Skip to main content

Matteus 13 – die gelykenis van die grond

gelykenis-van-die-grondJesus lewer dié gelykenis langs die See van Galilea vanuit  ‘n skuit op die see aan ‘n skare wat op die strand bly staan het.  Die detail van die gelykenis van die grond is vir ons baie bekend.  Die saad word in vier kontekste, vier tipes grond, gesaai:

  1. op die pad,
  2. op klipbanke,
  3. tussen onkruid en
  4. in goeie grond.

Daar gebeur ook vier goed met die saad.

  1. Die voëls pik die saad op die pad op.
  2. Die son verskroei die saad op die klipbanke dat dit verdroog.
  3. Die onkruid verstik die saad wat tussen dit val.
  4. Die goeie grond lewer ‘n goeie tot uitstekende opbrengs.

Die effektiwiteit van die saad hang dus af van beide die werk van die Saaier en die saad, sowel as die ontvanklikheid van die grond.

Jesus som die gelykenis op met sy woorde: “Wie ore het, moet luister.” Dit gee ons  ‘n sleutel wat vir ons verklaar hoekom sommige op sy boodskap reageer, soos die goeie grond, en ander nie, die slegte grond.

HIER VOLG DIE HELE EREDIENS:

Verwelkoming

Linden koor

Toetredelied

Koor – Tel jou seëninge

Votum en Seëngroet

Lied 203:1-2  – Loof die Here al wat lewe – staan

Lied 220:1,3 – Met ons harte sing ons Here – sit

Koor – Via dolorosa en Halleluja

Kindertyd

Wys vir die kinders verskillende pakkies saad van blomme.

Wie van julle het al saadjies gesaai wat opgekom en gegroei het?

Dis lekker as jy die blomme sien groei, nê?!

Vir saadjies om goed te groei, is dit baie belangrik om die grond goed voor te berei, nie waar nie?

Jesus het eenkeer ‘n storie vertel wat oor saad en grond en groei gehandel het – kom ons luister wat Hy vertel het …

Vers 3–8

“Eendag het ’n boer saad in sy land gaan saai.

  • ’n Deel van die saad beland toe op die pad. Die voëls het dit vinnig opgepik.
  • ’n Ander deel het tussen ’n klomp klippe geval. Omdat daar ’n klein bietjie grond tussen die klippe was, het die saad gou begin groei. Maar die saad se wortels kon nie diep groei nie. Daarom het die son die plantjies gou dood gebrand.
  • Van die ander saad het tussen die dorings en die bossies beland. Dit het die plantjies dood gegroei.
  • ’n Ander deel van die saad het in goeie grond geval. Dit het begin groei en groot plante geword. Hierdie plante het baie meer graan gegee as wat almal gedink het.”

Volgens hierdie storie is mense die grond!

En die saad wat gesaai word, is die lesse en verhale wat Jesus geleer het.

As die saad in goeie grond val, sal dit ontkiem en opkom en goed groei.

Maar daar is soorte grond waar die saad nie kan groei nie.

Kom ons luister na Jesus se verduideliking:

Vers 18–23

“Kom Ek sê vir julle wat die verhaal beteken van die boer wat saad gesaai het,” sê Jesus.

  • “Onthou julle die eerste saad het op die pad geval? Dit is iemand wat hoor wat God sê, maar wat nie daarna luister nie. Die duiwel maak dat hy gou vergeet wat hy gehoor het.
  • Ander saad het tussen die klippe geval. Dit is daardie persoon wat hoor wat God sê en met groot blydskap in Hom begin glo. Maar wanneer dit nie meer so maklik is om ’n Christen te wees nie; wanneer hy begin swaar kry vir sy geloof, hou hy vinnig op om te glo.
  • Die derde klomp saad het tussen bossies en dorings beland. Dit is daardie mens wat in God begin glo, maar na ’n rukkie raak hy lief vir dinge soos vir geld en klere. Later is hy so besig om geld en nuwe klere in die hande te probeer kry dat hy niks tyd meer vir die Here het nie.
  • Die laaste saad het op die goeie grond geval. Dit is iemand wat die Here se Woord hoor en elke dag net vir Hom leef. Sy lewe is soos ’n goeie boom wat baie vrugte dra. Die Here is sommer baie tevrede met hom.” … (uit Die Nuwe Testament vir Kinders deur Stephan Joubert, Jan van der Watt en Hennie Stander, 1999)

Die Here wil hê dat ons soos goeie grond sal wees wanneer verhale oor Jesus en God aan ons vertel word- of dit nou by die huis is of by Kinderkerk tyd of in die Kategese klas.

