Die koninkryk verdien ons onverdeelde aandag – 1 Korintiërs 7:29-31

Geluk begin by gehoorsaamheid

Happy families are all alike; every unhappy family is unhappy in its own way.” (Anna Karenina, Leo Tolstoy).

Dit is een van die beroemdste eerste sinne ooit van ‘n roman. Dit vat in ‘n neutedop die kontras tussen twee van die hoofkarakters in Tolstoy se roman saam, Konstantin Levin en Anna Karenina.

Aan die een kant het jy Levin wat kies vir lojaliteit aan sy vrou Kitty Shcherbatsky en hulle familie, al het dit bloedsweet gekos. Hulle beleef uiteindelik liefde, geluk en vrede.

Aan die ander kant het jy Anna wat kies vir ‘n buite-egtelike verhouding met Alexei Vronsky om te ontsnap aan haar ongelukkige huwelik met die baie ouer Alexei Karenin. Dit eindig tragies in ongeluk, onvrede, verwydering, selfs van haar seun, en uiteindelik selfmoord.

‘n Mens is in die lees van die boek óf in die meeleef met die rolprent aanvanklik opgevang in die romantiek van die passie wat Anna het vir Vronsky, maar besef algaande die selfvernietigende pad waarop sy haarself en almal rondom haar plaas. Jy begin algaande besef dat dit onafwendbaar op ‘n tragedie gaan afstuur.

Die omgekeerde is waar van die verhouding van Levin en Kitty wat deur hoeveel drama en stryd, misverstande en versoekings gaan, maar vir wie die keuse vir eerbaarheid en lojaliteit ‘n fondament gee vir uiteindelike geluk en vrede.

Dit illustreer vir my die eeueoue waarheid: Geluk (of Saligheid as jy die Bergrede ernstig neem) begin by Gehoorsaamheid. Jy kan net gelukkig leef as jy luister na die waarhede wat ingebed lê in ons oorgelewerde Christelike waardes.  In terme van ons gemeente se visie – luister kom voor leef; leef spruit uit luister.

Gelukkige families is almal dieselfde.  Hulle kies om eerbaar te wees.  Hulle kies om mekaar eerste te stel.  Hulle kies om God se wil vir die lewe na te volg.  Hulle kies om getrou te bly aan mekaar.  Hulle kies om hulle self te gee, hulle self te verloën, selfs tot die punt van die dood. Dit beteken nie dat alles voorspoedig met hulle gaan nie. Dit beteken nie dat hulle nie daagliks moet werk aan hulle familiewees nie. Maar die geluk lê alreeds in die besef dat julle die regte keuses maak, om gehoorsaam aan God te wees en lojaal aan mekaar.

Ongelukkige families se ongeluk kom van verskillende hoeke af.  Hulle is soms nie eerbaar nie.  Hulle is soms selfsugtig en plaas eiebelang bo die familie s’n, soos Anna haar passie vir Vronsky bó alles gestel het. Hulle is soms ontrou, dislojaal, goddeloos. En onthou, goddeloosheid lê nie net in die aktiewe dien van afgode nie, maar in apatie, in traak-my-nie-agtigheid, in belangeloosheid. Selfs die voorspoed wat sulke families beleef, bring nie vir hulle geluk nie.

Geluk lê immers nie in die voorspoed as sodanig nie, maar in die diep tevredenheid wat jy put uit dit wat reg is, dit wat reg gedoen word, dit wat volgens God se wil is, dit wat in lyn is met die bron van al ons waardes, die Woord van God.

Vier beginsels

Ek gaan daarom vier beginsels uitlig uit 1 Korintiërs 7.  Vier beginsels wat Paulus hier vir ons deurgee.  Dit is die dinge wat hy van die Here ontvang het rondom familiewees, waaraan ons gehoorsaam moet wees, waaraan ons geluk in ons families verbind is.  Dit is ook die vier dinge wat die Here op my hart gelê het om reg aan die begin van die jaar vir ons almal te gee as rigtingwysers vir ons verhoudinge, met God en met mekaar.

