Skip to main content

Rut 1:22-2:3 – Gehoorsaamheid en Godsvalligheid

NG Kerk Somerstrand – 5 November 2023 – Kerk en Youtube 09:00

English Translation: Ruth 01_22_2_1-3

VERWELKOMING

TOETREDE

  • Come, now is the time to worship
  • Die Here is my Herder

VOTUM EN SEËNGROET

LOF

  • Ps 100 Juig almal tot God’s lof en eer (staan)
  • Vonkk 42 Jubilate! Loof die Here (Teks uit Ps 100)  2x  (staan)

KINDERTYD

Het julle vanoggend ontbyt geëet?

Was dit lekker?

Het jy al ooit honger gaan slaap?

Dit is vreeslik nè?

Daar is baie mense in die wêreld wat honger gaan slaap.

Ook hier by ons in Somerstrand en in die stad.

In die OT het hulle ‘n plan gehad vir die mense wat honger was.

Die Here het die plan vir die boere gegee.

Baie boere het koring op hulle lande gehad.

Wat maak ‘n mens van koring?

Jy maak brood, ja.

Die Here het gesê, as jy die koring oes, moenie alles afhaal nie. Laat so ‘n bietjie oor op die land sodat die honger mense van die koring kan kom haal, en vir hulle brood maak daarmee.

Wonderlike plan, nè?

Hoe dink julle kan ons vandag mense help?

Ons kan vir hulle ‘n broodjie gee by die huis.

Of ons kan die mense help wat kos maak vir die honger mense.

Oom Theo Havemann gee elke dag kos vir honger kinders in Helenvale.

Ons kan vir hom help!

Dit is hoe die Here ons gebruik om vir honger mense kos te gee.

VEROOTMOEDIGING

  • Vonkk 396 Ons behoort nie aan onsself nie (sit)

GEBED

SKRIFLESING EN PREDIKING

Watter plesier is dié pragtige kortverhaal Rut nie. ‘n Mens kan dit eenvoudig lees – as ‘n liefdesverhaal – óf jy kan dit dieper lees – as ‘n verhaal oor immigrasie en grondbesit – of nog dieper as ‘n getuienis van God se getrouheid in hierdie wêreld waarin gehoorsaamheid aan sy voorskrifte sy beloftes van seën in vervulling laat gaan.

Dit is dan ook my tema: Gehoorsaamheid en Godsvalligheid

Ons het nou al in hoofstuk 1 gehoor dat Rut ‘n onherroeplike keuse gemaak vir God en sy volk, selfs al sou dit vir haar die verlies van haar eie mense en hulle gode beteken. Sy het meer vertrou op God en sy voorsiening as op die voorsiening van haar eie land en gode, en was bereid om alles op die spel te plaas.

Sy hou dus vas aan die God wat Hom laat vind. Sy lê haar identiteit as Moabiet en afgodsdienaar af, en neem die identiteit van die God van Israel en van sy volk aan. En die Here eer dit en maak haar die grootmoeder nie net van grootste “tempel”-digter, Dawid, nie, maar uiteindelik ook van die Seun van God wat vir Maria in die NT gebore sou word.

Dat Rut hier kies om God te dien, wys dat die Abrahamitiese belofte waar is. God het belowe in Genesis 12:3 dat in Abraham alle volke van die aarde geseën sal word. Sy as ‘n vreemdeling uit ‘n gehate volk wat kies om haar met hulle te assosieer, en hulle God te dien, word nie net aanvaar nie, maar uiteindelik ingesluit in die Messiaanse bloedlyn. Verstommend!

Ons tel die verhaal nou op in hoofstuk 2 met Naomi se terugkeer saam met Rut na die land van Israel, na Bethlehem, die huis van brood. Dit is die eerste belangrike stap wat hulle neem in vertroue dat die Here hulle lot sal verander. Hulle keer terug na die Here God self, na die plek wat Hy aangewys het dat sy Naam daar sal woon.

