Moenie ontsteld wees nie – glo net! – Markus 5:21-43

Verwelkoming

Dit is tyd vir ons weeklikse asemskep spasie. Om saam die Here te aanbid. Om sy goedheid te bely. Hy is regtig getrou, maak nie saak wat die lewe aan ons opdis nie.

Ek het net een aankondiging:

Kerkdienste

Alle eredienste is afgestel ter wille van veiligheid. Ons het wel drie dienste op Youtube: Ligkids en Pulse vanaf 06:00 beskikbaar op Sondae; Familiediens 09:00 op Sondae. Pulse handel vandag oor die getuienis van Hettie Brittz: Waar was God toe ek verkrag is? Jy kan dit nie misloop nie.

Toetrede

Kom ons raak stil voor die Here met ons versugting na sy teenwoordigheid.

Lied 247 en 278 – Heer, wees ons genadig | Hoor ons bid o Heer

Votum en Seëngroet

5 Ek wag op die Here; my hele wese wag, en op sy woord vestig ek my hoop.

6 My hele wese wag op my Heer, meer as wagte op die môre, ja, wagte op die môre.

7 Israel, vestig jou hoop op die Here; want by die Here is troue liefde, by Hom is volkome bevryding.

Ek groet jou in die Naam van God die Vader, God die Seun, en God die Heilige Gees.

Lofsang

Vonkk 085 – Here, ons Here (Ps 8)

Gebed

Daar is baie mense, Here, wat swaar kry. Wat soos die Psalmis in Psalm 130 uit die dieptes roep na U, o Here. Wat vra, Heer, hoor tog my stem. Wat pleit, laat u ore aandagtig luister. Wat smeek, luister na my smeekbedes.

Sommige worstel met hulle sondeskuld. Hulle vra dat U hulle dit nie toereken nie, Here, want wie sal dan kan staande bly. Dit is tog so dat daar by U vergifnis is. Vergewe hulle Heer.

Sommige worstel met siekte en verlies. Hulle vra dat U verandering en uitkoms sal bring, Here. Hulle vra dat U die laaste vlammetjie hoop nie sal toelaat om dood te gaan nie. Hoor hulle, Here, as ons bid vir u uitkoms.

Skriflesing en prediking

Ek is baie bewus van die uitdagings waaraan almal van ons bloot gestel is. Ek gesels daagliks met mense wat geraak word deur Covid-19. Ons is self ‘n week terug deur ‘n kwarantyn periode toe my seun vir die tweede keer siek geword het. Ons het gelukkig gesond gebly en my seun is ok, maar baie van julle ly steeds onder die siekte. Sommige het ‘n dubbele lyding met Covid-19 en ‘n ander siekte. Sommige ly aan die nagevolge van Covid-19, beide fisiese simptome as ekonomiese gevolge van die inperking en die verlies aan werk.

Dit het aan my hart geruk toe ‘n lidmaat die week slegte nuus kry. Sy het so gehoop dat die uitslag anders sal wees, maar sy moet nou deur die behandeling gaan. En talle van julle is besig met behandeling vir siekte, of wag vir die behandeling om te begin.

In my wag op die Here se stem uit Markus 5 se verhaal het die frase “Moenie ontsteld wees nie – glo net! My getref. Dit is die woorde waarmee Jesus vir Jaïrus aangemoedig het toe sy geloof geweifel het.

Kom ons lees die twee vervlegde verhale van die vrou wat aan bloedvloeiing gelei het en Jaïrus se dogtertjie wat siek geword en gesterf het.

