Skip to main content

LIEFDE – Romeine 13:8-14

AndersEendersWebsliderEk gaan vanoggend net twee goed doen.

  1. Ek gaan iets sê oor die liefdesgebod wat uit die OT gemotiveer word, om jou te help om die OT as die Woord van God vir jou lewe te hoor.
  2. En ek gaan iets sê oor die liefdesgebod se implikasies soos Paulus dit hier in die NT vir die Romeine uitlê sodat jy daarvolgens kan leef.

LUISTER en LEEF.  Ons gemeente se visie.

HIER VOLG DIE HELE EREDIENS (Afrikaans, English):

 

Verwelkoming

  • Ons meegevoel met familie en vriende van John Berrington wat gruwelik vermoor is op sy 85ste verjaarsdag.
  • Die groep wat met aanbidding in die gemeente werk, het goeie werkswinkel Vrydagaand gehad. Ons is besig met verdere navorsing – dit sal ‘n hele paar gesprekke met gemeentelede insluit, sowel as die verwerking van die onlangse erediensbywonersvraelys se resultate – en ons sal in die nuwe jaar terugvoer gee.
  • Die klanksisteem – dit is ‘n uitdaging, die reën het die klankbord beskadig en van die kanale – die versekeringseis het baie lank gevat, maar daar is lig aan die einde van die tonnel. Ons gaan ‘n goeie digitale klankbord installeer en al die kanale wat dood is, vervang. Ons vra geduld.
  • Vir mense met gehooruitdagings – ons het ‘n radiosender bestel, maar dit lê waarskynlik by doeane. Ons hoop om dit binnekort te kry en nog ‘n beter diens te lewer.
  • En dan oor die dak – ons sal die dak moet vervang en voorlopige kwotasies vir die hele dak is in die omgewing van twee miljoen Rand. Ons het reeds min of meer die helfte van die geld, maar ons sal nog meer nodig hê – dit is benewens die Geloofsoffers waarvoor ons min of meer R150 000 tot Februarie nodig het.  Dit is vandag “Tiende” dankoffer dag.  Hierdie gemeente – die LUISTER-LEEF SPAN, soos Daleen Dahms, ons klankvrou, ons noem – is elkeen van ons s’n.  Ons hoef nie eienaarskap te neem nie.  Ons IS die gemeente en daarom bevoorreg om verantwoordelikheid te neem.  Die Here het ons in alle opsigte tot hier gebring en geseën.  Hy gebruik in ons in die wêreld om tot ‘n seën te wees.  Hy sal ons in staat stel om alles te doen wat Hy van ons vra.

GOD NOOI ONS IN EN ONS KOM TOT RUS

FLAM 22 Ek soek U, o God, my God (groep) – sit

Votum en Seëngroet

Lied 200 U goedheid, Heer, kan ons nie peil nie (orrel) – staan

Psalm 119:18,26, 27 U woord is soet gevul met wysheid (orrel) – sit (koor vers 26)

FLAM 112 Ek roem u Naam (groep) – sit

Verootmoediging

Romeine 13:8-10

8Julle moet niemand iets verskuldig wees nie, behalwe om mekaar lief te hê. Wie sy medemens liefhet, voer die hele wet van God uit. 9Al die gebooie: “Jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie begeer nie,” y of watter ander gebod daar ook al is, word immers in hierdie een gebod saamgevat: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” z10Die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie. Daarom is die liefde die volle uitvoering van die wet.”

Gebed

FLAM 107 Dit borrel in my, want ek is so bly (groep) – staan

GOD PRAAT EN ONS LUISTER

Woordverkondiging

Inleiding

Kinders kom almal na vore.

