Skip to main content

“Julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak.” – Johannes 8:31-38

‘n Hart wat eerlik is

Twee rye mans

21-martyrsDie nuusbeelde het ‘n mens tot stilstand geruk. Twee rye mans op die strand in Libië. Die een in swart geklee, navolgers van die Islamic State (IS). Die ander in oranje, soos gevangenes, navolgers van die Here Jesus Christus, Christene van die Koptiese kerk in Egipte wat in Libië gaan werk het om vir hulle families te sorg.

Die messe het geflits in die son, en 21 jong Koptiese Christene het die hoogste prys betaal vir hulle geloof. Op elkeen se lippe was die naam van die Here Jesus Christus soos hulle gesterf het: “Lord, Jesus Christ.”

Die reaksie van die Koptiese kerk? Binne 48 uur het hulle ‘n traktaatjie vrygestel en versprei in Egipte, in die hoop dat die boodskap ongelowiges bereik. Daarop kom hierdie gedig voor:

Two rows of men walked the shore of the sea,

On a day when the world’s tears would run free,

One a row of assassins, who thought they did right,

The other of innocents, true sons of the light,

One holding knives in hands held high,

The other with hands empty, defenseless and tied,

One row of slits to conceal glaring-dead eyes,

The other with living eyes raised to the skies,

One row stood steady, pall-bearers of death,

The other knelt ready, welcoming heaven’s breath,

One row spewed wretched, contemptible threats,

The other spread God-given peace and rest.

A Question …

Who fears the other?

The row in orange, watching paradise open?

Or the row in black, with minds evil and broken?

21 Martelare

Die Koptiese kerk het intussen die name van dié nuutste martelare vir hulle geloof vrygestel:

  1. Milad Makeen Zaky
    2. Abanub Ayad Atiya
    3. Maged Solaiman Shehata
    4. Yusuf Shukry Yunan
    5. Kirollos Shokry Fawzy
    6. Bishoy Astafanus Kamel
    7. Somaily Astafanus Kamel
    8. Malak Ibrahim Sinweet
    9. Tawadros Yusuf Tawadros
    10. Girgis Milad Sinweet
    11. Mina Fayez Aziz
    12. Hany Abdelmesih Salib
    13. Bishoy Adel Khalaf
    14. Samuel Alham Wilson
    15. Worker from Awr village
    16. Ezat Bishri Naseef
    17. Loqa Nagaty
    18. Gaber Munir Adly
    19. Esam Badir Samir
    20. Malak Farag Abram
    21. Sameh Salah Faruq

Openbaring 20

Baie mense het al hierop gereageer, ook ons eie kerk se Algemene Sinode Moderatuur. Selfs die pous van die Rooms-Katolieke kerk het die Koptiese Christene as martelare geeër. In my eie nadenke hieroor het die Here my gelei na die hoopvolle teks in Openbaring. Dit is die hoogste lof wat aan martelare gegee kan word:

Toe het ek trone gesien en die siele van die mense wat onthoof is omdat hulle aan die getuienis van Jesus en die woord van God vasgehou het. Hulle het op die trone gaan sit, en aan hulle is die bevoegdheid gegee om as regters op te tree.” (Openb. 20:4).

Die hoogste offer is getrouheid

Die punt van hulle verhaal, die nalatenskap van hulle lewe, is ook die punt van die teks waaroor ons vanaand gesels, Johannes se weergawe van Jesus se gesprek met die Fariseërs terwyl hy, ironies en heel betekenisvol, in die tempel in die vertrek waar die offergawekiste gestaan het, was.

Dáár, aan die einde van die Loofhuttefees, het Jesus sy boodskap dat Hy die Lig van die wêreld is, gelewer en in gesprek gegaan met hulle oor wat dit beteken om in sy lig te lewe.Bottom of Form

Jesus se boodskap was dat die hoogste offer wat ‘n mens kan bring, is om aan Hom getrou te bly, maak nie saak wat die uitdaging is nie, maak nie saak hoe klein of hoe groot dit is nie. Getrouheid aan Jesus, en aan sy woorde, is die mees uitstaande kenmerk van ’n dissipel van Jesus, selfs al sluit dit die hoogste offer, die dood, in.

