Skip to main content

Kolossense 3:12-17 – Vyf innerlike kwaliteite

Kolossense-3_12-17Dit is uiters belangrik om oor jouself vanuit jou verbintenis met Christus Jesus te dink.  Want dit beïnvloed alles.  Vir Paulus is die opstanding nie iets wat net met Christus gebeur het nie.  Dit is iets wat ook met ons gebeur, die oomblik as ons in Hom glo.  Ons status verander.  Ons is in Christus nie meer dood in ons sonde nie, maar opgewek in ‘n nuwe lewe.  Trouens, ons lewe is verborge in God.  En daarom is ons toekoms verseker.  Saam met Christus sal hierdie status aan die einde van die tyd vir almal bekend word, wanneer Christus weer verskyn.

Daarom moet ons ons gedagtes rig op die dinge daarbo.  Paulus bedoel natuurlik nie dat ons net oor die hemel moet dink, en glad nie oor die aarde nie.    Dit spel hy juis in hoofstuk 3 uit.  Die dinge van die aarde is dinge soos onsedelikheid (porneia), slegte begeertes, gierigheid en afgodery, soos ons netnou gelees het met die wet as reël van dankbaarheid.  Dié dinge moet nie deel van ons denke of lewe wees nie.  Die dinge daarbo is die dinge wat deel van ons denke moet wees, dinge soos meelewendheid, goedgesindheid, nederigheid, sagmoedigheid en verdraagsaamheid.  Dit moet ons denke volmaak.

RUS

Toetrede

VONKK 142:1 Jesus, Verlosser, U daal tot ons neer – sit

Votum

Liturg: Prys die Here!

Vroue en meisies:  Prys die Here vanuit die hemele, prys Hom in die hoë hemel!

Mans en seuns:  Prys Hom, alle engele, prys Hom, alle hemelwesens!

Vroue en meisies:  Prys Hom, son en maan, prys Hom, alle sterre!

Mans en seuns:  Prys Hom, hoogste hemele, en waters in die hoë hemelruim!

Liturg:  Laat hulle die Naam van die Here prys, want Hy het beveel en hulle is geskep; Hy het hulle vir altyd hulle vaste plek gegee, vir hulle ’n orde neergelê waarbuite hulle nie kan beweeg nie. Prys die Here van die aarde af,

Vroue en meisies:  seediere en al die oseane,

Mans en seuns:  weerlig en hael, sneeu en miswolke,

Vroue en meisies:  stormwind wat sy opdrag gehoorsaam,

Mans en seuns:  berge, al die heuwels,

Vroue en meisies:  vrugtebome, al die seders,

Mans en seuns:  wilde diere, al die vee, al wat kruip of vlieg,

Vroue en meisies:  konings van die aarde, alle volke, vorste, alle regeerders van die aarde,

Mans en seuns:  jong manne

Vroue en meisies:  en meisies, grysaards

Mans en seuns:  saam met seuns!

Liturg:  Laat hulle die Naam van die Here prys, want sý Naam alleen is hoog verhewe, sy majesteit strek oor die aarde en oor die hemel.

Almal:  Prys die Here! (Psalm 148)

Seëngroet

Genade en vrede vir julle van God wat gekom het, weer kom en elke dag in ons lewens kom!

Lofsang

Psalm 148: 1,7,9 Prys uit die hemele die Heer – staan

Lied 353 Die Heiland is gebore, soos eeue reeds voorspel – staan

Wet as reël van dankbaarheid

Kolossense 3:5-11

Die ou en die nuwe lewe

5Daarom moet julle die aardse dinge doodmaak wat nog deel van julle lewe is: onsedelikheid, onreinheid, wellus, slegte begeertes, en gierigheid, wat afgodery is. 6Deur sulke dinge kom die straf van God oor die mense wat aan Hom ongehoorsaam is. 7Vroeër het julle ook aan dié dinge meegedoen toe julle nog daarin gelewe het. 8Maar nou moet julle al hierdie dinge laat staan: woede, haat, nyd en gevloek. Vuil taal moet daar nie uit julle mond kom nie. 9En moenie vir mekaar lieg nie. Julle het met die ou, sondige mens en sy gewoontes gebreek 10en leef nou die lewe van die nuwe mens, wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper en tot die volle kennis van God. 11Hier is dit nie van belang of iemand Griek of Jood is nie, besny of nie besny nie, andertalig, onbeskaaf, slaaf of vry nie. Hier is Christus alles en in almal.

