Skip to main content

Prediker 3:1-15 – Op soek na sin en betekenis

Verwelkoming

RUS

Votum

Lofsang

  • Liedboek 420
  • Liedboek 415

Gebed

HOOR

Kindertyd

Kom ek hoor by julle:

“Sê nou maar net …”

  • Jy eet net lekkers en glad nie kos nie – wat sal met jou gebeur?
  • Jy speel so lekker dat jy glad nie wil gaan slaap nie – wat sal met jou gebeur?
  • Jy speel so lekker by die huis dat hy glad nie skool toe wil gaan nie – wat sal met jou gebeur?

Dit is wat die Bybel ons ook leer:

  • “Daar is ‘n tyd vir speel en ‘n tyd vir slaap.” 
  • “‘n Tyd vir kos eet en ‘n tyd vir lekkers eet.”

Watter ander tye kan julle aan dink?

Waarvan hou julle? 

Ons is natuurlik lief vir speel, en minder lief vir slaap.  Ons is lief vir lekkers eet en minder lief vir ons kos.

Ons het egter sulke tye nodig in ons lewe.  As ons nie kos eet nie, sal ons later nie meer gesond wees nie.  As ons nie slaap nie, sal ons vaak wees in die dag. 

Ons het nodig om die roetine te volg van speel en slaap, van werk en rus, van by die huis wees en skool toe gaan.

As ons wil graag doen wat ons wil doen wanneer ons dit wil doen, dan werk dit nie so goed vir ons nie.  Daarom moet ons leer om in te pas by die roetines van elke dag, van tandborsel en eet.  As jy net eet en nooit jou tande borsel nie, sal niemand later met jou wil speel nie, en later sal jy nie meer tande hê om mee te eet nie!

Dit is ook so met ons verhouding met die Here.  Daar is ‘n tyd vir werk, maar ook ‘n tyd vir die Here.  Dit is waarom ons hier in die kerk is vandag.  Maar, dit is nie al plek waar ons die Here kan ontmoet nie.

Waar kan ons Hom nog ontmoet?

Dit maak sy hart bly as ons Hom onthou, want Hy dink altyd aan ons.

Skriflesing

Die Prediker was nie ‘n profeet, priester of geskiedskrywer wat oor die belangrike godsdienstige en historiese aspekte van Israel as Godsvolk praat nie. Waaroor die Prediker nadink, is die sin van die lewe en of dit enigsins te vinde is.  Hy dink na oor watter manier van lewe wys sou wees, en watter onwys, watter lewenstyl waarde het en watter nie. 

Hy staan dus in die tradisie van die wysheidsleraars, soos die skrywers van Spreuke en Job, wat oor die sin van die lewe nagedink het, gesoek het vir begrip en insig oor hoe dinge in die praktyk werk.  Hulle het gesoek na patrone en ordes in die werklikheid (of die gebrek daaraan!), om daaruit beproefde beginsels en wyshede af te lei, wat tot hulp kan wees in die lewenskuns.[1]

Die Prediker gee egter nie maklike antwoorde op moeilike worstelvrae nie.  En hy wys veral op die futiliteit om die lewe “onder die son” sonder God te probeer leef.  In hoofstuk  twee het hy geskryf oor twee eksperiemente: ‘n najaag van plesier en vreugde en ‘n ondersoek van wysheid versus dwaasheid.  En sy oorwoë mening is dat dit alles tot niks kom nie.

In hoofstuk 3 dink hy na oor die ritmes en roetines van die lewe:

Prediker 3:1-15

3Elke ding het sy vaste tyd,

elke ding in hierdie wêreld

het sy tyd:

2daar is ’n tyd om gebore te word,

’n tyd om te sterwe,

’n tyd om te plant,

’n tyd om plante uit te trek,

3’n tyd om ’n lewe te neem,

’n tyd om ’n lewe te red,

’n tyd om af te breek,

’n tyd om te bou,

4’n tyd om te huil, ’n tyd om te lag,

’n tyd om te treur,

’n tyd om van blydskap te dans,

5’n tyd om klippe weg te gooi,

’n tyd om hulle bymekaar te maak,

’n tyd om te omhels,

’n tyd om weg te bly

van omhelsing af,

6’n tyd om aan te skaf,

’n tyd om te laat wegraak,

’n tyd om te spaar,

’n tyd om weg te gooi,

7’n tyd om te skeur,

’n tyd om toe te werk,

’n tyd om stil te bly,

’n tyd om te praat,

8’n tyd om lief te hê,

’n tyd om te haat,

’n tyd vir oorlog, ’n tyd vir vrede.

