Jer 31:31-34 – Son 29 Maart 09

Daar is baie dinge wat ons ontstel in die lewe.
  • Onreg – dink maar net aan die debakel met die Kouga waardasies en die regering se weiering van die Dalai Lama se visum,
  • Misdaad – Greenacres onlangs weer mense geskiet met ‘n rooftog,
  • Immoraliteit – saak van Barbie wat voortsleep,
  • Siekte – Japie en Dalene in die hospitaal en ‘n hele paar ander op die lys,
  • Dood – Len Hudson se vrou nou onlangs en my vriend Piet Delport wat selfmoord gepleeg het.

En ons kan lank gesels oor die redes daarvoor, en hoe ‘n mens dit verwerk, en hoe ‘n mens jou beskerm teen die onsekerhede van die lewe.  Maar, laat ons eerlik wees, die lewe is nie en sal nooit maklik wees nie.

Ek het baie geworstel hiermee die afgelope tyd, en het Vrydag ‘n woord in Psalm 46 gekry wat my hoop gegee het.  Dit is die bekende vers 11: “Wees stil en weet, Ek is die Heer.” Een van die kommentare vertaal dit met: “Relax, and know that I am God” wat ooreenkom met die Hebreeuse רָפָה wat letterlik beteken “hang limp“.  En die tweede deel van die vers gee die motivering vir die ontspan aan: God is hoog bo die nasies, en hoog bo die aarde, d.w.s. onaantasbaar deur die historiese verloop van dinge, onaantasbaar deur die werklikheid van die aarde en alles wat hier verkeerd kan gaan.

Nou, dit beteken nie dat ‘n mens moet slaplê nie. Dit beteken net dat jy jou fokus moet verander na God toe – minder bekommerd wees oor wat jy kan sien, meer bewus van wat jy nie kan sien nie, en dit is, van God wat betrokke is in die geskiedenis en die werklikheid, die verlede en die hede en boonop die toekoms ook.

En die boodskap wat dit vir my gehad het, is dat ek moet werk met die idee dat God sorg vanuit ‘n onaantasbare posisie, sodat ek die moed het om te doen wat Hy oor my pad bring.

En ek moet sê die Here het op besondere en verskillende maniere in my eie lewe die afgelope tyd ingegryp en ek dank Hom daarvoor.  En hoewel ek nog sukkel met die ontspan deel, werk ek darem al ten minste met die idee dat God daar is en dat ek Hom kan vertrou!

Maar daar is iets waarteen ons geen verweer het nie.  Dit is ons eie hart.

Kyk jy kan nog werk aan die regering en mense monster en briewe skryf en koukus en wat nog ook al.  Jy kan jou mure hoër bou en perimeter defences insit en gesond lewe en oefen en nog ‘n klomp ander goed doen om jou teen die onsekerheid van die lewe te beskerm.  En ek probeer dit glad nie afmaak nie.

Maar jy kan self niks aan jou hart doen nie.

Die hart is verraderlik.  Jeremia skryf in hoofstuk 17: “9 Die hart is bedriegliker as enigiets anders, dit is ongeneeslik; wie kan dit verstaan?” Verdorwe, sê die Ou Vertaling van die eerste Hebreeuse beskrywing עָקֹב.  Deceitful, sê ‘n hele paar Engelse vertalings.  Glibberig sê ‘n ander!  En die volgende beskrywende woord vir die hart in Hebreeus is אָנוּשׁ.  Beyond cureOngeneeslik .

Kortom: die hart is soos ‘n glyerige slymerige donker put, en ‘n ongeneeslike bose sweer wat alles infekteer en tot die dood lei.

Hoekom?

Vers 1 sê: “Die sonde van Juda is ingegraveer met ‘n ysterpen, ingegrif met ‘n diamantpunt op hulle harte.”

In plaas van God se wil, is ons eie wil ingeskrywe op ons harte.  In plaas van liefde vir God en ons naaste, is liefde vir ons self en vir ons eie belange ingeskrywe op ons harte.

En dit is nie iets wat ons op ons eie ongedaan kan maak nie.

Reëls

Dit is nie dat mense nie al in die geskiedenis probeer het om die hart te genees nie.  Maar niks het gewerk nie.  Moses se wet het ‘n stel reëls gegee waaraan ‘n mens jou kon hou en wat die belofte van sukses gehad het.  As jy net God aanbid en niemand anders nie – dan is jy reg.  As jy net een dag rus en die ander werk – dan is jy reg.  As jy net jou vrou liefhet en niemand anders nie – dan is jy reg.  As jy net niks van iemand anders vat nie – dan is jy reg.  En noem maar nog uitsprake van die Tien Gebooie op.

Maar, dit kon nie slaag nie, want al werk dit, en jy doen niks uiterliks verkeerd nie – dan sit jy nog steeds met ‘n bedrieglike en ongeneeslike hart, wat net met die volgende versoeking in glibberigheid  kan verval.  Die sonde is ingeskryf op ons harte.