Skuldbelydenis

Lied 340 Kom ons loof die Jesuskind – sit

Genadeverkondiging

Geloofsbelydenis

  1. Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde.
  2. En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here; wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria;
  3. wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is,
  4. gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;
  5. wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
  6. wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader,
  7. van waar Hy sal kom om te oordeel die wat nog lewe en die wat reeds gesterf het.
  8. Ek glo in die Heilige Gees.
  9. Ek glo aan ‘n heilige, algemene Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges;
  10. die vergewing van sondes;
  11. die opstanding van die vlees
  12. en ‘n ewige lewe.

HOOR

Gebed

Skriflesing

Paulus skryf die brief aan die gelowiges in Kolosse terwyl hy in die tronk in Rome sit. Die brief is klaarblyklik in die vroeë sestigerjare n.C. geskryf, kort voordat ‘n aardbewing Kolosse in 61 n.C. getref en verwoes het. Vandag is daar net ruïnes oor.

Kolosse is sowat 160 km oos van Efese geleë, ‘n stad waar Paulus baie tyd spandeer het. ‘n Getroue medewerker van Paulus, Epafras, was van Kolosse en dus waarskynlik die skakel tussen Paulus en die gemeente. Kolosse was naby aan Laodisea en Hiërapolis, waar daar ook Christelike gemeentes was.

Kolossense 3:12-17

12Julle is die uitverkore volk van God wat Hy baie lief het. Daarom moet julle meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam wees. 13Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe. 14Bo dit alles moet julle mekaar liefhê. Dit is die band wat julle tot volmaakte eenheid saambind.

15En die vrede wat Christus gee, moet in julle lewens die deurslag gee. God het julle immers geroep om as lede van een liggaam in vrede met mekaar te lewe. Wees altyd dankbaar. 16Die boodskap van Christus moet in sy volle rykdom in julle bly. Leer en onderrig mekaar met alle wysheid. Met dankbaarheid in julle harte moet julle psalms, lofgesange en ander geestelike liedere tot eer van God sing. 17En wat julle ook al sê of doen, sê en doen dit alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.

Preek

Dit is uiters belangrik om oor jouself vanuit jou verbintenis met Christus Jesus te dink.  Want dit beïnvloed alles.  Vir Paulus is die opstanding nie iets wat net met Christus gebeur het nie.  Dit is iets wat ook met ons gebeur, die oomblik as ons in Hom glo.  Ons status verander.  Ons is in Christus nie meer dood in ons sonde nie, maar opgewek in ‘n nuwe lewe.  Trouens, ons lewe is verborge in God.  En daarom is ons toekoms verseker.  Saam met Christus sal hierdie status aan die einde van die tyd vir almal bekend word, wanneer Christus weer verskyn.

Daarom moet ons ons gedagtes rig op die dinge daarbo.  Paulus bedoel natuurlik nie dat ons net oor die hemel moet dink, en glad nie oor die aarde nie.    Dit spel hy juis in hoofstuk 3 uit.  Die dinge van die aarde is dinge soos onsedelikheid (porneia), slegte begeertes, gierigheid en afgodery, soos ons netnou gelees het met die wet as reël van dankbaarheid.  Dié dinge moet nie deel van ons denke of lewe wees nie.  Die dinge daarbo is die dinge wat deel van ons denke moet wees, dinge soos meelewendheid, goedgesindheid, nederigheid, sagmoedigheid en verdraagsaamheid.  Dit moet ons denke volmaak.

