Skip to main content

God is goed, vir ewig duur sy troue liefde – Psalm 118

NGK Somerstrand 17 April 2022 | Paassondag | Kerk en Youtube 09:00

Ek fokus in hierdie erediens op Psalm 118. Dit is ‘n Psalm wat in die woorde van ‘n oud-koning van Israel nie net die Here vir sy oorwinning prys nie, maar wat Messiaanse kenmerke het, en veral in die laaste deel van die Psalm praat oor die klip wat die bouers afgekeur het, maar toe die hoeksteen geword het. Uit die NT weet ons dat dit in Jesus vervul is, soos bv 1 Petrus 2 daaroor skryf. Met sy kruisdood en opstanding het Hy wat soos ‘n klip deur die Joodse bouers afgekeur is – dws aan die kruis gespyker is – die hoeksteen van die gebou van God geword deur sy opstanding uit die dood sowel as sy hemelvaart. Die Psalm onderstreep dat God goed is, dat sy troue liefde vir ewig duur, en dat ons van Hom kan verwag dat Hy altyd só sal wees. Die Psalm herinner ons ook aan die voorreg om deur lofprysing en danksegging ‘n getuienis af te lê van wie God ook vir ander kan wees. Aan sy troue liefde is daar geen einde nie, voorwaar!

Verwelkoming

Aankondigings

Toetrede

Lied 414:1-2 Juig, verlostes, juig en sing. Halleluja! Halleluja! – staan

Votum en seëngroet

Lofliedere

Lied 409:1-3 Hoor jy die Paasfeesklokke? Hulle lui van vroegdag af – staan

Lied 420:1-3 Daar klink ‘n lied, daar juig ‘n stem, dit klink oor heel Jerusalem – staan

Gebed

Skriflesing en gebed

Psalm 118

Ek fokus vandag op die opstandingsdag op Psalm 118. Dit is ‘n Psalm wat in die woorde van ‘n oud-koning van Israel nie net die Here vir sy oorwinning prys nie, maar wat Messiaanse kenmerke het, en veral in die laaste deel van die Psalm praat oor die klip wat die bouers afgekeur het, maar toe die hoeksteen geword het. Uit die NT weet ons dat dit in Jesus vervul is, soos bv 1 Petrus 2 daaroor skryf. Met sy kruisdood en opstanding het Hy wat soos ‘n klip wat die Joodse bouers afgekeur het – dws aan die kruis gespyker is – die hoeksteen van die gebou van God geword deur sy opstanding uit die dood sowel as sy hemelvaart.

Eers ‘n bietjie agtergrond oor Psalm 118. Psalm 118 rond die eerste deel van die vyfde Psalmboek af wat uit nege Psalms bestaan, Psalms 110-118. Al nege hierdie Psalms help die geloofsgemeenskap om te fokus op God se beloftes. Dit is beloftes soos:

  • Dat God instaan vir die vestiging van sy Messiaanse koninkryk (Ps 110);
  • Dat God se werk groots en betroubaar is vir sy mense (Ps 111);
  • Dat ontsag vir God se gebooie vreugde bring en dat vertroue op Hom die vrees vir slegte tyding verdryf (Ps 112);
  • Dat die lewe betekenisvol raak wanneer die Here geprys word van waar die son opkom tot waar dit ondergaan (Ps 113);
  • Dat God redding belowe uit elke vasgevalde situasie waarin hulle hulle mag bevind (Ps 114);
  • Dat God sy eer daarin stel om hulle vertroue op Hom en sy beloftes te beantwoord (Ps 115);
  • Dat God hulle smeekgebede verhoor (Ps 116);
  • Dat God magtig is in sy troue liefde vir hulle (Ps 117).

Dít is die pakket van beloftes wat hulle met hulle mag saamdra op hulle lewenspad. Hierby kom Psalm 118 nou om dié inleidende fokus in die vyfde Psalmboek op God se beloftes af te rond met die gedagte dat God goed is, en dat sy troue liefde vir ewig duur, soos Hy dit oor en oor in die geskiedenis bewys het. Daarvan moet Israel getuig. Daarvoor moet Israel God prys. Trouens, almal moet God se goedheid en troue liefde prys.

Die koning in gesprek met die volk

Wat baie help om die Psalm te begryp, is om raak te sien dat die koning hier praat met sy volk vóór die tempel. Die eerste 22 verse is ‘n gesprek van die koning met die volk en ‘n oproep aan almal om saam met hom die Here te prys. Daarna kom die volk en die priesters vir ‘n kort deel aan die beurt waarna die koning weer afsluit. Ek sal dit vir jou wys soos ons werk deur die Psalm.

Die koning roep almal op om God se goedheid en troue liefde te prys

Die koning roep eerstens almal op om van God se goedheid en troue liefde te prys:

1Prys die Here, want Hy is goed; ja, vir ewig duur sy troue liefde.

Hy sal die Psalm ook eindig met presies dieselfde woorde:

“Prys die Here, want Hy is goed; ja, vir ewig duur sy troue liefde.”

