Skip to main content

Genesis 21:8-21 – Sola gratia: alleen uit genade

Ek gebruik die verhaal van Hagar en Ismael in Genesis 21 om te gesels oor God se verkiesende genade.  Ons bely dat ons gered is sola gratia – alleen uit genade.  Uit die konflik in die verhaal tussen Isak – die seun volgens die belofte – en Ismael – die seun volgens die natuur – lê die geheim van sola gratia en die verkiesende genade van die Here opgesluit.

Ek gaan die teks lees met kommentaar en daarna ‘n paar perspektiewe gee oor God se verkiesende sola gratia genadeVier vooraf opmerkings:

  1. Hierdie gedeelte sluit baie nou aan by die vorige hoofstuk 20 waar Isak gebore is, en God sy belofte aan Abraham vervul het. Abraham sou ‘n eie nageslag by Sara hê.  En hier het dit nou gebeur.  Sara kry in haar ouderdom vir Isak en sy is oorstelp van vreugde.
  2. Ons moet egter ook onthou dat Abraham reeds ’n kind, Ismael, by sy vrou se Egiptiese slavin, Hagar, gehad het. God gee ook in Genesis 16 vir Ismael ‘n belofte van ’n groot nageslag. Abraham was ook baie lief vir Ismael.
  3. Maar, die konflik tussen Hagar en Sara is van die begin af duidelik. Hagar het Sara vroeër geminag deurdat Sara nog nie ‘n kind gehad het nie wat amper op ‘n breukspul uitgeloop het.  Hier verdiep die krisis tussen hulle nou met ‘n soortgelyke konflik rondom Isak.
  4. ‘n Mens moet daarby eintlik doelbewus uit twee perspektiewe na die verhaal luister. Aan die een kant uit Sara se perspektief waar sy Hagar en Ismael as kompetisie gesien het en buitensporig wreed en ongenaakbaar opgetree het.  Aan die ander kant uit God se perspektief waar Hy die belofte aan Abraham en Isak vashou, soos Sara, maar voorsiening maak om Sara se wreedheid te temper en sy ander belofte aan Abraham dat Hy Ismael ook sal seën, waar maak. Dit is ook duidelik dat God die nasies voor oë het, nie maar net die een nasie, die Joodse volk nie.

Prediking

Kom ons begin om Genesis 21 te lees vanaf vers 8.

8En die kind het opgegroei en is gespeen.  En Abraham het ’n groot maaltyd berei op die dag toe Isak gespeen is.

Die spening van ’n kind van borsmelk na vaste kos het redelik laat gebeur, moontlik so ongeveer op drie jaar oud.  Waarskynlik was Ismael dus reeds ’n seun van ongeveer 17.  Isak is gebore toe Ismael 14 was (vgl. Gen. 17:25, ‘n jaar vóór Isak se geboorte, waar Ismael as 13 jaar oud beskrywe word).

9Toe sien Sara hoe die seun van Hagar, die Egiptiese slavin, wat sy vir Abraham gebaar het, spot;

Waarskynlik het Ismael met Isak gespot, omdat Ismael die oudste was en hy sy status wou beklemtoon.  Presies wat hy gedoen het, is nie duidelik nie, maar hy minag daarmee die feit dat God se belofte in Isak vervul is.

10en sy sê aan Abraham: Jaag hierdie slavin en haar seun weg, want die seun van hierdie slavin mag nie saam met my seun Isak erwe nie.

Sara het waarskynlik alreeds die kind van Hagar as ’n bedreiging gesien, omdat hy as die eersgeborene van sy pa die natuurlike erfgenaam sou wees. Maar die spotlag van Ismael het Sara tot aksie laat oorgaan. Ismael het nou direkte kompetisie geword vir Isak. Daarom die eis dat Hagar weggejaag moet word.

Dit laat ‘n mens sidder dat iemand so harteloos kan wees.  Dit lyk asof Sara niks voel vir haar jare lange slavin nie. Ook nie vir die kind wat vir Abraham gebore is nie. Haar taal verklap haar gesindheid. Sara praat van “hierdie slavin en haar seun” nie Hagar, my getroue slavin en “jou seun” nie. Sy vermy dit om Hagar en Ismael se name te noem.