Teen dwaalleer

Hoekom is dié dinge só belangrik? Want, Paulus het agter gekom dat daar sekere idees en praktyke in die gemeente begin posvat het, en hy wil dit teë te werk.  Hy reageer sterk op die idees en praktyke van sekere dwaalleraars. Wat ‘n mens uit die brief aflei, is dat hierdie idees en gebruike uit ‘n vermenging van Joodse en ander godsdienstige en filosofiese idees en praktyke gekom het (kyk hfst. 2):

  • Dit het teorieë en argumente ingesluit wat slegs op die filosofie of op astrologiese beginsels berus het. Vandag sal ons dit as kan vergelyk met die geslote wetenskaplike model wat geen bo-natuur aanvaar nie, of met “die sterre voorspel” en ander New Age tipe idees.  Die evangelie van Jesus Christus maak ons juis vry van die beperkte insig van die Godlose filosofieë sowel as van die wetenskap, óf dit nou ordentlik gedoen word, en of dit nou op kwasi-wetenskaplike manier gedoen word.
  • Dit sluit ook sekere Joodse voorskrifte in – dinge soos die reëls van wat jy mag eet of drink – vark, kreef – of waaraan jy mag vat of dan nou juis nie, Joodse feeste wat gevier moet word en die hou van die Sabbatdag. Ek het juis hierdie week ‘n navraag gekry oor die viering van die Sabbatdag, en kon vir iemand wat regtig aanvegting ervaar het van mense wat dink jy gaan verlore as jy die Sabbatdag nie vier nie, ‘n bietjie verligting bring. Julle kan dit by Bybelskool gaan lees.
  • Daarby was daar ook sprake van dinge soos ‘n aanbidding van engele, en nog ander asketiese gebruike. Vandag sal ons dit met ‘n verskeidenheid van spiritualiteite kan verbind en ook met maniere van eet waarin sekere voedselsoorte vermy moet word, ander aangegryp moet word, en daar ‘n verskeidenheid van reëls vir hoe ons met mekaar mag lewe en hoe nie, gemaak word.

Kolosse se gelowiges is dus geteister deur ‘n swetterjoel vreemde invloede wat gedreig het om die boodskap van Christus te verdring en die gemeente in bygeloof te laat verval.  En laat ons eerlik wees, dié gevare het net toegeneem, en dreig ook om gelowiges vandag nog te mislei.  Ons kan nie maar lewe met die idee dat enige manier van dink die regte is, sonder om dit te meet aan die evangelie van Jesus Christus nie.

Nuwe identiteit in Christus

Hoekom?  Want enige idee wat jou nie bevestig in jou identiteit in Christus nie, verduister sy invloed in jou lewe.  Paulus wys die Godlose filosofieë en teorieë af omdat hy hulle wil help om hul identiteit in Christus uit te bou en te beskerm.

Daarom maak Paulus beswaar teen enige vermenging van die geloof in Christus met selfgemaakte leerstellings, veral wanneer dit nog met jou saligheid verbind word. Soos sommige vandag nog doen deur te sê, die Sabbatviering is deel van jou saligheid, óf jy moet groot gedoop word, óf jy moet in tale praat, of watter ander mensgemaakte of kwasi-geestelike reël daar ook al voorgestel word.  Ek sê nie dat ons nie kan verskil in interpretasie van sommige dinge nie, maar om dit aan ons redding te verbind, kan baie gou problematies word,

Die enigste geldige Christelike lewenswyse is om vanuit ‘n verhouding met Christus te leef en Hom toe te laat om alle verhoudinge waarbinne jy leef, te beïnvloed (Kol 3 vv).  Dit het ‘n invloed op jou eie menswees (3:5-17), op jou verhoudings in die huweliks- en gesinslewe (3:18-21), op jou verhoudings in die werksplek (3:22-4:1), sowel as op jou verhouding met mense wat nog buite die geloof staan (4:5).

Paulus toon dus aan hoe ons identiteit in Christus prakties lyk.

