Galasiërs 6:1-17 – Saai op die akker van die Gees – Son 4 Julie 2010

Cast Away

‘n Onlangse Robinson Crusoe-verhaal is die fliek “Cast Away”, met Tom Hanks as die Crusoe.

Op sy verlate eiland is daar net twee dinge wat hom bewaar van kranksinnigheid: die piepklein fototjie van sy verloofde, wat hy op ‘n rots probeer oorteken. En Wilson, die wit sokkerbal, met die gesig wat hy met sy eie bloed daarop geteken het.

Sy verloofde word net ‘n vae herinnering en motivering hoekom hy wil teruggaan na die wêreld. Al geselskap wat oorbly, is Wilson.

Aan die begin pla dit hom en word hy woedend dat Wilson nie terugpraat nie. Later pla dit hom nie meer nie, solank Wilson net daar is, kan hy maar praat.

Soos die storie vorder, en dit duidelik word dat Wilson net maar ‘n voorwerp is, ‘n skepping van ‘n alleen-mens, word die alleen-man (Hanks) al meer soos ‘n dier, verloor hy al meer sy menswees.

Daar is nog net een ding wat hom sy sinne op ‘n manier laat behou: die ander mense, iewers anderkant die horison.

Op ‘n stadium oorweeg hy selfmoord, maar besluit dan daarteen omdat daar nie ander mense sal wees wat van sy dood sal weet nie – en dit daarom sinloos sal wees.

Daar is net een sinvolle ding oor om te doen: hy bou ‘n vlot met die hoop om in die diepsee opgepik te word. Want iewers is daar (weer) lewe… want daar is ander mense!

Met die “morele steun” van Wilson se teenwoordigheid kry hy dit reg. Toe Wilson iewers in die see losraak en wegdryf, is sy smarte groot. Hy is nou man alleen.

En op ‘n manier weer mens, meer mens as die dier wat hy geword het. Want nou het daar net een hoop vir hom voorgelê… ander mense. Medemense.

Die oomblik as mens dink nou is die fliek klaar, nou is alles verby, die Cast Away totaal uitgeput en bewusteloos op die laaste oorblyfsel van sy vlot, dan is daar nuwe lewe, word hy wakker. In die regte wêreld van regte mense! Regtig gered deur regte mense!

Genesis 2

Miskien is dit wat Genesis 2 vir ons wil sê: so is ons regtig gemaak. Met die behoefte aan mense. Medemense. ‘n Gemeenskap.

Natuurlik word dit daar meer van toepassing gemaak op ‘n spesiale medemens. Iemand wat ons regtig kan help.  Iemand wat regtig kan terugpraat. Saam met ons kan dink, kan voel, kan speel, werk, lag, die lewe in God se wêreld kan geniet. Iemand vir wie ons kan liefhê en iemand deur wie ons liefgehê word.

Dit is eintlik die enigste ding wat ons van dierlikheid en kranksinnigheid bewaar. Ons lewe word behou, sinvol, deur mense. Daardie spesiale mens, waarvan ek op die ou end kan sê God het ons vir mekaar gemaak. Dit is wat Genesis 2 vertel…

Galasiërs 6

Maar dit is ook wat Galasiërs 6 vir ons sê van medegelowiges.

God het ons gemaak om by mekaar te pas, om ons menswees so tot sy volle reg te laat kom.

Daarom dat Paulus aan die begin van die hoofstuk sê: “Dra mekaar se laste en gee op dié manier uitvoering aan die wet van Christus” (6:2)

Twee emmers water

“Wanneer ek hierdie opdrag hoor,” vertel Chris Jones, “dink ek altyd terug na my kinderdae toe ek ‘n swaar emmer water vir my pa moes aandra.  Ek het skeef-skeef aangesukkel.  Die emmer het kort-kort teen my knie gekap en ek het water gemors.  Ek was ongebalanseerd.  Ek het soms van die water uitgegooi om die emmer ligter te maak, maar dit het ook nie juis gehelp nie.  Al wat regtig gehelp het, was om nog ‘n emmer water op te tel en die twee emmers op een slag te dra.  Op die manier was jy meer gebalanseerd, het jy makliker geloop en niks water gemors nie.”

‘n Lewe wat by die evangelie pas

Liefdevolle omgee vir die medemens bring balans en perspektief in ‘n mens se lewe.  Dit is die boodskap van die eerste 6 verse van Galasiërs 6.  Om getrou aan onsself en die evangelie te wees, moet ons bereid wees om goed te doen aan ander mense.  Die dien van mekaar skep balans in die lewe.

In elkeen se lewe gebeur dit soms dat die laste van die lewe net aan die een kant van die weegskaal ophoop. Dit trek ‘n mens van balans af. Maar net soos die emmer water, help dit nie om die oortollige gewig aan die een kant weg te neem nie. Baie keer kan jy nie.  Dit is beter om nog laste op die ander kant van die weegskaal te plaas. Dan raak jou lewe weer gebalanseerd. Deur met ander woorde die gewig te verdubbel, het jy jou las ‘ligter’ gemaak.

