Handelinge 9:32-42 – God gee vir gewone mense om – Son 18 April 2010

Verwelkoming

Baie welkom.  Groet mekaar.

Verjaarsdae – almal wat verjaar, kan staan, dat ons geluk kan sê.

Terugblik

In die eerste kwartaal het ons bevestig dat die Bybel vir ons belangrik is – ons is ‘n Woord-gemeente.  Ons het ook gesels oor wat dissipelskap beteken, hoe ons in die voetspore van Jesus volg.

Program

Aan die begin van die nuwe kwartaal, heers daar nou ‘n gees van afwagting.  Ons kon sien hoe die Here verlede kwartaal die pad gereed maak.  Ons sien opgewonde uit na die pad wat die Here in die komende kwartaal met ons wil stap.  As gemeente gaan ons in afhanklikheid van die Heilige Gees leef.  Ons wil onsself volledig in God se hande plaas en op sý krag vertrou, nie op ons eie kragte en planne nie.

Gebed speel daarom hierdie kwartaal ‘n baie belangrike rol – meer nog as gewoonlik.  Saam met baie gemeentes in die land wag ons 40 dae lank op die Here en pleit om herlewing.  Dit is vanjaar 150 jaar sedert die vorige herlewing soos ‘n golf oor SA gespoel het en die Pinkster-bidure daaruit ontstaan het.  As ons kyk na die plofbare, onversoende situasie wat op die oomblik in ons land heers, is dit duidelik dat ons dringend weer so ‘n herlewing nodig het.

  • In ons eredienste gaan ons nadink oor wat gebeur wanneer ons in afhanklikheid van die Gees leef met die tema Gestuur deur die Gees.
  • In die weeklikse Joernaalblad sal daar riglyne vir daaglikse gebed wees. Jy kan ook jou naam op die “muur” skryf en deel vorm van die 24 uur gebedsketting. Die kerk sal elke dag van 15:00 tot 16:00 oop wees vir mense wat hier wil kom stil raak.
  • Tydens Didage kan jy in die kerk, met behulp van stilte, Skrif en kuns, op die Here wag. Of jy kan inskakel by die Bybelskool, Op pad met God of GriefShare.
  • Terwyl ons bid om die uitstorting van die Gees op ons gemeente, gaan ons ook geleenthede skep vir ons lidmate om die verskillende plekke waar ons betrokke is, te besoek.
    • Arbeidsbediening: Dinsdag 4 Mei.
    • ACVV Khayalethu Jeugsentrum: Hier is 30 kinders en jongmense. Ons besoek hulle in Noordeinde op Woensdag, 5 Mei.
    • Chesire Homes: Ons gaan drink op Sondag 9 Mei net na die oggenddiens saam met hulle tee.
    • ACVV Kamvalethu Invalsentrum: Ons besoek hulle in Noordeinde op Woensdag, 12 Mei. Hier word 10 straatkinders versorg en gemotiveer om na hulle ouers terug te keer.
  • Ons gaan Pinkster vier soos wat dit oorspronklik, 150 jaar gelede, gevier is. Terwyl die kinders in die Ark Pinkster hou, gaan die grootmense saam sing, bid en die Here se aangesig soek. Soos met die eerste bidure gaan ons onsself voor God verootmoedig, in afwagting van die werk wat Hy in en deur ons wil doen.

Votum en Seëngroet

Lofprysing

Doop

Garth en Elana Löest en hulle dogtertjie Nickela

Kindertyd

Hangman

Het julle al Hangman gespeel?  Dit is as jy net ‘n paar letters van ‘n woord kry en die ander moet raai.  Elke verkeerde raai teken ‘n mens ‘n prentjie van ‘n man wat gaan hang.

Kom ons speel dit met die volgende woord.  Ek gee vir julle W_D_W__ (Weduwee).

Wat is ‘n weduwee?

Dit is ‘n getroude vrou wie se man dood is.

Ken julle sulke mense?

Tabita

Ons lees van ‘n vrou in die Bybel wat vir sulke mense gesorg het. Haar naam was Tabita. Kyk hoe mooi lyk sy (foto op die skerm).

En sy kon goed kleremaak en het vir die weduwees in haar dorpie Joppe klere gemaak.  Dit was so wonderlik dat die mense vir haar twee name gegee het.  Die Hebreeuse mense het haar Tabita genoem.  Maar sy het so baie Grieke ook gehelp, dat die Grieke vir haar Dorkas genoem het.

