Skip to main content

Wees gereed! – Lukas 12:22-48

NGK Somerstrand | 7 Augustus 2022 09:00 | Kerk en Youtube

Ek sluit by die verhaal in Lukas 12 aan waar Jesus besig is om sy dissipels te bemoedig op pad na Jerusalem toe. Hy wil hulle help om hulle bekommernisse oor kos en klere agter te laat, want Hy is in staat om vir hulle lewe en liggaam te sorg.

Jesus borduur dan verder voort op wat vir sy dissipels nodig is in ’n lewe vir die koninkryk. Hy wil nie net hê dat hulle hulle kommer vir Hom gee nie. Hy wil hê dat hulle al hoe meer gereed sal word vir die lewe wat kom. Hulle moet gereed wees vir sy tweede koms. Jesus gebruik daarvoor twee beelde en drie gelykenisse wat wys wat gereedheid beteken.

English translation: Luke 12_22-48

Verwelkoming

Aankondigings

Toetrede

Lord I lift your Name on high – staan

Ek wil sing van Jesus liefde (Sendinglied) – staan

Votum

Seëngroet

Lofsang

Psalm 100:1-3 Juig almal tot Gods lof en eer – staan

Lied 587:1-2 “Kyk, Hy kom!” Wag, laat ons luister – staan

Kindertyd

Speel julle graag wegkruipertjie?

Ek hoor van ‘n dogtertjie wat graag saam met haar ma wegkruipertjie speel. Sy hou haar twee ogies styf toe, tel tot tien en roep dan: “Hier kom ek, reg of nie.” En dan begin sy opgewonde haar ma soek. Of haar ma nou al klaar weggekruip het, of nie.

Het julle al gehoor dat die Here Jesus weer gaan terugkom?

  • Ja, onthou julle dat Hy uit die dood opgestaan het?
  • En toe het Hy hemel toe gevaar.
  • Daar is Hy besig om vir ons te bid. En vir ons ‘n plek gereed te maak.
  • Sodat Hy kan kom om ons te kom haal dat ons by Hom vir altyd kan wees.

Maar, ons weet nie wanneer dit gaan wees nie.

Hy het net gesê, ons moet reg wees.

Want, eendag kom Hy, of ons reg is of nie!

Hoe kan ons reg wees vir wanneer Hy weer kom?

Jesus het gesê:

“Doen net dinge wat God se hart bly maak. Dan maak julle vir julle skatte in die hemel bymekaar.” (Luk 12:34)

Wat is die dinge wat God se hart bly maak?

Glo. Goed wees vir ander. Niks vat wat nie joune is nie. Altyd die waarheid praat. Niks leliks oor ander sê nie. Vir ander vertel hoe goed God is.

Gebed

Skriflesing en prediking

Moenie bekommerd wees nie

Ek sluit vandag by die verhaal in Lukas 12 aan waar Jesus besig is om sy dissipels te bemoedig op pad na Jerusalem toe (Luk 12:22-43). Hy wil hulle help om hulle bekommernisse oor kos en klere agter te laat, want Hy is in staat om vir hulle lewe en liggaam te sorg.

Hy gebruik die kraaie as ‘n voorbeeld van God se sorg. Hulle werk nie. Tog sorg God vir hulle.

“Hoeveel meer is julle nie werd as die voëls nie!”

Hy moedig daarmee sy dissipels aan om nie kleingelowig te wees nie. Hulle moet in dieselfde geloof waarmee hulle hulle vertroue op Hom geplaas het, volhard, en die Here met alles vertrou.

Jesus kontrasteer dan twee maniere van lewe. ‘n Soeke na jou eie koninkryk en ‘n soeke na die koninkryk van God. Gelowiges moet hulle lewe laat bepaal deur laasgenoemde, die koninkryk van God, en eersgenoemde, jou eie koninkryk, sal deur God self vir hulle bygevoeg word.

Dan brei Jesus ‘n bietjie meer uit, veral met die oog op die afskeid wat wag in Jerusalem. Hulle is wel nog ‘n klein kuddetjie (‘n unieke beskrywing van die dissipels), maar God die Vader het reeds besluit om aan hulle die koninkryk te gee. Wat ‘n belofte!

Trouens, Jesus is só oortuig daarvan dat God soos ‘n Goeie Herder vir sy kuddetjie kan sorg dat Hy hulle aanraai om hulle besittings te verkoop en aalmoese te gee.

