Numeri 11 – Gulsigheid laat jou verstik aan God se goedheid

Die towerbeker

Daar is ‘n donker storie van ‘n man wat ‘n towerbeker gevind het.  Elke keer as hy in die beker gehuil het, het sy trane verander in pêrels.  Hy was egter nog altyd ‘n gelukkige man, al was hy arm, en het baie min gehuil.  Daarom het hy maniere gekry waarop hy hartseer kon word, sodat sy trane hom ryk kon maak.  Soos die pêrels opgehoop het, het sy gulsigheid gegroei.  Die storie eindig met die man wat op ‘n berg pêrels sit, mes in die hand, hulpeloos besig om te huil in die towerbeker met sy geliefde vrou se dooie liggaam in sy arms.  (Khaled Hosseini in The Kite Runner).

Gulsigheid ken geen perke nie

Gulsigheid ken geen perke nie.  Gulsigheid is ‘n groot “onbeskeie begerigheid”.  Die HAT beskryf mense wat aan gulsigheid lei as gulsaards, gulsbekke, gulssakke, vrate.  Dit is mense met ‘n “onversadigbare lus vir vleis”, soos Numeri dit uitspel.

Iemand het gesê: “Gierigheid is ‘n vet duiwel met ‘n klein mondjie.  Niks wat jy hom voer, is ooit genoeg nie.”  (Janwillem van de Wetering).  Dieselfde geld gulsigheid.

En dit is nie iets waaraan net arm mense ly nie.  Soos die profeet sê: “’n Hooghartige mens wat hom deur sy rykdom laat mislei, sal nie in sy doel slaag nie, al is hy so gulsig soos die doderyk, so onversadigbaar soos die dood.” (Habakuk 2:5).

HIER VOLG DIE HELE EREDIENS:

Verwelkoming

RUS

Toetrede

Lied 154:1 Kom nou tesaam, laat ons vergader, één as sy Kerk, één in sy Naam – sit

Votum en Seëngroet

Lofsang

Lied 475 Allerhoogste Hemelvader, lofgesange prys u Naam – staan

Toewyding

Psalm 78:1-8

Luister na wat ek jou leer, my volk, luister aandagtig na wat ek sê.  Ek gaan ’n gedig voordra, ek gaan julle inlei in geheimenisse uit die verre verlede.  Wat ons gehoor het en wat ons weet, wat ons vaders ons vertel het, sal ons vir ons kinders nie verswyg nie.  Ons sal aan die volgende geslag vertel van die roemryke dade van die Here en van sy mag, van die wonderdade wat Hy gedoen het.  Hy het aan Jakob sy voorskrifte gegee, aan Israel sy onderwysing.  Hy het ons voorvaders beveel om dit aan hulle kinders bekend te maak, sodat die volgende geslag dit kan weet en die kinders wat nog gebore sal word, dit weer aan húlle kinders kan vertel.  So sal hulle dan op God vertrou en nie vergeet wat Hy gedoen het nie, maar gehoorsaam wees aan wat Hy beveel het en nie wees soos die voorvaders nie.  Dié was ’n opstandige en ongehoorsame volk, ’n onbestendige geslag wat nie aan God getrou was nie.

Lied 240:2 Jesus, al is ons ontrou – U bly altyddeur getrou! – sit

Aanbidding

Lied 454 Vader, ons eer U, ons loof U, ons aanbid U – sit

HOOR

Inleiding – Kindertyd

Was julle al in ‘n woestyn?  Hoe is dit daar?  Warm.  Droog.  Min bome en gras.  Min water en kos.

Die Here het eenmaal sy mense deur die woestyn gevat.  Hy wou hulle bring na ‘n mooi land waar daar genoeg van alles was.

Maar die mense in die woestyn het oor hul harde lewe gebrom. Soos lees ons in Numeri 11 in die Bybel.  God het gehoor en kwaad geraak. Toe het daar ‘n groot vuur gekom in hulle kamp. Die mense het om hulp geroep tot Moses. Moses het tot God gebid en die vuur het doodgegaan.

Van die mense was gou daarna egter baie lus vir vleis. “Ons het vis in Egipte geëet.  Ons kon dit self vang! Maar niks proe goed hier in die woestyn nie. Al wat ons kry is manna, manna, manna.

Weet julle wat is manna?