Sara se optrede is nog meer onverstaanbaar as ons in gedagte hou dat dit eintlik háár idee was dat Abraham ’n kind by haar slavin moes hê. Haar raad aan Abraham in Genesis 16:2 is om by Hagar te slaap sodat sy ’n kind in die wêreld kan bring “wat my eie kan word“. Uiteindelik word Ismael gebore. Hy is nou haar eie, al is dit ‘n aangenome eie.

Maar Sara se optrede in Genesis 21 is ook verstaanbaar. Teen alle verwagting in het sy nou haar eie bloedkind. Hy is meer as dít. Hy is die vervulling van God se belofte wat ongeveer 25 jaar gelede aan Abraham en aan haar gegee is. Hy is ’n wonderkind. En Hagar het vroeër op Sara neergesien toe sy ’n kind kon hê en Sara nie (Gen. 16:4). Nou is hierdie Ismael besig om te mors met Isak, en met haar. En sy gebied Abraham om hulle weg te jaag.

Sara verbind haar optrede wel aan die belofte van God dat Isak die seun van die belofte is (vgl. Gen. 15:4), maar tree op ‘n onbarmhartige brutale wyse op.  Sy gebruik die belofte as ‘n stok om Hagar en Ismael mee by te kom.

Dit is waarom Abraham só skerp optree.

11En die woord was baie verkeerd in die oë van Abraham vanweë sy seun.

Die versoek van Sara was ’n baie groot probleem vir Abraham. Abraham was regtig ontsteld oor die saak. Dit gaan immers oor sy eie seun.  Hy kan nie net sy kind sommer so wegjaag nie.  Hy kan dit nie op enige manier regverdig nie.  Dit is nie hoe met die belofte omgegaan moet word nie, dink hy.

En let op, almal sien in die verhaal vir Ismael raak.  God en die engel net hierna, uiteraard Hagar, Abraham, moontlik selfs Isak, omdat dit wil lyk uit Genesis 25 asof daar ‘n goeie verhouding tussen hulle ontstaan het ten spyte van dié gebeure.  Net Sara sien nie vir Ismael raak nie.  Soos Brueggemann sê:  “She has a vested interest which closes that reality to her.” Sy is blind vir Ismael. Die liefde vir haar seun verblind haar oë.

12Maar God het aan Abraham gesê: Laat dit nie verkeerd wees in jou oë ter wille van die seun en van jou slavin nie. Luister na Sara in alles wat sy van jou verlang, want deur Isak sal daar vir jou ’n nageslag genoem word.  13Maar Ek sal ook die seun van die slavin tot ’n nasie maak, omdat hy jou kind is.

Ons moet hier twee goed raaksien.  Dit wil enersyds duidelik blyk dat die Here aanvaar dat Ismael eintlik sou kon regkom. Hy was immers al amper groot.  En God sou in elk geval vir hom sorg, want hy is Abraham se kind.  “Ek sal ook die seun van die slavin tot ‘n nasie maak,” sê God, soos Hy al tevore gesê het.

Dit is egter ook andersyds duidelik dat God vir Isak kies, want Isak is die kind van die belofte, die een wat God vir Abraham gegee het.  God stem dus saam met Sara oor die belofte.  Gedeeltelik.  Maar Hy keer dat haar optrede vir Hagar en Ismael tot niet laat gaan. Want daar is meer aan sy belofte as net hierdie een nasie wat uit Isak gebore sou word.

God laat Sara dus in haar verkeerdheid begaan, omdat dit inpas by sy eie plan om in Isak nie net vir Abraham en Sara te seën nie, maar uiteindelik al die nasies van die wêreld.  Alle nasies sou in Christus Jesus geseën word, dié Een wat uit die nageslag van Isak gebore sou word.  God belowe daarom dat Hy verseker ook vir Ismael sal seën, maar die groter prentjie is dat daar meer op die spel is, die redding van al sy uitverkorenes in die nasies oor die hele wêreld.

14Toe is Abraham die môre vroeg op, en hy het brood en ’n sak met water geneem en dit aan Hagar gegee deur dit op haar skouer te sit, en ook die kind, en haar weggestuur. Sy het toe weggegaan en rondgedwaal in die woestyn van Berséba.

Abraham voel sleg, maar ook hier, soos dikwels in sy lewe, moet hy afstand doen van sy eie planne ter wille van die beloftes van die Here. Dit sou hom veral gepynig het dat hy na sy vrou moes luister terwyl sy so ooglopend verkeerd optree.  In hoofstuk 16 was dit ’n fout om na haar te luister.  Daarom het God Hagar oorreed om terug te gaan en haar te gaan onderwerp aan Sara.

