Skip to main content

Luister na Lasarus en die ryk man – Lukas 16:19-31

Die wêreldbevolking het in 2016 gestaan op 7,5 miljard mense (7,7 in September 2019).

‘n Paar stukkies interessante statistiek. As die wêreld 100 MENSE was:

  • Dan sou 25 kinders wees.
  • Daar sou 75 volwassenes wees,
  • Van wie nege 65 jaar en ouer sou wees.

Daar sou die volgende groepe wees:

  • 60 Asiërs
  • 16 Afrikane
  • 14 mense uit die Amerikas
  • 10 Europeërs

Daar sou die volgende aantal gelowiges wees:

  • 31 Christene
  • 23 Moslems
  • 16 mense wat geen godsdiens aanhang nie
  • 15 Hindoes
  • 7 Boeddhiste
  • 8 mense wat ander godsdienste beoefen

Daar is baie dinge wat goed gaan in die wêreld. Daar het groot verbeteringe tussen 2006 en 2016 vir mense gekom.

Byvoorbeeld:

  • Daar sou volgens die skaal van 100 mense in 2006 slegs een persoon uit die 100 mense wees wat ‘n universiteitsopleiding gehad het. In 2016 het die getal tot sewe aangegroei. Dit is vandag waarskynlik nog hoër.

En die voorsiening van huisvesting is redelik goed:

  • 78 mense uit die 100 het ‘n plek om hulle te beskerm van die wind en die reën.
  • Maar, dit beteken dat 22 mense in die wêreld nie ‘n dak oor hulle kop het nie.

Die ontstellende statistiek is egter vir my dat uit die 100 mense:

  • Sou een vandag sterf van honger
  • 11 sou vandag ondervoed wees
  • En 22 sou vandag oorgewig wees

En dit is hierdie laaste stukkie statistiek wat steeds kommer wek. 12 mense het nie genoeg om van te lewe uit elke 100 mense nie. 12% van die wêreldbevolking.

Dit is die eerste hoek vanwaar ons die verhaal van Lasarus en die ryk man moet lees, die teks vir vandag, Lukas 16:19-31. Ons lees die gelykenis uit die hoek van nood.

Download the English Translation: Listen to Lazarus and the Rich Man

HIER VOLG DIE HELE EREDIENS:

Tema: Luister na Lasarus en die ryk man – Lukas 16:14-31

Somerstrand 09:00 29 September 2019

Verwelkoming en aankondigings

Daar is nie Bybelskool nie. Ons begin 9 Oktober. Bydraes hervat 3 Oktober.

Toetrede

Lied 159 1-2  God is hier teenwoordig (sit)

Votum en Seëngroet

Lofsang

Psalm 9:1,5,6 Ek wil, o Heer, van blydskap juig (staan)

Lied 209  2x  Heer, met my hele hart (staan) – Lied 209 gebruik Psalm 9 se teks

Toewyding

Vonkk 403 1-4  Op U verlaat ek my, genadige Heer (sit). (Halleluja 313)

Voorbidding

Kobus Nelson is Vrydag oorlede in Istanbul. Ons bid vir Elsje wat al die reëlings boonop in ‘n vreemde land moet hanteer. Ook vir die uitgebreide familie in die gemeente wat daardeur geraak word. Sino Makhaya, Elsje en Kobus se pleegsorg dogter. Dalene Dippenaar, Kobus se suster. Cecile, Elsje Nelson se suster, en Hennie haar man. Hennie Meyer, Elsje se broer, en Gwen. Asook Danie Venter, nog ‘n broer, in PE Hoogland, wat ek ook goed ken. Ons eer Kobus se nagedagtenis en bid die familie sterkte toe.

Dalene het nog ‘n verlies gehad, ‘n aangetroude familielid in Sutherland, wat my ook laat dink het aan die geweldige droogte. Haar familie is boere in die Karoo, en het juis baie swaar gehad weens die gebrek aan reën. Nou moet hulle ook ‘n pa se verlies hanteer.

Maar, hulle dubbele leed laat ons ook dink aan die talle plekke in ons land wat verswelg onder die droogte. Dele van ons land lyk soos ‘n Mars landskap, net klippe waar jy kyk. Geen plantegroei wat hou nie. Daar is dele in ons gebied wat al ses maande heeltemal droog is. Sonder water. Ons bid vir reën, Here, genoeg vir mens en dier.

