Skip to main content

Prediker 12:9-14 – Lewe met oorleg en vreugde

Verwelkoming

RUS

Toetrede

  • Liedboek 170 (x2) – sit

Votum en Seëngroet

Lofsang

  • Liedboek 84:1-2 – staan
  • Liedboek 415:1-3 – staan

Doop

  • Liedboek 293:1,2 – sit
  • Lua en Charl Posthumus – kinders van Charl en Emmie Posthumus

Gebed

HOOR

Skriflesing

Prediker 12:9-14

9 Die Prediker was nie net ’n man met wysheid nie, hy het ook die volk onderrig. Hy het nagedink, nagevors en baie spreuke gemaak. 10 Hy het daarna gestrewe om hom raak uit te druk en die waarheid getrou op te teken. 11 Die woorde van mense met wysheid is soos skerp stokke, versamelde spreuke is soos spykers wat ingeslaan is. Hulle is deur een Herder gegee. 12 Die belangrikste van alles is: My seun, wees versigtig! Daar kom nie ’n einde aan die skryf van baie boeke nie, te veel studie ooreis die liggaam. 13 Die slotsom van alles wat jy gehoor het, is dit: Dien God en gehoorsaam sy gebooie. Dit is wat van die mens gevra word. 14 God sal rekenskap eis oor alles wat gedoen word, ook oor wat in die geheim gedoen word, of dit goed is of kwaad.

Woordverkondiging

Wysheid is ’n gawe

Die wysheid is ’n wonderlike gawe – só sluit die boek Prediker af. 

  • Die wysheid is soos die skerp stokke wat die beeste aanjaag in die regte rigting (12:11a).  Die spreuke en voorbeeld-verhale is bedoel om jou op die regte pad te hou, sodat jy nie die verkeerde pad vat en afdwaal nie. 

“The words of the wise prod us to live well,” soos Peterson dit vertaal.  Die bedoeling is nie om die lewe vir jou swaar te maak nie.  Dit is om jou te help om met oorleg en met vreugde te lewe.  Dit is bedoel om jou moeite te spaar, om te keer dat jy nie dinge doen waarvan jy uiteindelik sal moet sê, dit kom tot niks nie, dit is sinloos, dit is hebel.  Dit help jou om jou self te verwesentlik, sonder om selfvoldaan te word, en sonder om oorgerus te raak met wat jou lewe vir jouself, vir ander en vir God beteken nie.

Maar dit dui nie net rigting aan nie. 

  • Die wysheid is ook soos spykers wat ingeslaan is om alles, gemeenskappe en hulle wêrelde, bymekaar te hou (12:11b).  Spreuke hou jou nie net op die regte pad nie.  Dit is ook soos ankers, soos vaste oriënteringspunte, wat jou help om die belangrike goed in die lewe raak te sien, en te waardeer. 

“They’re like nails hammered home, holding life together” (Peterson).  Die woorde van wysheid help jou onderskei tussen die belangrike dinge in die lewe, en dié wat minder belangrik is.  Dit help jou fokus, dit help jou die vloei van die lewe agterkom, sodat jy in ritme daarmee kan leef.

Geen wonder die wysheid word so hoog aangeslaan in die Bybel nie.  Want nie net gee dit rigting nie.  Nie net hou dit dinge bymekaar nie.  Die woorde en spreuke van die wyses is die woorde van God self, die een Herder, wat ons daarmee in die regte rigting stuur (skerp stokke) en beskerm van verydeling en verstrooiing (spykers). 

Elke keer wat ons ’n woord van wysheid hoor, en daarop reageer, het ons met God self te make.  Want, ’n woord van wysheid is ’n gawe van die Gees.  Die wysheid is die geskenk van God wat ons help om te kan sien wat God sien, om te kan hoor wat God sê, om te kan doen wat God graag wil hê.

Soos Jakobus, die broer van Jesus, later sou sê van die wysheid, dit help jou optree: “allereers sonder bybedoelings”.  Wysheid het nie ’n ander agenda as om dít wat heelheid bring vir jou en vir ander, te doen nie.  Dit is: “vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, onpartydig, opreg.” Dit bring jou in die regte verhouding met God (Jak 3:17).

Dit is ten diepste ook wat die boeke Prediker, Spreuke en Job en baie van die Psalms en die boek Hooglied – as die boeke van wysheid – vir ons beteken: dit stuur ons, dit anker ons, dit laat ons in die gemeenskap met God self leef.

Wysheid gee rigting

Om hierdie reeks oor die Prediker mee af te sluit, wil ek graag drie wyshede uitlig, wat ’n impak op myself gehad het.  Jy kon heel iets anders gehoor het.  Maar, dit is wat ek gehoor het, en wat ek graag vir jou wil saamgee op jou lewenspad.