Maar, toe raak sy siek en gaan dood.  En almal was baie hartseer. Hulle stuur toe 2 mans om vir Petrus te gaan roep.  En hulle wys vir hom van die pragtige klere wat sy gemaak het, toe sy nog gelewe het.

En Petrus stuur almal uit en vra vir die Here om Tabita weer lewendig te maak.

En wat gebeur toe?  God antwoord en maak haar weer lewendig.

God wys daarmee dat Hy vir gewone mense omgee, want nou het die weduwees weer iemand gehad wat vir hulle kon sorg.

Ons kan ook soos Tabita vir ander help.  Ek wil graag vra dat julle volgende week klere vir weeskinders bring.

Sal wonderlik wees as julle dit kan doen.  Dan maak ons ‘n paar kinderhartjies bly.

Sal julle dit doen?  Ek weet julle sal!

Ek gaan nou vir elkeen van julle ‘n papier pop gee (twee prentjies op die skerm).  Haar naam is Tabita.  Julle kan vir haar ‘n rokkie aantrek en met haar speel tydens die kerk.  Dit sal julle sommer ook herinner om klere volgende week kerk toe te bring.

Gebed

Handelinge 9:36-43

Terwyl die Here besig is om vir Paulus te vorm in die nuwe mens wat hy moet wees (Hand 9:1-31), is Hy ook besig om te werk aan die ander reus wat Hy gebruik in die vroeë kerk, Simon Bar-Jona. Die Here het ook aan hom ‘n nuwe naam gegee; ‘n paar jaar tevore – Kepha in Aramees of Petros in Grieks. Dit beteken “rots”. Jesus het gesê: “Op die rots sal ek My kerk bou” (Matt 16:18). Daarmee is nie net die man, Simon, bedoel nie, maar ook sy geloof. “While Saul prayed, Peter was used to open the way for a ministry to the world” (Ogilvie). Deur sy werk en sy geloof en gehoorsaamheid sou die pad na die heidene oopgebreek word.

Voordat Lukas nou beskrywe hoe die eerste heidene deur die optrede van Petrus in die kerk opgeneem is (Hand 10), vertel hy ons van twee wonderwerke wat deur Petrus verrig is. In die hele Judea het die kerk ‘n tyd van rus en vrede geniet, maar deurdat Lidda en Joppe hier genoem word, was dit duidelik dat die grense van Judea bereik is. As die kerk nog verder sou moes uitbrei, sou die evangelie na die land van die heidene gaan. Dit gebeur ook hiervandaan verder. Na die verhale van Petrus se genesings hier in ‘n etnies gemengde gebied, beweeg die kerk van Jerusalem na die heidene (10:1-11:18).

Die genesing van Eneas

32Petrus het baie rondgereis en het op ‘n keer ook by die gelowiges gekom wat in Lidda gewoon het. 33Daar het hy ‘n man met die naam Eneas teëgekom wat verlam en al ag jaar lank bedlêend was.

34”Eneas,” sê Petrus toe vir hom, “Jesus Christus maak jou gesond. Staan op en maak jou bed op.”

Hy het dadelik opgestaan. 35Al die mense van Lidda en die Saronvlakte het hom gesien en hulle tot die Here bekeer.

Die opwekking van Tabita

36In Joppe was daar ‘n gelowige vrou met die naam Tabita, in Grieks Dorkas. Sy was altyd besig om goed te doen en die armes te help. 37Juis in die tyd toe Petrus in Lidda was, het sy siek geword en gesterwe. Hulle het haar gewas en in ‘n bokamer neergelê. 38Aangesien Lidda naby Joppe is en die gelowiges gehoor het dat Petrus daar is, het hulle twee mans na hom toe gestuur met die versoek: “Kom tog gou na ons toe oor.”

39Petrus het dadelik saam met hulle gegaan en toe hy daar kom, het hulle hom na die bokamer toe geneem. Al die weduwees het by hom kom staan en snikkend vir hom die klere gewys wat Dorkas gemaak het toe sy nog gelewe het. 40Nadat Petrus almal uitgestuur het, het hy gekniel en gebid. Toe het hy na die liggaam gedraai en gesê: “Tabita, staan op!”

Sy het haar oë oopgemaak en toe sy vir Petrus sien, het sy regop gesit. 41Hy het haar met die hand help opstaan, die weduwees en die ander gelowiges geroep en haar lewend voor hulle gebring. 42Die hele Joppe het hiervan gehoor, en baie mense het tot geloof in die Here gekom.

43Petrus het geruime tyd daar in Joppe gebly by ‘n sekere Simon, ‘n leerlooier.