Hier pas Hagar se woestynreis egter in God se planne in.  Abraham wou nie vir Ismael wegstuur nie, maar God se stem laat hom die besluit neem.

Dit leer ons dat God sy plan uitvoer, ten spyte van die kwade bedoelings van mense.  En al stuit dit Abraham teen die bors kan hy God se wyse raad nie teëgaan nie.

Sommige geleerdes reken dat Abraham nie vir Hagar en Ismael te veel water en kos vir die reis gee nie, in die hoop dat Hagar sou terugkom, soos die vorige keer.  Abraham hou as’t ware ook tot op die laaste aan sy kind vas voordat hy Ismael vir Hagar gee. Maar Abraham gehoorsaam die opdrag.

Die stukkie evangelie te midde van dié kwade optrede begin egter alreeds wys, deurdat die skrywer Hagar se naam weer hier begin gebruik. Sara het na haar verwys as die slavin.  Selfs God het só na haar verwys in sy gesprek met Abraham.  Maar, hier word haar waardigheid as mens weer deur die verteller erken, soos God ook hierna sal doen, deur haar by die naam te noem.

Maar, sy is nog nie daarvan bewus nie.  Die werklikheid van die verwerping en ontbering is net te groot.

15En toe die water in die sak op was, het sy die kind onder een van die bosse neergewerp 16en geloop en op ’n afstand gaan sit so ver as ’n boog kan skiet; want sy het gesê: Ek wil die dood van die kind nie aansien nie. En sy het op ’n afstand gaan sit en haar stem verhef en geween.

‘n Mens kan jou moeilik indink in die leed wat ‘n ma met ‘n kind se naderende dood ervaar.  Haar wroeging en worsteling met die woestyn het haar op moedverloor se vlakte gebring.  Sy het nie die gesprek tussen Abraham en God gehoor waar God belowe dat Hy vir hulle sal sorg nie.  Sy het darom begin om hoop op te gee.  Sy verdwyn buite sig en waarskynlik buite hoorafstand van haar kind.

Maar, God is nooit buite sig en hoorafstand nie.

17Toe hoor God die stem van die seun, en die Engel van God het na Hagar geroep uit die hemel en haar gevra: Wat is dit met jou, Hagar? Wees nie bevrees nie, want God het na die stem van die seun geluister op die plek waar hy is.  18Staan op, tel die seun op en hou hom vas met jou hand, want Ek sal hom ’n groot nasie maak.

God hoor die kind se stem. Watter troos is dit nie.  En besef ons onmiddelik, Ismael se naam is in elk geval ’n sinspeling op “God hoor” (Gen. 16:11). In Ismael se naam was al opgesluit dat God die horende Een is, dié Een waarop ‘n mens kan vertrou dat Hy sal luister na ons stem.

Terwyl Hagar se hart verskeur is, en sy nie langer na haar kind se lyding kan en wil kyk nie, is God naby aan hom.  Sommige geleerdes sê dat die stem van Ismael op ’n gebed kan dui.  Moontlik bid hy hier tot God, omdat hy besef dat sy gespottery die oorsaak was van hulle situasie en dat hy daarom die saak met God moet regmaak.   Wie weet!

Hoe dit ook al sy.  God hoor! Wat Hagar al in Genesis 16 ontdek het dat die Here oral is, dié ontdek Ismael en Hagar weer hier in die woestyn van hulle verlatenheid.

Die Here sorg ook nie net nie. Hy herhaal sy belofte dat Hy van die kind ’n groot nasie sal maak. Dit kan ook immers nie anders nie.  Enigiemand wat met Abraham te doen het, sal geseën word, so lui die Genesis 12 belofte.  Hoeveel te meer sal dit nie waar wees van Abraham se eie kind, Ismael, nie.

Sara het dus net met ‘n halwe belofte gewerk.  Sy het net raakgesien wat die belofte vir hulle beteken. Nie wat dit vir die wêreld sou kon beteken nie, en wat integraal deel van die Genesis 12 belofte was.

God tree egter in vir die volle belofte en maak Homself bekend aan Hagar.