Daarna roep hy die hele volk van God nog vier keer op in vers 2-4:

2Laat Israel sê: “Vir ewig duur sy troue liefde.”

So roep hy ook die priesters:

3Laat die huis van Aäron sê: “Vir ewig duur sy troue liefde.”

Laastens roep die koning al die gelowiges:

4Laat dié wat vir die Here ontsag het, sê: “Vir ewig duur sy troue liefde.”

Die koning se getuienis

Dan fokus die Psalm op die koning se getuienis wat die geloofsgemeenskap moet motiveer om die Here te vertrou, want hy kan getuig daarvan dat God se troue liefde vir ewig duur.

God skep ruimte vir hom

Die eerste ding wat hy beklemtoon is die ruimte wat God vir hom gemaak het sodat hy naby God kan wees.

5In my angs het ek geroep: “Here!” Hy het my geantwoord; die Here het vir my ruimte gemaak. 6Die Here is vir my; ek sal nie bang wees nie. Wat kan ‘n mens aan my doen? 7Die Here is vir my, as my helper; en ek, ek sal op my haters neersien. 8Dit is beter om by die Here te skuil as om op mense te vertrou. 9Dit is beter om by die Here te skuil as om op vooraanstaandes te vertrou.

Let op wat hy in sy lofprysing oor hierdie Godservaring sê. Hy het beleef dat God antwoord. Dat God ruimte gee. Dat God daar is vir hom. Daarom getuig hy dat hy nie hoef bang te wees vir mense nie. God is dan vir hom, as sy helper (ʿōze) – woorde wat vir die eerste egpaar ook gebruik word, Eva wat vir Adam as ‘n helper gegee is (Gen 2:18).

Daarom hoef hy dus nie bang te wees vir sy haters nie. Trouens, hy sal op hulle neersien, want hy het ervaar dat dit beter is om by die Here te skuil as om op mense of vooraanstaandes te vertrou.

God red hom uit die dood

Die tweede ding wat die koning beklemtoon is hoe God se redding in die praktyk van sy lewe gewerk het.

10Alle nasies het my omsingel; in die Naam van die Here kon ek hulle waarlik afweer. 11Hulle het my omsingel, ja, hulle het op my toegesak; in die Naam van die Here kon ek hulle waarlik afweer. 12Hulle het my omsingel soos bye, maar hulle is geblus soos ‘n vuur in doringstruike. In die Naam van die Here kon ek hulle waarlik afweer. 13Julle het my hard gestamp, dat ek moes val, maar die Here het my gehelp. 14My krag en sterkte was die Here; Hy het my tot hulp gekom. 15Die geluid van jubelkrete en van verlossing klink op in die tente van regverdiges. Die regterhand van die Here doen kragtige dade. 16Die regterhand van die Here is hoog gelig; die regterhand van die Here doen kragtige dade. 17Ek sal nie sterf nie, maar ek sal lewe en vertel van die dade van die Here. 18Die Here het my ernstig tereggewys, maar aan die dood het Hy my nie oorgegee nie.

Die koning wil God saam met die geloofsgemeenskap prys

Dan vervolg die koning dat hy nou in die tempel wil ingaan om daar saam met die geloofsgemeenskap die Here te prys.

19Maak vir my die poorte na geregtigheid oop; ek wil daardeur ingaan, ek wil die Here prys. 20“Dit is die poort na die Here – regverdiges mag daardeur ingaan.” 21Ek wil U prys, omdat U my geantwoord en my te hulp gekom het. 22Die klip wat die bouers afgekeur het, het die hoeksteen geword.

Hierdie laaste opmerking is baie interessant. Die Psalmis bedoel daarmee dat hy eintlik soos die afgekeurde klip was in sy eie ervaring, selfs in die oë van sy vyande. Deur die Here se ingrype voel hy egter nou asof hy van ‘n posisie van vernedering verhoog is tot die mees prominente plek in die tempel van die Here, die belangrikste klip in die gebou.

En dit is presies hier wat ‘n mens agterkom dat die koning ‘n uitspraak wat ‘n baie dieper betekenis het as net dié dinge wat met hom gebeur het. Want, dit is ‘n metafoor wat op Jesus in die NT van toepassing gemaak word.

Jesus is die hoeksteen

Petrus skryf in sy eerste brief, hoofstuk twee, ‘n boodskap wat ook by ons kerkgebou se hoeksteen aangebring is:

4Kom na Hom toe, die lewende klip, wat wel deur mense afgekeur is, maar voor God uitverkore, en vir Hom kosbaar is;

Wat die koning dus hier ervaar het in Psalm 118 is reeds baie kosbaar. Maar, dit raak nog meer kosbaar as ‘n mens die dieper vervulling van hierdie woorde in Jesus raaksien. Hy is die lewende klip – Hy het immers uit die dood opgestaan – en hoewel Hy deur die mense afgekeur is, het God Hom uitgekies en verhoog, want Jesus is vir Hom kosbaar.