MARKUS 5:21-43

Genesing van ‘n vrou en opwekking van ‘n dogter 

(Matt 9:18-26; Luk 8:40-56 )

21 Nadat Jesus weer met die boot na die oorkant gevaar het, het ‘n groot skare om Hom saamgedrom waar Hy langs die see was. 22 Een van die leiers van die sinagoge , met die naam Jaïrus, kom toe daar aan. En toe hy Hom sien, val hy voor sy voete neer 23 en smeek Hom ernstig: “My dogtertjie lê op sterwe. Kom lê u hande op haar, sodat sy gesond kan word en leef.” 24 Jesus het saam met hom vertrek. ‘n Groot skare het Hom gevolg en teen Hom gedruk. 25 Daar was ‘n vrou wat al twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het. 26 Sy het erg gely onder baie dokters, en sy het al haar besittings daaraan bestee. Sy het egter geen baat daarby gevind nie – dit het eerder slegter met haar gegaan. 27 En toe sy van Jesus hoor, het sy in die skare van agter af gekom en aan sy bokleed geraak, 28 want sy het gesê: “As ek maar net aan sy bokleed kan raak, sal ek gesond word.” 29 Die oorsaak van haar bloeding het toe dadelik opgehou, en sy het aan haar liggaam gevoel dat sy van haar kwaal genees is. 30 Jesus het onmiddellik agtergekom dat krag uit Hom uitgegaan het. Hy het in die skare omgedraai en gevra: “Wie het aan my bokleed geraak?” 31 Maar sy dissipels het vir Hom gesê: “U sien dat die skare van alle kante af teen U druk, en tog vra U, ‘Wie het aan My geraak?’” 32 Hy het om Hom bly rondkyk om die een te sien wat dit gedoen het. 33 Toe die vrou besef wat met haar gebeur het, het sy bewend van vrees voor Hom kom neerval en Hom die volle waarheid vertel. 34 Hy sê toe vir haar: “Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede en wees genees van jou kwaal.” 35 Terwyl Hy nog praat, kom daar mense van die leier van die sinagoge se huis af en sê: “U dogter het gesterf. Waarom val u die leermeester nog lastig?” 36 Jesus het egter in die verbygaan gehoor toe die berig oorgedra word, en sê toe vir die leier van die sinagoge: “Moenie ontsteld wees nie – glo net!” 37 En Hy het niemand toegelaat om met Hom saam te gaan nie, behalwe Petrus , Jakobus en Johannes, die broer van Jakobus. 38 Toe hulle by die leier van die sinagoge se huis kom, sien Hy ‘n geroesemoes, en mense wat huil en erg weeklaag. 39 Hy gaan toe in en vra vir hulle: “Waarom gaan julle so tekere en huil julle? Die kindjie het nie gesterf nie, maar slaap net.” 40 Hulle het Hom egter uitgelag. Maar nadat Hy almal uitgejaag het, het Hy die vader van die kindjie, haar moeder en dié wat by Hom was, saamgeneem en ingegaan na waar die kindjie was. 41 Hy neem toe die kindjie se hand en sê vir haar, “Talita koem!” wat, as dit vertaal word, beteken ‘Dogtertjie, Ek sê vir jou: Staan op!’ 42 Dadelik het die dogtertjie opgestaan en begin loop. Sy was twaalf jaar oud. Hulle was stom van verbasing. 43 Hy het hulle streng opdrag gegee dat niemand dit moes weet nie, en gesê dat hulle vir haar iets te ete moes gee. (2020-vertaling).

Hierdie twee verhale is egte, lewensgetroue verhale. Die eerste verhaal vertel van ‘n vrou se intense lyding wat twaalf jaar geduur het. Die tweede ruk aan jou hart omdat dit oor die dood van ‘n kind van twaalf jaar gaan. Die Een vrou kon nooit kinders hê nie. Twaalf jaar lank het sy nie opgehou menstrueer nie. Die ander vrou sou nooit kinders hê nie, want sy is dood voor sy volwasse geword het.

Die verhaal van die vrou is ‘n uitmergelende een van jare se isolasie van die gemeenskap, want sy kon nie die tempel besoek weens haar onreinheid nie, en sy moes al haar besittings spandeer op ‘n moontlike genesing, maar vrugteloos.

Die verhaal van die dogtertjie van Jaïrus is een waar die hoop stadig uitsyfer tot dit duidelik raak dat die dood ingetree het, en Jaïrus se geloof hom in die steek laat. Soos Totius in sy beryming van die Psalm wat ons hierdie week gelees het, Psalm 130, dit gestel het: “waar hoop se laaste spore, in wanhoop my vergaan”.

