Hebr 4:12-13 – Son 8 Mrt 09

Kindertyd

Luister julle maklik?

Sê nou jou ma sê – maak jou kamer aan kant en sit al jou klere in die kas?

Sê nou sy sê – kom help my gou skottelgoed was?

Sê nou sy sê – daar is koek op die tafel?

Dan sit jy mos jou spesiale ore aan!

Dan luister ons met alles wat ons kan.

Nou ek wil julle vertel van ‘n man wat dit geleer het toe hy al ‘n groot man was.

Sy naam was Naäman

Eerste skyfie – hy was ‘n belangrike man – hoof van die weermag van die Arameërs

Tweede skyfie – hy was melaats

Derde skyfie – daar was ‘n jong dogtertjie in sy huis, wat ‘n slaaf was.  Sy vertel vir hom van die profeet Elisa in Samaria in Israel wat kan bid vir hom, dan sal hy gesond word.

Vierde skyfie – hy besluit om te gaan met baie geld en klere

Vyfde skyfie – groot was sy verbasing toe die profeet hom nie eers wil sien nie, en vir hom sê hy moet hom sewe keer in die Jordaan gaan was.

Sesde skyfie – O en hy wou dit nie doen nie – tot sy amptenare vir hom sê: sit jou spesiale ore aan. Hulle sê, sê nou hy het iets moeiliks gevra, sou jy dit dan nie gedoen het nie?  Nou het hy iets eenvoudigs gevra, hoekom sou ‘n mens nou nie dit wil doen nie!  En wat doen Naäman?  Hy sit sy spesiale ore aan en hy luister.

Sewende skyfie – hy duik in en na sewe keer is hy silwerskoon gesond, sy vel was soos ‘n klein seuntjie s’n.

Spesiale ore help!

Teks

12 Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart. 13 Daar is ook niks in die skepping wat vir God onsigbaar is nie; alles lê oop en bloot voor sy oë. En aan Hom moet ons rekenskap gee.

Woordverkondiging

Ek lees die Bybel al van laerskool dae af. Dit is ná my voorskoolse dae met die Kinderbybel en sy prente.

Ek help mense om die Bybel te lees van my hoërskool dae af.

En dit is nie so maklik as wat ‘n mens dink nie.

Om my te help is ek blootgestel aan ‘n verskeidenheid akademiese dissiplines in my studies – Grieks, Hebreeus, Aramees, tekskritiek, vertalingstegnieke, Ou Testament Teologie, Nuwe Testament Teologie, Dogmatiek en al die voortvloeiende vakke wat meer op ‘n praktiese vlak lê, liturgiek, gemeentebediening, jeug, pastoraat, ens.

En julle sal weet dat ek baie keer van dié insigte invleg in my hulp aan mense om die Bybel te lees, ook by die Bybelskool.

En dit is goed om te weet hoe die Bybel in mekaar steek.  Dit is goed om te weet wat die spesifieke woord is wat in ‘n vers gebruik word, want dan keer dit dat jy verkeerde interpretasies maak.  Dwaling het immers net een vers, en soms net ‘n frase of ‘n woord in ‘n vers nodig wat verkeerd gelees word!  En niemand van ons wil tog doelbewus dwaal nie, of ten minste die meeste van ons.

En dié manier van Bybel lees is ‘n ou tradisie. Dit kom van die skool van Antiochië af uit die eerste eeue.  Dit is die stad waar Paulus gewerk het en vanwaar af hy sy sendingreise gedoen het.  Dit was vir die Antiochiërs ontsettend belangrik om die regte grammaties-histories betekenis van ‘n teks vas te stel, want het hulle geglo, dit help dat ‘n mens presies weet wat ‘n teks sê en dan kan jy reg daarop reageer.

Calvyn het dit die sensus simplex genoem – die plein, eenvoudige betekenis van ‘n teks. ‘n Mens kan dit ook ‘n informatiewe lees van die teks noem.

Informatiewe lees

Ek het van hierdie tipe inligting oor die teks in die joernaal gesit.

Kom ons kyk kortliks daarna:

Oorhoofs: Die teks gaan oor die effektiwiteit en deurdringendheid van die Woord van God

Twee temas: 1) wat die Woord doen , 2) wat ons moet doen.

Die eerste word uitvoerig beskryf – die tweede in 5 kort Griekse woorde aan die einde opgesom: “aan Hom moet ons rekenskap gee”.

