Skip to main content

God is HEILIG – 1 Petrus 1:13-16

Erediens 6 September 2015

Lusmaker:

Ons leef in ‘n wêreld wat ‘n vals beeld van God het.  Dit is hierdie valse idee: God is nie gepla oor sonde nie.  Maar die beeld van God as iemand wat nooit oordeel nie, wat nooit nee sê nie, wat nooit berispe nie, wat nooit ‘n skewe woord vir ons sê nie, is ’n vals beeld van God. H. Reinholdt Niebuhr, ’n Amerikaanse teoloog, beskryf die valsheid van só ‘n tipe spiritualiteit as volg: “’n God sonder oordeel bring mense sonder sonde in ’n koninkryk sonder geregtigheid deur die bediening van ’n Christus sonder ’n kruis.

Die ware beeld van God is: God se liefde behels genade en oordeel.  Dit is die prentjie van die eerste bladsy van die Bybel tot by die laaste bladsy daarvan.  Adam en Eva, ons archetipe voorouers, word die tuin van Eden en die boom van die lewe verbied, toe hulle die verbode boom van alle kennis téén God se bevel in, eet.

Hoe wonderlik dat die laaste bladsye van die Bybel wel praat van juis hierdie boom van die lewe wat vir God se mense aangebied gaan word … terwyl die ander, die goddeloses, buite moet staan en toekyk.  “Geseënd is dié”, sê Johannes in Openb. 22: 14wat hulle klere was, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en deur die poorte in die stad kan ingaan.”  Maar hy sê ook: “15Buitekant is die dwaalleraars, die bedrieërs en die onsedelikes, die moordenaars en die afgodsdienaars en almal wat valsheid liefhet en doen.”  Genade en oordeel.

Wat ons moet verstaan, is dat God se oordeel nodig is om al die onreg, al die verkeerde dinge in hierdie wêreld, al die pyn en lyding, sonde en siekte, boosheid en dood, reg te stel. Ons hele wêreld smag immers na regstelling en regverdigheid!  En dit kan nie gebeur sonder dat daar ook oordeel is nie.

HIER VOLG DIE HELE EREDIENS; Word lêers (in Afrikaans en Engels) sowel as PowerPoint.  Ook die kleingroepmateriaal en huisgeloof.

Verwelkoming

Kinders gaan nie vandag vorentoe kom nie. 

Almal gaan na hulle groepies toe – glimwurms na die konsistorie en die Vuurvliegies na die Ark vir ‘n Gesinsbyeenkoms met julle ouers, dit is nou die Graad 1-3’s en hulle ouers. En die Glowstix gaan na die Jeuglokale vir hulle groepies.

Dankie vir al die mense wat ons begelei vanoggend

Valmarie en Henru van Zyl, Jenni en John- James Jacobs, Adriaan en Stephan Vorster, Dylan Fourie, Ruan Le Roux, Emma van Heerden, Yvonne Weitzs, Annabelle van Wyk en Etienne Snyman, Albert Troskie, Janneke Jacobs en Anel van Deemter.

Erediensbywonersvraelys – WAARDERING EN VERWAGTINGS VAN SOMERSTRAND

Ons neem deel aan die landswye meningsopname van die NG Kerk se Kerkspieël. Ons wil spesifiek luister na die stem van ons erediensbywoners om ons te help om te dink oor die roeping en bediening van ons gemeente. Dit sal ons help om sterk- en energiepunte te identifiseer wat ons in ons strategiese beplanning kan help.

Vul dus vandag biddend  dié vraelys in wat handel oor watter kwaliteite van die gemeente jy waardeer, wat jou hier inspireer en wat jou verwagtinge is. Dit is dinge soos interne kwaliteite (geloof, eredienste, gemeenskap), inspirasie kwaliteite (visie, leierskap, vernuwing) en eksterne kwaliteite (diens, getuienis, inklusiwiteit).