“Tiende” dankoffers

Koor:  Vonkk 200 Daar is ‘n Verlosser

Gebed

Lied 442:1 Gees van God wat in my woon, breek die Woord vir my – Koor 1x, Gemeente 1x   (sit)

Skriflesing

Paulus skryf die brief aan die Romeine – gedikteer aan Tertius (16:22) – waarskynlik van Korinte af naby die einde van sy derde sendingreis, ongeveer in die jaar 57 n.C. in die 3 maande wat hy in Griekeland deurgebring het (Hand. 20:2-3).  Hy is op pad met die dankoffers wat gemeentes in Masedonië en Agaje bygedra het vir die gemeente in Jerusalem (vgl. Rom. 15:25-26 met 1 Kor. 16:1-7).

Dit is duidelik dat die stryd rondom die inskakeling van Christene uit die heidense nasies nog hewig woed, hoewel hulle in die meerderheid was in die Romeinse huisgemeentes (vgl. 16:5,14,15).  En die vraag is steeds krities: moet gelowiges uit die heidennasies die wet nakom of nie?

Daarom verset Paulus hom steeds teen die klem wat sekere Joodse gelowiges plaas op die besnydenis (2:25-3:1; 4:9-12 – vgl. Gal. 5:2-12) en die voedsel wette (Rom. 14:1-23) – uiteraard, uit hulle perspektief, as ’n manier om hulle Joodse identiteit in die vreemde te bewaar, maar waarmee, uit Paulus se perspektief, hulle Christelike identiteit in gedrang kom.

Hy verkondig daarom aan hulle die hoofsaak van hulle liefde vir mekaar wat in wese die wet vervul (Rom. 13:8-14) sodat die eenheid tussen gelowiges bewaar kan word.  Maar hy brei ook uit oor die belangrike besluit wat die kerk in Jerusalem geneem het oor onsedelikheid (Hand. 15:24-29) wat juis wys hoe die liefde moet werk en waarvan die riglyne deur almal nagekom moet word (Rom. 1:18-32; 13:13).

Die boodskap was nodig omdat sommige Joodse gelowiges waarskynlik apart van gelowiges uit die heidennasies in hulle huiskerke vergader het (16:5,14,15).  Paulus wys dat só ’n praktiese reëling die evangelie in sy wese kan aanrand.

En onthou dat dié boodskap in 4 hoofdele geskryf word met ‘n slot wat aansluit by die fokus van die 4de deel.  Want, anders verloor ‘n mens Paulus se breë aanpak en verval te maklik in die detail van die verse:

  • Hoofstuk 1-4 – hy fokus op die evangelie van Jesus Christus wat die reaksie van God is op die sondigheid van alle mense en vryspraak vir almal bring;
  • Hoofstuk 5-8 – hy fokus op hoe mense van hulle sondigheid verlos kan word deur die geloof in Christus Jesus en in ’n nuwe lewe kan leef deur die gawe van die Heilige Gees;
  • Hoofstuk 9-11 – hy fokus op die eenheid wat God gebring het tussen Jode en heidene en beantwoord die brandende vraag na die toekoms van Israel;
  • Hoofstuk 12-16 – hy fokus op praktiese sake en veral die onderlinge verhoudinge van die geloofsgemeenskap sowel as hulle lewe in die breër gemeenskap.

Dit is in hierdie laaste deel wat ons nou die verse uit Romeine 13:11-14 lees.  Ek lees die eerste gedeelte weer, ter wille van die konteks:

8Julle moet niemand iets verskuldig wees nie, behalwe om mekaar lief te hê. Wie sy medemens liefhet, voer die hele wet van God uit. 9Al die gebooie: “Jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie begeer nie,” y of watter ander gebod daar ook al is, word immers in hierdie een gebod saamgevat: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” z10Die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie. Daarom is die liefde die volle uitvoering van die wet.

11En dit alles is nodig omdat julle weet hoe laat dit al is. Die uur is reeds daar dat julle uit die slaap moet wakker word, want die tyd van ons finale verlossing is nou nader as toe ons tot die geloof gekom het. 12Die nag is byna verby; dit is amper dag. Laat ons dan ophou met die werke van die duisternis; laat ons die wapens van die lig opneem. 13Ons moet welvoeglik lewe soos dit in die daglig hoort. Daar moet geen drinkery en uitspattigheid, geen ontug en onsedelikheid, geen rusie en jaloesie wees nie. 14Nee, julle moet lewe soos volgelinge van die Here Jesus Christus en nie voortdurend daarop uit wees om julle sondige begeertes te bevredig nie.”