Want goeie grond beteken dat ons fyn sal luister na die verhale oor God en oor Jesus.

Ons kan dus kies om goeie grond te wees …

Gebed

Skriflesing

Inleiding

Matteus is baie eerlik oor die gemengde ontvangs wat Jesus onder die Joodse volk gehad het.

  • Sommige het sy boodskap as die goeie nuus vir hulle lewens gehoor.  Hulle het hulle bekeer en sy dissipels geword.  Hy noem hulle “kindertjies”.
  • Sommige, die meerderheid, het Hom teengestaan.  Die Fariseërs en die Skrifgeleerdes, die dominees van daardie tyd wou nie tot bekering kon nie.  Die meeste van hulle wou nie sy dissipels word nie.  Net so die skare gewone Jode.  Hulle was beïndruk deur Jesus se genesings en sy prediking, maar byt daaraan, dié wou hulle nie.

Matteus vertel dan vir ons ’n reeks van agt van Jesus se gelykenisse in hoofstuk 13, die sogenaamde koninkryksrede, Jesus se derde groot toespraak in die evangelie.

Die belangrikste een van hierdie gelykenisse is hierdie eerste een, die gelykenis van die grond, waarskynlik beter bekend vir ons as die gelykenis van die Saaier (of die gelykenis van die saad).  Maar, omdat Matteus alreeds besig is om vir ons te vertel van hoe verskillende mense op Jesus gereageer het, is dit eintlik beter om die gelykenis te verklaar vanuit die reaksie van die grond, die mense, op Jesus se prediking.

Miskien het jy ook al gehoor dat ’n gelykenis net een punt maak, soos baie geleerdes dit in die verlede beskou het.  Dié manier van lees word egter toenemend bevraagteken in studies oor stories en metafore.  Mense het agtergekom dat lesers hulle eie betekenis aan  ‘n teks gee en dat dit ’n baie belangrike proses is om by begrip uit te kom.

’n Teks het daarom nie net een betekenis nie. Ons almal hoor verskillende betekenisse daarin, iets wat ons spesifiek aanspreek, en dit is goed en reg so.  Ons máák ook betekenis met die teks.  Ons gebruik dit om onsself en ander beter te verstaan.  Hoe ons daarop reageer, sê ook iets van onsself.  Die gelykenis help ons dus om ons self te verstaan!  Om die waarheid te sê: die gelykenis lees ook vir ons in ’n sekere sin!  Só word ’n gelykenis ‘n dinamiese lewende woord aan ons wat deur God se Gees gebruik word om met ons te praat, ons te ontmasker en of uit te nooi om te verander.

Matteus 13:1-9, 18-23

Die gelykenis van die saaier

(Mark 4:1–9; Luk 8:4–8)

13 Dieselfde dag het Jesus van die huis af gegaan en by die see gaan sit. 2 ‘n Groot menigte het so om Hom saamgedrom dat Hy in  ‘n skuit geklim en daarin gaan sit het, maar die mense het almal op die strand bly staan. Hy het hulle baie dinge in gelykenisse vertel en onder andere gesê:

3“ ‘n Saaier het eendag gaan saai. Met die saai het  ‘n deel van die saad op die pad geval, en 4die voëls het gekom en dit opgepik. 5 ‘n Ander deel daarvan het op klipbanke geval, waar daar nie baie grond was nie, en dit het gou opgekom omdat die grond nie diep was nie. 6Maar toe die son warm word, is dit verskroei, en omdat dit nie wortel geskiet het nie, het dit verdroog. 7 ‘n Ander deel het tussen die onkruid geval, en die onkruid het opgekom en dit laat verstik. 8Die ander saad het in goeie grond geval en  ‘n oes gelewer, party honderdvoudig, ander sestigvoudig en ander dertigvoudig.

