Skip to main content

Jesaja 43:1-13 – In die smeltkroes van die lewe – 13 Jan 2013

Verwelkoming

Die sentrale tema van die gemeente vir 2013 is: Geseën om te seën.  Om die jaartema tot sy reg te laat kom, fokus ons in die eredienste en in die kleingroepe gedurende die skoolkwartale op die oorhoofse aaneenlopende verhaal van God en sy mense in die Bybel.

Ons gebruik as vertrekpunt hiervoor die inhoud van die boek Die Storie.  Hierdie boek van Max Lucado en Randy Frazee gebruik die Nuwe Lewende Vertaling as Bybelteks en vertel die aaneenlopende verhaal van die Bybel in 31 hoofstukke.  Die voordeel hiervan is dat die werklike teks van die Bybel gebruik word, en mense in ‘n jaar nie net die verhalende gedeeltes van die Bybel deurlees nie, maar ook ‘n globale prentjie van God se verhaal met sy mense sal kry.

Die boek is in Afrikaans beskikbaar in verskillende uitgawes vir volwassenes, tieners, jonger kinders, en selfs vir voorskoolse kinders.   Bestel Die Storie en Die Storie vir Tieners @ R50 (gewone prys R99.94) en Die Storie vir Kinders @ R120 (gewone prys R149.96) en Die Storie  vir klein hartjies @ R105 (gewone prys R129.95)  by die kerkkantoor.  Dit is ook in Eboek (ePub) formaat beskikbaar by Kalahari.com.

Daar is ook baie ander hulpmiddels beskikbaar, soos DVD’s.  Kyk gerus by CUM uitgewers na meer inligting.

Ons wil dus graag hê dat almal in die gemeente saam met ons die Bybel op dié manier deurlees, terwyl ons dan elke Sondag fokus op een van die onderwerpe uit die Bybelgedeeltes wat in die voorafgaande week gelees is.  Daar sal telkens ‘n week vooruit by www.ngkerksomerstrand.co.za/kleingroepe/materiaal  kleingroepmateriaal beskikbaar wees vir Bybelstudiegroepe, gemeenteselle en huisgodsdiens, sodat mense saam met ons die pad met die Bybel kan loop.  Dit is gebaseer op die kleingroepmateriaal wat agter in die boek Die Storie verskyn en wat groepe ook kan raadpleeg.

Kleingroepe kan in die kerkkantoor die eerste week se materiaal gaan kry.  Dit is ook op die webtuiste beskikbaar.  Ons begin met Genesis 1-11.

Hier is die eerste kwartaal se teksgedeeltes wat ons gaan lees, die tema van die gedeeltes, en die week waarin ons dit gaan lees:

Week

Teksgedeelte

Tema

13-19 Januarie

Genesis 1-11

Die begin van lewe soos ons dit ken

20-26 Januarie

Genesis 12-36

God bou ‘n nasie

27 Januarie – 02 Februarie

Genesis 37-50

Josef: van slaaf tot onderkoning

03-09 Februarie

Eksodus 1-17

Bevryding

10-16 Februarie

Eksodus 18-40

Nuwe wette en ‘n nuwe verbond

17-23 Februarie

Numeri, Deuteronomium

Omswerwinge

24 Februarie – 02 Maart

Josua

Die stryd begin

03-09 Maart

Rigters

‘n Klompie goeie mans … en vroue

10-16 Maart

Rut

Die geloof van ‘n heidense vrou

Die Bybelskool fokus die eerste kwartaal op Psalms 42-72.  Eerste byeenkoms 23 Januarie in die konsistorie.

Toetrede

Lied 343 Loof die God van ons verlange!  – sit

Votum

Prys die Here, julle hemelinge!

Prys die Here om sy eer en mag!

2Prys die Here om die eer van sy Naam!

Buig voor die Here by sy heilige verskyning!

(Uit Psalm 29)

Seëngroet

Aan almal wat aan God behoort, getroue broers en susters in Christus.

Genade en vrede vir julle van God ons Vader!

