Skip to main content

Hoe gaan ons lyk na die opstanding uit die dood? – 1 Korintiërs 15:35-50

NGK Somerstrand 20 Februarie 2022 09:00 in die  kerk en lewendig op Youtube

Musiek vooraf

Lied 602  Ek sien ‘n nuwe hemel kom, ‘n aarde nuut en vry.

Jerusalem, die nuwe stad.

Verwelkoming

Kerkraad – beroepingsvergadering

Noodspens – dankie vir kruideniersware en klere – gesin is baie bly!

Toetrede

FLAM 21:1-4 – In die hemel is die Heer, en sy glans is soos kristal (sit)

Votum en Seëngroet

Lof en aanbidding

Vonkk 85:1-4 – Here, ons Here, hoe groot is U! (Ps 8 – staan)

Liedboek 415:1-3 – Jesus leef, en ons met Hom (staan)

Kindermoment

Elke kind kry ‘n saadjie. Ek gesels dan met hulle of hulle weet wat alles nodig is vir hierdie saadjie om te groei en ‘n mooi plant te word.

Of hulle dink dit sal goed wees as die saadjie doodgaan. Hoekom, of hoekom nie?

Daarna gesels ek oor hoe sade doodgaan om te kan groei en verduidelik hoe dit ‘n beeld is van God wat iets wat vir ons sleg lyk juis kan gebruik om iets nuuts te maak.

Die Bybel sê:

Kyk wat gebeur wanneer ‘n mens saad plant. Die saad moet eers sterf voordat dit weer lewe. So sal dit ook wees wanneer God die mense wat dood is, weer laat lewe. Die mense begrawe ‘n liggaam wat swak is, maar God laat ‘n liggaam lewe wat sterk is.” (1 Korintiërs 15:36-44 – Bybel vir Almal)

Ek nooi hulle dan om die saadjies te gaan plant en elke dag, wanneer hulle vir die saadjies water gee, vir God dankie te sê dat God die dood gebruik om iets moois te skep wat ons nie kan verstaan nie.

Gebed

Skriflesing en prediking

Dit is opmerklik hoe Paulus in hierdie eerste brief aan die Korinte die uiteenlopende sienings, selfs onenigheid en onderlinge struwelings in die gemeente van Korinte aanspreek. En hy is helder daaroor dat die eenheid in die waarheid gekry word.

  • As hy praat oor die waarheid, dan keer hy hulle om op enige manier in kampe agter leiers en hulle diverse waarhede aan te verdeel: “10Ek pleit by julle, broers, in die Naam van ons Here Jesus Christus, dat julle almal eenstemmig sal wees, en dat daar nie verdeeldheid onder julle sal wees nie, maar dat julle volkome eensgesind mag wees, met dieselfde denkwyse en dieselfde oortuiging.” (1 Korintiërs 1-3).
  • As hy praat oor seksualiteit, dan keer hy hulle om op enige manier seks buite die huwelik om goed te keur (1 Korintiërs 5-7). Daar is nie ‘n ander waarheid hieroor nie, behalwe as jy die Bybel verander of verwerp nie.
  • As hy praat oor die gawes, dan keer hy hulle om op enige manier sekere gawes bó ander te verhef (1 Korintiërs 12-14). Hulle het immers een God en Vader, een Gees wat die gawes uitdeel, en een liggaam in Christus.

Trouens, die Drie-Eenheid wys al vir ons dat dit is hoe God is en daar geen verdeeldheid in die waarheid kan wees nie. Hulle is wel drie Persone in die Godheid, maar dit is steeds Een Wese. Die drie Persone in die Godheid het wel verskillende rolle en funksies, maar hulle is Een in “waarheid, mag, goedheid en barmhartigheid” soos ons belydenisskrifte dit sê.

Daar is vandag ‘n valse idee dat eenheid in diversiteit lê. Dit is heeltemal teen die Bybelse boodskap. Eenheid lê in die waarheid. Daar is diverse mense ja, in taal, kultuur, ouderdom, ensomeer. Maar, almal van hulle word in die waarheid tot ‘n eenheid saamgevoeg.