9“Wie ore het, moet luister!”

Die doel van die gelykenisse

(Mark 4:10–12; Luk 8:9–10)

10Die dissipels het vir Jesus kom vra: “Hoekom gebruik U gelykenisse as U met die mense praat?”

11Hy het hulle geantwoord: “Aan julle is dit gegee om die geheime van die koninkryk van die hemel te ken, maar aan hulle is dit nie gegee nie. 12Wie het, vir hom sal nog meer gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar wie nie het nie, van hom sal ook die bietjie wat hy het, weggevat word. 13Om hierdie rede praat Ek met hulle in gelykenisse: omdat hulle kyk maar nie sien nie, en hoor maar nie luister en verstaan nie. 14In hulle geval word die profesie van Jesaja vervul wat sê:

‘Julle sal hoor en hoor

en tog niks verstaan nie,

en kyk en kyk

en tog niks sien nie.

15Hierdie volk se verstand

is afgestomp:

hulle het hulle ore toegedruk

en hulle oë toegemaak

sodat hulle nie met hulle oë

kan sien en met hulle ore kan hoor

en met hulle verstand kan verstaan

en hulle bekeer,

en Ek hulle gesond maak nie. ‘ b

16“Maar julle oë is bevoorreg dat hulle sien, en julle ore dat hulle hoor. 17Dit verseker Ek julle: Baie profete en gelowiges wou graag sien wat julle sien, maar het dit nie gesien nie, en wou graag hoor wat julle hoor, maar het dit nie gehoor nie.”

Jesus verklaar die gelykenis van die saaier

(Mark 4:13–20; Luk 8:11–15)

18“Luister julle dan na wat die gelykenis van die saaier beteken: 19Die Bose kom by elkeen wat die woord van die koninkryk hoor maar dit nie verstaan nie, en vat dan weg wat in sy hart gesaai is. Dit is hy by wie daar op die pad gesaai is. 20Die man weer by wie daar op die klipbanke gesaai is, is hy wat die woord hoor en dit dadelik met blydskap aanneem. 21Hy laat dit egter nie by hom wortel skiet nie, en hy hou nie lank uit nie. As hy ter wille van die woord verdruk en vervolg word, word hy gou afvallig. 22Die man by wie daar tussen die onkruid gesaai is, is hy wat die woord hoor, maar die bekommernis van die lewe en die verleidelikheid van rykdom verstik die woord, en dit bly sonder vrug. 23Die man by wie daar op goeie grond gesaai is, is hy wat die woord hoor en dit verstaan. Hy dra inderdaad vrug en lewer  ‘n oes: soms honderdvoudig, soms sestigvoudig, soms dertigvoudig.”

Woordverkondiging

Jesus lewer dié gelykenis langs die See van Galilea vanuit  ‘n skuit op die see aan ‘n skare wat op die strand bly staan het.  Die detail van die gelykenis van die grond is vir ons baie bekend.  Die saad word in vier kontekste, vier tipes grond, gesaai:

  1. op die pad,
  2. op klipbanke,
  3. tussen onkruid en
  4. in goeie grond.

Daar gebeur ook vier goed met die saad.

  1. Die voëls pik die saad op die pad op.
  2. Die son verskroei die saad op die klipbanke dat dit verdroog.
  3. Die onkruid verstik die saad wat tussen dit val.
  4. Die goeie grond lewer ‘n goeie tot uitstekende opbrengs.

Die effektiwiteit van die saad hang dus af van beide die werk van die Saaier en die saad, sowel as die ontvanklikheid van die grond.

Jesus som die gelykenis op met sy woorde: “Wie ore het, moet luister.” Dit gee ons  ‘n sleutel wat vir ons verklaar hoekom sommige op sy boodskap reageer, soos die goeie grond, en ander nie, die slegte grond.

Hoekom is die grond ontvanklik?

Die vraag is nou, hoekom is die grond ontvanklik?  Dit is na alles die gelykenis van die grond.