Johannes 8:31-32

Kom ons lees net twee verse in Jesus se gesprek met hulle, vers 31-32 van Johannes 8:

As julle aan my woorde getrou bly, is julle waarlik my dissipels; en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak.

Van ‘n getuie word verwag dat hy eerlik sal wees

Ek weet nie wie van julle was al ‘n getuie in ‘n hofsaak nie. Maar dit is nogal ‘n storie. ‘n Student kom eenkeer na ons kinders kyk, en met die indraai in ons erf, ry iemand in haar vas van agter af, terwyl ek dit kan sien. Die ou was nie baie nugter nie, en die polisie het hom toe daar weg.

‘n Paar maande later moes ek toe in ‘n hofsaak as getuie optree. Ek sweer met my hand op die Bybel om die waarheid te praat, so help my God, en word gevra om te vertel wat ek gesien het: die waarheid, die hele waarheid, en niks anders as die waarheid nie.

Dit is nogal onthutsend om daar te staan. Ek het die beskuldigde só jammer gekry, nugter, verleë, maar in die moeilikheid. En wat ek sou sê oor sy nugterheid al dan nie, het ek geweet gaan nie sy verdediging goed doen nie. En ek moes dit doen, al het dit sy saak bemoeilik.

Maar daar was een punt waarop ek ingevra is, wat my eerlikheid getoets het. Sy verdediging het basies daarop neergekom het dat hy sê sy het nie haar flikkerlig aangesit nie, en hy het haar verbygesteek … op ‘n blinde hoogte met ‘n ononderbroke lyn wat verbysteek verbied.

Maar, die flikkerlig was nogal belangrik, nieteenstaande die feit of hy daar verby kon gaan of nie. Was dit aan, of was dit af? Was dit aan, het hy geen saak nie. Was dit af, kon hy moontlik daarop reken dat hy minder hoef te betaal.

Ek kon baie maklik daaroor ‘n leuen vertel het, maar ek het nie. Die versoeking was daar, dit het so vinnig gebeur dat ek seker tussen flikkers van die flikkerligte die een flikker kon misgekyk het. Maar, ek kon nie daaroor spekuleer nie. Ek moes net sê wat ek gesien het, niks minder nie, en niks meer nie.

Hoekom? Want my werk was nie om die waarheid uit te brei en te spekuleer daaroor óf om die waarheid aan te pas by die getuienis van ons babawagter wat getuig het dat die flikkerlig aan was nie. Ons het haar goed geken, sy was op die studentebestuur. Ek het haar pa, ook ‘n dominee, goed geken. Hulle was selfs van Wyks, kan jy nou meer!

My werk as getuie was egter om die waarheid te praat. Die aanklaer en die verdediging en die regter – hulle moes en kon interpreteer wat nou eintlik gebeur het. Hulle kon die feite met mekaar in verband probeer bring en ‘n beslissing maak oor wie die skuld vir die ongeluk dra.

Ek moet net soos in ‘n plat spieël sê wat ek gesien het, en nie die waarheid buig na dié of dáárdie kant toe nie. Anders sou ek droogmaak en die uitkoms skeeftrek en besoedel. En ek het nie die flikkerlig aan gesien nie … ek kon dit nie sê nie.

Julle sal my getuies wees

Dit is wat ook van ons as Christene verwag word. Ons is ook getuies, nie van ‘n ongeluk nie, maar van die grootste waarheid wat ooit hierdie wêreld getref het, die boodskap van die Here Jesus Christus.

En om aan Hom getrou te wees en te bly, is die belangrkste ding wat van ons gevra word. Ons is nie in ‘n hof nie, maar in die wêreld, en ons is die primêre getuies van die boodskap van die Here Jesus Christus.

Julle sal my getuies wees in Jerusalem, sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.” (Hand. 1:8).

