Lojaliteit en waagmoed – Rut 4

Watter plesier is dié pragtige kortverhaal Rut nie. ‘n Mens kan dit eenvoudig lees – as ‘n liefdesverhaal – óf jy kan dit dieper lees – as ‘n verhaal oor immigrasie en grondbesit – of nog dieper as ‘n getuienis van God se getrouheid in hierdie wêreld.

  • Daar is dinge wat jou tone wil laat krul van plesier. ‘n Rut by die voete van Boas (hfst 3). ‘n Boas in die poorte wat op sy voete kan dink (hfst 4)! Sy naam beteken nie verniet “vinnig” nie. Dit is daarom ‘n uitsonderlike liefdesverhaal. Hulle voetwerk dans ‘n toekoms los!
  • Daar is dinge wat jou bewus maak van die broosheid van die lewe. ‘n Naomi wat haarself Mara noem. Die naam Naomi beteken “lieflik”. Die naam Mara beteken “bitter”. Soos die keer by bitter waters van Mara in die woestyn (Eks 15:23). Wat jou laat besef, die lot van immigrante en die geveg om grond is intense vraagstukke. Naomi het die geweld daarvan aan haar lyf gevoel. En die gesprek van Boas in die poorte was deurslaggewend om haar lot om te keer, en so die ouma van ‘n kleinseun te kon word.
  • En dan daar is dinge wat jou asem wil laat wegslaan van ontsag vir God se werk. ‘n Kind wat gebore word vir Rut en Naomi en wat van baie groter betekenis is as wat hulle in hulle wildste drome kon droom. Obed, die dienskneg. Uit wie die Groot Dienskneg gebore sou word. Soos die geslagsregister aan die einde vir ons vertel. Obed se nageslag is Dawid, en Matteus 1 vertel ons dat Jesus weer Dawid se nageslag is. En dit is nie al nie. Naomi se oorlede man was Elimelek; “my God is koning”. Wat ‘n ander perspektief gee op die komende Messias. Hy was en is die Koning van die wêreld.

Wat ‘n mens met die oorhoofse boodskap laat. God weef ons verhale in sy groter verhaal met die wêreld in.

Maar, ek loop die preek vooruit. Ek wil aan al drie hierdie aspekte van die verhaal laat reg geskied. En ek wil jou uitnooi om jou oor te gee aan die verhaal, en die betekenis daarvan vir jouself. En toelaat dat God jou hart roer met die vlammetjie van hoop wat Hy wil aansteek in jou.

Hetsy deur op die liefde te fokus, óf op die grondkwessie wat hier aangespreek word, óf op die groter prentjie van God se trou in jou eie verhaal van lojaliteit en waagmoed, wat dit ook al van jou mag vra.

Verwelkoming

Toetrede

Lied 157 Here Jesus, ons is saam – staan

Votum en Seëngroet

Lofsang

Lied 202 Prys Hom, die Hemelvors, op sy verhewe troon – staan

Verootmoediging

Lied 235:1 Voor u wet, Heer, staan ons skuldig – sit

Kindertyd

Ek wil met julle gesels oor familie. Wie ken hulle oupas en oumas? Waar bly hulle? Wie ken hulle oumagrootjies en oupagrootjies? Dit is wonderlik om deel van só ‘n familie te wees. Jy weet hulle sal sorg vir jou. ‘n Mens leer só baie van hulle. Veral as hulle die Here Jesus lief het. En vir ons kan leer hoe om ook vir die Here Jesus lief te wees.

Ons gaan vandag ‘n dogtertjie doop. Haar naam is Mishke. En dit maak haar deel van ons gemeente familie. En dit is net so wonderlik. Die Here sê vir haar, sy is een van ons. En ons moet vir haar sorg. En vir haar lief wees. En ons het ook in die gemeente geestelike pa’s en ma’s, en oupa’s en ouma’s, mense wat vir ons van die Here leer en saam met wie ons die Here kan dien.

Kom ons sê vir die Here dankie vir ons familie. Ook vir die gemeente familie.

Doop

Lied 293:1,3 Jesus neem ons kleine kinders met ‘n hart vol liefde aan – sit

Gebed

Skriflesing

Rut 4

4Ondertussen het Boas na die stadspoort toe gegaan en daar gaan sit. Juis toe kom die losser van wie Boas gepraat het, daar verby. Boas roep toe: “Kom sit hier, my vriend.”

Nadat hy kom sit het, het Boas 2ook tien leiers van die stad gevra om daar te kom sit, en hulle het dit gedoen. 3Boas sê toe vir die losser: “Naomi, die vrou wat uit Moab teruggekom het, bied die stuk grond wat aan ons familielid Elimelek behoort het, te koop aan. 4Ek het gedink ek behoort dit vir jou te sê. Koop dit nou in die teenwoordigheid van almal wat hier sit en voor die leiers van die volk; indien jy bereid is om as losser op te tree, doen dit dan, maar indien nie, sê dit vir my dat ek dit weet, want ek is ná jou die volgende een wat die lossersreg moet uitoefen.”

Hy antwoord toe: “Ek is bereid om as losser op te tree.”

5Daarop sê Boas: “Wanneer jy die stuk grond van Naomi koop, kry jy terselfdertyd vir Rut die Moabitiese weduwee sodat die grond in die oorledene se familie bly.”