Agtergrond: Die teks sluit aan by die verhaal van Israel wat God se Woord verontagsaam het in die woestyn (Psalm 95 vertel dit poëties: die ongehoorsaamheid by Massa en Meriba toe hulle in opstand gekom het teen die Here oor hulle gebrek aan water – hulle kon net nie hulleself so ver kry om die Here te vertrou dat Hy vir hulle sal sorg nie).

En die Hebreër skrywer sê: moenie in dieselfde strik trap van opstand en ongehoorsaamheid as hulle nie!  Hierdie Woord van God is ‘n swaard met twee snykante – maar nie saak wat jy doen nie, sny gaan hy jou sny, as hy ongehoorsaam is!  En daarby is daar sy oë wat alles sien – letterlik oral!

So die skrywer probeer vir ons wys dat die Woord kan doen en eintlik sê hy, die Woord kan doen wat niks anders kan nie – daar is niemand wat daarteen bestand is nie – jy kan dit verontagsaam, maar jy kan dit nie keer nie.

Nou as jy dit weet – dan kan jy ‘n bietjie dieper kyk na wat die teks sê, die Woord doen.

Die skrywer sê, dit is lewend (persoonlik) en dit is kragtig (energiek).

En dit werk persoonlik en energiek in op drie aspekte van ons menswees:

Dit raak ons identiteit:

Die skrywer praat hier van die woord wat in dring tot by die skeiding van siel en gees – daarmee wil hy sê: die woord skei dinge wat ons soms dink is onskeibaar, dinge in ons binne-wêreld, daar waar ons persoonlikheid en ons geestelike aanvoeling setel.  Kortom: God se Woord dring deur tot in die plek waar ons identiteit is, ons mens-wees, ons ervaring van wie ons is, die kontakpunt met die wêreld en met God – en dit help ons onderskei wat in ons van God is en wat nie.

Dit raak ons energie punte:

Die woord dring deur tot die skeiding van gewrigte en murg.  Die twee, gewrigte en murg, is altwee liggaamseienskappe wat met krag te make het, die een bring die boodskappe van die brein an die ledemate, die ander sorg dat daar beweging kan wees, deur beweging toe te laat vir die spiere en ledemate.  En die skrywer sê daarmee, dat niks die krag van die Woord kan troef nie – dit dring deur tot dít wat ons energie gee, dit wat ons in beweging bring, en doen sy werk – en dit help ons onderskei waar die energie van God ons heen neem.

Dit raak ons diepste motiveringe:

Die skrywer sê die Woord beoordeel die bedoelings en gedagtes van ons hart.  Met gedagtes bedoel hy ons intellektuele kapasiteit en met bedoelinge het in gedagte dié dinge wat ons motiveer, die dinge van ons hart.  Kortom, die Woord dring deur tot ons diepste motivering, dit wat ons sin en betekenis en motivering gee om te lewe – en dit help ons onderskei wat agter die dinge sit wat ons doen en help ons om opreg en eg te wees.

En die boodskap is, God se Woord penetreer en ontmasker en beoordeel en onderskei wat reg en goed is van wat sleg en boos is – en niks kan dit keer nie.

En wat ons moet doen?

Ons moet rekenskap gee (logos)  aan dié God. (“aan Hom ons die rekenskap” – letterlik)

In terme van ons tema: ons moet sê: Ek sal luister.

Formatiewe lees van die Bybel

Die probleem is net, dat só ‘n Bybel lees nou ook weer nie so eenvoudig is nie.  As ek presies weet wat die teks sê, is dit nog net die eerste deel van die proses van verstaan. Om regtig te kan hoor, moet die teks in my lewe inkom en my lewe verander. En ten spyte van die hoop dat mense met ‘n regte lees van die teks dit ook sal regkry om dit te doen, het die hoop baie keer beskaam.

En die gevaar is natuurlik lewensgroot dat ons so besig raak met ‘n teks, so ingegrawe daarin, dat ons half begin dink, ons beheer die teks, ons het die teks onder die knie, ons kan met dit maak wat ons wil.

En dan luister ons nie meer na die teks nie.  Ons laat die teks luister na ons!

Nee, wat ook nodig is, is ‘n formatiewe lees van die Bybel, ‘n geestelike lees.

