Skip to main content

Lewe heilig in alles – Jesaja 52:7-12 en 2 Korintiërs 6:14-7:1

Die lied Stille Nacht is seker die gewildste Kersfeeslied. Miskien selfs die gewildste lied. Punt. Die lied is in meer as 300 tale verwerk.

‘n Jong priester, Joseph Mohr, moes ‘n plan maak vir die diens die Oukersaand 1818 in die dorpie Oberndorf in Oostenryk. Die Salzach rivier het sy walle oorstroom en die orrel in die St Nicholas kerk beskadig. Hy het musiek nodig gehad. Die orrel sou nie werk nie.

Joseph het twee jaar tevore die woorde van die gedig Stille Nag geskryf. Hy besluit toe die gedig na Franz Xaver Gruber die skoolmeester en orrelis van die nabygeleë dorp Arnsdorf te neem. Hy het gevra dat Franz ‘n melodie en ghitaarbegeleiding skryf vir die gedig vir Oukersaand.

Só is die lied wat ons so goed ken gebore. Karl Mauracher, die orrelbouer wat die orrel in die Obendorf kerk versorg het, was só bly oor die lied dat hy die komposisie vir ‘n paar reisende volksangers gegee het, die Strassers en die Rainers. Só het die lied versprei na bykans elke deel van hierdie wêreld.

Die eerste vers lui só in Duits:

Stille Nacht, heilige Nacht,
Alles schläft; einsam wacht
Nur das traute hochheilige Paar.
Holder Knabe im lockigen Haar,
Schlaf in himmlischer Ruh!
Schlaf in himmlischer Ruh!

Heilige Nacht

Wat ek wil hê dat julle moet oplet in die lied, is die twee keer wat daar van heiligheid gepraat word. Die nag van Jesus se geboorte word nie net beskryf as ‘n afwagtende stilte nie. Ook as ‘n “heilige” nag. Josef en Maria word beskryf as “hoogheilig”, amper onaantasbaar heilig in hulle verwagtende vertroue.

Jesus se geboorte was immers ‘n heilige oomblik, ‘n moment waarop hemel en aarde stil gaan staan het in eerbied vir die Heilige Jesus wat gebore is.

Heiligabend

Heiligheid is ook ‘n tema wat ‘n belangrike rol speel in die gebruik van ‘n Adventskrans. U ken dit goed, die sirkelvormige krans van immergroen takke en blare wat die ewigheid voorstel. Die vier kerse wat opeenvolgend elke Sondag aangesteek word tot vandag op Kersdag. Dit beeld die betekenis van ons verwagting op Jesus uit: hoop, geloof (liefde), vreugde en vrede.

En dan steek ons die middelste kers aan op Kersfees, die “Christus Kers”. Dit verteenwoordig die lig wat die geboorte van Jesus vir ons gebring het. Die kleur is wit. Hoekom? Want dit beeld Jesus se sondeloosheid en heiligheid uit. Dat Hy ons witter as sneeu was soos wat Jesaja voorspel het (Jes 1:18).

In Duitsland word hierdie kers eintlik op Oukersaand aangesteek. Oukersaand word daarom ook “Heiligabend” genoem wat hierdie tema van heiligheid onderstreep.

Wanneer Jesaja die geboorte van Jesus voorspel, is dit ‘n aspek wat hy talle kere onderstreep.

Download the English translation: Living holy in everything

Jesaja 52:7-12

7Hoe lieflik is op die berge die voete van hom wat die goeie boodskap bring, wat vrede laat hoor, wat goeie tyding bring, wat verlossing uitroep; wat aan Sion sê: Jou God is Koning!

8Hoor! Jou wagte! Hulle verhef die stem, hulle jubel almal saam; want hulle sien vlak voor hulle oë hoe die Here terugkeer na Sion.

9Breek uit, jubel almal saam, puinhope van Jerusalem! Want die Here het sy volk getroos, Jerusalem verlos.

10Die Here het sy heilige arm ontbloot voor die oë van al die nasies, en al die eindes van die aarde sal sien die heil van onse God.

Die Here het sy heilige arm ontbloot

Dit is ‘n kragtige metafoor. Die Here het sy moue opgerol om aan die werk te spring om sy mense te verlos van die nasies. Hy het sy “heilige arm” ontbloot, ‘n simbool van sy mag.

