Skip to main content

Relationship status: It’s complicated – Genesis 38

Hoekom is dit so ingewikkeld?

relationship-status1Facebook – of Vuisboek of Bakkiesboek soos sommige sê – kan jou nogal laat kopkrap.  Veral as jy jou relationship status moet beskryf.

Wat kies jy nou van die nege opsies om jou verhoudingslewe te beskryf?

Dit is seker maklik om iets soos married of in a relationship of engaged te kies, as jy in ’n vaste verhouding met iemand is, maar maak enige van die ander opsies enige sin?

  • As jy sê jy is single, is dit nie miskien ‘n boodskap aan iemand met wie jy nie meer in ‘n verhouding wil wees nie, maar te skaam is om reguit te sê?  Of is dit om aan te kondig dat jy beskikbaar is vir ’n verhouding?  Of wil jy juis die teenoorgestelde sê dat jy single is en niemand wil hê nie!?  Leave me alone – maar hoekom sal jy dan op Facebook wees?
  • As jy sê jy is in an open relationship beteken dit dat jy ontevrede is met jou huidige maat en jou opsies oophou?  Watter impak kan dit op jou maat hê?  Sal jy hom of haar nog lank as maat behou as jy so iets publiseer?  Of wil jy juis hê mense moet die uitnodiging aanneem om saam met julle in ’n verhouding te gaan en watter tipe verhouding sou dit wees?  En is dit afgespreek of nie?
  • En waarom sal ’n mens separated of divorced  of widowed kies?  Is dit ’n boodskap aan jou maat van wie jy verwyder of geskei is?  Dit maak tog nie sin nie.  Of is dit ’n boodskap dat jy nou weer fair game is in die verhoudingslewe?  Wie weet?

Die interessantste een is seker die status van it’s complicated.  Dit beteken waarskynlik dat jy in daardie dubbelsinnige staat tussen ’n vriendskap en ’n verhouding is.  Of wil jy nie miskien juis daarmee sê dat jy ongelukkig is met jou huidige verhouding nie?  Maar, dit kan dinge nog meer kompliseer as die een met wie jy in ’n gekompliseerde verhouding is, dit agterkom.

Beteken it’s complicated iets is aan die gang, maar jy wil nie sê wat dit is nie?  Of is iets aan die gang, maar jy weet self nie wat aan die gang is nie?  Maar, dan is dit miskien dom om dit te erken?  En is dié status iets wat jy jouself aan herinner óf is dit bedoel vir jou vriende, sodat hulle kan simpatiseer met jou?  Óf is dit ’n boodskap aan dié een met wie jy in ’n verhouding is?

Just_Go_with_It_PosterDit laat my dink aan die komedie Just Go With It, waarin Adam Sandler ’n ou speel wat ’n trouring dra sodat vrouens vir hom sal val, maar nie ’n regtig-egtige verhouding met hom sal verwag nie.  Dan backfire dié scheme van hom as hy ’n vrou ontmoet van wie hy actually  hou, maar sy dink hy is getroud.  So hy begin onmiddellik sê dat hy besig is om te skei, om die trouring te verduidelik.  En dan raak dinge regtig gekompliseerd!

Miskien moet ’n mens ’n paar ekstra voorstelle vir Facebook maak om ’n stel meer omvattende opsies te hê, met grafika, wat eintlik net wys hoe complicated dit kan wees.

Of wat van dié drie siele se status?

 relationship-status_20120406172747  tumblr_ly67smi2Jn1qa7175o1_500  1342590567646809

Dit laat my dink aan die verhaal van Juda en Tamar in die Bybel – ’n regte complicated verhaal! Dit word vir ons vertel in Genesis 38.

Lees Genesis 38

38 Destyds het Juda weggetrek van sy broers af, in die rigting van Adullam waar hy by ’n man met die naam Gira uitgekom het. 2Daar het Juda vir Bat-Sua, ’n Kanaänitiese meisie, raakgeloop en met haar getrou. Hy het met haar gemeenskap gehad, 3en sy het swanger geword en ’n seun in die wêreld gebring. Juda het hom Er genoem. 4Sy het weer swanger geword en nog ’n seun in die wêreld gebring en hom Onan genoem. 5Toe Juda in Kesib was, het sy weer ’n seun in die wêreld gebring en hom Sela genoem.