6Die losser sê toe: “In daardie geval sal ek my reg om as losser op te tree, laat vaar, want anders sou dit beteken dat my eie eiendom in gevaar kom. Tree jy nou maar as losser op, want ek sien nie meer daarvoor kans nie.”

7In Israel was dit gebruiklik by die lossingsprosedure of by die ruil van enige eiendom dat die een party ’n skoen uittrek en aan die ander party gee. Dit was die manier waarop die bekragtiging van ’n transaksie in Israel plaasgevind het.

8Die losser sê toe vir Boas: “Jy kan dit maar koop,” en die losser het sy skoen uitgetrek.

9Hierop sê Boas vir die leiers en almal teenwoordig: “Julle is vandag getuies dat ek alles wat aan Elimelek en Kiljon en Maglon behoort het, van Naomi gekoop het en dat 10ek ook die Moabitiese vrou Rut, die weduwee van Maglon, vir my as vrou gekry het. So sal die grond in die oorledene se familie bly en sy nagedagtenis nie vergeet word in die volkslewe nie. Ja, julle is vandag getuies.”

11Die leiers en almal wat in die stadspoort bymekaar was, het toe bevestig: “Ons is getuies. Mag die Here die vrou wat nou in jou huis inkom, soos Ragel en Lea maak wat saam gebou het aan die volk Israel. Verwerf aansien in Efrata en maak naam vir jouself in Betlehem. 12Mag die nageslag wat die Here jou uit hierdie jong vrou sal gee, wees soos dié van Peres wat deur Tamar vir Juda in die wêreld gebring is.”

13Boas het toe met Rut getrou en hy het gemeenskap met haar gehad. Die Here het haar swanger laat word, en Rut het ’n seuntjie in die wêreld gebring. 14Die vrouens sê toe vir Naomi: “Aan die Here kom die lof toe omdat Hy vandag vir jou ’n losser gegee het. Mag die losser se naam bekend wees in Israel, 15en mag hy vir jou vreugde bring en jou op jou oudag versorg. Jou skoondogter wat jou liefhet en wat vir jou meer werd is as sewe seuns, het hom in die wêreld gebring.”

16Naomi het toe die seuntjie op haar skoot gevat en as haar eie aangeneem.

17Haar buurvroue het die seuntjie toe ’n naam gegee. Hulle het hom Obed genoem en gesê: “’n Seun is vir Naomi gebore.”

Obed was die voorvader van Dawid.

Die geslagsregister van Peres tot by Dawid

18Hier is nou die geslagsregister van Peres: Peres was die vader van Gesron, 19Gesron van Ram, Ram van Amminadab, 20Amminadab van Nagson, Nagson van Salmon, 21Salmon van Boas, Boas van Obed, 22Obed van Isai, en Isai was die vader van Dawid.

Prediking

Lojaliteit en Waagmoed

Inleiding

Watter plesier is dié pragtige kortverhaal Rut nie. ‘n Mens kan dit eenvoudig lees – as ‘n liefdesverhaal – óf jy kan dit dieper lees – as ‘n verhaal oor immigrasie en grondbesit – of nog dieper as ‘n getuienis van God se getrouheid in hierdie wêreld.

  • Daar is dinge wat jou tone wil laat krul van plesier. ‘n Rut by die voete van Boas (hfst 3). ‘n Boas in die poorte wat op sy voete kan dink (hfst 4)! Sy naam beteken nie verniet “vinnig” nie. Dit is daarom ‘n uitsonderlike liefdesverhaal. Hulle voetwerk dans ‘n toekoms los!
  • Daar is dinge wat jou bewus maak van die broosheid van die lewe. ‘n Naomi wat haarself Mara noem. Die naam Naomi beteken “lieflik”. Die naam Mara beteken “bitter”. Soos die keer by bitter waters van Mara in die woestyn (Eks 15:23). Wat jou laat besef, die lot van immigrante en die geveg om grond is intense vraagstukke. Naomi het die geweld daarvan aan haar lyf gevoel. En die gesprek van Boas in die poorte was deurslaggewend om haar lot om te keer, en so die ouma van ‘n kleinseun te kon word.
  • En dan daar is dinge wat jou asem wil laat wegslaan van ontsag vir God se werk. ‘n Kind wat gebore word vir Rut en Naomi en wat van baie groter betekenis is as wat hulle in hulle wildste drome kon droom. Obed, die dienskneg. Uit wie die Groot Dienskneg gebore sou word. Soos die geslagsregister aan die einde vir ons vertel. Obed se nageslag is Dawid, en Matteus 1 vertel ons dat Jesus weer Dawid se nageslag is. En dit is nie al nie. Naomi se oorlede man was Elimelek; “my God is koning”. Wat ‘n ander perspektief gee op die komende Messias. Hy was en is die Koning van die wêreld.

Wat ‘n mens met die oorhoofse boodskap laat. God weef ons verhale in sy groter verhaal met die wêreld in.

Maar, ek loop die preek vooruit. Ek wil aan al drie hierdie aspekte van die verhaal laat reg geskied. En ek wil jou uitnooi om jou oor te gee aan die verhaal, en die betekenis daarvan vir jouself. En toelaat dat God jou hart roer met die vlammetjie van hoop wat Hy wil aansteek in jou.