Dit sluit aan by wat ons in Jesaja 35 Sondag gelees het dat God ‘n “heilige weg” gebaan het vir sy verlostes om die pad na sy ewige bestemming te vind.

Daar is maar een manier om op die boodskap van Jesaja te reageer. Dit is om die Here se roepstem te hoor:

11Vertrek, vertrek, gaan weg daarvandaan, raak nie aan wat onrein is nie; gaan uit hulle midde uit, reinig julle, draers van die heilige voorwerpe van die Here!

12Want julle sal nie baie haastig weggaan en nie soos vlugtelinge vertrek nie; want die Here trek voor julle uit, en die God van Israel is julle agterhoede.

Reinig julle

Die Here roep die ballinge uit hulle slawerny aan die koninkryk van Babel om in die vryheid van die koninkryk van God hulle identiteit te vind. God het ‘n nuwe toekoms vir hulle geskep waar hulle waarlik vry en heilig soos Hy kan lewe.

Maar, die volheid van daardie toekoms kan hulle nie ervaar terwyl hulle in Babel bly en aan die manier van lewe van Babel blootgestel is nie. Daarom die opdrag om te vertrek, om weg te gaan daarvandaan. Om nie enigiets wat onrein is aan te raak nie, om hulle te reinig van elke stukkie blootstelling van ‘n bestel wat God nie vereer nie.

Hulle is gereinig – deur God self. Maar, dit beteken hulle moet hulleself ook reinig, want hulle is die draers van die heilige voorwerpe van die Here, ‘n metafoor vir die teenwoordigheid van God.

Daar is daarom maar een manier om op die Here se roepstem te reageer. Om Hom te gehoorsaam. Om te doen wat Hy vra. Hy het sy “heilige arm” ontbloot. Hy het die “heilige weg” geskep. Hy trek voor ons uit. Hy is selfs ons agterhoede.

Interessant, dit is nie asof hulle hoef weg te vlug nie. Want die Here trek voor hulle uit en sal hulle begelei in alles wat hulle moet doen. Maar, belangrik, op daardie pad moet hulle kom. Op daardie pad moet hulle bly.

Dit is waarheen “Stille nag, heilige nag” ook vir ons roep.

Hoekom?

Om twee redes.

Een: Want Jesaja 52:10 is die teks wat die agtergrond vorm van die Here Jesus se Groot Opdrag net voor sy hemelvaart.

“Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde. 19 Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. 20 En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen.” (Matt 28:18-20)

God se “heilige arm” is ontbloot. Hy het die “heilige weg” geskep. Hy nooi almal uit deur die proses van dissipelskap om in elke faset van hulle lewens te onderhou wat Hy ons beveel het.

Ons word dus geroep tot ‘n lewe van persoonlike getuienis, om ander in te nooi in ‘n lewe van dissipelskap, na ‘n heilige lewe. Dit is na alles waaroor Kersfees gaan, om in die teenwoordigheid van God die lewe te vind. Die geboorte van Jesus was die begin van die “heilige weg”, die pad wat na die ewigheid lei.

Maar, Kersfees vra daarom ook alles van ons, ‘n lewe van persoonlike heiligheid wat ons persoonlike getuienis kan rugsteun.

Daar is ‘n hele paar NT gedeeltes wat ook by Jesaja 52 aansluit. Ek noem net twee daarvan.

Paulus skryf in Romeine 6:15-23 oor die vryspraak wat God ons gegee het wat ons oproep tot ‘n heilig lewe. Hy skryf met verwysing na Jesaja 52:

15Wat dan? Sal ons sonde doen, omdat ons nie onder die wet is nie maar onder die genade? Nee, stellig nie!

19Ek spreek menslikerwys ter wille van die swakheid van julle vlees; want net soos julle jul lede diensbaar gestel het aan die onreinheid en wetteloosheid om wetteloos te wees, so moet julle nou jul lede diensbaar stel aan die geregtigheid tot heiligmaking.

23Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here.

Daar is ‘n groot misverstand vandag oor die wet, so asof die genade God se wil uitgewis het. Verre daarvandaan. God se genade het ons oortredings van die wet uitgewis, het die skuld van ons weg gewas.