Woordverkondiging

God se groot dade

Handelinge is die verhaal van God se groot dade. Dit is die prentjie wat Lukas die dokter-skrywer by sy vriend Theofilus skilder. In die boek gebeur groot ingrypende dinge, soos Jesus se hemelvaart, die Gees se uitstorting, 3000 mense wat op een slag tot bekering kom, heidene wat begin glo en dan die grootste sending-uitreike ooit!

God is besig om met groot kwashale die wêreldtoneel permanent te verander.

  • God is met Petrus op pad.
  • God is met sy kerk op pad.
  • God is met die goeie boodskap van die opgestane Jesus Christus op pad na die hele wêreld toe.

God gee vir gewone mense om

Binne hierdie Groot Storie is daar twee klein los storietjies wat eintlik nie so lekker inpas nie. Paulus, nog ‘n groot verhaal, is al op die toneel en eintlik is alles reg vir die groot geestelike beweging na die heidene … en dan glip daar hierdie twee storietjies in. Een van Eneas in Lidda en die ander van Tabita in Joppe. Eneas was verlam en het geruime tyd (8jr) gelê. Tabita was siek en het dood gegaan.

In hierdie twee klein storietjies word vertel dat die lewendmakende krag van God – in die Naam van Jesus – mense opwek, gesond en lewend maak.

En laat ons mekaar herinner:

  • Oral langs ons pad is daar klein liggies – helder maar klein.
  • Met ‘n doel – wat hulle waarskynlik self nie eens begryp nie.
  • Ons sien ‘n Eneas; ‘n Tabita; later die leerlooier, Simon, en so kan ons hulle opnoem . . . ‘n Willem en Sannie en Marie en wie ook al oor God se pad mag kom.

Lukas laat ons stop en hy laat ons kyk – na die onopsigtelike mense, doodgewone mense, wat God aanraak, vir wie Hy omgee, en dan gebruik op die groot en belangrike pad wat Hy vir die evangelie – die goeie boodskap van die opgestane Here Jesus, oopmaak.

Dit is die duidelike boodskap van dié twee stories:

  • Geen mens – hoe gering ook al – is vir God onbelangrik nie. God gee om vir gewone mense.

God gee om vir Tabita

Tabita – ‘n gewone vrou daar eenkant in ‘n klein dorpie wat goed doen en besonder mededeelsaam is – sterf.

  • Sy word ‘n dissipel (Gr mathetria) genoem wat baie insiggewend is. Dié vroulike vorm van die woord kom net hier in die Nuwe Testament voor. Die NAV het dit ongelukkig wegvertaal en haar net ‘n “gelowige vrou” genoem.
  • Sy was ‘altyd besig’ , ‘besig om goed te doen’ ‘die armes te help’. ‘n Besige by in die goeie sin van die woord.
  • Eneas was relatief onaktief vir agt jaar omdat hy verlam was; Tabita daarteenoor, was weer besonder aktief in haar diens aan die behoeftiges (:36).
  • Ons kan ‘n groot groep hartseer mense hoor wat snikkend daar rondstaan terwyl hulle vertel van al die mooi kledingstukkies wat sy al vir hulle gemaak het.
  • ‘n Mens lei af dat sy een van daardie besondere mense was wat oor grense heen barmhartigheid verleen het. Sy het ‘n Joodse en ‘n Griekse naam, Tabita en Dorkas, want beide die Jode en die Grieke het in haar barmhartigheid ‘n heenkome gevind. Sy het nie gediskrimineer tussen groepe nie. In haar barmhartigheid het sy dit reggekry om oor grense liefde te bewys. Dit is juis wat groot en belangrike mense baie keer nie kan regkry nie!
  • In Tabita gee Lukas ons dus ‘n model van Christelike omgee in ‘n gemarginaliseerde gemeenskap. Weduwees en weeskinders was immers die mees kwesbare mense in die destydse gemeenskappe. Daar was geen regeringsondersteuning of welsynsorganisasies om hulle te hulp te kom nie. Tabita het omgegee en gehelp. Sy het goed gedoen.

En haar vriende en diegene wat sy gehelp het, weet dit … en hoor dan van Petrus, ‘n gestuurde, ‘n apostel van Jesus  Christus.

  • Jesus, wat self mense uit die dood opgewek het.
  • Jesus, wat self uit die dood opgestaan het.
  • Jesus, wat aan sy dissipels die mag gegee het om mense uit die dood op te wek.

Hulle vra vir Petrus om dringend na hulle te kom.

