Skip to main content

Geloof – Hebreërs 10:35-11:6

Ek onthou een nag op die Bergrivier. Ons het vlotte met oliedromme, pale en tou gebou. ‘n Paar planke het as roeispane gedien. Die muskiete was erg. Ons was moeg. Dié dag het ons amper 60 km geloop van Langebaan af tot by Bergrivier pompstasie. Die agt van ons op die leierskapsontwikkeling uitdaging moes nou die rivier aandurf. Dit was donker. Pik nagdonker. Swart wolke. Geen maan. 30 km van Velddrif af. Die gety was nog saam met ons.

Die nag twaalfuur het die gety gedraai. Dagbreek het nog ver gelê. Stadigaan het ons die stryd begin verloor. Al hoe minder van die ouens het geroei. Uitgeput aan die slaap geraak. Die vlot het begin terugdryf. Ons harde werk was stadig besig om ongedaan gemaak te word.

Ek het begin visioene sien. Seker hallusinasies. Swart gedaantes wat op my af swiep. Maar ek het van êrens af die krag gekry om reg in die middel van die vlot te gaan staan. En haal vir haal net te keer dat die vlot nie terugdryf nie. Ná ‘n halfuur se gesukkel, het een vriend van my – later ook ‘n dominee – ook sy spaan in die water gesteek en begin roei. En ons het begin om die stryd te wen.

Die volgende middag net na 12:00 het ons by ons bestemming aangekom. Uitgeput. Uitgelate. Ons het die uitdaging geslaag.

Baie keer dink ek terug aan dié ervaring. Nie ‘n direkte geestelike ervaring nie. Maar tog ‘n ervaring wat my iets van uithouvermoë geleer het. Van die Here se genade wanneer dinge swaar gaan. Want dit is Hy wat my staande gehou het.

En dit laat my ‘n klein ietsie van die uitdaging verstaan wat gelowiges regdeur die eeue in die oë gestaar het. Nie om net by Velddrif uit te kom nie. Nee, om by die vervulling van God se beloftes uit te kom.

Geloof is ‘n reis

Geloof is ‘n reis. ‘n Reis met God. Soms ‘n rustige wandeling saam met Hom in die tuin van Eden in die aandwindjie, soos Adam en Eva (Gen 3). Soms ‘n ontstellende reis saam met jou kind na die berg Moria, soos Abraham en Isak (Gen 22).

Wat uitstaan van die reis – soos John Ortberg dit in sy uitdagende boek If you want to walk on water you’ve got to get out of the boat skryf – is dat daar altyd die volgende op die reis voorkom:

  • Daar is altyd ‘n roeping van God. ‘n Roeping wat ons uit ons gemaksone uithaal. ‘n Moses terug ná Egipte om die Israeliete na Kanaän te neem.
  • Daar is altyd vrees. Dit kan wees dat jy onbevoeg voel. Ek kan nie lekker praat nie, Here, sê Moses. Dat jy bang is dat jy misluk. Wat as hulle my nie glo nie, Here, vra Moses.
  • Daar is altyd ‘n belofte. ‘n Versekering van wat God wil doen. Wat Hy gee vir die reis. Julle sal my op hierdie berg, die berg Sinai, aanbid.
  • Daar is altyd ‘n besluit. Jy moet God vertrou en Hom begin gehoorsaam. Soos Moses die pad terug na Egipte moet aanpak en die toorn van farao moes gaan trotseer.
  • Daar is altyd ‘n bekering, ‘n verandering in jou lewe. Daar is dinge wat jy moet los. Daar is dinge wat jy moet vat. Daar is ‘n verandering in lewensrigting. Van skaapwagter na herder vir die weerbarstige volk van Israel.

Ek wil vanaand gesels oor die rol wat geloof speel op hierdie reis, die reis met God en sy beloftes. En ek wil dit doen aan die hand van die brief-boodskap van die leraar van ‘n gemeente in Italië, Hebreërs.