9Wat kry die mens vir die werk

waarmee hy hom vermoei?

10Ek het gesien dat God aan die mens ’n taak gegee het om hom mee besig te hou. 11God het elke ding gemaak dat dit pas in ’n bepaalde tyd, maar Hy het ook aan die mens ’n besef gegee van die onbepaalde tyd. Tog kan die mens die werk van God van begin tot einde nie begryp nie. 12Ek het tot die insig gekom dat daar vir ’n mens niks beter is nie as om vrolik te wees en die goeie van die lewe te geniet. 13Dat die mens kan eet en drink en onder al sy arbeid nog die goeie kan geniet, ook dit is ’n gawe van God.

14Ek het tot die insig gekom dat wat God doen, blywend is:

jy kan daar niks byvoeg nie

en jy kan daar niks van

wegneem nie.

God doen dit sodat die mens

vir Hom ontsag sal hê.

15Wat is, was reeds.

Wat kom, was ook alreeds.

God laat weer gebeur

wat vroeër gebeur het.

Woordverkondiging

Die soeke na meer is vrugteloos

Die Prediker sluit aan by die diep soeke in ons na meer, na beter, na die buitengewone. Hy oorweeg ons soeke daarna in besit, plesier, mag, avontuur, wysheid, kennis, selfs dwaasheid.  Hy neem waar dat ons meer wil hê, meer wil voel, meer wil doen, meer wil bereik … of juis nie bereik nie, as ons die dwaasheid ondersoek, of die werklikheid deur dwelms of drank of degradering ontvlug om ons eie werklikheid te skep.

Maar hy wys uit, in sy eie ervaring daarvan, dat die probleem met die soektog na meer, na die buitengewone, is dat dit uiteindelik vrugteloos is. Dit kom tot niks.  Dit is hebel – niks, nietigheid, ’n rookwalmpie, ’n miswolkie, ’n wasempie (‘n woord wat hy 37 keer gebruik in die boek!) – ’n metafoor vir die wese van die menslike toestand. 

Die soeke na meer is wonderlik in die oomblik, maar die plesier daarvan hou nie.   Dit bly relatief.  Dit is nie absoluut nie.  Ons klim die hoogste berg – en dan is dit verby. Ons bereik die hoogste sport – en dan is dit verby.  Ons ervaar die hoogste plesier – en dan is dit verby.  Ons beywer ons vir ’n miljoen, of twee, of drie – en daar is altyd nog ’n miljoen wat wag.

Die Prediker weet, dit gee groot genoegdoening terwyl jy daarmee besig is, of vir ’n kortstondige oomblik as jy dit bereik het;  maar hy weet ook, daar is altyd weer iets, nog ’n berg, nog ’n mylpaal, nog ’n ervaring. Die soeke na meer hou nooit op nie. En enige “plus” in die lewe, word gekanseleer deur die sekerheid van die dood.

Sommige van ons gooi natuurlik gou tou op in dié soeke, kom gou agter dat die soeke na meer nie bevredig nie, of dat die soeke te veel van ons vra.  Ander hou verbete aan, “until by the time they die there is hardly enough humanity left to compose a corpse.” (Peterson).   Tog vind ons daardie meer … nooit nie.