(Download the English translation: 1 Corinthians 7:29-31.DOCX)

HIER VOLG DIE HELE EREDIENS

Verwelkoming

  • Graad 1’s en Matrieks. Belangrike jaar vir julle. Die begin van ‘n skoolloopbaan. En die voorbereiding vir ‘n beroepsloopbaan. Spesiale tienerdiens vanaand. Welkom.
  • Sommige studente is ook al hier. Welkom. Ons verwelkom julle later in die maand meer spesifiek.
  • Die studentekamp (alle studente) is volgende naweek (kyk in aankondigings) en die eerstejaarsdiens daarna, die 4de Februarie.
  • Oproep om te bid vir reën Woensdag 24 Januarie 13:00. Dit hang saam met die gebed in die Gebedsriglyne wat vir die boere in die droogte bid.
  • Gebruik gerus ook die res van die Gebedsriglyne. Dit is kort, op die man af, baie aktueel.
  • Luisterspan Maandag 18:00 – let op dat die datum verander het.
  • Op pad met God normale tyd Maandag 16:00.
  • Bybelskool Woensdag 18:00-19:00.
  • Kategese – ons het groepleiers nodig.
  • Skenkings vir Zithulele.
  • Dasprojek – bring dasse vir huishulpe.
  • Musiektrivia vir 16 Februarie (kyk in aankondigings).
  • Kleingroepmateriaal in aankondigings, sowel as op die web. Stiltetyd. Kleingroeptyd. Familietyd. Gebaseer op volgende week se preekteks, 1 Korintiërs 8.

Toetrede

Lied 161 Halleluja! Heer, U is ons lewe, middelpunt van ál ons hoop – sit

Votum

1 Vir die musiekleier. Op Jedoetoen[1]. ‘n Psalm. Van Dawid.

2 Net by God vind ek rus; van Hom kom my verlossing. 3 Net Hy is my rots, my verlossing, my toevlugsoord; ek sal nie maklik wankel nie. (Psalm 62 – BDV)

Seëngroet

Loflied

Lied 372:1,3 Hoe glansryk blink die Môrester, hoe helder skyn die lig van ver in donker aardse nagte – staan

Kindertyd

Ek vertel en wys die prentjies van die storie: Ten Little Hot Dogs Sitting on a Chair (John Himmelman).

Ons lees in die Bybel (Markus 1:14-20) dat Jesus dissipels gekies het om Hom te volg. Hy wou hê dat hulle Hom leer ken. Dat hulle mekaar sal leer lief kry. Dat hulle ander mense van Hom sal vertel. Dat hulle sal vertel van sy genade en sy liefde en sy omgee vir ons. Hy het vir Petrus en Andreas, Jakobus en Johannes en nog ‘n hele klomp ander gekies. Een vir een het die dissipels agter Hom aangegaan, totdat dit ‘n groot skare dissipels was. En hulle het sy boodskap vir alle mense gaan vertel, sodat ook ons van Jesus kon hoor.

Soos hierdie hondjies. Dit is net baie beter as daar tien hondjies is, nie waar nie? En hulle saam speel. So doen ons dinge saam hier in die kerk. Want ons is lief vir die Here, en daarom lief vir al die ander mense wat vir Hom lief is. En ons kan mekaar help om vir ander van Jesus te vertel.

Lied 553 Ek is bly ek ken vir Jesus; ek is bly ek is sy kind – sit

Alle kinders (en ouers) gaan na die Ark vir die indeling in kategese.

Verootmoediging

Ek wil vandag in ons tyd van verootmoediging nie fokus op ons behoefte aan vergifnis nie, maar op ons behoefte aan berusting in die lig van die teenstand wat baie van ons ervaar, omdat ons aan die evangelie gehoorsaam wil wees. Ek gaan Psalm 62 (BDV) gebruik as ‘n riglyn waarmee jy in stilgebed met die Here in gesprek kan tree. Ek sal dit telkens lees – dit is ook op die skerm – en genoeg stilte tussen-in gee vir stilgebed:

