Skip to main content

Johannes 20:19-23

Johannes-20_19-23Die verhaal van die eerste opstandingsdag vind die dissipels in die bovertrek besig om die gebeure van die dag te oordink.  Die nuus het vinnig versprei dat Maria vroeg die oggend by die graf was en dit leeg gevind het.  Petrus en Johannes het gaan kyk en selfs ingegaan om self te sien dat dit leeg is. Verder het twee wat op pad na Emmaus was, ook kom vertel dat hulle die opgestane Jesus ontmoet het.

Terwyl die dissipels hieroor diep in gesprek was, staan Jesus meteens daar tussen hulle en sê vir hulle: “Vrede vir julle!” En skielik is alles anders!

Laai die Afrikaans hier afDownload the English here

Hier volg die hele erediens:

Verwelkoming

GOD NOOI ONS UIT EN ONS KOM TOT RUS

Aanvangslied     

Lied 420 Daar klink ‘n lied, daar juig ‘n stem – sit

Aanvangswoord

22Die klip wat deur die bouers afgekeur is,

juis hy het die belangrikste klip in die gebou geword.

23Dit is deur die Here gedoen

en is ’n wonder in ons oë!

28U is my God, U wil ek loof;

my God, u grootheid wil ek besing.

29Loof die Here, want Hy is goed,

aan sy liefde is daar geen einde nie.

(Psalm 118)

Seëngroet

Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste voor sy troon, 5en van Jesus Christus, die geloofwaardige getuie, die eerste wat uit die dood opgestaan het, die heerser oor die konings van die aarde.

(Openbaring 1)

Lof

Lied 423 Kom laat ons almal vrolik voor God die Here sing! – staan

Verootmoediging

7Geliefdes, ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is ’n kind van God en ken God. 8Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde. (1 Johannes 4)

Vryspraak

18Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie. (1 Johannes 4)

Lied 244:1 Alles, alles is genade – staan

Geloofsbelydenis

Voorganger:       Ons glo in een God, die almagtige Vader,

Gemeente:            die Skepper van die hemel en die aarde, en van alle sienlike en onsienlike dinge;

Voorganger:       en in een Heer, Jesus Christus die eniggebore Seun van God, gebore uit die Vader voor alle tye;

Gemeente:            God uit God, Lig uit Lig, waaragtige God uit waaragtige God, verwek, nie gemaak nie, een in wese met die Vader;

Voorganger: deur wie alle dinge ontstaan het;

Gemeente:            wat ter wille van ons, die mense, en ter wille van ons saligheid, neergedaal het uit die hemel, vlees geword het deur die Heilige Gees uit die maagd Maria, en mens geword het, wat selfs vir ons gekruisig is onder Pontius Pilatus, gely het en begrawe is;

en op die derde dag opgestaan het volgens die Skrifte;

wat opgevaar het na die hemel, en wat sit aan die regterhand van die Vader;

wat weer sal kom met heerlikheid om te oordeel, dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het;

wie se koningsheerskappy geen einde sal hê nie;

Voorganger:       en in die Heilige Gees, die Heer en Lewendmaker,

Gemeente:            wat van die Vader en die Seun uitgaan, wat saam met die Vader en die Seun aanbid en verheerlik moet word, wat gespreek het deur die heilige profete.

Voorganger:       Ons glo in een heilige, algemene kerk,

Gemeente:            gegrond op die leer van die apostels.

Voorganger:       Ons bely een doop

Gemeente:            tot vergifnis van sondes;

Voorganger:       ons verwag die opstanding van die ontslapenes,

Gemeente:            en die lewe van die toekomstige eeu.

Amen (uit die belydenis van Nicea).

Aanbidding

Lied 464:1,3 O Heer my God – staan

Gebed

GOD PRAAT EN ONS LUISTER

Skriflesing

Johannes vertel ons in hoofstuk 20-21 van vier verskynings van Jesus na die opstanding.  Hy verskyn eerste aan Maria Magdalena, tweede aan die dissipels, derde aan Tomas wat nie by was met Jesus se tweede verskyning nie en laastens (hfst. 21) aan die dissipels by die meer, waar Jesus spesifiek vir Petrus intrek en heraanstel in sy rol as herderleier (laat my skape wei).  Ons lees vanoggend van die verskyning aan die dissipels.  Vanaand lees ek die volgende gedeelte oor die verskyning aan Tomas.