19Daarop het God haar oë geopen, en sy sien ’n put! En sy het geloop en die sak vol water gemaak en die seun laat drink.  20En God was met die seun; en hy het opgegroei en in die woestyn gewoon en ’n boogskutter geword:  21hy het in die woestyn Paran gewoon; en sy moeder het vir hom ’n vrou uit Egipteland geneem. (OAV)

Hoewel Ismael en Hagar hiermee dus die Godsvolk verlaat, kan selfs dié gebeure hulle nie buite die belofte van God laat beweeg nie, want in Abraham sal al die nasies van die aarde geseën word. Dié seën word egter in hulle geval nie begroet met ‘n leef vanuit die belofte nie, want ‘n mens sien hoe Hagar terugkeer na haar eie kultuur, en waarskynlik godsdiens, deur Ismael met ‘n vrou uit Egipte te laat trou.  En net hierna sou van Ismael se nasate optree teen Josef, die agterkleinseun van Abraham, en hom as slaaf in Egipte gaan verkoop (Gen. 37).  Mettertyd het dié kloof wat hier in Genesis 21 onstaan het ‘n amper onoorbrugbare afstand tussen hulle tot stand gebring.

Totdat hulle nageslagte in die Messias, die Here Jesus Christus, die besondere genade van die Godsvolk, en daarmee die seën van die belofte, weer kon bekom deur in Hom te glo.  Maar op dié punt skei hulle weë met dié van die Godsvolk.

Dat God getrou is, word duidelik in die hoofstuk onderstreep.  Hy sorg vir almal ten spyte van die konflik van belange wat in hierdie verhaal vertel word.

Hoe werk God se genade?

Maar hoe werk sy genade dan?  Meer spesifiek.  Hoe hou sy genade verband met sy verkiesing?

Dit is duidelik dat God se verkiesing nie op ‘n natuurlike biologiese basis berus nie.  Dan sou Hy Ismael as die oudste moes kies.  Al sou ons menslikerwys ook wou sê dat Hagar en Ismael nie verdien het wat met hulle gebeur nie, word hulle nie die lyding van verwerping uit die huis van Abraham gespaar nie.

Hoekom kies God dan vir Abraham?  Hoekom kies God dan vir Isak?  Veral, hoekom kies God dan vir Sara, al tree sy duidelik verkeerd op?

Die Bybel se antwoord daarop is: “alleen uit genade.”  Sola gratia.

In Deuteronomium 7:6-8 verklaar die Here sy verkiesing van Isak, en daarmee Jakob en die volk Israel as volg:

6jou het die HERE jou God uitverkies om uit al die volke wat op die aarde is, sy eiendomsvolk te wees.  7Die HERE het ’n welgevalle aan julle gehad en julle uitverkies, nie omdat julle meer was as al die ander volke nie, want julle was die geringste van al die volke.  8Maar omdat die HERE julle liefgehad en die eed gehou het wat Hy vir julle vaders gesweer het, het die HERE julle met ’n sterke hand uitgelei en jou uit die slawehuis, uit die hand van Farao, die koning van Egipte, verlos.”

Abraham was ‘n ou man.  Sara was ‘n ou vrou.  Hulle kon nie kinders hê nie.  Tog kies God hulle en gee vir hulle die kind van die belofte, Isak. Nie omdat hulle dit verdien nie.  Net omdat Hy so besluit en hulle in die proses genadig was.

Isak word gebore vir mense wat so goed soos dood is. Dis hoekom Paulus die geboorte van Isak vir Abraham met die skepping uit niks en die opstanding in verband bring (Rom 4:17-19):

17Ek het jou ’n vader van baie nasies gemaak—voor die aangesig van God in wie hy geglo het, wat die dode lewend maak en die dinge wat nie bestaan nie, roep asof hulle bestaan.  18Hy het teen hoop op hoop geglo dat hy vader sou word van baie volke volgens wat gesê was: So sal jou nageslag wees.  19En sonder om te verswak in die geloof het hy, al was hy omtrent honderd jaar oud, nie gelet op sy eie liggaam wat alreeds verstorwe was, en op die verstorwe toestand van die moederskoot van Sara nie.”

God se verkiesing berus dus nie op die potensiaal wat daar in iemand is vir wat God wil doen nie.  Hy kies ons nie weens ons geloof nie.  Trouens, sy verkiesing veroorsaak ons geloof, soos die Dordtse Leerreëls sê.  Hy bring sy genade juis tot volle werking, soos in dié verhaal, waar daar geen hoop meer is vir nuwe lewe nie.  Soos met die kind wat Hy vir Abraham en Sara gee.