(Ahv Kolossense 1:1-2)

Lofsang

Lied 350 In die stad van koning Dawid, in die nederige stal  – sit

Lied 370 Eng’le uit die hoogste hemel – vers 1,4,5 – staan

Geloofsbelydenis

Epifanie is ‘n tyd van nadenke oor die identiteit van Jesus, die Christus-Kind. 

Verlede week het ons gelet op die feit dat Hy alreeds as Kind as Koning aan ons bekendgestel is.  Die sterrekykers – nuwe vertaling wat kom, praat van hulle as sterrekenners – het Hom as koning erken en gehuldig; Selfs Herodes het ironies genoeg Hom as koning erken, in sy verydelde poging om Jesus te probeer uitwis.

Maar, Jesus se koningskap is nie net goddelik van aard nie. Hy is volledig mens.  En een van die maniere waarop ons sy menslikheid vier in Epifanie-tyd is om oor sy doop na te dink, want dít is die punt waar Hy met ons sondigheid geïdentifiseer het, waar Hy werklik een van ons geword het, natuurlik sonder om self te sondig.

Ons lees in Lukas 3:21-22:

21Toe al die mense hulle laat doop het, is Jesus ook gedoop, en terwyl Hy staan en bid, het die hemel oopgegaan 22en het die Heilige Gees in sigbare gestalte soos ’n duif op Hom neergedaal. Daar was ook ’n stem uit die hemel: “Jy is my geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My.”

Dít is die evangelie aan ons, die goeie nuus, dat hierdie geliefde Seun Hom aan ons verbind het, Homself vir ons gegee het.

Ek wil nou vra dat ons almal ons geloof bely, en dat dié wat die vrymoedigheid het, daarna hulle hand in die doopwater kom steek en net weer die belofte van God, dat Hy daar is vir ons, kom omhels.

Voorganger: Glo jy in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde?

Gemeente: Ja, ek glo.

Voorganger: Weet dan dat die Vader ‘n ewige genadeverbond met ons sluit en dat Hy  ons tot Sy kinders en erfgename aanneem.

(Oomblik van stilte)

Voorganger: Glo jy in Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, ons Here?

Gemeente: Ja, ek glo.

Voorganger: Weet dan dat Jesus Christus vir ons gesterf het en dat Hy ons in die gemeenskap van Sy dood en opstanding ingelyf het.

(Oomblik van stilte)

Voorganger: Glo jy in die Heilige Gees?

Gemeente: Ja, ek glo.

Voorganger: Weet dan dat die Heilige Gees in ons woon en ons tot lidmate van Christus heilig.

(Oomblik van stilte)

Doopherinnering

Lidmate kan nou na die doopvont kom word waar elkeen geleentheid sal kry om sy/ haar hand in die doopwater te plaas, waarin ek die woorde gaan sê: “Jy behoort aan God.”

Gebed

Skriflesing      

Jesaja 43:1-13

Inleiding

Hierdie hoofstuk moet eintlik as ‘n eenheid gelees word, want in die drie perikope word God se getrouheid in die smeltkroes van die lewe geskets.

  1. Jesaja verseker eerstens die volk van God se liefde vir sy mense: “Jy/julle is myne”.  Hierdie liefde van God is só groot, dat Hy hulle ‘n nuwe begin laat maak, sodat hulle Hom weer kan ken en in Hom kan glo (43:1-13).
  2. Jesaja verseker tweedens die volk dat Hy dit ter wille van hulle doen, maar ook ter wille van Homself, want Hy het hulle “vir Hom” geskep, sodat hulle sy lof kan verkondig.  Hulle is sy getuies (43:14-21).
  3. Jesaja verseker derdens die volk dat selfs al het hulle Hom nie gesoek nie, gaan Hy dit nogtans doen, omdat Hy getrou is aan Homself (43:22-28).

Geseën om te seën – dít is wat Jesaja 43 sê.  En onthou, dié woorde kom in die smeltkroes van die lewe.

Jesaja 43:1-7

Jy is Myne

43 Luister, so sê die Here wat jou geskep het, Jakob, wat jou gevorm het, Israel:

Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne.

