Skip to main content

GAWES – Hebreërs 2:1-4

mailchimpSteven Covey het ’n besondere gawe gehad om ingewikkelde en komplekse dinge op ’n baie eenvoudige manier te kommunikeer.  Die gewoontes van effektiewe mense het hy só prakties uitgespel in sy boek The Seven Habits of Highly Effective People: 1) Om pro-aktief te wees, 2) om met die uiteinde in gedagte te begin, 3) om eerste dinge eerste te plaas, 4) om wen-wen te dink, 5) om eers te probeer verstaan, voor jy self om begrip vra, 6) om op sinergie te fokus, 7) om aandag te gee aan jouself (sharpening the saw).

Die derde aspek is ter sprake in ons oorweging van hierdie boek Hebreërs.  Steven Covey sou in die lig van sy derde gewoonte dit soos volg uitgespel het: “The main thing is to keep the main thing the main thing.

Ons moet aandag gee aan Jesus

Want, dit is wat hierdie geestelike leier van die gemeente in Rome doen.  Hy bemoedig die gemeente met die oproep dat die hoofsaak is om die hoofsaak die hoofsaak te maak, en dit is Jesus.  Hy sê hier dat ons doelbewus prioriteit moet gee aan Jesus en alles wat ons van Hom gehoor het.  Ons lewe moet draai om die hoofsaak, en die hoofsaak is Jesus.

Hoekom?  Want, dit is die enigste waarborg dat ons nie sal wegdryf van God af nie.  Die doop kan dit nie vir ons doen nie, soos hy later sal argumenteer  Die gawes van die Gees kan dit nie vir ons doen nie, soos hy in vers 4 argumenteer.  Net Jesus self kan ons verlos en in die teenwoordigheid van God hou.

HIER VOLG DIE HELE EREDIENS:

Vooraf

Vonkk 259  “Hemelse Vader” Koor

Verwelkoming

Verwelkomingskommissie – Jannie du Preez en Suzette Blignault

Toetrede

Lied 305 1,2  “Aanbiddelike God, drie-enig, neem aan die dank wat ons U bring”   (staan)

Votum en Seëngroet

Lofsang

Lied 168 1,3  “Heilige Jesus”   (staan)

Flam 387  “Hier is u kerk”  2x    (staan)

Jan de Wet  “Laat julle liggies skyn” 3x   (sit)

Kindertyd

Aanbidding

Lied 205 1,2  “Bring lof aan die Vader, verheerlik die Seun “   (staan)

 Lied 442 1,4 almal, 2,3 koor  “Gees van God”  (sit)

Gebed

Skriflesing

Hebreërs 2:1-4 (lees gerus die hele gedeelte tot by 3:11)

Die brief-boodskap aan die Hebreërs word geskrywe aan huisgemeentes in ’n stad in Italië, waarskynlik Rome.  Dit is ’n “Boodskap van aansporing” (hfst. 13:22) aan ’n diverse groep gelowiges wat onder baie druk verkeer.

Hierdie gelowiges het tot bekering gekom deur die werk van eerstehandse getuies van die boodskap van Jesus (hfst. 2:3;13:7).  Hoewel hierdie gelowiges die verligting van die Heilige Gees en die “goeie woord van God gesmaak het” (hfst. 6:4-5), het hulle ironies genoeg “traag geword om te luister” (hfst. 5:11) en onder andere ’n “behoefte aan melk en nie vaste kos nie” (hfst. 5:12) gehad.

Hoekom?  Dit is duidelik dat hulle baie teenstand in die gemeenskap ervaar het: ’n “geweldige stryd van lyding”.  Hulle is nie net “deur beledigings en verdrukking openlik bespotlik gemaak” nie, maar daar is ook vroeër op hulle besittings beslag gelê (hfst. 10:32-36 – keiser Claudius het in 49 n.C. Joodse Christene uit Rome verdryf).  Baie van die gelowiges het dus die gevaar geloop om weens hierdie volgehoue druk uit die publieke gemeenskap van die geloof en die geloofsgemeenskap afvallig te raak.