  • Jy kan nie anders as Paulus oor die waarheid dink en die idee handhaaf dat “kampe” en verdelings rondom die waarheid reg is, en steeds dink jy is deel van die Christendom nie. Daar is net een waarheid. Wat God vir Paulus gegee het om vir ons te skryf, is die Woord van God self. As jy met Paulus verskil, verskil jy met God. Want, wat die Bybel sê, sê God.
  • Jy kan nie anders as Paulus oor seksualiteit en die huwelik dink en steeds dink jy is in die waarheid nie. Tog interessant dat onlangse navorsing in Amerika die Bybelse waarheid beklemtoon dat jongmense wat seks vir die huwelik hou, nie net meer seksuele bevrediging ervaar nie, maar minder in die skeihof eindig nie. Groot navorsing onder 53 000 jongmense soos in die Wall Street Journal, van alle plekke, aangehaal word. Lees meer daaroor op Patheos.
  • Jy kan nie anders oor die gawes dink en steeds aanspraak maak daarop dat jy in die waarheid is nie. En laat niemand jou ‘n rat voor die oë draai deur bv te sê dat jy in tale moet praat nie, anders het jy nie die Heilige Gees nie. Dit is die Gees wat gawes gee, en Hy gee nie aan almal dieselfde gawes nie. Tale is wel een daarvan, maar nie vir almal nie. En die beste gawe is profesie – die uitleg en toepassing van God se Woord onder inspirasie van die Gees om die gemeente op te bou, te bemoedig en te vertroos – so bid daarvoor as jy vir ‘n gawe wil bid. Gaan lees weer wat Paulus oor die gawe van profesie sê: “2Die een wat in tale spreek, praat nie met mense nie, maar met God. Niemand verstaan hom nie; deur die Gees praat hy verborgenhede. 3Die een wat profeteer, praat egter wel met mense om hulle op te bou, te bemoedig en te vertroos.” (1 Kor 14:2-3)

Nou een van die ander konflikte in die gemeente was die konflik oor die opstanding van die liggaam. Want, ons moet onthou dat die Grieke nie in die opstanding van die liggaam geglo het nie. Dit het ‘n groot invloed gehad op die Christene, want hulle het nie so maklik die idees van die kultuur afgesweer nie. Die Grieke het wel die idee gekoester dat die siel van die mens onsterflik is en na die dood sou kon voortbestaan. Maar van ‘n voortbestaan van die liggaam na die dood wou hulle niks weet nie.

Daarom dat Paulus in hoofstuk 15 soveel klem lê op die werklikheid van die liggaamlike opstanding uit die dood van Christus. Sowel as op die werklikheid van die gelowiges se liggaamlike opstanding uit die dood. Die gelowiges sal nie net voortbestaan as “dis-embodied souls” of geeste nie, maar voortbestaan in ’n liggaamlike staat.

Hy begin hierdie gedeelte – 1 Korintiërs 15:35-50 – met die vraag van ‘n denkbeeldige persoon:

35Iemand sal egter kan vra: “Hoe word die dooies opgewek, en met watter soort liggaam verskyn hulle?”

Dan antwoord hy dit kort en kragtig:

36aHoe dwaas!

En dan gaan hy voort om drie voorbeelde uit die natuur te gebruik om sy antwoord te staaf.

Paulus gebruik eerstens die voorbeeld van die saad wat in die grond val en sterf om in ’n ander gestalte, die koringplant, voort te leef

36bWat jy saai, kom nie tot lewe nie, tensy dit eers sterf. 37En wat jy saai, saai jy nie in die vorm wat dit sal aanneem nie, maar as ‘n blote saadkorrel, of dit nou ‘n koringkorrel is, of een van die ander sade. 38Maar God sal, soos Hy beplan het, aan elkeen van die sade ‘n eie vorm gee.

Met die voorbeeld van die saad wys Paulus die onderskeid tussen die verganklike en die onverganklike liggaam aan sowel as die wesenlike kontinuïteit al is dit in ’n ander gestalte.