1:22So het Naomi teruggekeer. Haar skoondogter, Rut die Moabiet, het saam met haar teruggekom uit die gebied van Moab. 2:1Hulle het in Betlehem aangekom aan die begin van die garsoes. Naomi het aan haar man se kant ‘n familielid gehad, ‘n vermoënde man uit die geslag van Elimeleg met die naam Boas. 2:2Rut, die Moabiet, het vir Naomi gesê: “Kan ek maar na die lande toe gaan en by die gerwe, agter iemand wat my goedgesind sal wees, gaan are optel?” “Gaan maar, my dogter,” het Naomi haar geantwoord. 2:3Sy het toe geloop en gaan are optel in die lande agter die snyers. En dit was toe so (gelukkig, sê die 1933-vertaling!) dat dié deel van die land aan Boas, uit die geslag van Elimeleg, behoort.” (Rut 1:22; 2:1-3 AFR20)

Die tweede stap wat Rut neem, is nie net om net die Here as haar God te kies nie, maar om te kies om die reëls van die Godsvolk na te kom.

Ons lees hier dat Rut nie net die Woord van God geken het nie, maar gehoorsaam geraak het daaraan deur haar vertroue te plaas op die wet se voorskrif vir armoede.

Dit is hierdie gehoorsaamheid aan God se voorskrifte wat God se voorsiening in plek laat kom. Sy maak staat op die Here se voorskrif in Deuteronomium 24:19-22 wat raad vir armoede ingeskryf het in die riglyne wat God vir sy volk gegee het:

19“Wanneer jy jou lande afoes en jy vergeet ’n gerf op die land, moet jy nie omdraai om dit te gaan haal nie. Dit moet bly vir ’n vreemdeling of ’n weeskind of ’n weduwee. Dan sal die Here jou God jou seën in alles wat jy aanpak. 20Wanneer jy olywe afslaan van jou olyfboom af, mag jy nie agterna weer gaan afslaan nie. Wat agtergebly het, moet bly vir ’n vreemdeling of ’n weeskind of ’n weduwee. 21Wanneer jy jou wingerd oes, mag jy nie agterna weer gaan oes nie. Wat agtergebly het, moet bly vir ’n vreemdeling of ’n weeskind of ’n weduwee. 22Jy moet onthou dat jy in Egipte ’n slaaf was. Dit is waarom ek jou beveel om al hierdie dinge te doen.

Rut kon staatmaak op gehoorsaamheid van die boere in haar land. Maar, belangrik, sy moes van haar kant af ook werk. Die are gaan optel, maal, en brood bak. Wonderlike manier van voorsiening van God se kant af!

Plus, soos ons later sal lees, Rut het staatgemaak op die reëling wat die Here gemaak het dat daar “lossers” vir mense sou wees wat in armoede beland het. Die vermoënde familielede moes hulle familielede help wat in een of ander moeilikheid gekom het. En sy het na die veld gegaan van iemand wat haar goedgesind sou wees… Maar, daaroor sal Vian later preek.

Die punt wat ek wil maak, is dat dit is hoe dit in die geestelike lewe werk. Jy raak gehoorsaam aan wat God openbaar, en Hy seën jou. Soms uit jou sokkies uit. Met sy Godsvallighede!

Boodskap en betekenis

Die verhaal help ons om God te vertrou met ons lewe, selfs wanneer ons verliese ervaar. Ek wil vier dinge van God se voorsiening onderstreep.

1. God werk op die agtergrond

God is altyd besig. Hy is die hele tyd aan die werk. Hy is die hele tyd besig om goed in plek te laat val. God is soos die gis wat die brood laat rys. Jy sien nie die gis nie. Jy kan nie sien hoe dit werk nie. So af en toe word die deeg weer af geknie. Maar uiteindelik het jy heerlike brood wat pragtig rys. So is God die hele tyd aan die werk. Op die agtergrond.