Skriflesing

Ons lees Hebreërs 10:35-11:6

10:35Julle moet dus nie julle vrymoedigheid prysgee nie; dit hou ‘n groot beloning in. 36Julle het inderdaad volharding nodig, sodat julle, wanneer julle die wil van God gedoen het, die belofte kan verkry. 37Want nog net ‘‘n baie klein rukkie en Hy wat kom, sal kom en nie talm nie. 38Maar my regverdige een sal uit geloof leef. As hy hom egter onttrek, het Ek geen behae in hom nie.’ 39Maar ons is nie deel van enige onttrekking wat tot ondergang lei nie, maar van die geloof wat lei tot behoud van die lewe.

 11:1Geloof egter is sekerheid van die dinge wat gehoop word; ‘n bewys van die dinge wat nie gesien word nie. 2Dit is immers vanweë hulle geloof dat daar met lof aangaande die mense van ouds getuig is. 3Deur geloof verstaan ons dat die wêreld deur die woord van God geskep is, met die gevolg dat dit wat gesien kan word, ontstaan het uit dit wat nie gesien kan word nie.  4Deur geloof het Abel ‘n beter offer as Kain aan God gebring — waardeur getuig is dat hy regverdig was toe God oor sy gawes getuienis gelewer het; en deur geloof praat hy nog steeds, al het hy gesterf. 5Deur geloof is Henog weggeneem, sodat hy nie die dood gesien het nie, en “hy is nie gevind nie, omdat God hom weggeneem het”. Want voordat hy weggeneem is, is van hom getuig “dat hy God behaag het”. 6Sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag: Want wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié beloon wat Hom soek.

Moenie julle vrymoedigheid prysgee nie

Die Hebreërskrywer het vanaf vers 19 die gelowiges in die gemeente in Italië aangemoedig om in die geloof te volhard. Om nie hulle vrymoedigheid in die Here prys te gee op die reis waartoe Hy hulle geroep het nie. Want vrymoedigheid op hierdie reis hou ‘n groot beloning in.

Hy het hulle gewys daarop dat hulle reeds van harte in die Here Jesus glo, dat hulle deur sy bloed gereinig is van ‘n slegte gewete, dat hulle gedoop is as teken daarvan dat hulle gereinig is (Hebr 10:22), soos Jesus ook eenmaal die voete van die dissipels gewas het as teken van hulle reinheid (Joh 13).

Hy het hulle aangespoor tot liefde en goeie werke en getrouheid in die samekomste van die gemeente (Hebr 10:24-25). Belangrike kenmerke van hulle gesamentlike reis na die ewigheid.

Hy het hulle gewaarsku teen opsetlike sondes, want sulke sondes trek ‘n streep deur die offer van die Here Jesus (Hebr 10:26). Dit neem hulle vrymoedigheid voor God weg.

Hulle moes versigtig wees om nie deur opsetlike sondes – sondes wat in weerwil van die duidelike boodskap van die Skrif gedoen word (Lev 4-5) – die bloed van die Seun te minag en sy verbond met hulle te ontheilig, en so die Gees van genade uit te daag en te beledig nie (Hebr 10:29).

God sal nie met Hom laat mors nie, sê Hebreërs. Sy wraak is verskriklik: “Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God.” (Hebr 10:33).

Sodat julle die belofte kan verkry

En dan gee hy hierdie belangrike motivering deur, Hy bemoedig hulle sodat hulle nie knak en ingee nie. Dat hulle nie hulle inspirasie vir die reis saam met God en sy beloftes, en hulle vrymoedigheid daarmee saam, verloor nie:

Julle het inderdaad volharding nodig, sodat julle, wanneer julle die wil van God gedoen het, die belofte kan verkry.” (Hebr 10:36).

Hoekom is dit só belangrik om in die geloof te volhard? Sodat hulle, nádat hulle die wil van God gedoen het – soos die Hebreërskrywer nou in terme van geloof, die betrokkenheid in die geloofsgemeenskap en die vermyding van opsetlike sondes uitgespel het – die belofte van God kan verkry.

Dink net as Moses nie die pad Egipte toe aangedurf het nie. Wat sou gebeur het? Hy sou nooit die verlossing van sy volk kon beleef nie. Hy sou ‘n skaapwagter gebly het wat wegkruip vir die toorn van die farao. ‘n Voortvlugtige, eerder as ‘n verlosser.