Dit is iets wat ‘n ander groot skool uit die eerste eeue geleer het, die skool van Alexandrië.  Hulle het geleer dat die teks ‘n geestelike impak in ons lewe wil maak, dat die teks besig wil raak met ons, dat God besig wil raak met ons.  En daarvoor moet jy nie net bly by die plein betekenis van die teks nie – dit bly altyd daar as ‘n korrektief. Maar jy moet vra, nou maar wat beteken dit vir my?  Wat moet ek hiermee maak?  Wat wil die Here hierdeur vir my sê?  Hoe maak dit my pad vorentoe meer duidelik?

Calvyn het ook hierby aangesluit en dit genoem die usus van die teks, die praktiese of geestelike waarde van die teks.

En met al my studies en al my leeswerk en al my praktiese ondervinding, weet ek vandag dat albei dié aspekte belangrik is – ‘n mens moet weet wat die sensus simplex is en jy moet vra wat is die usus, die praktiese nut hiervan vir my, informatief en formatief.

En ek moet bely, ons kerk het meer klem gelê op die eerste, die informatiewe lees van die Bybel, vir baie lank en selfs dié mense wat meer geestelik wou lees, afgekraak!

Daarom dat ons half vandag wil oorhel en sê, nee, genoeg informasie, vorm my Here, Ek sal Luister.

En dit is waarmee ek vandag vir ons wil help, om só te kan luister dat dit jou lewe aanraak en jou lewe vorm.   Die informasie bly belangrik, daarom het ek daarmee begin, maar dit gaan vanoggend oor die tema: “Ek sal luister”, en gaan oor die oproep dat jy sal toelaat dat die Woord jou vorm.

Om jou te help om só vormend na die Bybel te luister wil ek twee aspekte van luister beklemtoon.

Kom ek begin met ‘n metafoor: Die Bybel is soos water.

  • Jy voel die water as jy induik en dit jou hele liggaam nat maak.
  • Jy kan die water beskryf as H2O en jy kan sê dit is helder of troebel, maar jy kan dit net ervaar as jy daarin induik of daarvan drink.

Kom ek pas dit toe op Bybel lees en luister en verduidelik die twee aspekte van luister:

  • Die eerste is: dat ‘n mens die Bybel nadenkend moet lees – en dit help om te bly by een woord of een frase TOTDAT jy dit verstaan en jy dit gehoor het. Dit is soos om in te duik in die water en daarin rond te swem om dit te geniet.
  • Die tweede is: dat ‘n mens die Bybel persoonlik moet lees – wat wil God VIR MY in hierdie gedeelte sê. En net te konsentreer op dit wat jou tref of ontstel of bemoedig of uitdaag – en ek kan dit nie vir jou doen nie, en jy kan dit nie vir my doen nie. Ons kan vir mekaar tekste gee wat ons voel die Here op ons hart lê, maar ons kan nie bepaal wat persoonlik sal gebeur met die lees en luister van die teksgedeelte nie. Dit is soos die water metafoor: ek kan nie vir jou induik in die water nie.

Só ‘n lees van die Bybel neem dus meer van ons as ons intellek, dit is direk, dit is reflekterend, dit is persoonlik dit is ‘n wag op die ervaring van God se aanraking diep binne ons lewe.

Om só te kan lees, veronderstel ‘n verhouding met God.  Dit veronderstel dat jy in Hom glo, nie as ‘n vêraf Skepper God nie, maar as ‘n naby persoonlike God.  Dit veronderstel dat jy op Hom vertrou.

En nie een van die dinge, ‘n verhouding, geloof, vertroue, is iets wat jy kan verstaan of beleef deur ‘n aantal boeke daaroor te lees nie.  As jy nie in ‘n verhouding met God is nie, dan sal jy dit nie ervaar of verstaan nie.  As jy nie glo in God nie, dan sal jy geloof nie ervaar of verstaan nie.  As jy nie vertrou op God nie, sal jy vertroue nie ervaar of verstaan nie.

En dan is jou eerste opdrag – om in ‘n verhouding met God te kom, om in Hom te begin glo, en om op Hom te begin vertrou.

Hoe kan ek dus die Bybel nadenkend en persoonlik lees, sodat ek kan luister en die Woord my lewe kan verander?

Die eerste en belangrikste is:

MAAK ‘N GEREELDE AFSPRAAK EN HOU DAARBY.

Dit is wanneer ‘n mens tyd spandeer met God en met die Bybel dat jy sy stem sal hoor.  As jy nie in water induik nie, sal jy dit nie ervaar nie.  Petersen vertaal Matt 11:28-30 in The Message as volg: “Walk with me and work with me – watch how I do it.  Learn the unforced rhythms of grace . .. Keep company with me and you’ll learn to live freely and lightly.” O hoe wens ek, ek kan elkeen van julle hiermee help – en in Staying in Touch en die Spiritual Disciplines help ons mos mense hiermee – maar dit is uiteindelik iets wat jy self moet begin.