Manna was soos klein saadjies wat deurskynend wit was. Dit het buite op die grond geval deur die nag.  Die mense het dit opgetel en dit tussen klippe gemaal. Dan het dit soos meel gelyk.  Hulle het roosterkoeke of plaatkoekies daarvan gebak. Dit het ‘n soet smaak gehad. Jy hoef nie eers suiker by te gegooi het nie.  En dit was verniet!

Moses het die gekerm gehoor. God het dit ook gehoor. Hierdie keer was dit Moses wat kwaad geword het.  Moses het vir God gesê: “Hoekom behandel U my so? Wat het ek ooit aan U gedoen om dit te verdien? Waar moet ek vleis kry vir al hierdie mense.

God sê toe vir Moses: “Kry sewentig leiers. Bring hulle na My toe. Ek sal van die Gees wat op jou is, neem en dit op hulle plaas. Hulle sal dan vir jou help.  Jy hoef nie alles alleen te dra nie.

Sê vir die mense: Maak gereed.  Môre gaan julle vleis eet. Julle gaan nie net vir ‘n dag lank vleis hê nie, ook nie vir twee dae of vir vyf of tien of twintig nie, maar vir ‘n hele maand. Julle gaan vleis eet totdat dit by julle neus uitkom. Julle glo my mos nie dat ek vir julle sal sorg nie.”

Moses sê toe: “Hier is baie mense.  Hoe gaan U vir hulle elke dag vir ‘n maand lank vleis gee?

God sê toe vir Moses: “So, jy dink ek kan nie vir julle sorg nie? Jy sal gou genoeg sien of dit wat ek sê gebeur of nie.

Moses het toe vir die volk vertel wat God gesê het. Hy het sewentig van die leiers na God toe gebring. God het van die Gees wat op Moses was, geneem en dit op die sewentig leiers laat kom.

Toe hulle terugkom in die kamp kom daar ‘n groot wind. ‘n Groot swerm kwartels het van die see af in die kamp ingewaai.

Weet julle wat is kwartels?

Kwartels is soos klein hoendertjies.  Maar hulle kan baie beter vlieg as hoenders.  Daar was so baie dat jy net kwartels gesien het waar jy ook al kyk. Daardie dag het die mense ‘n groot klomp kwartels gevang. Selfs die stadigste mens onder hulle het emmers vol kwartels gevang. Hulle het die kwartels uitgedroog om dit te braai of te kook.

Maar die gulsige mense wat só gekla het, hulle het gestik van al die kwartels.  Sommige het te veel geëet en is dood van al die kwartels wat hulle geëet het.  Só het die Here hulle gestraf omdat hulle nie tevrede was met wat Hy vir hulle gegee het nie.

Wat leer die Here vir ons?

  1. God kan vir ons kan gee wat ons nodig het. Ons kan Hom altyd daarvoor vertrou.
  2. Ons moet tevrede wees met wat die Here vir ons gee. Ons mag enigiets vra, maar ons moet tevrede wees met wat Hy vir ons gee.

Kom ons sê dankie vir die Here vir wat Hy vir ons gee.

Lied 552 Liewe Vader, ek sê dankie vir die wêreld rondom my – sit

Gebed

Skriflesing 

Numeri 11:1-23; 31-35

1Dit het sleg gegaan met die volk, en hulle het die Here daaroor verwyt. Toe die Here dit hoor, het Hy kwaad geword en vuur onder hulle in gestuur. Dit het ’n deel van die kamp verbrand. 2Die volk het hulle nood by Moses gekla, en hy het tot die Here gebid, en die vuur het doodgegaan. 3Hulle het die plek Tabera genoem, omdat die vuur van die Here onder hulle gebrand het.

4Die mense van ander afkoms wat saam met die Israeliete getrek het, het ’n onweerstaanbare lus vir vleis gekry, en toe het die Israeliete self ook begin kla en gesê: “As ons tog net vleis gehad het om te eet! 5Ons onthou nog die vis wat ons in Egipte verniet kon eet, ook die komkommers, waatlemoene, prei, uie en knoffel. 6Maar nou wurg ons. Daar is niks behalwe hierdie manna voor ons nie!”

7Die manna was soos koljandersaad en het gelyk soos balsemgom. 8Die volk het die manna oral vandaan bymekaargemaak, dit op maalklippe gemaal of in vysels gestamp en dan in panne gebak of roosterkoeke daarvan gemaak. Dit het soos oliekoeke gesmaak.