4 Hoe lank nog gaan julle ‘n mens bly aanval, breek almal van julle hom af — soos ‘n muur wat oorhel, ‘n tuinmuur wat omgestoot word? 5 Ja, hulle beplan om hom af te stoot van sy hoë plek, hulle hou van leuens. Met die mond seën hulle, maar in hulle binneste vloek hulle. Sela (pouse vir nadenke)

 

6 Net by God moet ek rus vind, want op Hom is my hoop gevestig. 7 Net Hy is my rots, my verlossing, my toevlugsoord. Ek sal nie wankel nie. 8 By God lê my verlossing, my eer. My sterk rots, my skuilplek, is God alleen. 9 Vertrou te alle tye op Hom; stort julle hart voor Hom uit. God is vir ons ‘n skuilplek. Sela (pouse vir nadenke)

 

10 Net ‘n asemteug is die mens, onbetroubaar is die mensdom; op ‘n weegskaal gaan hulle op (dws hulle het geen gewig nie), saam is hulle ligter as ‘n asemteug. 11 Moet op afpersing nie staatmaak, op plunder julle ydele hoop nie vestig nie. Rykdom, as dit toeneem — moet julle hart nie daaraan verpand nie (vgl Matt 19:22; 1 Tim 6:17).

12 Een saak het God bevestig, twee, wat ek gehoor het: Krag is by God; 13 by U, my Heer, is daar troue liefde, want U self beloon ‘n mens volgens sy dade (vgl Matt 16:27; Rom 2:6; 2 Tim 4:14; 1 Pet 1:17; Op 2:23; 20:12-13; 22:12). (pouse vir nadenke)

Loflied

Lied 578:1,3 Jesus wat my liefhet, Heer, laat my veilig by U skuil – sit

Epiklese

Skriflesing

1 Korintiërs 7:25-40 – Die koninkryk verdien onverdeelde aandag

Geluk begin by gehoorsaamheid

 “Happy families are all alike; every unhappy family is unhappy in its own way.” (Anna Karenina, Leo Tolstoy).

Dit is een van die beroemdste eerste sinne ooit van ‘n roman. Dit vat in ‘n neutedop die kontras tussen twee van die hoofkarakters in Tolstoy se roman saam, Konstantin Levin en Anna Karenina.

Aan die een kant het jy Levin wat kies vir lojaliteit aan sy vrou Kitty Shcherbatsky en hulle familie, al het dit bloedsweet gekos. Hulle beleef uiteindelik liefde, geluk en vrede.

Aan die ander kant het jy Anna wat kies vir ‘n buite-egtelike verhouding met Alexei Vronsky om te ontsnap aan haar ongelukkige huwelik met die baie ouer Alexei Karenin. Dit eindig tragies in ongeluk, onvrede, verwydering, selfs van haar seun, en uiteindelik selfmoord.

‘n Mens is in die lees van die boek óf in die meeleef met die rolprent aanvanklik opgevang in die romantiek van die passie wat Anna het vir Vronsky, maar besef algaande die selfvernietigende pad waarop sy haarself en almal rondom haar plaas. Jy begin algaande besef dat dit onafwendbaar op ‘n tragedie gaan afstuur.

Die omgekeerde is waar van die verhouding van Levin en Kitty wat deur hoeveel drama en stryd, misverstande en versoekings gaan, maar vir wie die keuse vir eerbaarheid en lojaliteit ‘n fondament gee vir uiteindelike geluk en vrede.

Dit illustreer vir my die eeueoue waarheid: Geluk (of Saligheid as jy die Bergrede ernstig neem) begin by Gehoorsaamheid. Jy kan net gelukkig leef as jy luister na die waarhede wat ingebed lê in ons oorgelewerde Christelike waardes.  In terme van ons gemeente se visie – luister kom voor leef; leef spruit uit luister.

Gelukkige families is almal dieselfde.  Hulle kies om eerbaar te wees.  Hulle kies om mekaar eerste te stel.  Hulle kies om God se wil vir die lewe na te volg.  Hulle kies om getrou te bly aan mekaar.  Hulle kies om hulle self te gee, hulle self te verloën, selfs tot die punt van die dood. Dit beteken nie dat alles voorspoedig met hulle gaan nie. Dit beteken nie dat hulle nie daagliks moet werk aan hulle familiewees nie. Maar die geluk lê alreeds in die besef dat julle die regte keuses maak, om gehoorsaam aan God te wees en lojaal aan mekaar.