Integrasie: LIEFDE

Ek gaan vanoggend net twee goed doen.

  1. Ek gaan iets sê oor die liefdesgebod wat uit die OT gemotiveer word, om jou te help om die OT as die Woord van God vir jou lewe te hoor.
  2. En ek gaan iets sê oor die liefdesgebod se implikasies soos Paulus dit hier in die NT vir die Romeine uitlê sodat jy daarvolgens kan leef.

LUISTER en LEEF.  Ons gemeente se visie.

  1. Paulus motiveer die liefdesgebod uit die OT

Die eerste ding wat ‘n mens hier moet raaksien is dat Paulus hierdie liefdesgebod uit die OT motiveer.  Julle kan dit raaksien in die verwysings in julle Bybel.  Paulus haal uit die Tien Gebooie in Eks. 20 en Deut. 5 aan, sowel as uit Lev. 19 waar die OT uitgebreid oor naasteliefde skryf, veral in terme van seksuele – en selfdefamilieverhoudings, maar ook ‘n reeks ander voorskrifte (Lev. 18-20).

Die liefdesgebod van die NT staan dus in direkte en gelykwaardige verhouding met die OT wet.  Geen wonder nie, want, die OT was vir die eerste Christene die enigste Woord van God.  Hierdie brief aan die Romeine is eers met verdrag saam met die ander 26 boeke van die NT deel van die kanon gemaak.  So, as Paulus van die Woord van God gepraat het, het hy van die OT gepraat, meer korrek nog, die Griekse vertaling van die OT, die LXX, wat ‘n paar ekstra deuterokanonieke boeke bevat het (daaroor egter ‘n ander dag – ek sal graag van hulle met julle wil deurlees, soos NGB artikel 6 voorstel).

Daar is dus geen spanning tussen die wet van die OT en die liefdesgebod van die NT nie, hoewel die seremoniële kant van die OT wet, sowel as die strawwe daarvan in Christus Jesus vervul is, en daarom nie meer van krag is nie.  Daar is dus kontinuïteit en diskontinuïteit, maar geen breuk tussen die twee dele van God se Woord nie.

Wat bedoel ek met die seremoniële kant?  Dit is die gebooie soos dié oor wol en katoen wat nie gemeng mag word nie, wette wat nie meer van krag  is nie – hoewel dit natuurlik eintlik net in die gewone lewe verbied is; in die tabernakel was dit deel van die heiligdom, en heeltemal aanvaarbaar.  Dit is dinge soos die reinheidswette oor kreef en verskillende tipes diere wat nie geëet mag word nie, bv. vark.  Daardie dele van die wet is nie meer van toepassing nie, soos ons belydenisskrifte ook immers vir ons sê.

Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 25 – DIE SEREMONIËLE WET IN CHRISTUS VERVUL

“Ons glo dat die seremonies en heenwysings van die Wet met die koms van Christus opgehou het en dat alle voorafskaduwing tot ‘n einde gekom het. Die gebruik daarvan moet derhalwe onder die Christene afgeskaf word. Die waarheid en inhoud daarvan bly nogtans vir ons in Christus Jesus bestaan: in Hom het hierdie seremonies en heenwysings juis hulle vervulling. Ons gaan ook nog voort om die getuienisse van die wet en die profete te gebruik om ons in die evangelie te bevestig en ook om ons lewe in alle eerbaarheid tot eer van God en volgens sy wil in te rig. (Rom. 10:4; Gal. 3, 4; Kol. 2:17; 2 Pet. 1:19; 3:2, 18.)”

Let op daardie laaste belydenis: “Ons gaan ook nog voort om die getuienisse van die wet en die profete te gebruik om ons in die evangelie te bevestig en ook om ons lewe in alle eerbaarheid tot eer van God en volgens sy wil in te rig.” Die wet help ons 1) om die evangelie te bevestig in ons lewe.  En die wet help ons 2) om volgens God se wil te lewe.  Die wet!