Dit beteken nie dat hulle niks mag besit nie, maar doodgewoon dat hulle dit kan bekostig om in die hemel te belê eerder as in hulle aardse bestaan, want God sorg vir hulle. Want, soos iemand gesê het, “You cannot outgive God!” Hulle kan dit waag om ‘n afstand te handhaaf van hulle besittings en vrygewig daarmee om te gaan.

Só ‘n lewe sal vir hulle beursies gee wat nie oud word nie, ‘n onuitputlike skat in die hemele waar dit nie verlore of vernietig kan raak nie. Ouderdom, diefstal en vernietiging sal hulle lewe nie kan bedreig nie.

Hoekom sê Jesus dit? Want, Hy weet dat jou hart is waar jou skat is. En Hy wil hulle help om hulle hart op die regte plek te kry. Soos die Bybel vir Kinders dit sê:

“Doen net dinge wat God se hart bly maak. Dan maak julle vir julle skatte in die hemel bymekaar.” (Luk 12:34)

Wees gereed!

Jesus borduur dan verder voort op wat vir sy dissipels nodig is in ’n lewe vir die koninkryk. Hy wil nie net hê dat hulle hulle kommer vir Hom gee nie. Hy wil hê dat hulle al hoe meer gereed sal word vir die lewe wat kom. Hulle moet gereed wees vir sy tweede koms.

Jesus gebruik daarvoor twee beelde en drie gelykenisse wat wys wat gereedheid beteken.

Omgord julle heupe

Die eerste beeld is:

35a“Laat julle heupe omgord wees.”

Jesus bedoel daarmee dat hulle aan die werk moet bly in die koninkryk uitgedruk met die beeld van ‘n gordel om hulle heupe waarvan die onderste deel van hulle klere daarby ingedruk is sodat hulle beweeglik en aan die werk kan wees.

Wanneer die Here Jesus terugkom moet Hy ons aan die werk vind met dié dinge wat Hy vir ons geleer het.

Laat julle lampe brand

Die tweede beeld wat hieraan verbind is en wat dieselfde boodskap uitdruk, is:

35ben julle lampe aan die brand.

Hulle moet dus waaksaam wees vir sy terugkoms, besig met die werk wat Hy hulle gegee het, uitgedruk ook met die beeld van hulle lampe wat aan die brand moet bly, soos in die gelykenis van die tien meisies (Matt 25:1-10).

Dit is dan ook die belangrikste deel van ons werk. Dat ons soos skynende ligte sal lewe in hierdie lewe en menses rondom ons sal herinner daaraan dat Jesus weer kom.

Want, Hy kom, of die mense nou reg is of nie!

Wees te alle tye waaksaam

Jesus wys dan prakties wat Hy bedoel met die eerste gelykenis, die gelykenis van die waaksame slaaf.

36En wees soos mense wat vir hulle eienaar wag om van die bruilofsfees terug te kom, sodat hulle, wanneer hy tuiskom en klop, dadelik vir hom kan oopmaak. 37Gelukkig is daardie slawe vir wie die eienaar wakker aantref wanneer hy terugkom. Amen, Ek sê vir julle: Hy sal sy gordel vasmaak, hulle vir ete laat aanleun en hulle kom bedien. 38En as hy in die tweede of derde nagwaak kom en hulle só aantref – gelukkig is daardie slawe.

Die dissipels moet wees soos mense wat vir hulle heer wag wanneer hy terugkeer van ‘n feestelike bruilof, sodat hulle dadelik vir hom kan oopmaak as hy aan die deur klop.

Teen die verwagting in sal hy dan kom om hulle te bedien. Watter onverwagse seën! Maar, hulle moet gereed wees daarvoor, selfs as hy in die tweede of selfs as hy in die derde nagwaak kom, anders sal hulle dit mis. ‘n Beeld van die lang wagtyd vir die Wederkoms.

Die tweede nagwaak was die tyd tussen ongeveer tienuur die aand tot twee-uur die oggend, en die derde nagwaak van ongeveer twee-uur die oggend tot met dagbreek.

Wees enige tyd gereed

Dan volg Jesus hierdie oproep tot waaksaamheid op met ‘n tweede gelykenis, die gelykenis van die huiseienaar en die dief. Nogal ‘n vreemde een!

39Maar dit moet julle weet: As die huiseienaar geweet het op watter tydstip die dief kom, sou hy nie by sy huis laat inbreek het nie. 40Wees julle ook gereed, want die Seun van die Mens kom op ‘n tyd wanneer julle dit nie verwag nie.”