Die belofte waaroor die Hebreërskrywer hier praat, is natuurlik die belofte van die Here Jesus se wederkoms. En hy beklemtoon dit, omdat die tyd van die vervulling van hierdie belofte, die belofte van die Here Jesus se wederkoms, naby is (Hebr 10:36).

Maar die beginsel bly presies dieselfde vir die ander beloftes van die Here in die Skrif.

Leef uit die geloof

En hoe kry ‘n mens dit reg om die belofte te verkry?

Die antwoord kom uit die OT, in dié geval die Griekse vertaling daarvan, die LXX (Septuagint). Die Hebreërskrywer haal uit Jesaja 26:20 en Habakuk 2:4 (vgl Rom 1:17; Gal 3:17) aan:

Want nog net ‘‘n baie klein rukkie en Hy wat kom, sal kom en nie talm nie. Maar my regverdige een sal uit geloof leef. As hy hom egter onttrek, het Ek geen behae in hom nie.’” (Hebr 10:37-38).

Daarmee gee die Hebreërskrywer vir ons ‘n belangrike beginsel deur wat ook vir die ander beloftes van God geld.

Beloftes word vervul vir dié wat in verhouding met God leef, wat die wil van God doen tot in die fynste detail daarvan, en wat tot die einde toe in die geloof volhard.

En as ‘n verdere motivering bevestig die skrywer hulle ywer tot dusver: “Maar ons is nie deel van enige onttrekking wat tot ondergang lei nie, maar van die geloof wat lei tot behoud van die lewe (of siel).” (Hebr 10:39).

Wat is geloof?

Wat beteken dit dan om hierdie geloof in God se beloftes tot die einde toe vas te hou? Hoe werk hierdie geloof?

Die Hebreërskrywer vervolg in hoofstuk 11 om juis dié vraag te beantwoord. Hy sê: “Geloof egter is sekerheid van die dinge wat gehoop word; ‘n bewys van die dinge wat nie gesien word nie.”(Hebr 11:1).

Geloof het twee verwante kenmerke:

  1. Dit is sekerheid (hupostasis) van die dinge wat gehoop word. ‘n Vaste vertroue (OAV; Heidelbergse Kategismus 21). Dit is om die essensie of substansie van iets te begryp. Geloof is ‘n sekerheid in ons hart dat iets waar is, dat wat God beloof vir jou bedoel is. Kortom dat sy beloftes vir jou bedoel is.
  2. Dit is ‘n bewys (elegchos) van die onsienlike dinge van God. Dit is ‘n getuienis (evidence), ‘n oortuiging in die hart (NAV) dat God se beloftes deur Hom vervul sal word. Dit is ‘n wete só diep dat niks of niemand dit kan uitwis nie, selfs al sien jy absoluut niks daarvan nie, en is dit net iets wat God in jou hart geplant het.

Hoe werk hierdie geloof?

En die Hebreërskrywer illustreer vir ons hoe hierdie geloof werk. Dit is deur hierdie geloof wat ons begryp dat hierdie wêreld deur God uit niks gemaak is nie (Hebr 11:3). Die getuienis daarvoor lê nie in die wetenskap nie, maar in die geloof in God.

Dit is omdat ons glo dat ons die sekerheid het, die bewys in onsself, dat ons verstaan: “dat die wêreld deur die woord van God geskep is, met die gevolg dat dit wat gesien kan word, ontstaan het uit dit wat nie gesien kan word nie.” (Hebr 11:3).

Geloof bring dus begrip en verstaan. Geloof kom nie ná verstaan nie. Dit kom vóór verstaan. Jy verstaan, omdat jy glo.

En die oomblik wat jy hierdie geloof begin beoefen, of beter gestel, hierdie geloof vir jou gegee word, kry jy diep binne in jou die wete dat jy God se goedkeuring wegdra.

In terme van die beloftes, dat die belofte vir jou bedoel is.