  • En Petrus kom ook hier tot stilstand, by die gewone mense.
  • En hy buig voor die God wat mag het oor die dood.
  • Petrus praat in geloof – praat sy Meester na – en beveel die gestorwe Tabita – klein wildsbokkie – om op te staan.
  • En die dood moet wyk – sy maak haar oë oop.

Wat ons moet raaksien is dat dit God is wat Hom ontferm oor Tabita.  Vir Hom is mense wat barmhartigheid verleen belangrik. Hy ontferm hom en gee die lewe aan Tabita – sodat sy kan voortgaan om ander te help en hulle lewe mooi te maak.

Soos Heidi Petersen sê: “The widows would not be abandoned. God would not allow it.”[1]

God is nie so besig met die groot werke van die geskiedenis dat hy die kleintjies wat aan hom behoort, vergeet nie. Die Here is nie net geïnteresseerd in die Paulusse, Petrusse en Johannesse nie – maar ook in die Tabita’s en vele anonieme goed-doeners in die wêreld. Inteendeel, ‘n mens kry die indruk dat Hy juis in die kleintjies geïnteresseerd is … dié wat gewone mooi goed doen.

Ons is vandag te dikwels behep met die groot stories en die groot getalle, groot syfers en groot geld. Selfs in die kerk is ons geneig om die lewe en die sorg van God te soek en te sien in die groot dinge. Hier sien ons hoe ook die klein dingetjies van die alledaagse, die klein mense en die eenvoudige by die Here gereken word.

Soos Tom Wright sê:

“Do not belittle the ministry of stitching, sewing, knitting and generally providing for the needs of the larger community – especially at a time before anyone dreamed of mass-produced clothes. And do not forget to celebrate, as Luke does here, the fact that the apparently ordinary people are not ordinary to God, and that when we tell the story of the great sweep of God’s purposes in history there are, at every point, the Aeneases and the Dorcases who smile out of the page at us, like the robin in the garden, and remind us what it’s really all about. Luke is right to draw our eyes down to the small-scale and immediate, in case we should ever forget that these are the people who form the heart of the church, while the apostles and evangelists go about making important decisions, getting locked up, stoned on, shipwrecked, preaching great sermons, writing great letters, and generally being great and good all over the place.”

God  is op pad na die hele wêreld.

Petrus het ‘n ongelooflike ding hier gedoen –  net soos Jesus ‘n dooie mens opgewek in God se naam.

Maar Petrus weet dis nie sy vermoë wat die dood oorwin het nie – en NB gaan bly by Simon die leerlooier. Die uitgestotene van die dorp. Die onrein man wat met dooie diere werk!

Hierdie laaste feit is betekenisvol. Leerlooiery het by die Jode tot een van die veragte beroepe behoort. ‘n Rabbi het gesê: “It is impossible for the world to do without tanners; but woe to him who is a tanner.” ‘n Jodin kon ‘n egskeiding aanvra as sy sou uitvind haar man is ‘n leerlooier.

Dit was so, omdat ‘n mens in die beroep verplig was om die dooie liggaam van diere aan te raak en sodoende onrein geword het (Lev 11:39). ‘n Leerlooier se huis of werkplek moes daarom op die buitewyke van die dorp wees as gevolg van die stank wat met die leerwerk gepaard gegaan het. Dit is heel moontlik waarom Simon se huis by die see was (10:6).

Petrus bly by so iemand oor. Dit was waarskynlik sy eerste tree op die pad om later saam met heidene te eet.   Aangesien die leerlooiers deur die Grieke en Jode verag is, getuig hierdie optrede van Petrus reeds van die vryer opvattings wat hy gehuldig het teenoor sy volksgenote. Hiermee begin hy hom reeds van die vooroordele van sy volksgenote losmaak. Sy verblyf by Simon berei hom voor vir sy ontmoeting met Kornelius in hoofstuk 10.

  • Daarvandaan doen Petrus nou God se werk.
  • God is op pad met Sy groot sending en met een van Sy groot apostels – en die pad loop deur die huis van die wildsbokkie en die leerlooier!
  • So werk God – en so mag ons nooit die geringstes verby gaan nie.
  • So mag ek ook nooit dink my stinkende huis is nie goed genoeg nie.
  • Dalk moet die apostel daar kom oorbly.

Dankoffers

Charel du Toit sing ‘n lied wat sy broer gesing het wat baie mooi by die tema van die Gees wat ons oor grense stuur aansluit: “Lewe sonder grense”.

Slotlied

Seën

[1] Heidi Peterson Clothed With Compassion (Acts 9:36-43) by http://www.religion-online.org/showarticle.asp?title=2184

     

View all posts in this series

Trackback from your site.

Leave a comment