Skriflesing en prediking

Luister na Lasarus en die ryk man – Lukas 16:19-31

Die wêreldbevolking het in 2016 gestaan op 7,5 miljard mense (7,7 in September 2019).

‘n Paar stukkies interessante statistiek. As die wêreld 100 MENSE was:

  • Dan sou 25 kinders wees.
  • Daar sou 75 volwassenes wees,
  • Van wie nege 65 jaar en ouer sou wees.

Daar sou die volgende groepe wees:

  • 60 Asiërs
  • 16 Afrikane
  • 14 mense uit die Amerikas
  • 10 Europeërs

Die mense sou die volgende tale praat:

  • 12 sou Chinees praat
  • 6 sou Spaans praat
  • 5 sou Engels praat
  • 4 sou Hindi praat
  • 3 sou Arabies praat
  • 2 sou Japannees praat

Daar sou die volgende aantal gelowiges wees:

  • 31 Christene
  • 23 Moslems
  • 16 mense wat geen godsdiens aanhang nie
  • 15 Hindoes
  • 7 Boeddhiste
  • 8 mense wat ander godsdienste beoefen

Daar is baie dinge wat goed gaan in die wêreld. Daar het groot verbeteringe tussen 2006 en 2016 vir mense gekom.

Byvoorbeeld:

  • Daar sou volgens die skaal van 100 mense in 2006 slegs een persoon uit die 100 mense wees wat ‘n universiteitsopleiding gehad het. In 2016 het die getal tot sewe aangegroei. Dit is vandag waarskynlik nog hoër.

En die voorsiening van huisvesting is redelik goed:

  • 78 mense uit die 100 het ‘n plek om hulle te beskerm van die wind en die reën.
  • Maar, dit beteken dat 22 mense in die wêreld nie ‘n dak oor hulle kop het nie.

Die ontstellende statistiek is egter vir my dat uit die 100 mense:

  • Sou een vandag sterf van honger
  • 11 sou vandag ondervoed wees
  • En 22 sou vandag oorgewig wees

En dit is hierdie laaste stukkie statistiek wat steeds kommer wek. 12 mense het nie genoeg om van te lewe uit elke 100 mense nie. 12% van die wêreldbevolking.

Nood

Dit is die eerste hoek vanwaar ons die verhaal van Lasarus en die ryk man moet lees, die teks vir vandag, Lukas 16:19-31. Ons lees die gelykenis uit die hoek van nood. Ons lees eers net die eerste drie verse:

Gelykenis van die ryk man en Lasarus.

19 En daar was ’n ryk man, en hy het purper en fyn linne gedra en elke dag vrolik en weelderig gelewe. 20 En daar was ’n bedelaar met die naam van Lasarus (God help) wat vol swere voor sy poort gelê het. 21 En hy het verlang om hom te versadig met die krummels wat van die ryk man se tafel val. Ja, selfs die honde het gekom en sy swere gelek.

Interessant is dat die vroeë kerk hierdie Lasarus as ‘n werklike persoon gereken het (Tertulianus).

Dit is ook interessant dat die woord wat vir swere gebruik word, helkoomai, gewoonlik gebruik word vir wonde wat geïnfekteer word. Dit open die moontlikheid dat Lasarus aangerand is en daarom in ‘n verswakte toestand ‘n bedelaar geword het. Daar was dus moontlik nie iemand wat sy wonde kon verbind nie. Daarom het sy wonde gesweer en uiteindelik sy dood gekos.

Indien dit die geval is, is daar ‘n interessante verband wat met die vorige gelykenis van die Barmhartige Samaritaan getref kan word (Luk 10:25-37). Lasarus in hierdie gelykenis is dan vergelykbaar met die man wat onder die rowers deurgeloop het in die vorige gelykenis. En die ryk man is soos die priester en die Leviet wat anderkant verbygeloop het en niks aan die man se wonde gedoen het nie.

Die  kunstenaar Leandro Bassano het nog verder gegaan en in sy skildery Dives and Lazarus in 1595 die skuld vir die wonde op hierdie man geplaas.

Hoe dit ook al sy, net die honde het hulle oor Lasarus ontferm, sê die gelykenis. Die ryk man het geen barmhartigheid betoon nie. Hy het die nood nie raakgesien nie. Hy het verby die nood van Lasarus geleef. Trouens, dit lyk asof selfs die honde nie van die oorskiet van sy tafel gekry het nie. Laat staan nog Lasarus, die bedelaar in sy poorte.