Hetsy deur op die liefde te fokus, óf op die grondkwessie wat hier aangespreek word, óf op die groter prentjie van God se trou in jou eie verhaal van lojaliteit en waagmoed, wat dit ook al van jou mag vra.

1. Dit is ‘n uitsonderlike liefdesverhaal

Die verhaal van Rut is aan die een kant ’n uitsonderlike liefdesverhaal geplaas binne ’n dieper wordende intrige tussen Naomi, Rut, en Boas teen die agtergrond van Naomi as immigrant in Moab weens die droogte en Rut se status as immigrant in Israel as skoondogter van Naomi.  Die verhaal speel af êrens in die 12de eeu vC in die tyd van die Rigters.

‘n Mens kan die verhaal lees as ‘n getuienis van hoe die liefde werk. Hoe die liefde van ‘n skoonma, Naomi, vir haar lojale skoondogter, Rut, werk. En vice versa. Hoe die liefde van ‘n vrou, Rut, vir haar toekomstige man, Boas, werk. En vice versa.

Wat ons moet raaksien, is dat hierdie pad van die liefde begin by die lojaliteit van Rut aan die familie waarin sy ingetrou het, en aan hulle God. Die pad van die liefde word voortgesit deur ‘n deursettingsvermoë by Rut as dit swaar gaan en sy koringare moet optel om aan die lewe te bly. Die liefde word in die regte rigting gestuur deur die neem van verantwoordelikheid as daar geleenthede vir die liefde kom, soos Naomi vir Rut aanpor, en Rut uitvoer deur by Boas se voete te gaan lê. Die pad van die liefde vind sy vervulling wanneer Boas die waagmoed aan die dag lê om risiko’s te neem ter wille van Rut, met ‘n “never say die” houding. Die een wat vinnig dink op sy voete.

Wat ons ook moet raaksien is dat hierdie lojaliteit en waagmoed skerp gekontrasteer word met die ander mense in die verhaal wat terugdeins vir die pad van lojaliteit en waagmoed, en daardeur die liefde mis.

Die een skoondogter, Orpa, wil nie haar lot ingooi by Naomi nie, wil nie die pad na Israel toe aanpak nie, wil nie die Here God as haar enigste Verlosser aanvaar nie. Geen wonder nie dat haar naam vertaal kan word met “weerstand”!

So mis Orpa die geleenthede wat die Here oopmaak in Bethlehem, die huis van brood, die huis van die toekoms van Israel, die plek waar die Messias gebore sou word. Orpa mis die kans op die liefde, ‘n tuiskoms in die geloofsgemeenskap van Israel, en ‘n stukkie grond wat haar deel sou wees as die weduwee van Naomi se een seun. Om nie te praat van die moontlikheid om die ma van die Messias te word nie.

Dieselfde geld die onbekende nabye familielid van Naomi- en Rut-hulle. Die man se naam word doelbewus verswyg in die verhaal. Hy is net “John Doe” soos die NET Bible dit vertaal, ‘n familielid wat uiteindelik net ‘n “vriend” bly, soos Boas hom aanspreek.

Hierdie “John Doe” wou nie sy verpligting nakom om ‘n nageslag vir Naomi by Rut te verwek nie en mis só uit op die voorreg om deel van die geslagsregister van Dawid en uiteindelik die Messias van die wêreld te word. Hy kies teen lojaliteit en waagmoed. Watter dwase keuse!

Wat ons dus raaksien in die verhaal is dat die pad van die liefde oopgaan vir mense wat bereid is om lojaal te bly, en te waag. Om vas te hou en getrou te bly aan wat jy het, maar ook nie die geleentheid te laat verbygaan as daar nuwe opsies opdaag en die Here te vertrou vir die uitkoms daarvan nie.

Ek is geruime tyd al baie bewus van die problematiek van die liefde. Van jongmense wat moedeloos raak, omdat hulle net nie iemand kan ontmoet met wie hulle ‘n pad kan saamloop nie. Hulle wil nie na klubs toe gaan om ander jongmense te ontmoet nie, en val daarom uiteindelik maar vas by ‘n paar bekende pelle met wie hulle kuier en ‘n paar dinge saam doen.

Soos ek hierdie week weer by ‘n jongman agter gekom het wat ‘n werkie by my huis kom doen het. Ek het vir hom koffie gemaak en ‘n bietjie gesels en sy storie agter gekom. Ek sal nie sy stralende gesig vergeet toe ek hom afsien en toebid dat daar ‘n meisie op sy horison sal verskyn. “Oom, dan moet oom my trou.” Verseker sal ek!

Ek is ook bewus van soveel ouers wat soos Naomi ‘n tuiskoms van hulle kinders in hierdie lewe verlang. ‘n Plekkie in die son. ‘n Plekkie wat hulle hulle eie kan noem. Vervulling in ‘n loopbaan wat ‘n huwelik en ‘n gesin kan insluit.

Ek wil julle bemoedig met die belofte van Miga vir elkeen wat hulle lot by God en sy volk ingooi: “Elke man sal onder sy eie wingerd sit, ongesteurd onder sy vyeboom.” (Miga 4:4).