6Juda het sy oudste seun Er laat trou met Tamar. 7Maar Er, Juda se oudste, was in die oë van die Here ’n slegte man, en die Here het hom laat sterf.

8Toe sê Juda vir Onan: “Gaan na jou broer se weduwee toe, jou skoonsuster, en trou met haar, en sorg dat daar kinders gebore word vir jou broer.”

9Onan het geweet dat die kinders wat gebore sou word, nie as syne beskou sou word nie, en daarom het hy elke keer as hy met die weduwee van sy broer gemeenskap gehad het, gesorg dat sy saad op die grond kom. Hy wou nie dat daar kinders vir sy broer gebore word nie. 10Maar wat Onan gedoen het, was verkeerd in die oë van die Here, en Hy het ook vir hóm laat sterf.

11Toe sê Juda vir sy skoondogter Tamar: “Gaan terug na jou pa se huis toe en bly daar ’n weduwee totdat my seun Sela groot is.” Maar Juda het eintlik gedink: netnou sterf hý ook soos sy broers.

Tamar is toe weg en sy het in haar pa se huis gebly.

12’n Lang ruk hierná het Juda se vrou Bat-Sua gesterf. Nadat hy oor haar gerou het, is hy na Timna toe om sy kleinvee te laat skeer. Sy vriend Gira van Adullam is saam. 13Daar is aan Tamar vertel dat haar skoonpa na Timna toe gaan om sy kleinvee te laat skeer. 14Ondertussen het sy gemerk dat Sela al groot is, maar dat sy nog nie vir hom as vrou gegee is nie. Sy het toe haar rouklere tuis gelaat, haar gesig met ’n sluier toegemaak, haar vermom en by die poort van Enajim langs die Timnapad gaan sit.

15Juda het haar gesien en gedink sy is ’n prostituut. Haar gesig was mos toegemaak. 16Hy het na haar toe uitgedraai en vir haar gesê: “Kom! Ek wil met jou gemeenskap hê!”

Hy het nie besef dat dit sy skoondogter is nie.

Toe vra sy vir hom: “Wat sal jy my daarvoor betaal?”

17Hy het geantwoord: “Ek sal vir jou ’n boklam uit my kudde stuur,” maar sy sê: “Dan moet jy my solank ’n pand gee.”

18Toe vra hy: “Wat se pand kan ek jou gee?”

Sy het geantwoord: “Jou seëlring met die ketting en jou kierie.”

Hy het dit vir haar gegee en met haar gemeenskap gehad en sy het swanger geword.

19Sy is toe terug huis toe waar sy haar sluier afgehaal en weer haar rouklere aangetrek het. 20Juda het sy vriend, Gira van Adullam, gestuur met die boklam om die pand by haar te gaan haal, maar hy kon haar nie opspoor nie. 21Hy het navraag gedoen by die mense van die plek waar sy gesit het. Hy het gevra: “Waar is daardie tempelprostituut wat by Enajim langs die pad was?”

Hulle het hom geantwoord: “Hier by ons is nie ’n tempelprostituut nie.”

22Hy is toe terug en het vir Juda gesê: “Ek kon haar nie kry nie. En die mense van daardie plek sê self ook daar is nie ’n tempelprostituut by hulle nie.”

23Toe sê Juda: “Laat sy die goed hou. Netnou maak ek nog ’n gek van my. Ek sou die boklam stuur, maar jy kon die vrou nie kry nie.”

24Drie maande later is aan Juda vertel: “Jou skoondogter Tamar het haar soos ’n prostituut gedra en is swanger.”

Toe sê hy: “Bring haar uit dat sy kan verbrand word.”

25Maar toe hulle haar wou gaan haal, stuur sy ’n boodskap na haar skoonpa toe: “Die man aan wie hierdie goed behoort—ek het by hom swanger geword. Stel vas aan wie hierdie seëlring met die ketting en die kierie behoort.”

26Juda het dit herken en gesê: “Sy is onskuldig, ek nie! Ek moes my seun Sela aan haar as man gegee het.”