Hoe dikwels dra ek en jy ons nie dood aan ons eie laste nie? Loop ons nie soms skeef onder ons kruis, ons verdriet, ons teleurstellings en krisisse nie? En dit maak dat ons soms balans verloor. Hoe kan ons hierdie laste ligter maak of balanseer? Deur die laste van ons vriende of die mense rondom ons te dra. Deur iets vir iemand rondom jou te beteken. As jou kruis jou begin skeef trek, tel jou medemens se kruis ook op en so sal jy perspektief kry en verligting ervaar.

Om grensloos vir ander te lewe

Baie keer wil ons ook nie iemand se las dra nie, want ons sê so gou die spesifieke persoon het self die probleem oor hom of haar gebring. Ons moet versigtig wees om so te redeneer. In die storie van die barmhartige Samaritaan vertel Jesus van ‘n man wat daardie uiters gevaarlike pad tussen Jerusalem en Jerigo gestap het. As daar een man was wat moes geweet het hy gaan aangeval word, is dit hy. Die priester en Leviet het verbygestap, maar ‘n Samaritaan het hom jammer gekry en gehelp. Hy het nie die man verwyt vir die dom ding wat hy gedoen het en hom daarom aan sy ellende oorgelaat nie, maar, so vertel Jesus self, hy het hom onvoorwaardelik gehelp en so sy las op hom geneem.

In verse sewe tot tien vermaan Paulus die gelowiges om goed te doen aan medegelowiges, maar ook aan nie-gelowiges.  Hy voer die argument op ander plekke selfs verder.  Ons moenie net self goed doen nie, maar ook toesien dat ander nie benadeel nie.  Vergelyk 1 Tes 5:15:  “Sorg dat niemand ‘n ander mens kwaad vir kwaad vergeld nie.  Beywer julle liewer altyd vir die belange van julle medegelowiges en van alle mense.”

Daar is soveel bewyse van hoe die vroeë Christene verantwoordelikheid geneem het vir die fisiese nood en behoeftes van mekaar en van ander.  (Hand 2:44-45; 4:32-35; 1 Tim 5:8; Jak 1:27).  Belangrik om te onthou, is dat hierdie verantwoordelikheid teenoor alle mense, dus ook teenoor nie-gelowiges geld.  Romeine 12:20: “As jou vyand honger is, gee hom iets om te eet….”  Galasiërs 5:14: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself…”

Twee akkers

Hoekom maak Paulus so baie hiervan?

In verse 7 tot 10 verduidelik Paulus dit met die beeld van ‘n akker, ‘n stukkie land.  En hy maak die punt dat daar twee akkers is, twee stukkies grond, waarop jy kan saai, die akker van jou sondige natuur en die akker van die Gees.

En dan is dit interessant.  Die manier waarop jy op die akker van die Gees saai, is deur goed te doen aan ander, aan almal, maar veral aan medegelowiges.  Dit wil sê, dit gaan nie soseer oor die geestelike dissiplines van Bybelstudie en aanbidding en selfondersoek nie, dws die dissiplines waar ons direk met God werk nie.  Dit gaan oor die geestelike dissipline van diens en goed doen aan ander, waar ons besig is met ons medemense.

Dit is soos om met twee emmers water te loop, soos Chris Jones se voorbeeld – om ander se laste jou eie te maak, om nie ‘n geleentheid te laat verbygaan om goed te doen aan ander nie.  Dit is hoe ‘n mens op die akker van die Gees saai.  Jy doen goed aan ander.

Ons lewe lewer ‘n oes op

Eintlik werk hy hier met die idee dat elke mens se lewe ‘n oes oplewer.  Elke ding wat ons elke dag doen, berei daardie oes voor. Elke ding waarop ons fokus, is ‘n saadjie wat ons plant.  Elke keuse wat ons maak om mense te help of nie te help nie, is ‘n saadjie op die akker van ons eie selfsug of op die akker van die
Gees.  En as ons selfsugtige dinge saai, as ons sondige dinge doen, dan lewer dit ‘n oes van die dood en verderf op.  En as ons deur die krag van die Gees omgee vir ander en goeddoen vir ander, as ons in liefde en in naastediens saai op die akker van die Gees, sal ons die ewige lewe as oes verwerf (6:8).

Hierdie beginsel geld vir indiwidue en geloofsgemeenskappe.

Vroeë kerk het op die akker van die Gees gesaai

Die vroeë Christelike kerk, soos ons verlede week in die boodskap rondom Antiogië gehoor het, het lewe en oorvloed geoes omdat hulle grense na alle mense oorgesteek het en die lig van die evangelie oral versprei het.  Hulle was sout en suurdeeg, wierook, wat die omgewing en medemense se nood genees het.  Die vroeë kerk het kwessies soos armoede aangespreek. Die vroeë Christene het ook uitnodigings gerig aan mense op die buiterand van die samelewing, vervreemdes het aandag ontvang en klasse-ongelykheid is sover as moontlik uit die weg geruim. Uit die navorsing is dit duidelik dat die vroeë Christendom die mees dinamiese alternatief op ‘n sisteem van ekonomiese onreg was!