Die tweede is:

LEES DIESELFDE TEKS ‘N PAAR KEER EN LUISTER VIR ‘N PERSOONLIKE WOORD.

Daar is die wonderlike belofte van Jesus, dat elkeen wat soek, sal vind, en elkeen wat klop, vir hom sal oopgemaak word, en vir elkeen wat vra, sal gegee word.  Dit kan ‘n woord wees of ‘n frase of die gedagte van die hele gedeelte.

Gister oggend het ek ‘n teks gelees in die Psalms waarin ek ‘n woord gehoor het wat eintlik die teenoorgestelde was as wat die situasie van Dawid was – en dit was helend om God se aanraking via die teks te kry, al was dit selfs nie eers in die direkte woorde geleë nie.

En in hierdie teks het die rede vir die ongehoorsaamheid van die Israeliete my getref: dat hulle hulleself nie sover kon kry om God te vertrou nie.  Dit het my lewe op verskillende vlakke aangespreek.

Die derde is:

BLY IN DIE TEKS TOTDAT JY ‘N PERSOONLIKE WOORD HOOR.

Hierdie stap is miskien die moeilikste as ‘n mens begin, omdat jy half simpel kan voel, en half kan voel, maar is dit so eenvoudig, en wat as ek verkeerd hoor.  Ek onthou in Staying in Touch, Bly in Voeling, hoe half huiwerig mense dinge die eerste of tweede keer deel – “ek weet nou nie of ek reg gehoor het nie” – en hoe dít verander in ‘n ontspanne vrymoedige wandel met die Here.

Die vierde is:

DINK NA OOR DIE PERSOONLIKE WOORD TOT DIT BEGIN LEWE IN JOU EN JOU VOLMAAK VAN BINNE.

Dit is iets wat jou hele menswees, intellek, hart, gees, wil en gevoel betrek.

  • Soms inspireer die struktuur van ‘n boek my só ongelooflik -bv. Lukas wat sy verhaal in drie dele in sy evangelie vertel, die begin van die evangelie in die platteland, die omvattende reis na Jerusalem wat uitmond in die verhoor in Jerusalem, en in Handelinge dieselfde drie dele, die begin van die verspreiding van die evangelie in die platteland, die omvattende 3 sendingreise van Paulus uiteindelik op pad na Jerusalem en dan die verhoor in Jerusalem en uiteindelik in Rome.
  • Soms die emosie van ‘n Dawid wat skreeu om hulp van sy vervolgers soos in gister se Psalm (35), of
  • die uitdaging van ‘n Maria, moeder van Jesus, “Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het.” (Luk 1:38) – soos ek onlangs in ‘n boek oor haar gelees het.

Geen wonder dat van ‘n hele paar profete gesê word dat hulle die Woord geëet het, Johannes op Patmos (Open 10:10 “Ek het dit … opgeëet.  In my mond was dit so soet soos heuning, maar toe ek dit insluk, het my maag bitter geword.” ), Jeremia (15:16 – “Ek het u woorde verslind”), Esegiël (3:3 “Ek het dit geëet, en dit was soet soos heuning in my mond”).

Die vyfde is:

REAGEER IN GEBED EN LEWENSTYL OP DIE PERSOONLIKE WOORD.

God wil met ons in ‘n verhouding staan, waarin Hy praat en ons praat, waarin Hy opdragte gee en ons gehoorsaam, waarin Hy vir ons sê Hy het ons lief en ons dit vir Hom terugsê, waarin Hy ons bemoedig en ons daarop reageer.

Die sesde is:

LAAT DIE BYBEL JOU GESPREK MET GOD BEPAAL.

Daarom is dit so nodig om ‘n gereelde tyd met God te spandeer.  Sodat soos jy deur die Psalms werk of deur ‘n evangelie of deur ‘n historiese boek in die Ou Testament God jou begin begelei.  Ek kan onomwonde verklaar, God lei deur enige deel in sy Woord en uit enige woord daarin.  Al wat nodig is dat jy jouself sistematies daaraan blootstel.  Die wonder is dat die Woord dan so lewendig en kragtig raak dat dit soos ‘n elektriese draad is – jy weet daarvan as jy daaraan raak!

 

     

View all posts in this series

Trackback from your site.

Leave a comment