Daarmee vee Hy enige idee dat ons iets verdien voor Hom van die tafel af.  Ons geloof is nie ‘n verdienste nie. Ons heiligheid is nie ‘n verdienste nie.  Ons kan die verkiesing nie verdien nie, al wil ons ook hoe graag.

Sola gratia

Dit is wat dit beteken om uit genade gered te wees.  Dit is sola gratia.  Net omdat God wil.  Nie omdat jy wil of iemand anders wil nie.

En dit is wat die verkiesing is.  Dit is sola gratia.  Dit is onverdiende guns alleen.

Ek dink die beste manier om God se soewereine keuse in die verkiesing en ons eie keuse vir God te versoen, is om in lyn met Romeine 9-11 te aanvaar dat jy nooit vir God sal kies as God jou nie eerste kies nie.  Dit is alleen uit genade, soos die Reformasie ons geleer het.  Soos Paulus sê:

“Die besluit van God is gegrond op uitverkiesing; dit hang dus nie af van wat ’n mens doen nie, maar van Hom wat jou roep.” (Rom. 9:13).

Jou keuse vir God is dus die gevolg van God se werk in jou hart.  Jy moet van bo-af gebore word, om jou vertroue in God te plaas, om vir Hom te kies, soos Jesus in Johannes 3 sê.  Paulus eggo dit in sy brief aan Titus:

“Hy het ons verlos, nie op grond van iets wat ons vir ons vryspraak gedoen het nie, maar op grond van sy eie ontferming. Dit het Hy gedoen deur die wedergeboorte wat die sonde afwas, en deur die Heilige Gees wat nuwe lewe gee.” (Tit. 3:5).

Jou geloof kom dus van die uitverkiesing af, let wel, voor die grondlegging van die wêreld soos Paulus aan die Efesiërs skrywe:

“So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees.” (Ef. 1:4).

‘n Mens kan dit met ‘n voorbeeld illustreer.

  • Arminius – die leier van die Remonstrante wat die Gereformeerdes teengestaan het in die Reformasie – sou sê jy word gered soos ‘n drenkeling met ‘n reddingsboei uit die see gered word.  Dit is God wat jou red, maar jy moet ook die reddingsboei gryp en daaraan vasklou.  Jy het dus ‘n aandeel aan jou redding.
  • Calvyn, die prima teoloog van die Gereformeerdes, sou sê – want dit is op sy teologie wat die Dordtse Leerreëls, een van ons belydenisskrifte, gebaseer is as teenvoeter vir die Remonstrante – dat jy gered word soos iemand wat reeds verdrink het en onder die oppervlak van die water dryf en die Menseredder inspring en jou uithaal en deur kardiopulmonêre resussitasie (CPR) terugbring na die lewe toe.  Jy het dus geen aandeel in jou redding nie.

Die verskille in die teologie wat hieruit voorspruit, is dus pole uitmekaar:

  • In Arminius se teologie, het jy ‘n aandeel aan jou redding.  Jy kan ook nee sê vir God se redding.  Jou saligheid berus dus op jou eie keuse.  Jou sekerheid berus op jou eie geloof, en kan uit die aard van die saak wankel as die golwe van die lewe oor jou slaan.
  • In Calvyn se teologie, het jy geen aandeel in jou redding nie.  Jy ontvang bloot deur geloof wat God vir jou gee.  Jou saligheid berus dus op God se keuse.  Jou sekerheid berus op sy genade, en nie op die krag van jou geloof nie.  Daarom word jou sekerheid nie bedreig deur die golwe van die lewe nie.

Dit is waarom ‘n mens oor die verkiesing net kan juig, want jy weet eers jy is verkies nadat jy verkies is.  Jy weet eers jy is gered nadat dit gebeur het.  God se genade is nie soos ‘n reddingsboei wat vir ‘n drenkeling gegooi word en wat jy vasgryp deur geloof nie.  Nee, God duik in die water in om jou te red daar waar jy op die bodem lê en reeds verdrink het.

Dit is hoekom God so lank gevat het met die geboorte van Isak.  Hy wou seker maak dat almal weet die kind is die kind van die belofte.  Hy is gebore uit louter genade.  Waar Abraham nie meer kon nie, daar kon God.  Waar Sara nie meer kon nie, daar kon God.  Uit suiwer en louter genade.