PE Noord saai op die akker van die Gees

En ek het twee weke terug so ‘n paar verhale vertel van gemeentes in die Oos-Kaap wat hierdie voorbeeld van die vroeë kerk begin volg.  Ek herinner julle net aan PE Noord se storie, ‘n gemeete hier in ons stad, waar talle ander gemeentes toegemaak het omdat tradisionele lidmate weggetrek het na beter en mooier areas.  Hierdie gemeente het begin uitreik na die nuwe inwoners van die omgewing.  Saterdae gee hulle vir tussen 200-400 haweloses sop en brood.  Hulle bring hoop deur bemagtigingsprojekte vir vroue aan te bied.  Hulle saal het die plek geword waar die kinders van die gemeenskap Vrydagaand kos vir hulle magies en vir hulle siele kry.  Hulle speel saam sokker, wat ‘n ongelooflike manier is om kontakte te maak en uit te bou.

En die interessante is die oes wat dit oplewer.  Besighede en sakemanne se harte het begin oopgaan vir hierdie gemeente, omdat hulle werk duidelik uit God gebore is, en help waar hulle kan.  Die gemeente het ‘n ongelooflike Christelike geloofwaardigheid omdat hulle dien.  Hulle het iets gesnap van die feit dat hulle nie onder die wet van Moses staan nie, maar onder die wet van Christus. En dit beteken om Hom te vergestalt en gevolglik deernis aan ander mense te betoon!  Hulle saai op die akker van die Gees – en dit lewer ‘n oes op!

Jy oes wat jy saai

Daar is ‘n baie belangrike waarheid in die lewe: jy oes wat jy saai.  Soos in rekenaartaal: Garbish in, garbish out.  Jy kry wat jy insit.

Paulus herinner ons dan ook daaraan dat dit ook in die geestelike lewe waar is.  Ons sal oes dit wat ons saai. Ons kan God nie mislei nie. Hy sal ons volgens ons dade oordeel. As ons saai op die akker van ons selfsugtige begeertes, sal ons die dood oes (Rom 8:6,13; Ef 4:22-24; 2 Pet 2:12). As ons saai op die akker van Gods Gees, deur goed te doen aan ander, sal ons die lewe oes. Soos Christus sy lewe vir die mens afgelê het, so moet ons ook vir ons medemens leef.

Moenie moeg word om goed te doen nie

Daarom moedig Paulus ons aan om nie moeg te word om goed te doen nie. Saai op die akker van die Gees, is ‘n lewenslange taak.  Hiermee herinner Paulus ons sterk aan Jesus se storie in verband met die laaste oordeel (Mat 25:31-46). Daar word die skape en die bokke geskei oor die eenvoudige alledaagse dade van goedhartigheid wat hulle moes doen, soos byvoorbeeld om kos, water, klere en huisvesting te gee aan dié wat dit nodig het. Die skape wat op die akker van die Gees gesaai het, gaan in God se heerlikheid in.  Die bokke wat op die akker van selfsug en sonde gesaai het, gaan die ewige verderf in.

In vetdruk geskryf!

Paulus sluit die brief aan die Galasiërs af deur eiehandig in vetdruk te skryf.  Hy gebruik, sal ons vandag sê, hoofletters, skryf die letters vet en onderstreep dit.  Dalk gebruik hy ‘n rooi pen.  Daar is ‘n paar uitroeptekens. Wat nou volg is belangrik!

Wat is so belangrik?

Daar is mense wat dink dat hulle op ‘n ander manier kan leef, en die eis om goed te doen aan ander kan ontwyk.  Dit is mense, soos hierdie Joodse Christene in Galasiërs, wat dink dat hulle godsdienstige reëls kan nakom, en dit op ander van toepassing kan maak, en op dié manier vir God kan behaag.

Maar Paulus sê, sulke godsdiens is ‘n blote wind.  Hulle druk hulle reëls in ander se kele af, bloot om mag om oor ander te kry.  Die Joodse Christene forseer bv. die besnydenis op die Galasiërs af, “sodat hulle kan roem oor wat met julle liggame gebeur het”.  Dit gaan oor mag en beheer en nie oor omgee en uitreik en insluit nie.

Dis nie die hart van die Christelike geloof nie.  Die hart van die Christelike geloof sien ons in die kruis, waar Jesus, die verhewe Seun van God, sy lewe in die gestalte van ‘n slaaf gee vir mense wat toe nog God se vyande was.  Ons sien dit waar mense nie moeg word om goed te doen nie, mense wat nie verslap nie, maar enduit saai op die akker van die Gees.

     

View all posts in this series

Trackback from your site.

Leave a comment