Kom ons stap eers deur die verhaal om dit goed te verstaan.

Jaïrus se geloof

Markus teken Jaïrus as een van die sinagogehoofde. Hy val in ‘n gebaar van aanbidding voor Jesus neer en smeek Hom om sy hande op sy dogtertjie te kom lê dat sy gesond kan word en lewe. Daarmee illustreer hy sy geloof in Jesus.

Elkeen wat al ’n dodelike siek kind gehad het, sal weet wat hierdie situasie aan ’n ouer kan doen. Jesus reageer dus onmiddellik en gaan saam met Jaïrus terwyl die groot skare ook die pad vat na Jaïrus se huis.

Dan word Jaïrus se verhaal onderbreek deur die vrou wat op die toneel kom.

Die vrou se geloof

Die vrou beur deur die skare en raak aan Jesus se bo-kleed. Sy het twaalf jaar lank aan bloedvloeiing (menoragie) gely, en die dokters kon haar nie help nie. Sy het alles verloor in die proses. Haar toestand was wel nie direk lewensbedreigend nie, maar in terme van die chroniese permanente aard daarvan het dit enige lewensvreugde uit haar getap. Die bloedvloeiing het haar onrein gemaak. Sy kon nie as deel van die geloofsgemeenskap in die tempel die Here gaan aanbid nie. En sy kon nie kinders kry nie.

Maar, sy het gedink as sy selfs net Jesus se klere kan aanraak, sal sy gesond word. Daarmee illustreer sy haar geloof in Jesus.

Dit is dan ook presies wat gebeur het. Haar bloedvloeiing het opgedroog en sy het aan haar liggaam agtergekom dat sy genees was van die siekte.

Jesus gee egter vir haar meer as wat sy gevra het, want hy genees haar nie net nie. En let op dit is ‘n langtermyn genesing: “Wees genees van hierdie siekte van jou.” Nee, Hy bring haar in die regte verhouding met Hom: “Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede.”

Trouens, ‘n mens sou kon sê dat dit die eintlike ding is wat Jesus vir haar gee. Daarom sê Hy dit ook eerste vóórdat Hy van haar genesing praat.

Dan word Jaïrus se verhaal voortgesit.

Moenie ontsteld wees nie, glo net!

Jesus was nog aan die praat met die vrou toe daar “mense” van die sinagogehoof (se huis) aankom. Hulle het die nuus kom oordra dat sy dogter gesterf het en dat hy daarom nie die Leermeester verder moet pla nie.

Interessant is dat Jesus die nuus geïgnoreer (parakouō) het. Soos die NET Bible dit vertaal: “paying no attention to what was said”. Daarom sê Hy vir Jaïrus dat Jaïrus hom nie moet steur aan wat ander sê aan die gang is nie. Hy moet hom steur aan wat Jesus besig is om te doen. Soos ons teksvers sê:

“Moenie ontsteld wees nie, glo net!”

Jesus gaan verder. Hy sorg dat niemand meer met hulle saamloop nie, slegs die drie binnekring dissipels, Petrus, Jakobus en Johannes, die twee “seuns van die donder”. Dit doen Jesus waarskynlik om te keer dat daar nog mense met Jaïrus praat en sy geloof verder ondergrawe.

As Jesus by die huis kom en die rumoer buite en binne die huis sien en hoor, gaan Hy die huis binne en berispe almal dat hulle ontsteld is en huil. In sy oë het die kind nie gesterf nie, maar slaap sy net.

Toe hulle hom uitlag – ‘n teken van hulle ongeloof – het Hy almal uitgestuur en net die pa en ma en sy dissipels – waarskynlik steeds die drie binnekring dissipels – in die kamer waar die kind was, toegelaat.

Jesus vat toe die kind se hand en sê vir haar in Aramees: “Talita koem!” Dit beteken “Dogtertjie, staan op!” Talita was ‘n aanspreekvorm van ‘n klein dogtertjie wat ook met iets soos “kleintjie” weergegee kan word.

