trouens, as die Here nie ’n klein oorblyfsel oorgelaat het in die land nie, sou hulle soos Sodom en Gomorra geword het. Heeltemal verwoes.

Jesaja roep die oorblyfsel tot bekering

Daarom roep Jesaja na die oorblyfsel in Israel, kom tot bekering.

Vers 10: “Hoor die woord van die HERE, owerstes van Sodom! Luister na die wet van onse God, volk van Gomorra!”

Vers 18-19: “Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die Here: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol. As julle gewillig is en luister, sal julle die goeie van die land eet.”

Maar, weet ons, tevergeefs. Uiteindelik ná twee eeue van waarskuwings het die Here hulle in ballingskap weg laat voer. Duisternis het oorgeneem.

Wandel in die lig van die Here

Tog is dit nie al wat Jesaja vir die volk gesê het nie. Ten spyte van hulle blindheid praat Jesaja in hoofstuk 2 van ‘n nuwe toekoms wat gaan aanbreek. Van ‘n tyd waarin die volk van God sal wandel in die lig van die Here.

Van ‘n “advent” wat God bepaal – die Latynse woord vir “koms” – ‘n parousia – die Griekse vertaling daarvan – wat in die NT ook met Jesus se wederkoms verbind word.

Kom ons lees dit in Jesaja 2:

2:1Die woord wat Jesaja, die seun van Amos, gesien het met betrekking tot Juda en Jerusalem.

2En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die Here vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en al die nasies sal daarheen toestroom.

3En baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die Here, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die Here uit Jerusalem.

4En Hy sal oordeel tussen die nasies en regspreek oor baie volke; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie.

5Kom, huis van Jakob, en laat ons wandel in die lig van die Here!

Let op die derde vers wat praat van Jerusalem wat ‘n ontmoetingsplek sal wees vir almal wat van God wil leer, of, meer korrek, wat deur God geleer wil word.

Want, sê Jesaja, uit Sion sal die wet uitgaan en uit Jerusalem die woord van die Here.

Dit sal vir die Jode sowel as die nasies genesing bring, sodat hulle nie net die lig van die Here kan sien nie, maar in sy lig kan wandel.

Dit is hierdie belofte wat in Jesus in vervulling gegaan het. Hy het die wet van God, die woord van die Here vir ons geword.

En dit is hierdie belofte van Jesaja – agt eeue tevore – wat in die verhaal van die Emmausgangers in vervulling gaan.

Die verhaal van die Emmausgangers

Julle ken die verhaal van die Emmausgangers goed, Lukas 24:13-36. En onthou altyd om vers 36 by te lees, want al is dit die eerste vers van die volgende perikoop, is die Emmausgangers steeds deel van die volgende verhaal wat Lukas vertel. Ons mis dit baie keer, deurdat ons te vroeg ophou lees.

Kom ons volg die verhaal weer stap vir stap saam met hulle.

Kleopas en sy maat was op pad huis toe na Emmaus. Hulle was Jode en het gebly in ‘n dorpie so 13 km van Jerusalem. Dit was die middag van die opstanding Sondag. Hierdie twee was druk in gesprek met mekaar oor al die dinge wat hulle in Jerusalem ervaar het. Die kruisiging, die begrafnis en veral wat die Sondag gebeur het.

Terwyl hulle so praat en mekaar eintlik amper “ondervra” – onthou jy dít, onthou jy dát, waarom dink jy het dít gebeur of dát – kom Jesus self nader en begin met hulle saam loop op pad Emmaus toe.

Maar Jesus se mag was van só ‘n aard dat hulle Hom nie kon herken nie. Lukas sê vir ons, hulle oë is weerhou. Hulle kon sien, maar ook nie. Hoekom? Wel, dit is wat ons gaan uitvind in die verdere ontvouing van die verhaal.

Jesus vra toe vir die Emmausgangers: “Waaroor praat julle met mekaar?”

Hulle het botstil gaan staan. Met somber en stroewe gesigte.