Vrees

Die profete het probeer deur die volk bang te maak met die oordeel van God, wat ‘n paar keer letterlik ook in vervulling gegaan het.  Maar selfs dié vrees vir die oordeel van God het nie geslaag om die hart van die mens te genees nie.

En laat ons maar eerlik met mekaar wees, wat nie toe gehelp het nie, sal ook nie vandag help nie.

  • Dit help nie om ‘n stel reëls te hê waarmee jy gehoorsaamheid wil afdwing nie, selfs nie iets soos ons Grondwet nie.
  • En dit help nie jy probeer mense bang maak met die oordeel van God nie – dié week het iemand met my kom gesels om my bang te maak met die idee van die wegraping en dat besighede probleme gaan hê as van die vennote skielik weg is en jy nie by die geld kan uitkom nie! Hello!

Die probleem is, dat nie reëls of vrees jou hart gaan regmaak nie.

Net God kan dit doen!

Daar kom ‘n tyd, sê die Here, dat Ek my woord op julle harte (קֶרֶב – binneste/ingewande) skryf en dit in julle gedagte (לֵב – hart) vaslê. Ek sal julle God wees en julle sal my volk wees. Jy sal nie meer vir jou buurman of vir jou familie hoef te sê: ‘Jy moet die Here dien’ nie, want almal sal My dien, klein en groot, sê die Here. Ek sal julle oortredings vergewe en nie meer aan julle sondes dink nie.”

Jeremia noem dit ‘n nuwe ooreenkoms, ‘n nuwe verbond.  En uit die Nuwe Testament weet ons dat die ooreenkoms met die bloed van Jesus Christus verseël is.

Toe dit donker geraak het vir Hom aan die kruis, toe Hy ervaar het God self het Hom verlaat, het die lig vir ons begin aanbreek.

Wat doen God?

Hy vergewe ons die sonde wat op ons harte ingeskryf is, en Hy skryf nuwe woorde daarop, Sy woorde, woorde wat van binne af ons gehoorsaam maak.  In ons binneste en in ons gedagtes raak die woorde aktief om vir God en ons naaste lief te hê.

Hoe ontvang ons dit?
Eenmalig

Nou – en dit is belangrik – daar is ‘n eenmaligheid hieraan, ‘n dag wat dít vir ons in vervulling begin gaan het.  Ons kan dit die dag of die tydperk noem van ons bekering of ons wedergeboorte of of ons bewussyn van God se teenwoordigheid.  Daardie tyd toe ons vir die eerste keer bewus geraak het van die roering van God in ons binneste – die dag wat ons ja gesê het, die dag wat ons fees gevier het oor ons kinders van God is en ons gevoel het, niks kan ooit weer verkeerd gaan nie, niks kan ons uit die hand van God uitruk nie.

Alledaags

Maar – en dit is nog meer belangrik – daar is ook ‘n alledaagsheid hieraan – die vinger van God wat elke oggend in my lewe sy woorde vir daardie dag skryf, wat regdeur die dag my herinner aan die woorde wat nodig is vir my om van te lewe.

As Jesus in die woestyn vir die duiwel sê, dat Hy lewe van elke woord wat uit die mond van God gaan, is dit hierdie alledaagse woord waarvan Hy praat, die woord vir die versoeking van daardie dag.  Jesus haal Moses aan in Deuteronomium 8:3 wat vir die volk geleer het: “dat ‘n mens nie net van brood leef nie, maar dat jy leef van elke woord wat uit die mond van God kom.”

Soos Jesus ook later vir die dissipels sou sê, terwyl die Samaritaanse vrou haar dorpie gaan haal het, “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het, en om sy werk te voltooi.” (Joh 4).  En dit is iets wat Jesus op ‘n daaglikse basis ontvang het – elke dag, sonder uitsondering.

U sien, as ons toelaat dat daar ‘n dag verby gaan dat ons nie die woord van God op ons harte ontvang nie, dan word dit met ander goed beskrywe – dit hoef nie altyd sonde te wees, growwe dinge wat skeiding bring tussen ons en God nie, maar dit is net nie God se woorde nie.  En as ons nie ons hartswoorde van Hom ontvang nie, dan is dit baie maklik om ander dinge te ontvang, wat in die plek van God se woorde kom, en wat dan nie noodwendig ons heeltemal weglei van God af nie, nie noodwendig ons slegte goed laat doen nie, maar net nie die dinge is wat God wil hê nie.

En dit maak ons moeg, en dit put ons uit, en dit maak ons oneffektief.  Jesus sê nie verniet dat dit voedsel is vir Hom om God se woorde, sy wil, te doen nie.