Dit is waarom die gebooie oor naasteliefde steeds van krag kan wees, trouens nog meer en beter van krag is, soos Jesus bv. met sy verhaal van die Barmhartige Samaritaan uitgewys het; en met sy radikalisering van die egskeidingsgebod, dat dit eintlik net weens die hardheid van ons hart deur die wet toegelaat is, en nie eintlik in God se plan gepas het nie, en steeds nie deel van ‘n geloofsgemeenskap se manier van doen behoort te wees nie.  Die liefdesgebod vereis eintlik dat ons getrou bly aan mekaar en dinge regmaak wat verkeerd is.  Ons lojaliteit aan Christus moet ons help om lojaal te bly aan mekaar in die huwelik.

Wat bedoel ek met die strawwe?  Wel, aan menige van die wette is daar strawwe gekoppel, baie keer die doodstraf.  Maar, dié strawwe van die wet is omvattend in Christus se kruisdood vervul en daarom nie meer van krag nie.  ‘n Mens moet natuurlik byvoeg, sonder ‘n geloofsverhouding met Christus Jesus, waarin sy verlossing jou vrymaak van die straf van die wet, bly die wet steeds van krag, soos Paulus onder ander aan Timoteus aan die einde van sy lewe skryf (1 Tim. 1).  Maar, vir elkeen wat sy toevlug neem tot Christus, is daar verlossing van die straf van die wet en die sonde.

Wat is die evangelie hiervan?  Wel, eenvoudig: dat ons vrygespreek is van die seremoniële kant sowel as die strawwe van die wet.  Vir elkeen wat in Christus Jesus glo, is die seremoniële kant en die strawwe van die wet opgehef, sodat ons in Christus nie net die vryspraak van sonde kan geniet nie, maar ook opgeroep kan word om in liefde met mekaar, selfs meer as wat die wet uitspel, te kan lewe.

God se wet is immers nou deur die Gees op ons harte geskryf.  Ons kan nou van binne af God se wet nakom, en die liefde is die beste beskrywing van wat die intensie van die wet is.  Maar, onthou, dit is steeds die wet van God, die Tôrâ, iets wat vir altyd van krag bly, behalwe natuurlik die seremoniële en strafregtelike kant daarvan vir gelowiges wat in Jesus glo, soos die NT ons leer.

Hoekom is dit só belangrik?  Want, daarmee bevestig ons die OT as die Woord van God.  Albei Testamente van die Bybel is die Woord van God.  In albei hoor ons die stem van God.  Sommige dele van God se Woord is net in die OT te vinde, en ander weer net in die NT.

  • Dink maar aan Hooglied! Dit is net die OT wat dié verrukking en passie van die liefde tussen twee mense op só ‘n onvergelyklike manier besing.  Jy soek verniet só iets in die NT.
  • Dink aan die skeppingsverhale. Dit word begrond aan die begin in Genesis, word gereflekteer in die verhalende gedeeltes, word besing in die Psalms, en ingetrek in die beskrywing van wysheid in die OT. Baie meer as in die NT.
  • Dink aan die bevryding uit die slawehuis uit Egipte en uit Babilon, die twee fundamentele tradisies van die OT wat ons as kinders van die Here gehelp het om in die 18de eeu self so ver te kom om slawerny oor groot dele van die wêreld afgeskaf te kry, hoewel daar nog belangrike werk oor is.  Die Eksodus uit Egipte en die Terugkeer uit Ballingskap het die idee van slawerny fundamenteel aan flarde geskiet.  En dit lê in die OT.
  • Dink aan Miriam wat saam met Moses ‘n profeet en ‘n leier was. Trouens sonder haar sou hy nie geleef het en die volk kon begelei nie.  Dit het ons gehelp om uiteindelik vroue volledig in alle fasette van die kerklike lewe tot hulle reg te laat kom, al het dit so lank geneem, en was dit vir ons kerk maar ‘n skrale twintig jaar gelede.  En daar is nog Debora, en Gulda, en Abigajil, en Batseba, en Tamar, en Ragab, en Rut, en Naomi, en Heman wat sy dogters toegelaat het in die liturgie in die tempel wat die tradisies van die patriargie fundamenteel begin ondergrawe het.