Dit is wat die Here beloof, soos Miga dit uitspel, vir diegene wat: “vir altyd in die Naam van die Here ons God lewe.” (Miga 4:5). Vir mense wat soos Rut sê: “u God is my God.” (Rut 1:16).

Waar dié lojaliteit aan die Here nog nie daar is nie, is dit die belangrikste ding waarvoor ons vir ons kinders moet intree, dat hulle op die punt sal kom waar hulle ook sal sê: “u God is my God.” Dat hulle die lojaliteit aan God en sy mense sal herontdek en in Hom sal waag in hierdie lewe.

Dit is wat ons vir hulle moet bid, sonder ophou. Terwyl ons ook ons verantwoordelikheid nakom soos ‘n Naomi teenoor Rut, uiteraard binne ons eie gemeenskap se gebruike en geleenthede.

Vir almal van ons verkondig ek. Vervulling in die liefde begin by lojaliteit aan God en sy mense. Dan kán jy waag. Dan kán jy God vertrou. Dan kán jy uithou en aanhou, maak nie saak wat die uitkoms is nie, selfs al verskyn daar nie ‘n huwelik op die horison nie. “Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie … nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder.” (Hab 3:17-18).

2. Dit is ‘n uitstekende verhaal oor immigrante en grondbesit

Die verhaal van Rut is egter ook ‘n verhaal wat oor die lot van immigrante en grondbesit gaan. Die twee is altyd op ‘n manier verbind. Want, wat is immigrante se grootste behoefte? Om tuis te kom. Om ‘n plekkie te hê wat hulle hulle eie kan noem. Om ‘n stukkie grond te hê wat hulle ‘n lewe kan bied. Om te behoort en van betekenis te wees in ‘n nuwe omgewing.

Daarom gaan immigrasie altyd ook oor grond en die aansprake daarop. Regdeur die wêreld, nie net by ons met sy dreigende veranderinge aan eiendomsreg nie. Vra maar vir enigiemand wat kinders oorsee het. Die kontekste verskil, die uitdagings verskil, maar immigrasie is nie maklik nie. En dit gaan oor tuiskoms.

Die waarheid in ons eie land is dat Suid-Afrika ‘n land van immigrante is, soos dit eintlik oral in die wêreld is. Wit, swart, Asiër en al die ander skakerings van ons onderskeie afkomste. Ons het almal van iewers af hier kom nesskop. Of jy nou onlangs hier aangekom het, en of jy nou al eeue hier woon, jy kom van êrens af. Jy, of jou ouers, of dié se ouers, óf dié se ouers. Almal van ons was êrens in die verlede op ‘n stadium immigrante.

En as jy ‘n paar millennia hier woon, soos historici sê van die Khoi-Khoi en die San, woon jy in elk geval nie meer op dieselfde plek in die land nie. Want dít is hoe die leefwyse nog altyd ook hier was. Mense het rondgetrek in die land, van plek tot plek, en is eintlik altyd immigrante. Ons kom van êrens af. Ons is op pad na êrens toe. Dit kan vir korter tye wees of langer. Maar, êrens skuif jy na ‘n ander plek. Word jy weer ‘n immigrant, ‘n inkommer.

Wat leer die verhaal van Rut ons dus oor immigrasie en grondbesit?

Dat die behoefte aan grond, die behoefte om te behoort, die behoefte om die plek waar jy is, jou eie te kan noem, dat dié behoefte wesenlik en fundamenteel is. Vir almal in hierdie land van ons.

En die verhaal wys ons hoe om dié behoefte aan te spreek.

Boas bly binne die regstelsel van daardie tyd en betrek die mense wat die besluitnemers is.

Hy trek tien van die oudste leiers van die stad bymekaar sodat die transaksie nie net hulle wysheid kan betrek nie, maar ook geldig kan wees in die oë van die publiek.

Dit sluit die prosedures uit die wet in wat die kooptransaksie moontlik gemaak het. En daar was drie tipes reg ter sprake.

  • Die lossingreg – die hulp vir familie as hulle in nood kom.
  • Die erfreg – vroue soos Naomi en Rut kon grond erf.
  • Die swaers- of leviraatsreg – die huwelik met ‘n weduwee wat nog nie kinders het nie.

En Boas is baie goed voorbereid vir die onderhandelinge en vir die moontlike uitkomste daarvan. Hy gebruik ‘n fyn strategie wat hierdie lossingreg verbind aan die erfreg van vroue, sowel as aan die swaershuwelik en só ‘n unieke uitkoms moontlik maak.

  • Die lossingreg het bepaal dat ‘n familielid iemand wat in die moeilikheid raak, moet help deur die grond te koop (Lev 25; Jer 32). Die een wat kon, moet ‘n losser, ‘n go’el(Hebreeus) word, vir dié wat uitboer of in ‘n probleem kom. Naomi en Rut moes dus hier gehelp word uit hulle verknorsing.
  • Die erfreg van vroue kom uit die reëling wat vir Selofgad se dogters geskep is toe Selofgad nie manlike nasate gehad het nie (Num 26; 36; Jos 17).Die vyf dogters, Magla, Noa, Gogla, Milka en Tirsa, het die onreg van ‘n reëling dat net mans kan erf, aangevat, en erfreg vir vroue ingevoer in Israel, met die goedkeuring van die Here in Moses se tyd.
  • Die swaershuwelik het weer bepaal dat as iemand sonder kinders sterf, een van sy broers verplig was om met sy weduwee te trou (Deut 25:5–10). Die eerste seun uit hierdie “swaershuwelik” geld dan as die seun en erfgenaam van die oorledene, nie van die broer wat met haar getrou het nie.