Dit is die opdrag van die Here Jesus. Dit is waarvoor ons gekies is: om te getuig van wat ons gesien en gehoor het, om die waarheid van die Bybel, en die waarheid van die teenwoordigheid van die Here Jesus Christus vandag nog in ons lewe, en die waarheid van die krag van die Gees wat op soveel maniere vir ons begelei en ons gebede beantwoord, om daarvan te getuig.

Ons moet sê wat ons gehoor het. Ons moet sê wat ons gesien het. Ons moet sê wat ons ervaar het. Maar, ons getuienis moet die waarheid wees. Dit mag niks byvoeg en verseker ook niks wegneem van die boodskap van die Here Jesus nie. Ons taak is om die waarheid te praat, die volle waarheid, en niks anders as die waarheid nie. Punt.

Dié opdrag om ‘n getuie te wees, kom nooit tot ‘n einde nie. Ek kon dié dag in die hof weer uitstap en aangaan, die ou is uiteindelik skuldig bevind, en die student se eis om haar motor herstel te kry, het volledig geslaag. As Christen hou my verantwoordelikheid om ‘n getuie te wees egter nooit op nie. Nooit nie. Ons is die hele tyd “onder eed”, asof ons steeds in die getuiebank staan vir die Here Jesus Christus.

‘n Hart wat aan God verbind is

Die getuienis begin in die eerste plek in ‘n verhouding met die Here Jesus. Ons geloof in Hom is baie kosbaar, en dit moet bó alles vars en lewend gehou word.

Nou, die wonder is, dat ons taak nie is om die geloof self te skep nie. God gee geloof waar ons in sy teenwoordigheid is. Ons taak is dus om net te bly dáár waar die Here is. En ons vind Hom in die Bybel. Ons vind Hom in gemeenskap met ander gelowiges. Ons vind Hom hier in die kerk waar ons Hom loof en aanbid. Ons vind Hom in die klas en in die werk waar Hy ons insig gee en begelei in die keuses wat ons maak. Ons vind Hom in die natuur waar Hy ons verstom met hoe Hy alles laat saamwerk.

In dié week wil ek jou uitnooi om ‘n slag in jou studies te kyk na dinge van God wat jy raaksien. In die wyse waarop goed in mekaar steek; in die wyse waarop God jou begelei; In die wyse waarop dinge ten goede meewerk; in die hulp wat jy van onverwagse oorde af ontvang.

Elke oomblik van elke dag is swanger met die belofte van God se teenwoordigheid – as ons maar net ons oë daarvoor oopmaak. Dán word die vonk van geloof in ons aangesteek, en het ons ook die stof waarvan ‘n getuienis gemaak is. Getuienis is immers net om iets te vertel van wat jy van God ervaar of wat jy van God hoor in die Bybel óf wat jy van God se werk in die wêreld sien.

‘n Hart wat getrou is aan God se woorde

‘n Hart wat aan God verbind is, is daarom in die tweede plek ook bereid om aan God se woorde getrou te bly. Dit is dán wat ons die waarheid ken, en die vreugde sal ervaar dat die waarheid ons vry maak, wanneer ons doen wat God van ons vra.

Ek ervaar dat die daily examen – die daaglikse ondersoek – my geweldig baie help om aan God se woorde getrou te bly. Dit is ‘n eenvoudige oefening om die vorige dag se gebeure te deurdink en dan vir jou net drie vrae te vra.

  1. Wat was goed?
  2. Wat was sleg?
  3. Waar het ek die Here ervaar?

Want, as jy dit vir 5 minute elke dag doen, miskien dit in ‘n joernaal neerskryf, sodat jy daarheen kan terugblaai en patrone en belangrike gebeurtenisse kan begin raaksien, dit is dan dat ‘n mens God se woorde aan jou begin herken.