Juda het nooit weer met haar gemeenskap gehad nie.

27Toe die tyd van haar bevalling aanbreek, het dit geblyk dat sy ’n tweeling verwag. 28Toe die geboorte begin, het een van die twee sy hand uitgesteek en die vroedvrou het dit gegryp en ’n stukkie rooi garing daarom gebind. Sy het gesê : “Hierdie een is eerste.”

29Maar toe trek hy sy hand terug en sy broertjie kom. Toe sê sy: “Jy het met krag vorentoe gekom.”

Hy is toe Peres n genoem.

30Daarna het die broertjie gekom om wie se hand die rooi garing was, en hy is Serag o genoem.

Komplekse verhoudinge in die Bybel

Daar is heelwat komplekse verhoudingsverhale in die Bybel.

  • Sommige verhoudings het ’n goeie einde, soos Dawid en Batseba – van misdadige liefde tot Messiaanse liefde.
  • Ander verhoudings het ’n tragiese einde, soos Dawid en Mikal – van mal verlief tot totale afgryse aan mekaar.
  • Ander het ’n gemengde gevoelens uitkoms, soos in die geval van Abraham en Sara met die problematiek van Hagar, Isak en Rebekka met die bedrog van Jakob, ’n bedrog waarin Rebekka ’n groot aandeel gehad het, sowel as Jakob en Lea, waar sy weer in die spervuur kom van die speletjies wat haar pa met Jakob speel.

Al drie hierdie oer aartsvaders het uitdagings gehad in hulle verhoudings.  Soms was die sondebok die mans.  Ander kere die vrouens.  En dan praat ons nou nie eers van Adam en Eva nie – die oer simbole van die uitdagings en darem ook van die vreugde wat daar in verhoudings is.

Maar die verhaal van Juda en Tamar is nogal ’n unieke een wat ons iets kan leer van hoe God in verhoudings werksaam is.

Die storie van Tamar

Er

special-lastTamar was baie bly toe Juda sy oudste seun Er met haar laat trou het.  Ons wil mos almal iemand spesiaal hê in ons lewe.  En ons wil hê iemand anders moet dink ons is spesiaal.

Maar, groot probleem, Tamar word getref deur ’n dilemma.  Haar man was in die oë van die Here ’n slegte man en hy sterf.  Nie net is hy egter dood en word sy alleen agtergelaat nie.  Sy word ’n kinderlose weduwee, een van die haglikste situasies in oud-Israel.  Sonder kinders was ’n weduwee uitgelewer aan die nukke en grille van die gemeenskap en sonder ’n vaste inkomste of vaste heenkome.

Onan

Gelukkig kom haar skoonpa Juda sy plig teenoor haar na en soos die gebruik dié tyd was, gee hy opdrag aan sy tweede seun, Onan, om met haar te trou, sodat hy kan sorg dat daar kinders gebore word vir sy broer, Er, en die kinderlose weduwee, Tamar.  Kinders was ongelooflik belangrik vir hulle.  Daardeur het die Jode in ’n sekere sin onsterflikheid bereik.  As jy ’n nageslag gehad het, het jou naam as’t ware voortbestaan op aarde.  Jy het voortgelewe in die lewe van jou nageslag.  Iets waaroor ek ook nou begin dink met my eerste kleinkind op pad …

En broers moes die rol vir mekaar vervul as een van hulle sou sterf.  Die weduwee skoonsus moet ter wille van die oorlede broer van ’n nageslag voorsien word.  Maar, Onan wou nie saamspeel nie, of dan nou net tot op ’n punt.  Hy kom sy plig na, ten minste die plesierige deel daarvan, maar sorg dat daar geen kinders gebore word nie deur nie enduit te gaan met die seksdaad nie.

Die Here het egter nie van dié nonsens van Onan gehou nie en dié sterf ook.  Onan het wel homself verewig met die term onanie – gaan soek dit maar op in ’n woordeboek! – of te wel coïtus interruptus.  Maar, ’n eervolle nalatenskap is dit nou nie.