Een van die skerp stokke in die Prediker wat my die regte rigting aangedui het, is die volgende:

  •  Werp jou brood op die water, eendag kry jy dit terug – 11:1. 

Die brood verwys waarskynlik na koring wat vrygewig en oorvloedig op die modderwater van ’n akker gesaai is, nie na iets wat jy vir ander uitdeel nie, hoewel dié gedagte natuurlik op ander plekke in die Bybel voorkom.  Spreuke 19:17 sê bv dat om jou oor ‘n arm mens te ontferm, is om ‘n lening aan die Here te gee, wat Hy ten volle sal vergoed!

Dit is hoe die lewe werk.  Wie nie saai nie, sal nie maai nie.  Wie nie waag nie, sal nie wen nie.  Dit help nie jy kyk net na die natuurlike verloop van sake (hoe die wolke saampak al dan nie, na watter kant die bome val nie, of van watter kant die wind af waai nie), en probeer om jou planne daarna te skik nie, want dan sal jy nooit enigiets doen nie.  Daar sal altyd die moontlikheid van mislukking of verrassing wees (11:3-4).

Daarom gee die Prediker die raad in hoofstuk 11 vers 6 om net nooit op te hou om jou saad te saai nie – die saad waarvan hy al in vers 1 gepraat het – in die môre, in die laatmiddag, voortdurend, aanmekaar. 

Maar, die Prediker waarsku teen net saai en bestee.  Hy raai in dieselfde gedeelte jou aan om ook te belê, selfs jou besittings op 7 of selfs 8 plekke te hou, ter wille van voorsorg teen teëspoed (11:2).  ‘n Mens wonder of hy nie selfs plekke buite die land in gedagte gehad het nie!  So, hy praat van die risiko van waag en bestee en saai … terwyl jy ook tegelykertyd voorsorg tref, belê, verskillende opsies oorweeg … dít is die manier om te leef.  Dit is wys!

NT gesproke gee dit vir my insig in Filippense 2:12-13 wat dieselfde van ons geestelike lewe sê, dat ons ons moet toelê daarop om as verloste mense te lewe (belê en bestee) … want dit is God wat in ons werk om ons gewillig en bekwaam te maak om sy wil uit te voer.

Wysheid gee vastigheid

Maar dit is nie al nie … van die spykers wat vir my ingeslaan is deur die Prediker, wat vir my dinge bymekaar hou, is daardie pragtige gedeelte in hoofstuk 9, waar hy die volgende kwytraak:

  • Eet jou brood met vreugde, drink jou wyn met ’n bly gemoed …
  • Dra altyd wit klere, en versorg jou hare met olie, elke dag …
  • Geniet die lewe saam met die vrou wat jy liefhet …
  • Doen met toewyding alles wat jou hand vind om te doen – 9:7-10

Die lewe word geleef in tafelgemeenskap.

Dit word die moeite werd in die feesgeleenthede wat ’n mens elke dag skep.

Dit kry ’n uitbundige karakter in die viering van die liefde (waaroor ons volgende week verder gaan gesels).

Dit kry betekenis in die passie en oorgawe waarmee jy doen wat jou hand vind om te doen.

Wysheid bind jou aan God, die één Herder

En van die woorde wat vir my die woorde van God is, woorde wat my aan Hom bind, is die volgende:

  • Die lewe is breekbaar – 12:6-7

Die tyd van die dood word met pragtige beelde beskryf.  Ons lewe is  is soos  ‘n goue kruik wat aan ‘n silwerketting hang en kan  breek, soos ‘n kruik wat by die fontein kan stukkend breek, soos ‘n wiel wat by die put kan stukkend val.

Die lewe gaan nie vir altyd aan nie.  Daar kom ‘n einde aan alles.  Wanneer weet ‘n mens nie.  Dit kan ‘n motorongeluk wees, of ‘n siekte, of die doodgewone normale loop van die lewe.

Wat my laat besef, die tyd wat ons het, moet ten volle benut word.  Ons moet doen wat die redakteur van die Prediker hier in hoofstuk 12 beklemtoon, as die somtotaal van alles wat hy van die Prediker opgeteken het, en vir sy seun as die belangrikste van alles wil deurgee.

  • Leef met ontsag vir God – Hy eis rekenskap.
  • Wees prakties in jou geestelike lewe – Christenskap is bedoel vir die lewe.

Kortom: Leef met oorleg en vreugde!

Ek sluit af met die woorde van Kidner, waarmee hy hoofstuk 11-12 opsom:

“Be bold!  Be joyful!  Be godly!” (Kidner). 

LEEF

Gebed

Dankoffers

Slotsang

  • Liedboek 492 – staan

Seën

Respons

  • Liedboek 492:1 se laaste 3 reëls
View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.