Ongelukkige families se ongeluk kom van verskillende hoeke af.  Hulle is soms nie eerbaar nie.  Hulle is soms selfsugtig en plaas eiebelang bo die familie s’n, soos Anna haar passie vir Vronsky bó alles gestel het. Hulle is soms ontrou, dislojaal, goddeloos. En onthou, goddeloosheid lê nie net in die aktiewe dien van afgode nie, maar in apatie, in traak-my-nie-agtigheid, in belangeloosheid. Selfs die voorspoed wat sulke families beleef, bring nie vir hulle geluk nie.

Geluk lê immers nie in die voorspoed as sodanig nie, maar in die diep tevredenheid wat jy put uit dit wat reg is, dit wat reg gedoen word, dit wat volgens God se wil is, dit wat in lyn is met die bron van al ons waardes, die Woord van God.

Vier beginsels

Ek gaan daarom vier beginsels uitlig uit 1 Korintiërs 7.  Vier beginsels wat Paulus hier vir ons deurgee.  Dit is die dinge wat hy van die Here ontvang het rondom familiewees, waaraan ons gehoorsaam moet wees, waaraan ons geluk in ons families verbind is.  Dit is ook die vier dinge wat die Here op my hart gelê het om reg aan die begin van die jaar vir ons almal te gee as rigtingwysers vir ons verhoudinge, met God en met mekaar.

Ek gaan telkens net ‘n paar verse lees uit elke perikoop wat die beginsel stel en dan ‘n paar opmerkings daaroor maak.

1. Elke man behoort sy eie vrou te hê en elke vrou haar eie man

1 Verder, met verwysing na waaroor julle geskryf het: “Dit is goed vir ‘n man om nie met ‘n vrou omgang te hê nie.” 2 Maar om onsedelikheid te voorkom, behoort elke man sy eie vrou te hê en elke vrou haar eie man. 3 Die man moet sy huweliksplig teenoor sy vrou nakom, en net so die vrou teenoor haar man. 4 Die getroude vrou het nie seggenskap oor haar eie liggaam nie, maar haar man wel; net so het die man ook nie seggenskap oor sy eie liggaam nie, maar sy vrou wel. 5 Moet julle nie van mekaar weerhou nie, behalwe as julle ooreenkom op ‘n beperkte tyd om julle aan gebed te wy. En kom dan weer bymekaar, sodat Satans julle nie verlei as gevolg van julle gebrek aan selfbeheersing nie. 6 Dit sê ek as toegewing, nie as voorskrif nie. 7 Ek wens alle mense kon soos ek wees; maar elkeen het ‘n eie gawe van God ontvang, die een dit, die ander iets anders. 8 Vir die ongetroudes en die weduwees sê ek dat dit vir hulle goed is om ook soos ek te bly. 9 Maar as hulle nie hulleself kan beheer nie, moet hulle trou, want dit is beter om te trou as om van begeerte te brand.

Elke man behoort sy eie vrou te hê en elke vrou haar eie man.

Dat Paulus gedink het dat ‘n mens liewer ongetroud moet bly, is ‘n feit. Die rede was dat hy gedink het dat dit beter was vir die koninkryk. Ongetroudes kon in sy oë hulle aandag beter fokus op wat die Here wil.  Getroudes het ook ander belange gehad. Maar hy het ook besef dat só ‘n lewe ‘n gawe van God was, en nie almal het dit van Hom ontvang nie. Daarom gee hy hierdie lering deur. Die huwelik is ‘n goeie gawe van God.

Dit beteken dus dat Paulus positief was oor die huwelik.  Trouens, hy praat oor die huwelik as ‘n geheimenis, ‘n misterie, ‘n voorbeeld van hoe die verhouding tussen die gelowige en God werk, tussen die gemeente en die Here Jesus (Ef 5).