Die NT skryf wel ook oor die skepping, maar baie minder as die OT. Die NT skrywe ook dat slawe hulle harte op vryheid kan plaas, maar minder as die OT.  Die NT skryf wel meer oor die leiersrol van vroue, al is daar ook ‘n enkele problematiese vers in Timoteus, maar bou in die vele ander positiewe beskrywings van vroue in leiersrolle voort op die boodskap wat reeds in die OT was.  En die NT is skaars oor die positiewe viering van die liefde soos die boek Hooglied uit die OT onbeskaamd doen.

Paulus skryf dus hier in Romeine nie iets wat in stryd is met die wet van die OT nie. Die liefdesgebod laat die wet juis tot sy volle werking in ons lewe kom.  Die NT se beskrywing van die liefde is ingebed in die OT se beskrywing daarvan, hoewel daar aspekte is wat duideliker en meer genoegsaam in die NT na vore kom, en vice versa.  Daarom is albei Testamente nodig.  Daarom is die gesamentlike getuienis van die OT en die NT beter as enigiets anders wat ons daarna kan skryf, of preek, of vir mekaar in ons saampraat ooit kan sê.  Die Bybel is in albei Testamente die Woord van God.

  1. Wat is die implikasies van die liefdesgebod?

Die Skrif is so helder hieroor dat ‘n mens amper nie nodig het om dit uit te lê nie.  Paulus gee hier vir ons vyf riglyne van wat dit beteken om lief te hê in die praktyk van die lewe. En let op: hy is baie spesifiek in die riglyne.  Die onus is nie op ons om ons eie interpretasie te maak van wat die liefde beteken in ons lewe nie, behalwe natuurlik dié dinge waaroor hy en die res van die Bybel stil is nie, en waarvoor hy wel ook ‘n algemene riglyn gee.  Maar, daar is min sulke dinge, moet ’n mens bysê.