Ons is ‘n geestelike huis, ‘n heilige priesterdom

Die feit raak dan die oproep aan ons, want ons moet ons lewe bou op hierdie hoeksteen:

5en laat julle as lewende klippe opbou tot ‘n geestelike huis, ‘n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat, deur Jesus Christus, vir God aanneemlik is.

En die skakel na die OT, onder andere na Psalm 118 word dan vir die gelowiges gegee as motivering. Soos Petrus skryf:

6Daar staan immers in die Skrif: “Kyk, Ek sit in Sion ‘n klip neer, ‘n hoeksteen, uitverkore en kosbaar; maar wie in Hom glo, sal vir seker nie beskaamd staan nie.” (Jes 28:16) 7Daarom is dit kosbaar vir julle wat glo, maar vir ongelowiges geld, “Juis die klip wat die bouers afgekeur het, het die hoeksteen geword.” (1 Pet 2:6-7)

Jesus is die fondament, die hoekklip, van die Christelike kerk. Soos Jesus verneder is aan die kruis, is Hy verhoog deur sy opstanding en hemelvaart. En is Hy nou die hoeksteen, die belangrikste klip in die gebou wat God besig is om te voltooi, die hemelse Jerusalem. Daarom laat ons Hom toe om ons in te messel in die liggaam van Christus, die kerk, sodat ons ‘n heilige priesterdom kan wees vir Hom, en geestelike offers kan bring wat vir God aanneemlik kan wees.

Wat is hierdie geestelike offers?

Dit is alles wat jy vir God en jou naaste doen.

  • Dit sluit lofprysing in (Ps 50:14, 23).
  • Om aan God eer te bewys voor ander mense (Mal 1:11).
  • Dit is om reg te doen (Mal 3:3).
  • Dit is om jou hele lewe as ‘n offer aan God te beskou en jou denke in lyn met sy Woord te bring en nie volgens die skema van hierdie wêreld te lewe nie (Rom 12:1).
  • Dit is om mense tot bekering te lei, want hulle is ‘n offer wat jy aan God bring (Rom 15:16).
  • Die Skrif sê jou geloof is ‘n offer (Fil 2:17).
  • So ook jou geld (Fil 4:18).
  • Jou getuienis (Hebr 13:15).
  • En jou goeddoen en mededeelsaamheid (Hebr 13:16).

Soos Miga dit opsom:

“Wat anders eis die Here van jou as om net te doen wat reg is, om troue liefde te bewys en om nederig die pad saam met jou God te loop?” (Mig 6:8)

Hierdie woord oor die hoeksteen is daarom een van die belangrikste en wonderlikste boodskappe wat die OT en NT geloofsgemeenskap aan mekaar bind.

Wat hulle ten dele reeds ervaar het, maar steeds ook verwag het dat dit voluit sal aanbreek in die ou bedeling, dít is vervul in Jesus en vorm die basis vanwaar af ons as gelowiges in die nuwe bedeling leef.

Van die Here het dit gekom

En dan antwoord die geloofsgemeenskap, die eerste keer dat hulle aan die woord kom, soos ons aflei uit die “ons” in die teks, as hulle saam met die koning in God se teenwoordigheid instap:

23Van die Here het dit gekom; dit is ‘n wonder in ons oë. 24Dit is die dag wat die Here gemaak het; laat ons juig en ons in Hom verheug.

En hulle bring hulle eie smeekgebed om verlossing voor die Here:

25Ag, Here, verlos ons tog! Ag, Here, gee tog voorspoed!

En die priesters antwoord – die eerste keer dat hulle praat – van binne af:

26Geseënd is hy wat kom in die Naam van die Here. Ons seën julle uit die huis van die Here.

En bely dan saam met die geloofsgemeenskap en roep hulle op tot ‘n feestelike prosessie die tempel in:

27Die Here is God; Hy het vir ons lig laat skyn. Voer met gevlegte takke die kringdans uit tot by die horings van die altaar.

Waarop die koning weer aan die beurt kom, en weer sy eerste woord aan die volk herhaal, moontlik reeds in die tempel:

28U is my God en ek prys U! My God, ek wil U verheerlik. 29Prys die Here, want Hy is goed; ja, vir ewig duur sy troue liefde.

God is goed en sy troue liefde duur vir ewig

Die Psalm onderstreep dus dat God goed is, dat sy troue liefde vir ewig duur, en dat ons van Hom kan verwag dat Hy altyd só sal wees. Die Psalm herinner ons ook aan die voorreg om deur lofprysing en danksegging ‘n getuienis af te lê van wie God ook vir ander kan wees. Aan sy troue liefde is daar geen einde nie, voorwaar!

Daarom: “Begin die fees! Wuif met takke! Gaan tot by die horings van die altaar.” (vers 27b – 1983-vertaling). Die Heer het opgestaan. Hy sit aan die regterhand van die troon van God. Hy is die hoeksteen van ons lewe.

Gebed

Slotlied

Lied 421:1-3 Die Here Jesus lewe, Hy het die dood oorwin – staan

Seën

Amen

Lied 189 Halleluja! Halleluja! Halleluja! – staan

Dankoffer

View all posts in this series

Comment

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.