Die Prediker getuig daarom, na hy self alles onder die son probeer het, selfs die dwaasheid, en waarsku ons almal dat dié soektog na meer na nêrens lei nie. In sy ervaring kom alles tot niks – alles! Die beste ervaring wat ons kan hê, die hoogste plesier, die beste avontuur, is en was vir hom soos die laaste rookwalm van ‘n doodgedrukte sigaret. “There’s nothing to anything—it’s all smoke.” (Peterson in The Message)

Daar is nie blywende sin in die ritmes van die lewe nie

Die Prediker gee in hoofstuk 3 ‘n uitgebreide oorsig oor hoe die ritmes van die lewe mekaar opvolg, en afwissel, maar vind nie blywende sin daar in nie (gesien uit die hoek van die onafwendbaarheid van die dood).

  • Dit is wonderlik as daar nuwe lewe is, die dag dat jy gebore word … maar net so wonderlik as wat die lewe is, net so seker is die feit dat daar ook ’n tyd kom om te sterwe, waar dit wat in jou lewe tot stand gekom het, aan ander oorgelaat word, en jy nie meer daar is nie.  Dit kom dus tot niks.
  • Dit is heerlik om met ‘n nuwe tuin te begin en nuwe plante in die grond te druk en te kyk hoe hulle groei … maar daar kom ook ‘n tyd om plante uit te trek, om te snoei en selfs om te vernietig, en as dit groot bome is, dan is dit dubbeld so swaar.  Dit kom tot niks.
  • Dit is moeilik om te moet erken, maar daar is mense wat hulle lewens daaraan spandeer om lewens te neem, te vernietig … gelukkig is daar ook mense wat hulle lewens daaraan spandeer om lewens te red, maar die een gebeur net soseer soos die ander.  Dit kom dus tot niks.
  • Die beloop van die lewe is doodgewoon, daar is mense wat hulle instel om af te breek, al is daar gelukkig ook mense wat hulle tyd spandeer om te bou, hetsy aan huise, aan verhoudings, of aan gemeenskappe.
  • En daar kom tye wat ‘n mens huil, en treur, oor verlies, oor verydeling, oor verlangens, net soos daar die tye is om te lag, en te jubel, en opgewonde te wees oor wat die lewe bied, ‘n tyd om van blydskap te dans.  Die een tyd kom net so seker soos die ander, en jy kan nie altyd kies wanneer dit sal wees nie.  Dit kom dus tot niks.
  • Daar is mense wat hulle tyd spandeer aan klippe weggooi, net soseer as wat daar mense is wat klippe bymekaar maak, vir watter doel dit ook al mag wees.
  • Daar is ’n tyd om te omhels, om oorweldig te word deur jou passie vir iemand, en ‘n mens moet dit benut, want daar kom tye wat jy dit moet vermy en moet wegbly van omhelsing af, vir watter rede dit ook al mag wees.
  • Daar is ’n tyd om aan te skaf, en ’n tyd om te laat wegraak,
  • ’n tyd om te spaar, en ’n tyd om weg te gooi,
  • ’n tyd om te skeur,en ’n tyd om toe te werk,
  • ’n tyd om stil te bly, en ’n tyd om te praat,
  • Daar kom tye van liefde, en daar kom tye van haat,
  • Tye van oorlog, en tye van vrede.

En die punt is, dit is alles relatief, dit hou nie vir ewig nie – wat goed is as ’n mens dink aan die tye van haat en oorlog, maar sleg is as jy dink aan die tye van liefde en vrede.  Dit kom dus tot niks.

Dit is hierdie ongemak wat die Prediker laat uitroep: “Wat kry die mens vir die werk waarmee hy hom vermoei?”  Dit voel vir hom “Alles kom tot niks.  Niks is blywend nie.”

En dan antwoord hy self in 3:11 wat as volg vertaal kan word: “Hy (God) het alles mooi/goed gemaak op sy tyd. Hy het ook die ewigheid in hulle hart geplaas.  Tog kan die mens nie God se werk van begin tot end uitvind/begryp nie.” 

Die Prediker sê hiermee eerstens dat daar wel ‘n plan of patroon is vir en met alles, maar dat dit God s’n is.  Die plan of patroon is daar, maar meesal nie binne ons bereik nie.  Ons kan dele daarvan verstaan, sommige minder, en ander meer.  Maar, niemand van ons kan dit van begin tot end volledig begryp of deurvors nie.  Maar, die plan is darem daar!