Almal (15 jaar oud en ouer volgens die voorskrifte van die meningsopname) kry vanoggend geleentheid om ‘n vraelys in te vul vir ons ondersoek. Jy kan meer lees oor die vraelys by www.gemeentes.co.za en daar ‘n prentjie kry van die waardering en verwagtings van die res van die NG Kerk saamgestel uit die resultate. Ons wil graag luister na jou. Moet dit dus nie vanoggend misloop nie! Ons sal later in die erediens kans gee daarvoor.  Dit word ook in konsistorie en Ark beskikbaar gestel.

GOD NOOI ONS UIT EN ONS KOM TOT RUS

Toetrede

God is heilig.  “Daarom staan daar geskryf: ‘Wees heilig, want Ek is heilig.’” (Lev. 11:44-45; 19:2; 20:7; 1 Pet. 1:16)”  Hy wat heilig is, roep ons om heilig te wees.

Lied 162 U self het ons kom roep, Heer, en daarom kom ons saam – koor voorsangers – sit

Votum en Seëngroet

Lofprysing

Psalm 33:1,7 Sing juigend, sing ‘n nuwe loflied – staan (orrel met instrumente)

Lied 548 Ek weet Jesus lewe, daarom is ek bly – staan (groep)

Lied 552 Liewe Vader, ek sê dankie, vir die wêreld rondom my – staan (groep)

Verootmoediging

Liturg: Die Heilige Here praat met ons vanuit die toekoms, vanuit die mikpunt van ons lewe, vanuit die nuwe hemel en aarde wat Hy besig is om vir ons voor te berei, en roep ons op om heilig te lewe:

10Verder sê hy (die engel) vir my: “Moenie die woorde van hierdie profetiese boek geheim hou nie, want die eindtyd is naby.

Gemeente:  11Wie kwaad doen, moet voortgaan om kwaad te doen, en wie vuil is, moet vuil bly; maar wie doen wat reg is, moet voortgaan om reg te doen, en wie heilig is, moet heilig bly.”

Liturg: 12Jesus sê toe weer: “Kyk, Ek kom gou! Ek bring die loon saam met My om elkeen te beloon vir wat hy gedoen het. 13Ek is die Alfa en die Omega, die Eerste en die Laaste, die Begin en die Einde.

14“Geseënd is dié wat hulle klere was, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en deur die poorte in die stad kan ingaan. 15Buitekant is die dwaalleraars, die bedrieërs en die onsedelikes, die moordenaars en die afgodsdienaars en almal wat valsheid liefhet en doen. (Openb. 22)

Geloofsbelydenis (Die lied van Moses; die lied van die Lam)

Liturg: 2En ek het iets soos ’n spieëlgladde see met vuur daarin gesien. Die mense wat die oorwinning behaal het oor die dier en sy beeld en die getal van sy naam, het by die spieëlgladde see gestaan met siters wat hulle van God gekry het. 3Hulle sing die lied van Moses, die dienaar van God. Dit is ook die lied van die Lam:

Gemeente:  “Groot en wonderbaarlik is u dade, Here God, Almagtige.

Reg en betroubaar is u optrede, Koning van die nasies.

4Wie sal U nie vrees nie, Here, en u Naam nie verheerlik nie? U alleen is heilig!

Al die nasies sal kom en U aanbid, want hulle sal sien dat u handelwyse regverdig is.” (Openb. 15)

Jonger kinders

  • Glimwurms – Konsistorie
  • Vuurvliegies (Gr. 1-3) en hulle ouers na Ark vir hul Gesinsbyeenkoms
  • Glowstix (Gr.4-6) kom vandag in die Jeuglokale bo in hul jaargroepe bymekaar

Aanbidding

Lied 170 (koor x1; gemeente 2x) Heilig, heilig, heilig, my hart, o Heer, aanbid U – sit (orrel)

Gebed

GOD PRAAT EN ONS LUISTER

Skriflesing

Dit is maklik om met Simon Petrus te identifiseer.  Hierdie dissipel en apostel van die Here Jesus Christus  word as ‘n oop en eerlike, selfs effens driftige mens geteken.  Hy het alles wat hy gedoen het met passie aangepak, selfs soms ‘n bietjie oorboord gegaan in sy ywer, ‘n paar keer heel letterlik van die skuit in die see!  In die proses het hy soms foute gemaak en soms bitterlik gehuil oor sy beperkinge.  Die Here Jesus het hom egter telkens weer op sy voete geplaas en op ‘n wonderlike manier gebruik as herderleier in die ontwikkeling van die vroeë kerk.