God se belofte word in gevaar gestel

Onan se dood is egter nie net te wyte daaraan dat die Here ’n paaiboelie is wat ongehoorsaamheid straf nie.  Daar is iets baie groters op die spel en dit is die belofte aan Abraham dat God hom sal seën met ’n groot nageslag. Onan se optrede het God se belofte in gevaar gestel … en Onan betaal daarvoor die prys.

Juda voor ’n dilemma

Onmiddellik staan Juda egter nou voor ’n nuwe en uitdagende dilemma.

  • Hy het aan die eenkant die kulturele en morele verpligting om sy derde seun, Sela, dieselfde opdrag te gee: sorg dat daar ’n nageslag is vir jou broer Er en jou skoonsuster Tamar. Doen die ding, Sela, dan is dit klaar!
  • Maar Juda raak aan die ander kant bang dat dieselfde lot Sela, sy enigste oorblywende seun, sal tref as wat die ander twee broers getref het.  Miskien is die Here ook met Sela ontevrede.  Dan het hy nie net sy drie seuns verloor nie, maar sy eie voortbestaan in die geslagte.

Juda se lewe is dus nou op die spel!  Praat van complicated!

Juda speel veilig

Daarom, in plaas daarvan om die Here te vertrou, besluit Juda om veilig te speel.  Gelukkig is Sela nog jonk, en met die valse belofte dat Juda Sela vir Tamar sal gee as hy groot is, verwyder Juda vir Tamar uit die oog en stuur haar terug na haar pa-hulle se huis toe.

So verdwyn Tamar eintlik in die vergetelheid in. Maar sy laat die mense nie onkundig oor wat met haar gebeur het nie.  Vir die volgende paar jaar dra sy rouklere, waarmee sy nie net aan almal kommunikeer dat sy nou al twee mans verloor het nie, maar dat sy steeds kinderloos bly.

Intussen het Sela grootgeword, maar van Juda se belofte aan Tamar het dadels gekom.  Hy het haar bestaan geïgnoreer.

Tamar neem ’n geweldige risiko

Tamar laat egter nie op haar wag nie – ’n vrou van durf en daad.  Sy neem kennis van die feit dat Juda se vrou, Bat-Sua, self dood is en dat Juda klaar gerou het oor haar.  Sy weet wat die Here se wil is.  Sela is nou mooi groot.  Hy moet sy plig teenoor sy ouer broer en teenoor haar nakom.  Daarom neem sy ’n geweldige risiko.  Sy waag dit om God te vertrou dat sy wil sal geskied.

Maar sy gaan nie sommer vir Sela nie.  Sy gaan van die baas van die plaas.  Sy trek haar rouklere uit, vermom haar met uitdagende klere en verlei haar skoonpa.  As pand gee Juda haar sy seëlring met sy ketting en kierie, belangrike simbole van sy identiteit, totdat hy haar ’n boklam as beloning sou verskaf.

Maar, sy maak haarself uit die voete, tot groot konsternasie van Juda, wat nou sonder seëlring, ketting en kierie is.  En sy raak swanger!  Praat van complicated!

Juda wil haar straf

Toe dit rugbaar raak dat sy swanger is, nog net drie maande ver – wonder of sy dit nie sommer self bekend gemaak het nie! – wil Juda haar straf met verbranding.  Hy het moontlik gedink, ai tog, my beplanning was toe al die tyd nie verniet nie!

Tamar stel hom aan die kaak

Tamar het egter vir dié moment gewag en stel Juda aan die kaak: “Die man aan wie hierdie goed behoort – ek het by hom swanger geword.”  Dit is nou eers complicated!  Sy bring ’n heel nuwe dimensie aan complicated!

Sy is reg; ek is verkeerd

Tot Juda se krediet erken hy onmiddellik dat sy onskuldig is en dat ’n groot onreg teenoor haar gepleeg is. Hy sê kort en kragtig: “Sy is reg; ek is verkeerd.”

En onmiddellik is die complications op ’n end. Juda doen die regte ding.  En die Here seën hulle en kan sy belofte aan Abraham verder vervul.

God seën Tamar uit haar sokkies uit

Trouens, God se seën beteken dat twee kinders vir hulle gebore word, Peres en Serag.  God maak baie seker dat sy weet, Hy dink sy is spesiaal.  Hy gee vir haar twee vir die prys van een.

