Skip to main content

Die wet as bladmusiek van die koninkryk – Matteus 22:34-40

Die musiek van Beethoven

Wie ken die musiek wat met hierdie vier note begin: ta, ta, ta, DA? Ja, Beethoven se Vyfde Simfonie (1804-1808). Wêreldbekend. Interessant, Beethoven was al doof toe hy dit gekombineer het. Hy kon die note net in sy kop hoor. So lyk die musiek van die eerste blad:

Hierdie Vyfde Simfonie word uitgevoer deur groot simfonie orkeste. Dit word deur bands uitgevoer. Dit is verwerk vir klavier. Selfs vir ghitaar – gaan luister na Kelly Valleau se uitvoering daarvan. Tegnies uitdagend. Pragtig.

En sommige uitvoerings van die musiek is meesleurend mooi. Ander weergawes is nie so musikaal nie. Veral nie die elektroniese midi weergawes nie wat half dowwerig en blikkerig klink. En ‘n groot simfonie orkes het net ‘n groter klank as ‘n enkel ghitaar, selfs al is die ghitaar ook hoe goed.

Maar, die musiek is altyd herkenbaar. Hoekom? Want daar is bladmusiek. Die note is heilig. Onaantasbaar. Dit kan nie verander word nie. Ta, ta, ta, DA.

Jy kan wel die musiek op baie maniere interpreteer, mooi of minder mooi. Maar as jy van die bladmusiek afwyk, speel jy nie meer Beethoven se musiek nie. Is dit nie meer die Vyfde Simfonie nie. Jy kan nie ‘n noot weglaat óf ‘n noot bysit van Beethoven se vyfde nie. Nooit nie. Jy sal altyd uitgevang word.

Die teks van die Bybel

Dit is nie anders met die Bybel nie, al is daar baie wat dit probeer doen. Jy mag en kan jou eie interpretasie gee van hoe ‘n gedeelte jou raak, wat dit vir jou beteken, hoe dit ander raak, en wat dit vir ander kan beteken. Jy moet dit in die konteks wat dit geskryf is, uitlê, wat natuurlik tot beter of slegter interpretasie kan lei. Die konteks kan jou ‘n gedeelte beter laat verstaan, of ‘n gebrek daaraan weer slegter. Jy kan dit meesleurend vertel of aframmel.

Maar, die oomblik as jy die teks verander, is jy nie meer met die Bybel besig nie. Is jy met jou eie Bybel besig.

Wat ons versigtig moet maak vir mense wat vir jou sê, maar ‘n sekere verstaan van die teks is net jou eie interpretasie. Wat sê, ek maak my eie interpretasie van die Bybel. En as dit verskil van jou interpretasie, moet jy maar verlief neem daarmee.

Trouens, baie keer word jou interpretasie van die teks, veral waar jy by die teks wil hou, in die proses verdag gemaak, en talle keer nog jyself ook. Die boodskapper word saam met die boodskap aangeval.

Daarop sal ‘n mens moet antwoord, ja, dit is reg so, jy mag jou eie interpretasie van die teks voorstel … maar, die oomblik as dit duidelik word dat jy aan die teks verander, of dele van die teks weglaat, of dele daarby voeg, dan is jy nie meer met interpretasie besig nie, maar met ‘n ander teks.

Beethoven se Vyfde Simfonie begin met vier note, nie vyf of drie nie. Só ook die Bybel, by wyse van spreke. Daar is 66 boeke. Die kanon is afgesluit. Ons kan nie meer daartoe byvoeg nie. Ons kan ook nie dele van die Bybel weglaat nie. En dit geld die hele Bybel.

Die verskil tussen Jesus en die Fariseërs en wetgeleerdes

Dit is belangrik om hierdie vertrekpunt in die lees van die Bybel te beklemtoon, want dit was die hart van die verskil tussen Jesus en die Fariseërs en skrifgeleerdes.

Jesus het met die teks van die Bybel gewerk. Die Fariseërs en skrifgeleerdes met hulle eie interpretasie van die Bybel.