  1. 8Julle moet niemand iets verskuldig wees nie, behalwe om mekaar lief te hê.” ‘n Wonderlike motto om volgens te lewe – geen skuld nie, selfs nie in terme van die publieke lewe nie. Liefde is dus om nie iets te weerhou wat jy verskuldig is nie.  Dis die eenvoudige riglyn van die liefde. Betaal wat jy moet. Dit maak jou vry.  Dit maak ander vry.  Dit is wat die liefde van jou vra.  JY IS LIEFDE VERSKULDIG AAN ALLE MENSE.
  2. “Wie sy medemens liefhet, voer die hele wet van God uit,” sê Paulus. Maar, let op, dit is nie sonder konteks nie.  Nee, Paulus spel uit wat hy bedoel met die hele wet van God.  Hy haal vier wette uit die Tien Gebooie aan en sluit al die ander met ‘n breë opmerking in, nie net die ses ander in die Tien Gebooie nie, maar trouens alles wat in die eerste vyf boeke van die OT geskrywe is, die Tôrâ van God. Alles in die Pentateug is dus op ‘n baie integrale wyse deel van die gebod om jou naaste lief te hê soos jouself, soos Jesus immers self geleer het, en in die Bergrede uitvoerig uitgelê het.  Hoe lyk die liefde?  Wel die wet sê dit vir jou: “Jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie begeer nie.” Watter ander gebod daar ook al is, sê Paulus, word immers in hierdie een gebod saamgevat: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”  DIE OT WET GEE DUS VIR JOU ‘N PRENTJIE VAN HOE DIE LIEFDE WERK.
  3. Dan vervolg Paulus met ‘n algemene opmerking vir dié dinge waaroor jy miskien wonder, en waaroor die Bybel nie ‘n uitspraak gee nie: “10Die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie. Daarom is die liefde die volle uitvoering van die wet.” As jy nie weet hoe die liefde lyk nie, dink daaraan dat jy moet sorg dat niemand kwaad aangedoen word nie. ‘n Goeie algemene riglyn saam met die riglyn dat jy niks moet skuld nie.  DIE LIEFDE DOEN DIE NAASTE GEEN KWAAD AAN NIE.
  4. Dan raak Paulus nog meer prakties, omdat hy weet dat die tyd naby is, die tyd van ons finale verlossing. “Die nag is verby; dit is amper dag.”  Ons is amper in die heilige teenwoordigheid van God in die nuwe hemel en aarde.  So ons moet: “ophou met die werke van die duisternis;” en ons moet: “die wapens van die lig opneem.”  Die Gees is aan ons gegee (vgl. Rom. 8 en 12 hieroor) om aan die een kant dié sondes wat bv. in Romeine 1 beskryf word in ons lewe dood te maak – daar word 26 sondes genoem – en aan die ander kant die wapens van die lig op te neem, dinge wat hy op ‘n ander plek beskryf as die wapens van geloof, hoop en liefde (1 Tess. 5:8: “ons moet geloof en liefde as borsharnas dra en die hoop op verlossing as helm.” ook 2 Kor. 10 wat praat oor apologetiek, en Ef. 6 wat nog meer uitbrei oor die wapenrusting).  HOU OP MET DIE WERKE VAN DIE DUISTERNIS EN NEEM DIE WAPENS VAN DIE LIG OP.
  5. Dit beteken vir hom dat: “13Ons welvoeglik moet lewe soos dit in die daglig hoort. Daar moet geen drinkery en uitspattigheid, geen ontug en onsedelikheid, geen rusie en jaloesie wees nie. 14Nee, julle moet lewe soos volgelinge van die Here Jesus Christus en nie voortdurend daarop uit wees om julle sondige begeertes te bevredig nie.” Dit beteken dat ons moet ophou met die werke van die duisternis wat hy uitspel as onvanpaste publieke vieringe (drinkery, uitspattigheid), ‘n onvanpaste sedelike lewe (ontug, onsedelikheid) en die bewaring van onderlinge verhoudinge (rusie, jaloesie – vgl. Gal. 5:19-21). Die liefde word dus volledig deur ‘n heilige lewe gekenmerk. Heiligheid is liefde.  Liefde is heiligheid.  En dit moet eenvoudig uitstaan dat jy nie vir jouself leef nie, maar vir die Here Jesus Christus.  Bo alles.  Die liefde vir Christus is immers bo alles.  LEWE WELVOEGLIK SOOS VOLGELINGE VAN JESUS CHRISTUS.

Ek dink elkeen van ons kan op verskillende maniere dié boodskap toepas.

  1. Jy moenie iets anders as die liefde aan iemand verskuldig wees nie.
  2. Die liefde lê alreeds in die uitvoering van die riglyne van die wet, wat ons in ons Gereformeerde kerk die reël van dankbaarheid noem, soos die Heidelbergse Kategismus dit in deel drie uitspel (saam met gebed).
  3. Jy moenie enigiemand iets kwaad aandoen nie.
  4. Jy moet die dinge van die duisternis aflê, en die wapens van hoop, liefde en geloof opneem.
  5. Jy moet welvoeglik lewe – en ses riglyne word uitgespel om jou ‘n idee te gee van wat dit inhou – as volgeling van Jesus Christus.

Kom ons gee ‘n tyd van stil refleksie – oor die OT as die Woord van God en oor die impak van die liefdesgebod op die praktyk van jou lewe.

GOD STUUR ONS OM TE LEEF

Gebed

Lied 286 Here, God van liefde

Seënbede

Amen

Respons

Lied 286 se laaste 5 reëls: Here laat ons nooit alleen

 

y Eks. 20:13–20:15; 20:17; Deut. 5:17–5:19; 5:21

z Lev. 19:18

y Eks. 20:13–20:15; 20:17; Deut. 5:17–5:19; 5:21

z Lev. 19:18

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.