Tweedens skryf hy oor die verskil tussen die fisiese vorm (vlees) van mense, diere, voëls en visse.

39Nie alle lewende wesens is eenders nie. Daar is een fisiese vorm vir mense, ‘n ander vir diere, ‘n ander vir voëls, en nog ‘n ander vir visse.

Met die voorbeeld van die verskillende vorme van diere probeer Paulus die beperktheid van die aardse liggaam teenoor die heerlikheid van die hemelse liggaam aandui sowel as die herkenbaarheid van die onderskeie soorte wat ná die opstanding nog sodanig sal wees

In die derde plek beskryf Paulus die verskil tussen dowwer en helderder hemelliggame soos die maan en sterre versus die son, en selfs sterre onderling.

40Daar is ook hemelliggame en aardse liggame, maar die glans van die hemelliggame is anders as dié van die aardse liggame. 41Die glans van die son is anders as die glans van die maan, en anders as die glans van die sterre. Een ster verskil immers van ‘n ander in glans.

Daarmee probeer hy die swakker karakter van die aardse liggaam teenoor die krag van die hemelse liggaam uitdruk sowel as weereens die herkenbaarheid van die onderskeie soorte wat ná die opstanding nog sodanig sal wees.

Daaruit trek Paulus die gevolgtrekking:

42So sal dit ook wees met die opstanding van die dooies: Wat gesaai word in verganklikheid, word opgewek in onsterflikheid; 43wat gesaai word in oneer, word opgewek in heerlikheid; wat gesaai word in swakheid, word opgewek in krag.

Let op hoe Paulus die hemelse liggaam beskryf. God sal ons opwek as onsterflike, heerlike en kragtige hemelse mense. Ons nuwe liggaam sal onsterflik, heerlik en kragtig wees.

  • Die sonde en die dood sal nooit weer ‘n impak op daardie liggaam kan hê nie. Dit sal onsterflik
  • Ons liggame sal nooit weer aan die oneer van die dood en die verganklikheid van die sonde blootgestel word nie Ons liggame sal heerlik wees; dws dit sal gewig dra, dit sal merkwaardig wees.
  • Ons liggame sal nie meer gebonde wees aan die swakhede van versoeking en veroudering nie. Ons liggame sal kragtig

Paulus gee dus vir ons nie ‘n presiese beskrywing van hoe die opgestane liggaam sal lyk en wees nie. Maar daar is genoeg gegewens vir ons om tog ‘n paar gevolgtrekkings te kan maak oor hoe die liggaam gaan lyk:

  1. Gekontinueer: dit is steeds jy wat opgewek word – soos ons dit in Christus gesien het. Sy natuurlike liggaam is opgeneem in sy geestelike liggaam. Anders gestel, sy geestelike liggaam het sy natuurlike liggaam oordek, ingetrek. Daarom kon sy dissipels Hom herken, al was Hy ook anders. Dieselfde gaan met jou gebeur. Daar gaan ‘n ooreenkoms wees, en tog sal jy ook anders wees.
  2. Getransformeer: jy word in ‘n nuwe vorm opgewek – soos ons dit weereens in Christus gesien het. Hy kon verdwyn en verskyn na willekeur. Hy was nie gebonde aan tyd en ruimte nie. Hy kon deur toe deure. Die een oomblik op die pad na Emmaus. Die ander oomblik in Jerusalem. Dieselfde verheerlikte liggaam sal jy ook kry.
  3. Geestelik: dit bedoel onsterflik, heerlik en kragtig. Sommige teoloë het hierdie heerlikheid beskryf met die term “helderheid” (clarity). Heerlik beteken dat ons liggame helder sal wees, stralend van lig, soos Jesus s’n by die verheerliking op die berg (vandaar dan ook die PowerPoint agtergrond). Jesus se gesig het geskyn soos die son en sy klere het skitterend wit geword op die berg van verheerliking waar hy vir ‘n tydjie sy verheerlikte liggaam aan sy dissipels vertoon het (Matt 17:2; vgl Openb 1:15-17 – “sy oë soos ‘n vlammende vuur. Sy voete was net soos gloeiende koper in ‘n rooiwarm oond, en sy stem soos die gedruis van baie waterstrome … sy gesig was soos die son, wat in al sy felheid skyn.”). Dit is wat ons ook lees van die liggame van die engele wat telkens as omgewe van ‘n helder blink lig, die heerlikheid van die Here, beskryf word (Luk 2:9; Hand 12:7). Jesus sê immers dat ons “soos die engele” sal wees (vgl Luk 20:36). Dit is die voorbeelde van hierdie “geestelike liggaam” waarna ons kan kyk. Ook die visie van Daniël oor die verstandiges by die wederkoms: “die verstandiges sal skyn soos die glans van die hemelkoepel” (Dan 12:3).