Vir seker het Jesus ook ‘n nuwe openbaring van God gebring wat die OT aangevul het, waarin sommige dinge helderder gesê is as in die teks van die OT, en ander dinge in die OT selfs opgehef is. Maar dit hef nie die teks van die OT op nie. Sonder die OT sal ons nie ‘n idee hê van die skepping, die gawe van die wet, die talle Psalms om met God te praat, en die wysheidsverhale wat tot vandag toe God se stem vir ons is.

Daar is dus dinge wat dieselfde gebly het van die OT na die NT toe, en ander dinge wat opgehou het om ‘n invloed te hê, soos die wette oor ons dieet en die offers in die tempel.

Maar, Jesus het op geen manier die teks van die OT ongeldig kom maak nie. Die OT was steeds die openbaring van God vir Jesus. Hy het die kerk geleer dat dit steeds die fondasie is van hulle geloof, soos Jesus dit kom vervul het en ook aangevul het.

En ek wil nou Jesus se hantering van die wet kontrasteer met die hantering daarvan deur die Fariseërs en wetgeleerdes. Want daarin sal ons raaksien wat God ook van ons verwag in die wet. En dat ons nie die wet kan systap of ter syde stel nie. Trouens, dat ons geen deel van die Bybel kan systap of ter syde stel nie.

Sodat ons Jesus se aankondiging van die dubbele liefdesgebod kan hoor as die bladmusiek van die koninkryk.

1. Jesus wys dat die tweede tafel van die wet die sonde van ons hart aan die lig bring

Hoewel Jesus se geboorte aangekondig is deur skrifgeleerdes (Matt 2:4) het Jesus baie konflik met hulle gehad in sy uiteindelike bediening. Die skrifgeleerdes het hom veral kwalik geneem dat Hy hulle leringe, hulle interpretasies van die wet, as dwaalleringe uitgewys het.

Jesus het bv in Matteus 15 die dwaasheid van hulle klem op die was van hande, eerder as die was van harte, uitgewys. Jesus het geleer: dit is nie wat in die liggaam ingaan wat jou onrein maak nie; dit is wat uit die hart uitkom wat jou onrein maak in die oë van God. “Want uit die hart kom daar slegte gedagtes, moord, egbreuk, hoerery, diewery, valse getuienis, lastertaal.” (Matt 15:1-20).

En wat veral interessant is dat hierdie uitleg van Jesus direk gebaseer is op oortredinge van die wet van God, die tien gebooie. Moord is ‘n oortreding van die sesde gebod. Egbreuk en hoerery is ‘n oortreding van die sewende gebod. Diewery is ‘n oortreding van die agste gebod. Valse getuienis en lastertaal is ‘n oortreding van die negende gebod.

Dit is vanuit die hart van die mens, sê Jesus, wat die wet van God oortree word. En Jesus help ons verstaan dat ‘n mens sonde juis herken uit die duidelike boodskap van die wet. Sonder die wet kan jy die sonde nie so goed raaksien nie.

En Hy wys hierdie skeefgetrekte interpretasie van die skrifgeleerdes onomwonde uit.

2. Jesus wys dat die wet se boodskap nie versag moet word nie

Jesus wys ook uit dat die skrifgeleerdes die impak van dié duidelike boodskap van die wet wou versag. Hulle lering was gemik daarop om dit vir mense makliker te maak om die wet na te kom. Daarom het hulle allerlei maniere uitgedink om die impak van die wet op jou praktiese lewe te verminder. Hulle het ‘n diverse interpretasie van die gebod aangemoedig en toegelaat. Sodat hulle die krag daarvan kan verminder in hulle lewe.

Jesus val egter nie vir hulle verdoeseling van die waarheid van die Skrif nie, en spreek hulle skerp aan. Die boodskap van die Skrif, sê Jesus, is nie oop vir diverse opinies nie. Die boodskap van die Skrif kan nie versag word deur ‘n klomp eie interpretasies nie.

Soos jy nie jou eie note kan byvoeg by die musiekstuk óf van die note uitlaat nie, en jy moet werk met die volledige “score” van die musiekstuk, só moet jy ook met die Bybel werk.

Want, waar die boodskap van die Skrif verander word deur interpretasie, is dit nie meer die Skrif nie, kan God nie meer daardeur praat nie, kan ons die stem van die lewende God nie meer hoor nie.