Dat ek glo, is genade.  Dat jy glo, is genade.  Dat ek en jy glo, is God se verkiesende genade.

Dit is die troosboodskap van die verkiesing. God laat Hom nie voorskryf teenoor wie Hy genade moet betoon nie. Selfs Sara kan deur haar optrede nie die genade van God aan bande lê nie.  Hy vervul ook sy belofte aan Hagar en Ismael en later aan al die nasies van die wêreld, dié wat in Jesus sy Seun, die uiteindelike Kind van die belofte, glo.

Watter implikasies het hierdie genade?

Sola gratia beteken nie dat jy uitgeskakel word in die lewe van geloof nie.  Daardie geloof wat in jou gewek word deur die wedergeboorte – wat kom deur die werk van die Gees as ons na die Woord luister (Rom. 10:9-10) – word ‘n krag tot heiligmaking waaraan jy meewerk.  Petrus beskryf daardie proses só mooi in sy tweede brief dat ek dit volledig aanhaal:

“Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien. Dit kom deurdat ons Hom ken wat ons geroep het deur sy heerlikheid en mag. Deur dit te doen, het Hy ons die kosbaarste en allergrootste gawes geskenk wat Hy belowe het. Daardeur kan julle die verderf ontvlug wat deur begeerlikheid in die wêreld werksaam is, en deel kry aan die Goddelike natuur. En juis om hierdie rede moet julle alles in die stryd werp om julle geloof te verryk met deugsaamheid, die deugsaamheid met kennis, die kennis met selfbeheersing, die selfbeheersing met volharding, die volharding met godsvrug, die godsvrug met liefde onder mekaar en die liefde onder mekaar met liefde vir alle mense.  As julle dit alles besit en dit neem steeds toe, sal julle met ywer en met vrug ons Here Jesus Christus beter leer ken. Iemand wat hierdie dinge nie sy eie gemaak het nie, is kortsigtig; nog erger, hy is blind en het vergeet dat hy van sy vroeëre sondes gereinig is.” (2 Pet. 1:3-8).

Dit is die basis vir Paulus se oproep in Filippense:

“Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe, want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer.” (Fi. 2:12-13).

Ons is dus uitgeskakel in ons redding, maar volledig ingeskakel in die lewe van geloof wat God ons skenk.  Ons kan dus oor die uitverkiesing net in verwondering die Here aanbid dat Hy in sy goedheid en genade vir ons uitverkies het.

Maar daar is meer.

Sola gratia is bedoel vir die nasies

Dit is duidelik dat God se genade ons oproep tot geloof en gehoorsaamheid.  God se verkiesing en sy genade is ‘n voorreg wat ons motiveer om Hom en ons naaste lief te hê.  God se genade word aan ons betoon sodat ons dit kan aangee.  Na al die nasies van hierdie wêreld.

Sola gratia is bedoel vir die nasies.  Ons kan nie die seën van God vir onsself hou nie. Die verkiesing beteken wel dat ons seker kan wees dat ons hemel toe gaan. Maar dit beteken ook om te dien soos God. Dit beteken om te dien soos Christus gedien het. Dit beteken om die stryd aan te knoop teen selfgerigtheid en deel te word van God se droom dat al die nasies uiteindelik in die seën van God sal deel. Juis deur die geseënde kerk word die seën verder gedra.

As ons hierdie roeping nie ernstig neem nie, stuur ons die wêreld om ons na die maan. Soos Sara is ons dan besig om met ons wrede hart mense aan hulle eie lot oor te laat en op die straat uit te skop.

Ons mag mekaar nie los nie, soos ek verlede week gepreek het.  Ons moet sorg dat ons mekaar se laste dra, veral wanneer iemand sukkel om die pad met die Here te loop (Gal. 6:1-2).  As ons die genade reg verstaan, sal ons staan waar God staan: by hulle wat sy versorging nodig het.

Maar ons mag ook nie hier en nou vasval nie. Ons moet ons heilige roeping aangryp om die genade van die Here Jesus regdeur die wêreld te neem sodat al die drenkelinge deur die genade van God ingebring kan word in sy koninkryk en hulle kinders van die belofte kan word, soos wat Isak dit eenmaal was, en ons nou deur die genade van die Here Jesus geword het.

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.