Petrus se leierskap en geloofsmoed was uitsonderlike gawes aan die kerk van sy tyd.  Hy het op onverskrokke wyse die uitdagings van die groeiende vervolging deur die godsdienstige en politieke instansies die hoof gebied, beide persoonlik in die tronk as publiek namens die kerk voor die Joodse Raad.

Hy het tegelykertyd baie gedoen om die uiteenlopende diversiteit van die groeiende uitbreiding van die kerk te hanteer, onder andere deur self grense oor te steek en gelowiges uit die heidene in te sluit, soos ons in die verhaal van Kornelius lees.  In die proses het Petrus dit reggekry om die geloofsgemeenskap van die vroeë kerk oor alle grense heen as ‘n eenheid te bewaar, waarin sy twee briewe ‘n belangrike rol gespeel het.

Petrus skryf hierdie eerste brief van hom in die vroeë sestigerjare van die eerste eeu n.C. uit Rome (aangedui as Babilon in die brief – 1 Pet. 5:13 – soos dit ook in Openbaring gedoen word – Openb. 14:8; 17:5).

Petrus rig sy brief aan die vreemdelinge van die Diaspora (1 Pet 1:1), waarmee hy Christene uit die heidennasies bedoel wat oor die wêreld verspreid is.  Hulle leef soos vreemdelinge binne die politieke bedelings in die Romeinse ryk.

Hy rig dit spesifiek aan Pontus, Galasië, Kappadosië, Asië en Bitinië (1 Pet. 1:1).  Dit is provinsies in die noorde en weste van wat ons vandag ken as Turkye, interessant genoeg juis dele wat nie deur Paulus op sy sendingreise besoek is nie.  Die afleiding wat baie maak, is dat Petrus hulle op ‘n sendingreis bedien het met die evangelie.  Hy skryf nou die brief om hulle te bemoedig om vol vreugde te volhard in die vervolging en lyding wat hulle beleef.

In sy brief beklemtoon Petrus dat die gelowiges burgers is van God se koninkryk.  Hulle lewe op aarde dus as vreemdelinge en bywoners (1 Pet. 2:11).  Dit beteken dat hulle waardes nie bepaal word deur hierdie lewe nie, maar deur God se koninkryk (1 Pet. 2:9).  Hulle is mense wat uitverkies is om deur Hom heilig gemaak te word deur die Heilige Gees (1 Pet. 1:2, 14-16), om aan Hom gehoorsaam te wees en die Here Jesus met hulle hele lewe lief te hê (1 Pet. 1:8).

1 Petrus 1:13-16

13 Daarom, wees verstandelik paraat (Luk. 12:35; Ef. 6:14) en tree nugter op; hoop volkome op die genade wat tydens die openbaring van Jesus Christus vir julle gebring sal word. 14 As gehoorsame kinders moet julle nie lewe in ooreenstemming met julle natuurlike neigings (begeertes) van vroeër, toe julle nog sonder kennis was nie (Rom. 12:2; Ef. 2:3; 4:17-18). 15 Inteendeel, soos Hy wat julle geroep het heilig is, moet julle hele lewenswandel heilig wees. 16 Daarom staan daar geskryf: ‘Wees heilig, want Ek is heilig.’ (Lev. 11:44-45; 19:2; 20:7)” (BDV)

“So roll up your sleeves, put your mind in gear, be totally ready to receive the gift that’s coming when Jesus arrives. Don’t lazily slip back into those old grooves of evil, doing just what you feel like doing. You didn’t know any better then; you do now. As obedient children, let yourselves be pulled into a way of life shaped by God’s life, a life energetic and blazing with holiness. God said, ‘I am holy; you be holy.’” (Peterson – The Message)

Woordverkondiging: GOD IS HEILIG

Ons leef in ‘n wêreld wat ‘n vals beeld van God het.  Dit is hierdie valse idee: God is nie gepla oor sonde nie.