Daar is ‘n intimiteit en gedeelde lewe wat tot stand kom in die huwelik en in die familie wat van die diepste ervarings is wat enige mens ooit kan beleef. Dit is ‘n ongelooflike seën van die Here, die basis nie net vir gelukkige kinders nie, maar vir ‘n stabiele en gelukkige samelewing.

Maar, dan, sê Paulus, is daar twee goed wat ‘n mens moet besef.

  • Die huwelik is eksklusief. Dit beteken een man en een vrou.  So was dit in Genesis 2 in God se skeppingsbedoeling.  So was dit in Hooglied met die verheerliking van die verhouding tussen man en vrou.  So was dit in Jesus se voorskrif vir die huwelik in Matteus 19.  Só is dit hier in Paulus se lering in 1 Korintiërs 7.
  • Die huwelik is lewenslank. Dit beteken geen onsedelikheid Jy mag nie buite die huwelik met ander verhoudings hê nie.  Ook geen afstand nie.  Jy mag nie mekaar die plesier van saamwees ontsê nie. Dit was blykbaar by ‘n paar vrome Korintiërs ‘n probleem.  En Paulus is helder daaroor.  Ja, soms moet jy bid en dan jouself ‘n bietjie afsonder.  Maar, nie vir te lank nie. God het julle saamgevoeg.  Geniet die eenheid wat Hy tussen julle in die familie bring.

2. Geen egskeiding vir gelowiges nie

10 Aan die wat getroud is, gee ek die opdrag — nie ek nie, maar die Here — dat ‘n vrou nie van haar man mag skei nie. 11 As sy tog skei, moet sy ongetroud bly of haar met haar man versoen. ‘n Man mag ook nie van sy vrou skei nie. 12 Maar aan die ander sê ek — nie die Here nie: As ‘n broer ‘n ongelowige vrou het wat instem om by hom te bly, moet hy nie van haar skei nie, 13 en ‘n vrou met ‘n ongelowige man wat instem om by haar te bly, moet nie van hom skei nie. 14 Die ongelowige man is immers deur sy gelowige vrou geheilig, en die ongelowige vrou is deur haar gelowige man geheilig; anders sou hulle kinders onrein wees, maar nou is hulle heilig. 15 As die ongelowige egter wil skei, laat hom skei; in sulke gevalle is die broer of suster nie gebonde nie. God het julle egter geroep om in vrede te leef. 16 Want hoe weet jy, vrou, of jy nie jou man sal red nie? Of hoe weet jy, man, of jy nie jou vrou sal red nie?

Geen egskeiding vir gelowiges nie.

Dit is nie maar net Paulus se eie mening nie. Dit is iets wat hy direk van God af ontvang het. Dit is die konsekwente boodskap van die hele Skrif.  Gaan lees in my bydraes oor die sewende gebod in Eksodus 20, en oor egskeiding in Deuteronomium 24Maleagi 2 en Matteus 19.

As jy getroud is, mag jy nie skei nie. Punt.  Daarmee erken Paulus wat regdeur die Bybel as beginsel aangegee is, dat God nie wil hê huweliksmaats die band tussen hulle moet verbreek nie. Moenie die vrou verlaat met wie jy ‘n verbond gesluit het nie (Mal. 2:14)! Hoekom?  Want ek haat egskeiding, sê die Here, Here.

Ja, dit is net so reguit as wat die Here daaroor praat.  Trouens, as Jesus hierdie waarheid onomwonde aan die dissipels onderstreep, dan sê hulle moedeloos, dan is dit seker beter as ons nie trou nie. Inderdaad.  Dit is beter. As jy jou nie voluit daarvoor gaan gee nie, bly daar weg.  Want die huwelik is nie vir lafhartiges nie.  Dit vra ‘n lojaliteit van jou wat op dieselfde vlak lê as jou lojaliteit aan die Here.

En ek sê dit só sterk, omdat dit só sterk in die Bybel gesê word.  Ons dink te maklik dat die uitsonderings die reël word. Daarom het ons gewoond geraak aan egskeidings. Ons dink dit is normaal. En ons vergeet dat egskeiding nie God se wil is nie.