Dit beteken aan die een kant dat ons moet erken dat ons moeilik die patrone van die hede kan gebruik om die toekoms te bepaal.  Ons insig in die verloop van gebeure, soos die tyd aanstap, is net te min.  Om die waarheid te sê, selfs ons insig in wat reg voor ons oë gebeur, is gebrekkig!  Die toekoms kan nie volledig voorspel word op grond van goed wat in die hede voorkom nie, en kan veral nie voorskryf wat sal gebeur of wat sal nie gebeur nie. 

Maar, aan die ander kant ons darem gerustelling kry in die feit dat God die volledige insig daarin het.  Dit staan alles onder God se beheer, al is ons begrip van wat Hy doen, uiters beperk.  Ons kan Hom daarvoor vertrou.

Die tweede ding wat hy daarmee sê, is dat ons mense is wat die kapasiteit het vir die ewigheid.  Dit beteken dat ons nie deur enigiets “onder die son” tevrede gestel kan word nie, nie die tragedies nie, ook nie die triomf van die lewe nie.  Daardie soeke in ons na meer, is eintlik ’n soeke na God, na die eintlike werklikheid, na die eindbestemming, na die ewigheid.

En dit is wat die Prediker met sy boek wil doen.  Hy wil ons herinner aan die werklikheid van God, die enigste Een wat sin bring aan ons lewens “onder die son”, terwyl hy op vele wyses in die proses die soeke na meer, sonder God, aan die kaak stel, en wys dat daar niks is wat regtig uiteindelik bevredig nie, dat alles tot niks kom, as dit sonder God is.

Maar, dan sê hy in die derde plek ook dat daar een manier is waarop ’n mens tog sin in die lewe kan ervaar, wanneer jy die lewe as ‘n gawe uit Sy hand geniet.  Dit is dan wat die begeerte na meer in God sy vervulling vind.  Dit is dan wat jy besef dat die vreugde alreeds lê in die reis self, en die genot van die oomblik self.  Dit is die gawe van God.  Vreugde lê nie eers aan die einde daarvan, in die blywende waarde of uiteindelike betekenis van iets nie.  Nee, dit lê in die genot van iets as ’n gawe van God, soos jy dit ervaar, soos jy dit beleef.

Dit beteken ons meer op die reis van die lewe self en die ervaring daarvan en daarbinne moet fokus en ons daarop instel om dit te geniet, eerder as dat ons wag vir ‘n bestemming of ‘n vervulling of ‘n betekenis wat êrens in die toekoms op ons wag en wat ons na baie harde werk sal bereik.

En dit is hiervoor dat ons ’n kapasiteit moet ontwikkel.

Soos RBY Scott sê (Ancor Bible): “One must develop the capacity to find enjoyment in work and wisdom and in the very experience of living.”

  • Die Here kom jou dus vandag met die boodskap van die boek Prediker aan die een kant om jou soektog na meer te relativeer.  Daar gaan nooit genoeg wees nie.  Jy gaan dit nie bereik nie.  Alles kom tot niks.
  • Hy herinner jou aan die diepste behoefte wat jy het, en dit is aan Homself.  Hy het jou met ‘n besef van Hom gemaak, en slegs wanneer jy dit erken en omhels, sal jy by sin en betekenis in jou lewe uitkom.
  • En Hy kom herinner jou aan die vreugdes wat te vinde is in die lewensreis self, die oomblikke van plesier, van verrukking, van stilte, van oorweldiging, en om dit as Sy gawe aan jou te ontvang.
  • Liedboek 414

LEEF

Gebed

Dankoffers

Slotsang

Amen


[1] Terloops, soortgelyke wysheidstradisies het natuurlik ook in Mesopotamië en Egipte bestaan, waarvan ‘n hele paar geskrifte bewaar gebly het, bv die Mesopotamiese dialoog tussen die baas en sy dienskneg, ’n kostelike storie!

 

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.