Skip to main content

Bewoon, bewerk, bewaar – Genesis 2:15

Tema: Verhouding met omgewing

Pulse: 18:00 30 Augustus 2020 Youtube

 

Kindertyd

Vasbyt – julle superhero, oom Jaco, is volgende week terug.

Ek is seker julle weet presies waar hierdie plek is. Net onderkant Something Good. Waar mens die lekker draairoomyse koop.

Op ‘n mooi dag kuier oud en jonk graag hier.

Veral wanneer dit volmaan is, tref ons die mooiste skatte op die strand aan. Hierdie is maar net een.

Maar ongelukkig, is die strand vol gemors. Soos – sigaretstompies, lekkergoed papiere, plastiek, nog plastiek, en nog plastiek. En skroot soos hierdie drade wat jou baie seer kan maak.

God het vir ons die wonder van die natuur gegee. Om Hom as die Skepper daarvan te kan raaksien. En Hom vir die skatte daarin te prys.

Maar dan kom die mens en besoedel dit wat God mooi gemaak het.

In die eerste boek van die Bybel, Genesis, lees ons:

15Die Here God het die mens in die tuin laat woon om dit te bewerk en op te pas. (Gen 2:15)

Ons kan nie regtig polisieman speel en met mense raas as hulle gemors strooi nie. Maar ons kan dit optel en herwin.

Herwin julle ouers? Weet julle wat herwin beteken?

Dit is hoe ons herwin. Ons het drie dromme. In die een gooi ons glas, blikke en bottels. In die ander een gooi ons plastiek. In die ander een gooi ons karton en papier.

So voer ons God se opdrag uit, om hierdie aarde te bewaar.

Wat pols?

In die nuus verlede week was die skip wat gestrand het by Mauritius. MV Wakashio het uiteindelik in twee gebreek en ‘n 1 000 ton olie gelek wat die ekologies sensitiewe kuslyn besoedel het. Hulle was naby die kus om Wi-Fi op te vang, en daar was blykbaar ‘n partytjie aan boord …

Besoedeling is ‘n ernstige probleem in die wêreld. Dink maar net aan die destruktiewe effek wat die rook van steenkool kragsentrales op die omgewing het, die probleme wat ons het met ‘n oormaat van plastiek en die besoedeling wat dit in ons stede, ons riviere en uiteindelik ook in ons oseane het.

Ons kan nie veel doen aan olie besoedeling of aan kragsentrales nie. Maar, ons kan wel iets doen om plastiek te herwin. Dieselfde met glas en karton. By Sasol in Somerstrand kan ons glas weggooi en by die Metodiste kerk in Walmer kan ons eintlik alles herwin: plastiek, glas en karton. Daar is ook ‘n maatskappy in PE wat afval by jou huis kan kom optel. Soek maar net online.

Dit help baie om drie dromme te hê daarvoor. Een vir glas en blikkies. Een vir plastiek en een vir karton en papier. Dan is dit maklik om huishoudelike afval in die verskillende dromme te gooi.

Boats

Hier is ook ‘n “fun” manier waarop jy kan leer oor oseaanbesoedeling en terselfdertyd IT skills kan leer. Die app BOATS van prof Jean Greyling. Op Android. Jy kan data wen!

Minstens 8 miljoen ton plastiek beland in ons oseane elke jaar. Plastiek is 90% van die rommel wat in ons oseane ronddryf. Die app gee vir jou inligting daaroor. Wenke van wat jy kan doen. En jy speel lekker. Leer op die koop toe programmering!

Skryf in vir die kompetisie.  Die doel van die speletjie is om soveel moontlik plastiek uit die oseaan te verwyder. Dan kry jy wenke. Bv, say no to plastic straws. Die punte word outomaties aangestuur. Hoe meer jy speel, hoe beter. Daar is 40 vlakke!

Teen Dinsdagaand 18:00 gaan twee wenners aangewys word. Elkeen kry 1 GB data!

Vinger op die pols

Die Vierde Industriële Revolusie

Ons is in die tydperk wat geleerdes die Vierde Industriële Revolusie noem.

1. Die eerste industriële revolusie was ‘n revolusie van meganisering – einde van die 18de eeu (1765) – fabrieke en die stoomlokomotief. Probleem. Steenkool. Lug besoedeling.

2. Die tweede industriële revolusie was ‘n revolusie van energie – einde van die 19de eeu (1870) – elektrisiteit en olie– petrolenjin, gloeilamp, telefoon, motors, vliegtuie, massaproduksie. Probleem. Steeds besoedeling, maar nie net die lug nie, ook die aarde. Want, wat maak jy met al die afval? En in vervaardiging word baie water gebruik. Die besoedeling beland daarom in ons rivier en uiteindelik in die oseane.