Die dogtertjie het onmiddellik opgestaan en kon weer soos ‘n normale twaalfjarige rond(hard)loop. Almal was uitermate verbaas.

Let op hoe ver Jesus se beheer van die situasie strek. Uit deernis met die dogtertjie gee Hy streng opdrag dat hulle haar nie in die publiek bloot sal stel deur oral daarvan te vertel nie. Sy moet tyd kry om groot te word op haar eie tyd. Daarom beveel Hy dat hulle vir haar iets gee om te eet.

Boodskap en betekenis

1. In eerste plek sê hierdie twee verhale vir ons dat dit juis in sulke mense se lewens is wat Jesus teenwoordig raak en optree. Hierdie verhale bied vir ons die versekering dat God in Jesus Christus in ons donkerste momente aktief besig is, as ons Hom maar net soek.

Ek onthou só goed die woorde waarmee Totius Psalm 130 berym het:

“Uit dieptes, gans verlore,

van redding ver vandaan,

waar hoop se laaste spore

in wanhoop my vergaan;

uit diep van donker nagte

roep ek, o Here, hoor,

en laat my jammerklagte

tog opklim in u oor.”

As kind het dié woorde sowel as die melodie my hart geroer en geïnspireer om selfs in die moeilikste omstandighede – “waar hoop se laaste spore, in wanhoop my vergaan” – tóg die Here aan te roep en op Hom te vertrou. Dit is juis wanneer dit voel asof die diep waters jou insluk en jy dreig om weg te sink dat hierdie gebed uit ‘n mens geskeur word in die hoop dat Iemand sal hoor.

Dit is die eerste ding wat jy kan met jou kan saamneem. Wat jy ook al ervaar, waardeur jy ook al worstel, die Here is daarbinne in. Hy is daar naby jou. Soos Jaïrus Hom gevind het, soos die vrou deur die skare gebeur het om by Hom uit te kom, só is die Here daar vir jou. Soek Hom en jy sal Hom vind.

2. In die tweede plek wys die twee verhale vir ons hoe geloof prakties werk.  Die klem lê in albei verhale op die vrou en die man se vertroue op Jesus, ten spyte van wat ander mense sou kon sê of doen aan of vir hulle.

Die vrou wou aan Jesus raak en sy het deur die skare gebeur tot sy dit reggekry het. En let op, die Here berispe haar nie vir haar konkrete manier om aan haar geloof uitdrukking te gee nie. Trouens, hierna sien ons dat talle mense presies doen wat sy doen. Hulle raak aan Jesus en word gesond.

Jaïrus daarenteen wou egter die aftog blaas, omdat sy dogtertjie dood is. Jesus bemoedig hom egter om nie in ongeloof te verval nie, maar steeds te bly glo. “Moenie ontsteld wees nie, glo net!”

Of jy nou ‘n meer konkrete manier van glo het, en óf jou geloof dreig om te vergaan, “Moenie ontsteld wees nie, glo net!”

God genees. Hy doen dit vandag nog. Ons mag vra. Totdat ons ‘n antwoord kry.

Maar, wat nou as die Here se antwoord nie genesing is nie?

3. Dan, in die derde plek, nooi die twee verhale ons steeds uit om te bly glo in die Een wat ons lewe in sy hande hou. Of ons lewe, genees word, uit ‘n ernstige siekbed opstaan en huis toe terugkeer, of nie. God is ons troos. In lewe en in sterwe.

Ek het al hierdie jaar die verhaal van Joni Eareckson Tada aangehaal. Ek wil dit vandag weer doen en verwys na ‘n gesprek met iemand wat haar van ‘n gebrek aan geloof beskuldig het, omdat sy steeds ‘n parapleeg gebly het. Haar verhaal help ons met die ander kant van geloof – om God te vertrou selfs al word jy nie genees nie:

Joni Eareckson Tada

Joni se verhaal (Joni. The unforgettable story of a young woman’s struggle against quadriplegia & depression) is vir baie van julle bekend. Sy het op 18 jarige ouderdom in ’n duik-ongeluk ’n kwadrupleeg geword (1967), en uiteindelik na 2 jaar se ontwrigtende worsteling, haar gebrek te bowe gekom en ’n loopbaan van skilder en skryf gevolg, met baie groot sukses. Sy is ’n gewilde spreker wat haar geloof in Jesus op innemende manier verwoord en baie mense aangeraak het met haar boodskap van hoop.