  • Wel, aan die eenkant het die ontvanklikheid te make met die voorbereiding van die goeie grond.  Dit is net voorbereide grond wat regtig ’n kans het om vrug te dra.
  • Maar, dit het aan die ander kant ook met die beskerming teen ander invloede: teen die voëls wat pik, teen die klipbanke wat beperk, teen die onkruid wat verstrik, alles toestande wat ’n direkte impak op die draagbaarheid van die grond het.

Dit is hoe Jesus dit dan ook vir sy dissipels uitlê.  Hy verduidelik die redes waarom die grond op spesifieke maniere op die saad reageer.

  1. voëls1Die grond van die pad dui op mense wat die woord van die koninkryk hoor en nie verstaan nie.  Die Bose roof wat in hulle harte gesaai is.  Dit is wanneer ek nie moeite doen om by ’n beter begrip uit te kom wat die Woord van my vra nie, dat die saad verdwyn.  Dit gebeur wanneer ek bv. tevrede is met eenvoudige verklarings van ingewikkelde en komplekse goed.  D.w.s. wanneer ek ’n “oppervlakkige Christen” is.  Die Bose roof die saad van die woord uit my hart wanneer ek nie die moeite wil doen om te reflekteer en te reageer op die Woord wat ek hoor nie.  Waar ek dus nie myself inspan om die Woord te verstaan nie, waar ek nie fokus op begrip en onderskeiding nie – en onthou dit is jou keuse, niemand anders gaan dit vir jou doen nie – verdwyn die Woord, neem die Bose dit weg uit jou lewe;  Is dit asof jy dit nooit gehoor het nie.  En ek kan nie ernstig genoeg beklemtoon hoe ’n uiters groot gevaar dit is nie.  Dit kan met jou hier in die kerk, in die gemeenskap van die gelowiges gebeur.  ’n Lewe wat nie fokus op nadenke en refleksie nie, is ’n lewe wat onvrugbaar bly.  Die Bose roof die saad van die woord van God uit jou hart uit, as jy nie daarop fokus om dit te verstaan en die waarde daarvan te omhels nie.  “Wie ore het, moet luister.”
  2. klipbankeDie grond op die klipbanke dui op mense wat die woord met vreugde hoor, maar struikel as gevolg van verdrukking of vervolging, die sogenaamde “mooiweer Christene”.  Hulle hou net  ‘n rukkie.  Belangrik, dit is niemand anders se skuld as hulle eie nie.  Want, die rede daarvoor, sê Jesus, is: “Hulle laat nie toe dat die Woord wortel skiet by hulle nie!” Hoe tragies!  Dit is wanneer jy sit in die kerk of by die huis met jou Bybel, en dit lees, selfs luister daarna, miskien selfs ’n kort gebed bid in reaksie op die boodskap wat jy hoor, maar nie doen wat die Bybel vir jou sê nie.  Dan skiet die Woord nie wortel in jou lewe nie.  Dit is immers hoe volwassenes leer – doen, dink, doen dink.  As jy nie doen wat jy gedink het nie, bly jou denke onvrugbaar.  As jy nie dink oor wat jy gedoen het nie, bly jou lewe eweneens onvrugbaar.  En dit vererger as daar verdrukking of vervolging is, as jou gehoorsaamheid iets van jou gaan kos, wanneer jy jou ware Christen kleure moet wys, maar die prys net te groot is.  As die donker wolke saampak en jy die swaarweer van die lewe moet trotseer en aan die Here getrou bly, en jy het nie toegelaat dat die Woord wortel skiet in jou lewe nie, sal jy dit nie maak nie.  Sal jou lewe onvrugbaar bly.  “Wie ore het, moet luister.”
  3. onkruidDie grond met die onkruid dui op mense wat die woord hoor, maar nie vrug dra nie as gevolg van die bekommernis van hierdie wêreld en die verleiding van rykdom, die sogenaamde “materiële Christene”.  Dié waarskuwing slaan na twee kante toe.  Dit raak die armes en die rykes, die sukkelaars en die suksesvolles, die ellendiges en die elite.  Almal van ons kan potensieel hulleself bekommer oor allerlei.  Almal van ons kan potensieel ons lewe om ons begeertes laat wentel.  Materialisme kom voor onder die rykes sowel as die armes.  Die sug na welstand en welvaart kan egter, sê Jesus, die woord van God in jou uitdoof, uitkanselleer.  Waar jy nie in afhanklikheid van God werk met jou bekommernisse óf jou begeertes nie, raak die Woord stil;  Is jou lewe onvrugbaar.  “Wie ore het, moet luister.”
  4. vrugbaar1Die goeie grond dui op mense wat die woord hoor en begryp en daarom vrug dra.  Hulle is die “vrugbare Christene”.  Hulle doen natuurlik alles wat die ander nie gedoen het nie.  Hulle reflekteer – hulle is nie net “oppervlakkige Christene” nie.  Hulle laat toe dat die Woord wortel skiet by hulle, al is dit vol uitdagings – hulle is nie net “mooiweer Christene” nie.  Hulle fokus nie op hulle bekommernisse nie, en ook nie op hulle begeerte na welvaart nie, maar op God.  Hulle is nie net “materiële Christene” nie.  Maar, dieper nog as dit, hulle lewe afhanklik van God en vra van Hom dat Hy hulle sal voorberei, sal gereedmaak, sal skoonmaak, sodat hulle vrug kan dra.  Hulle lewe wentel om die bewuste teenwoordigheid van die Here.  “Wie ore het, moet luister.”
Hoe kan ek dus sorg dat ek goeie grond is?