3. Die derde industriële revolusie was ‘n revolusie van elektronika en informasie tegnologie – einde van die 20ste eeu (1969) – rekenaar, programmering, en robotte. Probleme vermenigvuldig. Besoedeling. Lug, grond, riviere, oseane. Afval raak ‘n kopseer. Waar sit jy dit? Sommige lande het aangebied om afval te stoor. Wêreldwyd word 2 biljoen ton munisipale afval verwerk. Dit is ‘n ¾ kg gemiddeld ‘n dag per persoon in die wêreld! Oorbenutting van bronne.

Al drie hierdie revolusies het baie vooruitgang gebring in kommunikasie en lewensgehalte, maar het deurlopend ook die natuur beskadig. Lugbesoedeling, afval, oorbenutting van natuurlike hulpbronne.

Met elke nuwe industriële revolusie verander die werk wat ons doen ook. Dit beteken dat as jy opgelei was om met hoefysters vir perde te werk, jou opleiding niks beteken as mense nie meer met perde ry nie, maar met motors. En as jy opgelei is om in ‘n fabriek motors met handearbeid te bou, en mense robotte begin gebruik om die proses te outomatiseer, jou opleiding en geleentheid om te werk tot niet raak.

En nou is ons al in die volgende fase! Die vierde industriële revolusie.

4. Die vierde industriële revolusie is ‘n revolusie van data – 21ste eeu – die “Internet of things”, kunsmatige intelligensie tot op die vlak van alledaagse implemente, die vermenging van fisiese, biologiese, en digitale wêrelde, die virtuele wêrelde waarin ons leef – ons probeer nog sin maak daarvan. Lees meer in Klaus Schwab se boek daaroor.

Hierdie vierde revolusie het natuurlik die moontlikheid om positiewe goed te doen vir die natuur. As jy van die huis af werk, gebruik jy minder vervoer, wat bronne spaar en minder besoedeling veroorsaak. So kan ons bv ons koolstofspoor verminder ensomeer.

Dit kan egter groot uitdagings te weeg bring. Ons sit steeds met die probleem van besoedeling, afval, en oorbenutting van bronne. Ons sit steeds met die probleem dat nie almal vaardig is met die Internet en digitale werk nie. En dan het ons nou ook probleme rondom sekuriteit – dink aan die groot dilemma van die helfte van ons land se mense se ID’s en persoonlike inligting wat die week by die kredietburo Experian gesteel is, trouens, ons vind dit nou eers uit, dit het al in Meimaand gebeur! – sosiale fragmentasie – ons sit langs mekaar in Whatsapp mekaar! – toenemende ongelykhede in die wêreld – online studies is ‘n moontlik vir sommige, vir ander ‘n “bridge to far”.

Hoe moet ons dink hieroor? Het die Bybel iets hieroor te sê? En wat is die implikasies daarvan vir ons verhouding met die omgewing waarin ons leef en werk?

Bewoon, bewerk en bewaar

Dit is só bevredigend om die Bybel op die eerste bladsy oop te maak en agterkom dat die visie van God vir hierdie wêreld nog presies in die kol is. Dat geen revolusie die basiese dinge wat God ons daar leer ontkrag nie. Dat die visie van die Bybel vir ons verhouding met die omgewing nog steeds die beste prentjie is wat daar is.

Want, God se droom vir die aarde kan in drie woorde saamgevat word: bewoon, bewerk en bewaar. En daar is nie ‘n beter manier om oor ons verhouding met die omgewing te gesels nie.

Dit is wat die verhaal van die tuin van Eden vir ons op die tafel sit, ‘n visie wat in die breë ook vir ons lewe op aarde bedoel is.

15Die Here God het die mens in die tuin laat woon om dit te bewerk en op te pas. (Gen 2:15)