En laat ons luister alreeds net na hierdie eerste deel van die gelykenis van Lasarus en die ryk man. As die honde meer as jy kan raaksien – en die swere van ‘n Lasarus probeer skoonmaak – dan is daar fout met jou oë.

Maar, dit is nog maar die begin.

Waarom is die ryk man blind vir nood?

Waarom is die ryk man se oë verblind vir die nood van Lasarus?

Die antwoord lê opgesluit in die opmerking oor sy rykdom. Hy was ’n ryk man. Hy het die beste klere gedra. Purper en fyn linne. Hy het die beste kos geëet. Elke dag vrolik en weelderig gelewe.

En die probleem is nie dat hy die lewe geniet het nie. Die probleem is nie dat hy ryk is nie. Nee, God het geen probleem met rykdom nie. Trouens, God is verantwoordelik vir die sukses wat mense het in die lewe. Hy gee vir sommige in oorvloed.

Die probleem lê doodgewoon in die feit dat die ryk man sy rykdom net vir homself gebruik het. Hy was gierig. Hy het vir homself geleef. Hy was blind vir sy naaste, die naaste wat in sy poort gelê het.

Gierigheid

Dit is dan ook die tweede hoek waaruit ons hierdie gelykenis moet lees. Die hoek van gierigheid.

Trouens, reeds in hoofstuk 15 het Jesus die gelykenis van die verlore seun vertel. Van ‘n pa wat nie terughoudend was nie toe sy seun sy aandeel van die erfporsie opgeëis het nog voor die pa dood is. Die pa het nie vasgeklou aan sy rykdom nie. Hy het nie verwyt toe die verlore seun terugkom na hy alles verkwis het nie, maar verwelkom hom as een wat uit die dood uit teruggekeer het!

En ons moet goed kyk na die konteks waarbinne hierdie gelykenis van Lasarus en die ryk man vertel word in hoofstuk 16. Dit word in die konteks vertel van Jesus se lering aan sy dissipels oor integriteit en betroubaarheid in die hantering van geld, hoofstuk 16:1-13. En in die verse net vóór die gelykenis van Lasarus en die ryk man spreek Jesus die Fariseërs aan oor hulle geldgierigheid en hulle ontrouheid in die huwelik – hoofstuk 16:14-18.

Jesus spreek dus met hierdie gelykenis in die eerste plek die Fariseërs aan oor hulle gebrek aan ’n hart vir armes. Hy ontbloot hulle gierigheid, want dit het gemaak dat hulle aan hulle geld ‘n groter gewig as aan God en hulle naaste gegee het.

Maar, uiteraard, Jesus spreek almal van ons aan. Rykdom kan jou gierig maak. Jou doel in die lewe raak. En die probleem met gierigheid is dat dit God se teenwoordigheid in jou lewe verdof. Die probleem met gierigheid is verder dat dit jou naaste se nood verberg. Gierigheid buig jou behoeftes in net op jouself. Dit laat jou net aan jouself en jou eie behoeftes dink. Terwyl Lasarus in jou poort krepeer van ellende.

Genade

‘n Derde hoek om die verhaal uit te lees, is uit die hoek van genade. Kom ons lees die volgende twee verse:

22 En toe die bedelaar sterf, is hy deur die engele weggedra na die boesem van Abraham. 23 En die ryk man het ook gesterwe en is begrawe. En toe hy in die doderyk sy oë ophef, terwyl hy in smarte was, sien hy Abraham van ver af en Lasarus aan sy boesem.

Die bedelaar Lasarus word met sy dood deur die engele weggedra na die boesem van Abraham. Die ryk man maak sy oë oop in die doderyk, in die plek van smarte.

Hoekom?

Die bedelaar se naam gee ons ‘n sleutel om dit te verklaar. Lasarus beteken: “God help”. Sy naam beskryf alreeds sy verhouding met God. Die rol wat hy in die gelykenis speel, is as die begenadigde, die een wat aan die ontvangkant staan van God se genade.

Teenoor Lasarus word die ryk man nie deur sy verhouding met God beskryf nie, net met ‘n verwysing na sy rykdom.