Johannes 20:19-23

Jesus verskyn aan sy dissipels

(Matt 28:16–20; Mark 16:14–18; Luk 24:36–49)

19Daardie Sondagaand was die dissipels bymekaar. Alhoewel die deure gesluit was omdat hulle bang was vir die Jode, het Jesus gekom en tussen hulle gaan staan en vir hulle gesê: “Vrede vir julle!”

20Nadat Hy dit gesê het, wys Hy sy hande en sy sy vir hulle. Die dissipels was baie bly toe hulle die Here sien.

21“Vrede vir julle!” sê Hy weer vir hulle. “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.”

22Nadat Hy dit gesê het, blaas Hy oor hulle en sê: “Ontvang die Heilige Gees! 23As julle vir mense hulle sondes vergewe, word dit hulle deur God vergewe; as julle dit nie vergewe nie, word dit nie deur God vergewe nie.”

Prediking

“Vrede vir julle!”

Die verhaal van die eerste opstandingsdag vind die dissipels in die bovertrek besig om die gebeure van die dag te oordink.  Die nuus het vinnig versprei dat Maria vroeg die oggend by die graf was en dit leeg gevind het.  Petrus en Johannes het gaan kyk en selfs ingegaan om self te sien dat dit leeg is. Verder het twee wat op pad na Emmaus was, ook kom vertel dat hulle die opgestane Jesus ontmoet het.

Terwyl die dissipels hieroor diep in gesprek was, staan Jesus meteens daar tussen hulle en sê vir hulle: “Vrede vir julle!” En skielik is alles anders!

Alhoewel Jesus hier die gebruiklike Oosterse groet gebruik, het dit in sy geval baie meer gesê as: “Mag dit met julle almal goed gaan!” In hierdie een woord “vrede” word al die aankondigings oor wat God gaan doen, soos hulle dit in die verlede gehoor het, en al God se beloftes oor die toekoms saamgevat.

Besonder betekenisvol is die feit dat Jesus se vredesgroet sy kruisdood, begrafnis en opwekking uit die dood as basis het. Dit is van “anderkant die graf” dat hy hulle toeroep: “Vrede vir julle!” Nogal iets om na te dink – Jesus kom na ons van anderkant die dood …

Daarmee bevestig Jesus dat die stryd om die vrede vir hierdie aarde suksesvol deurgevoer is. Die vaste bewys daarvoor is die tekens aan sy hande, voete en sy. Almal kan dit sien. Nou kan niemand meer twyfel nie – ook nie Tomas nie!

Met sy teenwoordigheid bewys Jesus aan hulle dat Hy opgestaan het uit die dood.  En skielik is alles anders!  Want, dit beteken die opstanding uit die dood is ook vir ons moontlik wat in Hom glo ..

Sonder die opstanding van die Here Jesus Christus is ons geloof waardeloos

Die opstanding van die Here Jesus Christus bly die kern van ons geloof.  Sonder die opstanding is ons geloof in Jesus waardeloos.  As Jesus nie opgestaan het nie, help dit eintlik nie dat ons glo nie, want dan kan Hy nie nou lewe nie, kan Hy nie nou enige invloed op ons lewe uitoefen nie.

Sy leringe kan van waarde wees, ja.  Om die waarheid te sê, dit kan van baie waarde wees.  Sy leringe oor God en oor die liefde en oor hoe ons met mekaar oor die weg kan kom, word immers wyer as enige ander guru of filosoof in die wêreld se werke gelees, nie net dié van vandag nie, maar van dié wat ooit gelewe het.

Maar, as Jesus nie opgestaan het uit die dood nie, help dit nie om in Hom te glo nie.  Want, Hy kan dan niks vir jou doen nie.  Hy kan nie vir jou intree by God sy Vader nie.  Hy kan jou nie deur sy Heilige Gees begelei in alle waarheid nie. Hy kan nie jou gebede beantwoord, wanneer jy vir krag en sterkte en leiding vra nie.  Hy is dan uiteindelik maar net soos een van ons, sterflik, verganklik, eindig.

En dit bring ‘n geweldige dilemma vir ons mee.  As Jesus nie opgestaan het uit die dood nie, dan sal ons ook nie kan opstaan uit die dood nie. Dan raak siekte ‘n rêrige probleem, ‘n ewige probleem, want dit kan jou einde beteken, vir altyd.  Dan raak ouderdom ‘n al hoe groter wordende probleem, want dit kan jou einde beteken, vir altyd.