  • God het die mens in die tuin laat woon.” Ons het ‘n plek nodig waar ons kan floreer. Dit is die eerste element van God se voorsiening vir ons. Dat ons die aarde bewoon. Vir menswees om te floreer, het almal van ons ‘n plek nodig wat ons ons “huis” kan noem, ‘n plek waar ons veilig is en gelukkig kan wees. Dit is waarom die huwelik so belangrik is. God gee vir Adam ‘n maat wat by hom pas, sy gelyke. Hulle is twee helftes. En die een kan die ander help. Helftes en Helpers. Dit is waaroor Genesis 2 gaan. Om goed te kan slaag in al drie hierdie opdragte – die bewoon, bewerk en bewaar dele – speel die huwelik ‘n sentrale rol.
  • “God het die mens in die tuin laat woon om dit te bewerk.” Om gelukkig te wees, het ons ‘n doel in die lewe nodig. Ons het nodig om betekenisvol besig te wees. ‘n Manier te vind om ‘n verskil te maak aan hierdie wêreld. Dit is die tweede element van God se voorsiening vir ons. Dat ons die aarde bewerk. Dat ons ‘n inset maak in ons omgewing wat ons laat goed voel oor onsself en ‘n verskil maak aan ons omgewing.
  • “God het die mens in die tuin laat woon om dit te bewerk en op te pas.” Dit is die derde element van God se voorsiening vir ons. Ons kan nie net die aarde bewoon nie. Ons kan nie net die aarde bewerk nie. Ons moet ook sorg vir die plek waar ons bly en waar ons werk. Ons moet die aarde bewaar.

Drie bedreigings

Nou belangrik:

Genesis vertel vir ons dat hierdie bedoeling van God deur drie goed bedreig is.

1. Die eerste bedreiging was deur ongehoorsaamheid aan God (Adam en Eva – Gen 3) wat nie net die verhouding tussen Adam-Eva en God verbreek het nie, ook nie net die verhouding tussen Adam en Eva vertroebel het nie, maar hulle ook in konflik met hulle omgewing gebring het – “die aarde sal vir jou dorings en dissels laat uitspruit” (Gen 3:18).

Ongehoorsaamheid verbreek dus die verbintenis met die land en die tuiste wat God vir ons geskep het, en Adam en Eva word daarby uit die tuin geban, die plek waar werk ’n vreugde was.

2. Die tweede bedreiging was deur geweld teenoor medemense (Kain wat Abel doodmaak – Gen 4). Let op dat Kain tot swerwer verdoem word, dat sy verbintenis met die grond totaal afgesny word. Hoe ontstellend klink daarom nie Kain se uitroep na hy Abel van kant gemaak nie: “My straf is te swaar om te dra.  U verdryf my nou van my grond af” (Gen 4:13-14).  Hy sou nou nie meer kon bydra tot enige een van die drie kernopdragte aan die mens nie: bewoon, bewerk, en bewaar.

3. Die derde bedreiging – een waaroor ons nie genoeg dink nie – was deur die aarde aan homself oor te laat. Dit sou een van die gevolge wees van die poging om in die vlakte van Sinar ’n tuiste vir almal te vind (Gen 11). Die aarde sou nie bewoon, bewerk en bewaar word nie.  Die taalverwarring was dus ’n doelbewuste manier om ’n tuiskoms te verseker, vir mense, plante en diere.

Aldrie hierdie bedreigings bestaan vandag nog – om die verhouding met God, met medemense of met die natuur na te laat, of af te skeep of te verbreek. En die gevolge is steeds dieselfde – om jou tuiste by God, jou tuiste by ander, en jou tuiste op die aarde in gevaar te stel.

Daarom moet ons voor in die koor staan om hierdie bedreigings die hoof te bied. Ons het ’n dure plig as verteenwoordigers van God om betrokke te raak.

Hoe doen ons dit?

Deur God se droom vir ons te omarm: bewoon, bewerk, bewaar.

1. Dit beteken ‘n keuse vir die huwelik en familiewees. Dit is een goeie gevolg van die inperking. Dat ons gedwing word om te dink oor rolle en verantwoordelikhede. Om nie net te dink aan ons eie behoeftes aan selfverwesenliking nie, maar aan wat gaan die beste werk vir ons gesin. En die uitgebreide familie speel hierin ‘n rol.

Ons moet begin droom oor wat gaan ons hele familie die beste pas. Nie net wat gaan my die beste pas nie. Ons het in die verlede baie aandag gegee aan die verwydering van hindernisse in die werkplek vir vroue. En aan gelyke betaling vir gelyke werk. En daar is niks fout daarmee nie. Maar, dit fokus te veel op mans en vroue en selfverwesenliking en nie genoeg op die familie as sodanig nie.

Dit is tyd dat ons die Here se aangesig soek oor watter tipe huis sal die beste wees vir ons almal. En watter tipe werk sal ons daarmee die beste help.

God het ons geroep om die aarde te bewoon, bewerk en bewaar. Dink goed na oor watter tipe huislike omgewing julle besig is om te skep of wat julle wil skep en werk in die rigting van die oortuiging wat die Here vir julle gee. Hy sal julle begelei.