En die tweeling se name is vol van betekenis.

  • Peres beteken “deurbraak” en dit is presies wat hierdie geboorte was vir Tamar.  Meer nog, uit Peres is Dawid gebore en het Tamar deel van die Messiaanse linie geword.  Praat nou van ’n onverwagse wonderlike uitkoms!
  • Serag weer beteken “dagbreek” wat dieselfde betekenis dra van die son wat weer opgekom het vir haar.

Wat leer dié verhaal vir ons wat so sukkel met ons gekompliseerde verhoudings:

1.  Doen die regte ding.

Al lyk dit asof dit nie gaan werk nie.  Al lyk dit asof jy jou eie toekoms op die spel plaas.  Al beteken dit jy moet jou trots sluk.  Want, sonder dat reg geskied, kan geen goeie uitkoms moontlik wees nie.

God het die ongelooflike vermoë om midde-in die geknoeiery van mense en die draaiballe wat die lewe na jou afstuur, die onmoontlike moontlik te maak.

  • Hy neem ’n vrou wat geminag word, wat haar tot amperse prostitusie wend en daarmee buite-egtelike kinders verwek en skryf vir Tamar in die grootste storie van die wêreld in, die storie van Jesus, die Messias.
  • God neem selfs ’n man wat bekommerd is oor sy nageslag en dink alles hang van hom af en daarom begin om die reg in eie hande te neem om in die proses ’n vrou te minag en byna te verwoes en bring Juda tot ander insigte en seën hom saam met haar as deel van die Messiaanse linie.

Trouens, dié verhaal word waarskynlik hier vertel, waar dit eintlik die vloei van hierdie deel van Genesis onderbreek, ’n verhaal wat eintlik op Josef fokus, die een wat die volk in Egipte moet verlos, met die doel om die groeiende leierskap potensiaal van Juda na vore te bring, soos hy dit so pas tevore in die veld geïllustreer het deur tot Josef se redding te kom en aan Midianitiese handelaars te laat verkoop, eerder as hom dood te maak.

Dit was vir die skrywer van Genesis belangrik om te illustreer dat Juda “tot bekering” gekom het, dat hy sensitief was vir die werk van die Here om hom tot oortuiging te bring van wat reg en wat verkeerd is.  Geen wonder dat uiteindelik uit hom die koningsgeslag gebore sou word nie.

2.  Vertrou die Here.

Hy vervul sy beloftes.  Hy laat niemand in die steek nie.

  • God laat nie vir Tamar in die steek nie.  Haar waagmoed kon net werk as God daar was om haar geloof in Hom te beloon.  Sy waag dit met God.  Sy vertrou Hom.  En God vervul sy belofte aan haar.  Hy doen eintlik nog baie meer – sy word die draer van die Messias!
  • God laat egter ook nie vir Juda in die steek nie.  Hy is bekommerd oor sy nageslag.  Hy dink hy moet verantwoordelikheid neem, maar in die proses benadeel hy Tamar se regte.  Dit kan nooit werk nie.  Want, dan is dit nie meer God se werk nie, maar jou eie.  Die Here sien dit raak en help hom om insig te kry.  Op die punt dat hy insig kry, doen hy die regte ding. Hy erken Hy is verkeerd.  Hy erken Tamar is reg.  En hy bly in die storie van God met sy mense.  Trouens, hiermee word die Messiaanse linie bevestig.  Jesus sou uit Juda gebore word. Watter geskenk!
  • God laat egter ook nie vir Abraham in die steek nie, al is dié al ’n paar dekades oorlede!  Die belofte van ’n nageslag aan Abraham was op die spel hier.  As óf Tamar óf Juda nie die Here vertrou het nie, sou die belofte aan Abraham moeilik vervul kon word.

God is dus magtig genoeg om in jou toekoms sy beloftes waar te maak!  Hy sal jou ook nie in die steek laat nie.