Nie sodat ons dan in die sonde kan bly nie. Want, dit is immers wat oortredings van die wet is, sonde.

Nee, sodat ons van onreinheid en wetteloosheid kan vlug en geregtigheid en heiligmaking kan najaag.

Paulus praat op ‘n eenvoudige manier, want ons laat onsself so maklik mislei, omdat ons sondige natuur steeds sy greep op ons manier van leef wil behou. Hy raai ons aan om nie te probeer redeneer oor wat nou aanvaarbaar is of nie, nie te slim te raak oor hoe ver ‘n mens nou die wil van God kan rek voordat jy dit oortree of nie.

Nee, Paulus sê stel jou liggaam diensbaar aan God vir heiligmaking. Laat Hy jou lei deur sy Gees om die werke van jou liggaam dood te maak. Sodat jy vir die geregtigheid van God kan lewe. Sodat jy heilig kan wees soos God heilig is.

Daarvoor het ons die hele Skrif beskikbaar waarin ons kan lees hoe God wil hê dat ons moet lewe. Dat ons slap hande en struikelende knieë kan versterk word deur die reguit paaie wat ons vir ons voete maak aan die hand van die Woord.

Paulus volg dit op in sy tweede brief aan die Korintiërs:

14Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis?

17Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem; f

18en Ek sal vir julle ’n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees, g spreek die Here, die Almagtige.

7:1TERWYL ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring. (2 Korintiërs 6:14-7:1)

Niks moet ons gemeenskap met Christus en met mekaar in die gedrang bring nie, want ons is op God se “heilige weg”. Hy is ons Vader. Ons is sy seuns en dogters. Hy roep ons om te leef soos Hy dit goedkeur, soos Hy in sy wese is, heilig.

En een van die dinge waartoe Hy ons roep, is om nie in dieselfde juk te trek saam met ongelowiges nie.

Paulus praat hier waarskynlik van die ongelowiges en dwaalleraars wat só kort ná die begin van die verspreiding van die evangelie invloedryk in die kerk van daardie tyd geraak het. Wat gelowiges probeer oorreed het om volgens wêreldse standaarde te lewe. Om in te pas by die kultuur van die dag en nie uit te staan vir die waardes van die evangelie nie.

In sy eerste brief het hulle reeds hierteen gewaarsku:

11 dat julle nie moet omgaan met iemand wat homself ’n gelowige noem, maar wat onsedelik of geldgierig of ’n afgodsdienaar of kwaadprater of dronkaard of bedrieër is nie. Met so iemand moet julle nie eens saam eet nie.” (1 Kor 5:11)

Dit beteken egter nie dat hulle alle bande met ongelowiges moet verbreek nie. Anders sou hulle geen getuienis hê nie, en geen manier om dié getuienis te lewer nie.

Dit beteken ook nie dat hulle alle bande met ongehoorsames binne die kerk moet verbreek nie, want dan sou hulle vermaning geen effek hê nie. Hulle moet wel dissipline toe pas – en dit moet insluit dat hulle die gemeenskap vir ‘n tyd met hulle verbreek – maar altyd met die doel om die gemeenskap weer te hervat, indien daar inkeer en berou sou wees.

Maar, Paulus is onwrikbaar sterk in sy bevel dat daar geen kompromie gemaak mag word met besoedeling van die vlees of gees nie.

Dat ons nee sal sê vir die slawerny van die sonde en ja sal sê vir die “heilige weg” waarop op God ons voete geplaas het.

Niks mag die gemeenskap met God in gevaar stel nie.  Dit is waartoe hierdie lied ons ook roep: Stille nag, heilige nag!

En dit is nie net waar van ‘n mens se verhouding met ander nie, maar ook van jou eie persoonlike lewe: jou liggaam en gees moet gereinig word van alles wat jou gehoorsaamheid aan God in die gedrang kan bring, sodat jy in volkome toewyding aan Hom kan lewe.

Lewe heilig in alles!

Dit is waarheen God ons roep op hierdie heerlike dag.

f Vgl. Jes. 52:11; Jer. 51:45; Eseg. 20:34; Op. 18:4

g Vgl. II Sam. 7:8; 7:14; Jes. 43:6; Jer. 31:9

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.