2. Dit beteken ‘n keuse vir ‘n werk wat inpas by jou gawes, maar ook ‘n verskil maak op hierdie aarde. Kyk, daar is die grappie dat ‘n ryk ou wat ongelukkig is, darem beter af is as ‘n arm ou wat ongelukkig is. Jy kan darem vir jou koop wat jy wil hê. Maar, moenie val vir daardie idee nie. Geld en gierigheid is aan die wortel van alle kwaad, sê die Bybel.

Veral vir ons jonger kykers. Die loopbaan wat jy kies, moet uiteraard aanpas by jou belangstellings en aanleg. En jy moet in gedagte hou dat ons midde in ‘n vierde industriële revolusie is. Data management gaan toenemend belangrik raak. Daar is ‘n paar tradisionele werke wat nooit uit moontlikhede sal hardloop nie. Kos en kontrakte, Finansies en infrastruktuur. Maar, IT tipe skills gaan enorm belangrik raak.

Maar, dit kan nooit al wees nie. Ons is burgers van ‘n ander koninkryk. Ons is kinders van die Here, burgers van die hemel. Ons het ‘n evangelie wat oor die aarde moet versprei, die evangelie van Jesus Christus.

So, dink oor jou aanleg en belangstellings, maar wees kreatief om ‘n werk te kies wat ‘n verskil maak, wat die koninkryk van God kan dien. Dink oor jouself as ‘n sendeling in die werk wat jy kies. Jy kan nooit net ‘n rekenmeester word en nie ook dink aan die impak wat jou getuienis op jou kliënte gaan hê nie. Jy kan nooi net sagteware ontwikkel vir ‘n besigheid en nie ook dink aan die impak wat jou getuienis op jou werkgewers gaan hê nie.

En onthou hierdie verhaal.

Die verhaal van ‘n jong student wat saam met sy mede teologiese studente op ‘n toer gegaan het van Amerika na Brittanje om geestelik belangrike plekke te besoek. Hulle professor, Dr Orr van Wheaton College, het hulle geneem na John Wesley se huis in Epworth, die vader van die Metodiste Beweging. Hulle het gekyk na die onderste verdieping waar die kombuis was en sy studeerkamer. Gevat aan die boeke wat in sy boekrak was.

Toe opgegaan na die boonste verdieping. Sy slaapkamer. Opgemerk daar is twee duike in die mat aan die een kant van die bed. Dr Orr het gesê dit is die plek waar John Wesley gebid het vir herlewing. Ure elke oggend. “Lord, bring revival.”

Toe hulle in die bus klim, sien dr Orr dat ‘n student missing is. Hy is terug na die huis. Opgestap na die slaapkamer. Daar het die student gekniel in dieselfde twee verslete duike in die mat. En gebid: “Lord, do it again!”

Die student, Billy Graham, die grootste evangelis wat hierdie wêreld ooit gesien het, naas Paulus.

3. Dit beteken ‘n keuse vir ‘n verhouding met die omgewing waar jy besoedeling verminder. Ons kan nie net bewoon en bewerk nie. Ons moet ook bewaar.

Dit sal beteken dat jy self besluit om jou afval slim te bestuur. Om soveel as moontlik by herwinning betrokke te raak. Om goed na te dink oor jou eie benutting van hulpbronne (water en grondstowwe). Om jou gebruik van die aarde so effektief as moontlik te maak.

Dit sal ook beteken dat jy by samelewingsaksies betrokke raak. Om die strand skoon te maak. Om die reëls na te kom. Om ook ander se vullis op te ruim. ‘n Goeie voorbeeld te stel.

Maar, dit beteken ook dat jy by sekuriteit betrokke raak, veilige gewoontes aanleer. Dat jy sorg dat jy nie bydra tot sosiale fragmentasie nie. Dat jy soms jou selfoon sal afsit en fokus op die mense rondom jou. Dat jy ook sal kyk na die toenemende ongelykhede in die wêreld en iets daaraan sal doen. Dit kan selfs jou tipe werk of ten minste hoe jy jou werk doen, bepaal.

Dit is wanneer ons sulke gesonde keuses maak in ons roeping om die aarde te bewoon, bewerk en bewaar dat ons God se verteenwoordigers op hierdie aarde is. Dat ons vir die mense van die aarde wys wat moontlik is. Want, hoe jy die aarde hanteer, is net so ‘n deel van jou getuienis, as wat jou geloofstorie dit is.

Bewoon, bewerk, en bewaar. God se droom vir ons verhouding met die omgewing.

View all posts in this series

Pulse

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.