Die broer kon die verpligting ontduik deur ’n verklaring voor die oudstes van die dorp af te lê.  Dit is egter as oneerbaar beskou. Die weduwee kon dan sy skoen uittrek en hom in sy gesig spoeg omdat hy nie sy broer se huis in stand hou nie.

Boas bly in gesprek met die vriend, die losser, wat die eerste reg het op die grond.

Boas hou nie op tot alle aspekte van daardie transaksie en die moontlike gevolge vir almal betrokke deur gesels is nie. Boas is duidelik deeglik vertroud met die wetgewing, maar ook met die noodsaaklike gesprek om by ‘n oplossing uit te kom.

  • Let op dat Boas dus tereg uitwys dat dit hier nie net om die grond gaan nie, die lossingreg, maar ook oor die erfreg, Rut en Naomi as wettige erfgename van die grond. Die erfreg is immers iets wat nie verontagsaam kan word nie wanneer jy die lossingsprosedure toepas nie.
  • Daarby wys Boas op die feit dat daar ook ‘n swaershuwelik ter sprake kom, want Rut het nog nie ‘n erfgenaam nie. Gewoonlik was dit ‘n reëling tussen broers, maar Boas maak dit ook in hierdie situasie van toepassing, aangesien albei Naomi se seuns, Maglon en Giljon, reeds oorlede is.
  • Deur met Rut te trou, sou dit gevolglik beteken dat hierdie man nooit regtig die grond sou besit nie, want Rut se kinders sou die grond erf, sodat dit binne die familie van Naomi en Elimelek, Rut se oorlede skoonpa, kon bly.
  • Dit is laastens ook opmerklik dat Boas klem lê op Rut se Moabitiese afkoms, waarmee hy natuurlik hoop dat die familielid nie verder sou belang stel nie. Die nader familielid het inderdaad nie hiervoor kans gesien nie, en daarmee slaag Boas in sy doel om met Rut in die huwelik te tree.

Daarmee laat die man die grond gaan, en kry die immigrant Rut ‘n plekkie in die son, ‘n plekkie om haar eie te noem en ‘n lewe vir haar en haar familie te maak.

En laaste, maar nie die minste nie, Boas is duidelik lojaal en geseënd met baie waagmoed.

Boas vertoon dieselfde lojaliteit en waagmoed soos ons dit van Naomi en Rut in die verhaal geïllustreer sien. Dit is altyd waar alles in die geloofsgemeenskap begin, by God en sy mense, by lojaliteit aan Hom en ‘n meelewing met sy mense. Dit gee jou die moed om te waag in die geloof, iets wat ook van hierdie gemeente in sy waardes waar is.

Ek weet die saak van grondbesit in ons land is ‘n tergende moeilike kwessie. Maar, ons kan die gesprek nie ontwyk nie. Dit help verseker ook nie om valse stories te versprei of stories wat ander in ‘n negatiewe lig stel nie.

Die verhaal van Rut kan ons nie met alles help nie, want ons situasie en wetgewing verskil, maar ons kan tog ‘n paar raakpunte uitlig en van toepassing maak ook op ons situasie vandag.

Die verhaal leer ons om in die eerste plek om ons lojaliteit aan God en sy mense bo alles te stel.

Dit sluit alle gelowiges in. Ons hoop lê in die oplossings wat God skep vir dié wat die pad met Hom, in gehoorsaamheid aan sy Woord en in gemeenskap met ander gelowiges stap.

Die verhaal, soos die res van die Bybel, help ons met die besef dat God die eintlike Skepper is van alles op aarde en dat die grond uiteindelik aan Hom behoort.

Wat ons het, is uiteindelik geleen, en onderhewig aan sy soewereine besluit. En met Hom moet ons saamwerk.

God seën ons altyd om tot ‘n seën te wees.

Dit beteken nie dat ons ons goed sommer maar net moet opgee aan mense wat dit wederregtelik van ons vervreem nie, maar dit beteken wel dat ons nie moet leef asof ons eiendom al is wat ons het nie, asof ons identiteit daarin opgesluit lê en asof ons al belanghebbers is in ons wêreld nie.

Só het Boas geleef, en nie omgegee dat hy grond koop wat uiteindelik nie in sy finale besit sou bly nie. Hy wou ander seën soos hy self ook seën ervaar het.

En waar daar onreg teenoor ons gepleeg word, moet ons ons wapen met die gedagte dat God regverdig is en as Regter die finale oordeel oor alles sal fel.

Ons moet ook besef dat onreg in die verlede nooit dood geleef kan word nie.

Onreg moet êrens aangespreek word. Waar onreg uitgewys word, en dit reg gestel kan word, moet ons as kinders van die Here ons daarvoor beywer. En ek bedoel dit nou in terme van spesifieke gevalle, nie in terme van veralgemenings nie, want daar word baie onwaarhede verkondig in die proses van die uitwys van onregte uit die verlede. Spesifiek die wanopvatting dat die hele land gesteel is. Dit is van alle waarheid ontbloot, soos die verskeie historiese transaksies wat beskikbaar is, bewys.