Hoe kan ek dus sorg dat ek goeie grond is?

  1. Wel, jy moet rekening hou met die Bose deur met diep denke te leef.
  2. Jy moet leer om met die verdrukkings en vervolgings van die lewe saam te lewe, op God te vertrou, en nie net te verwag dat alles mooiweer in jou lewe sal wees nie.
  3. Jy moet leer om die bekommernisse en die begeerlikheid van die lewe op hulle plek te sit, sodat dit nie jou lewe beheer nie, en op God te fokus.
  4. En jy moet in die Here se teenwoordigheid lewe, elke dag, elke uur, elke oomblik.

Daar is nie ’n ander pad nie.  Daar is nie ’n ander manier nie.  En dit geld almal van ons, die ellendiges en die elite, die rykes en die armes, die oues en die jonges.

Hoe kan ek sorg dat ander goeie grond is?

Maar, ons moet mekaar natuurlik ook daarmee help.  Ons kan ’n rol speel in mekaar se lewe om die grond voor te berei, om sorg te dra dat die verdrukkings en verleidings nie die botoon speel in ander se lewens nie.

Ons moet dus rekening hou met die Bose se impak in ander se lewens, met die impak van verdrukkings en vervolgings van die lewe, en met die impak van die bekommernisse en begeerlikheid waaraan mense blootgestel word.

Ons word geroep om mekaar se laste te dra. Ons word geroep om mekaar te vermaan. Ons word geroep om mekaar te bemoedig.  Ons word geroep om mekaar te begelei.  Ons is deel van dieselfde kudde.  Ons is mekaar se hoeders.

God gee ontvanklikheid vir wie Hy wil

Maar, daar is ook ’n ander kant hiervan.  Die reaksie op die boodskap van Jesus het ook ’n misterieus kant.

Hoekom sê ek so?

Want, God gee ontvanklikheid vir wie Hy wil.   Goeie grond leef immers uit God se genade.  Genade is per definisie onverdiend en afhanklik van God se besluit.  Maar, die ander kant is ook waar.  Goeie grond is grond wat sorg dat die woord wortel skiet, wat fokus op God, wat sorg dat Hy nommer Een bly.

Wat my bring by die belangrike slotsom.  Ons moet altyd twee goed sê:

  • Alles hang van jou af.
  • Alles hang van God af.

Dit is ’n misterie.