Die skrywer, een van hulle geestelike leiers, roep hulle op tot geestelike volwassenheid, want sommige van die gemeentelede het hulle toevlug begin soek in óf:

  • buitengewone ervarings, waarskynlik in hulle geval veral rondom die verering van engele – daarom die beklemtoning van Jesus se uitsonderlike posisie “hoog bo die engele verhef”. Hy is immers nie een van hulle nie, maar een met God: “U troon, o God, is vir ewig en ewig.” (hfst. 1-2);
  • die grondbeginsels van die Christelike prediking: die basiese dinge, ironies genoeg hier as “melk” beskryf – daarom die afwysing van ’n vassteek by bv. dinge soos die doop en handoplegging, en die aanmoediging om eerder op geestelike volwassenheid in terme van leer en lewe te fokus (hfst. 6), d.w.s. “vaste kos”;
  • die Joodse gebruike van die wet – daarom die afwysing van bv. die reinigingsrites en reëls rondom kos en drank en die aanmoediging om eerder op die lewende verhouding met God te fokus (hfst. 9-10; 13:9).

Die grootste probleem was egter dat sommige van hulle doodgewoon afvallig begin word het, en in ongeloof (hfst. 3:12 – “’n bose hart van ongeloof”), sonde (hfst. 3:13), ongasvryheid (hfst. 13:2), seksuele wanpraktyke (hfst. 13:4), geldgierigheid (hfst. 13:5), en nog allerlei vreemde leringe (hfst. 13:9) verval het.  Hierdie mense het daarom hulle leiers teengestaan (hfst. 13:7,17) en onbarmhartig teenoor die wyer gemeenskap geraak (hfst. 13:16).

Hebreërs 2:1-4

Die tema van dié deel van Hebreërs is: “Jesus is die Leidsman van ons verlossing en die Apostel en Hoëpriester van ons belydenis.”  Ons gaan daarop fokus met kommentaar op GAWES soos dit in vers 4 aan die orde gestel word.

1Daarom moet ons soveel te meer aandag gee aan dit wat ons gehoor het, sodat ons nie dalk wegdryf nie.  2Want as die boodskap deur engele verkondig is, inderdaad bindend was, en elke oortreding en ongehoorsaamheid regmatige straf ontvang het, 3hoe sal ons ontvlug as ons so ’n groot verlossing verontagsaam?  Hierdie verlossing is eers eers deur die Here verkondig en daarna aan ons bevestig deur hulle wat dit gehoor het, 4terwyl God dit verder bevestig het deur tekens en wonders en allerhande kragtige dade en deur gawes van die Heilige Gees wat uitgedeel is soos Hy dit goedgevind het.

Woordverkondiging

Steven Covey het ’n besondere gawe gehad om ingewikkelde en komplekse dinge op ’n baie eenvoudige manier te kommunikeer.  Die gewoontes van effektiewe mense het hy só prakties uitgespel in sy boek The Seven Habits of Highly Effective People: 1) Om pro-aktief te wees, 2) om met die uiteinde in gedagte te begin, 3) om eerste dinge eerste te plaas, 4) om wen-wen te dink, 5) om eers te probeer verstaan, voor jy self om begrip vra, 6) om op sinergie te fokus, 7) om aandag te gee aan jouself (sharpening the saw).

Die derde aspek is ter sprake in ons oorweging van hierdie boek Hebreërs.  Steven Covey sou in die lig van sy derde gewoonte dit soos volg uitgespel het: “The main thing is to keep the main thing the main thing.

Ons moet aandag gee aan Jesus

Want, dit is wat hierdie geestelike leier van die gemeente in Rome doen.  Hy bemoedig die gemeente met die oproep dat die hoofsaak is om die hoofsaak die hoofsaak te maak, en dit is Jesus.  Hy sê hier dat ons doelbewus prioriteit moet gee aan Jesus en alles wat ons van Hom gehoor het.  Ons lewe moet draai om die hoofsaak, en die hoofsaak is Jesus.