Die huiseienaar sal net die dief kan keer as hy wakker bly tot hy kom, want die dief adverteer nie sy planne wanneer hy deur die huis se kleistene sal inbreek nie!

Op ‘n soortgelyke wyse moet die dissipels ook gereed wees vir Jesus se Wederkoms, want die Seun van die mens kom op ’n tyd wat hulle dit nie verwag nie, soos ‘n dief in die nag. Hy kom, of mense gereed is of nie.

Wees getrou

Petrus word baie getref deur hierdie gelykenis, en wonder of die gelykenis net op hulle van toepassing is of op almal.

Jesus antwoord dat dit op beide van toepassing is – dit is bedoel vir hulle en vir almal – deur ‘n derde gelykenis te vertel, die gelykenis van die getroue en verstandige bestuurder.

42En die Here antwoord: “Wie is die betroubare en verstandige bestuurder vir wie die eienaar oor sy dienaars sal aanstel om hulle rantsoene op tyd te gee? 43Gelukkig is daardie slaaf wie se eienaar hom so aan die werk sal vind wanneer hy kom. 44Waarlik, Ek sê vir julle: Hy sal hom oor al sy besittings aanstel. 45Maar as daardie slaaf in sy hart sê, ‘My heer talm om te kom’, en hy begin die dienaars en diensmeisies slaan, en begin eet en drink en dronk word, 46sal die eienaar van daardie slaaf op ‘n dag kom wat hy nie verwag nie en op ‘n uur wat hy nie weet nie. Hy sal hom middeldeur laat kap en hom laat deel in die lot van die ontroues. 47Daardie slaaf wat weet wat sy eienaar wil hê, en nie gereed is of gedoen het wat sy eienaar van hom verwag nie, sal swaar gestraf word. 48aMaar die een wat dit nie weet nie, en dinge gedoen het wat straf verdien, sal net lig gestraf word.”

Die getroue en verstandige bestuurder is dié een wat die diensknegte in die eienaar se huishouding op die regte tyd hulle porsie kos, die porsie wat hulle toekom, gee. Dit sal vir die bestuurder ‘n groot seën inhou as hy volhard om getrou te bly.

Dit is dus meer op die apostels en ander leiers in die geloofsgemeenskap van toepassing. Ook vir die geestelike leiers onder ons.

Sulke getrouheid het ‘n verdere bonus dat die eienaar die dienskneg – let op dat die bestuurder steeds ‘n dienskneg bly, en hier só genoem word – oor al sy besittings sal aanstel, ‘n belofte vir die leiers wat getrou bly tot aan die einde.

Ontrouheid het egter vir hulle ernstige gevolge, veral as die slaaf sy verantwoordelikhede nie meer nakom nie, met geweld begin optree teen die ander slawe, en sy lewe aan ‘n geëet en gedrink oorgee. Die eienaar sal kom op ‘n tyd wat die slaaf dit nie verwag nie en hom nie net swaar straf nie, maar ‘n plek onder ongelowiges toeken. ‘n Ontstellende ernstige waarskuwing.

Johannes sal later in Openbaring ‘n soortgelyke prentjie skets van die gelowiges wat binne in die stad van God sal bly, en die ongelowiges wat buitentoe gewerp sal word in die poel van vuur (Openb 21:8).

‘n Erger straf word verder gegee aan daardie slaaf wat die wil van sy heer geken het, maar wat nie gereedmaak of gehandel het volgens sy wil nie. Dit gaan dus nie net oor wat verkeerd gedoen is nie, maar wat ook nagelaat is om te doen. Maar die slaaf wat die wil van sy heer nie geken het nie, en dinge gedoen het wat houe verdien, sal met veel minder slae gestraf word.

Jesus som die boodskap hiervan op met die stelling, maar maak dit nou van toepassing op almal:

48bVan elkeen aan wie baie gegee is, sal baie geëis word, en aan wie baie toevertrou is, van hom sal meer gevra word.”

Dit is dus op alle gelowiges van toepassing, leiers in die eerste plek, maar uiteindelik word dit van almal van ons gevra.

Wees gereed!