Nou, dit is in reaksie op ‘n ander vals beeld van God as ’n kwaai en toornige God, ‘n God wat mense haat en nie kan wag om mense te straf nie.  God kyk eintlik die hele dag na dié kere wat jy sondig, en pootjie jou dan met een of ander kleiner of groter strafmaatreël.  En dit is natuurlik nie die regte beeld van God nie.  Hy laat immers reën op goddeloses en regverdiges.

Omdat mense tereg dié vals beeld van God verwerp, het daar egter ’n ander vals beeld van God ontstaan, een wat vandag baie gewild is.  Dit is die beeld van die geselsprogramme op TV, en in populêre selfhelp-boeke.  God word geteken as ’n kosmiese, welwillende gees wat nooit oordeel of straf nie, wat niks as sonde beskou nie, en wat almal seën.

En laat ons eerlik wees, die behoefte om God so te sien – in reaksie op die vals beeld van God as ’n haatdraende God – is heeltemal verstaanbaar.  ‘n Mens wil iemand hê wat sonder om te oordeel jou lewensdrome verstaan en waarmaak. ‘n Mens wil iemand hê – en watter beter iemand kan daar wees as só ‘n god? – wat die paaie vir jou gelykmaak en al jou foute op dié pad verskoon en wegpraat.  Ons sien dit selfs in die politiek …

Maar die beeld van God as iemand wat nooit oordeel nie, wat nooit nee sê nie, wat nooit berispe nie, wat nooit ‘n skewe woord vir ons sê nie, is ook ’n vals beeld van God. H. Reinholdt Niebuhr, ’n Amerikaanse teoloog, beskryf die valsheid van só ‘n tipe spiritualiteit as volg: “’n God sonder oordeel bring mense sonder sonde in ’n koninkryk sonder geregtigheid deur die bediening van ’n Christus sonder ’n kruis.

Die ware beeld van God is: God se liefde behels genade en oordeel.  Dit is die prentjie van die eerste bladsy van die Bybel tot by die laaste bladsy daarvan.  Adam en Eva, ons archetipe voorouers, word die tuin van Eden en die boom van die lewe verbied, toe hulle die verbode boom van alle kennis téén God se bevel in, eet.

Hoe wonderlik dat die laaste bladsye van die Bybel wel praat van juis hierdie boom van die lewe wat vir God se mense aangebied gaan word … terwyl die ander, die goddeloses, buite moet staan en toekyk.  “Geseënd is dié”, sê Johannes in Openb. 22: 14wat hulle klere was, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en deur die poorte in die stad kan ingaan.”  Maar hy sê ook: “15Buitekant is die dwaalleraars, die bedrieërs en die onsedelikes, die moordenaars en die afgodsdienaars en almal wat valsheid liefhet en doen.”  Genade en oordeel.

Wat ons moet verstaan, is dat God se oordeel nodig is om al die onreg, al die verkeerde dinge in hierdie wêreld, al die pyn en lyding, sonde en siekte, boosheid en dood, reg te stel. Ons hele wêreld smag immers na regstelling en regverdigheid!  En dit kan nie gebeur sonder dat daar ook oordeel is nie.

Dis waarom die Apostoliese geloofsbelydenis – waarop ons verlede kwartaal by die aanddiens klem gelê het – sê dat Jesus sal kom: “om te oordeel.”  Om ware vrede, herstel, versoening, genesing en heelmaking te bring op God se nuwe aarde – waar God se wil en God se geregtigheid sal heers – moet Jesus al die onreg in die wêreld oordeel, veroordeel en vernietig.

Oordeel en genade is dus die twee kante van God se liefde – soos dié wat die boek Esegiël saam met my gelees het verlede kwartaal so onverdund gesien het. Sonder die oordeel – en in Esegiël se tyd was dit ‘n onmenslike wrede ervaring – kan daar nie genade wees nie; kan die terugkeer, die herstel, die nuwe lewe, nie gebeur nie.