2As jy deur water moet gaan, is Ek by jou,

deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie;

as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie,

die vlamme sal jou nie brand nie, 3want Ek is die Here jou God, die Heilige van Israel, jou Redder.

Ek gee Egipte as losprys vir jou, Kus en Seba in jou plek. 4Omdat jy vir My kosbaar is, omdat Ek jou hoog ag en jou liefhet, gee Ek mense in jou plek, volke in ruil vir jou lewe.

5Moenie bang wees nie, Ek is by jou. Ek bring jou kinders van die ooste af, Ek maak hulle bymekaar van die weste af, 6Ek sê vir die noorde: Gee! vir die suide: Moet hulle nie terughou nie! Bring my seuns van ver af, my dogters van die uithoeke van die aarde af, 7elkeen wat na my Naam genoem word, elkeen wat Ek geskep het tot my eer, wat Ek gevorm het, wat Ek gemaak het.

8Laat my volk hierheen kom, die volk wat blind is, al het hulle oë, wat doof is, al het hulle ore.

9Laat al die nasies bymekaarkom. Al die volke moet teenwoordig wees.

Watter afgod kan hierdie dinge so aankondig? Wie kon vooraf sê wat gebeur het?

Laat hulle hulle getuies bring dat dié hulle saak bewys, en dié wat luister, kan sê: Dit is waar.

10Israel, julle is my getuies, sê die Here, en ook my dienaar wat Ek uitverkies het sodat julle My kan ken en in My kan glo en kan besef dat Ek die Here is. Voor My was daar geen god nie, en na My sal daar ook nie een wees nie, 11Ek, Ek is die Here, buiten My is daar geen redder nie.

12Ék het die redding aangekondig Ék het gered en dit laat verkondig, Ek, nie ’n ander god onder julle nie. Julle is my getuies, sê die Here, en Ek is God. 13Ook hierná is Ek nog God. Uit my mag kan niemand gered word nie. Wat Ek doen, kan niemand ongedaan maak nie.

Woordverkondiging

Die produksie van suiwer goud is geen eenvoudige prosedure nie.  Daar is verskillende prosesse beskikbaar om goud in die smeltkroes te suiwer.  Goud smelt teen ‘n enorme 1,063 grade Celsius.  In die gesmelte staat kan dit dan gesuiwer word.

  • Die Miller-proses van goudsuiwering behels dat ‘n stroom chloorgas oor en deur gesmelte goud geblaas word.  Onsuiwerhede verbind met die chloor en kan van die gesmelte goud afgeskep word.
  • Die Wohlwill-proses produseer goud van die hoogste suiwerheid, maar is baie duurder.  Dit maak van elektrolise gebruik waar goud as katode gebruik word met chloroauriese-suur as elektroliet.  Dit is ‘n geweldige duur proses omdat groot hoeveelhede gesmelte goud permanent opgelos moet word in die elektroliet.
  • Die boraks-metode werk met die beginsel dat goud by ‘n baie laer temperatuur smelt wanneer die mineraal boraks by die goudmengsel gevoeg word.  Goedkoper installasies is dus nodig en klein-skaal myners kan goud koste-effektief produseer.  Hierdie metode benodig ook nie giftige kwik in die produksieproses nie. 

Maar, dit is nie eenvoudig om goud te produseer nie.  Geen wonder dat die egtheid van ons geloof in die Nuwe Testament ook aan die smeltkroes verbind word nie:

Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus.” (1 Pet 1:7)

In die smeltkroes

In Jesaja 43 bevind die volk Israel hom in die pynlike smeltkroes van die ballingskap.  God se bedoeling was om so met sy volk te wees, dat hulle ‘n konneksiepunt tussen God en die nasies sou wees (Jes 2).  Tog wou die volk nie.  Deur ongehoorsaamheid en afgodediens het hulle hul identiteit as God se eiendomsvolk voortdurend verloën.  Uiteindelik kon God nie meer nie, en beland die volk in ballingskap.

Vernaamste redes

In die vorige perikoop word van die belangrikste redes aangegee waarom die volk in ballingskap weggevoer is (42:18-25):

  • Die volk was blind in hulle sonde.
  • Hulle was doof vir die Woord van God.
  • Hulle wou nie in God se weë wandel nie.