In die vroegste Latynse vertaling van die Bybel, die Vulgaat, word hy as Dives aangedui, die Latyn vir “ryk man”.  Dit het mettertyd as sy naam bekend geword. En dit is eintlik ironies genoeg só van pas. Die ryk man word dus nie met sy regte naam aangedui nie. Ook nie aan die hand van sy verhouding met God nie. Soos Lasarus. Hy word net met sy rykdom aangedui. Die Ryke.

Dit is waarom Lasarus homself uiteindelik aan tafel met Abraham bevind in die hiernamaals, “aan die boesem van Abraham.” Wat dit beteken, is dat hy die ereplek aan tafel langs Abraham gekry. Soos wat Johannes by die nagmaalstafel aan die bors van Jesus geleun het (Joh 13:23), só kry Lasarus die ereplek aan die bors van Abraham in die feesmaaltyd van die hiernamaals.

Deur God se genade.

En ons moet nou nie meer hierin lees as wat die gelykenis probeer vertel nie. Lasarus het nie iets gedoen wat hom die ereplek laat verdien het nie. Hy het doodgewoon die genade van God ontvang, omdat hy in die laaste instansie van God afhanklik was. Soos sy naam dit vir ons verklaar.

Dit is ook al waarop ons as gelowiges kan staatmaak. Dit is nie wat ons vir God doen nie. Dit is wat Hy vir ons doen. Ons name moet ook Lasarus wees, die mense wat bekend staan dat God hulle help. Dat hulle uit God se genade leef.

Ons lewens het gevolge

Daar is egter nog meer. Daar is – in die vierde plek – ook die hoek van gevolge. Ons lewens het gevolge. Soos ons dit in die volgende drie verse lees:

24 En hy roep en sê: Vader Abraham, wees my barmhartig en stuur Lasarus, dat hy die punt van sy vinger in water kan insteek en my tong verkoel; want ek ly smarte in hierdie vlam. 25 Maar Abraham antwoord: Kind, onthou dat jy jou goeie dinge in jou lewe ontvang het, en so ook Lasarus die slegte. En nou word hy getroos, maar jy ly smarte. 26 En by dit alles is daar tussen ons en julle ’n groot kloof gevestig, sodat die wat hiervandaan wil oorgaan na julle, nie kan nie; en die wat dáár is, nie na ons kan oorkom nie.

Die ryk man se plesier in die lewe eindig in die pyn van die dood. Hy het niemand laat deel in sy rykdom nie. Hy het nie ‘n oog gehad vir die nood van die wêreld nie. Hy het Lasarus misgekyk waar hy met sy swere in sy poorte gelê het. Nou lei hy smarte in hierdie vlam.

Sy gierigheid in die lewe het hom verhoed om te belê in ‘n verhouding met God, in ‘n liefde vir sy naaste. Die gevolg is dat hy nie net gebrek ly in die dood nie, maar smarte verduur in die vlam van verwyt en vernietiging.

Dit is interessant dat hy uitroep, “Vader Abraham, wees my genadig!” Dit is ‘n bekende uitroep in die liturgie, die Kyrie Eleison. Die ryk man se pleit om genade is egter nie een van berou en inkeer nie. Sy smart is wel ‘n noodkreet van selfbejammering, en moontlik ook in die lig van die latere gesprek oor die broers, van selfverwyt. Maar, dit draai steeds om homself.

Trouens, hy wil Lasarus nou in die dood hiet en gebied om sy vinger in water te steek en sy tong kom verkoel.

Maar, verniet. Dit is te laat. Die Kyrie Eleison is bedoel vir hierdie lewe. Nie vir die hiernamaals nie. Die versoek word daarom nie toegestaan nie. Trouens, kan nie toegestaan word nie. Die ryk man het sy keuses in die lewe gemaak, en dit het nie rykdom in God ingesluit nie. Nou, is hy op die plek wat van God verlate is. ‘n Plek wat verwyderd is van God en die ewige lewe. Selfs al sou Lasarus wou, sou hy nie by die ryk man kon uitkom nie.

Ons lewens het gevolge. Dit is wat ons moet leer. Dié wat ryk is in God sal soos Lasarus met oop arms ontvang word in die teenwoordigheid van God. Dié wat ryk is in hulleself sal soos die ryk man vir ewig verlaat word in die smarte van pyn en vernietiging.