Soos Petrus later in lyn met hierdie boodskap van Jesus sou skryf, die Skrif is nie “’n saak van eie uitlegging” nie. Hoekom nie? “Want geen profesie is ooit deur die wil van ’n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek.” (2 Pet 1:20-21)

Jesus illustreer dit met die skrifgeleerdes se hantering van die vyfde gebod

Om dit te illustreer, kan ‘n mens Jesus se kritiek lees, ook in Matteus 15, op die wyse waarop die skrifgeleerdes die Skrif verander het in verband met die gebod om jou ouers te eer, die vyfde gebod. Die skrifgeleerdes het geleer: “Elkeen wat aan vader of moeder sê: enige voordeel wat u van my sou kan geniet, is ’n offergawe—dié hoef sy vader of sy moeder glad nie te eer nie.” Kan jy nou meer!

Geen wonder dat Jesus skerp daarop reageer en sê: “So het julle dan die gebod van God kragteloos gemaak ter wille van julle oorlewering.” (Matt 15:5-6)

Jesus noem die skrifgeleerdes daarom skynheiliges, geveinsdes, want hulle ontkrag die Woord sodat die Woord nie sy werk in mense se lewe kan doen nie. Hulle gee hulle eie interpretasie van die Woord, en maak die boodskap daarvan duister.

Die Skrif is dan nie meer helder en duidelik en genoegsaam vir die geestelike lewe van gehoorsaamheid aan God nie. Só laat die skrifgeleerdes laat die Woord aanpas by die sondige behoeftes van die mense, maar maak die Woord in die proses kragteloos.

In plaas daarvan dat die skrifgeleerdes die gebooie van God verkondig, verkondig hulle gebooie van mense, dinge wat hulle uitdink en wat die krag van die gebooie van God verminder, totdat die Woord heeltemal aangepas het by die behoeftes van die volk.

Hierdie skerp teregwysing van Jesus het die skrifgeleerdes egter nie sommer só aanvaar nie. Die feit dat Jesus hulle skynheilige pogings ontbloot het om die duidelike boodskap van die Woord te ontkrag, het hulle geswore vyande van Hom gemaak, veral sy laaste toespraak waarin Hy hulle onomwonde veroordeel vir hulle skynheiligheid (Matt 23).

Daarom beplan die skrifgeleerdes saam met die Fariseërs, die ouderlinge, en die owerpriesters om Jesus dood te maak (Matt 16:21; 26:3). En hang Jesus aan die kruis vir die ondeelbare waarheid van God teenoor die diverse interpretasies van die skrifgeleerdes.

Jesus het ook genade vir skrifgeleerdes gehad

Nie dat Jesus nie ook genade gehad het vir skrifgeleerdes nie. Hy waarsku skrifgeleerdes op ‘n keer dat dissipelskap jou kan kos, maar nooi hulle steeds uit om Hom te volg:

“En ’n sekere skrifgeleerde het gekom en vir Hom gesê: Meester, ek sal U volg waar U ook al mag gaan. En Jesus sê vir hom: Die jakkalse het gate en die voëls van die hemel neste, maar die Seun van die mens het geen plek waar Hy sy hoof kan neerlê nie.” (Matt 8:19-20)

Hy wys ‘n ander keer op die waardevolle rol wat skrifgeleerdes kan speel as die koms van die koninkryk hulle fokus word, as hulle dissipels van Hom raak:

“Toe sê Hy vir hulle: Daarom is elke skrifgeleerde wat ’n leerling geword het in die koninkryk van die hemele, soos ’n huisheer wat uit sy skat nuwe en ou dinge te voorskyn bring.” (Matt 13:52)

En Jesus prys op ‘n keer die insig van ‘n skrifgeleerde wat met Hom in gesprek tree oor die betekenis van die wet en nooi hom uit om deel van die koninkryk te raak:

“En die skrifgeleerde sê vir Hom: Goed, Meester, U het met waarheid gesê dat God een is en daar geen ander is as Hy nie; en om Hom lief te hê uit die hele hart en uit die hele verstand en uit die hele siel en uit die hele krag, en om die naaste lief te hê soos jouself, is meer as al die brandoffers en die slagoffers. Toe Jesus sien dat hy verstandig geantwoord het, sê Hy vir hom: Jy is nie ver van die koninkryk van God nie. En niemand het dit meer gewaag om Hom vrae te stel nie.” (Mark 12:32-34)

Maar, dit was die uitsonderings.