Maar, gelowiges word altyd opgeroep om te staan vir wat reg is. Want daar het ook onregte plaasgevind, veral met die beleid van kolonialisme en apartheid in die verlede. En dit moet reggestel word, sover as wat dit in spesifieke gevalle moontlik is.

Die Here Jesus sê nie verniet in die Bergrede nie: “Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word … Geseënd is dié wat honger en dors na wat reg is, want hulle sal versadig word.”

Ons het leiers nodig wat hierdie dors na wat reg is, sal beliggaam en verbeeldingryke oplossings na die onderhandelingstafel toe sal bring. Sodat alle immigrante in hierdie land – en dit sluit eintlik ons almal in – tuis kan kom.

3. Dit is ‘n uitnemende verhaal van God se getrouheid

Daarmee is die verhaal van Rut uiteindelik ‘n uitnemende verhaal van God se getrouheid, maak nie saak in watter situasie jy jou bevind nie. En wat veral van betekenis is, is dat hierdie klein verhaal van Rut se lojaliteit en Naomi en Boas se waagmoed deur God ingesluit word in sy groter verhaal met hierdie wêreld.

Hierdie kind, Obed, is van baie groter betekenis as wat hulle in hulle wildste drome sou kon droom. Obed se naam beteken “dienskneg”. En uit sy nageslag sou die Groot Dienskneg gebore word. Jesus wat gebore is in ‘n stal in Bethlehem, soos Matteus 1 ons vertel in aansluiting by die geslagsregister aan die einde van die boek Rut.

Jesus is egter ook die nageslag van Elimelek, Naomi se oorlede man, wie se naam die ander kant van die betekenis van die verhaal voorspel: “my God is koning”. Jesus sou as Messias nie net die Dienskneg wees wat getrou sou bly tot aan sy kruisdood nie, maar ook as Koning van die wêreld die troon van sy Vader sou bestyg en die koninkryk van God sou vestig.

God weef dus ons verhale in sy groter verhaal met die wêreld in.

Die boodskap van die verhaal van Rut is ten diepste ‘n bevestiging dat ons die pad van God met sy mense kan vertrou. Soos Rut, die vreemdeling, ‘n tuiste vind by Naomi, Boas en in die geloofsgemeenskap van Israel, só kan ons Hom ook vertrou vir ons eie plekkie in die son, ook hier in SA.

Die verhaal van Rut is egter nie net ‘n bevestiging van God se voorsiening vir ons self en ons situasie nie, maar ook van sy voorsiening vir die toekoms, selfs van die voorsiening van ‘n uitkoms vir die wêreld. Ons kleiner verhale word opgeneem in sy groter verhaal met die mensdom.

Dat Naomi en Rut ‘n losser (go’el) in Boas gevind het, is wonderlik. En dit is ‘n woord vir my en jou vandag. Dat God vir ons ook op ‘n baie praktiese wyse dinge sal laat meewerk, ‘n losser vir ons sal gee. Ook in terme van land, gemeenskap en ‘n nageslag.

Maar daar is ‘n dieper boodskap. Dit is, dat hierdie verhaal vir ons van die groter losser in Dawid, en die grootste Losser van almal, Jesus Christus, vertel, die Losser waarvan ook Job gedroom het (Job 19:25). Dit is die breër en dieper boodskap van hierdie boek. Ons verhale is ingebed in die groter verhaal van God se betrokkenheid in hierdie wêreld. Wat met ons gebeur, het daarom ook ‘n impak op die wêreld.

En dit is groter as maar net dat die Here vir ons sorg. Deur vir my en jou te sorg, sorg Hy vir die wêreld. Dit is waarskynlik die boodskap wat ons in hierdie tydsgewrig in ons land die meeste oor moet nadink.

Ons moet God as die groot Go’el leer raaksien, soos Hy Homself in Rut bewys

Dit is immers hoe Hy beskryf word in al die groot uitkomste wat Hy vir die volk voorsien het. Dit was hierdie belofte – dat Hy die Losser is – wat die volk gemotiveer het om Moses te vertrou toe hy die boodskap van verlossing aan hulle gebring het: “Ek sal julle van julle verknegting verlos.” (Eks 6:6). Dit is vir hierdie eienskap van Hom waarvoor Hy geloof is toe Hy die belofte aan hulle vervul het met die verlossing deur die Rietsee: “Deur u trou het U die volk gelei wat deur U verlos is.” (Eks 15:13).

Hierdie eienskap van God word daarom in die Psalms besing. Hy is geloof reg deur die eeue as die Losser – die groot Go’el– wat die volk vir Homself gekoop het (Ps 74:2). Hierdie gedagte van die Groot Verlosser  het die boodskap van die profete gestruktureer (Jes 41:14; 43:14; 44:6; 47:4; 60:16; Miga 4:10; Jer 50:34). Israel word daarom die Verlostes genoem (Jes 35:9; 62:16), ‘n titel wat ons ook vir onsself kan toeëien in Christus Jesus, die Groot Verlosser.

Maar terug dan by ons eie kleiner situasies.