Sy is onlangs deur ‘n volgende fase van toetsing, met borskanker, waarna sy die boek – A Place of Healing: Wrestling with the mysteries of suffering, pain and God’s Sovereignty – geskryf het. Sy het verlede jaar ook nog deur Covid-19 gegaan, so sy is regtig deur die meule.

Sy vertel in hierdie nuwe boek van ’n jongman David wat haar een oggend na ’n diens bygedam het, vir haar gebid het, en toe verras was dat sy nie genees is nie. In die gesprek wat daarna gevolg het, het hy haar beskuldig dat sy sonde in haar lewe moes hê, anders sou sy gesond geword het. Joni het op haar kenmerkende innemende manier geantwoord, nee, dit is nie die geval nie.

Hy het egter volhard en toe vir haar van ongeloof beskuldig. Sy het geantwoord: dit kan wees, maar dan het dit met jou geloof te make en uit Lukas 5 aangehaal waar Jesus die verlamde man genees toe hy die geloof van sy vriende sien (vers 20)!

Inderdaad! Soos sy self sê:

“The focus is always on Jesus Christ and His will for those who suffer. To possess great faith is to believe in a great Savior, and Scripture welcomes the faith of anyone who believes in Jesus’ will to heal.”

Jou ervaring kan dus wees wat Joni ervaar het, en nie wat die vrou en Jaïrus in Markus 5 ervaar het nie. Dat jy gedoen het wat hulle gedoen het, en steeds nie gekry het waarvoor jy gevra het nie.

Dan is haar woord aan jou een wat jy moet omarm. Die fokus is altyd op Jesus Christus en sy wil vir hulle wat deur lyding gaan. ‘n Groot geloof is een wat aan Jesus vashou, maak nie saak wat sy wil vir jou lewe is nie. Dit is ‘n geloof wat absoluut bely dat Jesus genees, maar selfs wanneer Hy dit nie nou doen nie, vashou aan die finale genesing wat kom met die ewige lewe.

Gebed

Here, u het in Psalm 130 vir ons die hoop gebring. Ons kan saam met die pelgrims van ouds bely dat by die Here daar troue liefde is. Dat ons ons hoop kan vestig op U. Want by U is volkome bevryding. Dit is U wat Israel bevry het van hulle sondeskuld in ballingskap. U het hulle teruggebring in hulle eie land. U het genesing gebring vir hulle lyding. Daarom vertrou ons U vir U ingrype ook in ons lewe. Daar is niemand soos U nie. U is groot en genadig, goed en getrou. U sorg vir alles en almal, vol liefde en trou.

Dankoffer

EFT en Snapscan. Detail aan einde.

Slotlied

Vonkk 127 – By God is ek tevrede

Seën

 

     

View all posts in this series

Trackback from your site.

Leave a comment

Kommentaar en navrae

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Dankie!

  • Avatar

    mariette

    |

    Môre-môre!

    Dankie Chris. Die reeks dra baie praktiese wenke oor en is verrykende luistergenot vir elkeen. Elke dag iets nuuts om na uit te sien!

    Seën daarop toegebid
    Mariette

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Nee, Elmarie, jy hoef nie. Ons kan 250 mense akkommodeer. Skryf net in by die deure. Baie welkom.