Sonder die opstanding is daar geen opstanding vir ons uit die dode nie.  Sonder die opstanding is daar vir ons geen lewe ná die dood nie.

En dan praat ons nie eers oor die effek wat dit op ons etiek sal hê nie, want as daar niks is ná hierdie lewe nie, hoekom sal ‘n mens dan volgens die goue reël lewe – doen aan ander wat jy aan jouself gedoen wil hê?  Jy kan mos maar doen wat jy wil, want daar is nie gevolge hierna nie, nie waar nie?  Jy is op jou eie. Jy moet jouself handhaaf.

Hoe werklik is die opstanding van die Here Jesus Christus nou regtig?

Hoe werklik is die opstanding van die Here Jesus Christus nou regtig?  Gary Habermas en Michael Licona het ‘n indringende en omvattende ondersoek geloods na die werklikheid van die opstanding van die Here Jesus Christus. Dit is waarskynlik een van die beste stukke navorsing daaroor wat beskikbaar is, ten minste waarvan ek weet.  Dit is die boek om te lees as jy antwoorde soek op jou vrae, en antwoorde wil gee aan mense wat die opstanding bevraagteken.

Ek sluit graag daarby aan en maak aan die hand van hulle boek die volgende drie opmerkings waarin my eie geloof in die opgewekte Jesus ook na vore kom.  En ek gee dit aan jou deur om jou geloof in die opgestane Here Jesus Christus te bevestig:

  1. Die opstanding van Jesus word deur meervoudige, onafhanklike historiese bronne bevestig.  Daar is nie historiese onsekerheid daaroor nie.
  2. Die opstanding word deur vyande van Jesus (Paulus) sowel as skeptici van daardie tyd (Jakobus, een van Jesus se skeptiese broers) bevestig. Dit is wesenlik deel van die historiese bevestiging van die opstanding.  Iets moes gebeur het.
  3. Vroeë ooggetuie verslae bevestig die opstanding van Jesus: die vroue, Maria, Kleopas en sy vrou/vriend, Petrus en die res van die dissipels, soos in ons gelese gedeelte, en dan aan nog meer as 500 ander, Paulus, Jakobus ensomeer.  Dit begin die dag wat dit gebeur het, soos ons so pas gelees het, nie eers ‘n paar dae, weke, maande of selfs jare daarna nie.

Gary en Michael gebruik ‘n minimalistiese benadering – uitgebreid gemotiveerd – om die vier algemeen aanvaarde feite waarop hulle die opstanding begrond, te motiveer, sowel as ‘n vyfde feit wat deur die meerderheid aanvaar word.  Hulle noem dit die “minimal facts approach.”