Hierdie God, wat die groter bewegings van die geskiedenis beheer, is ook die Verlosser in die persoonlike ruimte van die gelowige in nood. Daarom kan Hy aangeroep word in nood: “Kom red my lewe, bevry/verlos my van my vyande.” (Ps 69:18). Dit is immers Hy: “wat my red van die graf en my met liefde en ontferming kroon.” (Ps 103:4; vgl Ps 107:2). Dit is van Hom wat ‘n mens verlossing kan verwag: “Behartig tog my saak en bevry my, hou my in die lewe volgens u belofte.” (Ps 119:154). In elke praktiese situasie waarin ons ons mag bevind.

Soos Job sê: “Ek weet dat my Losser leef, uiteindelik sal Hy op die aarde triomfeer!” (Job 19:25). Dit bly in elke en alle situasies waar.

Vir dieper delwers

Datering maak saak

Ek dink min van julle het al ooit gedink oor die datering van die boek Rut. Dit is só ‘n pragtige verhaal, op soveel vlakke, dat die datering waarskynlik vir jou van minder belang is. Waarom sou die tyd wat ‘n boek geskryf is, van enige belang wees? Maak dit enigsins saak? Verander jou keuse dan aan die boodskap van die boek?

Wel, ja. Datering maak saak. Want dit bepaal vir wie die boek geskryf is. Dit bepaal vir wie die boodskap van die Bybel in die eerste plek bedoel is. En as jy dít weet, wat Rut vir daardie gehoor beteken het, kan jy baie beter bepaal watter boodskap die boek dan ook vir jou het, al is die boek in ‘n ander tyd en vir ander mense geskryf.

Die geheim in die lees van die Bybel is om eerstens goed te verstaan wat dit vir die eerste gehoor ingehou het, sodat jy met integriteit die kloof tussen toeka en vandag kan oorbrug en die boodskap van die Bybel vir vandag vars en nuut kan hoor.

Wanneer is die boek Rut dus geskryf?

Op linguistiese gronde is daar ‘n saak uit te maak daarvoor dat Rut vóór die ballingskap geskryf is. Daar is effens meer ooreenkomste met Standaard Bybelse Hebreeus, dws die Hebreeus wat vóór die ballingskap gebruik is. Dit maak dit waarskynlik dat die boek Rut vóór die ballingskap geskryf is.

Dat daar ook ‘n paar ooreenkomste met Laat Bybelse Hebreeus is in die boek, beteken moontlik dat die verhaal later opgedateer is, eerder as dat dit later geskryf is.

Wat my egter laat kies vir ‘n vóór ballingskap datering is nie die tipe taal wat gebruik is nie. Dit is eerder inhoudelike kriteria.

  1. Die eerste inhoudelike feit is dat die skrywer self die verhaal in die tyd van die Rigters plaas (Rut 1:1). Daaroor is daar geen dispuut nie. Die tydperk wat die karakters geleef het, was êrens in die laat 11de eeu vC. Vóór Dawid.
  2. Die tweede inhoudelike feit is dat die wyse waarop die vererwing en die leviraatshuwelik hier werk, op punte verskil van die wetgewing van Levitikus 25, Numeri 5 en Deuteronomium 25 (vgl ook Jer 32). Dit veronderstel ‘n situasie waar dinge nog vloeibaar was en die tempel in Jerusalem nog nie sy bepalende rol in die wel en wee van die volk kon speel nie. Presies hoe die tyd in Rigters beskryf word.
  3. Die belangrikste argument vir ‘n vroeë datering is egter die derde feit, dat daar iets heeltemal unieks is in die wyse waarop die verhaal van Rut vertel word. Die hele verhaal van Rut loop uit op ‘n geslagsregister. Geen ander boek in die Bybel eindig só nie.

Normaalweg begin geslagsregisters ‘n boek om die verdere verloop van ‘n verhaal te bevestig, soos ons dit in Numeri kry as deel van die Pentateug en in Kronieke as deel van die verhaal van die koningskap.

Só is dit terloops ook in Matteus 1 met Jesus se geslagsregister. Dit is vóór sy geboorteverhaal geplaas. Want, die geslagsregister begrond en bepaal wat verder aan gaan gebeur. Jesus word in die Messiaanse linie gebore. So sê die geslagsregister.

En in Lukas 3 word die geslagsregister weer vóór sy openbare bediening geplaas, want Hy gaan optree as die Messias, soos sy geslagsregister dit begrond. Só sê die geslagsregister.

  1. Dit hang saam met die vierde feit, die plek wat die boek Rut in ons Bybel beklee. Dit is net vóór die boek Samuel in die Bybel geplaas. Hoekom? Want, die boek bevestig die verhaal van Dawid wat in die boek 1&2 Samuel vertel gaan word. Die boek pas dus in die tydsgewrig wat dit beskryf. Dit pas in die orde wat dit in ons kanon gekry het. Net vóór Dawid en net vóór die Messiaanse verwagting wat hierna sou ontwikkel waarin Dawid so ‘n groot rol speel.

En dié feite is van fundamentele belang. Hierdie geslagsregister het Dawid se koningskap gesag gegee, ‘n skriftelike, Goddelike gesag, ‘n gesag ingebed in die storie van God en sy mense.