Trouens, sonder oordeel is God se liefde nie volmaak nie, want dan is God soos die ouer wat so “lief” is vir sy kinders, dat hy al hulle sonde verdra, dat hy toekyk hoe hulle hulleself en ander seermaak, dat hy toelaat dat sy kinders hulleself vernietig. Dit kan tog nooit nie!

God se liefde behels dat God die goeie wil hê vir sy kinders. God se patos, sy liefde, maak dat God nie apaties is en wegkyk van sonde nie.  Hy oordeel dit om dinge reg te stel.  God se oordeel is dus sy liefde in aksie, om dinge beter te maak, om dinge te herstel, om seker te maak die verkeerde dinge gebeur nie weer nie.

Esegiël het my gehelp om die waarde van die tempel in oud-Israel nuut te waardeer.  En dit het ‘n direkte verband met ons teksgedeelte van vandag.  In die OT was die tempel in Jerusalem die ruimte waar God se heiligheid ervaar kon word.  Baie dinge het daartoe bygedra: die groot en majestueuse gebou, die oorvloed van goud en beeldhouwerk, die gewydheid van die atmosfeer, die indrukwekkende klere van die priesters, die reuk van die offers, die sang van die kore.

Baie van ons kerke is gebou met daardie uitgangspunt, ‘n plek waar die gewydheid ons aan God se heiligheid kan herinner.  En dit is goed so, behalwe dat dit net een kant van heiligheid vir ons illustreer, die idee van ‘n gebou wat heiligheid uitstraal.

In die NT is ons die tempel van die Here.  Mense is nou die geboue van God!  God woon deur sy Gees in ons. Heiligheid is dus iets wat jy binne in jouself en vanuit jou binneste in hierdie lewe ervaar.

Dit is waarom Petrus in sy brief vir ons herinner aan die volgende dinge wat ons in heiligheid kan laat groei:

  • Ons moet: “verstandelik paraat (wakker – NAV)” wees – ons gedagtes orden, dinge deurdink, nie tevrede wees met halfgebakte oplossings nie, nie tevrede wees met halfhartige toewyding aan die Here nie. Ons koppe is belangrik in ons godsdiens!
  • Ons moet: “nugter” optree – nie toelaat dat ons weggevoer word deur onbekookte idees, nie só in lewensvreugde opgaan dat ons eintlik net met onsself besig is, en nie meer God daarin eer nie. Ons emosies is belangrik, nie ongebreidelde op loop gaan met goed nie, maar selfbeheersd, ingetoë, nugter.
  • Ons moet: “volkome hoop op die genade” – o, hoe belangrik is die hoop nie! En nie maar hoop in die verskiet van ‘n “pie in the sky when you die” nie, maar ‘n hoop op God se genade.  Hoe wonderlik het dit nie dié week vir my uitgewerk waar ek op God se genade in ‘n spesifieke situasie gehoop het, en die Here vir my genade getoon het!  Dit laat ‘n mens in jou toewyding groei, jy wil die Here dien, as jy genade ervaar het, en dit verhoog die heiligheid, die fokus op God, en wat Hy wil vir jou lewe.  Ons harte en emosies moet dus verknog wees aan God se werk in ons lewe, die hoop op sy gawes.
  • Ons moet leef: “as gehoorsame kinders”, wat beteken dat ons: “nie ons lewe inrig volgens die natuurlike neigings (begeertes) wat ons vroeër gehad het nie”, maar: “in ons hele lewenswandel heilig sal wees”. Ons gedrag is dus wesenlike belangrik in die koninkryk.

Hoekom?  Want God is heilig, en jy kan net met Hom in ‘n intieme verhouding lewe, as jy self in heiligheid groei.  Daarom het ek die opdrag uit Johannes se Openb. 15 vroeër gebruik sodat ons almal dit kan opsê as ‘n boodskap aan onsself:

 11Wie kwaad doen, moet voortgaan om kwaad te doen, en wie vuil is, moet vuil bly; maar wie doen wat reg is, moet voortgaan om reg te doen, en wie heilig is, moet heilig bly.”