2. God werk deur mense

God werk deur mense. Die boek praat wel van twee direkte ingrype van God: Dat die Here weer vir Israel ‘n goeie oes gegee het (Rut 1:6) en dat die Here vir Rut laat swanger word het (Rut 4:13). Maar, dit is al wonderwerke in die boek. Die res van God se voorsiening kom deur die optrede van mense. ‘n Rut wat aan Naomi vasklou, aan haar God en aan haar volk. Wat sy voorskrifte gehoorsaam en sy seën só ervaar.

3. God werk deur “toevallighede”

Trouens, God se werk kan baie keer gesien word in die “accidental coincidences” soos David Pawson dit genoem het.

Ons het hier gelees hoe Rut “toevallig” op Boas se veld beland. Later sal ons lees dat hy ook “toevallig” daar aankom terwyl sy daar is. Maar in die gewone dinge wat “toevallig” oor ons pad kom, is God besig om te werk. ‘n Mens kan dit meer korrek as “Godsvallighede” tipeer. Sy voorsienigheid.

Die Heidelbergse Kategismus gee vir ons twee kragtige beskrywings van hierdie “Godsvallighede”:

Vraag 27: Wat verstaan jy onder die voorsienigheid van God?

Antwoord: Die almagtige en oralteenwoordige krag van God waardeur Hy hemel en aarde en al die skepsels asof met sy hand nog onderhou en so regeer dat lower en gras, reën en droogte, vrugbare en onvrugbare jare, voedsel en drank, gesondheid en siekte, rykdom en armoede en alles, ons nie per toeval nie, maar uit sy Vaderhand toekom.

Vraag 28: Wat baat dit ons dat ons weet dat God alles geskep het en dit nog deur sy voorsienigheid onderhou?

Antwoord: Dat ons in alle teëspoed geduldig en in voorspoed dankbaar kan wees. Verder dat ons ook vir die toekoms ‘n vaste vertroue in ons getroue God en Vader kan stel dat geen skepsel ons van sy liefde sal skei nie, aangesien alle skepsels so in sy hand is dat hulle sonder sy wil nie kan roer of beweeg nie.

4. God weef ons verhale in sy groter verhaal met die wêreld in.

Die boodskap van die verhaal van Rut is ten diepste ‘n bevestiging dat ons die pad van God met sy mense kan vertrou. Soos Rut, die vreemdeling, ‘n tuiste vind by Naomi, Boas en in die geloofsgemeenskap van Israel, só kan ons Hom ook vertrou vir ons eie plekkie in die son, ook hier in SA, ook in die ware kerk van God in die land.

Die verhaal van Rut is egter nie net ‘n bevestiging van God se voorsiening vir ons self en ons situasie nie, maar ook van sy voorsiening vir die toekoms, selfs van die voorsiening van ‘n uitkoms vir die wêreld. Ons kleiner verhale word opgeneem in sy groter verhaal met die mensdom.

Dat Naomi en Rut ‘n losser (go’el) in Boas gevind het, is wonderlik. En dit is ‘n woord vir my en jou vandag. Dat God vir ons ook op ‘n baie praktiese wyse dinge sal laat meewerk, ‘n losser vir ons sal gee. Ook in terme van land, gemeenskap en ‘n nageslag.

Maar daar is ‘n dieper boodskap. Dit is, dat hierdie verhaal vir ons van die groter losser in Dawid, en die grootste Losser van almal, Jesus Christus, vertel, die Losser waarvan ook Job gedroom het (Job 19:25). Dit is die breër en dieper boodskap van hierdie boek. Ons verhale is ingebed in die groter verhaal van God se betrokkenheid in hierdie wêreld. Wat met ons gebeur, het daarom ook ‘n impak op die wêreld.

En dit is groter as maar net dat die Here vir ons sorg. Deur vir my en jou te sorg, sorg Hy vir die wêreld.

GEBED

DANKOFFER

SLOTLIED

  • Lied 525  Dank, dank die Heer (staan)

SEËN

RESPONS

  • Vonkk 38 v 1 Here, ons God, as ons nou huis toe gaan.

 

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.