Skip to main content

Matteus 2:1-12 – Oujaarsdiens 09



Verwelkoming

Votum

Seëngroet

Lofliedere

Lied 365:1,2 – Hoor die blye eng’lelied aan die Koningseun gebied: Vrede op aarde – God die eer – Hy daal tot die sondaar neer.

Lied 363:1-2 – In die nag by hulle weiding hoor die herders stemme sing.  Helder klink die goeie tyding deur ‘n eng’leskaar gebring.

Gebed

Skriflesing

Een van die stories wat telkens gelees word in die Epifanie tyd is die verhaal van die magi, die sterrekykers, wat met Jesus se geboorte in Jerusalem aangekom het om aan die nuwe koning van die Jode hulde te bring.

Dit is ‘n besondere verhaal, wat net deur Matteus vertel word.

En dit is veral besonders, omdat dit 3 groepe mense se reaksies op God se menswording kontrasteer: 1) dié van Herodus en Jerusalem, 2) dié van die priesterhoofde en skrifgeleerdes en 3) dié van die sterrekykers.

En omdat ons vannaand die einde van 2009 bereik, is dit goed om aan die hand van dié drie groepe mense se reaksies op Jesus, ons eie verhaal van hierdie jaar te beoordeel, en na te dink oor wat ons reaksie op Jesus dié jaar was en hoe ons graag die nuwe jaar sou wou binnegaan.

Lees Matteus 2:1-12

Woordverkondiging

Needful Things

Randy Calvo vertel van die 1991 boek van Stephen King Needful Things.  Die boek gaan oor ‘n geskenke winkel in die fiktiewe Engelse dorpie Castle Rock.  Die eienaar, Leland Gaunt, het ‘n wye reeks geskenke in sy winkel.  Maar die aantrekkingskrag van die winkel is nie in die wye reeks geskenke nie.  Nee, wat die mense in die dorpie aantrek, is dat hy vir elkeen van hulle EEN ding het wat hy hulle wysmaak hulle die graagste wil hê in die lewe.  Maar, die probleem is, dat dié geskenk onbetaalbaar duur is.

Dan bied Leland vir elkeen van hulle ‘n ruiltransaksie.  Al wat hulle moet doen, om dié EEN ding, wat hulle die graagste in die lewe wil hê, te kry, is om ‘n eenvoudige poets – of so laat hy dit klink – op ‘n ander dorpenaar te bak.  En dan begin die dorpie se mense teen mekaar draai totdat die hele dorpie in chaos is.

Leland, kom ‘n mens mettertyd agter, is niemand anders as die duiwel self nie, wat regdeur Engeland toer en junk verkoop aan mense, wat dink dat hulle die EEN ding koop wat hulle die graagste wil hê.  Wat die mense mis, is dat bokant die voordeur van die winkel, daar ‘n bordjie opgeplak is, wat sê: Caveat Emptor … “Let the Buyer beware.”

Wat is die EEN ding wat jy graag wou hê hierdie jaar?  Wat het jou besig gehou en vasgevang?  Wat was die hoof ding in jou lewe?

God se teenwoordigheid in die wêreld – Epifanie

Dit is ‘n goeie tyd aan die einde van ‘n jaar om ‘n mens met dié vraag besig te hou.  Dit is die tyd van Christus se verskyning, die Epifanie.  Ons vier in dié tyd die wonderlike feit dat God in ons wêreld ingekom het, by ons kom woning maak het.

En Epifanie help ons om ons lewens te beoordeel in die lig van God se teenwoordigheid in die wêreld.  En om te oorweeg of die ding wat ons besig gehou het met Hom en sy teenwoordigheid te make gehad het.

Kom ons kyk ‘n bietjie meer in diepte na die verhaal van Matteus en veral na die 3 groepe mense se reaksie op Jesus.

Matteus se verhaal

1.  Herodes reageer met berekende ontsteltenis, en Matteus sê die hele Jerusalem saam met hom. ‘n Mens kan aanvaar dat hier van die mense na aan die koningshuis of ten minste die middelklas gepraat word.

Op slinkse wyse ontbied hy die sterrekykers in die geheim, nadat hy deur die profesie van Miga agtergekom het dat die Messias in Betlehem gebore sou word, en beplan om hulle niksvermoedend te gebruik om die koning uit te roei.

Herodes reageer dus uit ‘n magsposisie wat geen kompetisie duld nie. Hy is van die begin af ‘n aktiewe teëstander van die boodskap van Kersfees.  Hy verteenwoordig daarmee die gevestigde belange van die magte van die dag. Gaan so ver om deur die sterrekykers die kompetisie uit die weg te probeer ruim – sy manier van “hulde bring”.  En as die sterrekykers te slim is vir hom, en op God se waarskuwing nie teruggaan Jerusalem toe nie, pleeg hy ‘n wrede kindermoord om Jesus by te kom.

Daarmee is hy vir ons ‘n voorbeeld van iemand wat in God se teenwoordigheid kompetisie ruik, en net nie te vinde is daarvoor dat Hy ook ‘n plek in sy lewe kry nie.

Die teenstand kan baie aktief wees – dan sal ‘n mens seker nou nie vannaand hier in die kerk sit nie, moet ek darem bysê – of dit kan meer subtiel wees, waar God net ingeperk word tot ‘n area wat klein genoeg is om nie die hoof dinge in jou lewe te benadeel of bedreig nie.  Jy staan Hom nie aktief teë nie, maar Hy het net toegang tot jou by ‘n erediens of ‘n noodsituasie, wanneer nood leer bid.