Daarom is hulle as buit weggevoer en oorgelewer in die hande van die Babiloniërs.

God se Naam in gedrang

Jesaja 43 bring egter nou ’n duidelike wending in die gedagtegang van die boodskap van Jesaja mee.  Daar is ’n duidelike ommeswaai selfs in die manier hoe God nou tot die volk spreek.  Jesaja 42 eindig nog met die toorn en oordele van God, maar Jesaja 43 begin sommer met nuwe hoop, nuwe vertroue, nuwe uitdaging.

Hoekom?  Want, daar in die vreemde land, was die Naam van die Here op die spel.  

Liefdesverklaring

Dit is waarom die Here opnuut sy liefde aan die volk verklaar, na die geweldige tydperk van straf en lyding wat hulle in ballingskap deurgemaak het. Want sy Naam is op die spel.

In ‘n roerende liefdesverklaring spreek God sy volk aan: “Moenie bang wees nie, Ek verlos jou.” “Ek het jou by die naam geroep.”  “Jy is myne.”

Boesem vertroue in

Dit is ’n boodskap wat ten doel het om nuwe vertroue by die volk in te boesem.  Hierdie volk is vir jare deur die Babiloniese maghebbers onderdruk.  Hulle weet nie meer hoe dit klink om na die woord van die Here te luister nie.  Daar is geen vertroue meer op God nie.  Hulle harte en gedagtes is ver van die Here af. Daar is eerder wanhoop, mismoedigheid en ongeloof, in plaas van vertroue.

God wil hiermee nuwe vertroue by die volk aanwakker:

  • Dit moet vertroue wees wat die volk sal ophef uit haar ellende.
  • Dit moet vertroue wees wat tot ware geloof lei.
  • Dit moet vertroue wees wat sal help om die verhouding reg te stel tussen God en die volk.
  • Dit moet dus vertroue wees wat ’n versoenende uitwerking het.
  • Dit moet vertroue wees wat die volk moed gee om terug te wil kom.
  • Hierdie nuwe vertroue moet help om die wanhoop te verander in hoop, mismoedigheid in nuwe visie vir die toekoms, saam met die Here hulle God.

Daarom die trooswoorde, “wees nie bevrees nie”. Dit beteken nie net, moenie bang wees nie, maar eerder, dat Israel opnuut haar vertroue in die Here God moet stel, Skepper en Formeerder van die heelal.  Die trooswoord word weer in vers 5 herhaal om te bevestig dat die Here ernstig is in sy toenadering tot die volk.  

Hier is iets van die verbond in hierdie trooswoord.  God wil opnuut weer sy verbondstrou aan die volk bekend maak.  Daarom moet sy nie vrees om die geloofstap te neem en Hom onvoorwaardelik te vertrou nie.  Die uitdrukking “wees nie bevrees nie” kan dus opnuut die betekenis kry van: vertrou My weer, vertrou My nog een keer, vertrou My en julle sal my wonders in julle midde ervaar.

Rus in God se trou

Vir ons as Nuwe Testamentiese gemeente is die goeie nuus dat God se trou steeds aan ons beloof is.  Hierdie opstapeling van troos, bemoediging en beloftes van trou, geld ook vir ons.

Mens kan jou moeilik die verskriklike ontworteling voorstel wat die ballingskap vir Israel ingehou het.  Alles wat hulle van God geken en verwag het, was verbind aan die land wat hulle uit God se hand ontvang het en God se teenwoordigheid in Sion.  Om uit die land weggeruk te word en van God se teenwoordigheid in die tempel beroof te word, was katastrofaal vir hulle geloof.

Tog bly God se trou en God se teenwoordigheid die hoogste en finale werklikheid.

Smeltkroes

Wat maak die ballingskap meer as blote brute straf vir ongehoorsaamheid?  Wat omskep die ballingskap in ‘n geleentheid vir groei, vorming en nuwe gehoorsaamheid?