Vyf innerlike kwaliteite

Ek wil konsentreer op jou persoonlike lewe en hoe jou identiteit in Christus prakties kan word, soos ons in vers 12 lees.

Paulus gebruik hier die beeld van ‘n boetiek, waar mens jou ou klere vervang met pragtige nuwe klere. Die nuwe klere van die geloof bestaan volgens vers 12 uit vyf deugde. Hierdie deugde beskryf die innerlike kwaliteite van God se kinders. Hulle is:

  • Meelewendheid
  • Goedgesindheid
  • Nederigheid
  • Sagmoedigheid
  • Verdraagsaamheid

Kom ons staan stil by die betekenis van hierdie vyf deugde.

Meelewendheid

Die term wat hier met “meelewend” vertaal word, kan ook met “meegevoel” vertaal word. Met meelewendheid word dus bedoel dat ons lewe deur meegevoel vir ander gekenmerk sal word. Ons kan dus nie met stereotipes of vooropgesette idees oor ander werk nie, maar moet die Godgegewe menslikheid en menswaardigheid in ander kan raaksien, en met hulle meeleef met meegevoel.

Goedgesindheid

Die tweede deug, goedheid of goedgesindheid, is volgens Galasiërs 5:22 ook deel van die vrug van die Heilige Gees. Goedgesindheid is dus ‘n eienskap van God, en dit is soos Christene ook moet wees. Ons is in Christus ‘n bron van goedheid teenoor ander, ons help en ondersteun met goedgesindheid eerder as om mense met afsydigheid te verwerp.  Ons is ingestel op die intrek en opbou van mense, nie op hulle uitsluiting en verwerping nie.

Nederigheid

In die Nuwe Testament dui nederigheid op diensbaarheid aan Christus (Hand 20:19) en aan ander gelowiges (Ef 4:2; Fil 2:3; 1 Pet 5:5). Nederigheid word gesien in die selfontlediging wat Christus illustreer, soos ons in Filippense 2:5-11 se lied oor Christus lees.  Hy het aan ons gelyk geword, trouens, ons gedien deur sy dood, sodat ons die verlossing in Christus kan ervaar.  Dit is nederigheid.  Dit is waartoe ons geroep word.

‘n Ander manier om oor nederigheid te dink, is om te besef dat nederigheid nie beteken dat jy minder van jouself sal dink nie, maar minder oor jouself te dink, maar eerder oor ander.

Sagmoedigheid

Die vierde deug is sagmoedigheid, ‘n woord wat veral met Jesus se heerskappy verbind word, waar Hy as nederig van hart beskryf word (Matt 11:29). Sagmoedigheid is dus nie swakheid nie, maar behels die inagneming van ander en die gewilligheid om van jou regte afstand te doen ter wille van ander.  Maar, dit sluit in dat ‘n mens optree, dat jy intree, dat jy volhard in jou betrokkenheid van mense.

Verdraagsaamheid, geduld

Die finale deug wat genoem word, is verdraagsaamheid of geduld wat inhou dat jy bereid is om onreg te verduur en die onregverdige optrede van ander te verdra sonder om in woede te reageer of wraak te neem.  Dit is iets wat veral met Job geassosieer word, die boek wat ons in die eerste kwartaal volgende jaar in die Bybelskool gaan lees.

Ons lees in Jakobus 5 hoe Jakobus die gelowiges aanspoor om die Here se koms te bly verwag, om nie moeg te word en nie moed te verloor nie, ook nie oor mekaar te kla nie, en te volhard totdat die Here die uitkoms stuur.

Job word as voorbeeld van volharding vir gelowiges voorgehou, veral met die oog daarop dat sy verhaal wys waarop die Here dit laat uitloop het, naamlik, dat die Here gewys het dat Hy ryk is aan barmhartigheid en ontferming.

Geseënd is dié, sê Jakobus, wat ten spyte van hulle pyn en lyding, ten spyte van die onreg wat hulle moet verduur, steeds geduldig volhard in hulle verwagting van die koms van die Here. Want hulle sal, soos Job, ervaar dat die Here ryk is aan barmhartigheid en ontferming.