2.  Die priesterhoofde en skrifgeleerdes is weer interessant genoeg tevrede om net die Bybel te lees, die regte antwoord daaruit te haal, en dan terug te sit en niks te doen nie.  Hulle gaan kyk nie eers of daar iemand in Betlehem is nie.  Hulle mis die kairos, die beslissende moment van die wêreldgeskiedenis. Hulle is eintlik tragies-komiese figure.  Hulle verteenwoordig die godsdienstige establishment, wat alles weet, maar nooit so ver kom om tot aksie oor te gaan nie.  Hulle sit met al die antwoorde, maar kan nie die brug slaan na die avontuur van die regte lewe, waar die wonder van die gemeenskap met God wag nie.

Want sien, ‘n mens kan so in die Bybel boer, by wyse van spreke, dat jy die God van die Bybel mis.  Jesus verkwalik op ‘n keer self die skrifgeleerdes dat hulle die Bybel met groot oorgawe ondersoek, maar nie na Hom toe kom en in Sy teenwoordigheid vir God vind nie.

Ek wil nou definitief nie daarmee sê dat julle nie die Bybel moet lees nie, maar wel sê dat die Bybel ‘n pad na God toe moet wees, na luister wat Hy as die Lewende God sê.  En om Hom ook in die glimlag van ‘n kind en in die wind by die see te soek en te vind.

Daar is só ‘n groot gevaar dat ‘n mens in die vergadering van gelowiges kan wees, alles kan hoor en selfs kan saamstem oor die waarheid van die evangelieboodskap, maar nooit die vreugde en die vrede en die uitdagings daarvan ervaar nie.

3.  Die sterrekykers het egter net een doel voor oë: hulle wil die koning sien en sal nie dat iets hulle verhinder om hulle doel te bereik nie.  Hulle wil in die teenwoordigheid van die koning kom, want dit verander alles.

Ons weet min van hierdie sterrekykers.  In die oorlewering van die geskiedenis het hulle name gekry, Caspar, Melchior and Balthazar, maar daar is geen historiese getuienis wat dit bevestig nie.  Dit is nie eers seker of hulle wel drie mans was nie – dit is afgelei uit die drie geskenke wat hulle aan die voete van Jesus neergelê het.  Ons weet ook nie baie van die ster af nie, of dit ‘n supernova was of ‘n samekoms van ‘n paar planete of doodgewoon ‘n natuurwonder.  En hoe hulle die ster se pad bereken het en toe gevolg het – ons weet dit ook nie.

Ons weet net een ding, en dit is dat hulle die koning wou sien en dat hulle alles in die stryd gewerp het om dit reg te kry.  Hulle, uit ‘n vreemde kultuur, en heel moontlik uit ‘n vreemde godsdiens, het die kairos onderskei, die moment van beslissing in die geskiedenis, die dag dat Christus gebore is.

En daarmee word hulle natuurlik ook verander en ingetrek in die Kersverhaal.  As hulle na hulle besoek aan Jesus terug wil gaan, word hulle in ‘n droom deur God gewaarsku om nie vir Herodes te sê waar Jesus is nie.  Dit beteken dat hulle, heidene uit ‘n veraf land, saam met die herders, wat ook nie gerekende mense was nie, ingetrek is in die kring wat om Jesus ontstaan het.  Hulle kom in kontak met God, wat selfs van hulle beskermers van die Kind maak, deurdat hulle Herodes se planne fnuik.

Dit is wonderlik hoe ryk en arm, geleerd en ongeleerd, Jood en heiden mekaar voor die krip ontmoet en in harmonie voor God verkeer.  Dit is regtig ‘n ontmoeting van hemel en aarde, waar die aardse verander en hemels maak.

En hulle is vir my daarom ‘n voorbeeld van mense wat die moment van beslissing, die dinge waarop dit regtig aankom, kon onderskei.  En wat die een ding, die passie om in die teenwoordigheid van God te wees, met alles in hulle nagejaag het.

Toepassing

As ons nou dink aan die drie groepe en met wie ons wil identifiseer, dink ek ons sal twee goed agterkom: 1) dat ons graag soos die sterrekykers wil wees, en 2) dat daar tog soms trekke van die twee ander groepe ook in ons menswees sigbaar is, ‘n besig wees met die dinge van God sonder om met die God van die dinge besig te wees, en soms selfs ‘n aktiewe beskerming van ons eie belange, waar ons die Here nie wil toelaat om God te wees nie.

Daar is natuurlik niks verkeerd om met die sterrekykers te wil identifiseer nie, en die gedeelte wil juis dit met ons regkry.  Maar ons sal goed doen om ook te bely waar ons soos Herodes of soos die priesterhoofde en die skrifgeleerdes hierdie jaar opgetree het.

As jy dus terugdink aan dié jaar, bely die punte waar jy tekort geskiet het, en laat dit vannaand hier.

En onthou dan die momente van God se teenwoordigheid.  Want dit is die dinge wat regtig saak maak, die momente dié jaar waar jy die Here se teenwoordigheid ervaar het.  Waar jy net geweet het, ek is by Hom en Hy is by my en alles is reg, selfs al is alles verkeerd.

Wat jy dus met jou saamvat in die nuwe jaar in, is dié momente. En die enigste voorneme wat gaan sin maak vir die nuwe jaar, is om hierdie Godsmomente te soek en te onderskei en te vertroetel.

Kom ons gee ‘n tyd waar ons ons opnuut aan die Here kan toewy.

Gebed

Ek gaan julle begelei in ‘n gebed van aflê – jy kan jou hande simbolies ondertoe draai – en dan daarna in ‘n gebed van onthou en vertroetel – jy kan jou hande simbolies boontoe draai.

Slotlied

Lied 355 – Al was ek nie daar nie – ek weet dit is waar: Die krip en Maria met die Kindjie by haar.

Seën

Amen

Lied 314

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.