  1. Jesus het aan die kruis gesterf – bronne: die Joodse geskiedskrywer Josephus bevestig dat kruisiging een van die strawwe was wat in die eerste eeu aan die orde van die dag was; die vier evangelies van die NT, Markus, Matteus, Lukas en Johannes bevestig dat Jesus aan die kruis dood is; die Romeinse geskiedskrywer en senator Tacitus verduidelik hoe Nero die skuld vir die brandende Rome op die Christene geplaas het, en voeg daarby (vry vertaal): “Christus, van wie die naam Christene afkomstig is, het die ekstreme boete betaal gedurende die regering van Tiberius aan die hand van een van ons prokurators, Pontius Pilatus.”; die Griekse satirikus Lucian van Samosata skryf (weereens vry vertaal): “Die Christene, julle weet, aanbid ‘n man tot vandag nog – die deurlugte persoon wat hulle unieke rituele begin het, en daarvoor gekruisig is.”; die Stoïsynse filosoof Mara Bar-Serapion vermeld dat Jesus doodgemaak is; ditto die Joodse Talmoed, ‘n rabbynse kommentaar op en uitleg van die leringe van die OT.
  2. Jesus se dissipels het geglo dat Hy uit die dood opgestaan het en aan hulle verskyn het – ‘n hele aantal onafhanklike bronne getuig daarvan: die beskrywings van hulle opstandingsgeloof wat in die NT opgeneem is en duidelik op mondelinge tradisies berus en daarom vóór die geskrewe teks moes bestaan het: credos (1 Kor. 15:3-5), liedere (Ef. 5:14; 5:19; 1 Tim 3:16), opsommings (Luk. 1:1-4), en gedigte (Rom. 8:35-38; Fil. 2:5-11; 2 Tim. 2:11-13); Paulus skryf daaroor (1 Kor. 15); die vier evangelies van die NT, Markus, Matteus, Lukas en Johannes, skryf daaroor, soos in ons gelese gedeelte, sowel as Lukas met sy Handelinge van die apostels; daarby kom nog die onwrikbare getuienis van die dissipels wie se lewens só getransformeer is deur die opstanding dat hulle vervolging en martelaarskap verduur het vir hulle getrouheid aan die boodskap daarvan.  Die opstanding kon dus per definisie nie ’n legende gewees het wat oor tyd ontwikkel het nie.  Daarvoor was die getuienis van die opstanding té vroeg en té wyd deur ooggetuies bevestig.
  3. Die vervolger van die kerk, Paulus, is skielik verander.  Sy getuienis is van groot belang omdat sy verandering van vyand in vriend nie op ’n ander manier verklaar kan word as dat die opgewekte Jesus aan hom verskyn het nie.  Hy maak ook baie van die liggaamlike opstanding van Jesus (Hand. 13:34-37; 1 Kor. 15; Fil. 3:21).
  4. Die skeptiese Jakobus, broer van Jesus, is skielik verander.  Sy verandering van skeptisisme toe Jesus nog saam met hulle gelewe het (Joh. 7) tot onwrikbare geloof in die opgestane Jesus en leiding van die kerk (Hand. 15) kan net verklaar word aan die hand van iets wat werklik gebeur het.  Ditto Jesus se ander broer, Judas, wat ook ’n brief in die NT geskryf het.
  5. Die graf was leeg.  Dit sou onmoontlik gewees het vir die Christendom om van die grond af te kom as ’n beweging as Jesus se liggaam steeds in die graf was.  Die graf was leeg, soos selfs die Romeine en Jode getuig het, hoewel sommige van hulle die bewering gemaak het dat Jesus se liggaam gesteel is.  Die graf was egter leeg, hoe ’n mens ook al dit sou probeer verklaar.  Die vorige vier punte wys egter hoe onwrikbaar die getuienis was dat Jesus inderdaad opgestaan het.  Dit is genoeg om die leë graf te verklaar as ’n verdere getuienis van Jesus se opstanding.

Daar is ander redes wat hiermee saamgelees kan word – bv. die feit dat vroue die eerste getuies was van die opstanding, al was hulle nie normaalweg as betroubare getuies gereken in daardie tyd nie, maar steeds word dit só vertel.  Maar die vorige vyf punte is reeds genoegsame getuienis van die opwekking van Jesus.

Jy kan dus in die opstanding glo, want dit het werklik gebeur.

Jesus se persoonlike verskyning bring vrede en rus

Maar, het ons daarmee alles gesê?  Is dit genoeg om oortuig te wees dat Jesus uit die dood opgestaan het?

Nee, by verre nie.

Die leë graf met die opgerolde grafdoeke is natuurlik belangrik omdat dit die werklikheid en historisiteit van die feit van die opstanding aandui.  Die feit dat daar ‘n hele klomp mense is wat daarvan kan getuig is natuurlik belangrik. Die feit dat ‘n mens deeglike historiese getuienis het wat dié feit onderstreep, is natuurlik belangrik.

Maar, dit is ook duidelik, dit is eers wanneer Jesus self aan die getuies van sy opstanding verskyn, dat daar iets met hulle gebeur, dat hulle rus en vrede ervaar, dat hulle vrees in blydskap verander.

Ons moenie net praat oor die historisiteit en werklikheid van die opstanding nie, alhoewel dit vandag nogal noodsaaklik is om skeptici hok te slaan.  Ons moet ook praat oor die teenwoordigheid van die lewende Here Jesus. Dit is immers die teenwoordige Jesus wat ons lewens verander en wat ons fokus moet wees.  Jy kan natuurlik nie die teenwoordige Jesus hê sonder ’n leë graf nie – die graf was immers leeg.  Maar jy kan die teenwoordige Jesus mis as jy te veel klem lê op die dogma van die leë graf.

En dit is my boodskap vandag aan jou.  Jesus leef, vandag.  Jesus leef, jy kan met Hom ‘n pad stap.  Jesus leef, jy kan jou behoeftes na Hom toe bring, en Hy sal jou vrede gee in sy teenwoordigheid.  Jesus het opgestaan, en leef, en belowe vir jou dat jy saam met Hom sal opstaan, dat jy saam met Hom sal leef, eendag, ná die dood.