Hoekom?  Want, dit is die enigste waarborg dat ons nie sal wegdryf van God af nie.  Die doop kan dit nie vir ons doen nie, soos hy later sal argumenteer  Die gawes van die Gees kan dit nie vir ons doen nie, soos hy in vers 4 argumenteer.  Net Jesus self kan ons verlos en in die teenwoordigheid van God hou.

Om ons daarmee te help, gee hy verskeie motiverings regdeur die boek.

  1. In die eerste plek help hy ons in hoofstuk 1 verstaan dat Jesus God is. Daarom is Hy kwalitatief anders as enigiets wat engele of buitengewone gawes vir ons kan gee. Dit is waaraan hy ons in hoofstuk 1 onomwonde herinner. Jesus is belangriker as die engele.  Hy is belangriker as die gawes, soos hy hier in hoofstuk 2 sê.  Hy is belangriker as Moses, soos hfst. 3 sal verkondig.  Hy is belangriker as Aäron, soos hfst. 4 en verder sal verkondig.  Daar is niemand soos Jesus nie.  Hy is die hoofsaak van die geloof.  Hy is die hoofsaak in ons verhouding met God.  Só, die hoofsaak is dat die hoofsaak die hoofsaak moet bly, en dit is Jesus!
  2. In die tweede plek moet ons van Hom weet dat dit Hy is wat voortdurend vir ons intree. Hy is die Hoëpriester wat volkome in staat is om ons te verlos: “omdat Hy altyd leef om ter wille van hulle (ons) in te tree.” (hfst. 7:25). Jesus bid vir ons.  Dit is nie net die Gees wat in ons bid met onuitspreeklike sugtinge nie (Rom. 8:26).  Jesus doen dieselfde.  Hý tree vir ons in, vir elke ding wat ons ervaar.  En Hy doen dit by die troon van God, in die teenwoordigheid van God self, in sy troonsaal, in die hemel.

Dit verander heeltemal die karakter van ons gebed.  Dit is nie ons wat God probeer oortuig om ons te seën of ’n gebed te verhoor nie.  Dit is Jesus wat dit doen.  En die Gees.  God bid vir ons.

Dink bietjie daaroor na … laat dié gedagte jou hart en gedagtes volmaak.  ’n Paar mense het dié week vir my gevra dat ek vir hulle bid, vir verskillende sake.  Ek het self ’n paar dinge wat op my hart lê in terme van die bediening.  En was daaraan gehoorsaam.  Maar, my gebed is eintlik net om in te skakel by wat Jesus reeds vir ons bid, en wat die Gees hier binne-in my en julle doen.

Gebedsverhoring hang dus nie van my af nie.  Dit hang van God af.  Want, Hy is besig om self in te tree.  En Hy sal nooit ophou nie.  Daarop kan ons staatmaak.

Jesus is dus God.  Jesus is die Voorbidder.

  1. Die derde ding wat ons moet weet, is dat die toekoms van die mensdom in die hande van Jesus Christus is. Dit is wat die skrywer in sy uitleg van Psalm 8 in die res van hfst. 2 uitspel. God het alles aan Jesus onderwerp.  Nie dat ons dit alles al sien nie, “maar ons sien Jesus, met heerlikheid en eer gekroon …” sê die skrywer in vers 9.  Hy het ter wille van almal die dood ervaar sodat Hy ons tot heerlikheid kan lei.  Hy is immers die Leidsman van ons verlossing wat ons heilig maak om eendag saam met Hom voor God te verskyn waar Hy sal verklaar: “Hier is Ek en die kinders wat God my gegee het!” (vers 13).

Hy het ons toekoms ook in sy hande.  Ek en jy is deel van die kinders wat Hy aan God bekend sal stel.  Hy staan vir ons in, nou en eendag.

Hoe kan ons dan nou op enigiets anders fokus as op Jesus self?!  Daar is geen verlossing en geen toekoms buite om ’n verhouding met Hom nie.  Hy is die hoofsaak, en die hoofsaak is dat ons die hoofsaak die hoofsaak sal bly maak.  Dit is Jesus.