Meesal het die skrifgeleerdes Hom probeer uitvang en sy boodskap só probeer ontkrag. En dit is in die midde van een só ‘n konflik, weereens oor die wet, wat Jesus terselfdertyd die diep betekenis van die wet in terme van die dubbele liefdesgebod verkondig het.

Dit vind ons in Matteus 22.

‘n Bietjie agtergrond. Matteus verweef die verhale oor Jesus met sy toesprake. En al vyf Jesus se toesprake gaan oor die koninkryk van God:

  1. Die goeie nuus van die koninkryk – hfst. 5-7
  2. Die krag en missie van die koninkryk – hfst. 8-10
  3. Die gemengde ontvangs van die koninkryk – hfst. 11-13
  4. Die gemeenskap van die koninkryk – hfst. 14-18
  5. Die impak en koms van die koninkryk – hfst. 19-25

Ons teks kom dus uit hierdie laaste deel, Jesus se lering oor die impak en koms van die koninkryk.

‘n Wetgeleerde het Jesus probeer versoek

Die situasie was soos volg. ‘n Wetgeleerde – ‘n skrifgeleerde wat spesifiek ‘n ekspert in die wet van Moses was – het Hom probeer versoek en gevra watter gebod in die wet die grootste was.

34En toe die Fariseërs hoor dat Hy die Sadduseërs die mond gestop het, het hulle almal saam vergader.

35En een van hulle, ’n wetgeleerde, het ’n vraag gestel om Hom te versoek en gesê:

36Meester, wat is die groot gebod in die wet?

37En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.

38Dit is die eerste en groot gebod.

39En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.

40Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete.

3. Jesus wys dat daar nie groter en kleiner dele van die wet is nie

Hierdie gedeelte is deel van die laaste deel van Jesus se openbare optrede net voor sy kruisiging. Hy wil die boodskap van die koninkryk omklink dat die dissipels die groot opdrag kan nakom, om dié boodskap regdeur die wêreld te neem:

“Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.” (Matt 28:19).

Die Fariseërs en skrifgeleerdes het Hom egter teëgestaan, want hulle wou hê dat die Jode hulle dissipels sou wees. Daarom het hulle gewerk met ‘n idee dat daar wette is wat “groter” is as ander, dws “swaarder” weeg as ander wette, en ander wette wat “kleiner” is, dws wat ‘n mens as “ligter” kon beskou, en daarom nie in die moeilikheid sou kom as jy hierdie kleiner wette nie nakom nie.

Daarom kom ‘n skrifgeleerde – die teks sê eintlik ‘n “wetgeleerde” wat ‘n ekspert in die wet was – en wil Jesus vastrek deur te vra na wat is die “groot gebod” in die wet.

Jesus is egter te slim vir die wetgeleerde en gee nie sy eie interpretasie van wat “groot” en wat “klein” in die wet sou wees nie. Nee, Hy haal die wet self aan. Hy laat die eerste note van Beethoven se Vyfde Simfonie weerklink, by wyse van spreke.

Hy haal die kern van die wet in die Pentateug aan, presies dié teks wat elke Jood drie keer ‘n dag in hulle gebedstyd gebruik het, die Sjema: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.” (Deut 6:4-5).

En hy voeg daaraan by ‘n teks uit die etiese gedeelte wat oor ongeoorloofde seksuele verhoudings gaan – Levitikus 18-20: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” (Lev 19:18; vgl 19:34 wat dié gebod ook die vreemdeling geld).

En Jesus is baie wys deur uiteraard die gebod om God lief te hê eerste te noem, maar te weier om die liefde vir die naaste ondergeskik te maak aan die eerste. Dit is gelyk aan mekaar, hoewel die eerste uiteraard die basis is vir die tweede.

En niemand kon eers in gesprek tree met Jesus hieroor nie, want dit was só ‘n duidelike en diepsinnige antwoord.

4. Jesus wys dat die wet die bladmusiek van die koninkryk is

Hiermee het Jesus egter nie net die skrifgeleerdes se mond gesnoer nie. Jesus het hiermee die wet as die bladmusiek vir die koninkryk beskryf. Die liefde tot God was ‘n opsomming van die eerste vier gebooie van die Dekaloog. Die liefde tot die naaste was ‘n opsomming van die laaste ses gebooie van die Dekaloog, die Tien Gebooie.