Die antwoord is duidelik: dit is God se trou, beskerming en versorging.  Dit is die verskil tussen ‘n smeltkroes en ‘n vullishoop.  Antieke vullishope het vuur en verbranding as reinigingsmiddel gebruik.  Giftige afval, die uitskot van menslike lewe, is verbrand en so vernietig.  Die ballingskap sou ‘n vullishoop vir Israel kon word.  God se liefde maak daarvan ‘n smeltkroes waar die volk gereinig word en gereed gemaak word vir nuwe uitdagings van gehoorsaamheid.

Gelowiges en geloofsgemeenskappe kan daarom rus in God se trou.  God weet waarheen God met ons op pad is.  God neem selfs die slegte en die wrange gevolge van ons dwase keuses en bou dit om tot kreatiewe ruimtes vir nuwe geleenthede.

Om God op sy woord te neem

Baie gelowiges is ook in vasgevalde situasies.  Dit word dan baie moeilik om God op sy beloftes te neem en gehoorsaam die treë te gee wat God van ons verwag.

Jesaja 43 is ‘n belofte vir sulke mense.  God se goedheid verdwerg ons onbesonne optrede.  God se goedheid maak van ons dwaasheid en doodsheid ‘n smeltkroes waaruit herstelde, geneesde, gehoorsame mense na vore kom.

Ons word geroep om God op sy woord te neem.  God begelei ons op die pad van gehoorsaamheid.  God versorg en bemagtig ons.  Ons kan dit met God waag.

Dan word ons situasie ‘n smeltkroes, nie ‘n vullishoop nie.  Dan word die krisisse uitdagings, die rampe geleenthede vir groei, die frustrasies uitnodigings vir fokus op God en sy plan vir jou lewe.

Want, as die volk se sonde was dat hulle nie na God geluister het nie, en nie in sy weë wou wandel nie, dan is die volk se herstel geleë in ‘n nuwe luister na God en ‘n nougesette wandel met Hom.

En dit is presies dieselfde vir ons, vir almal wat onder druk is. 

  • Erken dat Hy God is, en dat jy drooggemaak het;
  • Vertrou Hom om jou deur die smeltkroes te suiwer, soos goud gesuiwer word, en
  • soek Hom dag vir dag om na Hom te luister en met Hom jou pad te loop. 

God is daar, Hy dra ons en ons laste dag vir dag (Ps 68:20), en Hy beloon dié wat na Hom soek (Hebr 11:6).  Of soos Die Boodskap dié vers vertaal: Hy sal jou “met oop arms ontvang.”  “He cares enough to respond” (The Message).

Só ervaar jy nie net God se seën nie, maar gebruik Hy jou ook tot seën vir ander mense.  En bring jou geloof, die egtheid daarvan, eer aan God, wat natuurlik die doel van ons lewe is: Soli Deo Gloria.

Gebed

Here

ek weet dat U my gevorm het,

dat U my geskep het.

Ek weet dat ek aan U behoort,

dat U my naam ken.

Ek weet ook dat U daar is as ek in nood is:

as ek deur water of vuur moet gaan,

want U is die Heilige van Israel,

U is God die Redder.

Ek weet dat U my kosbaar ag,

dat U my hoog en belangrik ag,

dat U my liefhet.

Ek weet dat U is wat U sê,

want U het Jesus in my plek gegee.

Daarom Here, is ek nie bang nie,

daarom glo ek soos ‘n kind

dat U my Here is.

Aan U die eer.

Amen

(Gebed ahv Jesaja 43)

Dankoffers

Slotlied

Lied 521 Erkentlik deur die dae – staan

Seën

Die Here is voor jou om die weg gelyk te maak;

die Here is langs jou om jou in Sy arms toe te vou;

die Here is agter jou om die aanvalle van die bose af te weer;

die Here is onder jou om jou te dra as jy mag val;

die Here is rondom jou om jou te beskerm;

die Here is bokant jou om jou te seën;

die Here is binne-in jou om jou te lei met Sy Heilige Gees-

so seën die drie-enige God jou, van nou af tot in ewigheid.

(Preekstudies met liturgiese voorstelle (BUVTON) 2000/2001: 38)

Respons

Lied       313 Amen – staan 

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.