Onderlinge verhoudinge

Hierdie vyf deugde dui aan watter vorm die optrede van Jesus se volgelinge, veral ten opsigte van ander mense, behoort aan te neem.  Dit is die dinge wat jy moet aantrek, dié dinge waarin jy moet uitblink, dié dinge waaraan mense jou sal ken: Meelewendheid, Goedgesindheid, Nederigheid, Sagmoedigheid en Verdraagsaamheid.

En jy kan sien dat dié vyf deugde wel innerlike kwaliteit is, maar dat dit ook alles te make het met ons onderlinge verhoudinge. Dié vyf innerlike kwaliteite moet uitgeleef word in die gemeenskap van gelowiges, in jou familie, in jou werk, en teenoor almal met wie jou pad kruis in die lewe.

En daar is vyf maniere waarop dié vyf deugde na vore kan kom, soos in vers 13-17 uitgespel word

  • Dit beteken dus dat jy mense moet vergewe, omdat jy meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam wil wees – soos vers 13 van ons vra. Ons moet sorg dat dinge opgelos word in ons verhoudinge met mekaar.  Ons moet die onvrede aanspreek deur prosesse van vergifnis aan die werk te sit.
  • Dit beteken dus dat jy mense moet liefhê, omdat jy meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam wil wees – soos vers 14 van ons vra. Liefde is die “perfekte band” wat ons aan mekaar bind en vrede tussen ons kan bring.
  • Dit beteken dat jy vrede met ander moet soek en ook maak, omdat jy jy meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam wil wees – soos vers 15 van ons vra. Die opdrag is dat die vrede van Christus in die gelowiges se harte en lewens moet heers.
  • Dit beteken ook dat jy moet sorg dat die Woord van Christus – die Bybel – ryklik in jou en in die gemeente woon, want dit is hoe jy meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam sal kan wees – soos vers 16 dit van ons vra. Dit sluit in dat ons in dankbaarheid psalms en geestelike liedere vir God sal sing.
  • Trouens, dit beteken dat ons hele lewe, in woord en daad, moet getuig dat ons aan God gehoorsaam lewe – soos vers 17 van ons vra, want ons wil meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam wees.

Groei!

Ons nader die einde van dié jaar.  Dit is die tyd van nuwe voornemens en die tyd van fokus op wat regtig belangrik is.  Ek gee dus hierdie vyf innerlike kwaliteite as iets waarop jy kan fokus, iets wat jy van die Here kan vra, en wat jy kan uitleef in jou verhoudinge in 2016.

Ons is in Christus nie meer dood in ons sonde nie, maar opgewek in ‘n nuwe lewe.  Ons moet dié nuwe lewe soos ‘n nuwe kledingstuk aantrek.  Ons moet versigtig wees vir die Godloosheid van sommige filosofieë en sommige maniere van die wetenskap hanteer. Ons moet fokus op die innerlike kwaliteit van die Christelike lewe: meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam.  En ons moet dit uitleef in al ons onderlinge verhoudinge.

LEEF

Gebed

Dankoffer

Slotsang

Lied 344 O die goeie tyding, o die blye tyding – staan

Seën

Voorganger: Mag die God van die engele wat Jesus se geboorte aangekondig het, vreugde in julle hart bring op hierdie dag en vir altyd.

Gemeente: Amen.

Voorganger: Mag die God van liefde wat sy enigste Seun vir ons gegee het, julle lewe met liefde en vrede vul.

Gemeente: Amen.

Voorganger: Mag Immanuel, God met ons, met julle wees in alles wat julle doen, totdat julle eendag aan sy tafel gaan aansit.

Gemeente: Amen.

Voorganger: Die almagtige God, die Vader, die Seun en die Heilige Gees, seën julle elkeen in hierdie Kerstyd.

(Uit “Soos ’n Blom na die Son draai” deur Cas Wepener)

Respons

Lied 344:1 se laaste drie reëls

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.