9Die manna het snags saam met die dou by die kamp geval.

10Moses het die volk hoor kla, elke familie by die ingang van sy tent. Die Here het hieroor baie kwaad geword, en dit was ook verkeerd in Moses se oë. 11Moses sê toe vir die Here: “Waarom behandel U my so sleg, waarom is U my nie goedgesind nie, dat U die verantwoordelikheid vir hierdie hele volk op my gelaai het? 12Het ek dan swanger geword en hierdie hele volk in die wêreld gebring, dat U vir my sê: ‘Dra hulle aan jou bors soos ’n oppasser met ’n suigeling doen, en bring hulle na die land toe wat Ek met ’n eed aan hulle voorvaders beloof het’? 13Waar sal ek die vleis vandaan haal om aan hierdie hele volk te gee, hulle wat by my kla en sê: ‘Gee vir ons vleis dat ons kan eet!’14Ek sien nie langer kans om hierdie hele volk alleen te dra nie, want dit is te swaar vir my. 15As U so met my wil maak, kan U my gerus maar om die lewe bring as U my goedgesind is. Hierdie slegte behandeling kan ek nie meer verduur nie.”

16Die Here het vir Moses gesê: “Bring vir My sewentig van Israel se leiers, mense van wie jy weet dat hulle leiers en ampsdraers van die volk is. Neem hulle na die tent van ontmoeting toe en laat hulle daar by jou staan. 17Ek sal dan afkom en daar met jou praat, en Ek sal van die Gees wat op jou is, op hulle laat kom. Hulle sal dan saam met jou die verantwoordelikheid vir die volk dra, sodat jy dit nie alleen hoef te doen nie. 18Vir die volk moet jy sê: Reinig julle vir môreoggend, dan sal julle vleis eet. Die Here het gehoor hoe julle kla en sê: ‘As ons tog net vleis gehad het om te eet; in Egipte was dit vir ons goed!’ Die Here sal vir julle vleis gee, en julle sal eet! 19Julle sal nie net een dag of twee of vyf of tien of twintig dae eet nie, 20maar ’n hele maand lank, totdat julle daarvan naar word en daarvan walg, omdat julle die Here wat by julle is, getart het, en Hom verwyt het met die woorde: Waarom is ons tog uit Egipte weg?”

21Moses het toe gesê: “Hier is ek tussen ses honderd duisend mense, almal te voet, en U sê U sal vir hulle vleis gee, sodat hulle ’n hele maand lank daarvan kan eet! 22Sal daar genoeg skape en beeste vir hulle geslag kan word? Sal hulle genoeg hê as al die vis in die see vir hulle gevang word?”

23Maar die Here het vir Moses gesê: “Dink jy Ek het nie die mag nie? Jy sal nou self sien of my woord bewaarheid word of nie.”

24Moses het vir die volk gaan vertel wat die Here gesê het. Hy het sewentig leiers van die volk bymekaar laat kom en hulle rondom die tent laat staan. 25Die Here het toe in die wolk afgekom, met Moses gepraat en ’n deel van die Gees wat op Moses was, op die sewentig laat kom. Toe die Gees op hulle kom, het hulle as profete begin optree, maar daarna nie meer nie.

26Twee van die manne onder dié wat opgeskryf was, het nie na die tent toe uitgegaan nie, maar het in die kamp agtergebly. Die een se naam was Eldad en die ander s’n Medad. Terwyl die Gees op hulle gerus het, het hulle in die kamp as profete opgetree.

27’n Jongman het toe gehardloop en vir Moses gaan vertel: “Eldad en Medad tree as profete op in die kamp!”

28Josua seun van Nun, van jongs af Moses se assistent, het gesê: “Laat hulle tog ophou, Meneer!”

29Maar Moses sê vir hom: “Bekommer jy jou oor my posisie? Ek sou wou wens dat die hele volk van die Here profete was, en dat Hy sy Gees op almal mag lê.”

30Daarna het Moses en die leiers na die kamp toe teruggegaan.