Prakties

Wat beteken dit nou prakties?  Ek gaan vanaand meer hieroor uitbrei, maar ek wil tog jou lus maak met die volgende:

Ek wil fokus op die ruimtes wat jy kan skep in jou lewe dat jy vrug kan dra soos jy moet.  Dit lê volgens die gelykenis op minstens vier plekke.  Om dit agter te kom, kan jy jouself die volgende vrae vra:

  • Skep ruimtes waarin jy tot verhaal kan kom in jou lewe.  Dit sal keer dat die voëls die saad van God se woord wegpik nog voor dit kans het om grond te vat in jou lewe. Ons bestaan nie net uit ’n een-dimensionele behoefte aan prestasie nie.  Ons het ook opwinding nodig.  Ons het ook rus nodig.  Die geleerdes noem dit ekstase en enstase.  Dit moet ons prestasie aanvul.  As jy dus te haastig begin lewe, nie tyd kry om tot rus te kom om te reflekteer en te geniet nie, sal jy noodgedwonge al hoe meer oppervlakkig begin lewe.  Jy sal so dun soos ’n lekseltjie Marmite op ’n roosterbroodjie word.  Jy het dus ritmes nodig.  Jy het ruimtes van opwinding EN afskakel nodig.  Jy het avontuur nodig, en jy het stiltye nodig, tye waarin jy “unplugged” is.  “Wie ore het, moet luister.”
  • Skep ruimtes waarin die Woord kan wortel skiet in jou lewe deur doelbewus te doen wat dit vra.  Dit sal keer dat jou lewe so min oplewer soos die grond oor klipbanke, en jy dinge beloof wat jy nie kan lewer nie.  Ons gemeente se visie – soos die kerkraad dit tans formuleer – is om te luister en te leef.  Albei is belangrik.  Daar moet die stiltye wees, die tye van refleksie.  Maar, daar moet ook die tye wees van dienslewering.  Luister en Leef.  Miskien is dit die een ding wat die Here vandag vir jou wil sê, dat jy moet begin doen wat jy lees, begin leef wat jy hoor.  Dit kan wees dat jy net nie so ver kom om iets te doen aan wat die Here al só lank op jou hart druk nie.  Dit beteken dat die Woord nie kans kry om wortel te skiet in jou lewe nie.  Jy doen niks met dít wat jy hoor nie.  Jy het dus kwaliteit tyd nodig met die Bybel.  Maar, jy het ook “first steps” van gehoorsaamheid nodig aan wat jy daarin hoor.  Begin met iets eenvoudig – kleingroep, bediening, erediens, huisgodsdiens – dit kan jou lewe verander!  “Wie ore het, moet luister.”
  • Doen iets aan jou bekommernisse en begeertes.  Dit is dinge wat jou verbintenis aan die Here kan verstik.  Dit kan wees dat jy nodig het om saam met iemand te bid oor dié dinge wat jou lewe hel maak, dinge waaroor jy só bekommerd is, dat jy net nie op die Here kan fokus nie.  Doen dit so gou as moontlik.  Dit kan ook wees dat jou lewe so wentel om wat jy kan doen en bereik in die lewe dat jy net nie meer tyd vir die Here en die dinge van die Here het nie.  Dan het jy nodig om jou greep op sukses te laat skiet – gee iets weg, doen iets vir iemand anders – en die Here die fokus van jou lewe te maak.  “Wie ore het, moet luister.”
  • Luister en Leef bewustelik in die teenwoordigheid van die Here.  Daar is eintlik niks meer belangrik as dit nie.  Reg deur die eeue is dit die vanilla faktor in die geestelike lewe, die ding wat die grootste dividende oplewer.  Jy hoef nie geleerd te wees hiervoor nie.  Jy hoef selfs nie baie beweeglik te wees nie.  Jy doen dit deur bewustelik alles wat jy doen en dink vir die Here te doen en dink.  Dit sal uiteraard altyd iets te doene hê met die geloofsgemeenskap  – kleingroepe, eredienste – die gemeenskap – bedieninge – maar die belangrikste is om dit as deel van jou eie persoonlike geestelike lewe te doen.  Dit is ook ’n lewenslange reis.  Dit is iets waarvoor jy jouself moet gee: daagliks, volledig, voluit.  “Wie ore het, moet luister.”

Só kom die woord van God in my lewe te lande.  Op dié manier val die saad op vrugbare grond.  Op dié manier dra dit vrug. Kom luister vanaand verder.

Wie ore het, moet luister.”

Gebed

Dankoffers

Koor – Gebed en I believe

Slotlied

Lied 309:1-3 My lewe bly aan U gewy – staan

Seën

Amen

Lied 312

Koor

Uitvoering

 

b Vgl. Jes. 6:9–6:10

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.