Kleopas was verstom. Hy wou weet hoe dit moontlik is dat hierdie besoeker nie weet wat in Jerusalem gebeur het nie. Almal het dan daaroor gepraat. Hoe het Hy dit gemis!

Jesus het steeds gemaak asof Hy niks weet nie, en gevra: “Watter dinge?”

Toe raak hulle tonge los en vertel hulle Hom die dinge wat hulle so druk bespreek het. Die dinge oor Jesus, die een van Nasaret. Hy was ‘n profeet, sê hulle. Hy het magtige dinge gedoen en gesê, voor God en voor die mense.

Maar, ons priesterhoofde en leiers het Hom ter dood veroordeel en gekruisig. Ons het só gehoop dat Hy die Verlosser sou wees. Maar, dit is nou al drie dae dat Hy gekruisig is.

Om alles te kroon, het ‘n klomp vroue ons kom ontstel. Hulle was vanoggend vroeg by die graf. Toe hulle die liggaam nie in die graf kon kry nie ,het hulle blykbaar ‘n gesig gesien van engele wat sê dat Jesus lewe.

Van die dissipels het gaan kyk of dit so is. En die graf was leeg, maar hulle het Hom nie gesien nie.

Met dié klim Jesus onder hulle in, Hy spaar hulle nie. Hy noem hulle dwase – mense wat nie hulle verstand wil gebruik nie. Hy noem hulle ongelowiges – mense wie se harte traag is om te glo alles wat die profete lank gelede reeds voorspel het.

Hulle uitleg van die Skrif was gebrekkig. Hulle vertroue op God was ontoereikend.

Sê Jesus, dit is tog helder en duidelik uit die Skrifte dat die Christus hierdie dinge moet ly, maar dat Hy daarna in God se heerlikheid opgeneem sal word.

En Jesus het begin by die wet van Moses en regdeur al die profete vir hulle uitgelê in die hele OT – al die Skrifte – al die dinge wat op Hom betrekking het.

Sien, as jy nie die Skrif verstaan nie, kan jy nie op die boodskap daarvan vertrou nie. Verstaan en vertroue is kante van dieselfde munt. Maar, dit begin by verstaan. Vertroue is gebaseer op verstaan. En as jy nie die regte uitleg het van die Skrif nie, sal jou geloof altyd gebrekkig bly.

Die Emmausgangers het duidelik die Skrifte geken, want Jesus kon verwys daarna sonder dat hulle ‘n Bybel byderhand gehad het. Dit is só belangrik dat ‘n mens nie afskeep met jou kennis van die Skrif nie, want anders kan die Here ‘n mens ook net soveel leer.

Hulle het duidelik verder gestap terwyl Jesus vir hulle die Skrifte uitgelê het en kom toe naby die dorpie Emmaus. Kleopas-hulle nooi Jesus toe in om by hulle te kom bly.

En dit is aan die tafel waar Hy die brood breek wat die skille van hulle oë afval en hulle Hom herken. As die opgestane Here, as die Een wat die dood oorwin het.

En al verdwyn Hy daarmee uit hulle gesig, besef hulle skielik dat Jesus vir hulle ‘n sleutel gegee het om die Skrifte te verstaan en vertrou. Sy opstanding uit die dood het hulle oë oopgemaak om nie net te verstaan nie, maar te vertrou.

32En hulle sê vir mekaar: Was ons hart nie brandende in ons toe Hy met ons op die pad gepraat en vir ons die Skrifte uitgelê het nie?

Hulle het direk teruggegaan Jerusalem toe en vir die elf dissipels gaan vertel dat hulle die Here Jesus ontmoet het. Hy het waarlik opgestaan. Net om agter te kom dat die Here Jesus alreeds aan Simon Petrus verskyn het.

En meteens, terwyl hulle nog hieroor praat, staan Jesus self in hulle midde en openbaar Homself as die opgestane Here aan die hele kern dissipelkring.

Wat leer ons hieruit?

Ek dink daar is twee dinge wat ons hieruit leer.