Uitdaging en pleidooi

U hoor ons die afgelope 6 maande baie spesifiek praat oor geestelike groei.  Want ons het oortuig geraak dat daar niks meer belangrik is as dit nie.  Dat dit is waarom gemeente-wees gaan, mense wat God se woorde hoor en dit gaan doen in hierdie wêreld.

En ons het nou al twee reekse gedoen die afgelope twee kwartale, wat klem lê op hoe geestelike groei werk, en hoe ‘n mens daarby kan inskakel: Hulle het hulle heelhartig toegelê en Druppels vir die dors.  Ons het ook al twee reekse aanbiedinge gehad op Woensdae, Didage, wat vir jou as ‘n hulp gegee is om God se woorde vir jou te ontvang – vir jou huwelik, vir jou eie geestelike groei met Adele Calhoun se goed en John Ackerman se goed en die Bybelskool en Lectio Divina en Op pad met God met ‘n joernaal.

En ons het ‘n ongeveer 80 mense wat verlede jaar en dié afgelope kwartaal daarby ingeskakel het – en dit is goed, ‘n baie goeie begin.

Maar – ons is nie 80 mense in die gemeente nie.  Ons is 1500.  Kom ons laat die kinders buite berekening, hulle gaan immers na kategese toe, en die tieners doen dissipelskap – hulle is ongeveer 300.  En ‘n hele aantal mense bly ver van die kerk af en vir mense in ons tehuise is dit soms onmoontlik om hier te kom.  Kom ons sê daar is ongeveer 800 mense uit die gemeente wat Didage kan bywoon, dan is net 10% van ons mense besig hiermee.

En dit is te min.

En dit gaan nie oor die sukses of nie-sukses van die projek van geestelike groei nie en van Woensdagaande nie.

Dit gaan oor die saak van God se woorde wat elke dag op ons harte geskryf word.  Óf ons leer hoe dit werk en groei geestelik …  óf ons harte word beskrywe met ons eie woorde óf nog erger met die woorde van die wêreld, en ons stagneer geestelik, raak ongeduldig met dié en daaí, begin fout vind, en raak onbetrokke.

God se woorde op ons harte moet ‘n alledaagse werklikheid word – en ons kan mekaar help daarmee.  Ek weet persoonlik, uit eie ervaring, hoe moeilik dit is om alleen te luister, as ek dit dag in en dag uit op my eie doen.

Daar is in my ‘n bekommernis, dat ons hierdie dinge van die kansel af sê, en dat dit aankom by jou, maar sodra jy by die deur uit is, die sorge van hierdie lewe die woorde van God verstrik en uitvee op jou hart.

En ek moet bely: Elke dag wat ék nie luister na wat God sê nie, is die dag vir my ‘n mislukking.  Elke dag wat ék nie luister na wat God sê nie, is vir my ‘n vermorsing.  Elke dag wat ék nie luister na wat God sê nie, is vir my ‘n fiasko.  En ek wonder vir hoe baie van ons dit nie so is nie?

Dit is nie die dramatiese goed wat in my lewe gebeur wat dit ‘n mislukking en ‘n vermorsing en ‘n fiasko maak nie.  Nee, dit is die middelmatigheid, die insigloosheid, die hooploosheid van die daaglikse gesprekke waarvan ek lees in die koerante en wat ek sien op die TV en wat ek hoor in ons onderlinge gesprekke, wat  die lewe uit my pers en wat, as dit al is wat ek hoor, van my lewe ‘n mislukking en ‘n vermorsing en ‘n fiasko maak.

Jy sien, ons harte word daagliks beskrywe – en as dit nie ook God is wat daarop skrywe nie – dan word ons harte gou-gou hard en onbuigsaam en ongevoelig.

Ek rig dus ‘n uitdaging en ‘n pleidooi – nie ‘n reël nie, en ek maak jou ook nie bang nie.  Skryf in vir een van ons aanbiedinge vir geestelike groei.  Maak die afspraak en hou daarby.  As jy uitstedig moet wees, kom dan die ander tye.  Gebruik ons webtuiste om by te bly – dit is waarvoor ons dit geskep het.  En as jy iets anders wil voorstel wat jy graag saam met ons wil doen – stel dit voor.  As jy liewer in ‘n kleingroep wil inskakel of een wil begin, kom gesels met ons. Dit wil voorkom asof dit makliker is om nuwe groepe te begin – so kry ‘n maat en kom sien my.

Maar moenie wegbly nie.  Ons het mekaar nodig om mekaar moed in te praat en by mekaar te leer en saam die teenwoordigheid van die Here te ervaar.

Soos God met ons ‘n ooreenkoms gesluit het – Ek sal julle God wees en julle sal my volk wees – kom ons sluit ‘n ooreenkoms met mekaar – om mekaar te ondersteun in ons eie luister na sy stem.

Amen.

     

View all posts in this series

Trackback from your site.

Leave a comment