Gebed

Dankoffer

Slotlied

Lied 505:1-3 Jesus, U gaan voor – ons volg in u spoor – staan

Seën

Amen

Respons

Lied 505:4 Jesus, U gaan voor – ons volg in u spoor, ook waar niemand dit wil waag nie – staan

     

View all posts in this series

Trackback from your site.

Leave a comment

Kommentaar en navrae

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Dankie!

  • Avatar

    mariette

    |

    Môre-môre!

    Dankie Chris. Die reeks dra baie praktiese wenke oor en is verrykende luistergenot vir elkeen. Elke dag iets nuuts om na uit te sien!

    Seën daarop toegebid
    Mariette

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Nee, Elmarie, jy hoef nie. Ons kan 250 mense akkommodeer. Skryf net in by die deure. Baie welkom.

  • Avatar

    Prof Elmarie Venter

    |

    More Ds Chris. Ons is 3 wat wil bywoon. Moet ons nog bespreek? Groete
    Elmarie

  • Vreesloos 1

    |

    […] Pinkster-reeks se titel vanjaar is “Vreesloos”– oor geloof in ‘n tyd waar ons bang […]

  • 21 Mei 2020

    |

    […] Pinkster-reeks se titel vanjaar is “Vreesloos”– oor geloof in ‘n tyd waar ons bang […]

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Ons het vir baie lank ‘n versorgingskommissie gehad vir leraars en personeellede. Dit was persone in die gemeente wat gereeld op informele wyse met elkeen van ons kontak gemaak het, belanggestel het in wat in ons lewens aangaan, uitgevra het na uitdagings, en vir ons gebid het. Dit was benewens die diensverhoudingekommissie wat meer op die formele dinge gekonsentreer het. Die inperking het ‘n bietjie daaraan verander, maar dit was ‘n baie goeie informele sisteem van versorging.

  • Avatar

    Des Sampson

    |

    Goeie dag. Ek is voorsitter van die DVK op Hartenbos. Wat doen julle mbt die versorging van predikante en kantoor personeel?

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Dit was Rethie van Niekerk se preek. Sy het in die preek verwys na die Hebreeuse woorde.

    Die eerste reël (seën) het drie woorde, dan vyf woorde, dan sewe woorde.  15, 20, 25 konsonante (onthou ʾ is ook ‘n konsonant).  11, 13, 16 lettergrepe (ek het weer getel, en dit is die korrekte aantal).

    24 yĕbārekkā yĕhwâh wĕyišmĕrekā
    25 yāʾēr yĕhwâh pānāyw ʾēlêykā wîyḥunekā
    26 yiśāʾ yĕhwâh pānāyw ʾēlêykā wĕyāśēm lĕkā šālôwm

    Hoop dit maak sin.

  • Avatar

    Annemarie vn Zyl

    |

    NUM 6; GOD SE SEEN, Goeiemore
    Ek het vanoggend hierdie Bybelstudie gedoen en dit was wonderlik. Die deel DIE TEKS verstaan ek egter glad nie. ek kry die aantal woorde reg maar glad nie die konsonante en lettergrepe nie. Ek verstaan ook nie die doel van hierdie deel nie, tensy jy wil bewys dat dit menslik amper onmoontlik is om die seen so te skryf, met die spesifieke aantal konsonante en lettergrepe sonder God se ingryping.. ek sal dit waardeer as iemand die deel in kort vir my verduidelik Baie dankie Annemarie van zyl.

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Dankie Corrie! Mooi jaar vir jou.

  • Avatar

    Corrie

    |

    Ds. Chris, soos altyd ń opbeurende en positiewe bydra deur U, vir die toepassing deur die kinders van God. Selfs hulle wat Hom nog nie as hul Saligmaker en Verlosser aangeneem het nie, sal baat by diė insetsel. Ek vra dat God se seën op U sal rus.

  • Avatar

    C Joubert

    |

    Inspirerende en besielende boodskappe

  • Avatar

    Sonja Lizemore

    |

    Beste Ds Chris.
    Net n GROOT DANKIE vir die liedere. Dit is baie spesiaal.

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Hi Carol, jy is reg, dit is ‘n kosbare insig! Ek het ook onlangs gepreek oor die inwonende Christus, as jy meer wil lees. Baie seën.

  • Avatar

    Carol

    |

    Baie dankie vir die eerste keer in my lewe besef ek nou wat my probleem is. Ek het nog nie vir JESUS in my ontdek nie dis geen wonder dat my verhouding met JESUS nêrens kom nie. Geen ontmoeting geen kennis of wysheid en GEEN GROEI.

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Hi Annelize – ons hou dienste in die kerkgebou (Louis Bothasingel 177, Somerstrand) om 09:00 Sondae tegelykertyd met ons Youtube erediens ook om 09:00. Ons het ook ‘n meer informele Youtube erediens – Pulse – wat van 11:00 af op ‘n Sondag beskikbaar is. Ter wille van die personeel se verlof sal ons DV van 27 Desember tot 24 Januarie nie fisiese eredienste in die kerk hê nie, net die Youtube erediens 09:00. Dié dienste word weer hervat van 31 Januarie af sowel as moontlik ‘n aanddiens om 18:30. As jy hier is, maak ‘n afspraak dat ons jou kan verwelkom. My sel is “nul agt twee 5749191”. Groete, Chris van Wyk.