In sy uitbreiding in vers 44-49 gaan Paulus verder en kontrasteer die natuurlike karakter van ons liggame hier met die geestelike karakter van ons liggame na die opstanding.

44Wat gesaai word, is ‘n natuurlike menslike liggaam; wat opgewek word, is ‘n geestelike liggaam. As daar ‘n natuurlike menslike liggaam is, is daar ook ‘n geestelike liggaam. 45So staan daar immers geskryf: “Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende wese geword.” Die laaste Adam het egter ‘n lewendmakende Gees geword. 46Die geestelike liggaam is egter nie eerste nie, maar wel die natuurlike menslike liggaam; daarna kom die geestelike. 47Die eerste mens was uit die aarde, en stoflik; die tweede ‘n mens uit die hemel. 48Soos die aardse mens, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens, so ook die hemelse mense. 49Soos ons die beeld van die stoflike mens gedra het, so sal ons die beeld van die hemelse mens dra.

Die verskil tussen die natuurlike en die geestelike is soos die verskil tussen die eerste mens, Adam … en die laaste Adam, die lewendmakende Gees, die hemelse mens, dit is Christus (vgl Rom 5-6). Die een se liggaam is uit die aarde, en is stoflik; die tweede se liggaam is uit die hemel, en is hemels.

En Paulus voeg daarby:

50Dit is wat ek bedoel, broers: dat mense van vlees en bloed nie die koninkryk van God kan beërf nie, en die verganklike beërf nie die onverganklike nie.

Ons het daardie nuwe geestelike liggaam nodig, want daarsonder sal ons dit nie maak in die koninkryk van God nie, in die nuwe hemel en die nuwe aarde nie. Ons sal bevry word van die verganklike, die beperkte, die sondige, en deur die onverganklike geestelike liggaam die koninkryk van God kan beërf.

Hoe gaan jy dus lyk?

  • Getransformeer: onsterflik, heerlik, en kragtig.
  • Maar tog ook herkenbaar, want jy word gekontinueer.
  • In ‘n geestelike liggaam wat sal inpas in die nuwe wat kom.

In kort, jy sal lyk soos Christus.

Geloofsbelydenis

Die Apostoliese Geloofsbelydenis verwoord die konsensus oor God Drie-Enig en wat dit vir ons beteken op kort en bevatlike wyse – 12 artikels. En let op dat ons die opstanding van die vlees bely:

Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde.

En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here; wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria;

wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is,

gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;

wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;

wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader,

van waar Hy sal kom om te oordeel die wat nog lewe en die wat reeds gesterf het.

Ek glo in die Heilige Gees.

Ek glo aan ‘n heilige, algemene Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges;

die vergewing van sondes;

die opstanding van die vlees

en ‘n ewige lewe.

Gebed

Slotlied

Lied 599:1-3 – As Hy weer kom, as Hy weer kom, kom haal Hy sy kinders (staan)

Seën

Respons

Lied 599:1 (refrein) – Ja, ons wag op die Here, en ons sing tot sy ere. Ja, Hy kom weer verseker, om ons te kom haal. (staan)

Dankoffer

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.