Maar die geloof bly dus ook altyd begrond in die Skrif, in God se Woord. Of dit nou oor die wederkoms is, soos die Hebreërskrywer hier in hoofstuk 10 skrywe. Of oor uitkoms vir ‘n spesifieke situasie, soos ons in die talle voorbeelde in die Skrif lees.

Daarom moet ons seker maak dat ‘n belofte regtig vir ons bedoel is.

  • Moses het seker gemaak dat die Here werklik bedoel waarvoor Hy hom roep. Vandaar die tekens wat die Here gee om die roeping en die belofte wat God gee, te bevestig.
  • Petrus het seker gemaak die Here Jesus bedoel dit dat hy uit die boot kan klim om na die Here op die water te loop.

Ons kan nie die belofte omarm as ons nie seker is dat dit vir ons bedoel is nie. As ons nie diep binne-in ons die sekerheid, die bewys, die getuienis van God ontvang het dat dié belofte regtig vir ons bedoel is nie, dan het die belofte nog nie grondgevat binne ons. Kan ons nog nie dit omarm op ons reis met die Here nie.

Geloof geniet God se goedkeuring

Waar die belofte egter grondgevat het in ons, bring dit groot vreugde. Nie net vir ons nie, maar ook vir God.

Dit is wat vers 2 vir ons verduidelik: “Dit is immers vanweë hulle geloof dat daar met lof aangaande die mense van ouds getuig is.” (BDV).

God self is verheug as ons Hom op sy Woord neem. Soos met ‘n Moses wat die pad Egipte toe vat. Soos met ‘n Petrus wat op die water loop. Die NET Bible vertaal daarom hierdie vers: “For by it (dws deur geloof) the people of old received God’s commendation.

O watter voorreg en vreugde om hierdie goedkeuring van God in ons harte te ontvang. Dat ons Hom behaag. Dat Hy tevrede is met ons. Dat ons geregverdig is voor Hom. Dat Hy bly is dat ons sy beloftes omarm.

Die Hebreërskrywer gee vir ons ook twee verdere voorbeelde van mense wat hierdie sekerheid in hulleself ontvang het dat hulle God behaag het. Abel (Hebr 11:4) en Henog (Hebr 11:5).

Vóórdat hulle dood is, het hulle die getuienis ontvang dat hulle God behaag het, dat Hy tevrede was met hulle, dat hulle in Hom geregverdig is, vrygespreek van enigiets wat skeiding sou kon bring tussen hulle en God.

Dat Abel dus deur Kain doodgemaak is, het niks verander aan die getuienis van sy lewe nie. Hy het in God geglo en dit het God behaag. Dat Henog nooit dood is nie, maar eenvoudig sy lewe hier op aarde voortgesit het by God in die hemel, verander ook niks aan die getuienis van sy lewe nie. Dit is dieselfde as Abel s’n, al het hulle reis saam met God verskil.

Want, inderdaad: “Sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag: Want wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié beloon wat Hom soek.” (Hebr 11:6).

Hoe kry ek dié geloof?

Dit is daarom baie keer juis in die middel van die storms in jou lewe – soos die dissipels in die boot, soos Moses in die woestyn – wat hierdie geloof gebore word.

Dit kom aan die een kant van die teenwoordigheid van die Here – soos Jesus na die dissipels aangestap gekom het op die water, soos Moses by die brandende doringbos die teenwoordigheid van God ervaar het.

Dit kom aan die ander kant van die beloftes van die Here – soos Jesus vir Petrus gesê het om uit te klim en na Hom toe op die water te loop, soos God vir Moses tekens gegee het, die kierie wat in ‘n slang verander het, die water wat in bloed verander het, die hand wat melaats geword het.

  • Geloof het ‘n intellektuele kant, die feite van die geloof, die vaste kennis, die beloftes, soos die Heidelbergse Kategismus dit ook uitlê.
  • Maar geloof het ook hierdie kant van ‘n ervaring van die hart, die ervaring van God se teenwoordigheid wat die wete diep in jou skep dat ‘n belofte vir jou bedoel is, wat jou op God laat vertrou.