  1. As Jesus ons waarsku om ons nie te bekommer oor kos en klere nie is dit om ons uit te nooi om Hom te vertrou. Dit is nie asof ons dan nee sê vir kos en klere nie, maar wel dat ons Hom vertrou daarvoor. Soos ons ons lewe aan Hom en sy koninkryk toewy kan ons al hoe meer ons vertrou plaas op Hom vir ons daaglikse noodsaaklikhede.
  2. Dit gaan dus in hierdie gedeelte in Lukas oor die fokus van ons lojaliteit. Fokus jy op jou welvaart verloor jy kontak met die koninkryk van God. Fokus jy op die koninkryk wen jy God se voorsiening daarvoor.
  3. Die twee beelde van die gordel en die brandende lamp, sowel as die drie gelykenisse van die waaksame slaaf, die huiseienaar en die dief en die getroue en verstandige bestuurder dwing ons om diep oor ons eie lewe saam met Christus ná te dink.

Ek het self dié week diep daaroor nagedink. Ek onthou hoe ’n groot impak my ouerhuis en die kerk op my as kind gehad het. Ons het gereeld huisgodsdiens gehou. Ons het twee keer ’n Sondag kerk toe gegaan en weekliks Sondagskool en Kinderkrans bygewoon. Trouens, ek het selfs ’n maat uit ’n ander kerk se weeklikse Kinderkerk bygewoon. Die Bybelstories was baie interessant aangebied en daar was altyd koeldrank en iets te ete.

Tóg het die oorvloed invloede my nie by geloofsekerheid en ’n lojaliteit aan die Here uitgebring nie. Selfs toe my ma een aand in 1970 met huisgodsdiens vir ons uit Romeine 8:14-16 gelees het en ek in trane uitgebars het oor die genade van “die Gees wat saam met ons gees getuig dat ons kinders van God is”, het my lewe nie dramaties verander nie.

Ek wou steeds gewild wees onder my maats en het steeds kattekwaad saam met hulle aangevang. Niks ernstigs nie, maar genoeg dat ek bewus was daarvan dat ek ’n dubbele lewe lei.

Tot ek op sestienjarig ouderdom gekonfronteer is met die noodsaaklikheid om ’n keuse vir die Here te maak en my vertroue volledig op Jesus te plaas. En ek besef het dat die tyd vir my gekom het om my vertroue op Jesus, en op Hom alleen, te plaas. Toe ek daardie aand van my knieë af opstaan het ’n sekerheid in my hart gekom dat ek ’n kind van God is, iets wat my nooit weer daarna verlaat het nie.

My stiltetyd en Bybelstudie, sowel as my getuienis na buite het daarna radikaal verander. My verhouding met die Here het al hoe meer in oortuiging gegroei. My verhouding met my maats het verander deurdat ek nou ’n getuienis gehad het, en nie meer skaam was om dit te deel nie. En die Here kon my begin gebruik op skool, later universiteit en later in die kerk as leraar.

Ek weet nie waar jy staan in jou verhouding met die Here nie. Maar, ek kan getuig dat dit die moeite werd is om jou volle vertroue op God te plaas. Dit is al manier om by geloofsekerheid uit te kom. Dit is al manier om by ’n lewe saam met Hom wat ’n verskil kan maak, uit te kom.

  1. Betroubaarheid en integriteit in die koninkryk is vir die Here Jesus absoluut ononderhandelbaar. Dit geld alle gelowiges. Van leiers sal wel meer verwag word. Veral waar hulle medegelowiges kan benadeel deur hulle porsie kos – lering – terug te hou, en die verkeerde voorbeeld te stel – hulle lewe aan hulle eie plesier te wy, eerder as aan die opdragte van die Here Jesus.
  2. ‘n Laaste gedagte. Dit kan vreemd klink vir jou dat iemand vir “onkunde” gestraf kan word, al is dit baie minder as wat dié wat die wil van God geken het, sal ontvang. Ons moet egter onthou dat niemand regtig onkundig is nie. Dit is die punt wat Paulus in Romeine 1-2 maak. God het Homself aan almal bekend gemaak, sodat niemand hulleself kan verontskuldig nie (Rom 1:20). Trouens, die werking van die wet van God is in die hart van elke mens ingeskrywe, so daar is regtig geen verontskuldiging nie (Rom 2:14-15).

Die Here Jesus is op pad terug. Hy kom, of jy gereed is of nie. Met die beloning van die ewige lewe, sowel as die straf van die ewige dood.

Wees gereed!

Gebed

Dankoffer

Slotlied

Lied 481:1, 3 Ontwaak, jy wat slaap, en staan op uit die dood – staan

Seën

Respons

Vonkk 38:1-2  Here, ons God, as ons nou huis toe gaan – staan

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.