Ja, owerspel bring die huwelik in gedrang.  En geweld.  En kwaadwillige verlating.  Dit staan in die Skrif.  Maar “onversoenbare verskille” is nie een daarvan nie. En “ek is nie meer lief vir haar nie” is nie een daarvan nie. Trouens, die Skrif roep ons op om te vergewe, om te versoen, om ons lojaliteit aan mekaar op dieselfde vlak te plaas as ons lojaliteit aan God self.

Die feit dat daar geldige redes vir egskeidings bestaan, maak vir baie van ons die uitsonderings die reël. En dit kan nie.  God se wil tot lojaliteit in die huwelik behoort ons standpunt oor egskeiding in die geloofsgemeenskap te bepaal.

Ek begin dink dat soos huwelike met die geloofsgemeenskap se begeleiding plaasvind, só behoort egskeidings op soortgelyke wyse hanteer te word. Dat ons só met mekaar moet ooreenkom, vóór die huwelik plaasvind.  Só kan ons mekaar dan help. En voorkom dit dat ons in die geheim skei en ons nie die geloofspad met mekaar loop nie.

Hoekom is dit só belangrik? Hoekom wil die Here nie hê dat ons skei nie. Want ons liggame is ‘n tempel van die Heilige Gees, soos Paulus in die vorige hoofstuk geskryf het. Gaan lees wat ek daaroor gesê het. God hê dat ons ons liggame rein en heilig sal bewaar, en dit sluit ons getrouheid aan mekaar in die huwelik in, sodat ons nie die sewende gebod oortree nie wat ons oproep om: “alle onkuise dade, gebare, woorde, gedagtes, luste en alles wat ‘n mens daartoe kan verlei”, te vermy (Heidelbergse Kategismus vraag en antwoord 108).

Paulus erken egter die werklikheid dat ‘n ongelowige kan besluit om ‘n gelowige te skei.  Dit is die ongelowige, nie die gelowige nie!, wat die keuse het om te bly of te ry. Wat ons natuurlik twee keer moet laat dink voor ons enigsins dit oorweeg om met ‘n ongelowige te trou. Maar, as die ongelowige wil skei, is die gelowige vry.

3. Dien die Here waar jy ook al is

17 Hoe ook al, laat elkeen leef in ooreenstemming met wat die Here aan hom toegedeel het, soos God elkeen geroep het (kultureel en sosiaal). En so reël ek ook in al die gemeentes. 18 Iemand wat besny was toe hy geroep is, moet dit nie ongedaan laat maak nie. Iemand wat onbesny was toe hy geroep is, moet hom nie laat besny nie. 19 Die besnydenis beteken nie iets nie, die onbesnedenheid beteken nie iets nie, maar wel die gehoorsaamheid aan God se gebooie. 20 Elkeen moet bly by die roeping waarin hy was toe hy geroep is. 21 Is jy geroep as slaaf, laat dit jou nie kwel nie; maar as jy tog kan vry word, maak ten alle koste daarvan gebruik. 22 Want die slaaf wat deur die Here geroep is, is ‘n vrygemaakte van die Here; net so is die een wat as ‘n vry mens geroep is, ‘n slaaf van Christus. 23 Julle is duur gekoop; moenie langer slawe van mense wees nie. 24 Broers, laat elkeen voor God bly soos hy was toe hy geroep is.

Die oproep wat Paulus hier gee dat elkeen in sy of haar sosiale of kulturele status moet bly, kom effe vreemd oor, veral omdat hyself dié reël oortree het met Timoteus – wat nie besny was nie, en ter wille van die Jode toe wel besny is (Hand 16:3). Paulus moedig ook slawe hier aan om hulle vryheid aan te gryp, maar ook weer net as hulle dit mag doen.

En in ‘n wêreld waar vryheid en gelykheid die hoogste waarde is en alles in die stryd gewerp word om dit vir alle mense moontlik te maak, klink dit na heiligskennis.  Nie waar nie!