Kom ons sê dit weer saam: ”11Wie kwaad doen, moet voortgaan om kwaad te doen, en wie vuil is, moet vuil bly; maar wie doen wat reg is, moet voortgaan om reg te doen, en wie heilig is, moet heilig bly.”

Petrus sal in sy brief nog meer hieroor sê, en meer prakties skryf oor arbeidsverhoudinge en die huwelik, maar die oorhoofse doelwit is om te groei in regdoen en heiligheid.  Daarop moet ons as gemeente in ons persoonlike en publieke lewe fokus,

Ek sluit af:

Die geloofsgewoonte vir dié week is Kantlyne (MARGIN: marge, speling, grens, ruimte).  Dit gebruik die metafoor van die ruimte aan die rand van ‘n bladsy in ‘n boek, waar daar geen teks is nie.  As die blad vol teks sou wees, sou daar geen marge – geen kantlyn – wees nie.  Ons lewens is baie keer só: “We add so much to our schedules that we have no ‘margin’, no space for leisure and rest and family and God and health.

Die geheim om kantlyne in te bou in jou lewe is die eenvoudige, maar moeilike ding om te doen: SÊ NET NEE!  Waarvoor?  Vir enigiets wat nie absoluut nodig is vir jou eie menswees en dié van ander nie.  Dit gaan dus nie oor goed teenoor sleg nie, maar oor die keuse tussen goed en goed, tussen dié dinge wat vir jóú die regte goed is, en dié wat sleg is vir jóú, al is dit as sodanig goed.

Daar is verskillende maniere om kantlyne in jou lewe in te bou en ek gee ‘n hele paar voorstelle vir dié week. Kyk in die aankondigings.

Ek wil egter ook ‘n ander interpretasie daarvan gee as ‘n stimulus vir jou verbeelding.  Wat daarvan as jy nie soseer kantlyne inbou in jou lewe om op die rand daarvan spasie te skep nie – soos in die voorbeeld op die skerm – maar die kantlyne gebruik as ‘n metafoor om die binnekant van die bladsy skoon te maak, vol van wit spasie, vol van God se teenwoordigheid in jou lewe – soos hierdie volgende beeld op die skerm?

Miskien gaan kantlyne dan vir jou beteken dat jy God sal toelaat om die bladsye van jou lewe te gebruik, en jy gebruik die kantlyne om dié dinge wat vir jou belangrik is, te doen.

Wie weet …

Die vrug van kantlyne – of jy nou op binnekant van die bladsy skryf, en of God op die binnekant skryf – sal ‘n lewe wees wat heel word.  Want, onthou, heiligheid is wesenlik heelheid – ‘n lewe wat aan sy doel beantwoord.  Deur te fokus op die geloofsgewoonte kantlyne herstel jy die balans in jou lewe, verhoog jy jou kapasiteit om vreugde te belewe.  En ek is oortuig, vreugde is een van die dinge wat jou van versoeking vrywaar, wat jou ‘n heilige lewe laat leef, wat jou van binne-af heelmaak sodat Christus in jou gestalte kan kry.

Dit is immers wat die beteken om die lewensreël Practising the Presence of God te beoefen, want God is heilig, en almal wat in sy teenwoordigheid kom, word heilig soos Hy dit is.

Gebed

GOD STUUR ONS OM TE LEEF

Dankoffers

Vonkk 296 Klap julle hande, o nasies.  Amen.  Halleluja! – koor

Erediensbywonersvraelys (word ook in konsistorie en Ark beskikbaar gestel)

Slotlied

Lied 475 Werk in u gemeente, Here, Vader, Seun en Heil’ge Gees – staan (orrel)

Seënbede

Gemeente gaan sit vir die lied

Vonkk 316  Die Heer is voor jou met sy lig op jou pad – koor

Amen

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.