1. Die eerste is dat ons ook siende blind kan wees soos Israel. Soms is dit ‘n blindheid wat absoluut is. Waar ons doodgewoon die Skrif verwerp, die opstanding ontken, ons doodgewoon nie steur aan dit wat die Here in sy Woord vir ons leer nie.

Soms is dit ‘n blindheid wat nie absoluut is nie. Ons is bysiende – ons neem nie die konteks van die Bybel in ag nie. Of ons versiende – ons neem nie die detail van die Bybel in ag nie.

Of ons is kleurblind. Ons sien net die blou gedeeltes in die Bybel raak, en sien nie die groen en die rooi nie. Ons sien dié dinge raak wat vir ons sin maak, wat vir ons goed is, wat vir ons reg klink. Maar, ons ignoreer die ander en is vies vir ander as hulle ons wys op die volle lig van die teks.

Dan moet ons oogsalf van die Here bid, moet ons toelaat dat Hy vir ons die hele Skrif uitlê, die wet en die profete, die evangelies en die briewe, die hele somtotaal van die Woord van God. Sodat ons kan sien en verstaan en vertrou.

2. Dit is dan ook die tweede ding wat ons moet leer. Daar is twee belangrike komponente van ons lees van die Bybel. Ons moet die Bybel lees totdat ons dit verstaan. Ons moet die Bybel lees totdat ons die boodskap daarvan vertrou.

Dit is wat die Heidelbergse Kategismus vir ons in vraag 21 sê oor die ware geloof. Dit is nie alleen ‘n vasstaande kennis waardeur ek alles wat God in sy Woord aan ons

geopenbaar het (a) vir waar aanvaar nie, maar ook ‘n vaste vertroue (b) wat die Heilige Gees (c) deur die evangelie in my hart werk (d), naamlik dat God nie net aan ander nie, maar ook aan my uit loutere genade, slegs op grond van die verdienste van Christus (e), vergewing van sondes, ewige geregtigheid en saligheid (f) geskenk het.

(a) Jak 2:19. (b) Heb 11:1, 7; Rom 4:18-21; 10:10; Ef 3:12; Heb 4:16; Jak 1:6. (c) Gal 5:22; Matt 16:17; 2 Kor 4:13; Joh 6:29; Ef 2:8; Fil 1:19; Hand 16:14. (d) Rom 1:16; 10:17; 1 Kor 1:21; Hand 10:44; 16:14. (e) Ef 2:8; Rom 3:24; 5:19; Luk 1:77, 78. (f) Rom 1:17; Gal 3:11; Heb 10:10, 38; Gal 2:16.

As jy nie die Bybel begryp nie, sal jy nooit jou lewe bou op die Bybel nie. Jy het begrip nodig. Jy het vertroue nodig. Dit is twee kante van dieselfde munt.

Jesaja het die droom gehad dat al die nasies saam met die Jode in die lig van die Here sal wandel. Jesus is ons wet. Jesus is ons woord. Hy is die Een wat met gesag die wet en die profete saam met die Psalms en die geskrifte vir ons deur die werk van die Heilige Gees uitlê. Trouens, die hele NT is ‘n uitleg van die OT. Saam is dit die Woord van God.

Ons vier vandag Advent 1. Dit is ‘n tyd waar ons fokus op Jesus en wat Hy vir ons gedoen het. Met sy eerste advent, sy eerste koms. Ook wat Hy vir ons gaan beteken met sy tweede advent, sy wederkoms.

Fokus dus op Jesus in die Adventstyd. Lees weer die geboorte en kinderverhale van Jesus. Vertel dit vir jou kinders. Laat jou kleinkinders dit opvoer. Gebruik die boek wat ek vir julle beskikbaar stel. Dit is ook gratis op die webtuiste (Week 1 tot 5 by https://bybelskool.com/prontuit-die-waarheid-argief/).

En wandel in die lig van die Here.

Gebed

Slotlied

Flam 113  Here Jesus, u skyn oor almal soos n lig in die donker  (staan)

Seën

Respons

Die koor sing ‘n seënbede: Die Here is voor jou met sy lig op jou pad

     

View all posts in this series

Trackback from your site.

Leave a comment