  • Avatar

    Prof Elmarie Venter

    |

    More Ds Chris. Ons is 3 wat wil bywoon. Moet ons nog bespreek? Groete
    Elmarie

  • Vreesloos 1

    |

    […] Pinkster-reeks se titel vanjaar is “Vreesloos”– oor geloof in ‘n tyd waar ons bang […]

  • 21 Mei 2020

    |

    […] Pinkster-reeks se titel vanjaar is “Vreesloos”– oor geloof in ‘n tyd waar ons bang […]

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Ons het vir baie lank ‘n versorgingskommissie gehad vir leraars en personeellede. Dit was persone in die gemeente wat gereeld op informele wyse met elkeen van ons kontak gemaak het, belanggestel het in wat in ons lewens aangaan, uitgevra het na uitdagings, en vir ons gebid het. Dit was benewens die diensverhoudingekommissie wat meer op die formele dinge gekonsentreer het. Die inperking het ‘n bietjie daaraan verander, maar dit was ‘n baie goeie informele sisteem van versorging.

  • Avatar

    Des Sampson

    |

    Goeie dag. Ek is voorsitter van die DVK op Hartenbos. Wat doen julle mbt die versorging van predikante en kantoor personeel?

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Dit was Rethie van Niekerk se preek. Sy het in die preek verwys na die Hebreeuse woorde.

    Die eerste reël (seën) het drie woorde, dan vyf woorde, dan sewe woorde.  15, 20, 25 konsonante (onthou ʾ is ook ‘n konsonant).  11, 13, 16 lettergrepe (ek het weer getel, en dit is die korrekte aantal).

    24 yĕbārekkā yĕhwâh wĕyišmĕrekā
    25 yāʾēr yĕhwâh pānāyw ʾēlêykā wîyḥunekā
    26 yiśāʾ yĕhwâh pānāyw ʾēlêykā wĕyāśēm lĕkā šālôwm

    Hoop dit maak sin.

  • Avatar

    Annemarie vn Zyl

    |

    NUM 6; GOD SE SEEN, Goeiemore
    Ek het vanoggend hierdie Bybelstudie gedoen en dit was wonderlik. Die deel DIE TEKS verstaan ek egter glad nie. ek kry die aantal woorde reg maar glad nie die konsonante en lettergrepe nie. Ek verstaan ook nie die doel van hierdie deel nie, tensy jy wil bewys dat dit menslik amper onmoontlik is om die seen so te skryf, met die spesifieke aantal konsonante en lettergrepe sonder God se ingryping.. ek sal dit waardeer as iemand die deel in kort vir my verduidelik Baie dankie Annemarie van zyl.

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Dankie Corrie! Mooi jaar vir jou.

  • Avatar

    Corrie

    |

    Ds. Chris, soos altyd ń opbeurende en positiewe bydra deur U, vir die toepassing deur die kinders van God. Selfs hulle wat Hom nog nie as hul Saligmaker en Verlosser aangeneem het nie, sal baat by diė insetsel. Ek vra dat God se seën op U sal rus.

  • Avatar

    C Joubert

    |

    Inspirerende en besielende boodskappe

  • Avatar

    Sonja Lizemore

    |

    Beste Ds Chris.
    Net n GROOT DANKIE vir die liedere. Dit is baie spesiaal.

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Hi Carol, jy is reg, dit is ‘n kosbare insig! Ek het ook onlangs gepreek oor die inwonende Christus, as jy meer wil lees. Baie seën.

  • Avatar

    Carol

    |

    Baie dankie vir die eerste keer in my lewe besef ek nou wat my probleem is. Ek het nog nie vir JESUS in my ontdek nie dis geen wonder dat my verhouding met JESUS nêrens kom nie. Geen ontmoeting geen kennis of wysheid en GEEN GROEI.

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Hi Annelize – ons hou dienste in die kerkgebou (Louis Bothasingel 177, Somerstrand) om 09:00 Sondae tegelykertyd met ons Youtube erediens ook om 09:00. Ons het ook ‘n meer informele Youtube erediens – Pulse – wat van 11:00 af op ‘n Sondag beskikbaar is. Ter wille van die personeel se verlof sal ons DV van 27 Desember tot 24 Januarie nie fisiese eredienste in die kerk hê nie, net die Youtube erediens 09:00. Dié dienste word weer hervat van 31 Januarie af sowel as moontlik ‘n aanddiens om 18:30. As jy hier is, maak ‘n afspraak dat ons jou kan verwelkom. My sel is “nul agt twee 5749191”. Groete, Chris van Wyk.