En dit is dié dinge wat die grondwet is, die bladmusiek, van die boodskap van die koninkryk. Die dubbele liefdesgebod is die ta, ta, ta, DA van die kerk, die note wat weerklink as die mees herkenbare inhoud van die kerk se boodskap sedert die eerste eeu nC.

En dit bly die bladmusiek vir ons lewe. Natuurlik is daar baie meer in die Bybel. Maar, die kern van die kern, die note waarmee ons telkens ons rol in die lewe weergee, is die Tien Gebooie soos Jesus dit in die dubbele liefdesgebod opgesom het.

En ons moet versigtig wees om ‘n ander interpretasie van die wet en die Bybel toe te laat in ons lewe. Veral dié interpretasies wat dele van die Bybel wil ignoreer en maak asof dit nie meer van toepassing is nie. In die plek daarvan kom die wysheid van die wêreld, die onderskeie wetenskaplike opinies oor menswees en die wêreld, en dit verdring maklik die stem van die Skrif in ons lewe.

5. Wees daarom versigtig vir die wysheid van hierdie wêreld

Paulus praat ook hieroor en wys hoe die skrifgeleerdes van die wêreld ons kan laat vasval in die wysheid van hierdie wêreld: “Waar bly die wyse? Waar bly die skrifgeleerde? Waar die redetwister van hierdie eeu? Het God nie die wysheid van hierdie wêreld dwaas gemaak nie?” (1 Kor 1:20)

Dit is hoe God daaroor dink. Die wysheid van die wêreld is dwaas, omdat dit God nie erken nie, en ons leer om die Bybelse voorskrifte te ignoreer.

Paulus kontrasteer in 1 Korintiërs 1 die boodskap, kennis en getuienis van God in Christus (logos, gnosis, marturia) met die wysheid, intellek en geleerdes van die wêreld (sophia, sunesis, grammateus). En hy beveel ons om die boodskap van God te kies teenoor dit wat die wêreld ons bied in terme van filosofieë en wysheid.

Die gevolg hiervan sal wees dat ons dieselfde dinge kan sê in die kerk, omdat ons dieselfde tipe denke sal hê, denke wat uit die Skrif kom. Dit is hoe ons verdelings in die kerk kan uitwis, nie deur dele van die Skrif weg te laat óf anders te interpreteer nie, maar om onsself toe te wy aan die een waarheid wat ons in die Skrif het (1 Kor 1:10).

Diversiteit is goed in biologie. Dit help ‘n spesie om te oorleef en te floreer. Diversiteit is sleg in teologie. Dit is ‘n seker manier om geloof te ontkrag en te laat uitsterf.

En moenie dink dat die krag van die gebod opgehef word deurdat dit saamgevat word in die gebod tot die liefde vir die naaste nie. Op geen manier nie. Die dubbele liefdesgebod se opsomming van God se wet wys die vertrekpunte daarvan, maar hef nie die individuele gebooie op nie. Dit sou immers dwaas wees, want dit is presies wat die skrifgeleerdes en wetgeleerdes gedoen het. Hulle het hulle eie interpretasie gegee van die wet en daarmee die wet ontkrag.

Jesus laat geen diverse interpretasie toe nie. Soos ons gesien het vroeër met die skynheiligheid wat Jesus uitwys in die poging tot diversiteit van die skrifgeleerdes (Matt 15). Die gebod om jou ouers te eer is een wat vir alle tye geld. Dit kan nie ontkrag word deur die dwaalleringe van die Fariseërs en skrifgeleerdes nie.

Ook in die NT, soos Paulus dit in Romeine 1:30, Efesiërs 6:1, Kolossense 3:20 en 2 Timoteus 3:2 uitwys. Paulus laat geen diversiteit toe in die interpretasie van die vyfde gebod toe nie. Soos hy dit uitspel vir al die ander gebooie in Romeine 13:9: moord, egbreuk, steel, valse getuienis, en begeertes. Trouens, hy sê “watter ander gebod ook al”!

Die wet bly die bladmusiek van die koninkryk.

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.