31Die Here het toe ’n wind gestuur en dit het kwartels van die see se kant af aangebring en hulle rondom die kamp laat val, omtrent ’n dagreis ver na alle kante toe en omtrent ’n meter diep op die grond. 32Die volk het daardie hele dag en die hele nag en ook die volgende dag uitgegaan en kwartels bymekaargemaak. Elkeen het minstens ’n ton vleis bymekaargemaak en dit rondom die kamp oopgegooi. 33Die vleis was nog tussen hulle tande, hulle het nog nie begin kou nie, toe ontvlam die toorn van die Here teen die volk. Hy het baie van hulle om die lewe gebring. 34Hulle het dié plek Kibrot-Taäwa genoem, omdat hulle die gulsige mense daar begrawe het. 35Van Kibrot-Taäwa af het die volk na Gaserot toe weggetrek en daar gebly.”

Preek

Gulsigheid laat jou verstik aan God se goedheid

Die towerbeker

Daar is ‘n donker storie van ‘n man wat ‘n towerbeker gevind het.  Elke keer as hy in die beker gehuil het, het sy trane verander in pêrels.  Hy was egter nog altyd ‘n gelukkige man, al was hy arm, en het baie min gehuil.  Daarom het hy maniere gekry waarop hy hartseer kon word, sodat sy trane hom ryk kon maak.  Soos die pêrels opgehoop het, het sy gulsigheid gegroei.  Die storie eindig met die man wat op ‘n berg pêrels sit, mes in die hand, hulpeloos besig om te huil in die towerbeker met sy geliefde vrou se dooie liggaam in sy arms.  (Khaled Hosseini in The Kite Runner).

Gulsigheid ken geen perke nie

Gulsigheid ken geen perke nie.  Gulsigheid is ‘n groot “onbeskeie begerigheid”.  Die HAT beskryf mense wat aan gulsigheid lei as gulsaards, gulsbekke, gulssakke, vrate.  Dit is mense met ‘n “onversadigbare lus vir vleis”, soos Numeri dit uitspel.

Iemand het gesê: “Gierigheid is ‘n vet duiwel met ‘n klein mondjie.  Niks wat jy hom voer, is ooit genoeg nie.”  (Janwillem van de Wetering).  Dieselfde geld gulsigheid.

En dit is nie iets waaraan net arm mense ly nie.  Soos die profeet sê: “’n Hooghartige mens wat hom deur sy rykdom laat mislei, sal nie in sy doel slaag nie, al is hy so gulsig soos die doderyk, so onversadigbaar soos die dood.” (Habakuk 2:5).

God se voorsiening was nie meer genoeg nie

Ons sien hierdie gulsigheid in die verhaal in Numeri 11 waar die volk kla oor hulle swaarkry in die woestyn.  Hierdie keer na hulle nog maar net drie dae op die finale been van hulle reis van Sinai na die beloofde land is.  God se voorsiening was net nie meer goed genoeg nie.

Die manna was wit soos koljandersaad en effens deurskynend soos balsemgom of –hars (Commiphora africana).  Dit het soos heuningkoek gesmaak, soos ons al in Eksodus 16 gelees het.  Hier word verder gesê dat die verwerkte produk – plaatkoekies of roosterkoeke – soos oliekoeke gesmaak het.  Dit was dus ‘n veelsydige geurige voedsel.

Die punt is, soos Sokrates ook al gesê het: “Hy wat nie tevrede is met wat hy het nie, sal nooit tevrede wees met wat hy wil hê nie.”  As jy jou voet op die pad van begeerte sit, sal niks ooit weer goed genoeg wees nie.

Die Israeliete se klagtes was ook duidelik nie verwagtings van God se voorsiening nie, maar verwyte wat hulle verset teen sy pad met hulle blootgelê het.  Hulle het nie gekla in die hoop dat dinge verbeter nie.  Hulle het gekla om uit die verhouding met God te kom.  Hulle wou nie meer met Hom die pad stap nie.

Hulle het terugverlang na Egipte

Die dieper probleem was dus nie die behoefte aan afwisseling en proteïne nie, maar die feit dat hulle terugverlang het na Egipte wat gelei het daartoe dat hulle die voorsiening van die Here verontagsaam het.  In plaas daarvan om hulle behoeftes aan Hom bekend te maak, het hulle in hulle gedagtes van Hom afstand gedoen en in opstand gekom teen die uitdagings van die reis wat hulle met God onderneem het.

Hulle wou nie uit God se goedheid lewe nie, eerder terugkeer na dit wat agter hulle gelê het.  Hulle was klakouse, mense wat: “ontevrede was met hulle lot” en net geleef het: “volgens hulle eie begeertes” (Judas 16).