Hooglied

Wens ek kon nog verder praat oor verhoudings, maar dié keer aan die hand van die boodskap van Hooglied wat nog perspektiewe op die tafel sit wat ons verby die komplikasie van verhoudings kan neem na die passievolle plesier van saamwees, die wedersydse geborgenheid van tuiswees by mekaar, die bevestiging en opwinding van ons menswees in ’n wederkerige interafhanklike verhouding, die bedwelming en beskerming van die liefde, die vreugde van vrywillig versoening as dinge skeefloop … julle kan meer daaroor lees in my eboek oor Hooglied by Bybelskool.com.  Dit is egter vir ‘n ander dag …

Skep ruimte

Hoe kan jy ruimte skep? 

Ek wil ’n groep met studente begin rondom geloofsgewoontes.  Drie het al gesê hulle wil deel raak.  Ek sal ná die tyd beskikbaar wees in die konsistorie om te kyk wat ons kan reël.  Dit vra ’n commitment van 100 dae.  Reisgenote in geloofsvorming.

Maar, jy kan op jou eie ook daardie ruimte skep.  Ek het ’n paar weke gelede gepraat oor die gebed van die hart en om ’n joernaal te hou – en jy kan doodgewoon daarmee voortgaan as jy die uitdaging aanvaar het. Of vandag daarmee begin.  Die inligting is op die webtuiste.

Daaglikse ondersoek

Ek wil ’n ander geloofsgewoonte op die tafel sit vanaand, die gebed wat as die daily examen of die daaglikse ondersoek bekend staan.

Die daaglikse ondersoek is ’n eeue-oue gebruik om God se teenwoordigheid in die alledaagse gebeure in jou eie en ander se lewe te soek (Kol 1:9; Fil 1:9-10).  Dit sluit in om van God se teenwoordigheid bewus te word; die gebeure van die afgelope dag te deurdink; op te let na jou emosies oor die gebeure – beide die positiewe en die negatiewe – wat jou getroos het en wat jou geruk het; te vra na God se perspektief daarop; na te dink oor waar jy die beste konneksie met God gehad het – en waar nie; jou begeertes na Hom te bring met gebed en smeking sodat sy vrede jou hart en gedagtes tot rus kan bring (Fil 4:6-7).

John Ackerman se bekende weergawe is: “Stop, Neem waar, Luister” (Stop. Look. Listen):

STOP:  Stop met wat jy besig is om te doen en te dink.  Probeer so sit dat jy na ‘n venster kyk of gaan sit of stap buite.  Jy kan ook kniel. Om jou te help stilword, kan jy fokus op jou asemhaling.  Wanneer jy uitasem, herhaal jy stilweg die woorde “ek gee oor aan U” en met elke inaseming, “ek wil luister”.

NEEM WAAR:  Dink terug aan die gebeure van die afgelope dag.  Het jy iets ontvang wat goed of onverwags was?  Neem tyd om daaroor na te dink en waarderend te wees.  Probeer, ten spyte van al die slegte nuus wat jy daagliks hoor en ervaar, die goeie in jou buurt, gemeenskap, land en in die wêreld raak te sien.  Herinner jouself daaraan dat jy nie in die sentrum van die heelal is nie.

Dink ook terug aan die pyn wat jy ervaar het.  Vir dele daarvan is jy verantwoordelik.  Vra vir vergifnis.  Ondersoek die aard van die seerkry.  Gaan dit regtig oor jou, is dit regtig so belangrik, of is jy vasgevang in iets waarvan die Here jou moet vrymaak?  As iemand jou te na gekom het, bid dat jy sal kan vergewe.  Dink ook aan die pyn in die wêreld.  Bid vir dié wat daardeur geraak is.

LUISTER:   Fokus op insigte, ingewings, gewaarwordings, prentjies, ‘n lied of gedig wat by jou opkom.  Vra jouself af, of dit jou troos, seën of ontsteld laat.  Dink na oor wat God daardeur vir jou wil sê.  Bid om helderheid, oortuiging en vrede.  Skryf jou gedagtes in jou joernaal, sodat jy oor tyd kan agterkom hoe die Here besig is om jou te begelei rondom herhalende insigte en ingewings. Wees gehoorsaam aan die lig wat jy ontvang.  Gaan leef dit!


 

n Die naam Peres hou verband met die Hebreeuse woorde vir “met krag vorentoe gekom”.

o Die naam Serag hou verband met die Hebreeuse woord vir “die rooi van die dagbreek”.

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.