Dít is dié dinge wat ons gedagtes moet volmaak:

  1. Jesus is God.

  2. Jesus is Voorbidder.

  3. Jesus is die Toekoms.

Dit is die dinge waarop ons moet fokus, Wie Hy is, en Wat Hy doen.  Nie op die begeleidende tekens van sy teenwoordigheid nie, soos die skrywer dit hier aangee nie as: “tekens en wonders, en allerhande kragtige dade en (deur) gawes van die Heilige Gees …

En die verhouding is veral moontlik deur gefokusde aandag te gee “aan dit wat ons gehoor het,” die oorgelewerde boodskap van die Here Jesus Christus (vers 1).  Dán voorkom die gemeente dat sommige nie dalk wegdryf van Hom af nie.  Dit is waarom die Bybel en die prediking en onderskeidende gesprek so belangrik is – in Bybelstudie, in Kleingroepe, in die Erediens, in vergaderings, oral. Ons moet aandag gee aan dit wat ons gehoor het, dit wat aan ons oorgelewer is.  Anders sal ons wegdryf.

Die rede daarvoor is dat die Here Jesus self hierdie verlossing verkondig het tydens sy aardse bediening, en dat dit “daarna aan ons bevestig (is) deur hulle wat dit gehoor het.”  Daarvan kan die skrywer en die gemeente getuig.  Daarbenewens was daar “tekens en wonders en allerhande kragtige dade en deur gawes van die Heilige Gees” wat bevestig het dat die verlossing van God afkomstig was.

Hier verwys die skrywer na die Pinkster gebeure en die werkende gawes van die Gees in die gemeente.  Maar let op dat dié tekens net ’n begeleidende en bevestigende rol het om mense aan die verlossing en belydenis van Jesus Christus as Leidsman bekend te stel.  Die tekens en gawes word nooit ’n fokus op sigself nie.  Dit wys altyd heen na die werklikheid van ’n verhouding met Jesus.

Jesus is daarom die Leidsman van hulle verlossing, want Hy is God, Hy bid vir ons en die toekoms van die mensdom is aan Hom verbind.

Watter rol speel die gawes dan?

Watter rol speel die gawes dan?  Paulus skryf uitvoerig daaroor in sy eerste brief aan Korintiërs sowel as in die brief aan die Romeine, waarskynlik presies die gemeente waaraan die brief-boodskap aan die Hebreërs gerig is, en ook die brief aan die Efesiërs.

Ons het in die gemeente die Ontdek jou gawes kursus (15 gawes) al gedoen sowel as die Netwerk kursus (23 gawes) wat ’n mens help om jou gawe te ontdek.  As daar kleingroepe is wat dié kursusse weer wil doen, kan julle my kontak.  Dit het my lewe verander, veral om te weet waarop ek moet fokus en waarop nie.

Ek wil hier net fokus op sewe kernbeginsels van die gawes:

  1. Gawes in die erediens en in ’n kleingroep het altyd te make met ’n verstaanbare kommunikasie. Daarom sê Paulus bv. dat tale sonder uitleg nie nuttig is in die gemeente nie.  Dit is bedoel vir jou persoonlike gebedstyd.  Die gawes wat in die erediens gebruik word, moet “‘n openbaring of ‘n insig of ‘n profesie of ‘n lering meedeel.” (1 Kor. 14:6).
  2. Gawes in die erediens en in ’n kleingroep moet gemik wees daarop om ander gelowiges op te bou: “Wanneer julle saamkom, het elkeen ‘n psalm, ‘n lering, ‘n openbaring, ‘n taal of ‘n uitleg. Laat alles steeds tot opbou geskied.” (1 Kor. 14:26).
  3. Gawes moet as deel van God se genade aan jou beoefen word tot voordeel van die ander gelowiges: “Ons het gawes wat van mekaar verskil volgens die genade wat aan ons gegee is:  As dit die gawe van profesie is, beoefen dit dan in ooreenstemming met jou geloof;  as dit is om ander te dien, gebruik dit dan vir dienswerk.  Wie onderrig kan gee, moet onderrig;  wie kan bemoedig, moet bemoediging gee;  wie mededeelsaam kan wees, moet dit met opregtheid doen;  wie leiding kan gee, moet dit met toewyding doen;  wie barmhartigheid kan betoon, moet dit met blydskap doen.”  (Rom. 12:6-8). Ons almal is dit aan die ander verskuldig om mekaar lief te hê met dié dinge wat die Here ons gegee het en ons mee bemagtig het om ander te help.
  4. Daar is baie verskillende gawes, maar dit is dieselfde Gees wat dit gee. Dit is die hele betoog van 1 Kor. 12, die primêre gedeelte oor die gawes van die Gees.  Dit is waarom dit só ’n groot sonde is om die liggaam te skeur wanneer ons oor basiese dinge verskil, want ons ignoreer die belangriker oorhoofse werklikheid, dat alles wat ons van God af ontvang, van een Bron afkom, dit is van God af.  Hy gee sy gawes sodat die EEN liggaam van Christus, die kerk, daardeur gebou kan word.
  5. Een van die uitstaande kenmerke van die gawes, soos Paulus dit uitspel, is daarbenewens dat dit oor Jesus gaan. “niemand wat deur die Gees van God praat, (kan) sê: ‘Vervloek is Jesus!’ nie, en niemand kan sê: ‘Die Here is Jesus!’ behalwe deur die Heilige Gees nie.”  (1 Kor. 12:3).  Trouens, aan die Efesiërs sê Paulus dat: “aan elkeen van ons is ‘n genadegawe geskenk soos Christus dit uitgedeel het.” (Ef. 4:7).
  6. Mense word ook as gawes gegee, ’n baie belangrike ontwikkeling in die teologie van gawes: “En as gawes het Hy sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, en ander as herders en leraars gegee om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk en om die liggaam van Christus op te bou.” Ef. 4:11-12).
  7. Die grootste gawe van almal is die gawe van die liefde. Dit is waarom Paulus in die middel van sy betoog oor die gawes in 1 Korintiërs 12-14 oor die liefde praat in hoofstuk 13: “Al praat ek die tale van mense en engele, maar ek het nie liefde nie, dan het ek ’n galmende gong of ’n weerklinkende simbaal geword.” (1 Kor. 13:1).  Ons sal goed doen om dit te onthou in ons beoefening en denke oor die gawes.

Hierdie sewe beginsels is van die kernbeginsels van die gawes, soos ek dit verstaan.  Daar is baie meer wat ’n mens hieroor kan sê, daar is baie meer wat ’n mens oor elke gawe kan sê.  En die Gees is steeds aktief besig om gawes uit te deel, soos Hy dit nodig vind, en soos die omstandighede dit vereis.  Maar dié dinge is die basiese dinge wat ons kan weet en kan najaag in die beoefening van die gawes, in ons primêre fokus om die hoofsaak die hoofsaak te hou, dit is Jesus Christus.

Fokus op Jesus

Dié gawes is egter net die begin dinge van ons verhouding met God.  Dit is die dinge wat ons moet help om Jesus die hoofsaak van ons lewens te maak.

Waarvan die Here my dié week oortuig het, is die volgende:

  • Wanneer jy fokus op sy gawes, skyn jy.
  • Wanneer jy fokus op God, skyn Hy.

Dít is waartoe ons geroep is.  Dit is waarvoor Jesus die Leidsman van ons verlossing en die Apostel en Hoëpriester van ons belydenis is.

Die hoofsaak is dus dat ons die hoofsaak die hoofsaak sal maak, dit is Jesus.

Gebed

Dankoffer

Vonkk 58  Koor  “Ons vind ons krag in die Here

Slotsang

Lied 528:1-3 – “Leer my u wil, Heer, u doel met my” (staan)

Seën

Lied 311  “Dit wat ons hier ontvang het” (koor is voorsangers)

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.