Moses en die profete

Daar is egter ‘n vyfde hoek waaruit ‘n mens die verhaal moet lees, en dit is uit die hoek van Moses en die Profete, die Bybel. Hoor mooi wat Jesus hier sê, in die volgende 5 verse:

27 En hy sê: Ek bid u dan, vader, om hom na my vader se huis te stuur — 28 want ek het vyf broers—om hulle dringend te waarsku, sodat hulle nie ook in hierdie plek van pyniging kom nie. 29 Toe sê Abraham vir hom: Hulle het Moses en die Profete; laat hulle na dié luister.

30 Maar hy antwoord: Nee, vader Abraham, maar as iemand uit die dode na hulle gaan, sal hulle hul bekeer. 31 Maar hy sê vir hom: As hulle na Moses en die Profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie, al sou iemand ook uit die dode opstaan.

Die ryk man se versoek aan Abraham het alreeds ‘n skyn van arrogansie deurdat hy dink dat hy Lasarus in die hiernamaals kan hiet en gebied. Hy wat geen barmhartigheid in die lewe aan Lasarus verleen het nie, wil hê dat Lasarus barmhartigheid aan hom in die hiernamaals sal bewys.

Maar, nou sê die ryk man, as dít dan nie kan werk nie, sal iemand dan nie my broers gaan waarsku nie. Ek het vyf broers. Hulle leef op dieselfde manier as ek. Hulle moet tot inkeer kom. Hulle moet ten alle koste dit vermy om op hierdie godverlate plek van pyniging te kom.

Abraham se antwoord is glashelder. Hulle het Moses en die Profete – die beskrywing van die geheel van die OT. Hulle het niks meer as dit nodig nie.

En onmiddellik besef ‘n mens, dit was natuurlik ‘n verdere gebrek in die ryk man se lewe. Hy het hom nie gesteur aan die wil van God soos dit in die Bybel vir hom gegee is nie.

Want hy besef nie regtig die gravitas van wat Abraham hier oor die Bybel sê nie. Dit is al wat nodig is. Een van die eerste verwoordings van Sola Scriptura.

“Nee, Abraham,” probeer die ryk man weer. “Stuur tog iemand uit die dood uit. Laat iemand opstaan uit die dood. Dan sal hulle hulle bekeer.”

Abraham is egter onversteurd. Helder. “As hulle nie na die Bybel luister nie, sal hulle nie deur enigiemand oortuig word nie, selfs nie deur iemand wat uit die dood uit sal opstaan nie.”

Ironies. Want Iemand sou kort hierna uit die dood uit opstaan. En die Fariseërs sou steeds nie in Hom glo nie! As jy die boodskap van die Bybel ignoreer, sal jy nie in staat wees om ooit die opgestane Jesus te herken óf te erken nie.

Soos Jesus te vore al gesê het:

46 As julle Moses geglo het, sou julle My geglo het; hy het tog oor My geskryf. 47 Maar as julle sy geskrifte nie glo nie, hoe sal julle my woorde glo?” (Joh 5:46-47)

Ons moet dit goed hoor:

Ons moet nooit dink dat daar ‘n manier is wat ‘n mens die boodskap van die Bybel kan systap nie. Dit is wat die verhaal van Lasarus en die ryk man vir ons onomwonde sê. As jy die Bybel verwerp, sal jy nooit die Een waarvan die Bybel praat, kan ontvang nie.

Trouens, net in die vorige perikoop het Jesus baie spesifiek na die wet verwys. Hy het verkondig dat die geldigheid van die wet vir altyd staan. En dit geïllustreer met die voorbeeld van egbreuk.

Die gesag van die wet.

14 En die Fariseërs, wat geldgierig was, het ook al hierdie dinge gehoor en Hom beskimp. 15 En Hy het vir hulle gesê: Dit is julle wat julself regverdig voor die mense, maar God ken julle harte; want wat by die mens hoog geag word, is ’n gruwel voor God.

16 Die wet en die profete was tot op Johannes; van toe af word die evangelie van die koninkryk van God verkondig, en elkeen dring met geweld daarin. 17 Maar dit is makliker dat die hemel en die aarde verbygaan as dat een tittel van die wet sou val. 18 Elkeen wat van sy vrou skei en ’n ander een trou, pleeg egbreuk; en elkeen wat trou met die vrou wat van haar man geskei is, pleeg egbreuk.