Dit is dan wanneer ons ook aan dié woorde kan getrou raak – woorde wat nie net deur die Bybel na ons toe kom nie, hoewel dit die belangrikste woorde is. Hierdie woorde van God is ook woorde wat na ons toe kom wanneer ons die ervarings wat ons van God in ons lewe het, begin raaksien, daaroor nadink, daarvolgens begin lewe, daaraan getrou begin word. Dit is die essensie van ‘n lewe saam met God.

Die Bybel bly die maatstaf waaraan ons ons insigte moet meet, hierdie daaglikse woorde van God. Maar die dinamiek van God se daaglikse begeleiding deur sy Gees, deur die insigte en gewaarwordinge soos ons dit in gebed met die Here deurwerk, dit is die dinge wat ‘n diepte en dinamiek aan ons geestelike lewe gee.

En aan dié woorde moet ons getrou bly.

‘n Hart wat eerlik is

Die Here Jesus sê in die derde plek hier, dán ons sal Hom ken, Hy wat die waarheid is, en as ons getrou bly aan sy woorde aan ons, sal dié waarheid ons vrymaak.

Dit is ‘n wonderlike bevrydende boodskap – waar ons doen wat God sê, waar ons getrou is aan wat Hy wys, dáár word ons vry om God te dien met alles wat in ons is.

Waarvan raak ons vry?

  1. Van die slawerny van ander se woorde.
  2. Van die slawerny aan ons eie persepsies oor onsself.
  3. Van die behoefte om ons beter voor te doen as wat ons is.

As ek bewustelik begin leef van dít wat God vir my en van my sê, raak ek vry van wat ek in my eie selfgesprek vir myself sê, en veral ook vry van wat ander van my sê. Ek kan eerlik en openlik my geloof in God bely en my getrouheid aan sy woorde in alle situasies uitleef. Presies wat van ‘n getuie verwag word.

Maar, dit beteken dat ons eerlik moet wees, soos wat God eerlik is, soos Hy by die waarheid bly.

Max Lucado vertel van die ou wat sy vrou van oorsee af gebel het en gevra het hoe dit met sy kat gaan. “Dood”, het sy geantwoord. Daar was ‘n lang stilte en toe sê hy, “Liefling, moenie so eerlik wees nie. Jy kon die nuus mos stadig gebreek het vir my.

Hoe bedoel jy?” vra sy. “Wel, jy kon my vertel het die kat is op die dak. As ek jou van Parys af gebel het, kon jy gesê het die kat is ‘n bietjie lui. Van London af kon jy gesê het, die kat is siek. Van New York af kon jy gesê het die kat is by die veearts. En terug by die huis kon jy gesê het die kat is dood.” sê hy.

Ok, sal so doen”, sê sy. “By the way, hoe gaan dit met ma”, vra hy. Daar was weer ‘n lang stilte. Toe sê sy: “Ma is op die dak …

Ons moet sulke ompaaie vermy, want uiteindelik moet die waarheid uit. Soos die man wat in China deel van ‘n orkes was, maar nie ‘n noot kon speel met sy fluit nie. Hy sou die fluit teen sy mond hou, en maak of hy speel, maar nie ‘n geluid maak nie. Hy het ‘n salaris gekry en heel gemaklik gelewe. Tot die keiser gevra het dat elkeen in die orkes ‘n solo moet speel.

Die ou was in só ‘n penarie dat hy probeer het om siek te speel, om los te kom van dié opdrag. Die dokter was egter nie ‘n fool nie, en het geweier om hom af te boek. Op die dag van sy solo uitvoering het hy gif gedrink en selfdood gepleeg.

Dit is waar die idioom vandaan kom: “Facing the music!” as verduideliking van wat dié dag gebeur het.

Ons getrouheid aan God beteken ook dat ons bereid sal wees: “To face the music.” Dit is net wanneer ons die waarheid vanuit ‘n eerlike hart praat dat ons getroue getuies van die Here Jesus kan wees, soos die 21 martelare vir hulle geloof op die strand in Libië:

A Question …

Who fears the other?

The row in orange, watching paradise open?

Or the row in black, with minds evil and broken?

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.