Maar, Paulus sê dié dinge nie omdat hy dink mense slawe bly van hulle kultuur of sosiale status nie.  Hy sê dit nie omdat hy dink mense is ongelyk nie.  Hy is immers op rekord in een van sy eerste briewe, Galasiërs, dat die onderskeid tussen mense nie meer geldig is in die koninkryk nie (Gal 3).

Wat Paulus bedoel is dat ‘n mens as gelowige nie soseer op jou kulture aanvaarbaarheid of sosiale status moet fokus nie, maar eerder op wat jy binne die beperkinge en natuurlik geleenthede wat in jou kultuur of sosiale omgewing is, op te tree.  ‘n Mens moet eerder dink oor wat jy vir die koninkryk kan beteken, as wat jy kan doen om jou eie kulturele of sosiale status te verbeter.

Dit is wat ‘n kruisevangelie van jou vra, die opoffering van tydelike voordele vir dié wat vir ewig sal bly.

Dit is baie keer die problematiek van ‘n bevrydingsteologie wat op ‘n ideologie berus waarin sosiale verandering die hooffokus raak en nie die koninkryk nie.  Bevryding is goed.  Kulturele bevestiging is goed.  Sosiale verandering is goed. Maar bevryding wat net met jou status in die samelewing te make het, kan baie keer jou fokus juis wegneem van die eintlike ding waaroor dit gaan, die koms van die koninkryk. En dit is die hoër dinge waaroor dit in die Christelike lewe gaan.

God roep mense waar hulle is; om hulle lig te laat skyn waar hulle is.  God is in beheer van gelowiges en hulle lewens.  Dit sluit alles in wat met jou gebeur.  Dit sluit ook die plek in waar jy is en die geleenthede wat jy in ‘n spesifieke sosiale omgewing het. As jy te veel fokus op die dinge wat verkeerd is rondom jou, die dinge wat jy as stremmend vir jouself of vir ander beleef, dan val jy baie keer daarin vas, eerder as dat jy dit transendeer en op die koninkryk fokus.

Soos Richard Niebuhr in sy boek The Responsible Self geskryf het: “God is acting in all actions upon you.  So respond to all actions upon you as to respond to his action.

Paulus sal in sy brief aan die Filippense weer hieroor skryf en gelowiges aanraai om hulle behoeftes en begeertes vir God te gee in gebed en smeking, maar uiteindelik te fokus op “alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is—watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit.” (Fil 4:8).

  1. Die koninkryk verdien ons onverdeelde aandag

25 Wat maagdelikheid betref, het ek nie ‘n voorskrif van die Here nie, maar ek gee my mening as iemand wat, as begenadigde van die Here, betroubaar is. 26 Weens die nood wat op hande is, meen ek dat dit vir ‘n mens goed is om te bly soos jy is. 27 Is jy aan ‘n vrou verbonde, moenie die band breek nie; is jy nie aan ‘n vrou verbonde nie, moenie ‘n vrou soek nie. 28 As jy egter trou, sondig jy nie, en as ‘n maagd trou, sondig sy nie. Maar wie trou, sal in hierdie lewe swaarkry — en dit wil ek julle spaar. 29 Wat ek bedoel, broers, is dat die tyd kort geword het. Wie ‘n vrou het, moet van nou af so wees asof hulle nie ‘n vrou het nie; 30 wie huil, asof hulle nie huil nie; wie bly is, asof hulle nie bly is nie; wie koop, asof hulle nie besit nie 31 en wie betrokke is by die dinge van die wêreld, asof hulle nie betrokke is nie — want hierdie wêreld in sy huidige vorm is aan die verbygaan. 32 Trouens, ek wil hê julle moet onbesorg leef. Die ongetroude man is besorg oor die belange van die Here, hoe hy die Here kan behaag, 33 terwyl die getroude man besorg is oor die dinge van die wêreld, hoe om sy vrou te behaag; 34 sy aandag is dus verdeeld. Die ongetroude vrou en die maagd is besorg oor die belange van die Here, sodat sy na liggaam en gees geheilig kan wees. Die getroude vrou is egter besorg oor die dinge van die wêreld, hoe om haar man te behaag. 35 Ek sê dit vir julle beswil, nie om julle aan bande te lê nie, maar ter wille van eerbaarheid en onverdeelde toewyding aan die Here. 36 As iemand dink dat hy onbehoorlik teenoor sy verloofde optree, terwyl haar jeugdige leeftyd verbygaan, en hy oordeel dat dit so moet wees, moet hy sy voorneme uitvoer — hy sondig nie; laat hulle trou. 37 Maar iemand wat in sy hart vas oortuig is — nie uit noodsaak nie, maar deur volle beheer oor sy wil — en in sy hart besluit om sy verloofde as maagd te eerbiedig, tree reg op. 38 Daarom ook tree hy wat met sy verloofde trou reg op, maar hy wat nie trou nie, sal beter optree. 39 ‘n Vrou bly aan haar man verbind solank as wat hy leef, maar as haar man ontslaap het, staan dit haar vry om te trou met wie sy wil, maar slegs as dit in verbondenheid aan die Here is. 40 Tog sal sy, na my mening, gelukkiger wees as sy bly soos sy is. En ek glo dat ook ek die Gees van God het.