En hoe jy weet dat geloof in jou gebore word – dat die sekerheid posgevat het – is dat daar in jou die waagmoed kom om uit die boot te klim en na die Here Jesus toe te stap op die water, soos Petrus dit gedoen het, soos Moses na Egipte toe is.

Hierdie sekerheid in jou, hierdie geloof dat God vertrou kan word, dit laat jou waag met God, laat jou optree, laat jou gehoorsaam word aan die roeping wat God vir jou het.

Waag dit met God

Die Hebreërskrywer gaan voort om agt voorbeelde van hierdie geloof in die res van hoofstuk 11 te beskryf: Noag, Abraham, Sara, Isak, Jakob, Josef, Moses, en Ragab.

En as hy besef dat die lys te lank gaan raak, noem hy sommer so in die verbygaan nog ses geloofshelde wat God se beloftes verkry het: Gideon, Barak, Simson, Jefta, Dawid, Samuel en sommer in die algemeen die profete.

Dit is die mense wat jou moet aanmoedig om jou eie geloofspad met die Here te stap. Om dit te waag met sy beloftes. Om te vra dat Hy sy beloftes sal vervul op die pad wat jy saam met Hom in die stryd van hierdie lewe stap.

Dan sal jy ook ervaar wat hulle ervaar het. Die Hebreërskrywer noem dat hulle:

deur die geloof koninkryke oorweldig het (hy het waarskynlik van die rigters in gedagte), geregtigheid uitgeoefen, beloftes verkry, bekke van leeus toegestop (Daniël), die krag van vuur uitgeblus (Daniël se drie vriende), die skerpte van die swaard ontvlug, krag uit swakheid ontvang het, dapper gewees het in die oorlog, leërs van vreemdes op die vlug gedryf het. Vroue het hulle dode deur opstanding teruggekry (die weduwee van Sarfat in die tyd van Elia en die Sunnamitiese vrou in die tyd van Elisa).” (Hebr 11:33-35a).

Dit is van die voorbeelde wat jou uitdaag om dit te waag met God.

Dit sal jou kos

Maar jy moet ook weet dat dit ‘n koste gaan dra. Dit is doodgewoon ‘n feit. Daarvan getuig die feit dat van hierdie geloofshelde – soos die Hebreërskrywer verder skryf – gefolter, gespot en geslaan is, die vernedering van boeie en gevangenis moes deurmaak – dink aan Josef in Egipte en Jeremia in Jerusalem.

Sommige is gestenig, ander is in twee gesaag – waarskynlik die profeet Jesaja volgens die tradisie. Hulle het rondgeloop in velle – waarskynlik Elia en Elisa en ander profete. Hulle het gebrek gely, is verdruk, is mishandel, het in woestyne rondgedwaal – Moses – en op berge en in spelonke en skeure in die grond – Dawid. (Hebr 11:35b-38).

Maar hulle het hulle nie deur swaarkry laat afskrik nie. Hulle het volhard in geloof sodat hulle die beloftes kan verkry.

So moet jy in jou waagmoed met die Here ook nie terugdeins vir die uitdagings daarvan nie. En in die geloof volhard tot die einde toe, sodat jy die beloftes van die Here in besit kan neem.

Skep moed uit hulle getuienis

Hierdie geloofshelde vorm ‘n skare wat jou aanmoedig om jou eie pad met volharding te loop. Een belofte het hulle egter nie gekry voor hulle dood nie (Hebr 11:39). Dit is die belofte van die Messias wat aan hulle verkondig is, maar wat eers ná hulle tyd openbaar is.

En die rede daarvoor was dat die Here wou sorg dat ons saam met hierdie geloofshelde kan wag op die finale herstel en nuutmaak van alle dinge. Want dít is waarop die beloftes gemik is. Die nuwe hemel en die nuwe aarde.

Daarom moedig die Hebreërskrywer ons uiteindelik aan om ons oog te vestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, sodat ons ook soos Hy deel kan hê aan die toekomstige bedeling (Hebr 12:1-3).

Skep dus moed uit hierdie geloofshelde se getuienis. En loop die pad wat God vir jou het. Tot die einde toe. Sela.

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.