Daarmee wys Jesus dat die morele kant van die wet vir altyd van krag bly. Die boodskap daarvan geld vir die huwelik. Die boodskap daarvan geld vir nood. Dit is waarom die boodskap opgesom kan word in die liefde vir God en die liefde vir jou naaste. Sonder die boodskap van die OT verloor die dubbele liefdesgebod in die NT sy begronding en motivering. Nie een woord van die wet kan verbygaan nie, anders is alles tot niet.

Dieselfde geld dus die verhaal van Lasarus en die ryk man wat wys op die noodsaak van deernis en diens aan noodlydendes, soos wat dit uitvoerig in die wet beskryf is.

Dit is duidelik dat die ryk man dit te laat agterkom. Hy wil iemand uit die dood laat opstaan om sy broers te waarsku.

Maar, Abraham wys hom daarop dat hulle die wet en die profete het. Niks is meer nodig nie. Niks trouens kan die funksie van die Bybel vervang nie. Dit is immers God wat daardeur aan die woord kom. Die ryk man se voorstelle het dus geen kans op sukses nie. Dit sal tevergeefs wees.

Abraham beklemtoon twee maal dat “Moses en die profete” genoegsame oortuiging behoort te wees. Daar is nie ‘n ander Woord nie.

Boodskap

Wat sê hierdie gelykenis vandag vir ons?

1. Val in by God se manier van dink en doen

Die gelykenis beklemtoon dat ons moet inval by God se manier van dink en doen. Dit wat Hy in die wet geskrywe het, is steeds geldig. Dit wat Hy in die profete openbaar het, is steeds geldig. Dit wat Hy in Jesus aan ons openbaar het, is daarop gebou. Die seremoniële en burgerlike aspekte daarvan het tot ‘n einde gekom, soos die Hebreërskrywer uitvoerig aantoon. Die morele kant daarvan bly vir altyd geldig.

Ek is al hoe meer oortuig dat dit dié onderskeidingspunt is in die Christelike wêreld. Sommige val in by God se manier van dink en doen soos dit in die Bybel beskrywe word. En ander nie.

Dit is wat hierdie gelykenis uiteindelik vir ons sê: Luister na Moses en die Profete. Ek herhaal: Luister na Moses en die Profete. Ons lewens het gevolge. Wat ons dink en doen, het gevolge. En waar dit die wil van God oortree, het dit ewige gevolge.

2. God se genade bepaal alles

Nog dieper. Daar is ‘n ander onderskeidingspunt in die Christelike wêreld. Dit is egter ‘n verskil wat eers ná die dood regtig aan die lig sal kom. Sommige sal soos Lasarus die ewige troos beërwe. Sommige sal soos die ryk man die ewige smart beërwe.

Hoe kan jy verseker dat jy die ewige lewe beërwe?

Deur soos ‘n Lasarus te lewe uit sy genade. Alles hang van God se genade af. Dit is wat die verskil maak. Om te sê, ek is niks, ek het niks van waarde, behalwe U nie. Here, wees my genadig. Die woorde van die ryk man, Kyrie Eleison, maar in HIERDIE lewe. Ná die dood sal dit vir altyd te laat wees.

Vir elkeen wie se naam dus Lasarus is – by wyse van spreke – wat op God as die Helper vertrou, vir ons sal die wonderlike werklikheid aanbreek ná ons dood dat ons deur die engele na die “boesem van Abraham” weggedra sal word. Die metafoor vir die ewige lewe.

Vir dié wat net vir hulleself gelewe het, wat hulle nie aan God gesteur het nie, wat nie ‘n naaste geword het vir die siek bedelaars in hulle poorte nie, sal die tyd van genade tot ‘n einde kom. Met die dood. Want, God dwing niemand om sy genade te aanvaar nie. Al wat gebeur, is dat Hy jou uiteindelik aan jou eie genade oorlaat. En in die “smarte van die vlam” tel dit niks nie.

Selfs ‘n druppel water is daar meer werd as al jou rykdom in hierdie lewe.

Gebed

Dankoffers

Albert en Erika doen duet op Vonkk 38

Voorstelling as ouderling

Riette Muller

Slotlied

Lied 525 1,3 Here, hoe blymoedig (staan)

Seën

Amen

Respons

Vonkk 38:1 Here, ons God, as ons nou huis toe gaan (staan)

View all posts in this series

Comment

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.