Hulle klagtes verraai ‘n gulsigheid na wat agter lê, na die genot van Egipte.  Dat Egipte hulle verslaaf het, kon hulle nie skeel nie.  Dat Egipte hulle vryheid weggeneem het, het nie saak gemaak nie.  As hulle maar net weer ‘n stukkie vleis kon eet …

Waarmee hulle nie rekening gehou het nie is dat God oorvloedig kán voorsien, as ‘n mens Hom net sou vra, dat Hy soveel kon gee dat hulle daaraan kon verstik …

Daarom dat die Psalmis sê oor hierdie verhaal in Numeri 11: “Maar hulle gulsigheid het geen perke geken nie. Hulle kos was nog so in hulle mond, toe tref die toorn van God hulle.” (Psalm 78:30-31a).

Die Here troef hulle gulsigheid met dodelike oordaad

‘n Massiewe swerm kwartels wat deur ‘n wind van die see se kant af aangewaai is, voorsien die volk van ‘n oormaat vleis, een meter dik, na alle kante toe so ver soos die oog kan sien, maar troef terselfdertyd die gulsige verwytende lede van die volk met dodelike oordaad.  Dit lei ons af uit die feit dat dit net die “gulsige mense” is wat begrawe word (vers 37).  Die Here wag nie eers dat hulle naar word van te veel eet nie, maar bring hulle om die lewe.

Die Hebreërskrywer verwys na hierdie tipe verset, waar jy terugverlang na jou ou sondige lewe, na dít wat jy gehad het – al het dit jou verslaaf, al het dit jou in ‘n tronk van jou eie begeertes toegesluit.  En hy beskryf God op soortgelyke wyse as ‘n “verterende vuur”.  As jy weer jou ou sondige lewe opsoek, kan die vuur van die Here jou tref …

Daar rus, sê hy, ‘n groot verantwoordelikheid op die geloofsgemeenskap om te: “Sorg dat niemand van die genade van God afvallig word nie. Sorg dat daar nie verbittering soos ’n wortel uitspruit, moeilikheid veroorsaak en baie besmet nie.” (Hebr. 12:15).  Ons moet almal daarop fokus om in alle omstandighede dankbaar te wees: “Laat ons God dankbaar dien met eerbied en ontsag, soos Hy dit wil, want ons God is ’n verterende vuur.” (Hebr. 12:28b-29). En mekaar help as ons sukkel.

Wat leer die Bybel ons oor God se voorsienigheid?

Dit is duidelik uit die Bybel dat God voorsien op wonderlike maniere.  God is goed.  Hy gee in oorvloed.  Hy gee vir ons wat ons nodig het.  Regdeur die Bybel kan ons dit agterkom. Hy gee ook leiers en gawes soos dit Hom behaag. Rethie gaan volgende week uitbrei oor die Gees wat leiers bemagtig en ons intrek in sy bedoeling met ons deur die gawes wat Hy vir almal van ons in oorvloed uitdeel.

Ek wil dit só opsom:

God laat niks aan toeval of geluk oor nie.  Hy onderhou en regeer my deur sy ewige raad en voorsienigheid om volgens sy heilige wil te floreer.  Niks gebeur in hierdie wêreld sonder sy beskikking nie. Ek kan in alle teëspoed geduldig en in alle voorspoed dankbaar wees.

Dit is wat Jesus ons leer in die Bergrede:

Daarom sê Ek vir julle, hou op om julle te bekommer oor julle daaglikse lewe – wat julle sal eet of drink; of oor julle liggame – wat julle sal aantrek. Is die lewe nie baie belangriker as kos nie? En is ’n mens se liggaam nie baie belangriker as klere nie? Hou die voëls wat daar vlieg dop. Hulle saai nie, hulle oes nie, en hulle maak nie in skure bymekaar nie. Dit is onnodig, want julle hemelse Vader gee aan hulle hulle kos. Besef julle dan nie dat julle vir God nog baie kosbaarder is as hulle nie?” (Matteus 6:25-26).

Dit is wat Paulus ons leer in sy diepsinnige lering van Romeine 8:

En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe.” (Romeine 8:28).

Soos Jesus op ‘n ander plek in Matteus sê:

Julle weet dat twee mossies vir ’n skamele sent verkoop word. Tog beland nie een van hulle hulpeloos op die grond sonder dat julle Vader daarby betrokke is nie. Wat julle betref, is elke haar op julle kop getel. Wees daarom nie bang nie. Julle is vir Hom meer werd as ’n hele swerm mossies.