Jesus stuur ons om met dié boodskap die wêreld vir Hom te wen

En as jy die boodskap goed gehoor het, sal jy ook raaksien, dat Jesus nie net vir sy dissipels troos en versterk in hulle geloof nie met sy teenwoordigheid nie.  Nee, Hy stuur hulle ook, waarmee Hy hulle roeping bevestig om die wêreld met die boodskap van vergifnis in te gaan.

Jesus verbind ’n opdrag aan die vrede wat Hy gee. Die gelowiges word uitgestuur die wêreld in om hierdie vrede na alle mense uit te dra. Vers 21: “’Vrede vir julle!’” sê Hy weer vir hulle. ‘Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.’”

Mens ontvang die vrede, om dit aan te gee. Dissipels word geseën om tot ‘n seën te wees. Hierdie aangee van die vrede geskied in die Naam van Jesus Christus. Dit raak ons individuele lewens, maar ook ons gemeente se lewe. Ons is alleen en gesamentlik geroep om Christus se vrede uit te dra.

Uiteindelik moet die aangee van die vrede die heling van die hele wêreldsamelewing beteken. Waar ook al daar konflik en botsing, verwydering en vervreemding ingetree het, het die Christelike geloofsgemeenskap die opdrag om Christus se vrede te gaan indra en in te weef in die wêreld.

Gawe van die Gees

Hoe gaan ons dit regkry?  Natuurlik deur die gawe van die Heilige Gees.  Die krag van die Heilige Gees is die grootste krag in die heelal. Die Gees doen meer en groter as wat mense ooit op hul eie kan bedink. Só staan dit in vers 22:

Nadat Hy dit gesê het, blaas Hy oor hulle en sê: “Ontvang die Heilige Gees! 23As julle vir mense hulle sondes vergewe, word dit hulle deur God vergewe; as julle dit nie vergewe nie, word dit nie deur God vergewe nie.”

Waar ons die lig van Christus in mense se lewens indra, waar ons in die krag van die Gees begin optree, kom die hemel in beweging met vergifnis, met die vrede wat tussen Hom en mense, tussen mense en mense bring.

Die vrede en herstel wat God gee, kom waar mense bewus word van hul sonde, bewerk deur die Gees, en waar hierdie bewussyn tot skuldbelydenis en vergifnis lei. Die aangee van die vrede en vergifnis word begelei deur die Gees. Daar het ‘n mite in die kerk ontstaan dat woorde opsioneel is en dat net dade eintlik tel. Hierdie verhaal van die opstanding leer ons die waarheid.  Ons is geroep om te getuig. Die opstanding vereis van ons om daaroor te praat, om daarvan te vertel.  Want, as ons nie getuig daarvan nie, word die vergifnis van sonde nie ‘n werklikheid in mense se lewens nie.

Die lewende Here

PP1Ek sluit af.  Ons het ‘n nuwe bewussyn van die lewende teenwoordigheid van Christus nodig. Die Christus wat deur Woord en Gees by ons is, en wat die wêreld voortdurend met sy vrede seën wanneer ons dit aangee.

Daaroor praat ons die res van hierdie kwartaal aan die hand van die boodskap van die Gees in Efesiërs, en gaan ons in Pinkster fokus op die krag van gebed.  Ek het ‘n groot verwagting van Pinkster dié kwartaal.  Ek bid vir ‘n Somerstrand Pinksterervaring, soos wat Jerusalem dit gehad het, en Efese, en elke ander plek in die wêreld waar daar ‘n uitkringende herlewing plaasgevind het, New York in 1857, Worcester 1860, Wallis 1904 …

Gebed

GOD STUUR ONS OM TE LEEF

Dankoffer

Slotlied

Lied 422 Die Heer, die Heer het opgestaan! – staan

Seën

Ons gaan hierdie kwartaal fokus op die Vervulling met die Heilige Gees soos die brief aan die Efesiërs dit vir ons uitspel, so ek groet julle met ‘n seënbede daaruit:

Mag God ons geestesoog verhelder dat ons kan weet watter hoop sy roeping inhou; en dat ons kan weet hoe geweldig groot die krag is wat God uitoefen in ons wat glo – dieselfde krag waarmee God vir Jesus uit die dood opgewek het; Amen (Ef 1:18-20).

Respons

Lied 415:1 Jesus leef en ons met Hom – staan

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.