Die koninkryk verdien ons onverdeelde aandag.  Dit is die punt waarop Paulus met sy argument afstuur.  Hoekom?  Want dit is waarvoor God ons geroep het.  Dit is waaroor die Christelike lewe gaan.

En hoe leef ‘n mens in en vir die koninkryk?  Jy leef eerbaar en onverdeeld toegewy aan die Here.

Die huwelik is goed, sê Paulus, maar dit kan jou toewyding aan die Here verswak.  Of, nog erger. Jy kan deur jou oneerbaarheid deur buite-egtelike verhoudings, of jou dislojaliteit met egskeiding, die koninkryk in gedrang bring.

Vryheid is goed, sê Paulus, en om daarvoor te stry, is goed, maar dit kan jou fokus van die koninkryk af wegskuif. Jy kan deur jou aktivisme die koninkryk in gedrang bring, want dit gaan nie oor hierdie lewe in die koninkryk nie, maar oor die een wat kom.

Paulus relativeer daarmee eintlik die hele gemeenskapslewe – die huwelik, jou kultuur, jou sosiale status – en maak dit ondergeskik aan ‘n lewe vir die koninkryk. Selfs die ekonomie is daaraan ondergeskik.  Jy mag steeds iets vir jouself koop, jy mag ekonomies aktief wees, jy mag vir jou ‘n huis bou, en ‘n motor besit, en mooi goed vir jou aanskaf.

Maar jy moet onthou dat hierdie wêreld soos ons dit ken aan die verbygaan is, en dat ons vry van sorge moet wees om aandag aan die koms van die koninkryk te gee. Die dinge van die Here moet voorop in ‘n mens se gedagtes wees, nie die dinge van die wêreld, soos die huwelik en die dinge wat in die samelewing belangrik nie. Ons aandag moenie verdeel wees nie.

Ek sluit.

Die koninkryk verdien ons onverdeelde aandag.

  • Geniet dus die huwelik en julle families. Dit wys ons iets van die misterie van God.
  • Wees getrou aan mekaar en moenie in die strik van onsedelikheid of egskeiding val nie.
  • Gee aandag aan dié dinge wat rondom ons verkeerd is, en maak ‘n verskil waar jy kan.
  • Maar moet nooit dat dié dinge belangriker raak as die koninkryk van God nie.
  • Sorg dat God in alles eerste kom. Dis al wat uiteindelik sal tel.

Prediking

Gebed

Offergawes

Wegsending

Lied 367 Ere aan God, in die hoogste – staan

Seën

Respons

Vonkk 38:1 Here, ons God, as ons nou huis toe gaan, vra ons u seën, waar ons hier voor U staan – staan

[1] Dit is ‘n musiekterm, of ‘n verwysing na die musiekleier Jedoetoen; vgl Neh 11:17; 1 Kron 9:16; 16:38.

 

     

View all posts in this series

Trackback from your site.

Leave a comment