Maar daar is ‘n voorwaarde aan gekoppel:

As julle My openlik erken voor die mense, sal Ek julle ook openlik erken voor my hemelse Vader. Maar as julle My verloën voor die mense, sal Ek julle ook verloën voor my hemelse Vader.” (Matteus 10:29-32).

Dit beteken:

Ons moet te alle tye en in alle omstandighede versigtig wees vir gulsigheid wat ons kan verlei om ongehoorsaam aan God te word.

Paulus waarsku die geloofsgemeenskap in 1 Korintiërs 10:1-22 dat hulle hulle nie: “deur sondige begeertes moet laat dryf nie” soos in hierdie verhaal van Numeri 11 waar die lus vir vleis Israel by Kibrot-Taäwa tot opstand teen God verlei het.   Israel se sonde in die woestyn was geleë in die feit dat hulle iets anders wou hê as wat God vir hulle voorsien het.

Hierdie tipe gulsigheid sou weer kop uitsteek in die reis deur die woestyn in die verdere konflik oor brood en water (Numeri 21:5) en hulle uiteindelik verlei tot afgodery en onsedelikheid (Numeri 25:2) weens Bileam se raad aan koning Balak van Moab (Num. 31:16).  Dit is wat met slegte begeertes gebeur.  Trouens, dieselfde het vroeër gebeur by Sinai toe Aäron die volk se begeertes met ‘n goue kalf bevredig het (Eks. 32).  Dit het hulle tot afgodery en onsedelikheid verlei.

As slegte begeertes toegelaat word om grond te vat in ‘n mens se lewe, selfs al is dit net ‘n ongelukkigheid met God se voorsiening, maak dit jou ‘n teiken vir versoekings – die “uitnodigings” van die Moabitiese vrouens (Num. 25:2) – en kan dit lei tot afgodery en onsedelikheid en die dood.

God gee vir ons alles wat ons nodig het om Hom te dien

Ons Vader het alles geskep en: “onderhou en regeer hulle almal nou nog deur sy ewige voorsienigheid en oneindige krag om die mens te dien, sodat die mens sy God kan dien.” (Nederlandse Geloofsbelydenis [NGB] 12).

Ons mag glo: “dat die goeie God, nadat Hy alle dinge geskep het, dit nie laat vaar of aan die toeval of geluk oorgegee het nie maar dit volgens sy heilige wil so bestuur en regeer dat daar in hierdie wêreld niks sonder sy beskikking gebeur nie.” (NGB 13).

Ons mag: “op Hom vertrou … so dat ons nie daaraan twyfel dat Hy ons met alles wat vir liggaam en siel nodig is, sal versorg nie. Hy sal ook al die kwaad wat Hy in hierdie jammerdal oor ons beskik, tot ons beswil verander, omdat Hy dit as ’n almagtige God kan en ook as ’n getroue Vader wil doen.”  (Heidelbergse Kategismus [HK] 26).

Ek sluit af met die twee gedeeltes uit die Heidelbergse Kategismus oor God se voorsienigheid vir jou troos deur hierdie week:

Deur die almagtige en oralteenwoordige krag van God onderhou Hy hemel en aarde en al die skepsels asof met sy hand en regeer hulle so dat lower en gras, reën en droogte, vrugbare en onvrugbare jare, voedsel en drank, gesondheid en siekte, rykdom en armoede en alles, ons nie per toeval nie, maar uit sy Vaderhand toekom.”  (HK 27).

Daarom kan ons in alle teëspoed geduldig en in voorspoed dankbaar wees. Verder het ons ‘n vaste vertroue vir die toekoms in ons getroue God en Vader dat geen skepsel ons van sy liefde sal skei nie, aangesien alle skepsels so in sy hand is dat hulle sonder sy wil nie kan roer of beweeg nie.” (HK 28).

LEEF

Gebed

Dankoffer

Slotsang

Lied 527 Die werk behoort aan U, ons Heer – die werk waarin ons staan – staan

Seën

Numeri 6:24-26

Die Here seën jou en beskerm jou.

Die Here se gesig skyn oor jou en Hy is jou genadig.

Die Here lig sy gesig op na jou en Hy gee aan jou vrede.

Respons

Vonkk 144 Vrede van God, die vrede van God, die vrede van God is met jou – staan

     

View all posts in this series

Trackback from your site.

Leave a comment